Herbou jou huwelik (4)

2023-05-23
Hooglied 8:7 NLV

Julle moet openhartig met mekaar wees. Julle moet deursigtig, sensitief, vatbaar en gewillig wees om mekaar te vertrou. Stop en dink hoe jy voel wanneer die dokter jou ‘n inspuiting moet gee. Jou eerste reaksie is om jou spiere saam te trek, nie waar nie? So trek ons harte ook na die pyn van verwerping, verraad, of verwaarlosing, saam. Dis ‘n refleksmeganisme van die siel; ‘n manier om onsself onbewustelik te beskerm. Dis ‘n goeie eienskap, behalwe in die huwelik.

As jy nie hierdie meganisme afskakel nie, sal jy jou siel toemaak. Dit is die toestand waar jy vir die persoon lief is en elke aand huis toe na hulle toe kom, maar jy is skrikkerig en nie meer in die oomblik teenwoordig nie. Jy het jouself afgesluit, uit vrees vir teleurstelling en seerkry.

Die huwelik is ‘n oop verbond wat deur fisiese intimiteit voltrek word, wat alle hindernisse verwyder en die vreugde dat daar niks tussen julle is nie, vier. Dis moeilik om sulke intimiteit emosioneel en fisies te bereik en te handhaaf, wanneer jy verraad en teleurstelling ervaar het.

Daar is egter goeie nuus. Die sentrale tema van die Bybel is opstanding; dat dit wat dood is weer kan lewe. Indien jy dus daardie nabyheid verloor het, kan jy dit terugkry as jy gewillig is om jou siel te ontspan en jou hart vir die ander persoon oop te maak. Salomo skryf: ‘…Liefde … brand soos ‘n vuurvlam wat alles verteer. ‘n Stroom water kan die liefde nie blus nie. Riviere kan dit nie wegspoel nie…’ (verse 6-7 NLV). As jy God se hulp vra en gewillig is om daaraan te werk, kan jy jou liefde weer laat opvlam en jou huwelik herbou.

Sielskos: Heb 5-8; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 11:30-31

Herbou jou huwelik (3)

2023-05-22
Psalm 127:1 NLV

Jy moet gewillig wees om die ander persoon te vergewe. Dit maak jou weerloos wanneer jy iemand liefhet. Wanneer jy vir iemand jou hart gee, mag hulle dit dalk breek. ‘n Vreemdeling of toevallige kennis kan iets vir jou sê wat soos water van ‘n eend se rug van jou afrol. Wanneer jou maat egter dieselfde ding vir jou sê, kan dit gevoelens van woede en wrokkigheid by jou laat opkom.

Niemand bly aan iemand anders getroud sonder dat daar vergifnis by betrokke is nie. Dink daaroor: Jou verhouding met God behels dat jy sy vergifnis nodig het, daarvoor vra en dit ontvang. Jesus het ons geleer om as volg te bid: ‘En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het.’ Dan verduidelik Hy verder: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe’ (Matteus 6:12,14 NLV).

Wanneer jy voortdurend voel dat jou maat jou as vanselfsprekend aanvaar, kan dit opbou en in ‘n argument ontplof. As jy nie vergifnis in die klein dingetjies kan betoon nie, sal dit baie moeilik wees om gedurende krisistye genade te bewys en te ontvang. Die kuns van vergifnis beteken om volmaaktheid en prestasie te laat gaan en om genade en dankbaarheid aan te gryp.

Wanneer die Bybel sê dat ‘n man sy vader en moeder (insluitend sy kultuur, agtergrond en familietaal), moet agterlaat en hom by sy vrou voeg (om ‘n nuwe kultuur, agtergrond en familietaal te ontwikkel), begin hulle hulself aan mekaar verbind en word hulle tot een liggaam verenig (sien Matteus 19:5 NLV). Hierdie verbintenis verg egter baie tyd en werk. Dit beteken ook dat jy op dit wat goed is in jou maat moet fokus en die res moet vergewe.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29

Herbou jou huwelik (2)

2023-05-21
1 Petrus 3:7 NLV

Tweedens, moet julle na mekaar luister. Dit verg tyd, geduld en gefokusde aandag. Te veel paartjies gee vir mekaar ‘n monoloog, sonder om ruimte vir ware dialoog te laat. Dis waar huweliksberading effektief is. Dit forseer beide van julle om mekaar se taal te interpreteer, mekaar se gevoelens te verstaan en mekaar se behoeftes te ontdek.

Wanneer ‘n huwelik verbrokkel, is paartjies dikwels so besig om hulle eie punt te probeer maak en die geveg te wen, dat hulle nie na oplossings luister of plek vir onderhandeling het nie. Skei sal minder algemeen wees as ons met oop harte, in plaas van geslote gedagtes, luister. Jesus het opgemerk dat die wet van Moses mense toelaat om te skei as ‘…. ‘n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte…’ (Matteus 19:8 NLV). Dit beteken dat hulle harte nie tot die vlak van verstaan en plek vir onderhandeling om die verhouding te laat werk, sou smelt nie.

Sommige paartjies vind dit eenvoudiger om vir mekaar briewe oor hulle gevoelens te skryf, soos hulle leer om op ‘n dieper vlak te kommunikeer. Beraders gebruik ook hierdie tegniek, wat wonders kan verrig. Deur jou gevoelens op papier neer te pen voor jy hulle uitdruk, kan jy jouself afvra: ‘Is dit hoe ek regtig voel? Is dit hoe ek my gevoelens wil uitdruk? Sê ek te veel? Sê ek te min?’ Dit mag dalk katarties vir jou wees om by jou maat af te pak, maar wat as dit hom of haar begrawe?

Hierdie is ‘n paar van die vrae wat jy moet vra om jou huwelik te herbou. As julle beide aanhou bid en julle harte oopmaak, sal God julle help om dit te doen.

Sielskos: Josua 1; Hand 3:1-21

Herbou jou huwelik (1)

2023-05-20
Matteus 7:27 NLV

Deesdae eindig omtrent 50 persent van alle nuwe huwelike in die skeihof op. Dis ongelukkig waar, of jy ‘n Christen is of nie. Soms is die redes daarvoor omstandighede, soos werkloosheid of om die huis te verloor. Ander kere is dit verhoudingsprobleme, soos vertrouensverraad of ‘n verslawing aan dwelms of alkohol.

As jy daaraan toegewyd is om jou huwelik te herbou, sal julle moet leer hoe om weer by mekaar aanklank te vind en daaraan werk om dit wat julle eens gehad het, te herstel. Om dit te doen, moet julle beide bereid wees om die proses aan die gang te sit en julself op die langtermyn daaraan verbind. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na vier sleutelareas.

Eerstens, moet jy die ander persoon ken. Dis ‘n fout om jou eggenoot te probeer uitpluis, hulle in ‘n boks te sit en hulle vir die res van hulle lewens so te etiketteer. Om iemand te ken is ‘n deurlopende kuns, nie ‘n statiese wetenskap met onveranderlike data nie. Jy moet jou maat as ‘n raaisel wat voortdurende ondersoek en lewenslange leer vereis, beskou. Die Bybel sê: ‘…behandel julle vroue [en mans] met respek…’ (1 Petrus 3:7 NLV).

Jy moet met nuwe oë na jou eggenoot kyk om jou huwelik te herbou. Hulle mag dalk nie wees wie jy aangeneem het hulle is nie – maar jy is ook nie. Jy moet dus spasie vir beide van julle toelaat om te ontwikkel. Maak seker om God ook by die proses in te sluit. Jesus het gesê dat ‘n huis wat op die vaste fondament van God se Woord gebou is, sterk in die storm sal staan terwyl ander uitmekaar val (sien Matteus 7:24-27). Begin dus vandag die proses deur jouself – en mekaar – weer aan God toe te wy.

Sielskos: Jona 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26

Jy het ander mense nodig

2023-05-19
Prediker 4:12 NLV

Ken Blanchard het gesê: ‘Niemand van ons is so slim soos almal van ons nie.’ Ons wil graag dink dat ons alles weet, maar as ons eerlik is, is elkeen van ons pynlik bewus van die feit dat ons blinde kolle en areas waarin ons onervare is, het. Jy het ervarings gehad wat ander mense nog nie gehad het nie; hulle het ervarings gehad wat jy nog nie gehad het nie; en wanneer julle byeenkom, kan julle julle gesamentlike ervarins en kennis inspan.

Jesus het sewentig dissipels in groepe van twee uitgestuur. Hoekom? 1) Vir ondersteuning. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied…’ 2) Vir ontwikkeling. Die dramaturg Ben Jonson het gesê: ‘Hy wat slegs deur homself onderrig word, het ‘n dwaas vir ‘n meester.’ 3) Vir verantwoording. Die pastoor van ‘n groot kerk het die man wat saam met hom reis as volg aan sy gehoor voorgestel: ‘Ek is weerloos teen versoeking en hy beskerm my daarteen.’ Jy kon ‘n speld in die gehoor hoor val!

Soms het jy vertroosting nodig, ander kere het jy korreksie nodig. Dit verg nederigheid om dit te erken en emosionele sekuriteit om dit in plek te stel. Totdat jy besef dat ander mense jou kan help om ‘n voller en beter lewe te lei, bind jy jou eie hande vas en beperk jy jou potensiaal. Solank as wat jou doel is om bo ander uit te styg, eerder as om saam met hulle te werk, sal jou toekoms gekortwiek word.

Goeie denkers verstaan die krag van gedeelde denke. Hulle verstaan dat wanneer hulle die gedagtes en idees van ander mense waardeer, hulle die saamgestelde resultate van gedeelde denke ontvang en meer bereik as wat hulle ooit op hul eie sou kon. Die waarheid is dat jy ander mense nodig het.

Sielskos: Titus 1-3; Matt 10:32-42; Ps 75; Spr 11:23

Wat jy moet opgee

2023-05-18
Psalm 27:4 NLV

Daar is sekere dinge wat jy moet opgee om sukses te kan behaal. 1) Jy kan nie met almal vriende wees nie. Jesus het almal liefgehad, maar het die meeste van sy tyd bestee om twaalf mense te mentor. Hy het ekstra tyd met Petrus, Jakobus en Johannes, sy binnekring, bestee. Aan die einde van sy lewe, kon Hy sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV).

2) Jy kan nie alles doen nie. As gevolg van die vinnige pas van ons samelewing, neig die meeste mense om ‘n klomp take gelyktydig te doen. Om van een taak na die volgende te spring, kan egter veroorsaak dat jy tot 40 persent effektiwiteit inboet. Volgens navorsers sal jy meer gedoen kry as jy op een taak op ‘n slag fokus. Dawid het gesê: ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek…’

3) Jy kan nie afgerond wees nie. Ja, daar moet ‘n balans tussen jou private en openbare wêreld wees. Dis egter ‘n mite dat jy almal kan ken, alles kan doen, orals kan gaan en alles kan hê. Jy hoef nie 99 persent van alles in die lewe te weet nie; jy moet net op die een persent wat vir jou die grootste opbrengs gee, fokus. As jou aandag maklik afgelei word, het jy mense in jou lewe nodig wat bemagtig is om jou aandag daarop te vestig en jou weer op koers te kry.

Om hoër te beweeg en groter dinge te bereik, moet jy gewillig wees om sekere dinge te laat staan. Selfs goeie dinge (sien Hebreërs 12:1-3).

Sielskos: Num 34-36; Matt 10:21-31; Ps 72:12-20; Spr 11:22