2023-06-04
Jeremia 1:5 NLV
Vandag moet jy twee dinge weet: God mors nie enigiets wat Hy geskep het nie en Hy mors nie enigiets wat Hy kan gebruik nie. Voor jy gered is, het God toegelaat dat beide goeie en slegte ervarings jou toerus vir dit wat Hy vir jou in gedagte het. Dit sluit in wie jou ouers is, die plekke waarvandaan hulle gekom het, waar jy skool gegaan het, die beroepe wat jy al gehad het en die opleiding wat jy al ontvang het. Dit sluit ook dinge in wat al by jou geboorte in jou geplaas is, selfs al het dit voorgekom of van daardie dinge teen jou gewerk het soos jy ouer geword het.
Byt jy soos ‘n veghond aan ‘n idee vas? God kan dit gebruik. Hou jy daarvan om deur boeke te blaai en navorsing te doen? God kan dit gebruik. Is jy vinnig om in ‘n konfrontasie met vyande betrokke te raak? God kan dit gebruik. Jy mag dalk vandag voel dat jy op die verkeerde plek is en die verkeerde dinge saam met die verkeerde mense doen. Jy mag dalk wonder hoe jy jouself uit hierdie gat gaan kry en jou lewe gaan omdraai.
Die waarheid is dat jy dit dalk nie kan doen nie, maar God kan! Hy maak wonderwerke uit foute uit. Gee dus vir Hom die dinge in jou lewe wat nie so goed is nie, die dinge waaroor jy nie trots is nie en sê: ‘Here, hier is hulle. Ek wens my lewe was anders, maar dit is nie. Ek wens ek kon dit verander, maar ek kan nie.’ Laat God dan toe om aan die werk te spring.
Sielskos: Joh 5:1-15; Jes 54:9-17
2023-06-03
Romeine 1:1 NLV
God het in die deel van Paulus se agtergrond gekyk wat gevorm is voor hy ‘n Christen geword en ‘n paar baie bruikbare dinge daar gevind. Nie net geestelike dinge nie, ook akademiese en kulturele dinge. Alhoewel Paulus ongekwalifiseerd as gevolg van sy intense haat vir Christene voorgekom het, het sy agtergrond hom eintlik op ‘n unieke manier gekwalifiseer. As ‘n voormalige Fariseër, het hy die Skrif en die ingesteldheid van diegene wat hom sou teëgaan, verstaan. Sy voormalige geestelike blindheid het hom ook deernis vir diegene wat verlore is, gegee. God het beide die goeie en die slegte ervarings in Paulus se lewe gebruik.
Hy kan dieselfde vir jou doen! Dink daaroor: Toe God na ‘n man gesoek het om ‘n vroeë leier in sy kerk te wees, om die teologie van sy kerk neer te skryf, om met godsdiensleiers wat teen sy kerk geargumenteer het te debatteer, om die saak van Christus op akademiese en sosiale arenas te bevorder, om die boodskap al die pad van die laagste persoon op straat tot by die troon van die keiser uit te dra, het God ‘n man gevind wat reeds die nodige kwalifikasies gehad het – en daardie man was Paulus.
God werk as volg: Eers soek Hy jou uit, dan berei Hy jou voor, dan posisioneer Hy jou en dan bemagtig Hy jou om te doen wat Hy weet jy die effektiefste kan doen. God se roeping is die enigste ding wat jou volkome gelukkig kan maak, alhoewel jy dit nie altyd vooraf besef nie. Roep God jou? Is Hy besig om jou voor te berei? Posisioneer Hy jou? Bemagtig Hy jou? Jy sal jou hoogste vlak van vreugde en vervulling in die lewe bereik wanneer jy jouself aan Hom oorgee en ja sê.
Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 14:13-21; Ps 121; Spr 12:23-24
2023-06-02
Romeine 5:9 NLV
Die Bybel sê: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, red van die toekomstige oordeel nie! Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees’ (verse 8-9,11 NLV).
God is lief vir jou en aanvaar jou net soos jy is. Dit word egter beter. Hy sien jou as blaamloos. Hoe? ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Let die woorde ‘ons eenheid met Christus’ op.
Onthou altyd dat daar ‘n verskil tussen jou posisie en jou kondisie is. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, word jy as ‘geregverdig’ voor God geplaas. Jy sê: ‘Maar wat van my kondisie? Ek faal nog steeds.’ Die werk van die inwonende Heilige Gees is om jou kondisie opwaarts na die vlak van jou posisie te beweeg. ‘…Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
Hoe doen die Heilige Gees dit? Hy bring jou terug na die plek van belydenis waar jy skoon gewas word. Jou posisie in Christus verander nie, maar jou kondisie verander aanhoudend soos jy meer soos Christus word.
Sielskos: 1 Kon 14-15; Matt 14:1-12; Ps 117; Spr 12:20-22
2023-06-01
Lukas 4:18 NLV
Elke dertig sekondes word ‘n kind of jong persoon ontvoer en vir seks verkoop; amper een miljoen mense elke jaar! Baie word gedwing om tot dertig of veertig ‘kliënte’ elke dag te ontvang. Kan jy jou indink wat die regerings van die wêreld sou doen as ‘n stad met een miljoen mense gevange geneem word en elke dag uitgebuit en mishandel word?
As jy dink dis erg, sal die volgende statistiek jou hart breek en jou tot jou knieë dwing: Slegs 1 persent van diegene wat vir mensehandel ontvoer word, word daaruit gered! Jy sê: ‘Wat van die ander 99 persent?’ Wanneer hulle te oud is om waarde vir hulle koppelaars te hê, of as hulle te siek word om te werk, swanger word of siektes kry, word hulle soos vullis weggegooi. Hulle is die gewondes wat met emosionele en geestelike littekens rondloop en die res van hulle lewens met die gevolge daarvan worstel.
Miskien dink jy: ‘Dis hartseer en skokkend, maar dank die Here dis nie my kinders of kleinkinders nie.’ Jy moet beslis die Here daarvoor dank! As verloste kind van God, het jy egter ‘n verantwoordelikheid om daarvoor om te gee. Jesus het gesê Hy het gekom ‘…dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (vers 18 NLV).
Dit beteken dat jy nie die probleem kan vermy nie, jy moet bewus daarvan wees en tot aksie oorgaan. Eers wanneer genoeg mense hul stemme laat hoor, begin politici optree. Laat dus jou stem hoor! Begin daaroor bid. Ondersteun bedieninge wat daarby betrokke is. Op daardie manier sal jy eendag voor God kan staan en sê: ‘Here, ek het gedoen wat ek kon!’
Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 13:47-58; Ps 82; Spr 12:18-19
2023-05-31
Daniël 1:8 AFR83
Gaan jy voort om dinge te doen wat jy nie wil doen nie en gee jy jouself aan gedagtes wat jou verlei oor? Word jy voortdurend deur dieselfde ou versoekings oorval? Hier is die slegte nuus: Die wedergeboorte doen nie weg met jou ou natuur nie; dit verskerp eintlik die stryd tussen jou vlees en jou gees. Hier is die goeie nuus: Jy kan in oorwinning lewe! Hoe?
1) Deur gebed. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’ (Matteus 26:41 NLV). As jy moeg is daarvoor om vir vergifnis te bid nadat jy misluk het, begin voor die versoeking bid. Nee, jy kan nie versoeking wegbid nie, maar jy kan jouself voorberei om dit te oorkom. As jy hulp nodig het, roep versterkings in. Kry iemand wat weet hoe om saam met jou in gebed te staan. Die Bybel sê: ‘Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer’ (Prediker 4:9 NLV).
2) Deur jou besluit te maak. ‘Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie…’ Die manier om jou impulse te onderdruk, is om jou wil vooraf te aktiveer. Wanneer jy dit doen, bemagtig God jou deur sy Gees. Waar het Daniël se doelgerigtheid vandaan gekom? Van God af. Hy het drie keer elke dag gebid (sien Daniël 6:11). Moenie jouself in moeilike situasies laat beland nie. Toe Potifar se vrou probeer het om vir Josef te verlei, het hy ‘…uit die huis gehardloop’ (Genesis 39:12 NLV). Beide Josef en Daniël het gebid en hulself voorgeneem wat hul sou doen voor versoeking aan hulle deur geklop het. Jy moet dit ook doen.
Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 13:36-46; Ps 127;
Spr 12:15-17
2023-05-30
Romeine 8:31 NLV
Om vrees te oorkom, moet jy glo dat God by jou is. Dis die sleutel tot jou vermoë om dit wat Hy vir jou sê om te doen, te gehoorsaam. Soos jy vol vertroue raak dat Hy by jou is, sal jou vrees verminder. Toe Dawid aangebied het om teen Goliat te veg, het koning Saul vir hom gesê: ‘…Jy kan tog nie teen die Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar ‘n seun, terwyl hy van jongs af ‘n vegter is!’ (1 Samuel 17:33 NLV). Dawid het geantwoord: ‘Die Here… sal my ook red van hierdie Filistyn!’ (vers 37 NLV). Jy is nie alleen in hierdie stryd nie; die Here is by jou. Wanneer jy oortuig is daarvan, sal jou vrees afneem.
Jy mag dalk nie altyd weet wat God gaan doen nie, maar jy kan ontspan in die wete dat Hy op die regte tyd sal doen wat nodig is. Wanneer jy aan die toekoms en al die dinge wat onbekend is dink, is dit maklik om bang te voel. Jy kan dit egter op een van twee maniere sien. Jy kan of pessimisties en vol vrees wees, of jy kan vir jouself sê: ‘Die geveg is die Here s’n en Hy het nog nooit ‘n geveg verloor nie!’
Jy mag dalk nie altyd weet wat om in ‘n gespanne situasie te doen nie, maar God weet. Hy weet alles nog voor dit gebeur het en Hy het vooruit beplan om jou daaruit te red. Sit net een voet voor die ander, vol vertroue dat Hy jou lei. Jy hoef nie God te sien of sy teenwoordigheid aan te voel om te glo dat Hy by jou is nie. Geloof is ‘n saak van die hart en nie van die natuurlike sintuie nie. God is by jou! Glo dit en weier om in vrees te leef.
Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 13:24-35; Ps 108; Spr 12:14