Ons deel ons lewens

2023-06-27
Hebreërs 10:24 NLV

Robert Putman het ‘n verbysterende stelling gemaak: ‘Navorsing wys dat as jy aan geen groepe behoort nie, maar jy besluit om by een aan te sluit, jy jou risiko om oor die volgende jaar te sterf, rofweg met die helfte verminder.’ Een van die karaktereienskappe van die vroeë kerk was hulle verbintenis tot samesyn, want hulle het geweet dat samesyn nie sommer net vanself gebeur nie. Hulle het daagliks byeen gekom. Hulle het saam geëet.

Met die verloop van tyd het dit egter al minder begin gebeur. Die skrywer van Hebreërs het toe gesê: ‘Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot ‘n meer kragdadige beoefening van liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan…’ (verse 24-25 NLV).

Een skrywer stel dit so: “Hoe meer ‘n atleet aanmoediging van die ondersteuners benodig, hoe onwaarskynliker is dit dat hy of sy dit sal kry. Selde dink die aanhangers van ‘n verloorspan: ‘Kom ons kyk hoe ons hom kan aanspoor,’ wanneer ‘n moedelose speler vir sy kolfbeurt opdaag. Te dikwels kry die mense wat juis aanmoediging nodig het, dit nie. Elke dag staar almal rondom jou die lewe, met die ewigheid op die spel, in die gesig. Hierdie lewe het ‘n manier om mense plat te slaan. Elke lewe het ‘n ondersteunersafdeling nodig. Elke lewe het af en toe ‘n skouer om op te leun, nodig. Elke lewe het ‘n gebed wat hulle voor God ophef, nodig. Elke lewe het iemand nodig om soms ‘n paar arms om hulle te vou. Elke lewe het ‘n stem nodig wat sê: ‘Moenie moed opgee nie.'”

Sielskos: Jer 1-3; Matt 22:1-14; Ps 21; Spr 14:17-20

Integriteit (2)

2023-06-26
Spreuke 20:7 NLV

Hier is ses bestanddele wat altyd in blywende sukses gevind word:

1) Informasie. As jy nie ingelig bly nie, sal jy agterbly.
2) Intuïsie. Daardie gevoel dat jy iets weet, maar jy weet nie waar die kennis vandaan kom nie.
3) Inisiatief. Dis wanneer jy gewillig is om in geloof ‘n tree te neem en volgens jou intuïsie op te tree.
4) Opsetlikheid. Dit is wanneer jy gewillig is om spesifieke doelwitte en ‘n tydlyn hoe om dit te bereik, stel.
5) Intensiteit. Dit vra meer as die krag om te begin, dit verg uithoukrag.
6) Integriteit. Dit is die gom wat die voorafgaande vyf dinge bymekaar hou. Dit is gewortel in die private lewe wat jy alleen saam met God ontwikkel.

Ons hoor dikwels dat argitekte, ingenieurs en bouers sê: ‘Hierdie gebou het strukturele integriteit.’ Wat bedoel hulle daarmee? Dat die publieke skoonheid van die hoë wolkekrabber op sy private, onsigbare fondament wat diep in die aarde ingegrawe en stewig gebou is, staat maak. Dis daardie weggesteekte lewe van ‘n gebou wat strukturele integriteit meebring. Net so is dit die weggesteekte lewe van ‘n vrugteboom – die onsigbare wortelstelsel wat diep in die aarde geanker is – wat daardie sappige, smaaklike vrugte produseer.

Dis dieselfde met jou. Integriteit moet sy wortels in jou private lewe hê. Moenie wag tot jy die publieke arena betree voordat jy aan jou integriteit aandag gee nie, want dan is dit te laat. Jou talent mag dalk sukses meebring, maar dit verg karakter om jou sukses te beskerm en te handhaaf. Die waarheid is dat wanneer jou integriteit in jou private wêreld gewortel is, dit in jou persoonlike wêreld, jou professionele wêreld en jou publieke wêreld, gereflekteer word.

Sielskos: Hosea 11-14; Matt 21:33-46; Ps 17; Spr 14:13-16

Integriteit (1)

2023-06-25
Spreuke 10:9 NLV

Wat sou jy sê is die belangrikste karaktereienskap van ‘n persoon wat suksesvol wil wees en ‘n verskil in die lewe wil maak? Party mense sou intelligensie sê. Kennis is immers op verskeie maniere mag. Ander sal stry dat dit intensiteit is, daardie gees van verowering wat met ‘n passie aangevul word wat aansteeklik raak. Ander mense sal voorstel dat dit insig is, goeie ou gesonde verstand wat met die vermoë om sekere kwessies duidelik waar te neem, gepaardgaan. Die Bybel sê egter dat integriteit die belangrikste eienskap vir sukses is: ‘Die een wat opreg lewe, staan vas. Die een wat kronkelpaaie loop, kom tot ‘n val.’ Jy sal uiteindelik ‘bekend’ vir jou integriteit, of jou gebrek daaraan, word.

Ons het al almal mense op ons lewenspad teëgekom wat oor uitsonderlike intelligensie beskik, maar geen integriteit het nie en lankal uit die wedloop geval het. Ander mense met groot intensiteit en passie, maar min integriteit, het dieselfde gevaar. Dieselfde resultaat is van mense met groot insig, maar geen integriteit, waar. Die tesourus stel integriteit met woorde soos: ‘eerlikheid, volledigheid en onkreukbaarheid,’ gelyk.

Integriteit begin in jou private wêreld; die deel van jou wat net aan God en jouself bekend is. Dan word dit in jou persoonlike wêreld duidelik; die deel van jou wat jy aan ‘n klein kring van nabye familielede en moontlik ‘n paar vriende openbaar. Dan begin mense dit in jou professionele wêreld raaksien. Hier ken mense jou aan jou produk, jou werksetiek en jou vaardighede. Hulle vra almal dieselfde vraag: ‘Kan ek jou vertrou?’ Uiteindelik, word jou integriteit in jou publieke wêreld duidelik. Hier is dus die vraag: Het jy integriteit?

Sielskos: Eks 34:27-35; Kol 2:9-15

Wat is jou waardes? (2)

2023-06-24
Prediker 2:11 NLV

Hier is nog twee Skriftuurlike waardes waarvolgens jy moet lewe:

1) Gelykheid. ‘God het immers geen witbroodjies nie’ (Romeine 2:11 NLV). In God se oë is geen mens belangriker as ‘n ander een nie. Sommige mense het meer toegang tot die dinge wat die wêreld bied, is meer geleerd of is tot meer verantwoordelikheid geroep. In God se oë is niemand egter van nature beter as iemand anders nie. Die grondvlak is aan die voet van die kruis en ons almal benader God as sondaars wat verlossing nodig het. Dit maak dus nie saak wat jou posisie in die lewe is nie, God verwag van jou om almal met dieselfde respek te hanteer.

2) Vrygewigheid. Jesus het gesê: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle toe terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (Lukas 6:38 NLV). Ander mense bepaal nie wat jy ontvang nie. God bepaal dit nie eers nie. Jy doen! Jy is nooit meer soos God as wanneer jy gee nie en jy kan Hom nooit oortref as dit by gee kom nie. Die waarheid is dat jy geen rede het om angstig te wees dat jy nie genoeg gaan hê, as jy vrygewig teenoor ander mense is nie.

Hoekom is dit belangrik om waardes te hê waarvolgens jy lewe? Salomo het gesê: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ‘n gejaag na wind nie. Daar is geen voordeel onder die son nie.’

Sielskos: Hosea 6-10; Matt 21:18-32; Ps 8; Spr 14:9-12

Wat is jou waardes? (1)

2023-06-23
Spreuke 11:3 NLV

Hier is ‘n paar waardes wat op die Skrif gebaseer is:

1) God se soewereiniteit. ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV). Jy kan rus in die wete dat God die laaste woord oor alles wat jou aangaan, het (sien Psalm 138:8). Wanneer jy dit weet, sal jy nie probeer om mense en omstandighede tot jou voordeel te manipuleer nie. Jy hoef eenvoudig net deur die deure wat God oopmaak te stap en vrede te hê oor die deure wat Hy toemaak, met die wete dat Hy jou beste belange op die hart dra.

2) Integriteit. ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers…’ Wanneer jy met integriteit lewe, sal jy God se vrede ervaar, omdat jy weet dat jy die regte ding in sy oë gedoen het. Integriteit gaan nie net daaroor om eerlik te wees of die waarheid te vertel nie, maar ook om seker te maak dat dit wat jy sê, die waarheid is. Met ander woorde, maak jou woord jou eer. Die Bybel sê dat een van die eienskappe van iemand wat in God se teenwoordigheid bly en sy wil doen, mense is wat ‘…hulle beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel’ (Psalm 15:4 NLV).

3) Nederigheid. ‘…Nederigheid kom eerste, daarna volg eer’ (Spreuke 15:33 NLV). Nederigheid is nie ‘n sin van waardeloosheid nie, maar eerder ‘n aanvaarding van jou Godgegewe sterkpunte en die beperkings wat God toelaat. Jou sterkpunte moet jou nie arrogant maak nie en jou beperkings moet jou nie vreesbevange maak nie, want God het beloof: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).

Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8

Hoe om geduld te ontwikkel (4)

2023-06-22
Galasiërs 5:22 NLV

Jy sal oplet dat geduld direk na vrede in die lys van die Gees se vrug genoem word. Hoekom? Omdat wanneer jy vrede in jou hart het, amper niks kan veroorsaak dat jy ongeduldig raak nie. Hierdie kwaliteite is egter die vrug van die Gees, nie die inspanning van die vlees nie. Jy kan nie jouself aanmoedig en sê: ‘Ek gaan geduldig wees, selfs al kom ek daarvan om,’ nie. As dit die werklike vrug van die Gees is, sal jy werklike innerlike vrede hê en sal sekere omstandighede jou nie meer soos voorheen pla nie, omdat jy op die Here vertrou.

Geduld is ‘n tipe geloof. Dit sê: ‘Ek vertrou God. Ek glo dat Hy groter as hierdie probleem is. Ek glo dat Hy sy hand in hierdie irritasies het en dit vir goed in my lewe kan gebruik.’ Frustrasie sê: ‘Hoekom het dit gebeur?’ Geloof sê: ‘God, wat wil U my hieruit leer?’

Abraham was honderd jaar oud toe sy tweede seun, Isak, gebore is. Dis ‘n lang tyd om geduldig te wees. Die moelikste wagtydperke is wanneer jy haastig is en God nie. Dis moeilik om geduldig te wees terwyl jy vir ‘n antwoord op jou gebed wag: vir God om jou finansiële toestand, jou gesondheidsprobleem, jou gesinsprobleem of die familielid wat jou pla, te verander.https://d6.gs/fvQQ5qOm geduldig te wees is beide die bewys van jou geloof en ‘n toets vir jou geloof. Dis tydens sulke tye wat God fluister: ‘Wees stil en weet Ek is God…’ (Psalm 46:11 NLV). Met ander woorde: ‘Ek is in beheer, Ek het ‘n beter plan, Ek laat dinge ten goede vir jou uitwerk!’

Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 20:29-34; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4