Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (2)

2023-05-07
Psalm 91:11 NLV

In watter situasie kan God ‘n engel stuur om jou te help? 1) Wanneer diegene wat jy liefhet en vertrou jou teleurstel. Dink jou in hoe Hagar gevoel het. In ‘n gesamentlike besluit met sy vrou, Sara, het Abraham vir Hagar swanger gemaak in ‘n poging om God se belofte te probeer vervul. Toe Isak egter ‘n jaar later gebore is, het Abraham haar weggestuur. Huilend het Hagar baba Ismael onder ‘n boom gelos en weggeloop. God het egter ‘n engel gestuur om haar te sê dat haar seun bestem is om die vader van ‘n groot nasie te wees (sien Genesis 21:18).

2) Wanneer jy verneder word en nie jouself kan verdedig nie. Maria het beplan om eers te trou en daarna ‘n baba te kry. God het egter ‘n ander plan gehad. Nie net het sy voor openbare vernedering te staan gekom nie, maar volgens die wet moes sy doodgemaak geword het. God het egter ‘n engel gestuur om haar te verdedig en vir haar te sê dat sy in die middel van God se wil was (sien Lukas 1:34-38).

3) Wanneer jy oor die dood van ‘n geliefde rou en bang is vir die toekoms. Maria Magdalena het Jesus liewer as die lewe self gehad, toe Hy dus sterf en begrawe is, was sy verbyster en haar hart was gebroke. Toe het God ‘n engel gestuur om aan te kondig: ‘Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood…’ (Matteus 28:6 NLV). Die Bybel sê: ‘…Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).

‘n Siniese wêreld kan jou daaraan laat twyfel dat God jou waarlik so lief het dat Hy ‘n engel sal stuur om jou te help. Dis egter die waarheid.

Sielskos: Ps 34; Hand 12:1-17

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (1)

2023-05-06
Hebreërs 1:14 NLV

God kan in verskeie vorms na jou toe kom. Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het en die storm stilgemaak het, het hulle gedink dat Hy ‘n spook was. Jou intellek kan dus jou geloof ondermyn. Die Bybel sê dat engele ‘…geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word,’ is.

Het jy al ooit ‘n engel gesien? Hulle is nie altyd in wit geklee met dramatiese groot vlerke nie. Soms is hulle so alledaags dat hulle oorgesien word. ‘Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).

Miskien dink jy dat God nie vir ons engele stuur nie, omdat Hy sy Heilige Gees vir ons gegee het om ons te help, te beskerm en te lei. Dis egter nie so nie. Onthou, God het ‘n engel gestuur om Petrus die aand voor sy teregstelling uit die tronk te red. Paulus was op pad Rome toe op ‘n skip wat bestem was om deur ‘n woeste storm vernietig te word. God het egter ‘n engel gestuur om hom te verseker dat hy die storm sou oorleef. Dus het Paulus aangekondig: ‘…Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan. Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…’ Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het’ (Handelinge 27:22-25 NLV).

Jy mag dalk nie in staat wees om engele te sien nie, maar jy kan seker wees dat hulle jou kan sien; hulle neem inderdaad nooit hulle oë van jou af nie (sien Matteus 18:10).

Sielskos: Num 8-10; Matt 6:19-34; Ps 37:16-24; Spr 11:4

‘n Gebed van vergifnis

2023-05-05
Efesiërs 4:32 NLV

Die Bybel sê: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (verse 31-32 NLV).

Sukkel jy om iemand te vergewe? Hier is ‘n gebed vir jou: ‘Here, ek loof U dat U my vergewe het en my sondes weggewas het. Openbaar enigiets wat ek vandag aan U moet bely, sodat ek dit voor U kan bring en daarvan gereinig en vrygemaak kan word, veral enige plek in my hart waar ek nie iemand vergewe het nie. Ek weet hoe subtiel wrokkigheid en bitterheid kan ophoop en my gebede kan verhinder. Ek besef dat my gebrek aan vergifnis teenoor ander my daarvan kan weerhou om u vergifnis te ervaar (sien Markus 11:25). U het die onvergeeflike aan die kruis vergewe. Ek besef dat ek nie in staat is om op my eie te vergewe nie. Herinner my dat ek nie my vergifnis voorwaardelik, op grond van of mense dit verdien of nie, kan maak nie en dat die fokus van my hart moet bly om meer soos U te probeer word. Gee my die genade om te vergewe en om nie vergifnis terug te hou totdat die ander persoon dit wat ek van hulle verwag, doen of sê nie. Verwyder enige woede, bitterheid en wrokkigheid uit my hart uit. Giet u Gees oor my uit en reining my van enigiets wat nie van U afkomstig is nie. Stel my in staat om in die vergifnis wat U vir my gegee het te wandel en dit na ander mense uit te reik. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Num 7; Matt 6:1-18; Ps 37:8-15; Spr 11:3

Gebruik jou Godgegewe kreatiwiteit

2023-05-04
Eksodus 35:35 ABA

Die Bybel sê God ‘…het hulle vaardig gemaak om al die soorte werk te kan doen: Hulle kan planne teken, borduur op blou, pers en rooi wol-materiaal en linne-materiaal, en hulle kan weef…’ (vers 35 ABA). Wanneer God jou roep om iets te doen, het Hy reeds die vermoë om dit te kan doen, binne-in jou geplaas. Satan hoop dat jy dit nooit sal ontdek nie. Hy wil hê dat jy in die status quo vasgevang moet bly, met die geloof dat die manier waarop dinge tans is, is hoe dit altyd sal wees. Dis nie waar nie! Wanneer jy jou denke verander, begin jou lewe verander. ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53).

Solank as wat jy tevrede is om te bly waar jy tans is, sal jy nooit begin om kreatief te dink nie. Wanneer jy egter besluit om jou lewe ten goede te verander, word jy onderrigbaar en maak jy jouself ontvanklik om kreatief te begin dink. Soos alles anders in die lewe, begin kreatiwiteit met een idee. Dan begin daardie idee vermenigvuldig! Elke kreatiewe idee wat jy het, verhoog jou vermoë om ‘n kreatiewe denker te wees.

Die digter Maya Angelou het opgemerk: ‘Jy kan nie kreatiwiteit opgebruik nie. Hoe meer jy dit gebruik, hoe meer het jy. Ongelukkig word kreatiwiteit dikwels versmoor, eerder as om aangemoedig te word. Daar moet ‘n klimaat ontstaan waarin nuwe maniere van dink, waarneming en bevraagteken aangemoedig word.’

As jy kreatiewe denke begin ontwikkel, is daar geen beperking op die soort idees waarmee jy vorendag sal kom of hoe ver jy in die lewe sal gaan nie. Is jy gereed om te begin? Vra jou Skepper vir ‘n kreatiewe idee, tree dan in geloof op en begin daad by die woord voeg.

Sielskos: Num 4:34-6:27; Matt 5:38-48; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Geldsake in die huwelik

2023-05-03
Spreuke 15:27 NLV

Een van die grootste bronne van konflik in die huwelik, is geld. Dit gebeur omdat die man en vrou dikwels teenoorgestelde idees het oor hoe dit aangewend moet word. Wanneer een eggenoot gewillig is om te wag om iets te koop totdat hulle finansies in orde is, maar die ander een nie, begin die gevegslinies opgetrek word. Nog ‘n meningsverskil wat kan voorkom is om te besluit wanneer, en waarvoor, lenings aangegaan moet word. Dis gevaarlike grond. Niks irriteer ‘n gedissiplineerde, spaarsamige persoon meer as om saam met iemand te woon wat hul inkomste en hul toekomstige verdienste op dinge wat nie werklik nodig is nie, mors.

Nog ‘n potensiële slagveld vir baie van ons in die huwelik is die besluit om wanneer en hoeveel vir ons kinders te gee. Omdat ons so lief vir hulle is, wil ons hê dat hulle lewens makliker en beter as ons s’n moet wees. Dit verg egter ‘n bestendige hand om ‘n vol glas vas te hou. Die Bybel leer ons duidelik die deugde van harde werk, spaarsamig lewe, spaar, bou en werk in die sweet van ons aangesig. As ons kinders nie hierdie deugde op die regte manier leer nie – terwyl hulle onder ons dak is nie – is daar ‘n goeie kans dat hulle dit op die moeilike manier sal leer – terwyl hulle hul eie huis bou.

Hier is dus goeie raad: Vermy skuld sover moontlik en wees baie versigtig met kredietkaarte. Die misbruik daarvan kan jou familie se stabiliteit en toekoms in gedrang bring. Kredietkaarte moet inderwaarheid met die volgende waarskuwing uitgereik word: ‘Gevaar! Hanteer met omsigtigheid!’ Jesus stel dit so: ‘…Pas op! Moenie gierig wees vir wat jy nie het nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).

Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 5:27-37; Ps 2; Spr 10:30-32

Moenie wag nie; geniet jou lewe nou

2023-05-02
Prediker 3:22 NLV

Salomo skryf: ‘Ja, ek het agtergekom dat daar niks beters is nie as dat mense gelukkig is in hulle werk. Dit kom die mens toe. Wie kan hom laat weet wat ná hom sal gebeur?’ Begin dink wat jy kan doen om meer vreugde in elke ervaring te vind. Die huidige oomblik is al wat gewaarborg is, moet dus nie wag tot later – tot jy trou, aftree, op vakansie gaan of tot jou kinders met universiteit klaarmaak – om jou lewe te geniet nie. Niemand weet wat volgende in hulle lewens of in die wêreld gaan gebeur nie. Jy lewe nou, omhels dit dus en vier dit.

Niemand was besiger as Jesus nie, tog het Hy geweet hoe om die lewe te vier! Sy eerste wonderwerk het by ‘n troue plaasgevind. Sy skedule was gejaagd, tog het Hy dit onderbreek om tyd saam met kinders te geniet. Die behoeftes waarvoor Hy te staan gekom het was eindeloos, tog het Hy tyd geneem om te rus.

‘n Anonieme skrywer sê: ‘As ek my lewe kon oorhê, sou ek meer kanse en meer reise onderneem het. Ek sou meer berge uitgeklim het, in meer riviere geswem het en na meer sonsondergange gekyk het. Ek sou meer roomys en minder boontjies geëet het. Ek sou meer ware probleme en minder denkbeeldige probleme gehad het. Ek was een van daardie mense wat nêrens sonder ‘n termometer, ‘n warmwatersak, ‘n reënjas en ‘n valskerm gegaan het nie. As ek dit alles oor moes doen, sou ek plekke besoek, dinge doen en ligter reis as wat ek het.’

Moenie wag nie; geniet jou lewe nou.

Sielskos: Num 1-2; Matt 5:21-26; Ps 35; Spr 10:28-29