Wat is jou waardes? (1)

2023-06-23
Spreuke 11:3 NLV

Hier is ‘n paar waardes wat op die Skrif gebaseer is:

1) God se soewereiniteit. ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV). Jy kan rus in die wete dat God die laaste woord oor alles wat jou aangaan, het (sien Psalm 138:8). Wanneer jy dit weet, sal jy nie probeer om mense en omstandighede tot jou voordeel te manipuleer nie. Jy hoef eenvoudig net deur die deure wat God oopmaak te stap en vrede te hê oor die deure wat Hy toemaak, met die wete dat Hy jou beste belange op die hart dra.

2) Integriteit. ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers…’ Wanneer jy met integriteit lewe, sal jy God se vrede ervaar, omdat jy weet dat jy die regte ding in sy oë gedoen het. Integriteit gaan nie net daaroor om eerlik te wees of die waarheid te vertel nie, maar ook om seker te maak dat dit wat jy sê, die waarheid is. Met ander woorde, maak jou woord jou eer. Die Bybel sê dat een van die eienskappe van iemand wat in God se teenwoordigheid bly en sy wil doen, mense is wat ‘…hulle beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel’ (Psalm 15:4 NLV).

3) Nederigheid. ‘…Nederigheid kom eerste, daarna volg eer’ (Spreuke 15:33 NLV). Nederigheid is nie ‘n sin van waardeloosheid nie, maar eerder ‘n aanvaarding van jou Godgegewe sterkpunte en die beperkings wat God toelaat. Jou sterkpunte moet jou nie arrogant maak nie en jou beperkings moet jou nie vreesbevange maak nie, want God het beloof: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).

Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8

Hoe om geduld te ontwikkel (4)

2023-06-22
Galasiërs 5:22 NLV

Jy sal oplet dat geduld direk na vrede in die lys van die Gees se vrug genoem word. Hoekom? Omdat wanneer jy vrede in jou hart het, amper niks kan veroorsaak dat jy ongeduldig raak nie. Hierdie kwaliteite is egter die vrug van die Gees, nie die inspanning van die vlees nie. Jy kan nie jouself aanmoedig en sê: ‘Ek gaan geduldig wees, selfs al kom ek daarvan om,’ nie. As dit die werklike vrug van die Gees is, sal jy werklike innerlike vrede hê en sal sekere omstandighede jou nie meer soos voorheen pla nie, omdat jy op die Here vertrou.

Geduld is ‘n tipe geloof. Dit sê: ‘Ek vertrou God. Ek glo dat Hy groter as hierdie probleem is. Ek glo dat Hy sy hand in hierdie irritasies het en dit vir goed in my lewe kan gebruik.’ Frustrasie sê: ‘Hoekom het dit gebeur?’ Geloof sê: ‘God, wat wil U my hieruit leer?’

Abraham was honderd jaar oud toe sy tweede seun, Isak, gebore is. Dis ‘n lang tyd om geduldig te wees. Die moelikste wagtydperke is wanneer jy haastig is en God nie. Dis moeilik om geduldig te wees terwyl jy vir ‘n antwoord op jou gebed wag: vir God om jou finansiële toestand, jou gesondheidsprobleem, jou gesinsprobleem of die familielid wat jou pla, te verander.https://d6.gs/fvQQ5qOm geduldig te wees is beide die bewys van jou geloof en ‘n toets vir jou geloof. Dis tydens sulke tye wat God fluister: ‘Wees stil en weet Ek is God…’ (Psalm 46:11 NLV). Met ander woorde: ‘Ek is in beheer, Ek het ‘n beter plan, Ek laat dinge ten goede vir jou uitwerk!’

Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 20:29-34; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4

Hoe om geduld te ontwikkel (3)

2023-06-21
Spreuke 17:22 NLV

Hier is nog twee dinge wat jy moet doen om geduld te ontwikkel:

1) Ontwikkel ‘n sin vir humor. Die Bybel sê: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ (Spreuke 14:30 NLV). Wetenskaplike navorsing het bewys dat mense wat lag, langer lewe. Humor los stres op. Dit is ‘n teenmiddel vir vrees. Dit is ‘n kalmeermiddel sonder enige lastige newe-effekte. Dit is ‘n skokbreker vir die slaggate van die lewe. Iemand het een keer vir president Abraham Lincoln gevra hoe hy die spanning van die Burgeroorlog hanteer het. Hy het gesê: ‘As dit nie vir lag was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.’ Wanneer jy daarvoor kan lag, kan jy daarmee lewe. Ook, as jy leer om vir jou probleme te lag, sal jy nooit uit dinge hardloop om voor te lag nie!

2) Verdiep jou liefde. Paulus skryf: ‘Die liefde is geduldig…’ (1 Korintiërs 13:4 NLV). Dit beteken dat wanneer jy ongeduldig is, is jy besig om liefdeloos te wees. Wanneer jy vir iemand lief is, is jy oor daardie persoon se wense, nood, behoeftes en oogpunt besorg – nie net oor jou eie nie. Wanneer jy met liefde gevul is, kan amper niks jou tot woede of ongeduld uitlok nie. Aan die ander kant, wanneer jy met woede gevul is, kan amper enigiets jou uitlok. Wanneer jy onder druk is, kom dit wat binne jou is na vore. Verdiep dus jou liefde. ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra’ (Efesiërs 4:2 NLV). Wanneer jy leer om die mense wat jou irriteer lief te hê, neem jy ‘n wapen wat Satan kan gebruik, uit sy hande. Bid vandag: ‘Here, maak my meer geduldig.’

Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 20:17-28; Ps 139:13-24; Spr 13:25

Hoe om geduld te ontwikkel (2)

2023-06-20
Spreuke 14:29 NLV

Geduld begin deur die manier hoe jy iets sien, te verander. Wanneer jy ongeduldig is, is jou perspektief smal. Al wat jy sien is jouself: jou behoeftes, doelwitte, skedule, begeertes en die manier wat mense jou lewe opmors. Die wortel van ongeduld is basies selfsug. Probeer om dinge uit die ander persoon se perspektief te sien. As jy sukses in jou huwelik wil behaal, leer om die lewe vanuit jou eggenoot se perspektief te sien. As jy as ouer sukses wil behaal, leer om dinge uit jou kind se perspektief te sien. As jy sukses in besigheid wil behaal, leer om dinge uit jou kliënt se perspektief te sien. As jy ‘n suksesvolle werkgewer wil wees, leer om dinge uit jou werknemer se perspektief te sien. Probeer uitvind hoekom die ander persoon voel soos hulle voel. As jy nooit irritasies en onderbrekings hanteer nie, sal jy nooit geduld ontwikkel nie.

Jy moet die waarheid dat God jou treë rig en dat vertroue nie verduidelikings verg nie, aanvaar. Die Bybel sê: ‘Die Here bepaal ‘n mens se lewe. Hoe kan ‘n mens verstaan wat met hom moet gebeur?’ (Spreuke 20:24 NLV). Geduld is ‘n teken van volwassenheid. Wanneer babas nie onmiddellik kry wat hulle wil hê nie, raak hulle ontsteld. Volwassenheid sluit die vermoë om te wag, om met vertraagde bevrediging te lewe, in. “‘n Geduldige mens het insig. Iemand wat kort van draad is, stal sy dwaasheid uit” (Spreuke 14:29 NLV). ‘n Persoon met insig en wysheid wat leer om die lewe uit ander mense (en God) se perspektief te sien, is in staat om geduldig te wees. Bid dus en vra God om jou ‘n nuwe perspektief op dinge te gee.

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 20:1-16; Ps 139:7-12; Spr 13:24

Hoe om geduld te ontwikkel (1)

2023-06-19
Spreuke 16:32 NLV

Die Bybel sê dat wanneer jy bid, God dadelik kan antwoord. Nêrens in die Bybel word egter beloof dat jy ‘onmiddellike geduld’ sal ontvang nie. Geduld is ‘n karaktereienskap en karakter word gebou terwyl jy ‘n leeftyd lank saam met God deur goeie en slegte tye wandel. Een Bybelonderwyser sê: ‘Geduld is net geloof wat sy tyd neem.’ Hier is hoe God geduld in ons ontwikkel:

1) Onderbrekings. Jy gaan sit om aandete te eet en jou foon begin lui. Jy is in die bad en iemand lui die voordeur se klokkie. Jy werk vinnig om ‘n spertyd te haal en besoekers daag op. Daar word gesê dat terwyl Brahms sy beroemde wiegielied gekomponeer het, het hy so baie onderbrekings teëgekom dat dit hom sewe jaar geneem het om die stuk te komponeer. Iemand het geskerts: ‘Wanneer jy ‘n wiegielied skryf, het jy al daardie onderbrekings nodig om te verhoed dat jy voor die klavier aan die slaap raak!’

2) Vertragings. Ons haat dit om te wag. Ons het ‘n mikrogolf-ingesteldheid. Ons wil dit wat ons wil hê binne sekondes kry. Ons het kitskos en kitskoffie. Ons is soos die man wat gebid het: ‘Here, gee my geduld en gee dit nou dadelik vir my!’

3) Irritasies. Lang rye, verlore sleutels, telefoonoproepe, koue kos, pap bande, badkamers wat beset is, verkeersknope… die lys is eindeloos. Het jy geweet dat 90 persent van mense wat hartaanvalle kry, die ‘gejaagde’ Tipe A persoonlikheid het? Die Bybel sê: ‘…Oorhaastigheid stuur jou in die verkeerde koers’ (Spreuke 19:2 NLV). Ons praat van Job se geduld, wat gesê het: ‘…deur my worsteling sal ek gretig wag op die vrylating’ (Job 14:14 NLV).

Bid daaroor, oefen geduld uit en wees vol vertroue in God!

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 19:15-30; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23

Elke kind het ‘n held nodig

2023-06-18
Jesaja 28:9 AFR83

‘n Besorgde pa het hierdie brief aan die sportafrigter by sy seun se skool geskryf: ‘Beste Afrigter, ek het pas jou brief aan ons seun waarin jy jou verwagtinge vir jou atlete beskryf, gelees. Jannie se ma en ek stem volkome saam. Ons het lankal die waarde van sport in kinders se lewens besef. Wanneer mens na jou rekord kyk, kan mens sien dat jy die spel goed afrig. Daar is egter nog ‘n fase van afrigting wat selfs belangriker is.

Laat my toe om te verduidelik. Ons gee vir jou ons kosbaarste besitting. Gedurende die volgende vier jaar sal ons seun jou die onderwerp van baie van die gesprekke in ons huis maak. Hy sal ons vertel hoe jy die Green Bay Packers se span kon behaal het as jy nie jou knie in 1985 beseer het nie. Hy sal ons van jou emosionele toespraak toe julle agter was teen halftyd vertel en hoe julle uiteindelik die wedstryd daardie dag gewen het. Ons sal hoor hoe jy nog steeds die bal kan aangee en kan skop. Ons sal dit alles hoor terwyl ons seun se oë blink.

Jy sien, hy sal jou verafgod. Ons het deesdae nie meer helde nie. Baie professionele atlete sal hulle siel vir ‘n paar rand verkoop. Baie atlete was hierdie jaar om negatiewe redes in die nuus. Ons weet dat alle atlete nie steel en dwelms gebruik nie, maar dis waarvan ons in die media lees. Jy is dus ons seun se held en ons maak op jou staat. Sy spiere mag dalk amper ontwikkel wees, maar sy gedagtes is nog broos en beïnvloedbaar. Jou verantwoordelikhede is groot. Beïndruk hom asseblief!’

Die wêreld is vol bendes, dwelms en geweld omdat ‘n kind die verkeerde held gekies het. Jy kan dit alles help verander – al is dit net vir een kind. Dink daaroor.

Sielskos: Fil 4:4-13; Gen 11:1-9