2023-07-22
1 Tessalonisense 2:7 AFR83
Stootskrapers is goed daarmee om goed af te breek, maar hulle is nutteloos om goed te bou. Met hierdie prentjie in jou gedagtes, vra jouself: ‘Gebruik ek die krag van my persoonlikheid en die mag van my posisie om my wil op mense af te dwing en hulle sover te kry om dinge op my manier te doen?’ As die antwoord ja is, moet jy die volgende verstaan: Diegene wat die meeste in beheer probeer wees, is dikwels die bangste om beheer te word!
Wat is jy bang sal gebeur as jy ander mense met respek hanteer en hulle insette, idees en keuses oorweeg? Is vrees en intimidasie die enigste manier waaraan jy kan dink om aan verhoudings vas te klou? Sal jy nie eerder die liefde van ander mense wil verdien deur bedagsaam eerder as wreed te wees nie, of is jy bereid om met vreesbevange onderwerping tevrede te wees?
Probeer vir die volgende week om niemand te kritiseer of hulle reg om te kies by hulle te steel nie. Hou aan om jouself hiermee uit te daag vir solank as wat dit neem om jou oorheersende houding onder beheer te kry. Paulus was produktief genoeg om die sendingbriewe te skryf en kragtig genoeg om die dooies op te wek, maar hy het gesê: ‘…Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel’ (vers 7 NLV).
Wanneer mense foute maak, het Paulus gesê: ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – probeer om meer liefdevol en sag te wees.
Sielskos: Hand 12-13; Matt 27:27-32; Ps 14; Spr 16:6-7
2023-07-21
Psalm 119:97 NLV
Andrew Murray het geskryf: ‘Daar is ‘n direkte verband tussen hoeveel sukses jy in die lewe behaal en hoeveel tyd jy bestee om op God se Woord te mediteer.’ God het vir Josua gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV).
Ons lewe in ‘n wêreld met ‘n vinnige pas. Ons het altyd geglo dat wanneer ons meer materiële dinge besit, ons gelukkiger sal voel. Dit werk egter nie. Hoe meer besittings ons bekom, hoe meer het ons om te beskerm, te verseker, in stand te hou en oor te stres. Jesus het gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).
Wat is dus die antwoord? ‘…Deur berou en tot rus te kom, sal julle gered word. Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word…’ (Jesaja 30:15 NLV). Merrill F. Unger skryf in Pathways to Power: ‘Hierdie heilige oefening om die Woord te oordink, dit te kou soos ‘n dier sy kos herkou om die soetheid en voedsaamheid daaruit te kry, neem tyd, wat sleg by die spoed van ons moderne tyd inpas. Vandag is die meeste Christene se Bybelstudie te haastig, hulle lewens te gejaag.’
Die Psalmdigter Dawid het gesê: ‘As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande’ (Psalm 63:7-9 NLV). Beweeg stadiger. Neem tyd om oor God se Woord te mediteer. Jou oorlewing, krag en sukses hang daarvan af.
Sielskos: Hand 10-11; Matt 27:11-26; Ps 146; Spr 16:4-5
2023-07-20
Eksodus 18:17-18 NLV
Voel jy of daar nie genoeg van jou is om alles te doen nie? Asof jy op die rand van die krans staan en op die punt is om oor die afgrond te gaan? Miskien is die rede daarvoor dat jy baie meer doen as wat God bedoel het jy moet doen. Jy sien, wanneer God sy doel vir jou lewe openbaar, gee Hy ook vir jou sy krag om dit uit te voer.
Gewoonlik is dit eenvoudig. Een van die sekerste maniere om te weet dat jy in God se wil wandel is dat jy gelei en nie aangedryf sal voel nie. Rus jy minder en werk jy meer? Lees jy jou Bybel en bid jy minder en bekommer jou meer? Miskien hardloop jy soos Moses van een afspraak na die volgende: jy eet in die verbygaan, haal spertye en probeer om almal se probleme op te los terwyl jou eie ophoop.
Ander mense mag dalk daarmee beïndruk wees, maar Moses se skoonpa, Jetro, was nie. ‘…Hoekom doen jy alles self?..’ (vers 14 NLV). Moses het probeer om sy skedule te regverdig, maar Jetro het nie daarvoor geval nie. Hy het vir Moses gesê: ‘…Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy… sal die pas nie kan volhou nie…’ Wat het hy vir Moses gesê om te doen? Om die las met ander mense te deel! ‘…Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra… [dan] sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees’ (verse 22-23 NLV).
Wanneer het ‘n bloeiende maagseer ‘n teken van geestelikheid, of ‘n sewentig-uur werksweek die teken van doeltreffendheid geword? Wees eerlik: Is jy te hardkoppig om stadiger te beweeg, te onseker om nee te sê, of te trots om vir hulp te vra? Indien dit die geval is, praat met God daaroor.
Sielskos: Hand 8-9; Matt 27:1-10; Ps 140; Spr 16:3
2023-07-19
1 Korintiërs 10:12 NLV
Die tyd om versigtig te wees is nadat jy jou doelwitte bereik het en jy besig is om jou oorwinnings te vier. Daar is drie deurslaggewende punte in elke stryd en glo dit of nie, die maklikste een is soms die geveg self. Die moeilikste punt is die tydperk van besluiteloosheid reg voor die konflik – om te bly staan en te veg of weg te hardloop – die stryd tussen geloof en vrees. Die gevaarlikste tyd is egter by verre die nasleep. Wanneer jou hulpbronne op is en jy gerus begin raak, moet jy op die uitkyk vir dinge soos oormoed, dowwe reaksies en foutiewe oordeel wees.
Onthou jy koning Dawid se verhaal? ‘Die volgende lente, die tyd dat konings gaan veg, het Dawid… in Jerusalem agtergebly. Laat een namiddag… het Dawid… ‘n besonder mooi vrou wat besig was om te bad [gesien]… Dawid het haar laat haal…’ (2 Samuel 11:1-2, 4 NLV). Dawid het gekies om tuis te bly eerder as om te gaan veg. Wie weet hoekom hy so besluit het? Miskien het sy indrukwekkende oorwinnings hom sag gemaak, of hy het agtelosig geraak, of hy het arrogant geraak. Dit was slegs ‘n kortstondige verhouding, maar dit het alles verander. Sy vrede het verdwyn, sy karakter was verwoes en sy familielewe was vernietig.
Moenie die gevaar loop om as gevolg van jou vorige oorwinnings jou skanse te laat sak nie. Om op jou louere te rus is sinoniem daarmee om met rampspoed te flankeer. Moeilikheid wag op die man of vrou wat in die gemaklike land van vervulde drome woon. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie.’
Sielskos: Hand 6-7; Matt 26:57-75; Ps 133; Spr 16:2
2023-07-18
Galasiërs 1:15 NLV
Jy sal agterkom in die Skrif dat God gewoonlik besige mense roep. Moses die skaapwagter was besig om na sy trop om te sien. Gideon die boer was besig om sy landerye te oes. Petrus en Johannes die vissermanne was besig om hulle nette reg te maak. Daar was egter iets binne-in elkeen van hulle wat op God se roeping gereageer het.
Beskikbaarheid beteken vir God meer as vaardigheid. Wees dus getrou en koester die droom wat Hy in jou hart geplaas het en wanneer die tyd reg is, sal Hy alles in plek sit. Die Psalmdigter het gesê: ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (Psalm 37:4 NLV). Moenie ongeduldig wees nie. As God die begeerte in jou hart geplaas het, sal Hy alles voorsien wat jy nodig het om dit te vervul.
Jesus het gesê: ‘Dit is die Gees wat lewend maak, die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV). Gebruik dus God se Woord en bestee tyd in gebed saam met Hom om jou visie tot vervulling te bring. As enigiemand tussen jou en God se roeping vir jou probeer kom, sê vir hulle: ‘Jammer, ek moet gaan. My lotsbestemming is te belangrik om mis te loop.’
Moenie nog ‘n dag mors om met God se roeping vir jou lewe te worstel nie; gee jouself net aan Hom oor! Hy het jou nie weens jou groot prestasies, groot intellek of groot gawes geroep nie. Die Bybel sê: ‘…Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword’ (Romeine 5:20 NLV). Jy is deur ‘sy onverdiende goedheid geroep.’
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Matt 26:47-56; Ps 123; Spr 16:1
2023-07-17
Psalm 42:2 NLV
Vind jy dit moeilik om God se werke te verstaan? Ons almal sukkel daarmee. Selfs al kan ons terugkyk en sien hoe sy hand van seën en leiding in die verlede op ons was, voel ons by tye steeds bang en alleen. Jesus het self uitgeroep: ‘…My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Matteus 27:46 NLV). Daardie woorde kan as volg geïnterpreteer word: ‘Ek mag dalk nie verstaan wat op die oomblik gebeur nie, maar ek weet dat U steeds my God is.’ Wat ‘n gerusstelling!
Het jy al ooit gesien hoe ‘n kind ‘n ouer se hand vat en sê: ‘Ma/Pa stap te vinnig vir my!’ Die kind is bang om te verdwaal of agtergelaat te word. Is dit hoe jy vandag voel? Asof jy nie kan byhou nie? Dat die lewe heeltemal te vinnig beweeg? Die Bybel sê: ‘Soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God’ (Psalm 42:2 NLV). Jy ‘smag’ nie na iets tensy jy dit waardeer en dit nodig het nie. Slegs rou behoefte sal veroorsaak dat jy van elke ander sigbare middel van ondersteuning wegdraai en God najaag, omdat jy weet dat jy dit nie sonder Hom sal maak nie.
Drie dinge gebeur wanneer jy God met jou hele hart najaag:
1) Jy betree die koninkryk waar alle dinge moontlik is (sien Markus 10:27 NVL).
2) Jy begin om meer soos Christus te wees, omdat jy soos die geselskap wat jy hou, word (sien 2 Korintiërs 3:18).
3) Jy leer dat jy slegs sekere vlakke van seën bereik wanneer jy God ywerig soek (sien Hebreërs 11:6).
Is jy moeg vir menslike antwoorde? Het jy meer as net goeie raad nodig? Sluit jouself vandag by God toe en laat Hom toe om met jou te praat.
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Matt 26:36-46; Ps 118:19-29; Spr 15:33