2023-04-13
Efesiërs 3:19 NLV
Prinses Alice was koningin Victoria se dogter. Toe haar seun ‘n ongeneeslike siekte genaamd swart difterie opgedoen het, het die dokters die seun in kwarantyn geplaas en sy ma gewaarsku om weg te bly van hom sodat sy nie ook geïnfekteer word nie. Een dag het sy gehoor hoe haar seun vir sy verpleegster fluister: ‘Hoekom wil my ma my nie meer soen nie?’ Sy woorde het haar hart diep getref en sy het na hom toe gehardloop en van kop tot tone gesoen. Binne ‘n paar dae het sy egter gesterf en is begrawe.
Wat sal ‘n ma noop om haar lewe vir haar kind te waag? Liefde! Staan nou by die kruis en vra wat sou Christus genoop het om iets selfs groters vir ons te doen? Liefde! Paulus het aan die gelowiges in Efese geskryf: ‘Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef…’
Miskien het die mense wat jou moes liefgehad het, dit nie gedoen nie; en diegene wat jou kon liefhê, wou nie. Miskien is jy by die hospitaal gelos, of by die altaar verlaat, of met ‘n leë bed en ‘n gebroke hart agtergelaat. Ongegag die rede, jy is met die volgende vraag gelaat: ‘Is daar enigiemand wat lief is vir my?’ Vandag antwoord Christus omonwonde: ‘Ek is!’ Die liefde wat Hy vir jou het, gaan alle verstand te bowe.
Die gesangeskrywer, Charles Gabriel, het geskryf: ‘I stand amazed in the presence of Jesus the Nazarene, And wonder how he could love me, a sinner, condemned, unclean. How marvelous! How wonderful! And my song shall ever be: How marvelous! How wonderful! Is my Saviour’s love for me!’ God kan nie liewer vir jou wees as wat Hy op hierdie oomblik is nie en dit sal nooit verander nie.
Sielskos: Lev 21:1-23:25; Luk 24:36-44; Ps 25:8-15; Spr 10:2
2023-04-12
Lukas 6:45 NLV
Waar kom goedheid vandaan en hoe kan jy dit in meer van jou daaglikse besluite en aksies kweek? Sommige mense dink dat goedheid ‘n kwessie van die kop is en dat die regte denke die regte lewe tot gevolg het. Vandag wek elke politikus die indruk dat onderwys die wondermiddel vir feitlik elke probleem in die samelewing is. Tog sal opvoeding van die kop, sonder dieselfde klem op integriteit van die hart, slegs slim duiweltjies voortbring. Indien opvoeding alleenlik die antwoord was, sou witboordjie misdade heel waarskynlik skerp gedaal het.
Ander dink weer dat goedheid ‘n kwessie van hande is. Hulle sê dat goedheid beteken dat jy mense goed behandel. Om goed te doen maak egter nie van iemand ‘n goeie persoon nie. Moordenaars wat in die tronk is mag dalk goed vir hul moeders wees, maar hulle is nie goeie individue nie.
Die waarheid is dat goedheid nie in jou gedagtes of jou hande te vinde is nie; dis weggesteek in jou hart. Jesus, die beste mens wat ooit gelewe het, het gesê: “‘n Goeie mens bring goeie dade voort uit ‘n goeie hart…” Goedheid is nie net ‘n kwessie van wat ons weet of wat ons doen nie; dis ‘n kwessie van wie ons is. Dit maak nie saak hoe lank jy lewe nie, maar hoe goed jy lewe.
Sir Francis Bacon het een keer gesê: ‘Van alle deugde en vaardighede van die verstand, is goedheid die belangrikste, omdat dit die karakter van God is; daarsonder is die mens ‘n besige, ondeunde, ellendige ding.’ Beweeg dus nader aan God in jou begeerte om goed te wees. Jy word immers soos die geselskap wat jy hou.
Sielskos: Lev 18-20; Luk 24:25-35; Ps 25:1-7; Spr 10:1
2023-04-11
Psalm 134:1 NLV
God het tyd in dae en nagte verdeel; dus sal jy ‘dag-ervarings’ en ‘nag-ervarings’ hê. Jy kan byvoorbeeld ‘n ‘nag-ervaring’ in ‘n skeihof, wanneer jy bankrot verklaar word, of wanneer jy werkloos is, of langs ‘n graf, hê. Omdat jy nie duidelik in die nag kan sien nie, is dit maklik om te wonder of God regtig daar by jou is. Hou moed – Hy is! Met farao se weermag op hul hakke en die Rooi See voor hulle, het die Israeliete voor hul grootste uitdaging te staan gekom. Die Bybel sê egter: ‘…Die Here het die water teruggedryf met ‘n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het…’ (Eksodus 14:21 NLV).
Wees bemoedig; God is aan die werk selfs wanneer jy Hom nie kan sien nie. George Matheson het die volgende gesang geskryf: ‘Will I remain in God’s house at night… love Him for who He is… desire not the gift but the giver? When I can remain… during the darkness of night and worship… I’ve accepted Him for Himself alone.’
Moenie net na God toe draai wanneer jy ‘n wonderwerk nodig het nie; fokus op jou verhouding met Hom en jy sal ‘n wonderwerk ontvang wanneer jy een nodig het. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV).
Nadat hy alles naby en dierbaar aan hom verloor het, het Job se vriend, Elihu, vir hom gesê: ‘…Waar is God, ons Maker, die Een wat ons ‘n lied laat sing in die nag?’ (Job 35:10 NLV). Jesus het gesê: ‘Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê…’ (Matteus 10:27 AFR83). Hou moed; dis tydens jou nag-ervaring wat die Here jou stabiliseer, ondersteun en versterk sodat jy oorwinning kan behaal.
Sielskos: Lev 15-17; Luk 24:19-24; Ps 50:16-23; Spr 9:17-18
2023-04-10
2 Petrus 3:18 AFR83
Dink hoeveel gelukkiger en energiek jy sou wees as jy nie probeer om mense te beheer en hulle reg te ruk nie. Een skrywer sê: ‘Gee jou geliefdes die waardigheid om hulle eie foute te maak en daaruit te leer. As jy altyd in iemand anders se besigheid rondgrawe, gaan jy nie net uitbrand nie, jy verhinder God om in hulle lewens te werk… hulle behoort aan Hom, nie aan jou nie!’
Toe wettiese Joodse gelowiges in die Nuwe Testament probeer het om kosjer wette op nie-Joodse gelowiges af te dwing, het Paulus geskryf: ‘Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom’ (Romeine 14:3 NLV). Net omdat jy nie vry voel om iets te doen nie, gee dit jou nie die reg om diegene wat dit doen te veroordeel nie – tensy dit duidelik in die Skrif verbied word.
Gladys M. Hunt skryf: ‘Aanvaarding beteken dat jy kosbaar is net soos jy is. Jy kan praat oor hoe jy voel en hoekom – en iemand gee regtig om. Jy kan nuwe idees opper sonder om afgeskiet te word. Jy kan selfs ketterse gedagtes uitdruk en dit met intelligente bevraagtekening bespreek. Jy voel veilig. Niemand sal oordeel uitspreek nie, selfs al stem hulle nie met jou saam nie. Dit beteken nie dat jy nooit tereggewys sal word nie, dit beteken eenvoudig dat dit veilig is om jouself te wees.’
Wanneer dit by die waarheid kom, staan vas! Wanneer dit egter by nie-noodsaaklikhede soos persoonlike voorkeure, gebruike en tradisies kom, behoort elkeen ‘…seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband’ (Romeine 14:5 NLV).
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 24:13-18; Ps 50:1-15; Spr 9:13-16
2023-04-09
Hebreërs 2:15 NLV
Toe Charles Lindbergh, die eerste persoon wat alleen oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het, sterwend aan kanker was, het hy hierdie woorde neergeskryf om by sy begrafnisdiens voorgelees te word: ‘Ons vertrou die liggaam van Charles A. Lindbergh tot sy laaste rusplek toe; maar ons gee sy gees aan die Almagtige God oor, met die wete dat die dood maar ‘n nuwe avontuur is.’ Die dood is slegs ‘n nuwe avontuur, dus is daar geen rede om dit te vrees of te ignoreer nie. Jy kan dit as gevolg van Christus met vreugde en selfvertroue in die gesig staar. Sy opstanding waarborg joune.
Aristoteles was verkeerd; die dood is nie iets wat gevrees moet word nie. Die Grieke was verkeerd, die roeier Charon sal jou nie oor die Styx-rivier na die vergetelheid in ‘n sonlose wêreld van geeste vervoer nie.
As ‘n gelowige word jy nie begrawe nie, jy word geplant! ‘Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies… Ons liggame wat in die grond geplant word, is maar heel gewoon, maar hulle sal in glansende heerlikheid opgewek word. Hulle is maar baie broos wanneer hulle geplant word, maar hulle sal vol krag wees wanneer hulle opgewek word’ (1 Korintiërs 15:42-43 NLV).
Een dag toe die Heilige Franciscus van Assisi besig was om sy tuin te skoffel, het ‘n man hom gevra wat hy sou doen as hy skielik sou weet dat hy daardie dag teen sonsonder sou sterf. Hy het geantwoord: ‘Ek sou my tuin klaar skoffel.’ Hier was ‘n man wat gereed was om dood te gaan en sonder die vrees vir die dood, was hy gereed om elke oomblik uit die lewe te put. Dis hoe jy ook moet lewe!
Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12
2023-04-08
Johannes 19:23 NLV
Johannes skryf: ‘Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy boklere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ‘n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle het toe vir mekaar gesê: ‘Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot wie s’n dit sal wees’…’ (verse 23-24 NLV).
Joodse moeders het tradisioneel hierdie kleed as ‘n geskenk vir hul seuns wat die huis verlaat, gemaak. Alhoewel ons nie weet of Maria Jesus se kleed gemaak het nie, was dit heel waarskynlik ‘n kosbare besitting. Dis ook betekenisvol, omdat klere dwarsdeur die Bybel gedrag en karakter simboliseer. Paulus sê: ‘…By julle doop het julle Christus aangetrek soos ‘n mens ‘n stel nuwe klere aantrek…’ (Galasiërs 3:27 DB).
Die woorde: ‘… van bo tot onder aaneen geweef,’ dui aan dat Jesus altyd deur God se gedagtes gerig is. Hy het inderwaarheid gesê: ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen…’ (Johannes 5:19 NLV). Toe Jesus gekruisig is, het Hy sy naatlose kleed eenkant gesit, en ‘…in ons plek ‘n vervloekte [ge]word…’ (Galasiërs 3:13 AFR83), deur die kleed van sonde waarop ons name geskryf was, aan te trek.
Hy het soos ‘n gewone misdadiger vir sonde wat Hy nie gepleeg het nie gesterf, sodat ons die kleed van sy geregtigheid kan aantrek. Sodat sondaars soos ons wat na die kruis kom, daar kan wegstap met ‘…regverdigheid aan soos ‘n borsplaat…’ (Jesaja 59:17 NLV), die belt van ‘…regverdigheid… en ook waarheid’ (Jesaja 11:5 NLV), en ‘…klere van redding…’ (Jesaja 61:10 NLV), aan ons lyf. Jesus het nie net ‘n plek in die hemel vir ons voorberei nie; Hy het ook seker gemaak dat ons reg vir die geleentheid aangetrek sou wees.
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 23:50-56; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23