2023-09-02
Psalm 55:23 NLV
Hannah Whitall Smith vertel ‘n verhaal wat ongeveer ‘n honderd jaar terug plaasgevind het en tog is dit nog steeds net so relevant soos vanoggend se koerant. ‘n Boer op ‘n perdekar gewaar ‘n man wat met ‘n swaar sak op sy rug loop en daarom bied hy vir hom ‘n rit aan. Die vreemdeling aanvaar die aanbod en klim op die perdekar. Terwyl hulle egter verder reis, sit hy steeds geboë onder die gewig van sy sak. Die boer vra: ‘Hoekom sit jy nie die sak neer nie?’ Die vreemdeling antwoord: ‘Dit sal te veel wees om te vra. Ek is dankbaar dat jy my plek gee op jou perdekar, maar ek sal nooit van jou verwag om my sak ook te dra nie.’
Dis wat ons doen wanneer ons God se aanbod van verlossing aanvaar, maar steeds daarop aandring om ons laste self te dra. God sal nie aan die probleem begin werk totdat jy dit aan Hom oorgee nie. Ons wag tot ons besig is om uitmekaar te val en wonder dan hoekom God ons nie help nie. ‘…En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie’ (Jakobus 4:2 NLV).
Het jy God vir hulp gevra? Het jy die probleem in sy hande geplaas, met die vertroue dat Hy dit ten goede vir jou sal laat uitwerk en wag jy geduldig vir Hom om dit te doen? Dit beteken nie dat jy passief word en rondsit en niks doen nie. Jy moet doen wat jy glo reg is en waaroor jy vrede het. Leer die verskil tussen jou deel en God se deel om te doen en hou op om jouself te frustreer deur te probeer doen wat slegs God kan doen.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 10:1-12; Ps 103:13-22; Spr 19:17
2023-09-01
1 Petrus 5:7 NLV
Angstigheid is oormatige besorgdheid. As dit nie hanteer word nie, kan dit belangrike dinge soos selfvertroue, vreugde, vrede, humor en perspektief by jou steel. Angs ontstaan wanneer jy obsessief oor iets raak; jy probeer uitpluis wat gebeur het, probeer weet wat mense dink en sukkel om te besluit wat om te doen. ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).
Vertroue verg dat jy met onbeantwoorde vrae vrede maak, deur tevrede te wees daarmee dat God weet wat jy nie weet nie. Jy sal nooit al die antwoorde hê nie. Jy sal nooit ‘n perfekte begrip van dinge hê nie. Selfs die apostel Paulus het erken: ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV).
Die kuur vir angs begin deur drie dinge te aanvaar: Eerstens, dat God alles weet. Tweedens, dat niks God verras nie. Derdens, dat God nooit sonder ‘n oplossing is nie. Hier is dus jou opsies. Dra self die las, of gee dit aan die Here oor. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).
Om te leer om op hierdie manier te leef, verg geduld en oefening, moet dus nie oornag ‘n wonderwerk verwag nie. Leer om jouself op heterdaad te betrap wanneer jy jou begin bekommer. Wanneer angs aan die deur klop, sê: ‘Here, hierdie is nie myne nie. Dis U s’n. Dus gee ek dit aan U oor.’ Probeer dit vir die volgende dertig dae en kyk wat gebeur.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 9:38-50; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16
2023-08-31
Efesiërs 3:18 NLV
Paulus skryf: ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (verse 16-19 NLV).
Ten spyte van ons beste voornemens, sondig ons steeds. Gevolglik voel ons sleg oor onsself. Satan gebruik ons gevoelens van skuld en veroordeling om ons aan God se liefde vir ons te laat twyfel. As God jou egter so liefgehad het dat Hy sy seun gestuur het om namens jou te sterf terwyl jy nog ‘n volskaalse sondaar was, kan jy seker wees dat Hy nie sy plan oor jou sal verander wanneer jy sy verloste, maar sukkelende, kind is nie.
Om sleg oor sonde te voel is inderwaarheid ‘n bewys dat jy waarlik God se kind is. Toe jy wedergebore is, het jy ‘n nuwe gees wat in ‘n wêreldse liggaam leef, geword. Wanneer jy dus toelaat dat sonde jou lewe binnekom, staan jou wedergebore gees op en sê: ‘Kry dit hier weg, dit is onversoenbaar met wie ek is.’ Dis nie dat God nie lief is vir jou wanneer jy sondig nie, maar dat sonde ‘n onwelkome gas is wat jou sleg oor jouself laat voel en jou vrymoedigheid teenoor God van jou steel. As jy dus gesondig het, bely dit, ontvang God se vergifnis en beweeg sterker en wyser vorentoe.
Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 9:30-37; Ps 84; Spr 19:11
2023-08-30
Spreuke 14:30 NLV
Om ‘n positiewe ingesteldheid te behou is nie altyd maklik nie; dit verg geestelike dissipline. Kom ons wees eerlik, 95 persent van wat ons deesdae op die nuus sien en hoor is negatief van aard. Jy kan nie jou kop in die sand druk nie, maar jy kan jou gedagtes teen die trekkrag van die negatiewe invloede rondom jou beskerm. Dit beteken dat jy deurlopend twee dinge moet doen:
1) Neem die verkeerde gedagtes gevange. ‘Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). Neem dus jou verkeerde gedagtes gevange; anders sal dit jou gevange neem!
2) Aktiveer die regte gedagtes. ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Die wete dat God in beheer van jou lewe is en jou treë rig, sal jou in staat stel om ‘n goeie ingesteldheid te behou wanneer jy met dinge soos lang rye, slegte weer, moeilike verhoudings, siekte, toetse en teëspoed gekonfronteer word. Jou ingesteldheid affekteer nie net jou lewenskwaliteit nie, maar ook die lengte daarvan. Salomo het gesê: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ Mediese navorsing het bewys dat mense met ‘n sterk geloof wat met terminale siekte gediagnoseer word, geneig is om hul prognose en hul voorspelde lewensduur te oorleef. Die woord vir jou vandag is dus – behou ‘n positiewe ingesteldheid.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 9:14-29; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10
2023-08-29
Psalm 37:3 NLV
Soms wanneer ons probleme het, onttrek ons onsself van die alledaagse lewe en bestee ons al ons tyd om daaroor obsessief te wees en dit te probeer oplos. Ons praat met enigiemand wat sal luister daaroor. Dit is alles onproduktiewe aktiwiteite wat ons daarvan weerhou om te doen wat ons eintlik moet – om te doen wat goed is. As jy die voordele van God se getrouheid wil ervaar, moet jy twee dinge doen: 1) ‘Vertrou op die Here.’ 2) ‘En doen wat goed is.’
Wanneer ons probleme het, voel dit teenproduktief om daarop te fokus om ander mense te seën. Dis egter nie, dis inderwaarheid ‘n baie kragtige ding om te doen. Dit lei jou gedagtes van jouself en jou probleme af. Dis ook wanneer jy goeie sade saai wat dit vir jou ‘n goeie oes sal bring. Om in selfbejammering te verval, jouself te kwel en op ‘n negatiewe manier te praat, verhoed dat God jou help. Om Hom egter te vertrou en aan te hou om goeie dinge vir ander te doen, stel Hom vry om namens jou te werk.
Ons moet besef dat geen van God se beloftes vir ons sal werk totdat ons sy Woord gehoorsaaam nie. Kennis alleen sal nie jou probleme oplos nie; jy moet daad by die woord voeg en gehoorsaam wees, ongeag hoe jy voel. Jy mag dalk nie daarna voel om ‘n belofte na te kom of iets te doen om iemand anders te help nie, maar wanneer jy dit doen, spring God namens jou aan die werk. Een van die sleutels om dus vrees en bekommernis te oorkom, is om te doen wat God jou beveel het om te doen, ongeag hoe jy voel.
Sielskos: Gal 4-6; Mark 9:1-13; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8
2023-08-28
Jeremia 31:18 AFR53
Wanneer iemand mens seermaak, is ons eerste instink om terug te slaan. Ons weet dis verkeerd, omdat die Bybel sê dat ons moet vergewe om sodoende vergewe te word (sien Markus 11:25). Ons weet ook dat bitterheid ons fisies en emosioneel skade kan doen. Soms kan ons onsself egter net nie sover kry om te vergewe nie, dus hou ons aan om daarmee in ons gedagtes te stoei.
Stop en dink wat in ‘n stoeigeveg gebeur. Jy fokus op jou opponent, klou aan hulle vas en probeer hulle beheer. Jou doel is om hulle op die mat neer te pen en hulle te onderwerp, wat al jou energie verg. Jy neem ook die risiko om self in die proses seer te kry. Die enigste ware mag wat jy oor iemand wat jou seermaak het, is die mag van vergifnis. Vergewe hulle dus ter wille van jouself en beweeg aan! Selfs al is jy nie lus om te vergewe nie, bid: ‘…Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.’ Met ander woorde: ‘Here, maak my gewillig om te vergewe.’
Klein oortredings kan vinnig vergewe word, maar grotes benodig goddelike bystand. Jy kan dit ontvang: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Ja, jy wil dalk hê dat jou oortreder moet swaarkry, maar as jou grootste begeerte is om die Here te behaag, sal Hy jou die genade gee om te vergewe. Wanneer jy die seëninge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het besef, sal jy weier om nog een oomblik in die verlede vasgevang te bly.
Sielskos: Gal 1-3; Mark 8:27-38; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2