2023-08-09
Kolossense 3:2 NLV
Om ‘n gedissiplineerde lewe te lei, moet jy gedissiplineerde gedagtes hê. Jesus het gesê dat Satan se drievoudige doel is ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Op jou eie staan jy nie ‘n kans teen Satan nie, maar God sal jou die krag gee om sy strategieë te oorkom en selfbeheersing uit te oefen.
Die Bybel sê vir ons hoe om dit te doen: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur die dinge op hierdie aarde nie.’ Let op die woorde: ‘Laat julle gedagtes beheer word.’ Baie motors kom met ‘n funksie om die spoed te beheer. Wanneer jy die spoedperk bereik, stel jy die motor se rekenaar deur ‘n knoppie te druk en die motor behou dan daardie spoed. Dit sal nie die spoedperk oorskry of stadiger ry nie. Op ‘n soortgelyke wyse, wanneer jou gedagtes met God se Woord geprogrammeer word, beheer jy jou gedagtes en begeertes deur dit op die dinge wat God behaag, eerder as op die dinge wat jou aardse natuur bevredig, in te stel.
Selfdissipline is die prys wat jy vir vryheid betaal. Wanneer jy deur jou impulse beheer word, is jy nie vry nie, jy is ‘n slaaf. Jy kan selfs ‘n slaaf van goeie dinge word. Soos die ou gesegde lui – te veel van ‘n goeie ding is ‘n slegte ding! Paulus skryf: “Jy kan dalk sê: ‘Ek mag nou enigiets doen.’ Maar ek sal daarop antwoord: ‘Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie'” (1 Korintiërs 6:12 NLV). Die geheim tot selfbeheersing is dus om jou gedagtes met God se Woord te programmeer.
Sielskos: Deut 22-24; Mark 4:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10
2023-08-08
Amos 3:3 NLV
Benjamin Franklin se formule vir ‘n gelukkige huwelik was as volg: ‘Hou jou oë wyd oop voor die huwelik en half toe daarna.’ Een van die redes hoekom huwelike in die skeihof opeindig, is omdat ons net sien wat ons wil sien. As ons ooglopende foute sien wat die verhouding kan vernietig, laat ons ons hart toe om ons kop te oorheers en dink: ‘Hy of sy sal verander nadat ons getroud is.’ Dit wat jy vandag oorsien, verbeur jy die reg om môre oor te kla. As jy dus wys is, sal jy hierdie twee dinge doen voordat jy die besluit neem om met iemand te trou:
1) Bespreek openlik wat jy sal en nie sal aanvaar in die huwelik nie. Dinge soos mishandeling, ontrouheid, alkohol- en dwelmmisbruik, woede en buierigheid, en die koop van goed wat jy nie kan bekostig nie. As jy dink dat dit pynlik is om nou met iemand uit te maak, wag totdat jy getroud is en kinders en huisverbande en families wat betrokke is, het! Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’
2) As daar nie ernstige besorgdhede is nie, maar jy basies vir die onbekende bang is, gebruik jou geloof in God om die gaping tussen jou vertwyfeling en die vrede wat jy graag wil hê, te oorbrug. Moenie redes uitdink om jouself nie te verbind nie. Die Bybel sê: ‘…Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors’ (Jesaja 9:5 NLV). Bid saam met mekaar en gee die ‘Wonderbare Raadsman’ ‘n geleentheid om julle in jul verhoudingskeuse te lei. God het die huwelik ingestel; wanneer jy dit op sy manier doen, kan jy die hoogste vlak van menslike vreugde bereik.
Sielskos: Deut 18-21; Mark 3:20-35; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6
2023-08-07
1 Samuel 20:17 NLV
Vir ‘n verhouding om te werk, moet beide partye heeltemal daartoe verbind wees. Kom ons kyk vandag na nog ‘n paar redes hoekom ons bang mag wees om onsself te verbind.
1) Bedink of jy werklik gevoelens vir jou maat het en of jy net jou tyd afwag totdat iemand beter opdaag. Met ander woorde, wees eerlik met jouself, want jou geluk hang daarvan af.
2) Praat met jou maat oor jou spesifieke vrese. Een skrywer stel die volgende stellings voor: ‘Ek is bang dat jy my sal probeer verander,’ of ‘Ek sal soos minder van ‘n man voel as jy jouself nie aan my onderwerp nie,’ of ‘As die huwelik misluk, mag jy dalk my geld vat en my arm agterlaat,’ of ‘Jy mag dalk my tyd saam met my vriende te veel beperk,’ of ‘Jy mag dalk te veel van my aandag verg.’ Jy moet jou gevoelens eerlik deel en terugvoer oor jou vrese vra.
3) Probeer om vir 30 dae nie kontak met jou potensiële maat te hê nie en vind uit hoe die lewe sonder hom of haar sou voel. Sommige nie-toegewyde verhoudings is bloot vir gerief, so evalueer jou gevoelens afgesien van die ongerief wat jy sal verduur. Gerief is ‘n swak fondament vir ‘n huwelik.
4) Ondersoek jou verwagtinge. Moenie van jou maat verwag om elke aspek van jou lewe te vervul nie. As jy ‘n behoefte het aan avontuur wat in rekspring gemanifesteer word, vind vriende om dit saam mee te geniet en wees bly dat jou maat getrou en liefdevol is en baie lag. Nog ‘n gedagte: Daar is ‘n leegheid binne elkeen van ons wat slegs God kan vul. Wanneer Hy dit doen, vereis ons minder van ons maat en leer ons hoe om ‘n beter maat te word.
Sielskos: Deut 14-17; Mark 3:7-19; Ps 119:1-8; Spr 17:3
2023-08-06
Matteus 19:5 NLV
Die woord ‘verbind’ beteken om te bind, te verplig of te beloof. Vir sommige van ons roep dit beelde van diensbaarheid, beperkings en die verlies van ons vryheid op. Met ander woorde, dit maak ons bang. Deesdae, soos vrouens meer ekonomies bemagtig word, mag sommige van hulle onwilliger word om hulself aan ‘n verhouding te verbind waarvan die Bybel sê dat die man geroep is om die leier in die huis te wees (sien Efesiërs 5:22-24). Dit is egter baie keer die man wat die verhouding vloeibaar en buigsaam wil hou sodat hy sy bly-of-gly opsie kan gebruik wanneer hy wil. Die maat wat die verbintenis wil hê, vind so ‘n verhouding frustrerend en onbevredigend. Wat moet jy dus doen as jy huiwerig is om jou tot die verhouding te verbind?
Twee dinge: 1) Wees eerlik met jouself oor jou vrese, gevoelens en beweegredes. Dawid het gesê: ‘Maar U verwag waarheid uit die hart. Diep in my binneste maak U u wysheid bekend’ (Psalm 51:8 NLV). Wysheid kom deur eerlik te wees oor dit wat in jou binneste aan die gang is. Wat is jou herinneringe van jou ouers se huwelik en hoe het dit jou geaffekteer? Het jy soortgelyke gedragspatrone in jouself of jou potensiële maat opgemerk wanneer dit by die hantering van verhoudings kom?
2) Erken die rol wat jy self gespeel het in die beëindiging van ‘n vorige verhouding. Het jy verander? Is jy gewillig om te verander? Indien wel, is hier God se belofte aan jou vir ‘n beter toekoms: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV).
Sielskos: 2 Kon 5:1-17; Luk 4:16-30
2023-08-05
Rut 1:16 NLV
Een van die bekendste Skrifgedeeltes oor verbintenis is Rut se woorde aan Naomi: ‘…Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie. Waar Ma ook al gaan, sal ek gaan, en waar Ma ook al woon, sal ek woon. Ma se mense sal my mense wees en Ma se God sal my God wees.’ Hoekom is ons bang om onsself aan ‘n verhouding te verbind?
1) Die vrees om beheer te verloor: ‘Hoekom moet ek my onafhanklikheid prysgee?’
2) Die vrees van te min hê: ‘Wat as hy of sy my finansies ruïneer?’
3) Die vrees van ontoereikenheid: ‘Wat as ek nie aan sy of haar verwagtinge voldoen nie?’
4) Die vrees vir eensaamheid. ‘Wat as hy of sy my verlaat?’
5) Die vrees vir pyn. ‘Ek is voorheen seergemaak en ek wil nie weer seerkry nie.’
Wat staan jou dus te doen? Deesdae is die antwoord ‘n ‘proefhuwelik,’ maar dit werk nie. Om voor die huwelik saam te woon is soos om ‘n kamer te huur eerder as om ‘n huis te koop. As dit nodig word om die gehuurde kamer te herstel, is die huurders eerder geneig om die kamer vir ‘n ander een te verruil. As dit egter nodig is om hulle huis reg te maak, verbind die eienaars hulle daartoe om sodoende hulle belegging te beskerm.
Psychology Today het die gevolgtrekkings van Neil Bennett, ‘n sosioloog verbonde aan die Yale-universiteit gepubliseer, dat vroue wat eers saamgebly het voor hulle getrou het, 80 persent meer geneig was om te skei as vroue wat voor die huwelik apart van hul gades gewoon het. Anders as wat jy dalk mag dink, ervaar diegene wat rondspeel en van verhouding tot verhouding beweeg, nie blywende geluk nie. Diegene wat hulself aan God en aan mekaar verbind, ervaar egter ware en blywende geluk.
Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2
2023-08-04
Lukas 22:61 NLV
Die Bybel sê: ‘…Petrus het die Here se woorde onthou… ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 61-62 NLV).
Wat red ons? Ons goeie werke? Nee, ons geloof in Christus red ons. ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie’ (Efesiërs 2:8-9 NLV). Nou verstaan jy Christus se woorde aan Petrus: ‘maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:32 NLV).
Wanneer jy geloof in Christus het, kan jy herstel word. Daar is geen vervaldatum as dit by God se genade kom nie. Petrus het Jesus nie net een keer verloën nie, maar herhaaldelik. Miskien is dit ook jou verhaal! Dit was nie ‘n oomblik waarop Petrus trots sou wees nie, maar ‘n ervaring waaruit hy sterker sou stap. Ons dien ‘n God van herstel wat vreugde in die plek van droefheid gee (sien Jesaja 61:3).
Sou jy Petrus as jou pastoor gekies het nadat jy gesien het hoe hy volgehou het dat hy nie die Here ken nie? God het. Hy het hom die hoof van die kerk in die Nuwe Testament gemaak. Ons sê vir mense: ‘Moenie ‘n gemors maak nie’ en ‘Moenie sondig nie.’ Dis goeie raad – God wil nie hê dat ons moet sondig nie. Wat ons egter moet sê is: ‘Moenie kop eerste in sonde inloop wanneer jy van beter weet nie. Wanneer jy egter misluk, soos jy sekerlik sal, draai na God toe en Hy sal jou herstel en jou mislukking gebruik om jou te versterk.’
Sielskos: Deut 8-10; Mark 2:13-22; Ps 78:56-64; Spr 16:33