Jy is Christus se ambassadeur (1)

2023-06-12
2 Korintiërs 5:20 NLV

Jou posbeskrywing in die koninkryk van God is ‘ambassadeur.’ Wat ‘n voorreg! Wat ‘n verantwoordelikheid! Kom ons kyk vir die volgende paar dae na sommige van die kwaliteite waaroor ‘n ambassadeur moet beskik: Jy moet ‘n burger van die land wat jy verteenwoordig, wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel…’ (Filippense 3:20 NLV). Terwyl hy verban was, het Johannes gesê: ‘…Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het… Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees…’ (Openbaring 1:9-10 NLV). Johannes het geweet dat dit nie waar hy was nie, maar wie s’n hy was, wat getel het terwyl hy God verteenwoordig het.

Jou lewe is die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees. Van jou lippe sal hulle die enigste evangelie hoor wat hulle ooit sal hoor. Voor Hy gekruisig is, het Jesus die volgende gebed vir sy dissipels gebid: ‘Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle vir U geheilig wees deur ‘n hegte verbintenis aan die waarheid. Net soos U My na die wêreld gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur’ (Johannes 17:15-18 NLV).

Voor ‘n ambassadeur aangestel word, word hy of sy op die nouste manier denkbaar ondersoek. Hulle morele integriteit, hulle finansiële interaksies, hulle familielewe, hulle werksrekord, elke woord en daad van hulle kom onder die mikroskoop. Hoeveel te meer moet dit nie waar van die ambassadeurs vir die Koning van konings wees nie? Moet nooit vergeet aan wie se kant jy is nie. Moet nooit vergeet aan watter koninkryk jy behoort nie. Moet nooit vergeet wie jy verteenwoordig nie. Jy is Christus se ambassadeur.

Sielskos: Op 19-22; Matt 17:1-13; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8

Wag tot jy bemagtig is

2023-06-11
Lukas 24:49 NLV

Jy mag dalk opgevoed, ervare en talentvol wees, maar jy sal nooit God se doelwitte vir jou lewe bereik totdat jy nie deur God ‘met krag bemagtig’ word nie. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes: 1) ‘En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is’ (vers 49 NLV). 2) ‘Op Pinksterdag… was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ‘n geluid soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was… Almal is toe met die Heilige Gees vervul…’ (Handelinge 2:1-2, 4 NLV).

Die transformasie was wonderbaarlik! Petrus, wat pas vir Jesus verloën het, het voor die skare gestaan en die evangelie vir hulle gepreek. Het hy resultate gekry? Ja. ‘Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3000’ (Handelinge 2:41 NLV). Die krag wat hulle ontvang het, was ook hulle bron van krag toe hulle swaarkry en vervolging in die gesig gestaar het. ‘Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig’ (Handelinge 4:31 NLV). Dit was nie ‘n eenmalige ervaring nie; hulle is aanhoudend deur die Heilige Gees vervul.

Jy sê: ‘Ek is nie goed genoeg om met God se Gees gevul te word nie.’ Jesus het gesê: ‘As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra’ (Lukas 11:13 NLV). Vra God vandag om jou met sy Gees te vervul en Hy sal dit doen.

Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40

Jou droom is steeds lewendig

2023-06-10
Genesis 45:27 NLV

As dit vir jou voel of die droom wat jy glo God vir jou gegee het dood is, lees dan die volgende: “‘Josef lewe!’ sê hulle vir hom. ‘Hy is die heerser van die hele Egipte!’ Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie. Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom” (verse 26-27 NLV).

Vir jare lank het Jakob geglo sy seun, die dromer, is dood. Dit was egter ‘n leuen. Op sy oudag het waens wat gelaai was met rykdom hom kom haal om sy seun te gaan sien. Toe Jakob die nuus hoor, ‘…kon [hy] dit net nie glo nie…’ (vers 26 NLV). Wanneer jy vir jare met moedeloosheid saamleef, is dit moeilik om oorwinning te wagte te wees. God is egter geduldig. Hy sal aanhou werk aan jou. Hy sal sy genade en goedheid op so ‘n manier demonstreer dat jy Hom weer sal begin vertrou: ‘…Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom’ (vers 27 NLV).

Moenie glo dat jou droom dood is en nooit tot vervulling gaan kom nie. Moenie diegene wat jou vertel dat jy te oud is om die droom wat God vir jou gegee het te vervul, glo nie. ‘…Julle oumense sal drome droom…’ (Joël 2:28 NLV). God is die gewer van drome. Hy gee dit egter nie net nie, Hy wek dit op en bemagtig jou om dit te vervul. Dis nie te laat nie. Jy is nie te oud nie. Wat God vir Jakob gedoen het, kan Hy ook vir jou doen.

Sielskos: Op 15-18; Matt 16:13-28; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6

Julle het mekaar nodig (3)

2023-06-09
Genesis 2:20 NLV

Die seëninge en voordele van ‘n goeie huwelik sluit dinge soos geselskap, seksuele vervulling en die vreugde van kinders in. Die primêre doelwit van ‘n huwelik is egter om beide partye met alles wat nodig is om God se opdrag op aarde uit te voer, toe te rus. Die huwelik is ‘n verbond wat deur God ontwerp is om die vermoë van elke maat om sukses te behaal in die sfeer waar Hy hulle geplaas het, te versterk.

Wanneer ‘n man of vrou die nuttige insette van hul eggenoot verwerp, beperk hulle dit wat God deur hulle as ‘n paartjie kan doen. Wat ‘n verlies! Soms is dit moeilik vir mans om te erken dat hulle hulp nodig het – en wanneer jy nie vir hulp uitreik nie, ontvang jy dit nie. Dit beteken dat jy nie in die mate wat jy andersins sou kon, sukses sal behaal nie.

‘n Vrou se standpunt is nie minderwaardige inligting nie; dis noodsaaklike inligting. Haar teenwoordigheid is nie ontwerp om ornamenteel te wees nie; dit is noodsaaklik om jou gedeelde potensiaal te verwesenlik. Wanneer ‘n man aanhoudend besluite neem sonder om sy vrou te raadpleeg, neem hy dit sonder al die nodige insette om ‘n verstandige besluit te maak. Mans neig om logies te dink. Vrouens het egter die voordeel dat hulle geprogrammeer is om ook intuïtief te dink. Hulle gee die verhouding ‘n perspektief wat dit nie andersins sou gehad het nie. Wanneer ‘n man dus misluk om sy vrou se Godgegewe kapasiteit te gebruik, steel hy God se beste by homself.

Eers wanneer jy hierdie beginsel verstaan en daarvolgens begin optree, sal jou verhouding verryk word en sal jy die vreugde om elke dag in God se seën te wandel, ervaar. Die vraag is dus: Hoekom sal jy met minder tevrede wees wanneer jy meer kan ontvang?

Sielskos: Op 10-14; Matt 16:1-12; Ps 48; Spr 13:2-3

Julle het mekaar nodig (2)

2023-06-08
Genesis 2:24 NLV

Deesdae word baie skeisake op onversoenbaarheid gegrond. Die man sê byvoorbeeld: ‘Ons het niks in gemeen nie.’ Of die vrou sê: ‘Ons is so verskillend soos olie en water.’ Natuurlik is julle! As julle presies dieselfde was, sou een van julle onnodig gewees het! Een hou van koffie; die ander van tee. Een gaan vroeg bed toe; die ander een is ‘n naguil. Een is stil; die ander een is ‘n ekstrovert. Kan dit wrywing veroorsaak? Vir seker! Dis waar liefde, vriendelikheid en geduld in die prentjie kom.

Die ware kwessie is nie julle verskille nie – dis om daardie Godgegewe verskille vir julle, in plaas van teen julle, te maak werk. Die hartseer feit is dat ons vergeet het hoe om ons verskille te gebruik om mekaar aan te vul. Die oomblik wat jy begin soek na dit wat God jou deur jou maat probeer leer, hou jy op kla en begin jy groei.

Miskien dink jy diep in jou hart dat jou maat nie deur God vir jou uitgekies is nie. Miskien nie, maar as jy Hom toelaat, sal Hy jou in elk geval leer hoe om vir hom of haar lief te wees en van hulle te leer. Daar is geen probleme wat uit julle verskille voortspruit wat nie deur ‘n gesonde dosis van God se genade aan te wend en die riglyne wat Hy vir ‘n gelukkige verhouding neergelê het te volg, opgelos kan word nie.

Julle moet egter daaraan werk. Twee onvolmaakte mense maak nie ‘n perfekte huwelik nie. Twee onvolmaakte mense wat egter daaraan verbind is om mekaar lief te hê en God se riglyne te volg, kan so naby aan Eden se saligheid as wat dit hierdie kant van die hemel moontlik is, kom.

Sielskos: Op 5-9; Matt 15:29-39; Ps 16; Spr 13:1

Julle het mekaar nodig (1)

2023-06-07
Genesis 2:22 NLV

Voor God vir Adam ‘n vrou gegee het, het Hy vir hom ‘n roeping gegee. Toe het Hy aan Adam verduidelik dat hy hulp sou nodig kry om daardie roeping te vervul. Hy sou nooit sy volle potensiaal op sy eie kon bereik nie, omdat hy onvolledig was. Adam het dit nie besef totdat God dit aan hom openbaar het nie. Hoe het Hy dit aan hom openbaar? Toe Adam begin om die diere in die tuin name te gee, was hy in ‘n posisie om te sien dat elkeen van hulle ‘n maat het. Elke skepsel het ‘n ander skepsel net soos hy of haar gehad, terwyl Adam niemand gehad het nie.

Let op dat God nie vir Adam ‘n vrou gegee het totdat hy self besef het dat hy een nodig gehad het nie. Ons waardeer iets of iemand wanneer ons besef hoe noodsaaklik hulle is. Een van die algemeenste klagtes wat beraders hoor, is dat een van die huweliksmaats onnodig voel. Wanneer God egter julle huwelik betree en julle verstaan hoe elkeen van julle tot die huwelik bydra, voel julle beide nodig.

God het vir Adam ‘n maat gegee wat spesifiek ontwerp is om die opdrag uit te voer wat Hy vir hom gegee het – om oor die aarde te heers (sien Genesis 1:28). Hy het Eva vir Adam gegee sodat hy iemand sou hê om mee saam te werk om die doel waarvoor hy geskep is, te bereik. Eva is nie van Adam se kop af geneem om bo hom te wees, of van sy voete af om onder hom te wees nie. Sy is geskep uit een van sy ribbes, ‘n beskermde plek na aan sy hart. Op dié manier kon hulle langs mekaar werk om hul doel te bereik. Julle het mekaar nodig.

Sielskos: Op 1-4; Matt 15:15-28; Ps 129; Spr 12:27-28