2023-04-19
Handelinge 9:11 NLV
Het almal jou Saulus afgeskryf? ‘Hy het te ver gegaan.’ ‘Sy is te hard… te verslaaf… te oud… te koud.’ Josef het geglo dat hy eendag met sy broers, wat hom verraai het, herenig sou word en dit het toe wel gebeur. Die profeet Hosea se vrou het hom verlaat en ‘n prostituut geword. Tog het hy die deur oopgehou en sy het huis toe gekom. God het in Saulus geglo. Hy het juis deur Ananias in Saulus geglo: ‘…Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word’ (vers 17 NLV).
Max Lucado skryf: My gunsteling Ananias-tipe storie behels twee kamermaats op universiteit. Die Ananias van die twee was ‘n verdraagsame siel. Hy het sy vriend se laatnag dronkenskap, middernagtelike opgooie en hele dag se slaap verdra. Hy het nie gekla wanneer sy vriend vir die hele naweek verdwyn of sigarette in die kar rook nie. Hy kon vir ‘n kamermaat wat kerk toe gaan, minder vloek en wat oor iets anders as meisies besorg was, gevra het. Hy het egter met sy persoonlike Saulus uitgehou, in die hoop dat iets goeds kan gebeur as die kamermaat net sy lewe bymekaar kon kry. Hy het dus aangehou om die gemors skoon te maak, om sy kamermaat kerk toe te nooi en na hom om te sien. Ek kan nie ‘n helder lig of ‘n harde stem onthou nie. Ek het nog nooit op pad na Damaskus gereis nie. Ek onthou egter duidelik dat Jesus my van my troontjie afgestamp het en die lig aangeskakel het. Dit het vier semesters geneem, maar Steve se voorbeeld en Jesus se boodskap het uiteindelik tot my deurgedring.’
Maak dus nie saak wat nie, moenie op jou Saulus opgee nie!
Sielskos: 1 Kor 7-9; Matt 2:1-12; Ps 127; Spr 10:11
2023-04-18
Psalm 41:2 NLV
Driekwart van die wêreld se inkomste eindig in die sakke van 20 persent van sy populasie op. Dink so daaraan: tien suiwelboere besit tussen hulle tien koeie. Die koeie is egter nie eweredig verdeel nie. Dit is meer soos volg: Twee boere besit agt koeie, terwyl die ander agt boere twee koeie deel. Klink dit reg? Die twee boere wat agt koeie besit, mag dalk maklik sê: ‘Ek het vir my koeie gewerk.’
Die vraag is egter: watter verantwoordelikheid plaas God op diegene wat ‘het’ teenoor diegene wat nie ‘het’ nie? Eerstens, dat jy jouself moet toelaat om besorgdheid en medelye te voel. Tweedens, dat jy uit jou gemaksone beweeg en iets daaraan doen. ‘Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die Here hom red. Die Here sal hom beskerm en hom die lewe laat behou. Hy gee aan hom voorspoed in die land en lewer hom nie oor in die mag van sy vyande nie. Die Here sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed’ (verse 2-4 NLV).
Wanneer jy die armes seën, seën God jou. Dus, soos een leier geskryf het, moet jy die volgende jou gebed maak: ‘Here, U het beloof dat ons altyd die armes in ons midde sal hê. Help my om seker te maak dat die teenoorgestelde ook waar is: Dat ek altyd te midde van die armes is – besig om te help, te bemoedig en hand by te sit waar ek kan. Stel my in staat om die onsigbare God lief te hê deur die baie sigbare armes in my hoek van die wêreld te dien. Help my om kreatief te wees sonder om neerhalend te wees, bemoedigend te wees sonder om egotisties te wees en vreesloos te wees sonder om dwaas te wees. Amen.’
Sielskos: 1 Kor 4-6; Matt 1:18-25; Ps 43; Spr 10:10
2023-04-17
Jeremia 22:16 NLV
Toe hy ‘n teologiestudent was, het Jim Wallis en sommige van sy klasmaats elke vers oor armoede, rykdom, geregtigheid en onderdrukking met ‘n skêr uit die Bybel gesny. Teen die tyd wat hulle klaar was, het daar amper tweeduisend verse op die vloer gelê! Die feit is dat wanneer jy besorgdheid oor die armes uit jou Bybel sny, sny jy die hart daaruit! Hier is een so ‘n vers: ‘Hy het gesorg vir arm en behoeftige mense… Daarom het dit goed gegaan met hom. Wys dit nie dat hy My ken nie?’ vra die Here’ (vers 16 NLV).
Jesus het dikwels die Skrif aangehaal, maar net op een geleentheid lees ons waar Hy die Skrif neem en daaruit voorlees. Watter gedeelte het Hy gekies om in die openbaar voor te lees? ‘Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig… dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). Hier was sy doenlysie: hulp vir liggaam en siel, krag vir die fisiese en die geestelike en terapie vir die tydelike en die ewige.
Daar is sommige mense (alhoewel hulle in die minderheid is) wat arm is omdat hulle lui is en moet leer dat God se Woord sê: ‘…As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie’ (2 Tessalonisense 3:10 NLV). Ander is egter arm omdat parasiete hulle liggame verswak het, of omdat hulle elke dag ses ure bestee om water te gaan kry, of omdat hulle grond van hulle afgevat is, of VIGS hulle ouers se lewens geëis het. Hierdie is die mense wat God ons opdrag gegee het om voor te sorg!
Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:7-17; Ps 56; Spr 10:8-9
2023-04-16
Handelinge 6:1 DB
Aangesien die regering in die tyd van die Nuwe Testament nie na weduwees en weeskinders omgesien het nie, het die kerk verantwoordelikheid daarvoor geneem. Ongelukkig het vooroordeel sy lelike kop uitgesteek en het die Joodse weduwees en weeskinders voorkeurbehandeling bo die ander gekry. Hoe het die kerkleiers daarop gereageer? Hulle kon dit maklik afgewys het, soos ons so dikwels doen. Hulle kon gesê het: ‘Ons is geroepe om siele, nie mae nie, te voed. Ons hanteer kwessies van sonde en redding, nie van sandale en sop nie.’
Hier is egter wat hulle gedoen het. Eerstens, het hulle ‘n vergadering belê om die probleem op te los (sien Handelinge 6:2). Hulle het elke gemeentelid laat verstaan dat hulle armoede ernstig opneem en dat elkeen persoonlik voor God verantwoordelik is om iets daaraan te doen. Die Skrif steun nie gedwonge kommunisme nie, maar dit skryf duidelike Gees-geleide vrywilligerswerk voor.
Tweedens, het hulle die probleem aan hulle slimste en beste mense gegee. Hulle het sewe mans – gerespekteerde gemeentelede, vol van die Heilige Gees en wysheid – gekies om die verantwoordelikheid oor te neem (sien Handelinge 6:3).
In plaas daarvan om ons kinders vir belangrike velde soos medies, die regte, politiek of die regering voor te berei, kom ons leer hulle dat om na behoeftiges om te sien, een van God se hoogste roepings is.
Hoekom gaan meer as ‘n biljoen mense elke aand honger bed toe? Hoekom sterf meer as dertigduisend kinders (een elke drie sekondes) aan wanvoeding en voorkomende siektes wanneer ons iets daaraan kan doen? Niemand kan alles doen nie, maar God het elkeen van ons geroep om iets te doen! ‘Suiwer en onbevlekte godsdiens… is dat ons weeskinders en weduwees in hulle swaarkry versorg, en dat ons nie toelaat dat die wêreld ons besmet nie’ (Jakobus 1:27 NLV).
Sielskos: 2 Kon 6:1-23; Ef 1:15-23
2023-04-15
2 Korintiërs 3:18 NLV
Soos die ou gesegde lui – jy word aan jou vriende geken. Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (vers 18 NLV).
Hoe meer tyd jy in God se teenwoordigheid bestee, hoe meer sal jy sy ewebeeld weerspieël en sy teenwoordigheid met jou saamdra. Die Bybel sê vir ons dat nadat Moses veertig dae op ‘n berg in God se teenwoordigheid deurgebring het, kon die Israeliete nie na sy gesig kyk nie, omdat die heerlikheid van die Here daarop gereflekteer was (sien Eksodus 34:29). Moses het al meer soos God geword, namate hy al hoe meer tyd in sy teenwoordigheid deurgebring het.
Die Bybel sê: ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Dit beteken dat jy altyd ‘n spieël is, maak nie saak wat jy doen nie! Jesus het gesê: ‘Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (Matteus 5:16 NLV). Met ander woorde, mense moet na jou kyk en God wat binne-in jou woon, kan sien. Dit moet die geval by die huis, by die werk, wanneer jy ontspan en enige ander plek waar jy jouself mag bevind, wees.
Sielskos: Lev 26-27; Matt 1:1-6; Ps 32; Spr 10:4-7
2023-04-14
Psalm 44:4 NLV
Het jy gehoor van die padda wat nie water kon kry nie, dus het hy twee voëls gevra om hom na ‘n dam daar naby te neem? Hy het hulle oortuig om elkeen die punt van ‘n stokkie in hulle bekke te neem, terwyl hy die middel van die stokkie vasbyt, sodat hulle sodoende met hom tot by die dam kon vlieg. Dit was nogals ‘n vreemde verskynsel: twee voëls, een stokkie, met ‘n padda in die middel. Hulle het goed gevorder, totdat ‘n koei in die veld opgekyk het en gevra het: ‘Wie se idee was dit?’ Die padda kon dit nie weerstaan nie. Trots het oor omsigtigheid geseëvier en terwyl hy na die aarde toe geval het, het hy geskree: ‘Dit was my ideeeee…!’
Moenie dieselfde fout maak nie. ‘Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val’ (Spreuke 16:18 NLV).
Hoekom is jy goed met dit wat jy doen? Vir jou eie gemak? Om vir jou aftrede te spaar? Om jou selfvertroue te versterk? Nee, dis alles bonusse, maar nie die hoofrede nie. Jy is goed met dit wat jy doen – om God se onthalwe. Dit gaan oor Hom, nie oor jou nie! Lees hierdie woorde en oordink dit in jou hart: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk’ (1 Kronieke 29:12 NLV).
Nadat hy al Israel se oorwinnings, seëninge en suksesse onthou het, herinner Dawid ons: ‘Hulle het nie die land met die swaard verower, of die oorwinning deur eie krag behaal nie. Maar deur u krag was hulle suksesvol, deur u teenwoordigheid en u goedheid’ (Psalm 44:4 NLV). Hou in gedagte dat die seëninge wat jy elke dag ervaar, slegs joune is omdat God jou begunstig. Dis die waarheid!
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Luk 24:45-53; Ps 25:16-22; Spr 10:3