2023-06-16
Sefanja 3:17 NLV
Wat is jou siening van God? Wanneer jy bid: ‘Ons Vader,’ wat sien jy? Sien jy ‘n ouer wat jou verlaat het, jou mishandel het, of hulle verantwoordelikheid teenoor jou verwaarloos het? Dink jy aan ‘n kwaai pa wat jou altyd beskuldig; ‘n God wat net wag om jou te straf die oomblik wat jy iets verkeerd doen?
As dit die geval is, moet jy jou siening van God verander. Die Bybel sê: ‘Die Here jou God is by julle. Hy is ‘n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel’ (vers 17 NLV).
Kom ons breek hierdie Skrifgedeelte in dele op: 1) ‘Die Here jou God is by julle.’ Hy is nie ‘n veraf God nie, maar ‘n Vader wat naby en persoonlik is en sy verloste kinders innig liefhet.
2) ‘Hy is ‘n magtige Verlosser.’ Wanneer jy die woord ‘magtig’ oorweeg, dink aan Hercules, vermenigvuldig dit met ‘n biljoen en jy sal steeds nie naby die mag van God wees nie. Jy mag dalk vandag swak wees, maar Hy is sterk. Jou sondes mag dalk groot wees, maar sy reddende genade is groter (sien Romeine 5:20).
3) ‘Hy is buitengewoon bly oor julle.’ Elke keer wat God vir jou kyk, glimlag Hy en is Hy bly. Jy maak sy hart bly. Het jy dit geweet?
4) ‘Sy liefde sal julle rustig maak.’ Het jy al ooit ‘n ma wat ‘n huilende baba troos dopgehou? Die baba word getroos, voel veilig en raak aan die slaap. Dis wat God vir ons doen.
5) ‘Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.’ God jubel! Waaroor jubel Hy? Oor jou! Dis tyd om jou siening van God te verander!
Sielskos: 2 Kon 10-12; Matt 18:21-35; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19
2023-06-15
Lukas 10:42 NLV
Toe Jesus die huis van Maria en Marta besoek het, was hulle individuele reaksies teenoor Hom baie verskillend. Marta se fokus was op die maaltyd. Haar doel was om Jesus te behaag. Sy het egter ‘n algemene fout gemaak; haar werk het belangriker as haar Here geword. Wat begin het as ‘n bedieningservaring, het ‘n selfdienende een geword. Sy het gesê: ‘…Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help’ (vers 40 NLV).
Hoe het Jesus haar geantwoord? ‘…My liewe Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge. Daar is regtig net een ding wat die moeite werd is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek…’ (verse 41-42 NLV). Wat het Maria gekies? Intimiteit met Jesus!
Die gevaar van godsdienstige aktwiteite is dat dit soms ontwerp is om ons goed oor onsself te laat voel en ons goed voor ander mense te laat lyk. Dis verstommend hoe baie slim, suksesvolle mense uitbrand omdat hulle hul verhouding met God verwaarloos. Hulle bedoel nie om dit te doen nie; dis net dat hulle geleer het om hulle eie weg te baan en nie gedwing is om op Hom staat te maak nie. Of hulle het ingekoop in ‘n ‘godsdienstige kompartementalisering’ van God – asof Hy net nog ‘n weeklikse afspraak op ‘n Sondagoggend is.
Die feit dat Jesus intimiteit bo aktiwiteit verkies het, leer ons ‘n baie belangrike les: Totdat jy nie jou verhouding met God die middelpunt van jou lewe maak nie, sal jy sukkel om jou ware doel te ontdek, die vrugte van jou harde werk te pluk en God se vrede en vreugde te geniet.
Sielskos: 2 Kon 7-9; Matt 18:10-20; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16
2023-06-14
Filippense 3:20 NLV
Jy moet dus die volgende kwalifikasies en karaktereienskappe as ambassadeur hê:
1) Jy moet ‘n burger wees van die land wat jy verteenwoordig. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel…’
2) Jou karakter en optrede moet die hoogste waardes van jou land verteenwoordig. ‘…Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het…’ (2 Tessalonisense 1:11 NLV).
3) Jy moet vir die werk toegerus wees. ‘Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees’ (1 Korintiërs 12:4 NLV).
4) Jy moet lojaal aan jou land wees.
Kom ons kyk nou na nog twee kwalifikasies waaroor ‘n ambassadeur moet beskik:
5) ‘n Ambassadeur moet ‘n effektiewe kommunikeerder wees. Die beste ambassadeurs is tweetalig; hulle verstaan en praat die taal van die mense rondom hulle. Kan jy dit doen? Om die regte antwoord te hê, moet jy die vraag, die persoon wat die vraag vra en waar hulle vandaan kom, verstaan. Die Bybel sê: ‘…en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Maar doen dit taktvol en eerbiedig…’ (1 Petrus 3:15-16 NLV). Let die woorde: ‘wees altyd reg om te reageer’ op.
6) ‘n Ambassadeur moet diplomaties wees. Ambassadeurs is die effektiefste wanneer hulle innemend is terwyl hulle met hulle werk aangaan. Jy wil nie iemand hê wat arrogant en beledigend teenoor ander mense is om jou land te verteenwoordig nie. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Ons boodskap is die evangelie en ons strategie is liefde! Wat is ons boodskap? ‘Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ‘n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus. Kom tot versoening met God!’ (2 Korintiërs 5:20 NLV).
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12
2023-06-13
Efesiërs 6:10 NLV
‘n Dekade gelede is ons siening van ‘n ambassadeur radikaal verander toe die Amerikaanse ambassadeur in Libië deur terroriste vermoor is. Dit neem ‘n spesiale persoon om ‘n ambassadeur in ‘n oorlogsone te wees. Dis egter waarin jy jou bevind!
Paulus skryf: ‘Ten slotte: Vind krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan. Staan dus vas deur waarheid as ‘n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as ‘n helm om julle koppe te beskerm, en, as swaard, die Gees, dit is God se woord. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort’ (verse 10-18 NLV).
As ambassadeur van Christus, moet jou eerste lojaliteit in al jou handelinge altyd by Hom wees. Jy sê: ‘Dis ‘n baie hoë standaard!’ Ja, dis ‘n hoër roeping. Dis ook die lonendste lewe wat jy kan lei.
Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 17:14-27; Ps 143; Spr 13:9-10
2023-06-12
2 Korintiërs 5:20 NLV
Jou posbeskrywing in die koninkryk van God is ‘ambassadeur.’ Wat ‘n voorreg! Wat ‘n verantwoordelikheid! Kom ons kyk vir die volgende paar dae na sommige van die kwaliteite waaroor ‘n ambassadeur moet beskik: Jy moet ‘n burger van die land wat jy verteenwoordig, wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel…’ (Filippense 3:20 NLV). Terwyl hy verban was, het Johannes gesê: ‘…Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het… Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees…’ (Openbaring 1:9-10 NLV). Johannes het geweet dat dit nie waar hy was nie, maar wie s’n hy was, wat getel het terwyl hy God verteenwoordig het.
Jou lewe is die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees. Van jou lippe sal hulle die enigste evangelie hoor wat hulle ooit sal hoor. Voor Hy gekruisig is, het Jesus die volgende gebed vir sy dissipels gebid: ‘Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle vir U geheilig wees deur ‘n hegte verbintenis aan die waarheid. Net soos U My na die wêreld gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur’ (Johannes 17:15-18 NLV).
Voor ‘n ambassadeur aangestel word, word hy of sy op die nouste manier denkbaar ondersoek. Hulle morele integriteit, hulle finansiële interaksies, hulle familielewe, hulle werksrekord, elke woord en daad van hulle kom onder die mikroskoop. Hoeveel te meer moet dit nie waar van die ambassadeurs vir die Koning van konings wees nie? Moet nooit vergeet aan wie se kant jy is nie. Moet nooit vergeet aan watter koninkryk jy behoort nie. Moet nooit vergeet wie jy verteenwoordig nie. Jy is Christus se ambassadeur.
Sielskos: Op 19-22; Matt 17:1-13; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8
2023-06-11
Lukas 24:49 NLV
Jy mag dalk opgevoed, ervare en talentvol wees, maar jy sal nooit God se doelwitte vir jou lewe bereik totdat jy nie deur God ‘met krag bemagtig’ word nie. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes: 1) ‘En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is’ (vers 49 NLV). 2) ‘Op Pinksterdag… was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ‘n geluid soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was… Almal is toe met die Heilige Gees vervul…’ (Handelinge 2:1-2, 4 NLV).
Die transformasie was wonderbaarlik! Petrus, wat pas vir Jesus verloën het, het voor die skare gestaan en die evangelie vir hulle gepreek. Het hy resultate gekry? Ja. ‘Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3000’ (Handelinge 2:41 NLV). Die krag wat hulle ontvang het, was ook hulle bron van krag toe hulle swaarkry en vervolging in die gesig gestaar het. ‘Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig’ (Handelinge 4:31 NLV). Dit was nie ‘n eenmalige ervaring nie; hulle is aanhoudend deur die Heilige Gees vervul.
Jy sê: ‘Ek is nie goed genoeg om met God se Gees gevul te word nie.’ Jesus het gesê: ‘As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra’ (Lukas 11:13 NLV). Vra God vandag om jou met sy Gees te vervul en Hy sal dit doen.
Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40