2023-04-01
1 Samuel 27:1 NLV
Die Bybel sê: “Dawid dink toe by homself: ‘Eendag sal Saul my nog doodmaak. Dis beter dat ek vlug en by die Filistyne gaan woon…'” (vers 1 NLV). In die verlede, het Dawid die Here se raad gevra (sien 1 Samuel 23:2, 4). Hy het ook raad by ervare, bewese raadgewers gekry. Hierdie keer is hy egter deur sy vrese gelei en het na ‘n vyandige gebied oorgeloop. Dit het hom ‘n tydelike gevoel van verligting gegee.
Salomo het gesê: ‘Dit lyk dalk vir iemand of hy die regte ding doen; agterna kom dit uit dat dit na die dood gelei het. Lag kan hartseer wegsteek; as die vrolikheid verby is, bly die verdriet nog agter. ‘n Agterbakse mens kry sy verdiende loon. ‘n Goeie mens pluk die vrugte van sy goedheid. ‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee’ (Spreuke 14:12-15 NLV).
Uiteindelik het die Filistyne Dawid verwerp omdat hulle hom nie kon vertrou nie. Hulle het gesê: ‘…Stuur hom terug na die plek wat jy tot sy beskikking gestel het!.. Hy kan nie saam met ons in die geveg gaan nie. Wat sal gebeur as hy teen ons draai?..’ (1 Samuel 29:4 NLV).
Wees versigtig wanneer jy ‘n geestelike insinking beleef, want die besluite wat jy maak kan langdurige gevolge hê. Ons kan die volgende uit Dawid se situasie leer: 1) In plaas daarvan om na jou vrese te luister, luister na God. Terwyl hy tussen die puinhope van sy lewe gestaan het, het Dawid, ‘…by die Here sy God krag ontvang’ (1 Samuel 30:6 NLV), en jy sal ook. 2) Soek wyse raadgewers. Dis die laaste ding wat jy in jou ellende sal wil doen, maar ‘…dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV).
Sielskos: Fil 1-4; Luk 22:54-62; Ps 31:14-24; Spr 9:1-3
2023-03-31
Spreuke 3:24 NLV
God het spesifieke snellers in ons liggame ingebou om ons te laat weet wanneer dit tyd is om bewustheid te ontvlug. Wyse mense luister na hierdie leidrade. Van die geskiedenis se bekendste mense wat lief daarvoor was om ‘n uiltjie te knip, sluit Albert Einstein, Thomas Edison en Winston Churchill in.
Daar is ‘n rede hoekom jou ooglede tweeuur die middag begin swaar voel. Jou hefspiere, wat konstant saamgetrek is om jou ooglede oop te hou, begin ingee. ‘n Chemiese stof genaamd adenosien, wat in jou brein afgeskei word wanneer jy wakker is, begin ophoop en laat jou slaperig voel. Gevolglik smag jou liggaam na slaap om die adenosien te laat versprei, wat onmiddellike verligting tot gevolg het.
‘n Studie wat in die Annals of Internal Medicine gepubliseer is, bevestig dat mense wat vir minstens dertig minute, drie keer per week in die middag slaap, ‘n derde minder geneig is om aan hartsiektes te sterf. Bykomende navorsing stel voor dat om ‘n uiltjie te knip, ons kreatiwiteit en geheue kan verbeter. Die kognitiewe neurowetenskaplike, William Fishbein, sê dat ons brein gedurende ‘n middagslapie aanhou werk om probleme op te los en nuwe idees te vorm. Dit help verduidelik hoekom Mozart gesê het dat hy musiek in sy drome komponeer.
Studies het ook al gewys dat ‘n bietjie ekstra slaap met gewigsbeheer kan help! Ghrelien, ‘n hormoon wat in ons ingewandes geproduseer word, sê vir ons dat ons honger is en veroorsaak drange vir lekkers, sout kos en stysels – al die slegte goed! Wanneer ons egter meer slaap, stoor ons dikderm minder ghrelien en ons lus vir gemorskos verminder.
In die Skrif het Jesus nie net self gereelde ruspouses geneem nie; Hy het ook sy dissipels aangemoedig om sy voorbeeld te volg. Probeer dus om ‘n uiltjie te knip.
Sielskos: Job 40-42; Luk 22:39-53; Ps 31:1-13; Spr 8:34-36
2023-03-30
Spreuke 16:3 NLV
As ‘n volgeling van Jesus Christus, moet jou rigting nie van mense kom en deur God bevestig word nie; dit moet van God af kom en deur mense bevestig word. Die Bybel sê: ‘Mense kan planne maak, maar die finale besluit kom van die Here af. Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die Here weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag. Die Here het alles gemaak vir ‘n bepaalde doel…’ (verse 1-4 NLV).
Jy mag dalk in staat wees om dit wat iemand anders gedoen het, te doen en om dit selfs beter te doen. Het God jou egter geroep om daardie spesifieke ding te doen? Voor jy iemand anders se leiding volg, doen eers die volgende dinge:
1) Gaan die bron van hulle wysheid na. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig. Hy laat hulle wat reg leef, sukses behaal. Hy beskerm hulle wat hulle pad suiwer hou… As jy aanvaar wat ek vir jou sê, sal jy insig hê in wat regverdig, reg en billik is. Jy sal op die goeie pad bly’ (Spreuke 2:6-9 NLV).
2) Gaan hulle beweegredes na. Johannes skryf: ‘Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak…’ (Openbaring 20:12 NLV). Sal een daarvan ‘die boekrol van beweegredes’ wees? As dit is, sal jou optrede en prestasies onder goddelike ondersoek staande kan bly?
3) Gaan die uitkoms wat hulle verlang, na. As jy sukses soek om mag en aansien te hê, of rykdom soek net om gemak te hê, oortree jy een van die kernbeginsels van God se Woord: Jy is geseën om ‘n seën vir ander te wees.
Sielskos: Job 38-39; Luk 22:24-38; Ps 6; Spr 8:32-33
2023-03-29
Spreuke 19:11 NLV
Jy moet die volgende oor woede weet: Dis nie ‘n sielkundige afwyking nie; almal word kwaad. Dis ook nie noodwendig ‘n sonde nie. Soos ‘n rivier wat vinnig vloei, kan dit konstruktiewe of destruktiewe energie genereer wat negatief gebruik of positief ingespan word. Woede word gewoonlik verkeerdelik verstaan as iets wat deur ander mense of deur omstandighede aan ons gedoen word. Ons sê: ‘Ek kon dit nie help nie; hulle het al my verkeerde knoppies gedruk!’ Dit klink soos Adam in die tuin van Eden: ‘Die vrou het my daarvan laat eet!’
Sedert die sondeval maak ons daarop aanspraak dat ons slagoffers van mense, die duiwel en omstandighede buite ons beheer is – ‘n geloof wat ‘n selfvervullende profesie word, wat veroorsaak dat ons hulpeloos en aan die genade van eksterne magte oorgelewer voel.
Wat sê God se Woord oor ons woede? “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang…” Dit beteken dat wanneer verstandige mense kwaad word, hulle hul emosies beheer. Maak nie saak wat die eksterne sneller is nie, die antwoord is altyd ‘n interne reaksie.
‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Die sleutel tot selfbeheersing is om deur God se Gees gevul te bly. In plaas daarvan om jou woede aan te blaas deur vir jouself te sê ‘Jy kan nie wegkom daarmee om my so te behandel nie!’ probeer eerder dink: ‘Maak nie saak wat jy doen of sê nie, God se Gees lewe in my en ek het selfbeheersing.’ Die Bybel sê: ‘Die liefdevolle goedheid van God… voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef’ (Titus 2:11-12 NLV).
Leer dus om jou woede te beheer.
Sielskos: Job 35-37; Luk 22:1-23; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2023-03-28
Openbaring 21:4 NLV
Soms beskryf ons die dood as ‘om die Jordaan oor te steek,’ omdat die Jordaanrivier in die Dooie See uitloop. Daar word ‘n verhaal van ‘n bejaarde Christelike dame wat besig was om te sterf, vertel. Vir die meeste van haar lewe was sy aan haar bed of haar rolstoel vasgekluister. Die familie het bymekaargekom om van haar afskeid te neem. Terwyl hy haar hand vashou, het een van haar kleinseuns gevra: ‘Ouma, is Ouma bang om dood te gaan?’ Met trane van vreugde het sy geantwoord: ‘Nee, ek is nie bang vir die dood nie, want my Vader besit aan beide kante van die rivier land.’
Wat ‘n antwoord! In die hemel sal daar nie siekte, depressie, pyn, eensaamheid, vrees, smart of enige van die dinge wat die lewe op aarde so moeilik maak, wees nie. God se Woord sê: ‘Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir hulle wat eerbied en respek vir My het…’ (Maleagi 4:2 NLV). Jesaja skryf: ‘Dié wat die Here bevry het, sal terugkeer na Sion. Hulle sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, ellende en smart sal verdwyn’ (Jesaja 35:10 NLV).
Wanneer ons ‘n geliefde aan die dood afstaan, wonder ons of ons hulle in die hemel sal sien en sal herken. Ja! Jy sal nie minder in die hemel weet as wat jy op aarde geweet het nie. Paulus skryf: ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan’ (1 Korintiërs 13:12 NLV). Die hemel sal die grootste familiereünie van alle tye wees. Die beste deel daarvan: Ons sal nooit weer van mekaar geskei word nie.
Sielskos: Job 32-34; Luk 21:25-38; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2023-03-27
Openbaring 21:16 NLV
Die volgende keer wat jy ingeperk voel, lees die volgende: ‘Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. [Die engel] het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – meer as 2 200 kilometer’ (vers 16 NLV). Dit is meer as vier miljoen vierkante kilometer – wat die nuwe Jerusalem groter as Texas maak. Dis amper vier keer groter as Alaska en meer as helfte die grootte van die hele Amerika! So ‘n groot stad sal allesbehalwe oorvol en ongemaklik wees. Nog wonderbaarliker as dit: Die stad sal 2 200 kilometer hoog wees! Daar sal nie ‘n beperking aan spasie wees nie. Dit bevestig wat Jesus oor die hemel gesê het: ‘In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers… Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak’ (Johannes 14:2 NLV).
Aangesien dieselfde God wat die aarde geskep het ook die hemel ontwerp het en aangesien Paulus gesê het dat die hemel ‘…verreweg die beste…’ (Filippense 1:23 NLV) sal wees, dink aan die mooiste plek wat jy al ooit besoek het en vermenigvuldig daardie beeld met ‘n oneindige getal. Johannes het die hemel as volg beskryf: ‘Die stad… het gestraal, net soos ‘n baie kosbare steen, soos ‘n kristalhelder jaspis’ (Openbaring 21:12 NLV). Een nag het ‘n klein seuntjie saam met sy pa na die sterre gekyk en gevra: ‘As die verkeerde kant van die hemel so mooi is, hoe moet die regte kant dan lyk?’
Jesus het gesterf sodat jy hemel toe kan gaan. Jy gaan egter nie per ongeluk soontoe nie, maar deur ‘n keuse wat jy moet maak. Het jy dus al jou vertroue in Christus geplaas om jou Redder te wees? As jy het, sien jou daar!
Sielskos: Job 29-31; Luk 21:12-24; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26