Oorgegooi van ervaring tot ervaring

2023-09-08
Jeremia 48:11 NLV

God het gesê: ‘Vanaf die vroegste tye het Moab rustig geleef… Moab is soos ou wyn wat kon verouder, wat nie van houer na houer oorgegooi is nie. Die smaak het nie verlore gegaan nie.’ Hierdie Skrifgedeelte skets twee prentjies vir ons; een natuurlik en een geestelik.

In die natuurlike prentjie sien ons hoe wyn gemaak word deur van houer na houer oorgegooi te word. In die geestelike prentjie sien ons hoe God ons verander deur ons van een ervaring na die volgende oor te gooi. Wanneer die wyn uit een houer in ‘n ander gegooi word, laat dit die afsaksels agter wat verwyder moet word om ‘n goeie oesjaar te produseer.

Soortgelyk sal God toelaat dat jy in situasies oorgegooi word om jou swakpunte te openbaar sodat jy daaraan kan werk. Maak nie saak hoe ongemaklik dit is of hoe graag jy daaruit wil ontsnap nie, God sal jou nie toelaat om dit agter te laat totdat jou kwessies suksesvol hanteer is nie. Hoe weet jy wanneer jou kwessies suksesvol hanteer is? Wanneer jy jou volgende ervaring binnegaan, sal jy dit agterlaat.

Wanneer wyn gemaak word, bestee wyn nie dieselfde hoeveelheid tyd in elke houer nie, omdat elke houer ‘n ander doel het. Net die wynmaker ken die doel van elke houer en kan dus die tyd wat die wyn daarin moet wees, bepaal. As jy van een ervaring na ‘n volgende oorgegooi word, lees die volgende: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 11:12-26; Ps 27; Spr 20:5-6

Die regte mense en die regte omgewing

2023-09-07
Lukas 8:54 AFR53

Die Bybel sê: ‘Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood… Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was. En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee’ (verse 49-55 AFR53).

Daar is belangrike lesse hieruit te leer. Om die opstandingskrag van Christus te ervaar, het jy die regte mense en die regte omgewing nodig. Net soos olie en water nie sal meng nie, sal geloof en twyfel ook nie. Let op dat Jesus Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom in die huis geneem het en die res van die mense uitgejaag het. Was sommige van hulle dalk beledig en het hulle Hom daaroor gekritiseer? Seker, maar wanneer jy jouself in ‘n krisis bevind, moet jy jouself met mense wat saam met jou op God se Woord kan staan en Hom vir die antwoord kan glo, omring. In die oorspronklike Griekse teks het Jesus gesê: ‘Moenie bang wees nie; glo net en hou aan glo en sy sal gesond word.’ Jy het mense nodig wat saam met jou God sal aanhou glo vir die antwoord.

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Mark 11:1-11; Ps 112; Spr 20:1-4

Hoor die ‘sagte fluistering’

2023-09-06
1 Konings 19:12-13 NLV

Toe Isebel Elia se lewe bedreig het, het hy na ‘n grot toe gevlug. Dis toe God vir hom gesê het: “‘Kom buitekant toe en gaan staan voor My op die berg,’ sê die Here vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die Here by hom verbygegaan en ‘n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die Here. Tog was die Here nie in die wind nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing, maar die Here was nie in die aardbewing nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur, maar die Here was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ‘n sagte fluistering. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak…” (verse 11-13 NLV).

God kan enige plek, enige tyd, deur enigiemand, in enige situasie, met jou praat. Hy sal egter dikwels sy grootste insigte met jou deel wanneer jy alleen by Hom is. Om God se ‘sagte fluistering’ te kan hoor, moet twee dinge gebeur:

1) Jy moet stilte hê en afgesonder wees. Dit beteken dat jy alles anders moet uitsluit en op God moet fokus. Nie almal sal dit verstaan of waardeer nie, maar jy moet dit doen as jy van Hom wil hoor.

2) Jy moet naby aan Hom kom. Die gemiddelde persoon kry deesdae daagliks vyftig tot eenhonderd teksboodskappe en eposse. So lank as wat jy gewillig is om te stop en na ander te luister, maar nie na God nie, sal jou probleme nie opgelos word nie en jou situasie sal nie verander nie. Die liedjieskrywer Everett W. Sugg stel dit so: ‘Shut in with God in a secret place, There in the Spirit beholding His face, Gaining more power to run in this race, oh I long to be shut in with God.’

Sielskos: Eseg 10-13; Mark 10:35-52; Ps 20; Spr 19:24-29

Bid jy vir jou kinders?

2023-09-05
2 Konings 20:19 NLV

Die Bybel sê: “Toe sê Jesaja vir Hiskia: ‘Luister na die boodskap van die Here. Die tyd sal aanbreek wanneer alles wat jy besit, al die skatte wat jou voorgangers versamel het, na Babel weggevoer sal word. Niks sal daarvan oorbly nie, sê die Here. Sommige van jou nageslag sal in ballingskap weggevoer word. Hulle sal as ontmandes in die paleis van die koning van Babel diens doen.’ Toe sê Hiskia vir Jesaja: ‘Hierdie boodskap wat jy van die Here bring, is goed.’ Maar die koning het gedink: ‘Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees'” (verse 16-19 NLV).

Hiskia het gehoor dat die dinge wat hy by sy voorgeslagte geërf het verlore sou gaan en dat sy kinders in slawerny by sy vyande sou woon. In plaas daarvan om bekommerd te wees en tot God te bid om namens hulle in te tree, het hy gesê: ‘Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees.’ Hoekom het hy dit gesê? Was hy gevoelloos en onverskillig? Was hy selfsugtig, het hy net aan homself en nie aan die welsyn van sy kinders gedink nie? Was hy fatalisties en het hy gedink: ‘Die profeet het dit verklaar en daar is niks wat ek kan doen om dit te verander nie’?

Vroeër in hierdie hoofstuk toe die profeet Jesaja vir hom gesê het: ‘Kry jou sake in order, want jy gaan sterf. Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie,’ het hy tot God gebid om sy lewe te spaar en het hy nog vyftien lewensjare bygekry (sien verse 1-6 NLV). Dit lyk asof hy meer besorg oor sy eie toekoms as sy kinders se toekoms was. Wat van jou? Bid jy vir jou kinders?

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 10:23-34; Ps 142; Spr 19:21-23

Die antwoord op angstigheid (4)

2023-09-04
Jesaja 25:4 NLV

Wanneer jy jouself oor die toekoms begin bekommer, onthou waardeur God jou al gebring het. In situasies waar jy gedink het jy nie gaan oorleef nie, het Hy jou laat floreer, nie waar nie? Niks kan jou van sy liefde skei nie (sien Romeine 8:38-39). Jou angs kan egter die sekuriteit wat sy liefde meebring, by jou steel.

Een skrywer sê: ‘Ek was ‘n persoon wat alles wou verstaan, omdat dit my laat voel het dat ek in beheer is. Ek kon dit nie hanteer om nie te weet nie. My gedagtes het die hele dag gemaal met vrae soos: Hoekom het ek dit gedoen? Ek wonder wat so-en-so dink van my besluit om ‘n nuwe kar te koop? Hoekom het God nog nie my gebed oor bevordering by die werk beantwoord nie? Ek wonder of ek iets verkeerd doen, of dalk nie genoeg geloof het nie? Die ‘hoekoms’ in my gedagtes het nooit opgehou nie en dit het my ellendig laat voel. My gedagtes was die tuiste van allerhande ongenooide gaste (kwellende gedagtes), omdat ek eenvoudig nooit ‘nee’ vir hulle gesê het nie. Ek het gewonder, geredeneer, bekommer, gekwel, verbeel en was so angstig dat dit my heeltemal uitgeput het. God het my uiteindelik gewys dat ek aan redenering verslaaf is en dat ek dit moes prysgee. Dit het nie oornag gebeur nie, maar sodra my gedagtes gimnastiek begin doen het, het ek gesê: ‘Ek sal myself nie daaroor bekommer of dit probeer oplos nie,’ en geleidelik was ek in staat om God met my lewe te vertrou.’

God wil vandag jou voorsiener, jou leier, jou raadgewer, jou beskerming en jou ‘alles van alles’ wees. Staan dus op sy Woord wat sê: ‘…Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek teen die hitte en die reën…’

Sielskos: Eseg 1-4; Mark 10:13-22; Ps 111; Spr 19:18-20

Die antwoord op angstigheid (3)

2023-09-03
Matteus 6:31 NLV

Dis goed om ‘n doelwit vir die toekoms en ‘n plan om dit te bereik, te hê. Dis egter nie goed om aan die toekoms te dink en jouself oor alles wat verkeerd kan gaan, te bekommer nie. Dis angstigheid en dit behoort geen plek in jou gedagtes as verloste kind van God te hê nie.

‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg’ (verse 31-34 NLV).

Hierdie Skrifgedeelte kan in een sin opgesom word: ‘Leef elke dag deur God te vertrou om vir jou te sorg en hou op om jou oor die toekoms te bekommer.’ Elke oggend het God vir die Israeliete genoeg kos vir een dag gegee. As hulle meer probeer opgaar het, het dit vrot geword. God se boodskap was eenvoudig: ‘Ek sal jou daagliks lei en vir jou voorsien.’

Angstigheid kan jou van binne af opvreet. Wanneer jy dus angstig voel, staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV).

Sielskos: Hand 20:7-12; Jer 29:4-14