Wanneer jy ‘n geliefde verloor

2023-08-15
1 Tessalonisense 4:13 ABA

Onthou jy die eerste keer wat die dood jou geforseer het om finaal van ‘n geliefde afskeid te neem? By die begrafnis het jy woorde soos vertrek, aanbeweeg, vooruitgegaan, gehoor. ‘Vertrek waarheen? Aanbeweeg waarnatoe? Vooruitgegaan vir hoe lank?’ Wanneer iemand na ‘n vol lewe sterf, kan mens dit aanvaar. Maar wat as hulle as gevolg van geweld sterf? Of na ‘n lang siekbed? Jou drome word saam met die kis wat hulle in die grond laat sak, begrawe.

Paulus skryf: ‘Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie. Ons glo dat Jesus gesterf het en weer begin lewe het. Ons moet ook glo dat God die gelowiges wat gesterf het, na Jesus toe sal bring’ (verse 13-14 ABA).

Hierdie woorde verander ons hopelose verdriet in hoopvolle verdriet. Hoe? Deur ons te verseker dat ons weer ons geliefdes gaan sien. Is dit nie wat ons graag wil glo nie? Ons verlang daarna om te weet dat ons geliefdes veilig in die dood is. Ons smag na die versekering dat die siel oombliklik gaan om by God te wees. Waag ons dit egter om dit te glo? Volgens die Skrif, ja! By hulle afsterwe gaan ‘n Christen onmiddellik in die teenwoordigheid van God in en verlustig hulle in die bewuste gemeenskap met die Vader en met ander wat hulle vooraf gegaan het. Hierdie woorde op ‘n gelowige se grafsteen sê dit alles: ‘Die afskeid is vir ‘n oomblik, maar die ontmoeting sal vir ewig wees.’

Sielskos: 1 Pet 1-2; Mark 5:21-30; Ps 119:57-64; Spr 17:22

Hanteer versoeking (3)

2023-08-14
Matteus 6:13 NLV

Jesus het ons geleer om as volg te bid: ‘Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; en bevry ons van die greep van die Bose.’ Verstaan die volgende: Satan probeer jou altyd in die versoeking lei, terwyl die Heilige Gees wat binne jou leef jou altyd uit die versoeking probeer red. Dis interessant om op te let dat die Duiwel beide die versoeker en die aanklaer genoem word. ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het’ (Openbaring 12:10 NLV).

Daar is nie so iets soos regverdigheid wanneer dit by die Duiwel kom nie. Sodra hy jou sover gekry het om tot die versoeking in te gee, draai hy om en probeer jou oortuig dat omdat jy ingegee het, kan jy nie meer God se genade en verlossing ontvang nie. Dis egter net wanneer jy jou sonde ontken en God se genade verwerp, dat verlossing nie meer vir jou beskore is nie. Die Bybel sê: ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:8-9 NLV).

Sommige mense word dadelik uit versoeking gered; ander stry vir ‘n lang tyd daarteen voor hulle uiteindelik verlossing en oorwinning vind. Dis nooit ‘n geval dat God onwillig is om genade aan ons te bewys nie, maar eerder ons onvermoë om dit te ontvang. Of jy dus die maklike pad of die moeilike pad loop, solank jou begeerte is om nader aan God te kom, sal Hy ‘…keer dat die versoeking te sterk vir julle word…’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).

Sielskos: Deut 32:29-34:12; Mark 5:11-20; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21

Hanteer versoeking (2)

2023-08-13
Nehemia 8:10 NLV

Het jy al ooit agtergekom dat wanneer jy honger is, alles op die spyskaart lekker lyk? Soortgelyk is wanneer jou siel ontevrede is en sonde dan aanloklik lyk. Dis hoekom jy altyd van jou geestelike toestand bewus moet wees en die vlak van jou gees se bevrediging moet monitor. Daar is liggies op jou kar se paneelbord wat aandui hoe warm die enjin is of wanneer jy olie moet ingooi. Die belangrikste liggie op jou hart se paneelbord is die liggie wat jou gees se bevrediging aandui.

Dis hoekom daar so baie Skrifgedeeltes in die Bybel is wat ons roep om vreugdevol te wees: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). ‘Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding!’ (Jesaja 12:3 NLV). ‘…Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).

Hoekom word andersins intelligente mense dan nog steeds in versoeking vasgevang? Omdat wanneer ons ontevrede met ons lewens is, ons kwesbaar vir versoeking is. Hoe dieper die vlak van ons ontevredenheid is, hoe meer vatbaar is ons vir versoeking. As ons nie tevredenheid in ons verhouding met God vind nie, sal ons daarvoor in al die verkeerde plekke soek. Paulus sê: ‘As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk’ (Romeine 14:17 NLV). Die geheim tot vreugde lê daarin om ‘n lewe te lei wat deur die Gees gerig word – dis nog altyd so en sal altyd so wees.

Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-21; Mark 2:18-22

Hanteer versoeking (1)

2023-08-12
1 Korintiërs 10:13 NLV

Jesus het gesê: ‘…’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is…’ (Lukas 10:30 NLV). Jerusalem het die plek van God se guns verteenwoordig, terwyl Jerigo deur Josua vervloek is toe God sy mure gelyk gemaak het (sien Josua 6:26). Die pad wat die twee stede met mekaar verbind het, het gewemel van rowers. Was dit dus dalk hierdie man se bedoeling om ‘n ent op hierdie pad te reis en dan af te draai? Die Bybel sê nie, maar een ding wat ons weet is dat God tot groot uiterstes gaan om ons te keer om die pad van versoeking te volg en seer te kry.

Selfs met al sy voorsorgmaatreëls in plek, kry ons dit steeds reg om in die moeilikheid te beland. Eerstens hou ons op om na die aansporings van sy Gees te luister. Tweedens is ons nie bereid om oor sekere begeertes met ‘n onderdanige hart te bid nie. Derdens is ons nie daarin geïnteresseerd om met ‘n vertroude vriend te praat wat ons verantwoordbaar sal hou nie. Vierdens wil ons nie weet wat die Bybel oor die saak sê nie. Jy het eensydig besluit om die Gees te blus sodat jy aan jou vleeslike impulse kan toegee.

Ware vryheid gaan nie daaroor om die vryheid te hê om jou elke begeerte te bevredig nie; dit gaan daaroor om te weier om ‘n slaaf van ongesonde begeertes te word. Die stryd teen versoeking is edel, maar as jy slegs stoei om jou begeertes te onderdruk, sal jy uiteindelik die stryd verloor. Jy moet ‘n duidelike geestelike beeld van die soort persoon wat God wil hê jy moet wees handhaaf en met sy Gees saamwerk om daardie persoon te word.

Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 5:1-10; Ps 119:41-48; Spr 17:17

Aanbid God in alle omstandighede

2023-08-11
Genesis 22:5 NLV

Verbeel jouself dat jy jou kind op ‘n altaar aan God moet opoffer, sonder dat God vir jou sê hoekom jy dit moet doen! Hier is wat Abraham vir die twee jong mans wat hom op die moeilikste reis van sy lewe vergesel het, gesê het: ‘Bly ‘n bietjie hier… Ek en die seun sal ‘n entjie verder gaan. Ons sal daar aanbid en dan [sal beide van ons!] terugkom.’ Abraham se toewyding aan God was onwrikbaar.

Bekommernis en aanbidding is heeltemal teenoorgesteldes van mekaar. Ons sal baie gelukkiger wees as ons leer om bidders eerder as kommerkouse te wees. Bekommernis maak ‘n gaping vir die Vyand om ons te treiter, maar aanbidding lei ons in God se teenwoordigheid in waar ons onfeilbare vrede, vreugde en hoop vind. Ons is geskep om God te aanbid (sien Openbaring 4:11). God is goed, selfs wanneer ons omstandighede nie is nie. Hou dus op om jou te bekommer, gee jou besorgdhede aan God oor en lewe in sy genade. Genade is nie net goddelike guns nie; dis krag en goddelike bevoegdheid!

Moenie nog ‘n dag van jou lewe mors deur jouself te bekommer nie. Bepaal wat jou rol is en wat dit nie is nie. Moenie probeer om God se verantwoordelikheid op jouself te neem nie. Wanneer jy doen wat jy kan doen, tree God in en doen wat jy nie kan doen nie. Gee jouself en jou bekommernisse aan God oor, aanbid Hom en begin om die oorvloedige lewe wat Hy vir jou voorsien, te geniet. Die oomblik wat jy agterkom dat jy besig is om jouself te bekommer, ontwrig jou verkeerde gedagtepatrone deur te sê: ‘Ek sal myself nie bekommer nie. Ek sal U aanbid, Here. U is goed en ek vertrou volkome op U.’

Sielskos: Deut 28-29; Mark 4:26-41; Ps 119:33-40; Spr 17:16

Verander jou gedagtes en verander jou lewe

2023-08-10
Filippense 4:8 NLV

Paulus skryf: ‘Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ‘n goeie lig stel’ (vers 8 DB).

As jy ernstig daaroor is om ‘n beter lewe te verkry, moet jy die manier wat jy dink verander. Die beste manier om op te hou dink aan iets is om eenvoudig aan iets anders te dink. Wanneer jy nie ‘n sekere televisieprogram geniet nie, wat doen jy? Jy verander van kanaal! Bestaan die program waarvan jy nie hou nie, nie meer nie? Nee, dis nog steeds daar indien jy sou besluit om dit weer te probeer kyk.

Net so, wanneer jy jouself vind waar jy in ‘n gedagtepatroon vasgevang wat nadelig vir jou is, neem aksie. Weier om jou gedagtes aan die Duiwel vir sy planne uit te leen. Die enigste mag wat ‘n gedagte oor jou het, is die mag wat jy daaraan gee. God het gesê: ‘Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek… Mag jy tog die lewe kies…’ (Deuteronomium 30:19 NLV). Om die regte gedagte te kies is soos om ‘n lig aan te skakel; dit verdryf die donkerte en verlig die kamer. Jou mees dominante gedagtes sal jou lewe beheer, maak dus seker dat hulle in lyn met God se Woord is. Verander vandag jou gedagtes en verander jou lewe.

Sielskos: Deut 25-27; Mark 4:13-25; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15