Wag tot jy bemagtig is
2023-06-11Lukas 24:49 NLV
Jy mag dalk opgevoed, ervare en talentvol wees, maar jy sal nooit God se doelwitte vir jou lewe bereik totdat jy nie deur God ‘met krag bemagtig’ word nie. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes: 1) ‘En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is’ (vers 49 NLV). 2) ‘Op Pinksterdag… was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ‘n geluid soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was… Almal is toe met die Heilige Gees vervul…’ (Handelinge 2:1-2, 4 NLV).
Die transformasie was wonderbaarlik! Petrus, wat pas vir Jesus verloën het, het voor die skare gestaan en die evangelie vir hulle gepreek. Het hy resultate gekry? Ja. ‘Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3000’ (Handelinge 2:41 NLV). Die krag wat hulle ontvang het, was ook hulle bron van krag toe hulle swaarkry en vervolging in die gesig gestaar het. ‘Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig’ (Handelinge 4:31 NLV). Dit was nie ‘n eenmalige ervaring nie; hulle is aanhoudend deur die Heilige Gees vervul.
Jy sê: ‘Ek is nie goed genoeg om met God se Gees gevul te word nie.’ Jesus het gesê: ‘As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra’ (Lukas 11:13 NLV). Vra God vandag om jou met sy Gees te vervul en Hy sal dit doen.
Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40