Vervulde profesieë

2023-07-28
Jesaja 46:10 NLV

Hoe kan jy seker wees dat die Bybel goddelik geïnspireer is en dus jou vertroue waardig is? Deur vervulde profesieë! Geen ander godsdiens het spesifieke, herhaalde en onfeilbare vervulling van voorspellings wat baie jare vooruit gemaak is, van gebeure waaroor die voorspeller geen beheer gehad het nie. God het hierdie bewyse vir ons voorsien sodat ons kan weet dat die Skrif ‘n goddelike skrywer het: ‘…Ek is God… Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur…’ (verse 9-10 NLV).

Die Bybel se ses-en-sestig boeke, wat tussen 1400 vC en 90 nC geskryf is, bevat ongeveer 3,856 verse wat op profesieë betrekking het. Hier is egter die beste deel daarvan: Meer as 25 persent van die hele Bybel bevat spesifieke profesieë wat reeds letterlik vervul is! Sir Isaac Newton het gesê: ‘Ek vind meer sekere tekens van egtheid in die Bybel as in hoegenaamd enige ander goddelose geskiedenis.’

Jy vra: ‘Hoekom is daar dan mense wat nie in die Bybel glo nie?’ Omdat hulle nog nie hulle harte vir God oopgemaak het nie! Paulus skryf: ‘…niemand [kan] God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het. As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie… Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik. Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ‘n geestelike perspektief verstaan word’ (1 Korintiërs 2:11-14 NLV).

Sielskos: Hand 22-23; Matt 28:11-20; Ps 46; Spr 16:20-22

Moenie daaroor stry nie

2023-07-27
Spreuke 17:14 NLV

Het jy al ooit die plakker gesien wat lees: ‘Mense wat dink hulle weet alles is veral irriterend vir diegene van ons wat wel alles weet’? Jy sal sulke mense wat dink hulle weet alles, orals vind. Ouer mense wat bang is vir nutteloosheid, strewe daarna om te bewys dat hulle nog baie kennis het. Godsdienstige mense gebruik hul oortuigings soos ‘n knuppel om ander oor die kop te slaan. Die Bybel sê: ‘…hou [aan] stry vir die geloofsbelydenis…’ (Judas vers 3 NLV).

Daar is egter ‘n verskil tussen om te stry en om twissoekerig te wees. Paulus skryf: ‘Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie. Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense’ (2 Timoteus 2:23-24 NLV). Let hierdie vier frases op:
1) ‘Moenie twis nie.’ Moenie argumenteer nie, plant net die saad van God se Woord en vertrou die Heilige Gees om in mense se harte te werk.
2) ‘Goedgesind teenoor almal.’ Daar is geen rede om vyandig, vernederend of onaangenaam teenoor iemand wat nie jou mening deel, te wees nie.
3) ‘Doeltreffend te onderrig.’ In plaas daarvan om jou opinie op iemand af te dwing, sê eenvoudig net: ‘Ek het die volgende in God se Woord ontdek en dit het hierdie verskil in my lewe gemaak.’
4). ‘Geduldig wees.’ Eers wanneer jou eie seer genees is, kan God jou gebruik om ander se seer te genees.

Bid dus: ‘Vader, maak my ‘n instrument van vrede sodat mense ontvanklik sal wees vir die waarhede wat U deur my aan hulle openbaar. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Hand 20-21; Matt 28:1-10; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19

Bewys liefde en respek

2023-07-26
Romeine 12:10 NLV

Een van die eerste gevaartekens in ‘n huwelik is wanneer julle mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar.

Dr James Dobson skryf: ‘Een van die beste maniere om ‘n huwelik gesond te hou, is om ‘n sisteem van wedersydse aanspreeklikheid binne die konteks van liefde te onderhou. Laat ek dit as volg illustreer: Veronderstel ek werk twee ure langer as gewoonlik in my kantoor, met die wete dat my vrou, Shirley, besig is om tuis ‘n spesiale kersligete voor te berei. As ek haar nie bel om te laat weet dat ek gaan laat wees nie, kan jy geld daarop wed dat ek dit gaan hoor wanneer ek by die huis kom. Shirley sal my gedrag as beledigend sien – en sy sal reg wees. Wat sy dus in effek sal sê is: ‘Jim, wat jy gedoen het was selfsugtig en ek kan dit nie sommer daar laat nie.’ Met daardie paar woorde en heel waarskynlik nog ‘n paar ander, sal sy in liefde sê wat op haar hart is en my vir my disrespek aanspreeklik hou. Dan sal ons saam van die voorval aanbeweeg. Sommige dinge in ‘n gesonde huwelik moet beskerm word en wedersydse respek is bo aan die lysie. Dit beteken nie jy moet kerm, beledig, jou maat in die publiek verneder of onbeduidende indiskresies wat oorgesien moet word, uitwys nie. ‘n Werkbare stelsel om mekaar in lyn te hou, kan jou huwelik op koers hou wanneer kwessies van respek op die spel is. Hierdie tipe wedersydse aanspreeklikheid is die beste manier wat ek ken om n onverwagte ontploffing, wanneer opgehoopte wrokke en woede ‘n kritieke stadium bereik, te vermy.’

Dus: ‘…julle [moet] mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’

Sielskos: Hand 18-19; Matt 27:57-66; Ps 42:1-5; Spr 16:16

Hulle sal terugkeer daarheen

2023-07-25
Spreuke 22:6 NLV

Plant God se Woord diep in jou kind se hart wanneer hulle begin loop en praat. Dit waarborg nie dat hulle nie die pad byster gaan raak nie. Baie van ons het die verkeerde pad geloop voor ons die regte pad begin volg het. Jy moet egter seker maak dat hulle weet waar die ‘regte pad’ is.

Stel jou voor die salm wat in Noord Kalifornië uitbroei, in ‘n kanaal vrygelaat word wat na ‘n spruit, die spruit na ‘n rivier en die rivier na die Stille Oseaan, lei. Die salm swem duisende kilometers. Dan, asof hy beveel word, begin hy die lang reis terug na die plek waar hy uitgebroei het. Hy vind nie net die plek waar hy in die see ingekom het nie, maar ook die rivier, die spruit en die presiese inlaat waaruit hy vrygelaat is. In een gedokumenteerde storie het ‘n salm homself deur ‘n drein opgewerk en dwarsdeur ‘n stewige deksel bo-op ‘n vertikale pyp van drie voet gedruk, om sodoende in dieselfde tenk te beland waar hy uitgebroei het. Unieke merke op sy vin het bevestig dat dit dieselfde salm was.

‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat jy jou kinders, wanneer hulle jonk is, ‘n voorsmakie van die dinge van God moet gee en wanneer hulle ouer word, sal die wêreld nie hul smaak bevredig nie en sal hulle na hul geestelike wortels terugkeer. Doen getrou jou deel en vertrou God om syne te doen. Jou deel is om hulle te onderrig, lief te hê en vir hulle te bid. God se deel is om hulle terug te trek. Hy sal dit doen, want Hy het hulle selfs liewer as wat jy hulle het!

Sielskos: Hand 16-17; Matt 27:45-56; Ps 1; Spr 16:10-15

Het jy ‘n houding van geregtigheid?

2023-07-24
Galasiërs 5:13 NLV

Voel jy dat die wêreld jou iets skuld? Ons neem aan dat mense ons iets skuld as gevolg van die posisie wat ons in hulle lewens vervul: vrou, man, moeder, dogter, vriend, pastoor, donateur, werknemer, baas ens. Ons dink dat ons posisie ons die reg gee tot watter verwagte voordeel ook al. Paulus beskryf die kern van dissipelskap met die volgende woorde: ‘…julle is geroep om in vryheid te leef… gebruik dit om mekaar met liefde te dien.’ As jy ‘n houding van geregtigheid het, is hier ‘n paar strategieë om dit te oorkom:

1) Verstaan die verskil tussen jou ‘regte’ en jou ‘begeertes.’ Jy het die reg om te verwag dat jou man of vrou getrou aan jou moet wees, maar jy het nie die reg om te verwag dat hulle jou hand en voet moet bedien nie. ‘God het die mensewêreld so liefgehad dat Hy se enigste Seun gegee het…’ (Johannes 3:16 NLV). Ware liefde word gekenmerk deur te gee, nie deur te neem nie.

2) Lewe volgens die Goue Reël (sien Matteus 7:12). Jesus het gesê dat alles wat jy wil hê ander vir jou moet doen, jy die inisiatief moet neem en dit vir hulle begin doen. Jy sê: ‘Maar wat as hulle nie die guns teruggee nie?’ God sal jou in elk geval daarvoor beloon! ‘…Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie’ (Hebreërs 6:10 NLV).

3) Moet nooit aanvaar dat ‘n persoon se vorige vriendelikheid ‘n voortdurende verpligting teenoor jou skep nie. God mag dalk ander mense gebruik om jou te seën, maar Hy moet altyd die bron wees op wie jy vertrou om aan jou behoeftes te voldoen (sien Jakobus 1:17).

Sielskos: Hand 14-15; Matt 27:33-44; Ps 65; Spr 16:8-9

Die kruks van die saak omtrent geld

2023-07-23
Spreuke 13:7 NLV

Die Bybel sê: ‘Sommige mense gee voor hulle is ryk, maar hulle het eintlik niks nie. Ander maak of hulle arm is, maar intussen besit hulle baie’ (vers 7 NLV). Dis ‘n seën om die goed te hê wat geld kan koop, solank as wat jy dit wat geld nie kan koop nie, nie uit die oog verloor nie. Geld kan enigiets koop wat te kope is. Die grootste dinge in die lewe, soos jou gesondheid en jou verhoudings, kan egter nie met geld gekoop word nie.

Jy kan dit wat die Bybel oor geld sê met die volgende drie stellings opsom:
1) Wie jy is, is belangriker as wat jy besit. ‘Dit is beter om arm te wees en eerbaar te lewe as om oneerlik te lewe en ryk te wees’ (Spreuke 28:6 NLV).
2) Wat God in jou sien, is belangriker as wat jy besit. ‘Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die Here, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam’ (Spreuke 15:16 NLV).
3) Wat ander van jou dink, is belangriker as wat jy besit. ‘Soek eerder na ‘n goeie naam as na groot rykdom. Hoë aansien is beter as silwer of goud’ (Spreuke 22:1 NLV).

Moenie probeer om tred te hou met die bure nie. Die bure mag dalk een stappie weg van bankrotskap of die skeihof wees. Die waarheid is dat jy nooit gelukkig sal wees met wat jy het, totdat jy leer om gelukkig te wees met dit wat ander mense het en jy nie het nie. Die Bybel sê vir ons dat hebsug ‘n sonde is. En hebsug is eenvoudig om nie te geniet wat God vir jou gegee het nie!

Sielskos: 2 Kon 20:1-11; Heb 8:7-13