2023-08-03
Lukas 22:31 NLV
Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, tog het Hy hom steeds geroep om sy dissipel te wees en gesê: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (verse 31-32 NLV).
Die foute wat jy maak en die gemors waarin jy jou bevind gebeur gewoonlik nie per ongeluk nie, maar deur keuses wat jy maak. Tog plaas dit jou nie buite bereik van God se genade nie. Die geheim tot oorwinning is om God toe te laat om jou foute te gebruik om jou te ontwikkel, eerder as om Satan toe te laat om dit te gebruik om jou te vernietig.
Let op die woorde: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif’. Satan wil dit wat hy verloor het, terughê – vir jou. Wanneer jy twyfel, het hy die mag om jou te laat val; jy stel jouself oop om te misluk. Die vraag is dus: as Petrus, een van Christus se dissipels wat Hy self uitgekies het, kon faal, hoeveel te meer gaan dit waarskynlik met jou gebeur? Wanneer dit gebeur, wat veronderstel jy wil die Here daardeur bereik?
Jou lewe mag dalk vandag ‘n gemors wees, maar as jy na God toe draai, kan Hy iets moois daaruit maak. Jesus het vir Petrus gesê: ‘…Ek het vir jou gebid…’ Jesus bid vandag vir jou. ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige’ (1 Johannes 2:1 NLV). As jy dus geval het, sal Jesus jou optel en jou weer herstel.
Sielskos: Deut 5-7; Mark 2:1-12; Ps 78:40-55; Spr 16:32
2023-08-02
Spreuke 3:2 NLV
Teen die jaar 2030, sal een uit vyf van ons sewentig jaar of ouer wees. Dis ongeveer 20 persent van die wêreld se bevolking. Miljoene van ons sal honderd jaar of ouer word. Toe president Dwight D. Eisenhower by ‘n verjaarsdagpartytjie gevra is hoe hy daaroor voel om tagtig te word, het hy geantwoord: ‘Dis vir seker beter as die alternatief!’
Anita Bogan is in 2007 op die rype ouderdom van 106 oorlede. Haar doodsberig in die Los Angeles Times het gelees: ‘Geseën met goeie gesondheid en ‘n gesonde verstand, het Bogan die grootste deel van haar oudag deurgebring deur te doen net wat sy wil, met ‘n vurige, wat-het-ouderdom-met-enigiets-te-doen-houding. In die dekades na haar 80ste jaar het sy ‘n nie-winsgewende organisasie geskep om senior behuising te bou, ‘n blommewinkel oopgemaak, daagliks gholf gespeel, bootvaarte geneem om haar verjaarsdae te vier en mense geïnspireer. Op Bogan se 100ste verjaardag het die Kern County Raad van Toesighouers ‘n ‘Anita Bogan Dag’ verklaar.’ As gevolg van haar houding teenoor die lewe, het Anita die manier hoe mense rondom haar die verouderingsproses sien, verander.
Die Bybel beloof nie net ‘n lang lewe nie, dit beloof ‘n kwaliteit lewe. ‘My seun, moenie vergeet wat ek jou geleer het nie. Hou vas aan my opdragte. Dit sal jou lank laat lewe en jou ‘n vol lewe gee’ (verse 1-2 NLV). ‘Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is. Hy wat die heilige God ken, het werklik insig. Wysheid verleng jou lewe, gee jou meer lewensjare’ (Spreuke 9:10-11 NLV). Die geheim om die verouderingsproses te geniet is om ‘n nabye verhouding met God te bou en volgens sy beginsels te leef.
Sielskos: Deut 3-4; Mark 1:35-45; Ps 78:32-39; Spr 16:31
2023-08-01
Spreuke 10:27 NLV
Maak die idee om ouer te word jou angstig? Indien dit die geval is, is dit tyd om jou waardestelsel te ondersoek. By God is die inhoud belangriker as die pakkie. Om vrede met jou plooie te maak, moet jy in ooreenstemming met Hom kom. Op die ou einde is dit nie die aantal dae in jou lewe wat tel nie, maar die lewenskwaliteit van jou dae.
Jesus se eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Let op wat die seremoniemeester van die huweliksonthaal gesê het: ‘Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor… jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou’ (Johannes 2:10 NLV). Dit kan ook jou lewensverhaal wees. Jy hoef nie bang te wees om ouer te word nie. Hou aan veg, hou aan groei, hou aan vorentoe beweeg.
Luister na die woorde van Kaleb: “‘…Ek het volledig by die Here my God gestaan. Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort…’ Die Here het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ‘n man van 85. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het nog steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terug te kom. Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het…’ Josua het hom geseën. Hy het vir Kaleb… Hebron gegee” (Josua 14:8-13 NLV).
Dis wat dit beteken om met grasie ouer te word.
Sielskos: Deut 1-2; Mark 1:21-34; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30
2023-07-31
Psalm 78:41 NLV
Die Bybel sê: ‘Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef! Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig. Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand’ (verse 40-42 NLV). Die Israeliete het aanhoudend in die woestyn God se toorn uitgedaag en sy hart gepynig. Hoe het hulle dit gedoen? Deur Hom te beperk! Hulle het dit wat Hy vir hulle en deur hulle kon doen, beperk.
Ons doen dieselfde wanneer ons nie die gawes en kreatiewe gedagtes wat Hy vir ons gee, herken en gebruik nie. God wil hê dat jy uit die ‘boks’ van jou eie geskiedenis, emosionele kwessies en persoonlike beperkings moet breek. Een van die maniere hoe jy dit kan doen, is om jouself aanhoudend aan nuwe idees, plekke en mense bloot te stel. God se Woord sê: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…’ (Jesaja 54:2-3 NLV).
Kreatiwiteit is net onderrigbaarheid. Is jy dus onderrigbaar? Die woorde op ‘n grafsteen het gelees: ‘Gesterf op veertig, eers op tagtig begrawe.’ Tensy jy aanhou leer, groei en jou denke uitbrei, kan dit ook jou lot wees. Jy sê: ‘Maar ek is nie van nature kreatief nie.’ Kreatiwiteit is nie noodwendig iets waarmee jy gebore word nie; dit kom vanuit die ontwikkeling van jou Godgegewe gawes en die aangryp van die geleenthede wat Hy oor jou pad stuur. Wil jy uit die boks breek? Dís hoe jy dit doen!
Sielskos: Hand 27-28; Mark 1:9-20; Ps 78:9-16; Spr 16:25
2023-07-30
Genesis 33:14 DB
Daar is deesdae ‘n tendens onder sommige ouers wat probeer om hulle kinders te gou te laat grootword. Hulle jaag hulle deur die mylpale van hul kindertyd en stoot hulle in die woelinge van adolessensie in. Dis die gevolgtrekking van die ontwikkelingsielkundige, dr David Elkind, wat hierdie kulturele fenomeen die ‘Haastige Kind sindroom’ noem.
Dit vind plaas wanneer ouers hul kinders aanmoedig om soos tieners op te tree, soos om grimering vir hulle voorskoolse dogters te koop en toe te laat dat hul kinders in hul vroeë tienerjare ernstige verhoudings aanknoop. Hulle behandel hulle kinders meer soos volwassenes, verwag van hulle om volwasse besluite te maak, trek vir hulle ontwerpersklere aan en onderwerp hulle veral aan die grafiese seksualiteit op televisie, in musiekvideos, rolprente en op die internet.
Jare gelede het ouers die noodsaaklikheid van ‘n veilige en ordelike vooruitgang deur die kinderjare verstaan. Daar was kulturele merkers wat die ouderdomme waarop spesifieke gedrag en aktiwiteite as toepaslik of onvanpas geag is, gedefinieer het. Vandag het hierdie merkers verdwyn, of hulle is afwaarts geskuif. Dit kan ‘n groot fout wees. Wanneer jy jou kinders behandel asof hulle reeds groot is, word dit baie uitdagend om in die nabye toekoms perke op hul adolessente gedrag te stel. Hoe kan jy byvoorbeeld ‘n aandklokreël vir ‘n dertienjarige, wat geleer is om hom- of haarself as ‘n volwassene te beskou, instel?
Kortom, die ‘Haastige Kind sindroom’ ontneem ons kinders van hul kinderjare en plaas hulle op ‘n onnatuurlike pad wat nadelig vir hul geestelike en fisiese gesondheid is. As jy wys is, sal jy op die raad van Jakob aan sy broer Esau ag slaan: ‘…Ek kom dan rustig met… die kinders agterna…’
Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19
2023-07-29
Psalm 139:14 NLV
Onthou jy die ou televisiereeks, The Six Million Dollar Man? Hy is met kernaangedrewe bioniese ledemate en inplantings gebou en toegerus. Wel, hy kom nie naby jou nie! Jy is uniek, enig in jou soort, ‘n ware wonder van God se kreatiewe genie. Byvoorbeeld, jou tong; vierhonderd klein smaakknoppies wat elkeen die verskil tussen aspersies en suurlemoenmeringue-tert kan onderskei. Wat van jou dermstelsel? Twintig miljoen mondjies wat bykans enigiets kan verteer. Dan is daar jou verkoelingstelsel – driehonderd en vyftigduisend sweetkliere per vierkante duim. Wat van jou sensoriese stelsel? ‘n Netwerk van tien miljoen senuwees, waarvan die takke boodskappe stuur en interpreteer en ook ‘n antwoord vir elkeen formuleer.
Jy is een in sewe biljoen! Niemand anders het jou stempatroon, vingerafdrukke of DNA nie. Toe jy gebore is, het God nie gestop en gevra: ‘Wat gaan ons met hierdie ene doen?’ nie. Nee, jy is jou Vader se naam gegee (sien Jesaja 43:1). Jy is teen ‘n prys gekoop (sien 1 Korintiërs 6:20). Jy is as lid van sy verloste familie verwelkom (sien 1 Johannes 3:2). Jou treë word deur Hom gerig (sien Psalm 37:23). Hy het reeds jou sukses beplan (sien Jeremia 29:11). Hy was lief vir jou toe jy onbeminlik was en het jou gekies voordat jy reg of verkeerd kon doen.
Gee dit Hom nie die reg om te sê: ‘Ek wil jou lof en gehoorsaamheid hê, Ek wil hê jy moet tyd saam met My deurbring, Ek wil hê jy moet die briewe lees wat Ek vir jou geskryf het en Ek wil hê dat niks of niemand tussen ons moet kom’ nie? Die woord vir jou vandag is – jy behoort aan God!
Sielskos: Hand 24-26; Mark 1:1-8; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24