2023-08-27
1 Johannes 3:21 NLV
Wanneer jy bewustelik sondig, plaas dit jou liggaam onder stres. Daar is nie eintlik so iets soos ‘n ‘leuenverklikkertoets’ nie. Die toets kan nie bepaal of iemand lieg nie. Dit meet bloot hoe ‘n persoon se reaksie op sekere vrae hul senuweestelsel beïnvloed. God het ons liggame ontwerp om Hom te verheerlik (sien 1 Korintiërs 6:19-20). Wanneer jy dus sondig, beïnvloed dit jou liggaam negatief. Selfs al het jy nog nooit ‘n leuenverklikkertoets ondergaan nie, kan jy saamstem dat wanneer jy gelieg het, jy waarskynlik ‘n toename in jou hartklop ervaar het. Wanneer God dus vir jou sê om nie te sondig nie, probeer Hy nie jou vreugde steel nie, maar dit bewaar.
Sonde steel drie dinge by jou: 1) Gemak. “‘Vir bose mense,’ sê die Here, ‘is daar geen vrede nie” (Jesaja 48:22 NLV). Wanneer jy bewustelik jou waardes skend, raak jy onrustig in jou eie vel.
2) Karakter. Jou reputasie is hoe ander mense jou sien, maar jou karakter is wat jy sien wanneer jy elke dag na jouself in die spieël kyk. Jou gedagtes bepaal jou dade, jou dade bepaal jou gewoontes, jou gewoontes bepaal jou karakter en jou karakter bepaal jou lotsbestemming.
3) Selfvertroue. Niks in die lewe is belangriker as om met vrymoedigheid na God te kan gaan nie. ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).
Die volgende keer wat Satan jou dus versoek om sonde te doen, stop en maak die somme. Wanneer jy na die antwoord kyk, sal jy in staat wees om elke keer die regte keuse te maak.
Sielskos: 1 Sam 25:2-42; 1 Pet 3:1-7
2023-08-26
1 Johannes 3:18 NLV
Toe iemand vir ‘n multimiljoenêr gevra het hoeveel geld mens nodig het om gelukkig te wees, het hy geantwoord: ‘Net nog ‘n bietjie.’ Kom ons neem aan dat jy nie so is nie en vir ander mense omgee. Hoekom is jy nie meer daarby betrokke om aan hulle behoeftes te voldoen nie? ‘Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broers en susters sien gebrek ly, maar weier om ‘n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede…’ (verse 17-18 NLV). Hierdie Skrifgedeelte kan in twee woorde opgesom word: Doen iets!
In die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, het twee verskillende predikers op die Jerigopad verby ‘n sterwende man geloop sonder om te stop en hulp aan te bied. Hoe het hulle so onsensitief en onwillig geword? Het hulle gedink: ‘Die probleem is te groot, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie?’ Was hulle so op hulle kerk se agenda gefokus dat hulle nie die tyd of hulpbronne om hierdie man weer op sy voete te kry, wou afstaan nie?
Jesus het gesê: ‘Toe het ‘n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ‘n herberg geneem en daar verder versorg’ (Lukas 10:33-34 NLV). Die Samaritaan het hom innig jammer gekry. Hy was bereid om emosioneel betrokke te raak. Jy moet ook wees. Die woord vir jou vandag is dus – doen iets!
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 8:14-26; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24
2023-08-25
Matteus 18:21 NLV
Die Bybel sê: “Daarop kom vra Petrus Hom: ‘Hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!'” (verse 21-22 NLV). Sewentig maal sewe is gelyk aan 490 keer. Dis jou medegelowige, iemand saam met wie jy moet lewe of werk, wat jy geroep is om te vergewe. In wese het Jesus gesê: ‘Vergewe en hou aan om te vergewe as jy ‘n verhouding met hierdie persoon wil hê.’
Kom ons erken dit, ons almal maak foute, omdat ons op verskillende maniere gebrekkig is. Volmaaktheid bestaan net in God. Onthou Jesus se woorde: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ (Lukas 23:34 NLV).
Terwyl dit heeltemal normaal is om woede te voel en dit ‘n natuurlike menslike reaksie is om mishandel te voel, is daar ‘n groot verskil tussen gesonde woede en die bytende emosie van bitterheid. Bitterheid is kanker vir ‘n verhouding. Soos dr Maya Angelou gesê het: ‘Bitterheid teer op die gasheer. Dit doen niks aan die onderwerp van die onvergenoegdheid nie.’
Jesus het gesê: ‘Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen’ (Lukas 6:31 NLV). Deur die mate van vergifnis aan te bied wat jy wil ontvang, verseker jy dat jou verhouding gesond en vry van die siekte van bitterheid bly. Is dit soms moeilik om te doen? Ja, maar as jy bid, sal God jou die genade gee om dit te doen!
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 8:1-13; Ps 119:129-136; Spr 18:21
2023-08-24
Eksodus 12:7 NLV
Op die nag van die Pasga het God vir Moses gesê dat die doodsengel sou kom om al die manlike eersgeborenes in Egipte uit te wis. Toe het Hy ‘n spesifieke plan van beskerming aan die kinders van Israel gegee. Hy het gesê dat elke huisgesin ‘n lam moet neem en sy bloed moet ‘…smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis…’ Dink jouself dit in! Toe die doodsengel op die oordeelsnag na hulle huise gekyk het, is hulle gered omdat hulle ‘onder’ die bloed, ‘omring’ deur die bloed en ‘gesien’ deur die bloed, was.
Soms wanneer ons bid, sê ons: ‘Vader, ek kom na U in die naam van Jesus en op grond van sy gestorte bloed, en ek vra U om…’ Hoekom bid ons op hierdie manier? Omdat die Bybel vir ons sê dat God: a) op die naam van Jesus, wie se opoffering namens ons Hy ten volle aanvaar het, en b) die bloed van Jesus, wat aan al God se aansprake teen ons – in die verlede, hede en toekoms – voldoen, reageer.
Onder die baie dinge wat jy vir jou gesin kan doen, is niks belangriker as om elke dag vir hulle te bid nie. Wanneer jy sê: ‘Vader, deur ‘n daad van geloof, bedek ek hierdie lid van my gesin met die kosbare bloed van Jesus,’ beskerm jy hulle teen geestelik vernietigende invloede wat, as hulle aan hul eie lot oorgelaat word, jou gesin uitmekaar kan skeur. Jy sê: ‘Ek verstaan dit alles nie heeltemal nie!’ Jy hoef nie. Doen dit net – en God sal jou eer en jou gesin seën!
Sielskos: Rig 12-15; Mark 7:24-37; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20
2023-08-23
Psalm 46:11 NLV
Job se swakpunt was dat hy oormatig baie gepraat het. Mens kan hom nie daarvoor blameer nie. Nadat hy deur rampspoed getref is, het daar nie ‘n muur in sy huis staande of ‘n geliefde oorgebly nie. Sy vrou, empatiese siel wat sy was, het vir hom gesê: ‘…Vloek God en sterf!’ (Job 2:9 NLV). Toe sê sy vier vriende vir hom dat hy waarskynlik al hierdie moeilikheid oor homself gebring het.
God praat eers in hoofstuk 38 vir die eerste keer: ‘Toe het die Here Job uit die stormwind geantwoord’ (vers 1 NLV). Nadat die Here gepraat het, sê Job: ‘Ek het dwase dinge gesê. Hoe kan ek U antwoord? Ek sit my hand op my mond’ (Job 39:37 NLV). Voordat hy van God gehoor het, kon jy Job nie sover kry om stil te bly nie. Nadat hy egter van Hom gehoor het, kon hy glad nie meer praat nie. Die enigste regte ding wat Job gesê het, was: ‘Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom…’ (Job 13:15 AFR53).
Soms is die beste manier om jou probleem te hanteer om te vertrou, jouself te onderwerp en nie te praat nie. Job het dit nie op daardie stadium geweet nie, maar God se plan was om hom op die ou einde twee keer soveel te gee as wat hy verloor het. Dit het gebeur toe hy opgehou het om op sy eie probleme te fokus en vir sy vriende begin bid het (sien Job 42:10).
Wees dus stil. Wees ontvanklik en gewillig. God is steeds op die troon. Hy is in beheer van elke detail in jou lewe. Selfs in die ergste omstandighede het Hy jou beste belange op die hart. ‘…U steek u hand uit en red my deur u krag’ (Psalm 138:7 NLV). Dis al wat jy moet weet!
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 7:14-23; Ps 119:113-120; Spr 20:25
2023-08-22
Jakobus 1:5 NLV
Hier is ‘n beproefde en bewese formule om wysheid te bekom:
1) Erken dat jy dit nodig het. Benjamin Franklin het tereg gesê: ‘Die drumpel na die tempel van wysheid is die kennis van jou eie onkunde.’
2) Gaan na die regte bron toe. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee…’ (Spreuke 2:6 NLV). Hy alleen kan ware wysheid gee, want Hy alleen het ware wysheid. Sy wysheid laat ons s’n na dwaasheid lyk. Paulus sê: ‘Hierdie Goddelike ‘dwaasheid’ is oneindig wyser as enige menslike wysheid…’ (1 Korintiërs 1:25 NLV).
3) Vra daarvoor. God gaar nie sy wysheid op nie; Hy is gereed om dit weg te gee. Salomo sê: ‘Roep na insig. Roep hardop vir begrip. Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ‘n versteekte skat. Jy sal dan weet wat dit beteken om respek te hê vir die Here. Jy sal agterkom wat dit beteken om God te ken. Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:3-6 NLV).
Jakobus skryf: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:5-8 NLV). Bid vandag vir wysheid.
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 7:1-13; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12