2023-07-08
Spreuke 4:25 NLV
Om sukses te behaal in dit wat God jou geroep het om te doen, moet jy die volgende doen:
1) Verwyder afleidings. Dis nie maklik nie, omdat die meeste mense honderde eposse en boodskappe elke dag kry. Jy moet dit egter doen. Hoe? Deur jouself te dissiplineer om jou prioriteite uit te oefen. Moenie die maklikste dinge eerste, of die moeilike dinge eerste, of die dringende dinge eerste doen nie. Doen die eerste dinge eerste – die aktwiteite wat vir jou die grootste opbrengs bring. Op hierdie manier minimaliseer jy afleidings.
2) Beskerm jouself teen afleidings. Een leier skryf: ‘Ek het tye nodig om sonder onderbrekings te kan dink. Ek het die kuns vervolmaak om myself nie beskikbaar te maak nie sodat ek sonder onderbrekings kan werk. Ek is egter altyd bewus van die spanning tussen my behoefte om as leier toeganklik vir mense te wees en my behoefte om myself van hulle te onttrek om te dink.’ Jesus het Homself dikwels van aktiwiteite onttrek en gebid (sien Lukas 5:16 NLV). Gevolglik was Hy altyd op die regte plek, op die regte tyd, saam met die regte mense, besig om die regte ding te doen.
Jy moet dit ook doen! As jy van nature teruggetrokke is, maak seker dat jy meer gereeld tussen mense kom. As jy altyd aan die gang is, verwyder jouself dan van tyd tot tyd sodat jy verfris kan word en weer kan fokus om dit waarvoor God jou geroep het, te bereik. ‘Kyk reguit vorentoe; bly gefokus op wat voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie. Bly weg van wat verkeerd is’ (Spreuke 4:25-27 NLV).
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 24:36-51; Ps 122; Spr 15:10-14
2023-07-07
Johannes 15:16 NLV
Om God se plan in jou lewe te vervul, moet jy duidelike prioriteite stel en elke dag daarvolgens lewe. Die skrywer Edward de Bono het geskerts: “‘n Gevolgtrekking is die plek waar jy moeg word om te dink.” Ongelukkig bepaal baie mense hul prioriteite op die plek waar hulle uit stoom uithardloop. Jy wil dit definitief nie so doen nie. Jy wil ook nie hê dat ander mense jou agenda en jou prioriteite vir jou moet bepaal nie.
Daar is verskillende maniere om prioriteite te bepaal. Eerstens moet jou plan altyd in lyn met God se wil vir jou lewe wees (sien Hebreërs 13:20-21). Jesus het gesê: ‘…Ek [het] julle uitgekies om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou…’ Let die volgende op: 1) Jy moet weet dat God jou vir ‘n spesifieke area van diens gekies en aangestel het. 2) Jou doel in die lewe moet vrugte wees ‘wat sal hou.’ As jy dit behoorlik gebruik, kan geld en invloed vir jou tot hulp wees, maar dit moet nooit jou doelwit of jou hart se begeerte wees nie.
Hoe kan jy dus die regte prioriteite bepaal? Soos jy jouself beter leer ken, moet jy op jou sterkpunte en die dinge wat die beste van jou Godgegewe vaardighede maak, begin fokus. Dink aan dit wat jou die hoogste opbrengs en beloning bring. Dink aan dit wat jy die meeste geniet en die beste doen. Dit is jou sleutelgawes. Gebruik die 80/20 reël. Gee 80 persent van jou inspanning aan die boonste 20 persent van jou aktiwiteite. Jesus het gesê dat jy jou aandag aan die areas wat die meeste vrugte dra, moet gee.
Sielskos: Jer 31-32; Matt 24:26-35; Ps 110; Spr 15:8-9
2023-07-06
2 Timoteus 4:7 NLV
Hier is nog drie dinge om in gedagte te hou wanneer jy aangeval word:
1) Jy is nie uniek nie. In ‘n brief aan gelowiges wat vervolg is, het die apostel Petrus gesê: ‘…[bly] standvastig in julle geloof… Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding’ (1 Petrus 5:9 NLV). Die Duiwel wil jou graag oortuig dat jy die enigste persoon is wat al ooit so iets ervaar het. Hy wil hê jy moet soos ‘n mislukking voel en jouself van die krag en ondersteuning wat jy in gemeenskap met ander gelowiges kry, afsny. Wees wys; moenie hom toelaat om dit aan jou te doen nie.
2) Verwyder enige struikelblokke. Die apostel Johannes skryf: ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan’ (1 Johannes 3:21 NLV). Ons almal sondig – die fout wat ons maak is wanneer ons dit probeer wegsteek, want: ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie’ (Spreuke 28:13 NLV). As jy gedurig sukkel en verslaan word, vra God om jou te wys waar die moeilikheid is, put krag uit sy genade en hanteer dit.
3) Moenie tou opgooi nie. Enigiemand kan ‘n marathon begin hardloop, maar dit verg ‘n kampioen om een klaar te maak. Die apostel Paulus skryf: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly’ (2 Timoteus 4:7 NLV). Elkeen van ons ervaar teëspoed. Dis egter diegene van ons wat tot die einde toe sterk staan, wat die beloning ontvang. Bestudeer die lewens van mense soos Dawid, Ester, Debora en Paulus. Herinner jouself dat hulle God jou God is en dat Hy beloof het om jou in oorwinning hier deur te bring.
Sielskos: Jer 28-30; Matt 24:15-25; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7
2023-07-05
2 Kronieke 32:8 NLV
Die wedergeboorte skep ‘n geveg tussen jou ou en nuwe natuur en jy moet leer hoe om hierdie stryd te veg. Hier is nog ‘n paar Skriftuurlike strategieë om oorwinning te behaal:
1) Vul jou gedagtes met die Skrif. Dawid het gesê: ‘As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende’ (Psalm 119:92 NLV). Jou gedagtes is soos grond; dit sal enige saad wat jy plant laat groei, of dit nou goed of sleg is. Wanneer jy woorde wat deur God gespreek is plant, saai jy energie, lewe en hoop in jou gees. God se Woord is soos ‘n inenting, dit verwyder Satan se mag om jou met vrees en ongeloof te infekteer. Die Psalmdigter het gesê: ‘Die gebooie van sy God is in sy hart. Hy sal nie ‘n voet verkeerd sit nie’ (Psalm 37:31 NLV).
2) Reik uit na ander mense. ‘Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (Job 42:10 NLV). Klink dit vreemd? Dit mag dalk vreemd in die mens se koninkryk wees, maar nie in God se koninkryk nie. Jy is die oplossing vir iemand anders se probleem en wanneer jy na hulle toe uitreik, sal God na jou toe uitreik (sien Efesiërs 6:8). Probeer dit.
3) Onthou dat seisoene verander. Dawid het gesê: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Hierdie aanval sal nie vir ewig duur nie – die oggend is op pad! Mense verander en omstandighede verander. Begin dus om God te glo om dinge namens jou te verander. Hy het beloof om dit te doen en Hy sal.
Sielskos: Jer 25-27; Matt 24:1-14; Ps 102:12-17; Spr 15:3
2023-07-04
Spreuke 24:10 NLV
Die laaste paar dae het ons gesels oor hoe om Satan se aanvalle te hanteer soos hulle voorkom. As jy dus vandag aangeval word, doen die volgende:
1) Wees taai. Die lewe is ‘n reeks gevegte, wat beteken dat dit ook ‘n reeks oorwinnings kan wees. ‘…omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Put krag uit God se mag binne-in jou. Hy wil jou graag wys wat Hy vir jou kan doen. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Daar is krag in sy Woord wanneer jy dit spreek, dit glo en daarvolgens optree.
2) Maak op God se wysheid staat. Jesus het gesê: ‘Laat dit swaar op julle harte rus om nie bekommerd te wees oor julle verdediging nie, want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie’ (Lukas 21:14-15 NLV). God het vir jou twee dinge gegee wat altyd werk: jou mond en sy wysheid. Wanneer onverwagte dinge voorval, sal die Heilige Gees opstaan en deur jou praat, wees dus van Hom afhanklik.
3) Vertrou op God om die aanval te stop. Die Bybel sê: ‘Aanskou die werke van die Here wat… oorloë beëindig oor die hele aarde…’ (Psalm 46:9-10 NLV). God is in beheer, Hy is groter as jou probleem en jy is op hierdie einste oomblik in sy gedagtes. Hy het jou trane, jou vrese en jou pyn opgelet – en Hy sal namens jou beweeg.
Sielskos: Jer 22-24; Matt 23:23-39; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2
2023-07-03
2 Korintiërs 4:8 NLV
Satan kan jou enige tyd, enige plek aanval. As jy hom wil verslaan, is hier ‘n paar beproefde Bybelse beginsels wat jy moet volg:
1) Bewaak jou gedagtes. Jy sal nooit verslaan word solank as wat jy in jou gedagtes oorwinnend is nie; dis die geboorteplek van alles wat jy doen. Satan weet dit en hy sal jou gedagtes so deurmekaar probeer maak dat jy nie op dit wat belangrik is, sal kan konsentreer nie. Moenie hom toelaat om dit te doen nie. Jesaja het gesê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).
2) Wees lief vir mense, maar vertrou op God. Lewe volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense’ (Psalm 118:8 NLV). Wanneer die Duiwel jou wil seermaak, sal hy dikwels ‘n persoon gebruik om dit te doen. Jou ‘vyand’ is enigiemand wat probeer om God se wil in jou lewe in die wiele te ry, identifiseer dus sulke mense en vermy hulle. God het ons nooit opdrag gegee om mense te vertrou nie; Hy het ons opdrag gegee om mense lief te hê – en Hom te vertrou. Verstaan die verskil, want jou oorwinning hang daarvan af.
3) Moenie tou opgooi nie. Jesus het gesê: ‘…Enigiemand wat ‘n hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koningsheerskappy van God nie’ (Lukas 9:62 NLV). Jou drome en doelwitte is enige geveg, enige prys en enige wagtydperk werd. Jou geloof is wat Satan verslaan. Onthou jy vir Josef? Elke dag van teëspoed was net nog ‘n tree na die troon toe. Hou dus aan stap en glo, want daar is oorwinning wat op jou wag!
Sielskos: Jer 18-21; Matt 23:13-22; Ps 98; Spr 14:34