2023-05-29
1 Johannes 4:18 NLV
Wanneer God vir jou sê om nie te vrees nie, sê Hy inderwaarheid dat jy wel vrees gaan ervaar, maar dat jy dit kan oorwin. Jy kan ten spyte daarvan optree. Die Bybel sê: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie…’ Ons dink soms foutiewelik dat hierdie teks beteken dat as ons God waarlik liefhet, sal ons nie vrees nie. Nee, die enigste ware en perfekte liefde is God se liefde vir jou. Dis onvoorwaardelike liefde.
Die wete dat Hy altyd lief is vir jou, saam met jou stap, jou verdedig, jou ondersteun en beloof om jou in alles wat jy doen te seën, is wat die vrees laat verdwyn. Dit versterk ook jou geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Wanneer jy weet dat God tevrede is met jou, begin jy bo jou vrese uitstyg. Wanneer vrees aan jou deur kom klop en jou gevul met geloof aantref, kan dit nie binnekom nie.
Dis hoekom jy deurlopend op God se Woord moet mediteer en jou gesprekke met geloof moet vul. Die Bybel sê: ‘want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV). Hoe het jy geleer om te loop? Deur elke keer weer op te staan wanneer jy geval het, totdat jy dit uiteindelik bemeester het. Wanneer jy jou gedagtes daarop instel om vrees te beveg deur woorde van geloof te spreek, sal die Heilige Gees jou te hulp kom en jou versterk. Soos een predikant sê: ‘Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar vooruitgang in vrees se teenwoordigheid.’ Hou dus net aan om vorentoe te beweeg en jy sal daar uitkom!
Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 13:10-23; Ps 101; Spr 12:12-13
2023-05-28
Psalm 118:6 NLV
God het vir jou ‘n lewe van groei, avontuur en versnelling gegee. Jy moet egter dapper treë in geloof neem. Jy kan dit egter nie doen as jy tevrede daarmee is om in jou ‘veilige sone’ te bly nie. Selfs wanneer jy bang voel, moenie toelaat dat dit jou keer nie! Voel die vrees en doen dit in elk geval! Jy vra: ‘Gaan ek ooit ophou bang voel?’ Ja, wanneer jy in die hemel kom.
Om vrees te voel is deel van die lewe. Jy sal vrees ervaar wanneer jy iets vir die eerste keer doen, of wanneer die struikelblokke in jou pad onoorkombaar lyk, of wanneer jy voel jou hulpbronne is nie genoeg vir die uitdaging nie. Dit beteken nie jy is ‘n lafaard nie; dit beteken eenvoudig dat jy menslik is. Jy is net lafhartig wanneer jy toelaat dat jou vrese jou optrede en besluite beheer.
Om vrees te voel is eenvoudig die versoeking om te vlug van dit wat jy moet konfronteer. Om vrees te voel is nie dieselfde as om vreesagtig te wees nie, want om vreesagtig te wees beteken dat jy toelaat dat vrees beheer oor jou neem. Jy kan byvoorbeeld woede voel, maar kies om nie daarvolgens op te tree nie en eerder met vergifnis en liefde reageer. Op dieselfde manier kan jy vrees voel en nie jou besluite daarop baseer nie. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’
Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp, daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Staan dus vandag op God se Woord en verklaar: ‘Ek sal nie in vrees leef nie.’
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2023-05-27
1 Johannes 4:18 NLV
Die rubriekskrywer Ann Landers het ongeveer tienduisend briewe elke maand van lesers wat haar raad gevra het, ontvang. Toe sy gevra is wat die algemeenste probleem in haar lesers se lewens is, het sy gesê: ‘Vrees! Mense is bang hulle verloor hulle gesondheid, hulle geld en hulle geliefdes. Mense is bang vir die lewe self.’
Indien jy dit toelaat, sal vrees jou beheer. ‘…vrees [is] nog met straf behep…’ en totdat die krag van vrees nie verbreek is nie, sal dit aanhou om jou te straf. Wanneer vrees jou lewe regeer, kan jy niks wat jy doen geniet nie. Jy kan ook nie God se seën geniet nie.
Dr Caroline Leaf sê dat vrees meer as 1400 bekende fisiese en chemiese reaksies veroorsaak en meer as dertig verskillende hormone en neuro-oordragstowwe aktiveer. Dis die wortel van al ons stres. Wanneer vrees ‘n stresreaksie in ons veroorsaak, ‘marineer’ dit as’t ware ons liggame in giftige chemikalieë. Dit is natuurlik baie ongesond en bedreig ons fisiese welstand.
Die vrees om nie deur ander mense aanvaar te word nie, kan veroorsaak dat jy ‘n vals persoonlikheid ontwikkel, wat jou ware self versmoor en dit wat God jou geskep het om te wees, wegsteek. Die vrees vir mislukking sal jou daarvan weerhou om nuwe dinge uit te probeer en jouself uit te daag om meer te doen as waarmee jy gemaklik is. Die vrees vir die toekoms kan veroorsaak dat jy nie jou lewe tans geniet nie.
Vrees kom nie van God af nie. ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verwerp die gees van vrees. Gebruik God se krag, glo dat Hy jou onvoorwaardelik liefhet en begin vandag weier om in vrees te leef.
Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 13:1-9; Ps 128; Spr 12:10-11
2023-05-26
Psalm 3:3 NLV
Miskien het jy herhaaldelik die woorde: ‘Jy kan nie’ deur jou lewe gehoor. Baie mense hou daarvan om vir ander te vertel wat hulle nie kan doen nie. Dis selfs mense wat jy nie dink teen jou sal wees nie – onderwysers, afrigters, ouers, familielede, vriende en leiers van kerkgroepe – wat dikwels nie die krag van hul woorde oor jong lewens besef nie. Baie van ons het grootgeword met die idee dat ons nie kan nie, wat glad nie waar is nie!
Maak nie saak hoeveel keer iemand al vir jou gesê het: ‘Jy kan nie,’ staan op God se Woord en sê: ‘Ja, ek kan!’ Wonderwerke vind plaas wanneer ons glo dat ons alles deur Christus wat ons krag is, kan doen (sien Filippense 4:13). God glo in jou, nou is die tyd om in jouself te glo. Dis ‘n nuwe dag! Sit die verlede en al sy ontmoedigende opmerkings agter jou.
Woorde wat tot mislukking spreek kom van die Vyand, nie van God af nie, dus moet jy besluit om nie toe te laat dat die krag van: ‘Jy kan nie,’ jou langer affekteer nie. God se Gees, in kontras met die Vyand, moedig jou aan en sal enigiets doen om jou tot sukses in alle areas van jou lewe aan te spoor. God het vir Josua, wat voor die uitdagings van die Beloofde Land te staan gekom het, drie maal gesê: ‘Wees sterk en dapper…’ (Josua 1:6 NLV). Ontmoediging kom van die Vyand, bemoediging kom van God af.
Besluit om saam met God te stem en vir jouself te sê: ‘Ek kan!’ Laat die krag van God se Woord vandag elke negatiewe woord wat al ooit teenoor jou of oor jou gespreek is, domineer.
Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 12:38-50; Ps 45; Spr 12:7-9
2023-05-25
2 Korintiërs 12:9 NLV
Die geheim om te kan doen wat jy moet doen, is om te besef dat jy dit nie alleen kan doen nie; jy kan dit net deur God se bemagtigende genade doen. God het vir Paulus gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ en die woord ‘genade’ sluit alles in wat jy nodig het om enigiets in die lewe te hanteer. Wat ‘n belofte!
Soms dink ons dat ons alles moet doen. Ons vergeet dat die krag van Christus deur ons werk, dus verloor ons nog voor ons begin het. ‘Ons is Gód se werkspan…’ (1 Korintiërs 3:9 NLV). Ons kan nie God se deel doen nie en Hy sal nie ons deel doen nie. Hy wil hê dat ons sy leiding moet volg, maar Hy dring daarop aan dat ons elke tree van die pad van Hom afhanklik moet wees. Dis nogal hard op ons ego wat sê: ‘Ek kan dit self doen!’
Soms moet ons heeltemal verslaan word voor ons hierdie tipe denke laat vaar. Met die wete dat ons sekere gawes en talente het, maak ons die fout deur aan te neem dat ons deur ons eie krag sukses kan behaal. Nee, tensy God se genade deur jou gawe werk, sal dit nie voldoende vir die uitdaging wees nie. Die Bybel sê: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV).
Genade is soos elektrisiteit; om effektief te funksioneer, moet dit ingeprop bly. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Wees dus meer afhanklik van God.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 12:22-37; Ps 47; Spr 12:4-6
2023-05-24
Filippense 4:13 NLV
Paulus skryf: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Paulus het geglo dat hy enigiets wat die lewe sy kant toe sou gooi, kon hanteer. Glo jy dit ook? Wat is die dinge wat jou vrees aanwakker en jou laat sê: ‘Ek sal dit nie kan hanteer nie’? Om ‘n geliefde skielik te verloor? Om ‘n onverwagte siekte te kry? Om jou volwasse kind met twee kleuters in jou skoon en rustige huis nadat jy jare lank ‘n leë nes gehad het, te laat intrek? ‘n Streng dieet volg omdat jou lewe daarvan afhang? Om jouself op ‘n begroting te plaas sodat jy jou huis se paaiemente kan bybring? Om skielik na ‘n sieklike, bejaarde ouer te moet omsien?
Die meeste mense het een of ander soort situasie wat vir hulle onmoontlik lyk; iets wat hulle onseker is of hulle dit sal kan hanteer. Die waarheid is dat alhoewel sommige situasies vir jou uiters ongewens of uitdagend kan wees, God sê dat jy dit wat jy in die lewe moet doen, kan doen. Hy sê nie dat alles maklik sal wees nie; Hy belowe nie dat jy elke klein dingetjie wat jy doen gaan geniet nie, maar jy kan die lewe te midde daarvan, geniet.
Hoe doen jy dit? Deur die krag van Christus. Wanneer jy geld nodig het, onttrek jy geld uit jou bankrekening uit. Wanneer jou kar leeg is, maak jy ‘n onttrekking by die petrolstasie. Wanneer die lewe dus oorweldigend raak, bid en maak ‘n onttrekking uit God se genade, liefde, krag, mag en leiding.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 12:15-21; Ps 97; Spr 12:1-3