2023-08-21
Spreuke 4:7 NLV
Hoekom verwys die Bybel so baie na Salomo se wysheid? Omdat dit nie menslike wysheid is wat tot ‘n bonatuurlike hoogte verhef is nie; dis bonatuurlike wysheid wat tot menslike begrip verlaag is. Luister na wat Salomo, die wysste man in die wêreld, gesê het: ‘Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy die wysheid liefhet, sal dit jou beveilig. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om onderskeidingsvermoë te verkry. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee’ (verse 6-8 NLV).
In dié lyn merk Haddon Robinson op: ‘Sedert 1955 het kennis elke vyf jaar verdubbel. Hoërskoolgegradueerdes is vandag aan meer inligting as Plato, Aristoteles, Spinoza of Benjamin Franklin blootgestel. Wat feite alleen betref, sal Moses of Paulus nie vandag ‘n universiteit-toelatingseksamen slaag nie. Tog, selfs met al ons kennis, word die samelewing vandag met ‘n groot oes van briljante mislukkings bevolk. Mans en vroue wat opgevoed is om ‘n bestaan te verdien, weet dikwels niks van die hantering van die lewe self nie. Alumni van bekende universiteite het inligting oor ‘n nou stukkie lewe bemeester – maar kan nie graad een slaag wanneer dit by ‘n suksesvolle lewe saam met familie en vriende kom nie. Kennis is nie genoeg om die lewe se probleme te hanteer nie. Ons het wysheid nodig, die vermoë om die lewe met vaardigheid te hanteer.’
Spurgeon het een maal gesê: ‘Daar is geen dwaas so groot soos ‘n wetende dwaas nie; maar om te weet hoe om kennis te gebruik, is om wysheid te hê.’ Hoe meer inligting jy dus aan blootgestel word, hoe meer moet jy vir wysheid bid.
Sielskos: Rig 4-6; Mark 6:45-56; Ps 119:97-104; Spr 18:9
2023-08-20
Spreuke 8:11 NLV
Toe koning Salomo vir God vir wysheid, in plaas van mag, roem, of rykdom gevra het, het God vir hom gesê: ‘…Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ‘n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer; sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor of na jou ooit sal hê nie’ (2 Kronieke 1:11-12 NLV).
Het God sy belofte gehou? Wel, Salomo het die wêreld se grootste ryk regeer. Sy handelskepe het die see bevaar en hom die skatte van die aarde teruggebring. Hy het van die wêreld se belangrikste geboue, insluitend die tempel, ontwerp en gebou. Hy het reservoirs, parke, tuine en wingerde gebou. Hy het besigheid, wetenskap en letterkunde bemeester. Hy het ‘n digter wat pryse wen, ‘n vooraanstaande skrywer en ‘n begaafde musikant geword. Hy het die ongelooflike waarde van wysheid geleer, al die voordele daarvan geniet en die volgende geskryf: ‘Kies eerder wat ek julle leer. Dit is meer werd as silwer. My kennis is meer werd as goud. Wysheid is baie meer werd as edelstene. Daar is niks waaraan jy kan dink wat teen wysheid kan opweeg nie’ (Spreuke 8:10-11 NLV).
Daar is een-en-dertig hoofstukke in die boek Spreuke – een vir elke dag van die maand. Hier is dus ‘n voorstel: Hoekom lees jy nie ‘n hoofstuk ‘n dag vir die volgende twaalf maande en word wys nie?
Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5
2023-08-19
2 Kronieke 1:10 NLV
Toe koning Salomo die troon bestyg het, het God vir hom gesê: ‘…Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!’ (vers 7 NLV). Verbeel jouself: Salomo is carte blanche deur die Een in wie se woordeboek die woord onmoontlik nie verskyn nie, gegee. Daar was egter ‘n vangplek! God was besig om Salomo te toets om uit te vind wat in sy hart is. ‘n Arrogante persoon sou vir roem gevra het. ‘n Wêreldse persoon sou vir rykdom gevra het. ‘n Selfsugtige persoon sou vir mag gevra het. Wat het Salomo van God gevra? ‘Gee my tog wysheid…’ God het aan Salomo se versoek voldoen en hom iets meer bevredigend as roem, meer buitensporig as rykdom en meer opwindend as mag, gegee. Al die materiële seëninge wat Salomo geniet het, was byprodukte van die gawe van wysheid.
‘n Anonieme denker het geskryf: ‘Sê vir my jou drome en ek sal vir jou die raaisels van jou lewe vertel. Sê vir my jou gebede en ek sal vir jou die geskiedenis van jou siel vertel. Sê vir my wat jy vra en ek sal jou vertel wat jy kry. Sê vir my wat jy soek en ek sal jou vertel wat jy is. Ek wil nie jou besittings ken nie, net jou behoeftes. Ek wil nie weet wat jy het nie, net wat jy nie het nie en begeer om te hê; nie jou prestasies nie, maar wat jy nog nie bereik het nie en nastreef. Dit wat na jou toe in jou oorwinnings bedags en jou drome snags kom, die ideaal wat jy voor jou stel, die dinge wat jy as voortreflik goedkeur, dit waarna jy soek en jou hart op gesit het. Dit is die maatstaf van ‘n man.’
Bid dus vir wysheid.
Sielskos: Rig 1-3; Mark 6:30-44; Ps 119:89-96; Spr 18:6-8
2023-08-18
1 Korintiërs 10:13 NLV
Die Bybel sê: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (vers 13 NLV).
Ons gedagtes is soos ‘n hotel. Die bestuurder kan nie keer dat iemand die voorportaal binnekom nie, maar hy kan hom keer om ‘n kamer te bespreek. Dis dieselfde met versoeking. Toe God jou verlos het, het jy ‘n wedergebore gees geword wat in ‘n onwedergebore liggaam woon. Die Bybel sê: ‘…In die regte verhouding met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe’ (Efesiërs 4:30 NLV). Satan kan nie jou wedergebore gees oorwin nie, daarom val hy jou deur jou laer natuur aan. Paulus het dit erken: ‘Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek’ (Romeine 7:19 NLV). Jy sal nooit immuun teen versoeking wees nie, maar jy kan dit oorkom.
Let drie dinge in die Skrif op: ‘God is getrou.’ Soos ‘n skaapwagter wat nooit sy skape verlaat nie, sal Hy jou terugbring wanneer jy die pad byster raak. 2) ‘Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word.’ Soos ‘n goeie afrigter wat jou oplei, sal God toelaat dat die gewig van die versoeking jou versterk, maar jou nie breek of vernietig nie. 3) ‘Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou.’ As jy kies om jou eie pad te volg, sal jy misluk. God se ‘uitweg’ is deur gebed, sy Woord, Christelike gemeenskap en Geesgevulde lewe. Dis hoe jy versoeking oorkom.
Sielskos: Rut 1-4; Mark 6:14-29; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5
2023-08-17
Spreuke 5:19 ABA
Toe jy jou man of vrou ontmoet het en verlief geraak het, het jy dag en nag aan hom\haar gedink. Julle kon nie wag om bymekaar te wees nie; jy het aan sy/haar lippe gehang. Die verhouding was stimulerend en opwindend omdat julle mekaar se gedagtes aangewakker het, mekaar se emosies opgewonde gemaak het en mekaar se verbeelding oor ‘n wye verskeidenheid van die lewe se onderwerpe, aangevuur het.
Baie huwelike oorleef egter nie omdat dit van verveling sterf. Een maat raak betrokke by ‘n verhouding, of die ander raak verslaaf aan pornografie of ‘n ander afwykende gedrag, omdat hulle verveeld is in die verhouding. Dit is nie ‘n verskoning vir verkeerde optrede nie, maar verveling funksioneer soos laegraadse gif; dit eis ‘n onvermydelike tol van elkeen van julle.
Die geheim tot ‘n goeie huwelik lê daarin om maniere te vind om aan te hou om jouself te verbeter en dit dan na die tafel van jou verhouding te bring. Leer iets nuuts van jou man se beroepsveld. Gee om vir die details van jou vrou se dag. Wanneer jy betrokke is by ‘n ander persoon se lewe, versterk jy hul begeerte om meer oor hul dag en hulself te deel. Nog iets om in gedagte te hou is dat dit belangrik is om ‘n lewe buite die persoon waarin jy belangstel, te hê. Paartjies wat saam wil groei moet besef dat hulle mekaar moet aanmoedig om vriendskappe, stokperdjies en belangstellings onafhanklik van mekaar, te kweek.
Opwindende mense maak mekaar opgewonde! Hulle verstaan hoe om hul eie lewens te ontwikkel sonder om die gedeelde lewe wat hulle saam het, te verontagsaam. Dis wat die Bybel bedoel wanneer dit sê: ‘…jy moet vir haar [of hom] so lief wees dat dit vir jou sal wees soos ‘n droom.’
Sielskos: Obadja; Mark 6:1-13; Ps 119:73-80; Spr 17:27-28
2023-08-16
Spreuke 20:7 NLV
Wanneer die Bybel van integriteit praat, beteken dit om ‘n goeie karakter te hê. ‘n Goeie karakter stel grense. Dit mag dalk nie altyd bepaal wat jy sal doen nie, maar dit bepaal altyd wat jy nie sal doen nie. Karakter laat jou besef hoeveel jy gewillig is om te betaal om te kry wat jy wil hê. Die Bybel sê: ‘Hy wat opreg en eerlik leef, se kinders is baie gelukkig.’
Karakter hoef nie in die kollig te wees en oormatig in beheer te wees nie. Dit wend hom ook nie na intimidasie of skande om sy eie sin te kry nie. Die persoon wat dink dat hy of sy deur te jok, te kul of te manipuleer kan kry wat hulle wil hê, is ongelukkig verkeerd. Verstaan die volgende: Maak nie saak waar jy gaan nie, die ware jy sal uiteindelik daar opdaag!
As jy nie aan jou karakter werk nie, sal jy nie in staat wees om gesonde verhoudings te bou nie. Opregte verhoudings verg integriteit; iemand wat konsekwente karakter in alle omstandighede aan die dag lê; iemand wat by die reëls hou en op wie mens kan staat maak; iemand wat krediet gee waar dit verskuldig is; iemand wat volgens geloof leef; iemand wat God vertrou om hom in staat te stel om alles waarvoor hy of sy geskep is en geroep is om te doen, te bereik.
Die Bybel sê vir ons dat die goddeloses vir ‘n seisoen voorspoedig mag wees, maar dat hulle dit nie sal kan volhou nie. Hulle sal ook uiteindelik beslis nie seëvier nie (sien Spreuke 11:21). Die Bybel sê: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang’ (Spreuke 11:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – werk aan jou karakter.
Sielskos: 1 Pet 3-5; Mark 5:31-43; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26