Verander jou denke, verander jou lewe (1)

2023-05-13
Romeine 12:2 NLV

Wanneer jy kreatief dink, dink jy soos God jou Skepper. Nie almal sal egter jou kreatiewe idees verwelkom nie. Jesus is nie gekruisig omdat Hy wonderwerke gedoen het nie; daarvoor was Hy geliefd en is toegejuig. Hy is gekruisig omdat Hy idees gehad het wat die status quo uitgedaag het. God is die gewer van groot konsepte, waarhede en idees. Wanneer Hy dus vir jou een gee, moenie toelaat dat enigiemand jou daaruit praat nie. Moet ook nie dat die vrees vir verwerping of mislukking jou idee doodmaak nie.

Jy kan immers nie iets nuut en opwindend doen as jy in dieselfde ou groef bly nie. Moenie net harder aan dieselfde ou ding werk nie; maak ‘n verandering. Die eerste verandering is hoe jy dink, waarna jy luister en wat jy glo. Kyk na die volgende frases: ‘Ek is nie ‘n kreatiewe persoon nie. Volg die reëls. Moenie vrae vra nie. Moenie anders wees nie. Bly binne die lyne. Daar is net een manier om dit te doen. Moenie dwaas wees nie. Dink aan jou reputasie. Dis nie logies nie. Dis nie prakties nie. Dis nog nooit vantevore gedoen nie. Dit kan nie gedoen word nie. Dit het nie vir hulle gewerk nie. Ons het dit al probeer. Dis te veel werk. Ons kan nie bekostig om ‘n fout te maak nie. Dit sal te moeilik wees om te bestuur. Ons het nie tyd nie. Ons het nie die geld nie. Ja, maar…’

Paulus skryf: ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (vers 2 NLV). Die woord vir jou vandag is – verander jou denke, verander jou lewe.

Sielskos: Num 25-26; Matt 9:14-26; Ps 57; Spr 11:14

Hê ‘n visie vir jou lewe

2023-05-12
Joël 2:28 NLV

Wanneer jy ‘n klein seuntjie vra wat hy wil wees wanneer hy groot is, mag hy dalk ‘n brandweerman of ‘n dokter sê. Wanneer jy ‘n klein dogtertjie dieselfde vraag vra, sal sy dalk antwoord dat sy ‘n filmster of ‘n feetjieprinses wil wees. Die vermoë om te droom is ‘n gawe wat God binne elkeen van ons geplaas het. As jy groot dinge in die lewe wil bereik, het jy ‘n visie nodig. Josef se visie het eers waar geword toe hy dertig was, maar hy het dit al in sy tienerjare van God af ontvang. God sal vir jou ook een gee: ‘…Jongmense sal visioene sien.’

Op die oomblik mag jy dalk verskillende opsies vir jou lewe oorweeg en selfs met sommige eksperimenteer. Dis in die haak, jy leer nog jouself; jou sterk- en swakpunte, wat jou aandag trek en waarin jy geen belangstelling het nie, ken. As jy jou denke net op een ding fokus en jou ambisie verander dan, sal jy jou beste denke daarop gemors het. Soos jy egter groei en volwasse word, moet jy selektief begin word. Daar is ‘n Chinese gesegde wat lui: “‘n Man wat twee hase jaag, vang geen.”

Wanneer jy ‘n Godgegewe visie ontvang, het dit blywende krag. Dis soos ‘n vuur wat in jou brand. Dit mag dalk ‘n voltydse beroep of ‘n deeltydse werk wees, maar dis die ding waaruit jy die meeste vervulling sal kry. Paulus het ‘n visie gehad en gevolglik het hy die geskiedenis verander en is daar kerke en katedrale wat na hom vernoem is. Hier is ‘n gebed wat God sal antwoord: ‘Here, gee my ‘n visie vir my lewe!’

Sielskos: Num 22-24; Matt 9:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13

‘n Gebed van toewyding aan God

2023-05-11
Johannes 17:4 NLV

As dit die begeerte van jou hart is om God te behaag en sy wil vir jou lewe te vervul, is hier ‘n gebed vir jou: ‘Here, ek dank U dat U my steeds liefhet, selfs al weet U alles van my. U ken my gedagtes, my foute, my sondes en tog noem U my u kind. U genade teenoor my gaan alle verstand te bowe. Meer as enigiets anders, wil ek U intiem ken en u teenwoordigheid daagliks in my lewe aanvoel. As daar enige deel van my is wat ek van U weerhou, wys dit uit vir my sodat ek U kan uitnooi om daar te heers. Gaan my binne, Heilige Gees, en verkwik my siel met riviere van lewende water. Vloei dan uit my uit na ‘n droë en dors wêreld (sien Johannes 7:38-39).

Help my om my oë op U, in plaas van ander, gerig te hou (sien Hebreërs 12:1-2). Here, wees altyd my rykste skat. Help my om nooit ‘n afgod van enigiets of enigiemand anders te maak nie of om toe te laat dat besittings of afleidings van hierdie wêreld op enige manier voor U te staan kom nie. U is my geneser, my hoop en my krag.

Wanneer ek vryheid nodig het, is U my Redder. U is my skild teen die Vyand, my berader wanneer ek leiding nodig het en my skuilplek in dae van teëspoed (sien Psalm 32:7). U is waarlik die God van wonderwerke. Doen u wonderwerke van genade in my lewe en hou aan om my dag vir dag te verander om meer soos U te wees (sien 2 Korintiërs 3:18). In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Num 19-21; Matt 8:18-34; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11

‘n Gebed vir finansiële tevredenheid

2023-05-10
1 Timoteus 6:6 NLV

Die Bybel sê: ‘Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ‘n groot rykdom. Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor’ (verse 6-10 NLV).

Hier is ‘n gebed vir finansiële tevredenheid: ‘Here, genees my van die stres van kommer oor hoe mense my sien. Dankie dat U my leer om langs U, nie voor U uit te loop nie. Ek berou die tye wat ek voor U uit geloop het. Ek is ook spyt oor die tye wat U my probeer seën het en ek êrens agter U was, besig om met ou kwessies te stoei. Van vandag af sal ek saam met U in vrede en welvaart loop, met die wete wie ek is en Wie s’n ek is. Ek berei my voor om deur die praktiese treë wat ek besig is om te leer, geseën te word. My fokus is egter op U en my verhouding met U. U Woord sê dat wanneer ek U eerste stel, sal ander dinge gebeur soos wat ek myself voorberei vir dit wat U vir my in gedagte het (sien Matteus 6:33). Dankie vir die volwassenheid wat ek geestelik, emosioneel en finansieel ontvang. My familie sal deur dit wat U besig is om my te leer, geseën word. Amen.’

Sielskos: Num 16-18; Matt 8:1-17; Ps 44:1-8; Spr 11:9

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (4)

2023-05-09
Daniël 6:23 NLV

Hier is nog ‘n paar situasies waar God vir jou ‘n engel kan stuur:

1) Wanneer jy in die moeilikheid kom omdat jy die regte ding doen. Deur God se wil te doen, het Daniël in die leeukuil beland, maar God het hom daaruit gebring. Die koning het verklaar: ‘…dat in al die gebiede van my ryk daar agting en respek moet wees vir die God van Daniël. Hy is die God wat lewe en vir altyd bestaan…’ (Daniël 6:27 NLV).

2) Wanneer jy moeg is om versoeking te weerstaan. Wanneer die drang om ‘n drankie, ‘n dwelm of ‘n sigaret op te tel oorweldigend voel, of jy dink dat die enigste manier uit die situasie is om ‘n leuen te vertel, of eensaamheid jou in die arms van die verkeerde persoon dryf. Nadat Jesus vir veertig dae lank teen versoeking geveg het, sê die Bybel: ‘Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg’ (Matteus 4:11 NLV).

3) Wanneer die las wat jy dra te swaar voel. Voor Jesus se kruisiging het Hy die bepalende gebed van sy lewe gebid: “‘Vader, as U wil, neem tog hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ Daar het ‘n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk” (Lukas 22:42-43 NLV). God sal jou deur sy Woord en gebed versterk. Soms sal Hy mense wat jy ken stuur om jou te help. Paulus het geskryf: ‘…Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen… God… het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:5-6 NLV). Ander kere sal Hy ‘n engel stuur.

Die punt bly egter staan: Wanneer jy tot God om hulp roep, kan jy seker wees dat hulp op pad is.

Sielskos: Num 14-15; Matt 7:15-29; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (3)

2023-05-08
Psalm 34:8 NLV

In watter ander situasies kan God ‘n engel stuur om jou te help?

1) Om jouself uit die moeilikheid te help. Lot het in Sodom gewoon, ‘n stad wat op die punt was om as gevolg van sonde verwoes te word. Toe het God engele gestuur om hom en sy familie van hul naderende ondergang te red. Lot het geluister, gehoorsaam en oorleef, maar ongelukkig het sy vrou nie en sy het omgekom (sien Genesis 19).

2) Om jou lewensrigting te verander. ‘Moses het sy skoonpa, Jetro, se skape opgepas… Skielik het die engel van God aan hom verskyn in ‘n vlam wat in ‘n bos brand…’ (Eksodus 3:1-2 NLV). Moses het gedink dat sy lewe verby was. Hy het in ‘n paleis begin en in ‘n weiveld opgeëindig. Elke ervaring, goed en sleg, het hom egter toegerus om die grootste uittog van mense in die geskiedenis te lei.

3) Wanneer jy voor jou grootste uitdaging te staan kom. Om die Beloofde Land binne te gaan, moes Israel eers Jerigo verower. Josua het nie ‘n idee gehad hoe om dit te doen nie. Toe het God ‘n engel gestuur met ‘n plan wat letterlik die stad se mure sou laat ineenstort (sien Josua 5:14).

4) Wanneer jy dit jou beste gegee het en wil tou opgooi. Na sy skouspelagtige oorwinning oor die Baäl profete op Karmelberg, het Isebel beveel dat die profeet Elia doodgemaak moet word. Hoe het dit hom geaffekteer? “…’Ek het nou genoeg gehad, Here,’ het hy gesê. ‘Neem nou maar my lewe…’ Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!'” (1 Konings 19:4-5 NLV).

Vandag stuur God steeds engele in vermomming om ons te help.

Sielskos: Num 11-13; Matt 7:1-14; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6