2023-07-02
1 Johannes 5:4 NLV
Teëspoed is dikwels die Vyand se poging om die volgende seisoen van God se seën in jou lewe te steel. As jy vandag aangeval word, moet jy die volgende drie dinge doen:
1) Staan op en veg terug. Jy sal in die versoeking kom om jouself te onttrek en bedees en passief te word, veral as jy seergekry het. Moet dit egter nie doen nie. Satan is mal oor skaam, vreesbevange tipes, maar regte vegters intimideer hom. Wees dus dapper en eis die volgende belofte op: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV).
2) Gebruik al jou wapens. Die Bybel sê: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Gebed is ‘n wapen – gebruik dit daagliks. Bid saam met ander mense. Maak seker jy ken die voorbidders in jou lewe, want hulle het invloed by God. Die Skrif is ook ‘n wapen, gebruik dit dus. ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Vind uit wat God se Woord oor jou situasie sê en gebruik dit dan as swaard om die Vyand se kop af te kap.
3) Probeer om die groter prentjie te sien. Min dinge is ooit soos dit aanvanklik lyk, kyk dus verby die oomblik en kyk of iets goeds in jou gebore word. Na teëspoed kom seën en guns, vestig dus jou oë dus op die groter prentjie. Paulus, wat onder meedoënlose aanvalle gely het, het gesê: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Jy kan vandag wen.
Sielskos: Jos 6:1-25; Luke 7:36-50
2023-07-01
Jesaja 59:19 NLV
Jou grootste foute gebeur dikwels in die vroeë stadium van ‘n beproewing, omdat dit jou onkant betrap. Verrassing is een van die Duiwel se gunstelingwapens. Hier is dus vier wenstrategieë wanneer jy aangeval word:
1) Moenie paniekerig raak nie. Leef volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Wees stil en weet ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Dit beteken dat God teenwoordig is, ten volle bewus van jou situasie is en dat Hy ‘n oplossing daarvoor het. Wees net sensitief en reageer op die stem van sy Gees binne-in jou (sien Johannes 16:13). Onthou, tyd is aan jou kant. Geduld is ‘n wapen wat die waarheid en beweegredes na die oppervlak bring.
2) Analiseer dit. Salomo het gesê: ‘Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan…’ (Prediker 7:14 AFR53). Soms is dit wat soos ‘n krisis lyk net gekonsentreerde informasie. Wanneer jy die tyd neem om dit te analiseer, trek jy voordeel daaruit.
3) Soek raad. ‘Sonder goeie leiding stort ‘n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV). Onkunde is jou vyand en instruksie is jou vriend. Iemand êrens weet iets wat jy nodig het om te weet; soms kan dit jou help om hierdie pynlike hoofstuk in jou lewe te oorleef en selfs sukses daaruit te behaal. Reik na hulle toe uit.
4) Verwag van God om te beweeg. ‘…Hy kom soos ‘n opgedamde vloed, wat deur die asem van die Here aangeblaas word.’ Teëspoed is dikwels die Vyand se reaksie op jou vooruitgang. Wees bly; jou hemelse Vader se oë is vandag op jou. Hy is tevrede met jou en gaan jou in oorwinning daardeur bring.
Sielskos: Jer 14-17; Matt 23:1-12; Ps 95; Spr 14:29-33
2023-06-30
1 Korintiërs 10:13 NLV
Die probleem is nie net dat ons sondig nie; dis dat ons nie daaroor praat nie. Ons is gemaklik met verhale van mense wat gesondig het, omdat dit ‘n gelukkige einde het. Stel jou voor jy gaan na ‘n berader en sê: ‘Ek wil net oor probleme praat wat ek gehad het. Moet my asb nie uitvra oor my huidige probleme nie. Dit sal my skaam maak. Ek is bang jy sal my verwerp.’ Hoekom sal jy na ‘n berader toe gaan en hom of haar probeer oortuig dat jy nie berading nodig het nie? Mense is gemaklik daarmee om hulle dokter van ‘n fisiese probleem of ‘n werktuigkundige van ‘n probleem met hulle kar te vertel. Moet ons dan nie ook gemaklik daarmee wees om vir mekaar te sê wanneer ons ‘n probleem het nie?
As jy wil hê dat God (of enigiemand anders) die ware jy moet liefhê, moet jy daaraan werk om eerlik te wees. Dawid was Israel se beste koning, maar hy was ‘n poligamis. Hy was ook ‘n aaklige pa. Hy het ‘n ander man se vrou begeer, met haar owerspel gepleeg, probeer om haar man om die bos te lei, hom uiteindelik laat vermoor en het sy misdade vir ‘n jaar lank toegesmeer; dus was hy inhalig, ‘n egbreker, ‘n leuenaar en ‘n moordenaar. Soos iemand geskerts het: ‘Niemand het in daardie tyd met ‘n ‘Wat sou Dawid doen?’ armband rondgeloop nie.’ Tog noem die Bybel Dawid ‘…’n man na [God] se hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV).
Is dit moontlik vir iemand om so intens met sonde te worstel en terselfdertyd na God te smag? Ja. Dis ook hoekom die Bybel sê: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
Sielskos: Jer 10-13; Matt 22:34-46; Ps 64; Spr 14:25-28
2023-06-29
Filippense 2:22 NLV
God sal getrou wees teenoor jou, maak nie saak wat gebeur nie. Op wie kan jy egter, menslik gesproke, ook staat maak? Paulus skryf: ‘Al die ander soek net hulle eie belang en nie dit wat vir Jesus Christus saak maak nie. Julle weet egter hoe Timoteus homself bewys het. Soos ‘n seun sy pa help, het hy saam met my gewerk om die Goeie Nuus uit te dra’ (verse 21-22 NLV). Paulus het geweet dat hy op Timoteus kon staat maak. Op wie kan jy staat maak? Voor jy antwoord, oorweeg die volgende vier vrae:
1) Wanneer iets verkeerd gaan, het jy ten minste een vriend met wie jy maklik daaroor kan praat? ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Mens kan nie ‘n prys op so ‘n verhouding plaas nie.
2) Wie in jou lewe kan jou grootste vrese en versoekings korrek opnoem? ‘Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer. As een mens val, kan sy vriend hom optel. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie… En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:9-10, 12 NLV).
3) Het jy een of meer vriende wat jy gereeld ontmoet? ‘Die mense wat die Here dien, het toe met mekaar gepraat. Die Here het na hulle geluister en gehoor wat hulle sê. Hulle het ‘n gedenkboek in sy teenwoordigheid geskryf…’ (Maleagi 3:16 NLV).
4) Het jy ‘n vriend wat jy goed genoeg ken om met jou geheime te vertrou? “‘n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime” (Spreuke 11:13 NLV).
Sielskos: Jer 7-9; Matt 22:23-33; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24
2023-06-28
Psalm 90:14 NLV
Christus se saak word nie aangehelp wanneer sy volgelinge met lang gesigte rondloop nie. Jy sê: ‘Maar ek het probleme.’ Almal het. Toe die apostel Paulus in die tronk was, het hy geskryf: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ (Filippense 4:4 NLV). Om vreugdevol te wees is iets wat jy ten spyte van jou omstandighede doen, nie as gevolg daarvan nie. Die Bybel sê: ‘Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding!’ (Jesaja 12:3 NLV). God het ‘n fontein van vreugde binne in jou geplaas, maar jy moet die vreugde daaruit put en dit met ander mense deel.
Vreugde is aansteeklik. Geluk reis deur verhoudingsnetwerke soos rimpelings op ‘n dam. Dit is so kragtig dat dit drie grade van skeiding kan deurdring. Dit beteken dat jou gelukskwosiënt meer geneig is om te verhoog wanneer ‘n vriend van ‘n vriend van ‘n vriend gelukkig is. Ons hunker na vreugde. Die Psalmdigter het gesê: ‘Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae’ (Psalm 90:14 NLV).
Vreugdevolle mense laat ons lewendig voel. Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Ons is lief vir vreugde, maar ons vergeet dikwels hoe kragtig dit is. Vreugde gee ons die krag om versoeking te weerstaan. Dit gee ons die vermoë om uit te hou. Dis die gom wat ons verhoudings aanmekaar laat kleef. Dit gee ons die energie om lief te hê. Ons het nie net suurstof, kos en water nodig nie; ons het ook vreugde nodig. Die persoon wat dit bring, is soos ‘n oase in die woestyn. Wees dus vandag vreugdevol.
Sielskos: Jer 4-6; Matt 22:15-22; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22
2023-06-27
Hebreërs 10:24 NLV
Robert Putman het ‘n verbysterende stelling gemaak: ‘Navorsing wys dat as jy aan geen groepe behoort nie, maar jy besluit om by een aan te sluit, jy jou risiko om oor die volgende jaar te sterf, rofweg met die helfte verminder.’ Een van die karaktereienskappe van die vroeë kerk was hulle verbintenis tot samesyn, want hulle het geweet dat samesyn nie sommer net vanself gebeur nie. Hulle het daagliks byeen gekom. Hulle het saam geëet.
Met die verloop van tyd het dit egter al minder begin gebeur. Die skrywer van Hebreërs het toe gesê: ‘Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot ‘n meer kragdadige beoefening van liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan…’ (verse 24-25 NLV).
Een skrywer stel dit so: “Hoe meer ‘n atleet aanmoediging van die ondersteuners benodig, hoe onwaarskynliker is dit dat hy of sy dit sal kry. Selde dink die aanhangers van ‘n verloorspan: ‘Kom ons kyk hoe ons hom kan aanspoor,’ wanneer ‘n moedelose speler vir sy kolfbeurt opdaag. Te dikwels kry die mense wat juis aanmoediging nodig het, dit nie. Elke dag staar almal rondom jou die lewe, met die ewigheid op die spel, in die gesig. Hierdie lewe het ‘n manier om mense plat te slaan. Elke lewe het ‘n ondersteunersafdeling nodig. Elke lewe het af en toe ‘n skouer om op te leun, nodig. Elke lewe het ‘n gebed wat hulle voor God ophef, nodig. Elke lewe het iemand nodig om soms ‘n paar arms om hulle te vou. Elke lewe het ‘n stem nodig wat sê: ‘Moenie moed opgee nie.'”
Sielskos: Jer 1-3; Matt 22:1-14; Ps 21; Spr 14:17-20