Wanneer jy aangeval word (5)

2023-07-05
2 Kronieke 32:8 NLV

Die wedergeboorte skep ‘n geveg tussen jou ou en nuwe natuur en jy moet leer hoe om hierdie stryd te veg. Hier is nog ‘n paar Skriftuurlike strategieë om oorwinning te behaal:

1) Vul jou gedagtes met die Skrif. Dawid het gesê: ‘As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende’ (Psalm 119:92 NLV). Jou gedagtes is soos grond; dit sal enige saad wat jy plant laat groei, of dit nou goed of sleg is. Wanneer jy woorde wat deur God gespreek is plant, saai jy energie, lewe en hoop in jou gees. God se Woord is soos ‘n inenting, dit verwyder Satan se mag om jou met vrees en ongeloof te infekteer. Die Psalmdigter het gesê: ‘Die gebooie van sy God is in sy hart. Hy sal nie ‘n voet verkeerd sit nie’ (Psalm 37:31 NLV).

2) Reik uit na ander mense. ‘Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (Job 42:10 NLV). Klink dit vreemd? Dit mag dalk vreemd in die mens se koninkryk wees, maar nie in God se koninkryk nie. Jy is die oplossing vir iemand anders se probleem en wanneer jy na hulle toe uitreik, sal God na jou toe uitreik (sien Efesiërs 6:8). Probeer dit.

3) Onthou dat seisoene verander. Dawid het gesê: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Hierdie aanval sal nie vir ewig duur nie – die oggend is op pad! Mense verander en omstandighede verander. Begin dus om God te glo om dinge namens jou te verander. Hy het beloof om dit te doen en Hy sal.

Sielskos: Jer 25-27; Matt 24:1-14; Ps 102:12-17; Spr 15:3

Wanneer jy aangeval word (4)

2023-07-04
Spreuke 24:10 NLV

Die laaste paar dae het ons gesels oor hoe om Satan se aanvalle te hanteer soos hulle voorkom. As jy dus vandag aangeval word, doen die volgende:

1) Wees taai. Die lewe is ‘n reeks gevegte, wat beteken dat dit ook ‘n reeks oorwinnings kan wees. ‘…omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Put krag uit God se mag binne-in jou. Hy wil jou graag wys wat Hy vir jou kan doen. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Daar is krag in sy Woord wanneer jy dit spreek, dit glo en daarvolgens optree.

2) Maak op God se wysheid staat. Jesus het gesê: ‘Laat dit swaar op julle harte rus om nie bekommerd te wees oor julle verdediging nie, want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie’ (Lukas 21:14-15 NLV). God het vir jou twee dinge gegee wat altyd werk: jou mond en sy wysheid. Wanneer onverwagte dinge voorval, sal die Heilige Gees opstaan en deur jou praat, wees dus van Hom afhanklik.

3) Vertrou op God om die aanval te stop. Die Bybel sê: ‘Aanskou die werke van die Here wat… oorloë beëindig oor die hele aarde…’ (Psalm 46:9-10 NLV). God is in beheer, Hy is groter as jou probleem en jy is op hierdie einste oomblik in sy gedagtes. Hy het jou trane, jou vrese en jou pyn opgelet – en Hy sal namens jou beweeg.

Sielskos: Jer 22-24; Matt 23:23-39; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2

Wanneer jy aangeval word (3)

2023-07-03
2 Korintiërs 4:8 NLV

Satan kan jou enige tyd, enige plek aanval. As jy hom wil verslaan, is hier ‘n paar beproefde Bybelse beginsels wat jy moet volg:

1) Bewaak jou gedagtes. Jy sal nooit verslaan word solank as wat jy in jou gedagtes oorwinnend is nie; dis die geboorteplek van alles wat jy doen. Satan weet dit en hy sal jou gedagtes so deurmekaar probeer maak dat jy nie op dit wat belangrik is, sal kan konsentreer nie. Moenie hom toelaat om dit te doen nie. Jesaja het gesê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).

2) Wees lief vir mense, maar vertrou op God. Lewe volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense’ (Psalm 118:8 NLV). Wanneer die Duiwel jou wil seermaak, sal hy dikwels ‘n persoon gebruik om dit te doen. Jou ‘vyand’ is enigiemand wat probeer om God se wil in jou lewe in die wiele te ry, identifiseer dus sulke mense en vermy hulle. God het ons nooit opdrag gegee om mense te vertrou nie; Hy het ons opdrag gegee om mense lief te hê – en Hom te vertrou. Verstaan die verskil, want jou oorwinning hang daarvan af.

3) Moenie tou opgooi nie. Jesus het gesê: ‘…Enigiemand wat ‘n hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koningsheerskappy van God nie’ (Lukas 9:62 NLV). Jou drome en doelwitte is enige geveg, enige prys en enige wagtydperk werd. Jou geloof is wat Satan verslaan. Onthou jy vir Josef? Elke dag van teëspoed was net nog ‘n tree na die troon toe. Hou dus aan stap en glo, want daar is oorwinning wat op jou wag!

Sielskos: Jer 18-21; Matt 23:13-22; Ps 98; Spr 14:34

Wanneer jy aangeval word (2)

2023-07-02
1 Johannes 5:4 NLV

Teëspoed is dikwels die Vyand se poging om die volgende seisoen van God se seën in jou lewe te steel. As jy vandag aangeval word, moet jy die volgende drie dinge doen:

1) Staan op en veg terug. Jy sal in die versoeking kom om jouself te onttrek en bedees en passief te word, veral as jy seergekry het. Moet dit egter nie doen nie. Satan is mal oor skaam, vreesbevange tipes, maar regte vegters intimideer hom. Wees dus dapper en eis die volgende belofte op: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV).

2) Gebruik al jou wapens. Die Bybel sê: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Gebed is ‘n wapen – gebruik dit daagliks. Bid saam met ander mense. Maak seker jy ken die voorbidders in jou lewe, want hulle het invloed by God. Die Skrif is ook ‘n wapen, gebruik dit dus. ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Vind uit wat God se Woord oor jou situasie sê en gebruik dit dan as swaard om die Vyand se kop af te kap.

3) Probeer om die groter prentjie te sien. Min dinge is ooit soos dit aanvanklik lyk, kyk dus verby die oomblik en kyk of iets goeds in jou gebore word. Na teëspoed kom seën en guns, vestig dus jou oë dus op die groter prentjie. Paulus, wat onder meedoënlose aanvalle gely het, het gesê: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Jy kan vandag wen.

Sielskos: Jos 6:1-25; Luke 7:36-50

Wanneer jy aangeval word (1)

2023-07-01
Jesaja 59:19 NLV

Jou grootste foute gebeur dikwels in die vroeë stadium van ‘n beproewing, omdat dit jou onkant betrap. Verrassing is een van die Duiwel se gunstelingwapens. Hier is dus vier wenstrategieë wanneer jy aangeval word:

1) Moenie paniekerig raak nie. Leef volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Wees stil en weet ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Dit beteken dat God teenwoordig is, ten volle bewus van jou situasie is en dat Hy ‘n oplossing daarvoor het. Wees net sensitief en reageer op die stem van sy Gees binne-in jou (sien Johannes 16:13). Onthou, tyd is aan jou kant. Geduld is ‘n wapen wat die waarheid en beweegredes na die oppervlak bring.

2) Analiseer dit. Salomo het gesê: ‘Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan…’ (Prediker 7:14 AFR53). Soms is dit wat soos ‘n krisis lyk net gekonsentreerde informasie. Wanneer jy die tyd neem om dit te analiseer, trek jy voordeel daaruit.

3) Soek raad. ‘Sonder goeie leiding stort ‘n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV). Onkunde is jou vyand en instruksie is jou vriend. Iemand êrens weet iets wat jy nodig het om te weet; soms kan dit jou help om hierdie pynlike hoofstuk in jou lewe te oorleef en selfs sukses daaruit te behaal. Reik na hulle toe uit.

4) Verwag van God om te beweeg. ‘…Hy kom soos ‘n opgedamde vloed, wat deur die asem van die Here aangeblaas word.’ Teëspoed is dikwels die Vyand se reaksie op jou vooruitgang. Wees bly; jou hemelse Vader se oë is vandag op jou. Hy is tevrede met jou en gaan jou in oorwinning daardeur bring.

Sielskos: Jer 14-17; Matt 23:1-12; Ps 95; Spr 14:29-33

Kom ons wees eerlik

2023-06-30
1 Korintiërs 10:13 NLV

Die probleem is nie net dat ons sondig nie; dis dat ons nie daaroor praat nie. Ons is gemaklik met verhale van mense wat gesondig het, omdat dit ‘n gelukkige einde het. Stel jou voor jy gaan na ‘n berader en sê: ‘Ek wil net oor probleme praat wat ek gehad het. Moet my asb nie uitvra oor my huidige probleme nie. Dit sal my skaam maak. Ek is bang jy sal my verwerp.’ Hoekom sal jy na ‘n berader toe gaan en hom of haar probeer oortuig dat jy nie berading nodig het nie? Mense is gemaklik daarmee om hulle dokter van ‘n fisiese probleem of ‘n werktuigkundige van ‘n probleem met hulle kar te vertel. Moet ons dan nie ook gemaklik daarmee wees om vir mekaar te sê wanneer ons ‘n probleem het nie?

As jy wil hê dat God (of enigiemand anders) die ware jy moet liefhê, moet jy daaraan werk om eerlik te wees. Dawid was Israel se beste koning, maar hy was ‘n poligamis. Hy was ook ‘n aaklige pa. Hy het ‘n ander man se vrou begeer, met haar owerspel gepleeg, probeer om haar man om die bos te lei, hom uiteindelik laat vermoor en het sy misdade vir ‘n jaar lank toegesmeer; dus was hy inhalig, ‘n egbreker, ‘n leuenaar en ‘n moordenaar. Soos iemand geskerts het: ‘Niemand het in daardie tyd met ‘n ‘Wat sou Dawid doen?’ armband rondgeloop nie.’ Tog noem die Bybel Dawid ‘…’n man na [God] se hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV).

Is dit moontlik vir iemand om so intens met sonde te worstel en terselfdertyd na God te smag? Ja. Dis ook hoekom die Bybel sê: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).

Sielskos: Jer 10-13; Matt 22:34-46; Ps 64; Spr 14:25-28