Dink versigtig voor jy praat

2023-09-14
Spreuke 13:3 DB

Hier is ‘n Bybelvers wat ons almal in gedagte moet hou: ‘Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ‘n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid’ (vers 3 DB). Jou gewoonte om te praat voordat jy dink sal aanhou om jou in die moeilikheid te laat beland.

Daar is ‘n verhaal van ‘n stofsuierverkoper wat by ‘n afgeleë landelike gebied aangekom het. Hy het op sy eerste dag by die werk van plaashuis tot plaashuis gegaan en probeer om stofsuiers te verkoop. Toe hy by een plaashuis aankom, het hy aan die deur geklop. Die boervrou het die deur oopgemaak en hom gevra wat hy wil hê. Sonder om toestemming te vra, het hy reg verby haar deur die deur gedruk en gesê: ‘Ek verkoop stofsuiers.’ Geskok het sy geantwoord: ‘Wag ‘n bietjie!’ Maar hy het gesê: ‘Mevrou, voor jy iets sê, wil ek jou iets wys.’ Hy het ‘n houer grond uit sy sak uitgehaal en dit op die kombuisvloer uitgegooi. ‘As hierdie stofsuier nie al daardie grond kan opsuig nie,’ het hy gespog, ‘dan eet ek dit!’ Sy het na hom gekyk en gesê: ‘Dan moet jy maar begin, want ons het nie elektrisiteit nie!’

Hoe dikwels moet ons nie ons woorde wat ons so onverskillig op die vloer van die alledaagse lewe gooi, eet nie! Wees versigtig. Jesus het gesê dat ons eendag rekenskap vir elke onverskillige woord wat ons spreek, sal moet gee (sien Matteus 12:36). ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Be careful of the words you say and keep them soft and sweet. You never know from day to day which ones you’ll have to eat.’ As jy dus nie jou woorde wil eet nie, moet jy versigtig dink voor jy praat.

Sielskos: Eseg 31-33; Mark 13:1-11; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24

Moenie bang wees om te gaan nie

2023-09-13
Deuteronomium 31:7-8 NLV

Wanneer God vir jou sê om te ‘gaan,’ herinner jouself daaraan dat elke detail van jou toekoms reeds aan Hom bekend is.

Eeue gelede, wanneer ‘n kaartmaker nie geweet het hoe die wêreld verder lyk nie, het hy gereeld ‘n draak aan die rand van die boekrol geteken. Dit was bedoel as ‘n teken aan ontdekkingsreisigers dat hulle ‘n onbekende gebied op eie risiko binnegaan. Baie het die draak egter nie as ‘n kaartmaker se waarskuwingsteken nie, maar eerder as ‘n profesie beskou. Hulle het rampspoed buite die bekende wêrelde wat hulle deurkruis het voorsien en hul vrees het hulle daarvan weerhou om voort te gaan om nuwe lande en volke te ontdek. Ander meer avontuurlike reisigers het die draak egter as ‘n teken van geleentheid en ‘n deur na nuwe wêrelde wat die moeite werd is om te verken, gesien.

Elkeen van ons het ‘n verstandelike kaart wat die inligting bevat wat ons elke dag as leiding gebruik. Soos die kaarte van lank gelede, word ons geestelike kaarte se rande ook deur drake of vrese gemerk. Ons vrees dit om te misluk, of om verwerp te word, of gespot te word, of dat ons nie genoeg sal hê nie, of dat ons dit wat ons het sal verloor.

As dit is hoe jy vandag voel, lees hierdie woorde wat God vir sy mense gesê het toe hulle op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het, sonder om te weet wat op hulle sou wag wanneer hulle die land sou binnegaan: ‘…die Here is die Een wat voor jou uitgaan…’ Skryf dus jou doelwit neer, stel ‘n strategie op en bepaal ‘n sperdatum daarvoor. Wy dit dan aan God toe, met die geloof dat Hy voor jou uitgaan om die pad voor te berei.

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 12:28-44; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21

Die twee reëls

2023-09-12
Genesis 2:16 NLV

Adam het die perfekte werk, huis, huwelik en omgewing gehad; al die dinge wat ons nastreef. Hoe het hy dit reggekry? Deur sy verhouding met God! God het hom basies twee reëls gegee om volgens te lewe: ‘…Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, behalwe van die boom van alle kennis. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf’ (verse 16-17 NLV). Die twee reëls is dus:

1) By God is dit wat jy terugkry altyd groter as wat jy prysgee. ‘…Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet’. Wat ons egter so dikwels doen – en wat wettiese godsdiens doen – is om na daardie en soortgelyke Skrifgedeeltes te kyk en te fokus op dit wat ons nie mag doen nie. Die waarheid is dat wanneer ons lys ‘moenies’ ons lys van wat ons vry is om te doen oorskry, het ons veel verder gegaan as wat die Skrif bedoel het. Die Christelike lewe moet aan wat jy vry is om te geniet, nie aan wat jy verbied word nie, gemeet word.

2) Wanneer jy volgens God se Woord in plaas van jou eie begeertes lewe, word jy geseën. ‘Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle My sal vrees en al my gebooie sal gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees’ (Deuteronomium 5:29 NLV). Die enigste ding wat God ons verbied, is die reg om self te bepaal wat ‘goed of kwaad’ is, want Hy weet ons is nie bevoeg om dit te doen nie. Ons moet volgens goddelike openbaring, eerder as menslike geneigdheid lewe. God het in sy liefde en wysheid hierdie beperking in plek gestel om ons te beskerm en te seën.

Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 12:13-27; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19

Genade en vrymoedigheid

2023-09-11
Hebreërs 4:16 NLV

Indien jy onwaardig voel om God in gebed te nader, stop en lees hierdie woorde: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (vers 16 NLV). Let drie belangrike dinge op:

1) Wanneer jy genade nodig het, kan jy God met volle vrymoedigheid nader. Hoekom? Omdat jy na ‘n troon van genade en barmhartigheid, nie na ‘n troon van veroordeling nie, gaan. Al jou sondes – in die verlede, hede en toekoms – is voor betaal die oomblik toe Jesus gesê het: ‘Dit is volbring.’ Satan wil hê dat jy te veroordeel, skuldig en onwaardig voel om God te nader. Die oomblik wat jy egter jou vertroue in Christus plaas, klee God jou in Christus se geregtigheid. Jy kan dus altyd met volle vrymoedigheid na Hom toe gaan.

2) Wanneer jy meer genade nodig het, bid meer. God het al die genade wat nodig is om jou te help, maar jy moet na sy troon toe gaan en daarvoor vra. Die Bybel sê dat ons in genade moet groei en as jy nie elke dag bid nie, groei jy nie in jou geestelike lewe nie. Wat is dus die antwoord? Bestee meer tyd by die troon wat genade uitdeel.

3) God se genade word volgens jou behoefte op daardie oomblik, gegee. Hy sal môre se genade vir jou eers môre gee, so moenie eers die moeite doen om daarvoor te vra nie. Moet egter nie bekommerd wees nie; die aanbod van genade wat jy in Christus het, sal nie môre – of ooit – opraak nie! Dit beteken dat jy altyd welkom is en nie te dikwels na die troon van genade kan gaan nie.

Sielskos: Eseg 22-23; Mark 12:1-12; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14

Opoffering en vereenvoudiging

2023-09-10
Deuteronomium 6:7 NLV

Dr Armand Nicholi, ‘n psigiater verbonde aan Harvard Universiteit, is uitgenooi om by ‘n konferensie by die Withuis oor die stand van die Amerikaanse gesin te praat. Hy het verduidelik hoe ‘n besige leefstyl wat ouers ontoeganklik vir hul kinders maak, ‘n soortgelyke effek as egskeiding self veroorsaak. Kruiskulturele studies wys dat ouers in Amerika minder tyd saam met hul kinders as ouers in byna enige ander nasie in die wêreld, bestee.

Generasies lank het vaders hulself eksklusief aan hulle beroepe toegewy. Vandag het moeders egter by die werksmag aangesluit, wat hulle uitgeput na die werksdag en belas met huishoudelike take oor naweke, laat. Gevolglik is niemand by die huis om aan die behoeftes van eensame kleuters en skoolgaande kinders te voldoen nie.

Nicholi beklemtoon die onmiskenbare verband tussen die onderbreking van die ouer-kind verhouding en die toename van psigiatriese probleme wat deesdae te voorskyn kom. ‘As hierdie neiging voortduur,’ het hy gesê, ‘is ernstige nasionale gesondheidsprobleme onvermydelik.’ Jaar na jaar sien ons al hoe meer kinders wat aan depressie, angsversteurings en paniekaanvalle ly. Hierdie syfer sal aanhou groei soos die tempo van egskeiding, kinderverwaarlosing, kindermishandeling en kindermolestering aanhou styg.

Jy vra: ‘Wat is dan die antwoord?’ Opoffering en vereenvoudiging! Selfs al beteken dit dat jy sekere materiële dinge moet opoffer en jou lewe moet vereenvoudig, sorg dat jy tyd saam met jou kinders deurbring! God het vir die Israeliete gesê: ‘Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders. Praat daaroor by die huis…’

Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51

Wat sê hulle van jou?

2023-09-09
Nehemia 6:6 NLV

Om Nehemia daarvan te weerhou om Jerusalem se mure te herbou, het sy vyande gerugte oor hom versprei. ‘…Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ‘n opstand beplan. Dit is hoekom jy die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om koning te word’ (vers 6 NLV).

Jy kan nie beheer wat mense dink, of hulle daarvan weerhou om dit te sê nie, maar jy kan jou reaksie daarop bepaal. Nehemia het: ‘Ek het toe vir hulle ‘n boodskap teruggestuur: ‘Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.’ Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur’ (vers 3-4 NLV). Hierdie verhaal leer jou drie belangrike beginsels:

1) Weier om meer aandag aan kritici te gee as wat jy aan ‘n vriend sou gee. Die mense wat die meeste vir Nehemia saakgemaak het, was diegene wat vir hom, eerder as teen hom, was. In plaas daarvan om dus hulle siening te probeer verander, het hy vorentoe beweeg.

2) Besef dat geleentheid hand aan hand met teenstand loop. Paulus het gesê: ‘want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (1 Korintiërs 16:9 NLV).

3) Onthou dat dit die groot gevegte is wat groot oorwinnings behaal. Satan sal jou nie gelukwens wanneer jy besluit om God se wil te doen nie; hy sal jou tree vir tree probeer beveg. Jy het egter ‘…reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). God is vandag aan jou kant, dus is jou oorwinning verseker.

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 11:27-33; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10