Bou ‘n verhouding met jou kinders

2023-04-26
Psalm 127:1 NLV

Hoe sal jy jou verhouding met jou kinders beskryf? Gespanne? Opwindend? Hartverskeurend? Genotvol? As jy verras wil wees, vra hulle om hul gevoelens oor jou en hulle huis te beskryf. Wees gewaarsku, jy mag dalk nie hou van wat hulle sê nie! ‘n Christelike huis vrywaar jou nie noodwendig nie. Ons ou natuur steek nog steeds van tyd tot tyd sy kop uit en vasgestelde gewoontes kan tot gebroke kommunikasie lei. Wanneer Bybelse beginsels geïgnoreer word, is die gevolg daarvan pyn en spanning in die familie.

Die volgende is voorbeelde daarvan: 1) Rebekka het haar seun Jakob liewer as sy broer Esau gehad, dus het sy hom gebruik om hulle vader, Isak, te mislei, wat skeuring in die familie veroorsaak het (sien Genesis 27). 2) Eli, die hoëpriester, het nie sy seuns gedissiplineer nie en op die ou einde het dit hom sy lewe gekos (sien 1 Samuel 3-5). 3) Dawid het een ding gepreek en ‘n ander ding gedoen en sy kinders (soos kinders geneig is om te doen), was meer deur wat hy gedoen het as dit wat hy gesê het, beïnvloed (sien 2 Samuel 11, 13, 15-16; 1 Konings 11). Niemand is immuun nie; nie Dawid nie, nie Rebekka nie, nie Eli nie – nie jy nie!

Die evaluasie is egter nutteloos as dit tot skuldgevoelenes sonder optrede lei. Wat moet jy dus doen? Neem tyd om nader aan jou kinders te beweeg. Ruim die struikelblokke tussen julle uit die weg uit. Jy kan niks verander tensy jy gewillig is om dit te erken nie – en soms moet verandering by jou begin. Byvoorbeeld, moet jy jou houding aanpas? Wat van jou prioriteite? Wat van die voorbeeld wat jy deesdae stel? Voor jy probeer om jou kinders te hanteer, vra God om jou eers te hanteer.

Sielskos: Dan 5-7; Matt 4:8-17; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18

Kies vandag die regte houding

2023-04-25
Romeine 12:2 NLV

Lank voordat die volgende woorde: ‘Die grootste ontdekking van my generasie is dat mense hul lewens kan verander deur hul houdings te verander,’ deur William James, die vader van Amerikaanse sielkunde, gesê is, het God gesê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy….’ (Spreuke 23:7 AFR53).

Dikwels is dit ons gedagtes, nie ons omstandighede nie, wat ons geluk bepaal. Ons hou aan dink dat ons gelukkig sal wees wanneer sekere dinge gebeur. Sommige moeders sal byvoorbeeld sê: ‘Wanneer Jannie laerskool toe gaan, sal ek gelukkig wees.’ Hulle is dan gelukkig, vir ‘n tydjie. Dan: ‘Wanneer Jannie hoërskool klaarmaak, sal ek gelukkig wees.’ Hulle is dan, ten minste vir die Desembervakansie, gelukkig. Vervolgens bring Jannie se gradeplegtigheid dieselfde belofte mee; so ook sy troue en die geboorte van die eerste kleinkind. Die probleem is egter dat die ma nie geleer het om tussen ‘gebeurtenisse’ gelukkig te wees nie.

Wanneer jou geluk deur iets buite jouself beheer word, sal jy altyd mense, plekke en dinge se gyselaar wees. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie – ‘n slagoffer van omstandighede buite jou beheer. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees’ (Psalm 34:2 NLV). Dawid het die regte houding gekies en jy moet dieselfde doen!

Jy moet dit ook onderhou. Dis die moeilike deel. Dis soos die boer wat gesê het: ‘Die moeilikste ding van koeie melk – is dat hulle nie gemelk bly nie!’ Dis dieselfde met houding; jy moet elke dag aan hom werk deur jou denkpatrone te vernuwe. Jy doen dit deur jouself in God se Woord te verdiep en sy Woord in jouself te laat wortelskiet. Doen jy dit gereeld?

Sielskos: Dan 3-4; Matt 4:1-7; Ps 7:1-9; Spr 10:16

Pasop vir selfbejammering

2023-04-24
1 Korintiërs 10:24 NLV

Selfbejammering kan dodelik wees. Dit sê vir die vrou en moeder wat hard werk: ‘Niemand waardeer jou nie.’ Dit sê vir die kantoorwerker: ‘Kyk hoe waardevol is jy, tog kry jy nooit erkenning of word daarvoor beloon nie.’ Dit sê vir die werklose: ‘Jy gaan nie ‘n kans kry nie!’ Vir die geskeide persoon: ‘Daar is geen plek vir jou nie!’ Vir die bedroefde: ‘Daar is geen hoop nie!’ Vir die sukkelende: ‘Daar is geen manier nie!’

Kyk na die profeet Elia. Vier-en-twintig uur na sy grootste oorwinning, was hy baie depressief en het homself baie jammer gekry: ‘…Ek het nou genoeg gehad… Neem nou maar my lewe… Ek het U met toewyding gedien… Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (1 Konings 19:4, 10 NLV).

Oor die algemeen is daar twee redes vir selfbejammering. Die eerste is emosionele manipulasie. Ons gebruik selfbejammering om mense skuldig te laat voel en ons ons sin te laat kry. Dis onvolwassenheid en jy moet dit aanspreek, of dit nou in jouself of iemand anders is. Aan die ander kant, kan selfbejammering ook uit pure uitputting spruit. God het vir Elia vier dinge gewys wat nodig was om homself weer op koers te kry: 1) Hy moes meer rus. 2) Hy het nie reg geëet nie. 3) Hy het probeer om alles in sy eie krag te doen. 4) Hy was geïsoleerd en het ‘n vriend nodig gehad. Dus het God vir hom Elisa gegee. Dit het die probleem opgelos en die volgende keer wat ons vir Elia sien, is hy weer sy ou self.

Neem vandag ‘n oomblik en dink hoe hierdie vier waarhede op jou lewe van toepassing is.

Sielskos: Dan 1-2; Matt 3:11-17; Ps 113; Spr 10:15

Hy sal dit weer doen!

2023-04-23
Genesis 35:14 NLV

Daar is gebeurtenisse in ons hele lewe wat, as ons terugkyk daarna, ons die hand van God daarin kan sien. Een skrywer stel dit so: ‘Miskien het jy iemand raakgeloop wat jou aan jou eggenoot voorgestel het. Of ‘n kollega het bedank en skielik is jy bevorder. Of ‘n vreemdeling het iets gesê wat tot jou hart gespreek het. Hierdie is alles tekens van God se guns en wanneer jy in die versoeking kom om moedeloos te word, moet jy onthou hoe God die deur vir jou oopgemaak het, hoe Hy ‘n weg vir jou gebaan het, hoe Hy jou lewe gespaar het, hoe Hy jou kind gesond gemaak het. Daar is nie so iets soos toeval nie. Wanneer iets goeds gebeur, moet jy erken dat dit God is en gereeld daaraan dink.’

In die Ou Testament het Jakob ‘….’n klip soos ‘n pilaar regop gesit op die plek waar God met hom gepraat het…’ Het jy onlangs enige pilare as gedenktekens opgerig? ‘n Seker manier om jou geloof te bou is om al die kere wat God ‘n deur wat gesluit en versper was vir jou oopgemaak het, dae wat jy eensaam was en God die regte persoon in jou lewe ingebring het, nagte wat jy so sleg gevoel het dat jy gedink het jy gaan nie die oggend sien nie, te onthou. Skielik het God dinge vir jou omgedraai, jou uit die put gelig, jou ‘n nuwe begin gegee en vandag is jy gelukkig, gesond en heel.

Die beste van alles is dat indien Hy dit voorheen gedoen het, sal Hy dit weer doen! Hy is vandag dieselfde as wat Hy gister was en wanneer jy die tyd neem om sy goedheid en getrouheid te onthou, versterk dit jou om aan te hou om die goeie geveg van geloof te veg.

Sielskos: Eks 17:8-16; Ef 3:14-21

Bevryding van gevangenes (2)

2023-04-22
Psalm 107:13-14 NLV

Toe die Israeliete na God geroep het, het Hy hulle ‘uit duisternis en somberheid gered, en hulle boeie stukkend gebreek.’ Hy kan jou ook bevry van dit wat jou vandag gevange hou. Dis ook nie net ‘n tydelike vryheid nie, maar ‘n langtermyn vryheid: ‘As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees’ (Johannes 8:36 NLV).

Hier is twee tree wat jy na vryheid kan neem: 1) Roep na die Here. God het gesê: ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Hou op om dit alleen te probeer hanteer. As jy jouself kon red, sou jy nie ‘n Redder nodig gehad het nie. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). 2) Voed jou siel geestelik.

Vryheid is ‘n tweeledige proses. Die eerste is nagmaal met Jesus. Die Israeliete het die Paaslam geëet in voorbereiding om slawerny te verlaat. Jesus, die Lam van God, verklaar: ‘Ek is die brood wat lewe gee… As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe…’ (Johannes 6:51 NLV). Wanneer jy jou gevoelens en behoeftes met Hom deel, sal dit jou las en eensaamheid verlig en jou siel voed. Jesus het gekom, ‘…om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word…’ (Lukas 4:18 NLV).

Die tweede deel is om op die Skrif te mediteer. Die Israeliete het slawe geword omdat hulle God se Woord verwerp het: ‘Hulle het in opstand gekom teen die voorskrifte van God. Die leiding van die Allerhoogste het hulle geminag. Daarom… hulle het gestruikel, en daar was niemand om te help nie’ (Psalm 107:11-12 NLV). Om vry te word en vry te bly, moet jy jou elke dag op God se lewensgewende Woord voed.

Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 3:1-10; Ps 103:13-22; Spr 10:14

Bevryding van gevangenes (1)

2023-04-21
Eksodus 3:7 NLV

Die Israeliete is vir vierhonderd jaar deur hul Egiptiese slawedrywers gevange gehou en onderdruk en hulle ‘…het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete…’ (Eksodus 1:14 NLV). ‘n Mens kan hulle gevoelens van hulpeloosheid verstaan wanneer jy die areas in jou eie lewe waar jy vir vryheid van ou gewoontes veg, oorweeg. Of dit nou woede, kos, alkohol, dwelms, seks, geld of verkeerde verhoudings is, ons ervaar ‘n sin van magteloosheid in ons stryd daarteen.

Die Israeliete het egter na God geroep en Hy het geantwoord: ‘…Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle…. om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.’ Vandag sien God jou, God hoor jou en God is besorg oor jou. Hy het gesê: ‘Daarom het Ek gekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei… na hulle eie mooi, groot land. Dit is ‘n land met oorgenoeg kos…’ (Eksodus 3:8 NLV).

Let op dat die Here gekom het om hulle te bevry. Hoe het Hy dit gedoen? Hulle verlossing het die dood van die vlekkelose Paaslam geverg. Nadat hulle die offerbloed daarvan aan hulle deurkosyne gesmeer het, het hulle die lam gekook en geëet terwyl hulle in hulle reisklere geklee was, staf in die hand, gereed om gevangenskap agter te laat.

Vandag wil God hê dat jy biddend moet voorberei vir jou reis na vryheid; nie deur jou eie vergeefse menslike pogings nie, maar deur geloof in die gestorte bloed van Jesus, die Lam van God wat ons sondes wegneem. ‘Verwyder hierdie slegte invloed onder julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees… Ook vir ons is daar immers ‘n Paaslam geslag – Christus’ (1 Korintiërs 5:7 NLV). Is jy nie bly nie?

Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:19-23; Ps 103:1-12; Spr 10:13