2023-05-25
2 Korintiërs 12:9 NLV
Die geheim om te kan doen wat jy moet doen, is om te besef dat jy dit nie alleen kan doen nie; jy kan dit net deur God se bemagtigende genade doen. God het vir Paulus gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ en die woord ‘genade’ sluit alles in wat jy nodig het om enigiets in die lewe te hanteer. Wat ‘n belofte!
Soms dink ons dat ons alles moet doen. Ons vergeet dat die krag van Christus deur ons werk, dus verloor ons nog voor ons begin het. ‘Ons is Gód se werkspan…’ (1 Korintiërs 3:9 NLV). Ons kan nie God se deel doen nie en Hy sal nie ons deel doen nie. Hy wil hê dat ons sy leiding moet volg, maar Hy dring daarop aan dat ons elke tree van die pad van Hom afhanklik moet wees. Dis nogal hard op ons ego wat sê: ‘Ek kan dit self doen!’
Soms moet ons heeltemal verslaan word voor ons hierdie tipe denke laat vaar. Met die wete dat ons sekere gawes en talente het, maak ons die fout deur aan te neem dat ons deur ons eie krag sukses kan behaal. Nee, tensy God se genade deur jou gawe werk, sal dit nie voldoende vir die uitdaging wees nie. Die Bybel sê: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV).
Genade is soos elektrisiteit; om effektief te funksioneer, moet dit ingeprop bly. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Wees dus meer afhanklik van God.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 12:22-37; Ps 47; Spr 12:4-6
2023-05-24
Filippense 4:13 NLV
Paulus skryf: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Paulus het geglo dat hy enigiets wat die lewe sy kant toe sou gooi, kon hanteer. Glo jy dit ook? Wat is die dinge wat jou vrees aanwakker en jou laat sê: ‘Ek sal dit nie kan hanteer nie’? Om ‘n geliefde skielik te verloor? Om ‘n onverwagte siekte te kry? Om jou volwasse kind met twee kleuters in jou skoon en rustige huis nadat jy jare lank ‘n leë nes gehad het, te laat intrek? ‘n Streng dieet volg omdat jou lewe daarvan afhang? Om jouself op ‘n begroting te plaas sodat jy jou huis se paaiemente kan bybring? Om skielik na ‘n sieklike, bejaarde ouer te moet omsien?
Die meeste mense het een of ander soort situasie wat vir hulle onmoontlik lyk; iets wat hulle onseker is of hulle dit sal kan hanteer. Die waarheid is dat alhoewel sommige situasies vir jou uiters ongewens of uitdagend kan wees, God sê dat jy dit wat jy in die lewe moet doen, kan doen. Hy sê nie dat alles maklik sal wees nie; Hy belowe nie dat jy elke klein dingetjie wat jy doen gaan geniet nie, maar jy kan die lewe te midde daarvan, geniet.
Hoe doen jy dit? Deur die krag van Christus. Wanneer jy geld nodig het, onttrek jy geld uit jou bankrekening uit. Wanneer jou kar leeg is, maak jy ‘n onttrekking by die petrolstasie. Wanneer die lewe dus oorweldigend raak, bid en maak ‘n onttrekking uit God se genade, liefde, krag, mag en leiding.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 12:15-21; Ps 97; Spr 12:1-3
2023-05-23
Hooglied 8:7 NLV
Julle moet openhartig met mekaar wees. Julle moet deursigtig, sensitief, vatbaar en gewillig wees om mekaar te vertrou. Stop en dink hoe jy voel wanneer die dokter jou ‘n inspuiting moet gee. Jou eerste reaksie is om jou spiere saam te trek, nie waar nie? So trek ons harte ook na die pyn van verwerping, verraad, of verwaarlosing, saam. Dis ‘n refleksmeganisme van die siel; ‘n manier om onsself onbewustelik te beskerm. Dis ‘n goeie eienskap, behalwe in die huwelik.
As jy nie hierdie meganisme afskakel nie, sal jy jou siel toemaak. Dit is die toestand waar jy vir die persoon lief is en elke aand huis toe na hulle toe kom, maar jy is skrikkerig en nie meer in die oomblik teenwoordig nie. Jy het jouself afgesluit, uit vrees vir teleurstelling en seerkry.
Die huwelik is ‘n oop verbond wat deur fisiese intimiteit voltrek word, wat alle hindernisse verwyder en die vreugde dat daar niks tussen julle is nie, vier. Dis moeilik om sulke intimiteit emosioneel en fisies te bereik en te handhaaf, wanneer jy verraad en teleurstelling ervaar het.
Daar is egter goeie nuus. Die sentrale tema van die Bybel is opstanding; dat dit wat dood is weer kan lewe. Indien jy dus daardie nabyheid verloor het, kan jy dit terugkry as jy gewillig is om jou siel te ontspan en jou hart vir die ander persoon oop te maak. Salomo skryf: ‘…Liefde … brand soos ‘n vuurvlam wat alles verteer. ‘n Stroom water kan die liefde nie blus nie. Riviere kan dit nie wegspoel nie…’ (verse 6-7 NLV). As jy God se hulp vra en gewillig is om daaraan te werk, kan jy jou liefde weer laat opvlam en jou huwelik herbou.
Sielskos: Heb 5-8; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 11:30-31
2023-05-22
Psalm 127:1 NLV
Jy moet gewillig wees om die ander persoon te vergewe. Dit maak jou weerloos wanneer jy iemand liefhet. Wanneer jy vir iemand jou hart gee, mag hulle dit dalk breek. ‘n Vreemdeling of toevallige kennis kan iets vir jou sê wat soos water van ‘n eend se rug van jou afrol. Wanneer jou maat egter dieselfde ding vir jou sê, kan dit gevoelens van woede en wrokkigheid by jou laat opkom.
Niemand bly aan iemand anders getroud sonder dat daar vergifnis by betrokke is nie. Dink daaroor: Jou verhouding met God behels dat jy sy vergifnis nodig het, daarvoor vra en dit ontvang. Jesus het ons geleer om as volg te bid: ‘En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het.’ Dan verduidelik Hy verder: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe’ (Matteus 6:12,14 NLV).
Wanneer jy voortdurend voel dat jou maat jou as vanselfsprekend aanvaar, kan dit opbou en in ‘n argument ontplof. As jy nie vergifnis in die klein dingetjies kan betoon nie, sal dit baie moeilik wees om gedurende krisistye genade te bewys en te ontvang. Die kuns van vergifnis beteken om volmaaktheid en prestasie te laat gaan en om genade en dankbaarheid aan te gryp.
Wanneer die Bybel sê dat ‘n man sy vader en moeder (insluitend sy kultuur, agtergrond en familietaal), moet agterlaat en hom by sy vrou voeg (om ‘n nuwe kultuur, agtergrond en familietaal te ontwikkel), begin hulle hulself aan mekaar verbind en word hulle tot een liggaam verenig (sien Matteus 19:5 NLV). Hierdie verbintenis verg egter baie tyd en werk. Dit beteken ook dat jy op dit wat goed is in jou maat moet fokus en die res moet vergewe.
Sielskos: Heb 1-4; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29
2023-05-21
1 Petrus 3:7 NLV
Tweedens, moet julle na mekaar luister. Dit verg tyd, geduld en gefokusde aandag. Te veel paartjies gee vir mekaar ‘n monoloog, sonder om ruimte vir ware dialoog te laat. Dis waar huweliksberading effektief is. Dit forseer beide van julle om mekaar se taal te interpreteer, mekaar se gevoelens te verstaan en mekaar se behoeftes te ontdek.
Wanneer ‘n huwelik verbrokkel, is paartjies dikwels so besig om hulle eie punt te probeer maak en die geveg te wen, dat hulle nie na oplossings luister of plek vir onderhandeling het nie. Skei sal minder algemeen wees as ons met oop harte, in plaas van geslote gedagtes, luister. Jesus het opgemerk dat die wet van Moses mense toelaat om te skei as ‘…. ‘n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte…’ (Matteus 19:8 NLV). Dit beteken dat hulle harte nie tot die vlak van verstaan en plek vir onderhandeling om die verhouding te laat werk, sou smelt nie.
Sommige paartjies vind dit eenvoudiger om vir mekaar briewe oor hulle gevoelens te skryf, soos hulle leer om op ‘n dieper vlak te kommunikeer. Beraders gebruik ook hierdie tegniek, wat wonders kan verrig. Deur jou gevoelens op papier neer te pen voor jy hulle uitdruk, kan jy jouself afvra: ‘Is dit hoe ek regtig voel? Is dit hoe ek my gevoelens wil uitdruk? Sê ek te veel? Sê ek te min?’ Dit mag dalk katarties vir jou wees om by jou maat af te pak, maar wat as dit hom of haar begrawe?
Hierdie is ‘n paar van die vrae wat jy moet vra om jou huwelik te herbou. As julle beide aanhou bid en julle harte oopmaak, sal God julle help om dit te doen.
Sielskos: Josua 1; Hand 3:1-21
2023-05-20
Matteus 7:27 NLV
Deesdae eindig omtrent 50 persent van alle nuwe huwelike in die skeihof op. Dis ongelukkig waar, of jy ‘n Christen is of nie. Soms is die redes daarvoor omstandighede, soos werkloosheid of om die huis te verloor. Ander kere is dit verhoudingsprobleme, soos vertrouensverraad of ‘n verslawing aan dwelms of alkohol.
As jy daaraan toegewyd is om jou huwelik te herbou, sal julle moet leer hoe om weer by mekaar aanklank te vind en daaraan werk om dit wat julle eens gehad het, te herstel. Om dit te doen, moet julle beide bereid wees om die proses aan die gang te sit en julself op die langtermyn daaraan verbind. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na vier sleutelareas.
Eerstens, moet jy die ander persoon ken. Dis ‘n fout om jou eggenoot te probeer uitpluis, hulle in ‘n boks te sit en hulle vir die res van hulle lewens so te etiketteer. Om iemand te ken is ‘n deurlopende kuns, nie ‘n statiese wetenskap met onveranderlike data nie. Jy moet jou maat as ‘n raaisel wat voortdurende ondersoek en lewenslange leer vereis, beskou. Die Bybel sê: ‘…behandel julle vroue [en mans] met respek…’ (1 Petrus 3:7 NLV).
Jy moet met nuwe oë na jou eggenoot kyk om jou huwelik te herbou. Hulle mag dalk nie wees wie jy aangeneem het hulle is nie – maar jy is ook nie. Jy moet dus spasie vir beide van julle toelaat om te ontwikkel. Maak seker om God ook by die proses in te sluit. Jesus het gesê dat ‘n huis wat op die vaste fondament van God se Woord gebou is, sterk in die storm sal staan terwyl ander uitmekaar val (sien Matteus 7:24-27). Begin dus vandag die proses deur jouself – en mekaar – weer aan God toe te wy.
Sielskos: Jona 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26