Op wie kan jy staat maak?

2023-06-29
Filippense 2:22 NLV

God sal getrou wees teenoor jou, maak nie saak wat gebeur nie. Op wie kan jy egter, menslik gesproke, ook staat maak? Paulus skryf: ‘Al die ander soek net hulle eie belang en nie dit wat vir Jesus Christus saak maak nie. Julle weet egter hoe Timoteus homself bewys het. Soos ‘n seun sy pa help, het hy saam met my gewerk om die Goeie Nuus uit te dra’ (verse 21-22 NLV). Paulus het geweet dat hy op Timoteus kon staat maak. Op wie kan jy staat maak? Voor jy antwoord, oorweeg die volgende vier vrae:

1) Wanneer iets verkeerd gaan, het jy ten minste een vriend met wie jy maklik daaroor kan praat? ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Mens kan nie ‘n prys op so ‘n verhouding plaas nie.

2) Wie in jou lewe kan jou grootste vrese en versoekings korrek opnoem? ‘Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer. As een mens val, kan sy vriend hom optel. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie… En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:9-10, 12 NLV).

3) Het jy een of meer vriende wat jy gereeld ontmoet? ‘Die mense wat die Here dien, het toe met mekaar gepraat. Die Here het na hulle geluister en gehoor wat hulle sê. Hulle het ‘n gedenkboek in sy teenwoordigheid geskryf…’ (Maleagi 3:16 NLV).

4) Het jy ‘n vriend wat jy goed genoeg ken om met jou geheime te vertrou? “‘n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime” (Spreuke 11:13 NLV).

Sielskos: Jer 7-9; Matt 22:23-33; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24

Wees vreugdevol

2023-06-28
Psalm 90:14 NLV

Christus se saak word nie aangehelp wanneer sy volgelinge met lang gesigte rondloop nie. Jy sê: ‘Maar ek het probleme.’ Almal het. Toe die apostel Paulus in die tronk was, het hy geskryf: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ (Filippense 4:4 NLV). Om vreugdevol te wees is iets wat jy ten spyte van jou omstandighede doen, nie as gevolg daarvan nie. Die Bybel sê: ‘Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding!’ (Jesaja 12:3 NLV). God het ‘n fontein van vreugde binne in jou geplaas, maar jy moet die vreugde daaruit put en dit met ander mense deel.

Vreugde is aansteeklik. Geluk reis deur verhoudingsnetwerke soos rimpelings op ‘n dam. Dit is so kragtig dat dit drie grade van skeiding kan deurdring. Dit beteken dat jou gelukskwosiënt meer geneig is om te verhoog wanneer ‘n vriend van ‘n vriend van ‘n vriend gelukkig is. Ons hunker na vreugde. Die Psalmdigter het gesê: ‘Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae’ (Psalm 90:14 NLV).

Vreugdevolle mense laat ons lewendig voel. Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Ons is lief vir vreugde, maar ons vergeet dikwels hoe kragtig dit is. Vreugde gee ons die krag om versoeking te weerstaan. Dit gee ons die vermoë om uit te hou. Dis die gom wat ons verhoudings aanmekaar laat kleef. Dit gee ons die energie om lief te hê. Ons het nie net suurstof, kos en water nodig nie; ons het ook vreugde nodig. Die persoon wat dit bring, is soos ‘n oase in die woestyn. Wees dus vandag vreugdevol.

Sielskos: Jer 4-6; Matt 22:15-22; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22

Ons deel ons lewens

2023-06-27
Hebreërs 10:24 NLV

Robert Putman het ‘n verbysterende stelling gemaak: ‘Navorsing wys dat as jy aan geen groepe behoort nie, maar jy besluit om by een aan te sluit, jy jou risiko om oor die volgende jaar te sterf, rofweg met die helfte verminder.’ Een van die karaktereienskappe van die vroeë kerk was hulle verbintenis tot samesyn, want hulle het geweet dat samesyn nie sommer net vanself gebeur nie. Hulle het daagliks byeen gekom. Hulle het saam geëet.

Met die verloop van tyd het dit egter al minder begin gebeur. Die skrywer van Hebreërs het toe gesê: ‘Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot ‘n meer kragdadige beoefening van liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan…’ (verse 24-25 NLV).

Een skrywer stel dit so: “Hoe meer ‘n atleet aanmoediging van die ondersteuners benodig, hoe onwaarskynliker is dit dat hy of sy dit sal kry. Selde dink die aanhangers van ‘n verloorspan: ‘Kom ons kyk hoe ons hom kan aanspoor,’ wanneer ‘n moedelose speler vir sy kolfbeurt opdaag. Te dikwels kry die mense wat juis aanmoediging nodig het, dit nie. Elke dag staar almal rondom jou die lewe, met die ewigheid op die spel, in die gesig. Hierdie lewe het ‘n manier om mense plat te slaan. Elke lewe het ‘n ondersteunersafdeling nodig. Elke lewe het af en toe ‘n skouer om op te leun, nodig. Elke lewe het ‘n gebed wat hulle voor God ophef, nodig. Elke lewe het iemand nodig om soms ‘n paar arms om hulle te vou. Elke lewe het ‘n stem nodig wat sê: ‘Moenie moed opgee nie.'”

Sielskos: Jer 1-3; Matt 22:1-14; Ps 21; Spr 14:17-20

Integriteit (2)

2023-06-26
Spreuke 20:7 NLV

Hier is ses bestanddele wat altyd in blywende sukses gevind word:

1) Informasie. As jy nie ingelig bly nie, sal jy agterbly.
2) Intuïsie. Daardie gevoel dat jy iets weet, maar jy weet nie waar die kennis vandaan kom nie.
3) Inisiatief. Dis wanneer jy gewillig is om in geloof ‘n tree te neem en volgens jou intuïsie op te tree.
4) Opsetlikheid. Dit is wanneer jy gewillig is om spesifieke doelwitte en ‘n tydlyn hoe om dit te bereik, stel.
5) Intensiteit. Dit vra meer as die krag om te begin, dit verg uithoukrag.
6) Integriteit. Dit is die gom wat die voorafgaande vyf dinge bymekaar hou. Dit is gewortel in die private lewe wat jy alleen saam met God ontwikkel.

Ons hoor dikwels dat argitekte, ingenieurs en bouers sê: ‘Hierdie gebou het strukturele integriteit.’ Wat bedoel hulle daarmee? Dat die publieke skoonheid van die hoë wolkekrabber op sy private, onsigbare fondament wat diep in die aarde ingegrawe en stewig gebou is, staat maak. Dis daardie weggesteekte lewe van ‘n gebou wat strukturele integriteit meebring. Net so is dit die weggesteekte lewe van ‘n vrugteboom – die onsigbare wortelstelsel wat diep in die aarde geanker is – wat daardie sappige, smaaklike vrugte produseer.

Dis dieselfde met jou. Integriteit moet sy wortels in jou private lewe hê. Moenie wag tot jy die publieke arena betree voordat jy aan jou integriteit aandag gee nie, want dan is dit te laat. Jou talent mag dalk sukses meebring, maar dit verg karakter om jou sukses te beskerm en te handhaaf. Die waarheid is dat wanneer jou integriteit in jou private wêreld gewortel is, dit in jou persoonlike wêreld, jou professionele wêreld en jou publieke wêreld, gereflekteer word.

Sielskos: Hosea 11-14; Matt 21:33-46; Ps 17; Spr 14:13-16

Integriteit (1)

2023-06-25
Spreuke 10:9 NLV

Wat sou jy sê is die belangrikste karaktereienskap van ‘n persoon wat suksesvol wil wees en ‘n verskil in die lewe wil maak? Party mense sou intelligensie sê. Kennis is immers op verskeie maniere mag. Ander sal stry dat dit intensiteit is, daardie gees van verowering wat met ‘n passie aangevul word wat aansteeklik raak. Ander mense sal voorstel dat dit insig is, goeie ou gesonde verstand wat met die vermoë om sekere kwessies duidelik waar te neem, gepaardgaan. Die Bybel sê egter dat integriteit die belangrikste eienskap vir sukses is: ‘Die een wat opreg lewe, staan vas. Die een wat kronkelpaaie loop, kom tot ‘n val.’ Jy sal uiteindelik ‘bekend’ vir jou integriteit, of jou gebrek daaraan, word.

Ons het al almal mense op ons lewenspad teëgekom wat oor uitsonderlike intelligensie beskik, maar geen integriteit het nie en lankal uit die wedloop geval het. Ander mense met groot intensiteit en passie, maar min integriteit, het dieselfde gevaar. Dieselfde resultaat is van mense met groot insig, maar geen integriteit, waar. Die tesourus stel integriteit met woorde soos: ‘eerlikheid, volledigheid en onkreukbaarheid,’ gelyk.

Integriteit begin in jou private wêreld; die deel van jou wat net aan God en jouself bekend is. Dan word dit in jou persoonlike wêreld duidelik; die deel van jou wat jy aan ‘n klein kring van nabye familielede en moontlik ‘n paar vriende openbaar. Dan begin mense dit in jou professionele wêreld raaksien. Hier ken mense jou aan jou produk, jou werksetiek en jou vaardighede. Hulle vra almal dieselfde vraag: ‘Kan ek jou vertrou?’ Uiteindelik, word jou integriteit in jou publieke wêreld duidelik. Hier is dus die vraag: Het jy integriteit?

Sielskos: Eks 34:27-35; Kol 2:9-15

Wat is jou waardes? (2)

2023-06-24
Prediker 2:11 NLV

Hier is nog twee Skriftuurlike waardes waarvolgens jy moet lewe:

1) Gelykheid. ‘God het immers geen witbroodjies nie’ (Romeine 2:11 NLV). In God se oë is geen mens belangriker as ‘n ander een nie. Sommige mense het meer toegang tot die dinge wat die wêreld bied, is meer geleerd of is tot meer verantwoordelikheid geroep. In God se oë is niemand egter van nature beter as iemand anders nie. Die grondvlak is aan die voet van die kruis en ons almal benader God as sondaars wat verlossing nodig het. Dit maak dus nie saak wat jou posisie in die lewe is nie, God verwag van jou om almal met dieselfde respek te hanteer.

2) Vrygewigheid. Jesus het gesê: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle toe terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (Lukas 6:38 NLV). Ander mense bepaal nie wat jy ontvang nie. God bepaal dit nie eers nie. Jy doen! Jy is nooit meer soos God as wanneer jy gee nie en jy kan Hom nooit oortref as dit by gee kom nie. Die waarheid is dat jy geen rede het om angstig te wees dat jy nie genoeg gaan hê, as jy vrygewig teenoor ander mense is nie.

Hoekom is dit belangrik om waardes te hê waarvolgens jy lewe? Salomo het gesê: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ‘n gejaag na wind nie. Daar is geen voordeel onder die son nie.’

Sielskos: Hosea 6-10; Matt 21:18-32; Ps 8; Spr 14:9-12