Moenie wag nie; geniet jou lewe nou

2023-05-02
Prediker 3:22 NLV

Salomo skryf: ‘Ja, ek het agtergekom dat daar niks beters is nie as dat mense gelukkig is in hulle werk. Dit kom die mens toe. Wie kan hom laat weet wat ná hom sal gebeur?’ Begin dink wat jy kan doen om meer vreugde in elke ervaring te vind. Die huidige oomblik is al wat gewaarborg is, moet dus nie wag tot later – tot jy trou, aftree, op vakansie gaan of tot jou kinders met universiteit klaarmaak – om jou lewe te geniet nie. Niemand weet wat volgende in hulle lewens of in die wêreld gaan gebeur nie. Jy lewe nou, omhels dit dus en vier dit.

Niemand was besiger as Jesus nie, tog het Hy geweet hoe om die lewe te vier! Sy eerste wonderwerk het by ‘n troue plaasgevind. Sy skedule was gejaagd, tog het Hy dit onderbreek om tyd saam met kinders te geniet. Die behoeftes waarvoor Hy te staan gekom het was eindeloos, tog het Hy tyd geneem om te rus.

‘n Anonieme skrywer sê: ‘As ek my lewe kon oorhê, sou ek meer kanse en meer reise onderneem het. Ek sou meer berge uitgeklim het, in meer riviere geswem het en na meer sonsondergange gekyk het. Ek sou meer roomys en minder boontjies geëet het. Ek sou meer ware probleme en minder denkbeeldige probleme gehad het. Ek was een van daardie mense wat nêrens sonder ‘n termometer, ‘n warmwatersak, ‘n reënjas en ‘n valskerm gegaan het nie. As ek dit alles oor moes doen, sou ek plekke besoek, dinge doen en ligter reis as wat ek het.’

Moenie wag nie; geniet jou lewe nou.

Sielskos: Num 1-2; Matt 5:21-26; Ps 35; Spr 10:28-29

Ervaar God se teenwoordigheid en vreugde

2023-05-01
Psalm 16:11 NLV

As jy ongelukkig was voor jy Jesus ontmoet het, is dit maklik om die fout te maak deur te dink dat die enigste plek waar mens sy teenwoordigheid kan geniet, die kerk is. Nee, jy kan sy teenwoordigheid oral geniet. By die huis, by die werk, by die skool en selfs gedurende tye van lyding en teëspoed.

Broer Lawrence, ‘n Karmelitiese monnik in ‘n Franse klooster, het die topverkoper, The Practice of the Presence of God, geskryf. Hy het ‘n afkeer van sy daaglikse roetine in die kombuis gehad. Toe het God vir hom gewys dat alles wat hy elke dag doen, vir God en saam met God gedoen kan word. Hierdie waarheid het sy lewe getransformeer.

Jy kan jou gedagtes ontwikkel om meer produktief te wees en jy kan ook jou siel ontwikkel om meer sensitief vir God te wees. Jy kan die plek bereik waar jy sy teenwoordigheid en sy behaagdheid in alles wat jy doen, kan aanvoel. Om te glo dat God by jou teenwoordig is sal jou nie veel help as jy dink dat Hy altyd ontevrede met jou is nie. Wanneer jy jouself egter as aanvaarbaar in Christus sien, besef jy dat Hy nie net altyd by jou teenwoordig is nie, maar dat Hy tevrede is met jou (sien Efesiërs 1:6). Dit sal jou denke oor God radikaal verander.

Daar is dosyne dinge wat met die alledaagse lewe verband hou en jy kan dit alles geniet as jy net die besluit neem om dit te doen – aantrek, werk toe gaan, dinge organiseer, take verrig, inkopies doen, ens. Dis immers die dinge waaruit die lewe bestaan. Vreugde kom uit ‘n besluit om vir elke oomblik wat jy gegee word as ‘n seldsame en waardevolle geskenk van God, dankbaar te wees.

Sielskos: Jak 3-5; Matt 5:13-20; Ps 94:12-23; Spr 10:27

Christus kom weer!

2023-04-30
2 Petrus 3:10 NLV

Moenie dat mense wat datums voorspel jou sinies oor Christus se spoedige wederkoms maak nie. Toe die stigter van ‘n groot kerkdenominasie in die pers die datum van Christus se wederkoms voorspel het, moes sy opvolgers in die openbaar erken dat hulle verkeerd was. Onthou jy die skrikaanjaers van Y2K? Hulle het dit ‘n wetenskaplike sekerheid verklaar dat die jaar 2000 die einde van die wêreld en die wederkoms van Christus sou meebring en het veroorsaak dat mense hul werk los, hul huise verkoop, kos opgaar en na die heuwels toe vlug. As gevolg van sulke verleenthede, verswyg of onderbeklemtoon baie predikers die waarheid van Christus se tweede koms. Ja, wanneer sommige mense die boodskap hoor, rol hulle hul oë en sê: ‘Nie alweer nie!’

Twyfel oor Christus se wederkoms is egter een van die tekens wat waarborg dat dit gaan gebeur. Die Bybel sê: ‘Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is. Hulle sal soos volg redeneer: ‘Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was’… Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief… Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God’ (2 Petrus 3:3-4, 9-10, 14 NLV).

Sielskos: Kol 1:9-23; 1 Sam 3

Begin Skrifgedeeltes memoriseer

2023-04-29
Kolossense 3:16 NLV

Voor geskrewe tale ontwikkel het, was mens se geheue die enigste manier om te leer. Deesdae sien mense dit as uitgedien om dinge uit jou kop te probeer leer. Om woorde uit jou kop te leer maak egter nooit jou gedagtes ‘n dowwer plek nie – inteendeel! Wanneer ons wonderlike woorde in ons geheue gestoor het, sal ons ‘n baie ryker innerlike lewe as iemand wat dit nie het nie, hê.

Eva Hermann het twee jaar in ‘n Nazi-konsentrasiekamp deurgebring. Sy het geskryf hoe ‘n jong selmaat toevallig die gebed van Sint Teresa opgesê het: ‘Let naught trouble thee; let naught frighten thee; all things pass. God alone changeth not. Patience can do all things. Whoever has God, has everything. God alone sufficeth.’ Toe Eva sien hoe baie hierdie gebed die meisie help, het sy begin om dit aan die einde van elke dag te herhaal. Eva het later geskryf hoe haar tyd in die kamp getransformeer is deur die woorde wat sy gememoriseer het.

Dit illustreer hoe die woorde wat ons in ons gedagtes dra, beskikbaar is om enige gegewe oomblik te transformeer. Wanneer daar dus ‘n vers of Skrifgedeelte is wat tot jou spreek, stop en skryf dit op ‘n kaartjie neer. Plak dit op jou badkamerspieël, of stoor dit op jou slimfoon, ‘n kalender, of in jou kar. As jy ‘n ouditiewe leerder is, luister na die Skrif wat op CD’s of op ‘n iPod voorgelees word. As jy ‘n visuele leerder is, steek ‘n kers aan en lees hierdie woorde: ‘…God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie’ (1 Johannes 1:5 NLV).

Wanneer God se Woord geoefen, onthou en gereeld herhaal word, is dit soos ‘n stroom van vreugde, vrede en krag wat vloei en jou siel daarmee saamdra.

Sielskos: Jak 1-2; Matt 5:6-12; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26

Verander jou verwagtinge

2023-04-28
Johannes 15:11 NLV

Hoekom het Jesus gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’? Want as jy dit toelaat, sal stres jou vreugde steel en jou aan ‘n lewe van depressie, saaiheid en ontevredenheid oorgee.

Kom ons wees eerlik – die meeste van ons is heeltemal te ernstig! Ons maak ‘n groot bohaai van alles. Om vyf minute laat te wees, in die verkeer vas te sit, in ‘n ry te wag, die kos te brand, ‘n kilogram op te tel, ‘n plooi te ontdek, ‘n eerlike te fout maak… noem maar op; ons verloor alle perspektief. Die ware probleem is dat ons onrealistiese verwagtinge het. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie!

As jy die vreugde wat Jesus beloof het wil ervaar, moet jy hierdie twee dinge doen: 1) Toegee dat jou stres hoofsaaklik aan die manier waarop jy besluit het die lewe moet wees, te wyte is. 2) Erken dat jou verwagtinge baie van jou frustrasie veroorsaak. Wanneer jy aanhou verwag dat dinge ‘n sekere manier moet wees en dit is nie, sal jy altyd ontsteld wees.

Hier is ‘n idee: Probeer om vandag die lewe sonder al daardie verwagtinge te benader. Moet byvoorbeeld nie verwag dat almal vriendelik moet wees nie – wanneer sommige mense dan is, sal jy aangenaam verras wees. Moenie verwag dat jou dag sonder probleme sal wees nie; wanneer probleme hulle opwagting maak, kyk op en sê: ‘Dankie Here, vir nog ‘n geleentheid om te groei.’ In plaas daarvan om stroomop te swem, leer om saam met die stroom te beweeg. Gou sal jy agterkom dat jy die lewe meer geniet! Nie net dit nie: Ander mense sal dit ook meer geniet om in jou geselskap te wees.

Sielskos: Dan 11-12; Matt 5:1-5; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23

‘Diensknegte’ vir lewe

2023-04-27
Romeine 1:1 NLV

Dade praat harder as woorde. Dis wat jy doen, nie wat jy beweer jy is nie, wat tel. In die Skrif het die woord ‘dienskneg’ soms verwys na ‘n derdevlak-galeislaaf wat aan die roeispaan van ‘n Romeinse skip vasgeketting was. Dag en nag het hulle geroei op die maat van dromme en hetsy in ‘n geveg of in handelsdiens, het hulle verwag om vasgeketting aan daardie roeispaan te sterf. Wat ‘n aaklige beeld!

Paulus sê: ‘Nou wil ek baie ernstig vra, liewe broers en susters:.. gee… julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak’ (Romeine 12:1 NLV). Paulus het geen twyfel gehad oor wat God hom geroep het om te wees nie. Toe hy na homself as ‘n ‘dienskneg’ verwys het, het hy ‘n slaaf wat sy eienaar vir ses jaar lank getrou gedien het, beskryf.

Die wet van Moses het vereis dat ‘n slaaf in sy sewende jaar vrygelaat word. Indien hy egter teruggekom het nadat hy vrygelaat is en gesê het: ‘Meester, ek dien u nie omdat ek moet nie; ek dien u omdat ek wil,’ het sy eienaar hom dan geneem en vir hom ‘n gat in sy oor met ‘n els gemaak, wat gewys het dat hy vir ewig aan sy eienaar behoort (sien Eksodus 21:6).

Soms is dit nodig dat jy opkyk en sê: ‘Here, ek dien U nie omdat ek moet nie; ek dien U omdat ek lief is vir U. Maak ‘n gat in my oor. Merk my as U s’n. Maak my aan U vas sodat ek nooit aan iemand anders kan behoort nie.’

Wanneer jy dink aan alles wat Jesus al vir jou gedoen het, is dit regtig te veel om te vra?

Sielskos: Dan 8-10; Matt 4:18-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21