2023-06-10
Genesis 45:27 NLV
As dit vir jou voel of die droom wat jy glo God vir jou gegee het dood is, lees dan die volgende: “‘Josef lewe!’ sê hulle vir hom. ‘Hy is die heerser van die hele Egipte!’ Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie. Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom” (verse 26-27 NLV).
Vir jare lank het Jakob geglo sy seun, die dromer, is dood. Dit was egter ‘n leuen. Op sy oudag het waens wat gelaai was met rykdom hom kom haal om sy seun te gaan sien. Toe Jakob die nuus hoor, ‘…kon [hy] dit net nie glo nie…’ (vers 26 NLV). Wanneer jy vir jare met moedeloosheid saamleef, is dit moeilik om oorwinning te wagte te wees. God is egter geduldig. Hy sal aanhou werk aan jou. Hy sal sy genade en goedheid op so ‘n manier demonstreer dat jy Hom weer sal begin vertrou: ‘…Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom’ (vers 27 NLV).
Moenie glo dat jou droom dood is en nooit tot vervulling gaan kom nie. Moenie diegene wat jou vertel dat jy te oud is om die droom wat God vir jou gegee het te vervul, glo nie. ‘…Julle oumense sal drome droom…’ (Joël 2:28 NLV). God is die gewer van drome. Hy gee dit egter nie net nie, Hy wek dit op en bemagtig jou om dit te vervul. Dis nie te laat nie. Jy is nie te oud nie. Wat God vir Jakob gedoen het, kan Hy ook vir jou doen.
Sielskos: Op 15-18; Matt 16:13-28; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6
2023-06-09
Genesis 2:20 NLV
Die seëninge en voordele van ‘n goeie huwelik sluit dinge soos geselskap, seksuele vervulling en die vreugde van kinders in. Die primêre doelwit van ‘n huwelik is egter om beide partye met alles wat nodig is om God se opdrag op aarde uit te voer, toe te rus. Die huwelik is ‘n verbond wat deur God ontwerp is om die vermoë van elke maat om sukses te behaal in die sfeer waar Hy hulle geplaas het, te versterk.
Wanneer ‘n man of vrou die nuttige insette van hul eggenoot verwerp, beperk hulle dit wat God deur hulle as ‘n paartjie kan doen. Wat ‘n verlies! Soms is dit moeilik vir mans om te erken dat hulle hulp nodig het – en wanneer jy nie vir hulp uitreik nie, ontvang jy dit nie. Dit beteken dat jy nie in die mate wat jy andersins sou kon, sukses sal behaal nie.
‘n Vrou se standpunt is nie minderwaardige inligting nie; dis noodsaaklike inligting. Haar teenwoordigheid is nie ontwerp om ornamenteel te wees nie; dit is noodsaaklik om jou gedeelde potensiaal te verwesenlik. Wanneer ‘n man aanhoudend besluite neem sonder om sy vrou te raadpleeg, neem hy dit sonder al die nodige insette om ‘n verstandige besluit te maak. Mans neig om logies te dink. Vrouens het egter die voordeel dat hulle geprogrammeer is om ook intuïtief te dink. Hulle gee die verhouding ‘n perspektief wat dit nie andersins sou gehad het nie. Wanneer ‘n man dus misluk om sy vrou se Godgegewe kapasiteit te gebruik, steel hy God se beste by homself.
Eers wanneer jy hierdie beginsel verstaan en daarvolgens begin optree, sal jou verhouding verryk word en sal jy die vreugde om elke dag in God se seën te wandel, ervaar. Die vraag is dus: Hoekom sal jy met minder tevrede wees wanneer jy meer kan ontvang?
Sielskos: Op 10-14; Matt 16:1-12; Ps 48; Spr 13:2-3
2023-06-08
Genesis 2:24 NLV
Deesdae word baie skeisake op onversoenbaarheid gegrond. Die man sê byvoorbeeld: ‘Ons het niks in gemeen nie.’ Of die vrou sê: ‘Ons is so verskillend soos olie en water.’ Natuurlik is julle! As julle presies dieselfde was, sou een van julle onnodig gewees het! Een hou van koffie; die ander van tee. Een gaan vroeg bed toe; die ander een is ‘n naguil. Een is stil; die ander een is ‘n ekstrovert. Kan dit wrywing veroorsaak? Vir seker! Dis waar liefde, vriendelikheid en geduld in die prentjie kom.
Die ware kwessie is nie julle verskille nie – dis om daardie Godgegewe verskille vir julle, in plaas van teen julle, te maak werk. Die hartseer feit is dat ons vergeet het hoe om ons verskille te gebruik om mekaar aan te vul. Die oomblik wat jy begin soek na dit wat God jou deur jou maat probeer leer, hou jy op kla en begin jy groei.
Miskien dink jy diep in jou hart dat jou maat nie deur God vir jou uitgekies is nie. Miskien nie, maar as jy Hom toelaat, sal Hy jou in elk geval leer hoe om vir hom of haar lief te wees en van hulle te leer. Daar is geen probleme wat uit julle verskille voortspruit wat nie deur ‘n gesonde dosis van God se genade aan te wend en die riglyne wat Hy vir ‘n gelukkige verhouding neergelê het te volg, opgelos kan word nie.
Julle moet egter daaraan werk. Twee onvolmaakte mense maak nie ‘n perfekte huwelik nie. Twee onvolmaakte mense wat egter daaraan verbind is om mekaar lief te hê en God se riglyne te volg, kan so naby aan Eden se saligheid as wat dit hierdie kant van die hemel moontlik is, kom.
Sielskos: Op 5-9; Matt 15:29-39; Ps 16; Spr 13:1
2023-06-07
Genesis 2:22 NLV
Voor God vir Adam ‘n vrou gegee het, het Hy vir hom ‘n roeping gegee. Toe het Hy aan Adam verduidelik dat hy hulp sou nodig kry om daardie roeping te vervul. Hy sou nooit sy volle potensiaal op sy eie kon bereik nie, omdat hy onvolledig was. Adam het dit nie besef totdat God dit aan hom openbaar het nie. Hoe het Hy dit aan hom openbaar? Toe Adam begin om die diere in die tuin name te gee, was hy in ‘n posisie om te sien dat elkeen van hulle ‘n maat het. Elke skepsel het ‘n ander skepsel net soos hy of haar gehad, terwyl Adam niemand gehad het nie.
Let op dat God nie vir Adam ‘n vrou gegee het totdat hy self besef het dat hy een nodig gehad het nie. Ons waardeer iets of iemand wanneer ons besef hoe noodsaaklik hulle is. Een van die algemeenste klagtes wat beraders hoor, is dat een van die huweliksmaats onnodig voel. Wanneer God egter julle huwelik betree en julle verstaan hoe elkeen van julle tot die huwelik bydra, voel julle beide nodig.
God het vir Adam ‘n maat gegee wat spesifiek ontwerp is om die opdrag uit te voer wat Hy vir hom gegee het – om oor die aarde te heers (sien Genesis 1:28). Hy het Eva vir Adam gegee sodat hy iemand sou hê om mee saam te werk om die doel waarvoor hy geskep is, te bereik. Eva is nie van Adam se kop af geneem om bo hom te wees, of van sy voete af om onder hom te wees nie. Sy is geskep uit een van sy ribbes, ‘n beskermde plek na aan sy hart. Op dié manier kon hulle langs mekaar werk om hul doel te bereik. Julle het mekaar nodig.
Sielskos: Op 1-4; Matt 15:15-28; Ps 129; Spr 12:27-28
2023-06-06
Lukas 22:60 NLV
Die Bybel sê: ‘…Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ‘n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 60-62 NLV).
Voor God ‘n groot opdrag aan jou toevertrou, sal Hy Satan toelaat om jou te toets. Hoekom? Om jou swakpunte te openbaar en jou in daardie areas te versterk. God sal jou toelaat om in ‘n kleiner sfeer te misluk om jou sodoende daarvan te weerhou om in ‘n groter een te faal, waar jy jouself en ander kan seermaak. Een van die wonders van die Christelike lewe is dat Jesus puin kan neem en iets beeldskoon daaruit kan bou. Petrus het beloof om Jesus nooit te ontken nie, maar teen die tyd wat die haan gekraai het, het hy dit reeds drie keer gedoen. Herhaaldelike mislukking!
Kan jy jou daarmee vereenselwig? Jy het gesê dat jy nie jou humeur gaan verloor nie, maar jy het. Jy het gesê dat jy nie voor versoeking gaan swig nie, maar jy het. Wanneer kraai ‘n haan? Vroeg in die more. Dit beteken dat die haan die begin van ‘n splinternuwe dag aankondig. Na sy slegste nag van mislukking, het die son vir Petrus opgekom. Dit sal ook vir jou opkom.
Deur God se genade kan jy jou lewe oor begin. Jy kan vandag jou sondes bely en voortgaan om groot dinge vir die Here te doen. Petrus het uiteindelik ‘n magdom mense vir Christus gewen en die kerk gelei. Dit maak dus nie saak hoe erg jy misluk het nie, God sal jou vergewe, jou herstel en jou treë rig.
Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 15:1-14; Ps 124; Spr 12:26
2023-06-05
Lukas 22:32 NLV
God wil hê dat jy sy wil moet doen, maar jy sal nooit die plek van geestelike volwassenheid bereik waar jy vry van Satan is nie. Jy kan hom oorkom, maar jy kan hom nie elimineer nie. Kyk na Petrus. Hy was altyd in die middel van alles wat aangaan, maar hy was nie altyd op hoogte van alles nie. Die man wat uiteindelik die kerk sou lei, het eers ontken dat hy ‘n dissipel van Jesus is.
Dis nogal skokkend, nè? Niks van ons kan God egter verras nie. Hy het jou nie geroep en gesê: ‘Ek hoop jy is die regte persoon’ nie. Nee, Jesus het vir Petrus gesê: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (vers 31-32 NLV). Is dit nie ‘n wonderlike openbaring nie? Selfs wanneer jy nie weet hoe om vir jouself te bid nie, is Jesus besig om vir jou te bid. ‘…Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV).
Jesus het vir Petrus gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:32 NLV). Die gemors waarin jy jou vandag bevind, kan ‘n bediening vir ander mense word. Nie net kan God jou lewe omdraai nie, Hy kan jou gebruik om die lewens van ander mense ook om te draai. God sou jou nie gesif het as daar nie in die eerste plek iets in jou was wat die moeite werd was om te red nie. Sif is ‘n manier om iets te suiwer, om die puin uit te keer en dit wat oorbly te verfyn. God roep jou vandag. Moenie nog ‘n oomblik mors nie; gee jou lewe aan Hom oor.
Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 14:22-36; Ps 116; Spr 12:25