Sluit jouself by God toe

2023-06-17
Psalm 42:2 NLV

Vind jy dit moeilik om God se werke te verstaan? Ons almal sukkel daarmee. Selfs al kan ons terugkyk en sien hoe sy hand van seën en leiding in die verlede op ons was, voel ons by tye steeds bang en alleen. Jesus het self uitgeroep: ‘…My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Matteus 27:46 NLV). Daardie woorde kan as volg geïnterpreteer word: ‘Ek mag dalk nie verstaan wat op die oomblik gebeur nie, maar ek weet dat U steeds my God is.’ Wat ‘n gerusstelling!

Het jy al ooit gesien hoe ‘n kind ‘n ouer se hand vat en sê: ‘Ma/Pa stap te vinnig vir my!’ Die kind is bang om te verdwaal of agtergelaat te word. Is dit hoe jy vandag voel? Asof jy nie kan byhou nie? Dat die lewe heeltemal te vinnig beweeg? Die Bybel sê: ‘Soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God’ (Psalm 42:2 NLV). Jy ‘smag’ nie na iets tensy jy dit waardeer en dit nodig het nie. Slegs rou behoefte sal veroorsaak dat jy van elke ander sigbare middel van ondersteuning wegdraai en God najaag, omdat jy weet dat jy dit nie sonder Hom sal maak nie.

Drie dinge gebeur wanneer jy God met jou hele hart najaag:
1) Jy betree die koninkryk waar alle dinge moontlik is (sien Markus 10:27 NVL).
2) Jy begin om meer soos Christus te wees, omdat jy soos die geselskap wat jy hou, word (sien 2 Korintiërs 3:18).
3) Jy leer dat jy slegs sekere vlakke van seën bereik wanneer jy God ywerig soek (sien Hebreërs 11:6).

Is jy moeg vir menslike antwoorde? Het jy meer as net goeie raad nodig? Sluit jouself vandag by God toe en laat Hom toe om met jou te praat.

Sielskos: Hand 1:1-3:10; Matt 26:36-46; Ps 118:19-29; Spr 15:33

Hoe liefde uitgedruk word


Galasiërs 5:13 NLV

Liefde is meestal iets wat jy doen in plaas van iets wat jy voel. Paulus skryf: ‘Liewe broers en susters, julle is geroep om in vryheid te leef. Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien’ (vers 13 NLV). Hoe is jy dus veronderstel om jou liefde uit te druk?

Volgens een skrywer, as volg: “‘n Seun ry vyf ure om by sy ma op haar verjaarsdag te wees. ‘n Vriend noem ‘n boek waarin hy geïnteresseerd is; sy vriend onthou dit en koop vir hom die boek sonder enige sigbare rede. ‘n Middeljarige paartjie sien ‘n jong man en vrou met min geld in ‘n restaurant en betaal hulle rekening in die geheim. ‘n Pa weet hoe baie sy dogter daarvan hou om ‘n skoon kar te hê, dus was hy haar kar as ‘n verrassing. Mense in ‘n klein groep epos mekaar gedurende die week as ‘n manier om hulle omgee te bewys. Die mense wat ons lewens verryk is die mense wat ons raaksien. Hulle weet wat ons liefhet en wat ons vrees. Wanneer ons daaraan werk om waarlik aan iemand aandag te gee, groei ons liefde vir hulle. Wanneer ons daaraan werk om waarlik ‘n ander persoon raak te sien, vergeet ons van onsself en ons siele floreer.”

Moeder Teresa het gesê: ‘As jy nie groot dinge kan doen nie, doen klein dinge met groot liefde. As jy dit nie met groot liefde kan doen nie, doen dit met ‘n klein bietjie liefde. En as jy dit nie met ‘n klein bietjie liefde kan doen nie, doen dit in elk geval.’ Liefde groei wanneer jy mense dien.

Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 19:1-14; Ps 73:17-28; Spr 13:20

Verander jou siening van God

2023-06-16
Sefanja 3:17 NLV

Wat is jou siening van God? Wanneer jy bid: ‘Ons Vader,’ wat sien jy? Sien jy ‘n ouer wat jou verlaat het, jou mishandel het, of hulle verantwoordelikheid teenoor jou verwaarloos het? Dink jy aan ‘n kwaai pa wat jou altyd beskuldig; ‘n God wat net wag om jou te straf die oomblik wat jy iets verkeerd doen?

As dit die geval is, moet jy jou siening van God verander. Die Bybel sê: ‘Die Here jou God is by julle. Hy is ‘n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel’ (vers 17 NLV).

Kom ons breek hierdie Skrifgedeelte in dele op: 1) ‘Die Here jou God is by julle.’ Hy is nie ‘n veraf God nie, maar ‘n Vader wat naby en persoonlik is en sy verloste kinders innig liefhet.

2) ‘Hy is ‘n magtige Verlosser.’ Wanneer jy die woord ‘magtig’ oorweeg, dink aan Hercules, vermenigvuldig dit met ‘n biljoen en jy sal steeds nie naby die mag van God wees nie. Jy mag dalk vandag swak wees, maar Hy is sterk. Jou sondes mag dalk groot wees, maar sy reddende genade is groter (sien Romeine 5:20).

3) ‘Hy is buitengewoon bly oor julle.’ Elke keer wat God vir jou kyk, glimlag Hy en is Hy bly. Jy maak sy hart bly. Het jy dit geweet?

4) ‘Sy liefde sal julle rustig maak.’ Het jy al ooit ‘n ma wat ‘n huilende baba troos dopgehou? Die baba word getroos, voel veilig en raak aan die slaap. Dis wat God vir ons doen.

5) ‘Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.’ God jubel! Waaroor jubel Hy? Oor jou! Dis tyd om jou siening van God te verander!

Sielskos: 2 Kon 10-12; Matt 18:21-35; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19

Intimiteit vs aktiwiteit

2023-06-15
Lukas 10:42 NLV

Toe Jesus die huis van Maria en Marta besoek het, was hulle individuele reaksies teenoor Hom baie verskillend. Marta se fokus was op die maaltyd. Haar doel was om Jesus te behaag. Sy het egter ‘n algemene fout gemaak; haar werk het belangriker as haar Here geword. Wat begin het as ‘n bedieningservaring, het ‘n selfdienende een geword. Sy het gesê: ‘…Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help’ (vers 40 NLV).

Hoe het Jesus haar geantwoord? ‘…My liewe Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge. Daar is regtig net een ding wat die moeite werd is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek…’ (verse 41-42 NLV). Wat het Maria gekies? Intimiteit met Jesus!

Die gevaar van godsdienstige aktwiteite is dat dit soms ontwerp is om ons goed oor onsself te laat voel en ons goed voor ander mense te laat lyk. Dis verstommend hoe baie slim, suksesvolle mense uitbrand omdat hulle hul verhouding met God verwaarloos. Hulle bedoel nie om dit te doen nie; dis net dat hulle geleer het om hulle eie weg te baan en nie gedwing is om op Hom staat te maak nie. Of hulle het ingekoop in ‘n ‘godsdienstige kompartementalisering’ van God – asof Hy net nog ‘n weeklikse afspraak op ‘n Sondagoggend is.

Die feit dat Jesus intimiteit bo aktiwiteit verkies het, leer ons ‘n baie belangrike les: Totdat jy nie jou verhouding met God die middelpunt van jou lewe maak nie, sal jy sukkel om jou ware doel te ontdek, die vrugte van jou harde werk te pluk en God se vrede en vreugde te geniet.

Sielskos: 2 Kon 7-9; Matt 18:10-20; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16

Jy is Christus se ambassadeur (3)

2023-06-14
Filippense 3:20 NLV

Jy moet dus die volgende kwalifikasies en karaktereienskappe as ambassadeur hê:
1) Jy moet ‘n burger wees van die land wat jy verteenwoordig. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel…’
2) Jou karakter en optrede moet die hoogste waardes van jou land verteenwoordig. ‘…Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het…’ (2 Tessalonisense 1:11 NLV).
3) Jy moet vir die werk toegerus wees. ‘Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees’ (1 Korintiërs 12:4 NLV).
4) Jy moet lojaal aan jou land wees.

Kom ons kyk nou na nog twee kwalifikasies waaroor ‘n ambassadeur moet beskik:
5) ‘n Ambassadeur moet ‘n effektiewe kommunikeerder wees. Die beste ambassadeurs is tweetalig; hulle verstaan en praat die taal van die mense rondom hulle. Kan jy dit doen? Om die regte antwoord te hê, moet jy die vraag, die persoon wat die vraag vra en waar hulle vandaan kom, verstaan. Die Bybel sê: ‘…en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Maar doen dit taktvol en eerbiedig…’ (1 Petrus 3:15-16 NLV). Let die woorde: ‘wees altyd reg om te reageer’ op.

6) ‘n Ambassadeur moet diplomaties wees. Ambassadeurs is die effektiefste wanneer hulle innemend is terwyl hulle met hulle werk aangaan. Jy wil nie iemand hê wat arrogant en beledigend teenoor ander mense is om jou land te verteenwoordig nie. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Ons boodskap is die evangelie en ons strategie is liefde! Wat is ons boodskap? ‘Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ‘n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus. Kom tot versoening met God!’ (2 Korintiërs 5:20 NLV).

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12

Jy is Christus se ambassadeur (2)

2023-06-13
Efesiërs 6:10 NLV

‘n Dekade gelede is ons siening van ‘n ambassadeur radikaal verander toe die Amerikaanse ambassadeur in Libië deur terroriste vermoor is. Dit neem ‘n spesiale persoon om ‘n ambassadeur in ‘n oorlogsone te wees. Dis egter waarin jy jou bevind!

Paulus skryf: ‘Ten slotte: Vind krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan. Staan dus vas deur waarheid as ‘n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as ‘n helm om julle koppe te beskerm, en, as swaard, die Gees, dit is God se woord. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort’ (verse 10-18 NLV).

As ambassadeur van Christus, moet jou eerste lojaliteit in al jou handelinge altyd by Hom wees. Jy sê: ‘Dis ‘n baie hoë standaard!’ Ja, dis ‘n hoër roeping. Dis ook die lonendste lewe wat jy kan lei.

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 17:14-27; Ps 143; Spr 13:9-10