Die haan kraai

2023-06-06
Lukas 22:60 NLV

Die Bybel sê: ‘…Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ‘n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 60-62 NLV).

Voor God ‘n groot opdrag aan jou toevertrou, sal Hy Satan toelaat om jou te toets. Hoekom? Om jou swakpunte te openbaar en jou in daardie areas te versterk. God sal jou toelaat om in ‘n kleiner sfeer te misluk om jou sodoende daarvan te weerhou om in ‘n groter een te faal, waar jy jouself en ander kan seermaak. Een van die wonders van die Christelike lewe is dat Jesus puin kan neem en iets beeldskoon daaruit kan bou. Petrus het beloof om Jesus nooit te ontken nie, maar teen die tyd wat die haan gekraai het, het hy dit reeds drie keer gedoen. Herhaaldelike mislukking!

Kan jy jou daarmee vereenselwig? Jy het gesê dat jy nie jou humeur gaan verloor nie, maar jy het. Jy het gesê dat jy nie voor versoeking gaan swig nie, maar jy het. Wanneer kraai ‘n haan? Vroeg in die more. Dit beteken dat die haan die begin van ‘n splinternuwe dag aankondig. Na sy slegste nag van mislukking, het die son vir Petrus opgekom. Dit sal ook vir jou opkom.

Deur God se genade kan jy jou lewe oor begin. Jy kan vandag jou sondes bely en voortgaan om groot dinge vir die Here te doen. Petrus het uiteindelik ‘n magdom mense vir Christus gewen en die kerk gelei. Dit maak dus nie saak hoe erg jy misluk het nie, God sal jou vergewe, jou herstel en jou treë rig.

Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 15:1-14; Ps 124; Spr 12:26

God roep jou vandag (3)

2023-06-05
Lukas 22:32 NLV

God wil hê dat jy sy wil moet doen, maar jy sal nooit die plek van geestelike volwassenheid bereik waar jy vry van Satan is nie. Jy kan hom oorkom, maar jy kan hom nie elimineer nie. Kyk na Petrus. Hy was altyd in die middel van alles wat aangaan, maar hy was nie altyd op hoogte van alles nie. Die man wat uiteindelik die kerk sou lei, het eers ontken dat hy ‘n dissipel van Jesus is.

Dis nogal skokkend, nè? Niks van ons kan God egter verras nie. Hy het jou nie geroep en gesê: ‘Ek hoop jy is die regte persoon’ nie. Nee, Jesus het vir Petrus gesê: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (vers 31-32 NLV). Is dit nie ‘n wonderlike openbaring nie? Selfs wanneer jy nie weet hoe om vir jouself te bid nie, is Jesus besig om vir jou te bid. ‘…Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV).

Jesus het vir Petrus gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:32 NLV). Die gemors waarin jy jou vandag bevind, kan ‘n bediening vir ander mense word. Nie net kan God jou lewe omdraai nie, Hy kan jou gebruik om die lewens van ander mense ook om te draai. God sou jou nie gesif het as daar nie in die eerste plek iets in jou was wat die moeite werd was om te red nie. Sif is ‘n manier om iets te suiwer, om die puin uit te keer en dit wat oorbly te verfyn. God roep jou vandag. Moenie nog ‘n oomblik mors nie; gee jou lewe aan Hom oor.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 14:22-36; Ps 116; Spr 12:25

God roep jou vandag (2)

2023-06-04
Jeremia 1:5 NLV

Vandag moet jy twee dinge weet: God mors nie enigiets wat Hy geskep het nie en Hy mors nie enigiets wat Hy kan gebruik nie. Voor jy gered is, het God toegelaat dat beide goeie en slegte ervarings jou toerus vir dit wat Hy vir jou in gedagte het. Dit sluit in wie jou ouers is, die plekke waarvandaan hulle gekom het, waar jy skool gegaan het, die beroepe wat jy al gehad het en die opleiding wat jy al ontvang het. Dit sluit ook dinge in wat al by jou geboorte in jou geplaas is, selfs al het dit voorgekom of van daardie dinge teen jou gewerk het soos jy ouer geword het.

Byt jy soos ‘n veghond aan ‘n idee vas? God kan dit gebruik. Hou jy daarvan om deur boeke te blaai en navorsing te doen? God kan dit gebruik. Is jy vinnig om in ‘n konfrontasie met vyande betrokke te raak? God kan dit gebruik. Jy mag dalk vandag voel dat jy op die verkeerde plek is en die verkeerde dinge saam met die verkeerde mense doen. Jy mag dalk wonder hoe jy jouself uit hierdie gat gaan kry en jou lewe gaan omdraai.

Die waarheid is dat jy dit dalk nie kan doen nie, maar God kan! Hy maak wonderwerke uit foute uit. Gee dus vir Hom die dinge in jou lewe wat nie so goed is nie, die dinge waaroor jy nie trots is nie en sê: ‘Here, hier is hulle. Ek wens my lewe was anders, maar dit is nie. Ek wens ek kon dit verander, maar ek kan nie.’ Laat God dan toe om aan die werk te spring.

Sielskos: Joh 5:1-15; Jes 54:9-17

God roep jou vandag (1)

2023-06-03
Romeine 1:1 NLV

God het in die deel van Paulus se agtergrond gekyk wat gevorm is voor hy ‘n Christen geword en ‘n paar baie bruikbare dinge daar gevind. Nie net geestelike dinge nie, ook akademiese en kulturele dinge. Alhoewel Paulus ongekwalifiseerd as gevolg van sy intense haat vir Christene voorgekom het, het sy agtergrond hom eintlik op ‘n unieke manier gekwalifiseer. As ‘n voormalige Fariseër, het hy die Skrif en die ingesteldheid van diegene wat hom sou teëgaan, verstaan. Sy voormalige geestelike blindheid het hom ook deernis vir diegene wat verlore is, gegee. God het beide die goeie en die slegte ervarings in Paulus se lewe gebruik.

Hy kan dieselfde vir jou doen! Dink daaroor: Toe God na ‘n man gesoek het om ‘n vroeë leier in sy kerk te wees, om die teologie van sy kerk neer te skryf, om met godsdiensleiers wat teen sy kerk geargumenteer het te debatteer, om die saak van Christus op akademiese en sosiale arenas te bevorder, om die boodskap al die pad van die laagste persoon op straat tot by die troon van die keiser uit te dra, het God ‘n man gevind wat reeds die nodige kwalifikasies gehad het – en daardie man was Paulus.

God werk as volg: Eers soek Hy jou uit, dan berei Hy jou voor, dan posisioneer Hy jou en dan bemagtig Hy jou om te doen wat Hy weet jy die effektiefste kan doen. God se roeping is die enigste ding wat jou volkome gelukkig kan maak, alhoewel jy dit nie altyd vooraf besef nie. Roep God jou? Is Hy besig om jou voor te berei? Posisioneer Hy jou? Bemagtig Hy jou? Jy sal jou hoogste vlak van vreugde en vervulling in die lewe bereik wanneer jy jouself aan Hom oorgee en ja sê.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 14:13-21; Ps 121; Spr 12:23-24

Jou posisie en jou kondisie

2023-06-02
Romeine 5:9 NLV

Die Bybel sê: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, red van die toekomstige oordeel nie! Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees’ (verse 8-9,11 NLV).

God is lief vir jou en aanvaar jou net soos jy is. Dit word egter beter. Hy sien jou as blaamloos. Hoe? ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Let die woorde ‘ons eenheid met Christus’ op.

Onthou altyd dat daar ‘n verskil tussen jou posisie en jou kondisie is. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, word jy as ‘geregverdig’ voor God geplaas. Jy sê: ‘Maar wat van my kondisie? Ek faal nog steeds.’ Die werk van die inwonende Heilige Gees is om jou kondisie opwaarts na die vlak van jou posisie te beweeg. ‘…Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).

Hoe doen die Heilige Gees dit? Hy bring jou terug na die plek van belydenis waar jy skoon gewas word. Jou posisie in Christus verander nie, maar jou kondisie verander aanhoudend soos jy meer soos Christus word.

Sielskos: 1 Kon 14-15; Matt 14:1-12; Ps 117; Spr 12:20-22

Mensehandel en jy

2023-06-01
Lukas 4:18 NLV

Elke dertig sekondes word ‘n kind of jong persoon ontvoer en vir seks verkoop; amper een miljoen mense elke jaar! Baie word gedwing om tot dertig of veertig ‘kliënte’ elke dag te ontvang. Kan jy jou indink wat die regerings van die wêreld sou doen as ‘n stad met een miljoen mense gevange geneem word en elke dag uitgebuit en mishandel word?

As jy dink dis erg, sal die volgende statistiek jou hart breek en jou tot jou knieë dwing: Slegs 1 persent van diegene wat vir mensehandel ontvoer word, word daaruit gered! Jy sê: ‘Wat van die ander 99 persent?’ Wanneer hulle te oud is om waarde vir hulle koppelaars te hê, of as hulle te siek word om te werk, swanger word of siektes kry, word hulle soos vullis weggegooi. Hulle is die gewondes wat met emosionele en geestelike littekens rondloop en die res van hulle lewens met die gevolge daarvan worstel.

Miskien dink jy: ‘Dis hartseer en skokkend, maar dank die Here dis nie my kinders of kleinkinders nie.’ Jy moet beslis die Here daarvoor dank! As verloste kind van God, het jy egter ‘n verantwoordelikheid om daarvoor om te gee. Jesus het gesê Hy het gekom ‘…dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (vers 18 NLV).

Dit beteken dat jy nie die probleem kan vermy nie, jy moet bewus daarvan wees en tot aksie oorgaan. Eers wanneer genoeg mense hul stemme laat hoor, begin politici optree. Laat dus jou stem hoor! Begin daaroor bid. Ondersteun bedieninge wat daarby betrokke is. Op daardie manier sal jy eendag voor God kan staan en sê: ‘Here, ek het gedoen wat ek kon!’

Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 13:47-58; Ps 82; Spr 12:18-19