Berei jouself voor

2023-05-31
Daniël 1:8 AFR83

Gaan jy voort om dinge te doen wat jy nie wil doen nie en gee jy jouself aan gedagtes wat jou verlei oor? Word jy voortdurend deur dieselfde ou versoekings oorval? Hier is die slegte nuus: Die wedergeboorte doen nie weg met jou ou natuur nie; dit verskerp eintlik die stryd tussen jou vlees en jou gees. Hier is die goeie nuus: Jy kan in oorwinning lewe! Hoe?

1) Deur gebed. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’ (Matteus 26:41 NLV). As jy moeg is daarvoor om vir vergifnis te bid nadat jy misluk het, begin voor die versoeking bid. Nee, jy kan nie versoeking wegbid nie, maar jy kan jouself voorberei om dit te oorkom. As jy hulp nodig het, roep versterkings in. Kry iemand wat weet hoe om saam met jou in gebed te staan. Die Bybel sê: ‘Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer’ (Prediker 4:9 NLV).

2) Deur jou besluit te maak. ‘Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie…’ Die manier om jou impulse te onderdruk, is om jou wil vooraf te aktiveer. Wanneer jy dit doen, bemagtig God jou deur sy Gees. Waar het Daniël se doelgerigtheid vandaan gekom? Van God af. Hy het drie keer elke dag gebid (sien Daniël 6:11). Moenie jouself in moeilike situasies laat beland nie. Toe Potifar se vrou probeer het om vir Josef te verlei, het hy ‘…uit die huis gehardloop’ (Genesis 39:12 NLV). Beide Josef en Daniël het gebid en hulself voorgeneem wat hul sou doen voor versoeking aan hulle deur geklop het. Jy moet dit ook doen.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 13:36-46; Ps 127;
Spr 12:15-17

Weier om in vrees te leef (4)

2023-05-30
Romeine 8:31 NLV

Om vrees te oorkom, moet jy glo dat God by jou is. Dis die sleutel tot jou vermoë om dit wat Hy vir jou sê om te doen, te gehoorsaam. Soos jy vol vertroue raak dat Hy by jou is, sal jou vrees verminder. Toe Dawid aangebied het om teen Goliat te veg, het koning Saul vir hom gesê: ‘…Jy kan tog nie teen die Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar ‘n seun, terwyl hy van jongs af ‘n vegter is!’ (1 Samuel 17:33 NLV). Dawid het geantwoord: ‘Die Here… sal my ook red van hierdie Filistyn!’ (vers 37 NLV). Jy is nie alleen in hierdie stryd nie; die Here is by jou. Wanneer jy oortuig is daarvan, sal jou vrees afneem.

Jy mag dalk nie altyd weet wat God gaan doen nie, maar jy kan ontspan in die wete dat Hy op die regte tyd sal doen wat nodig is. Wanneer jy aan die toekoms en al die dinge wat onbekend is dink, is dit maklik om bang te voel. Jy kan dit egter op een van twee maniere sien. Jy kan of pessimisties en vol vrees wees, of jy kan vir jouself sê: ‘Die geveg is die Here s’n en Hy het nog nooit ‘n geveg verloor nie!’

Jy mag dalk nie altyd weet wat om in ‘n gespanne situasie te doen nie, maar God weet. Hy weet alles nog voor dit gebeur het en Hy het vooruit beplan om jou daaruit te red. Sit net een voet voor die ander, vol vertroue dat Hy jou lei. Jy hoef nie God te sien of sy teenwoordigheid aan te voel om te glo dat Hy by jou is nie. Geloof is ‘n saak van die hart en nie van die natuurlike sintuie nie. God is by jou! Glo dit en weier om in vrees te leef.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 13:24-35; Ps 108; Spr 12:14

Weier om in vrees te leef (3)

2023-05-29
1 Johannes 4:18 NLV

Wanneer God vir jou sê om nie te vrees nie, sê Hy inderwaarheid dat jy wel vrees gaan ervaar, maar dat jy dit kan oorwin. Jy kan ten spyte daarvan optree. Die Bybel sê: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie…’ Ons dink soms foutiewelik dat hierdie teks beteken dat as ons God waarlik liefhet, sal ons nie vrees nie. Nee, die enigste ware en perfekte liefde is God se liefde vir jou. Dis onvoorwaardelike liefde.

Die wete dat Hy altyd lief is vir jou, saam met jou stap, jou verdedig, jou ondersteun en beloof om jou in alles wat jy doen te seën, is wat die vrees laat verdwyn. Dit versterk ook jou geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Wanneer jy weet dat God tevrede is met jou, begin jy bo jou vrese uitstyg. Wanneer vrees aan jou deur kom klop en jou gevul met geloof aantref, kan dit nie binnekom nie.

Dis hoekom jy deurlopend op God se Woord moet mediteer en jou gesprekke met geloof moet vul. Die Bybel sê: ‘want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV). Hoe het jy geleer om te loop? Deur elke keer weer op te staan wanneer jy geval het, totdat jy dit uiteindelik bemeester het. Wanneer jy jou gedagtes daarop instel om vrees te beveg deur woorde van geloof te spreek, sal die Heilige Gees jou te hulp kom en jou versterk. Soos een predikant sê: ‘Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar vooruitgang in vrees se teenwoordigheid.’ Hou dus net aan om vorentoe te beweeg en jy sal daar uitkom!

Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 13:10-23; Ps 101; Spr 12:12-13

Weier om in vrees te leef (2)

2023-05-28
Psalm 118:6 NLV

God het vir jou ‘n lewe van groei, avontuur en versnelling gegee. Jy moet egter dapper treë in geloof neem. Jy kan dit egter nie doen as jy tevrede daarmee is om in jou ‘veilige sone’ te bly nie. Selfs wanneer jy bang voel, moenie toelaat dat dit jou keer nie! Voel die vrees en doen dit in elk geval! Jy vra: ‘Gaan ek ooit ophou bang voel?’ Ja, wanneer jy in die hemel kom.

Om vrees te voel is deel van die lewe. Jy sal vrees ervaar wanneer jy iets vir die eerste keer doen, of wanneer die struikelblokke in jou pad onoorkombaar lyk, of wanneer jy voel jou hulpbronne is nie genoeg vir die uitdaging nie. Dit beteken nie jy is ‘n lafaard nie; dit beteken eenvoudig dat jy menslik is. Jy is net lafhartig wanneer jy toelaat dat jou vrese jou optrede en besluite beheer.

Om vrees te voel is eenvoudig die versoeking om te vlug van dit wat jy moet konfronteer. Om vrees te voel is nie dieselfde as om vreesagtig te wees nie, want om vreesagtig te wees beteken dat jy toelaat dat vrees beheer oor jou neem. Jy kan byvoorbeeld woede voel, maar kies om nie daarvolgens op te tree nie en eerder met vergifnis en liefde reageer. Op dieselfde manier kan jy vrees voel en nie jou besluite daarop baseer nie. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’

Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp, daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Staan dus vandag op God se Woord en verklaar: ‘Ek sal nie in vrees leef nie.’

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Weier om in vrees te leef (1)

2023-05-27
1 Johannes 4:18 NLV

Die rubriekskrywer Ann Landers het ongeveer tienduisend briewe elke maand van lesers wat haar raad gevra het, ontvang. Toe sy gevra is wat die algemeenste probleem in haar lesers se lewens is, het sy gesê: ‘Vrees! Mense is bang hulle verloor hulle gesondheid, hulle geld en hulle geliefdes. Mense is bang vir die lewe self.’

Indien jy dit toelaat, sal vrees jou beheer. ‘…vrees [is] nog met straf behep…’ en totdat die krag van vrees nie verbreek is nie, sal dit aanhou om jou te straf. Wanneer vrees jou lewe regeer, kan jy niks wat jy doen geniet nie. Jy kan ook nie God se seën geniet nie.

Dr Caroline Leaf sê dat vrees meer as 1400 bekende fisiese en chemiese reaksies veroorsaak en meer as dertig verskillende hormone en neuro-oordragstowwe aktiveer. Dis die wortel van al ons stres. Wanneer vrees ‘n stresreaksie in ons veroorsaak, ‘marineer’ dit as’t ware ons liggame in giftige chemikalieë. Dit is natuurlik baie ongesond en bedreig ons fisiese welstand.

Die vrees om nie deur ander mense aanvaar te word nie, kan veroorsaak dat jy ‘n vals persoonlikheid ontwikkel, wat jou ware self versmoor en dit wat God jou geskep het om te wees, wegsteek. Die vrees vir mislukking sal jou daarvan weerhou om nuwe dinge uit te probeer en jouself uit te daag om meer te doen as waarmee jy gemaklik is. Die vrees vir die toekoms kan veroorsaak dat jy nie jou lewe tans geniet nie.

Vrees kom nie van God af nie. ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verwerp die gees van vrees. Gebruik God se krag, glo dat Hy jou onvoorwaardelik liefhet en begin vandag weier om in vrees te leef.

Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 13:1-9; Ps 128; Spr 12:10-11

Begin sê: ‘Ek kan’

2023-05-26
Psalm 3:3 NLV

Miskien het jy herhaaldelik die woorde: ‘Jy kan nie’ deur jou lewe gehoor. Baie mense hou daarvan om vir ander te vertel wat hulle nie kan doen nie. Dis selfs mense wat jy nie dink teen jou sal wees nie – onderwysers, afrigters, ouers, familielede, vriende en leiers van kerkgroepe – wat dikwels nie die krag van hul woorde oor jong lewens besef nie. Baie van ons het grootgeword met die idee dat ons nie kan nie, wat glad nie waar is nie!

Maak nie saak hoeveel keer iemand al vir jou gesê het: ‘Jy kan nie,’ staan op God se Woord en sê: ‘Ja, ek kan!’ Wonderwerke vind plaas wanneer ons glo dat ons alles deur Christus wat ons krag is, kan doen (sien Filippense 4:13). God glo in jou, nou is die tyd om in jouself te glo. Dis ‘n nuwe dag! Sit die verlede en al sy ontmoedigende opmerkings agter jou.

Woorde wat tot mislukking spreek kom van die Vyand, nie van God af nie, dus moet jy besluit om nie toe te laat dat die krag van: ‘Jy kan nie,’ jou langer affekteer nie. God se Gees, in kontras met die Vyand, moedig jou aan en sal enigiets doen om jou tot sukses in alle areas van jou lewe aan te spoor. God het vir Josua, wat voor die uitdagings van die Beloofde Land te staan gekom het, drie maal gesê: ‘Wees sterk en dapper…’ (Josua 1:6 NLV). Ontmoediging kom van die Vyand, bemoediging kom van God af.

Besluit om saam met God te stem en vir jouself te sê: ‘Ek kan!’ Laat die krag van God se Woord vandag elke negatiewe woord wat al ooit teenoor jou of oor jou gespreek is, domineer.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 12:38-50; Ps 45; Spr 12:7-9