2023-07-16
Genesis 13:12 NLV
Jesus het gesê: ‘Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink’ (Matteus 18:6 NLV). Ingesluit in hierdie woorde is ‘n sobere uitdaging aan elke ouer: Jou morele gesag hang nie van jou kennis nie, maar van jou leefstyl en jou integriteit af. Soos jou kinders groter word, is hulle minder geneig om te luister na wat jy sê en meer geneig om dit wat jy doen, te na-aap.
Waarheen lei jou voetspore dus? Onthou jy vir Abraham en Lot? Hulle het dieselfde familie, dieselfde geloof en dieselfde geleenthede in die lewe gedeel. Toe dit egter by kinders grootmaak kom, het Abraham rose en Lot onkruid gekweek. Wat het die verskil gemaak? Abraham het God gevolg terwyl Lot sy eie selfsugtige belange gevolg het. ‘…Lot [het] sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan tot by Sodom.’ Voor dat dit verby was, het Lot sy morele gesag teenoor sy familie verloor. As ouer, waar slaan jy jou tent op?
Koning Dawid het ook sy morele gesag teenoor sy familie verloor. Selfs al het God sy owerspel met Batseba vergewe en hom toegelaat om op die troon te bly, het sy sonde ‘n verskriklike tol geëis. Sy seun Amnon het sy suster Tamar verkrag. Sy ander seun, Absalom, het die troon gesteel en sy seun Salomo se vrouens het hom tot afgodery gelei. Die profeet Natan het vir hom gesê: ‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellendes oor jou bring…’ (2 Samuel 12:11 NLV).
Jy het net een kans om dit reg te doen, volg dus vir God en neem jou kinders saam met jou.
Sielskos: Rut 1:3-18; Hand 8:26-40
2023-07-14
Johannes 10:10 NLV
Jou longe het suurstof nodig om te floreer, jou liggaam het kos nodig om te floreer en jou siel het vreugde nodig om te floreer. Hoe weet jy wanneer iemand van vreugde ontneem is? Deur hoe hulle lyk en deur wat hulle sê.
Een Bybelonderwyser sê: ‘Toe ek begin om Johannes 10:10 te verstaan, het ek besef dat die vyand my mislei het om te dink dat dit nie belangrik is om dinge te geniet nie. Ek het begin glo – verkeerdelik, natuurlik – dat wanneer ek besig was om pret te hê, was iets verkeerd en het ek vir seker nie hard genoeg gewerk nie! Ek het nooit gesien dat my pa die lewe geniet nie, dus het ek grootgeword met die idee dat daar iets daarmee verkeerd moet wees. Ek kan onthou dat daar vir my gesê is om stil te bly wanneer ek hardop gelag het. Die sewentiende-eeuse skrywer, Madame Guyon, het gesê dat die hoogste roeping van elke kind van God is om God te geniet. Ek onthou hoe ‘n swaar las van my skouers gelig is die eerste keer wat ek dit gelees het. Ek het so hard gewerk om God te probeer behaag dat die gedagte om Hom eenvoudig te geniet glad nie by my opgekom het nie. Ek het van so iets nog nooit gehoor nie!’
Kan jy jouself hiermee vereenselwig? Indien dit die geval is, is dit tyd om ‘n paar veranderinge in jou lewe te maak. Neem tyd vir jouself sonder om skuldig te voel; jy sal baie meer produktief wees wanneer jy uitgerus en verfris is. Ontspanning is noodsaaklik om in balans te bly. Ons lewe in ‘n gedrewe samelewing vol stres, maar jy kan verander; jy kan vreugdevol wees as jy kies om te wees.
Sielskos: Jer 51-52; Matt 26:14-25; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30
2023-07-13
2 Timoteus 4:16 NLV
Wat is die regte manier om eensaamheid te hanteer?
1) Leer om alleen te wees sonder om eensaam te voel. Jesus het dikwels die skare agtergelaat om tyd alleen saam met sy Vader in gebed te bestee. Hoekom? Omdat Hy geweet het dat afsondering noodsaaklik vir geestelike groei is. Na daardie tye van afsondering was Hy verryk en beter toegerus om die uitdagings van die lewe te hanteer. Die Bybel sê: ‘[Jakob] het alleen agtergebly. Dáár kom hy ‘n man teë wat tot dagbreek met hom worstel’ (Genesis 32:24 NLV). Hy het as ‘n man met ‘n nuwe naam, ‘n nuwe aard, ‘n nuwe manier van stap en ‘n nuwe toekoms uit daardie tyd wat hy alleen met God bestee het, gestap. Wanneer mense besef dat jy jou gunsteling ete, fliek of ander aktiwiteit alleen kan geniet, word hulle deur jou krag, onafhanklikheid en selfvertroue aangetrek.
2) Verwerp die idee dat jy nie sonder ‘n sekere persoon kan leef nie. God is die enigste persoon wat jy moet hê en Hy het beloof om altyd by jou te wees (sien Hebreërs 13:5). Ons verval dikwels in depressie na die dood van ‘n geliefde, omdat ons nie ‘n lewe buite die verhouding ontwikkel het nie. Dis egter nooit te laat om te begin nie. God sal jou daarmee help. Paulus het geskryf: ‘Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die heidene dit kan hoor…’ (2 Timoteus 4:16-17 NLV). God sal jou help om oor jou verlies te rou en dan aan te beweeg vir dit wat Hy volgende vir jou in gedagte het.
Sielskos: Jer 49-50; Matt 26:1-13; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26
2023-07-11
1 Korintiërs 16:13 NLV
Soms ervaar jy meer probleme wanneer jy ‘n Christen word as daar voor. ‘Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens verskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het’ (Hebreërs 10:32 NLV). Kyk na Christus se lewe. “Ná Jesus se doop… gaan die hemele toe vir Hom oop… Daar kom toe ‘n stem uit die hemel wat sê: ‘Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart'” (Matteus 3:16-17 NLV). Dan lees ons: ‘Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel op die proef gestel te word’ (Matteus 4:1 NLV). Eerste die roeping, dan die konflik. Dis hoe dit nog steeds werk!
Toe Paulus tot die bediening geroep is, is aan hom ‘…’n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty’ (2 Korintiërs 12:7 NLV). Wanneer jy dus vir God ja sê, moet jy daarop voorbereid wees om aangeval te word. Satan val dit wat hy vrees aan en hy vrees God se plan vir jou lewe. Die enigste veilige plek is dus om in die middelpunt van God se wil te bly.
Toe Noag besig was om die ark te bou, kon hy ‘n honderd jaar van bespotting weerstaan, maar toe die werk klaar was, het hy dronk geword en homself in die skande gesteek. Paulus skryf: ‘Al hierdie dinge… is neergeskryf om ons te waarsku… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – wees op en wakker!
Sielskos: Jer 41-44; Matt 25:14-30; Ps 79; Spr 15:18-21
2023-07-10
1 Johannes 2:1 NLV
Op daardie dae wat jy wonder hoe God vir jou kan lief wees, lees die volgende woorde: ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.’ Wanneer jou gedagtes die verkeerde rigting inslaan en jou optrede allesbehalwe Christelik is, herinner jouself: ‘…Hy leef vir altyd om [ons] saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV). Dit werk as volg: Wanneer God se wet jou skuldig verklaar, tree Jesus in en sê: ‘Vader, Ek tree namens hierdie persoon op; hulle vertrou op my bloed wat gegiet is en my regverdigheid is na hulle toe oorgedra.’
Probeer jouself die volgende indink: In die Ou Testamentiese tabernakel is die bloed van ‘n lam bo-op die versoendeksel uitgegooi en die verbondsark wat die gebroke wet bevat het – die rekord van ons skuld – is daaronder geplaas. Die enigste manier waarop God dus die gebroke wet kon sien – was deur die bloed. Dis dieselfde vandag! As jy wonder hoekom God aanhou om jou lief te hê, jou te aanvaar en jou te seën, is dit omdat Jesus jou advokaat is!
Let op: 1) Hy is ten volle gekwalifiseerd om jou te verteenwoordig. ‘…Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart’ (Matteus 3:17 NLV). 2) Hy het nog nooit ‘n saak verloor nie. ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos…’ (Hebreërs 7:25 NLV). 3) Hy bied sy dienste gratis aan. ‘…sonder prys en geld’ (Jesaja 55:1 NLV).
Die Bybel sê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Jesus is jou advokaat, dus kan jy vandag met vrymoedigheid na God toe gaan.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 25:1-13; Ps 137; Spr 15:15-17
2023-07-09
Markus 9:23 NLV
Mense sonder beperkinge weier om dinge soos hulle is te aanvaar, omdat hulle dinge sien soos dit kan wees. In plaas daarvan om te sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie,’ staan hulle in geloof op en sê: ‘Alle dinge is moontlik vir hom wat glo.’ Mense sonder beperkinge begaan ook foute en het mislukkings. Die verskil is dat hulle in geloof tot by die krans se afgrond stap, met die wete dat een van twee dinge sal gebeur wanneer hulle daar kom. God sal of soliede grond onder hulle voete plaas, of Hy sal hulle leer om te vlieg.
Die skrywer van die boek Hebreërs beskryf sulke mense as volg: ‘Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat staan’ (Hebreërs 11:33-34 NLV). Hierdie mense was swak aan die begin, maar hulle het sterk geword. Hoe? ‘Deur te glo.’ Hulle besit die soort geloof wat struikelblokke en teenstand verontagsaam en verklaar: ‘Ek is wat God sê ek is, ek het wat God sê ek het, en ek kan doen wat God sê ek kan.’
Daar is ‘n verhaal van ‘n ou Skotse voorman wat hard gewerk het en dieselfde van sy werkers verwag het. Een dag het een van hulle gesê: ‘Jock, besef jy dat Rome nie in een dag gebou is nie?’ Glimlaggend het Jock geantwoord: ‘Ja, maar ek was nie die voorman daar nie.’ Vra God vandag om jou te help om bo jou vrese uit te styg en jou ‘n persoon sonder beperkinge te maak.
Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:4-42