Jy het ander mense nodig

2023-05-19
Prediker 4:12 NLV

Ken Blanchard het gesê: ‘Niemand van ons is so slim soos almal van ons nie.’ Ons wil graag dink dat ons alles weet, maar as ons eerlik is, is elkeen van ons pynlik bewus van die feit dat ons blinde kolle en areas waarin ons onervare is, het. Jy het ervarings gehad wat ander mense nog nie gehad het nie; hulle het ervarings gehad wat jy nog nie gehad het nie; en wanneer julle byeenkom, kan julle julle gesamentlike ervarins en kennis inspan.

Jesus het sewentig dissipels in groepe van twee uitgestuur. Hoekom? 1) Vir ondersteuning. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied…’ 2) Vir ontwikkeling. Die dramaturg Ben Jonson het gesê: ‘Hy wat slegs deur homself onderrig word, het ‘n dwaas vir ‘n meester.’ 3) Vir verantwoording. Die pastoor van ‘n groot kerk het die man wat saam met hom reis as volg aan sy gehoor voorgestel: ‘Ek is weerloos teen versoeking en hy beskerm my daarteen.’ Jy kon ‘n speld in die gehoor hoor val!

Soms het jy vertroosting nodig, ander kere het jy korreksie nodig. Dit verg nederigheid om dit te erken en emosionele sekuriteit om dit in plek te stel. Totdat jy besef dat ander mense jou kan help om ‘n voller en beter lewe te lei, bind jy jou eie hande vas en beperk jy jou potensiaal. Solank as wat jou doel is om bo ander uit te styg, eerder as om saam met hulle te werk, sal jou toekoms gekortwiek word.

Goeie denkers verstaan die krag van gedeelde denke. Hulle verstaan dat wanneer hulle die gedagtes en idees van ander mense waardeer, hulle die saamgestelde resultate van gedeelde denke ontvang en meer bereik as wat hulle ooit op hul eie sou kon. Die waarheid is dat jy ander mense nodig het.

Sielskos: Titus 1-3; Matt 10:32-42; Ps 75; Spr 11:23

Wat jy moet opgee

2023-05-18
Psalm 27:4 NLV

Daar is sekere dinge wat jy moet opgee om sukses te kan behaal. 1) Jy kan nie met almal vriende wees nie. Jesus het almal liefgehad, maar het die meeste van sy tyd bestee om twaalf mense te mentor. Hy het ekstra tyd met Petrus, Jakobus en Johannes, sy binnekring, bestee. Aan die einde van sy lewe, kon Hy sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV).

2) Jy kan nie alles doen nie. As gevolg van die vinnige pas van ons samelewing, neig die meeste mense om ‘n klomp take gelyktydig te doen. Om van een taak na die volgende te spring, kan egter veroorsaak dat jy tot 40 persent effektiwiteit inboet. Volgens navorsers sal jy meer gedoen kry as jy op een taak op ‘n slag fokus. Dawid het gesê: ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek…’

3) Jy kan nie afgerond wees nie. Ja, daar moet ‘n balans tussen jou private en openbare wêreld wees. Dis egter ‘n mite dat jy almal kan ken, alles kan doen, orals kan gaan en alles kan hê. Jy hoef nie 99 persent van alles in die lewe te weet nie; jy moet net op die een persent wat vir jou die grootste opbrengs gee, fokus. As jou aandag maklik afgelei word, het jy mense in jou lewe nodig wat bemagtig is om jou aandag daarop te vestig en jou weer op koers te kry.

Om hoër te beweeg en groter dinge te bereik, moet jy gewillig wees om sekere dinge te laat staan. Selfs goeie dinge (sien Hebreërs 12:1-3).

Sielskos: Num 34-36; Matt 10:21-31; Ps 72:12-20; Spr 11:22

Lesse van ‘n gebroke hart

2023-05-17
Psalm 51:14 NLV

‘n Gebroke hart kan nie genees word deur sestien uur ‘n dag te werk, dit in die gym uit te sweet of middels wat jou gemoed verander, soos alkohol en dwelms, te gebruik nie. Hierdie dinge kan ‘n tydelike oplossing bring, maar bring nie ‘n blywende genesing mee nie. Nadat hy in sonde en skaamte verval het, het Dawid gebid: ‘Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ Goeie nuus: God kan dit wat jy verloor het herstel en jou dinge oor jouself leer wat jy nie geweet het nie, om jou sodoende ‘n beter persoon te maak.

Een van die eerste lesse wat Hy ons leer gaan oor vergifnis. Jy kan nie die swaard van onvergifnis oor iemand anders se kop hou en verwag om self genesing te kry nie. Jou vrede en selfvertroue voor God hang van jou gewilligheid om genade aan ander te bewys, af (sien Markus 11:25).

Die tweede les wat Hy ons leer, gaan oor verhoudings. Sommige verhoudings sal vir jou meer pyn as plesier gee. Judas se verraad, so pynlik soos wat dit was, was instrumenteel om die geskiedenis se grootste gebeurtenis – die kruis – te weeg te bring. Beteken dit dat enigiemand en almal in jou lewe kan instap en doen wat hulle wil? Nee; hulle toegang tot jou word deur die skild van God se doel vir jou, beperk. Sommige mense bring vertroosting terwyl ander karakter bou en jy het beide nodig.

Die derde les wat Hy ons leer gaan oor wanneer om ‘ja’ te sê. ‘…Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie’ (Openbaring 3:7 NLV). Of God dus die deur oopmaak of dit sluit, vertrou Hom, volg Hom en sê: ‘Ja, Here,’ want Hy is lief vir jou en het net die beste vir jou in gedagte.

Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 10:11-20; Ps 72:1-11; Spr 11:19-21

Verheerlik dit God?

2023-05-16
1 Korintiërs 10:31 NLV

Wanneer jy op die punt staan om iets te doen waaroor jy nie seker is nie, vra jouself af: ‘Sal dit God verheerlik as ek dit doen?’ As jy hierdie reël volg, sal jy nie verkeerd gaan in die lewe nie. Kom ons wees meer spesifiek. Wanneer jy jou geld op ‘n eerlike manier verdien, is dit joune om te spandeer soos jy wil. Nadat jy God sy deel, wat by 10 persent begin, gegee het, kan jy kies wat om met die res te doen.

Jou finansiële besluite het egter nagevolge wat nie net jou nie, maar ook jou familie affekteer. Wanneer jy skuld aangaan wat jy nie kan terugbetaal nie, ly hulle saam met jou. Jou reputasie ly ook daaronder. Die vraag is nie of jy dit kan bekostig nie, maar of God daardeur verheerlik sal word? Sal Hy tevrede wees?

Wat van jou verhoudings? Jy is enkellopend, eensaam en smag na geselskap. Jy ontmoet iemand waarvan jy regtig hou. Wanneer ongekontroleerde passie deesdae tot seks voor die huwelik lei, knip die samelewing nie eers ‘n oog nie. As verloste kind van God is jy egter anders. Jesus sê dat ons in die wêreld, maar nie van die wêreld is nie. Dit beteken dat ons volgens ‘n ander stel reëls leef: Skriftuurlike reëls. Miskien sal jou maat jou weiering van seksuele intimiteit as verwerping sien en mag dalk selfs besluit om jou te verlaat. Wat staan jou te doen?

Vra jouself af: ‘Word God hierdeur verheerlik? Sal Hy tevrede wees?’ Jy sê: ‘Dis nie maklik om God tevrede te stel nie.’ Dit was nog nooit nie. As jy egter met vreugde, selfrespek, selfvertroue en integriteit wil lewe, moet jy die regte pad kies. Dis die pad wat God altyd verheerlik.

Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 10:1-10; Ps 67; Spr 11:16-18

Verander jou denke, verander jou lewe (3)

2023-05-15
Spreuke 1:5 NLV

Die boek Spreuke begin met die volgende woorde: ‘Hierdie is die spreuke van Salomo… Die doel van hierdie spreuke is om mense wysheid te leer… Dit sal hulle help om wyse woorde te verstaan. Deur hierdie woorde sal hulle dissipline leer en weet hoe om regverdig, reg en billik op te tree. Iemand wat nog onervare is, sal verstandig word. Die spreuke sal jongmense kennis gee en onderskeidingsvermoë. Selfs hulle wat wys is, kan luister na die spreuke sodat hulle tot dieper insig kan kom…’ (Spreuke 1:1-5 NLV).

Kreatiewe denke is eenvoudig gedissiplineerde denke. As jy dink dat jy alles weet wat daar is om te weet, dan weet jy reeds alles wat jy ooit gaan weet. Om buite die boks te dink, moet jy begin om die regte vrae te vra. Sir Antony Jay het gesê: ‘Die onkreatiewe denker kan die verkeerde antwoorde raaksien, maar dit verg ‘n kreatiewe denker om die verkeerde vrae raak te sien.’

Verkeerde vrae bring die proses van kreatiewe denke tot ‘n stilstand. Hulle stuur jou by dieselfde ou paadjie af. Om jou lewe te verander, moet jy jou denke verander. Dit beteken dat jy gewillig moet wees om die volgende twee vrae te vra: ‘Hoekom moet dit altyd op hierdie manier gedoen word? Is daar ‘n beter manier?’

Of jou doelwit nou is om ‘n beter lewe, ‘n beter familie, ‘n beter besigheid, ‘n beter kerk, ‘n beter beroep of ‘n beter ‘watookal’ te bou, alle verandering en vooruitgang moet begin deur hierdie twee vrae eerlik te beantwoord. Wil jy dus sukses behaal? Dan moet jy gewillig wees om jou denke te verander om dit te kan bereik.

Sielskos: Num 27-29; Matt 9:27-38; Ps 62; Spr 11:15

Verander jou denke, verander jou lewe (2)

2023-05-14
Spreuke 13:20 NLV

As jy deur negatiwiteit omring word, moet jy vir ‘n beter omgewing op die uitkyk wees. Charlie Brower het gesê: “‘n Nuwe idee is delikaat. Dit kan deur ‘n spot of ‘n gaap doodgemaak word; dit kan deur ‘n kwinkslag doodgesteek word en deur ‘n frons op die regte man se voorkop, doodbekommer word.”

Negatiewe omgewings vermoor elke minuut goeie idees. ‘n Kreatiewe omgewing, daarenteen, word soos ‘n kweekhuis waar idees saadskiet, opkom en floreer. Jy moet mense uitsoek wat aan persoonlike groei toegewyd is, om self te kan groei. Sulke mense:

1) Moedig kreatiwiteit aan. David Hills sê: ‘Studies oor kreatiwiteit dui daarop dat die grootste enkele veranderlike of werknemers kreatief sal wees of nie, is of hulle sien dat hulle toestemming het om kreatief te wees.’ Wanneer innovasie en goeie denke openlik aangemoedig en beloon word, sien mense dat hulle toestemming het om kreatief te wees.

2) Wees gewillig om die risiko van mislukking te neem. Selfs wanneer jy deeglik gestudeer en jouself voorberei het, sal jy verskeie kere moet probeer om sukses te behaal. Jy moet dus in ‘n omgewing wees waar foute as deel van die kreatiewe proses gesien word.

3) Glo in die potensiaal van ‘n droom. ‘n Kreatiewe omgewing moedig die gebruik van ‘n leë vel papier en die vraag: ‘As jy ‘n prentjie kan teken van wat jy wil bereik, hoe sal dit lyk?’ aan. ‘n Kreatiewe omgewing het dr Martin Luther King jnr toegelaat om met passie te praat en te verklaar: ‘Ek het ‘n droom,’ nie ‘Ek het ‘n doelwit,’ nie. Doelwitte mag fokus gee, maar drome het krag. Drome vergroot jou wêreld. En God is die gewer van drome en visies (sien Joël 2:28 NLV).

Sielskos: Jes 51:1-16; Mark 5:1-20