2023-07-11
1 Korintiërs 16:13 NLV
Soms ervaar jy meer probleme wanneer jy ‘n Christen word as daar voor. ‘Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens verskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het’ (Hebreërs 10:32 NLV). Kyk na Christus se lewe. “Ná Jesus se doop… gaan die hemele toe vir Hom oop… Daar kom toe ‘n stem uit die hemel wat sê: ‘Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart'” (Matteus 3:16-17 NLV). Dan lees ons: ‘Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel op die proef gestel te word’ (Matteus 4:1 NLV). Eerste die roeping, dan die konflik. Dis hoe dit nog steeds werk!
Toe Paulus tot die bediening geroep is, is aan hom ‘…’n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty’ (2 Korintiërs 12:7 NLV). Wanneer jy dus vir God ja sê, moet jy daarop voorbereid wees om aangeval te word. Satan val dit wat hy vrees aan en hy vrees God se plan vir jou lewe. Die enigste veilige plek is dus om in die middelpunt van God se wil te bly.
Toe Noag besig was om die ark te bou, kon hy ‘n honderd jaar van bespotting weerstaan, maar toe die werk klaar was, het hy dronk geword en homself in die skande gesteek. Paulus skryf: ‘Al hierdie dinge… is neergeskryf om ons te waarsku… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – wees op en wakker!
Sielskos: Jer 41-44; Matt 25:14-30; Ps 79; Spr 15:18-21
2023-07-10
1 Johannes 2:1 NLV
Op daardie dae wat jy wonder hoe God vir jou kan lief wees, lees die volgende woorde: ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.’ Wanneer jou gedagtes die verkeerde rigting inslaan en jou optrede allesbehalwe Christelik is, herinner jouself: ‘…Hy leef vir altyd om [ons] saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV). Dit werk as volg: Wanneer God se wet jou skuldig verklaar, tree Jesus in en sê: ‘Vader, Ek tree namens hierdie persoon op; hulle vertrou op my bloed wat gegiet is en my regverdigheid is na hulle toe oorgedra.’
Probeer jouself die volgende indink: In die Ou Testamentiese tabernakel is die bloed van ‘n lam bo-op die versoendeksel uitgegooi en die verbondsark wat die gebroke wet bevat het – die rekord van ons skuld – is daaronder geplaas. Die enigste manier waarop God dus die gebroke wet kon sien – was deur die bloed. Dis dieselfde vandag! As jy wonder hoekom God aanhou om jou lief te hê, jou te aanvaar en jou te seën, is dit omdat Jesus jou advokaat is!
Let op: 1) Hy is ten volle gekwalifiseerd om jou te verteenwoordig. ‘…Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart’ (Matteus 3:17 NLV). 2) Hy het nog nooit ‘n saak verloor nie. ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos…’ (Hebreërs 7:25 NLV). 3) Hy bied sy dienste gratis aan. ‘…sonder prys en geld’ (Jesaja 55:1 NLV).
Die Bybel sê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Jesus is jou advokaat, dus kan jy vandag met vrymoedigheid na God toe gaan.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 25:1-13; Ps 137; Spr 15:15-17
2023-07-09
Markus 9:23 NLV
Mense sonder beperkinge weier om dinge soos hulle is te aanvaar, omdat hulle dinge sien soos dit kan wees. In plaas daarvan om te sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie,’ staan hulle in geloof op en sê: ‘Alle dinge is moontlik vir hom wat glo.’ Mense sonder beperkinge begaan ook foute en het mislukkings. Die verskil is dat hulle in geloof tot by die krans se afgrond stap, met die wete dat een van twee dinge sal gebeur wanneer hulle daar kom. God sal of soliede grond onder hulle voete plaas, of Hy sal hulle leer om te vlieg.
Die skrywer van die boek Hebreërs beskryf sulke mense as volg: ‘Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat staan’ (Hebreërs 11:33-34 NLV). Hierdie mense was swak aan die begin, maar hulle het sterk geword. Hoe? ‘Deur te glo.’ Hulle besit die soort geloof wat struikelblokke en teenstand verontagsaam en verklaar: ‘Ek is wat God sê ek is, ek het wat God sê ek het, en ek kan doen wat God sê ek kan.’
Daar is ‘n verhaal van ‘n ou Skotse voorman wat hard gewerk het en dieselfde van sy werkers verwag het. Een dag het een van hulle gesê: ‘Jock, besef jy dat Rome nie in een dag gebou is nie?’ Glimlaggend het Jock geantwoord: ‘Ja, maar ek was nie die voorman daar nie.’ Vra God vandag om jou te help om bo jou vrese uit te styg en jou ‘n persoon sonder beperkinge te maak.
Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:4-42
2023-07-08
Spreuke 4:25 NLV
Om sukses te behaal in dit wat God jou geroep het om te doen, moet jy die volgende doen:
1) Verwyder afleidings. Dis nie maklik nie, omdat die meeste mense honderde eposse en boodskappe elke dag kry. Jy moet dit egter doen. Hoe? Deur jouself te dissiplineer om jou prioriteite uit te oefen. Moenie die maklikste dinge eerste, of die moeilike dinge eerste, of die dringende dinge eerste doen nie. Doen die eerste dinge eerste – die aktwiteite wat vir jou die grootste opbrengs bring. Op hierdie manier minimaliseer jy afleidings.
2) Beskerm jouself teen afleidings. Een leier skryf: ‘Ek het tye nodig om sonder onderbrekings te kan dink. Ek het die kuns vervolmaak om myself nie beskikbaar te maak nie sodat ek sonder onderbrekings kan werk. Ek is egter altyd bewus van die spanning tussen my behoefte om as leier toeganklik vir mense te wees en my behoefte om myself van hulle te onttrek om te dink.’ Jesus het Homself dikwels van aktiwiteite onttrek en gebid (sien Lukas 5:16 NLV). Gevolglik was Hy altyd op die regte plek, op die regte tyd, saam met die regte mense, besig om die regte ding te doen.
Jy moet dit ook doen! As jy van nature teruggetrokke is, maak seker dat jy meer gereeld tussen mense kom. As jy altyd aan die gang is, verwyder jouself dan van tyd tot tyd sodat jy verfris kan word en weer kan fokus om dit waarvoor God jou geroep het, te bereik. ‘Kyk reguit vorentoe; bly gefokus op wat voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie. Bly weg van wat verkeerd is’ (Spreuke 4:25-27 NLV).
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 24:36-51; Ps 122; Spr 15:10-14
2023-07-07
Johannes 15:16 NLV
Om God se plan in jou lewe te vervul, moet jy duidelike prioriteite stel en elke dag daarvolgens lewe. Die skrywer Edward de Bono het geskerts: “‘n Gevolgtrekking is die plek waar jy moeg word om te dink.” Ongelukkig bepaal baie mense hul prioriteite op die plek waar hulle uit stoom uithardloop. Jy wil dit definitief nie so doen nie. Jy wil ook nie hê dat ander mense jou agenda en jou prioriteite vir jou moet bepaal nie.
Daar is verskillende maniere om prioriteite te bepaal. Eerstens moet jou plan altyd in lyn met God se wil vir jou lewe wees (sien Hebreërs 13:20-21). Jesus het gesê: ‘…Ek [het] julle uitgekies om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou…’ Let die volgende op: 1) Jy moet weet dat God jou vir ‘n spesifieke area van diens gekies en aangestel het. 2) Jou doel in die lewe moet vrugte wees ‘wat sal hou.’ As jy dit behoorlik gebruik, kan geld en invloed vir jou tot hulp wees, maar dit moet nooit jou doelwit of jou hart se begeerte wees nie.
Hoe kan jy dus die regte prioriteite bepaal? Soos jy jouself beter leer ken, moet jy op jou sterkpunte en die dinge wat die beste van jou Godgegewe vaardighede maak, begin fokus. Dink aan dit wat jou die hoogste opbrengs en beloning bring. Dink aan dit wat jy die meeste geniet en die beste doen. Dit is jou sleutelgawes. Gebruik die 80/20 reël. Gee 80 persent van jou inspanning aan die boonste 20 persent van jou aktiwiteite. Jesus het gesê dat jy jou aandag aan die areas wat die meeste vrugte dra, moet gee.
Sielskos: Jer 31-32; Matt 24:26-35; Ps 110; Spr 15:8-9
2023-07-06
2 Timoteus 4:7 NLV
Hier is nog drie dinge om in gedagte te hou wanneer jy aangeval word:
1) Jy is nie uniek nie. In ‘n brief aan gelowiges wat vervolg is, het die apostel Petrus gesê: ‘…[bly] standvastig in julle geloof… Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding’ (1 Petrus 5:9 NLV). Die Duiwel wil jou graag oortuig dat jy die enigste persoon is wat al ooit so iets ervaar het. Hy wil hê jy moet soos ‘n mislukking voel en jouself van die krag en ondersteuning wat jy in gemeenskap met ander gelowiges kry, afsny. Wees wys; moenie hom toelaat om dit aan jou te doen nie.
2) Verwyder enige struikelblokke. Die apostel Johannes skryf: ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan’ (1 Johannes 3:21 NLV). Ons almal sondig – die fout wat ons maak is wanneer ons dit probeer wegsteek, want: ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie’ (Spreuke 28:13 NLV). As jy gedurig sukkel en verslaan word, vra God om jou te wys waar die moeilikheid is, put krag uit sy genade en hanteer dit.
3) Moenie tou opgooi nie. Enigiemand kan ‘n marathon begin hardloop, maar dit verg ‘n kampioen om een klaar te maak. Die apostel Paulus skryf: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly’ (2 Timoteus 4:7 NLV). Elkeen van ons ervaar teëspoed. Dis egter diegene van ons wat tot die einde toe sterk staan, wat die beloning ontvang. Bestudeer die lewens van mense soos Dawid, Ester, Debora en Paulus. Herinner jouself dat hulle God jou God is en dat Hy beloof het om jou in oorwinning hier deur te bring.
Sielskos: Jer 28-30; Matt 24:15-25; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7