2023-07-25
Spreuke 22:6 NLV
Plant God se Woord diep in jou kind se hart wanneer hulle begin loop en praat. Dit waarborg nie dat hulle nie die pad byster gaan raak nie. Baie van ons het die verkeerde pad geloop voor ons die regte pad begin volg het. Jy moet egter seker maak dat hulle weet waar die ‘regte pad’ is.
Stel jou voor die salm wat in Noord Kalifornië uitbroei, in ‘n kanaal vrygelaat word wat na ‘n spruit, die spruit na ‘n rivier en die rivier na die Stille Oseaan, lei. Die salm swem duisende kilometers. Dan, asof hy beveel word, begin hy die lang reis terug na die plek waar hy uitgebroei het. Hy vind nie net die plek waar hy in die see ingekom het nie, maar ook die rivier, die spruit en die presiese inlaat waaruit hy vrygelaat is. In een gedokumenteerde storie het ‘n salm homself deur ‘n drein opgewerk en dwarsdeur ‘n stewige deksel bo-op ‘n vertikale pyp van drie voet gedruk, om sodoende in dieselfde tenk te beland waar hy uitgebroei het. Unieke merke op sy vin het bevestig dat dit dieselfde salm was.
‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat jy jou kinders, wanneer hulle jonk is, ‘n voorsmakie van die dinge van God moet gee en wanneer hulle ouer word, sal die wêreld nie hul smaak bevredig nie en sal hulle na hul geestelike wortels terugkeer. Doen getrou jou deel en vertrou God om syne te doen. Jou deel is om hulle te onderrig, lief te hê en vir hulle te bid. God se deel is om hulle terug te trek. Hy sal dit doen, want Hy het hulle selfs liewer as wat jy hulle het!
Sielskos: Hand 16-17; Matt 27:45-56; Ps 1; Spr 16:10-15
2023-07-24
Galasiërs 5:13 NLV
Voel jy dat die wêreld jou iets skuld? Ons neem aan dat mense ons iets skuld as gevolg van die posisie wat ons in hulle lewens vervul: vrou, man, moeder, dogter, vriend, pastoor, donateur, werknemer, baas ens. Ons dink dat ons posisie ons die reg gee tot watter verwagte voordeel ook al. Paulus beskryf die kern van dissipelskap met die volgende woorde: ‘…julle is geroep om in vryheid te leef… gebruik dit om mekaar met liefde te dien.’ As jy ‘n houding van geregtigheid het, is hier ‘n paar strategieë om dit te oorkom:
1) Verstaan die verskil tussen jou ‘regte’ en jou ‘begeertes.’ Jy het die reg om te verwag dat jou man of vrou getrou aan jou moet wees, maar jy het nie die reg om te verwag dat hulle jou hand en voet moet bedien nie. ‘God het die mensewêreld so liefgehad dat Hy se enigste Seun gegee het…’ (Johannes 3:16 NLV). Ware liefde word gekenmerk deur te gee, nie deur te neem nie.
2) Lewe volgens die Goue Reël (sien Matteus 7:12). Jesus het gesê dat alles wat jy wil hê ander vir jou moet doen, jy die inisiatief moet neem en dit vir hulle begin doen. Jy sê: ‘Maar wat as hulle nie die guns teruggee nie?’ God sal jou in elk geval daarvoor beloon! ‘…Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie’ (Hebreërs 6:10 NLV).
3) Moet nooit aanvaar dat ‘n persoon se vorige vriendelikheid ‘n voortdurende verpligting teenoor jou skep nie. God mag dalk ander mense gebruik om jou te seën, maar Hy moet altyd die bron wees op wie jy vertrou om aan jou behoeftes te voldoen (sien Jakobus 1:17).
Sielskos: Hand 14-15; Matt 27:33-44; Ps 65; Spr 16:8-9
2023-07-23
Spreuke 13:7 NLV
Die Bybel sê: ‘Sommige mense gee voor hulle is ryk, maar hulle het eintlik niks nie. Ander maak of hulle arm is, maar intussen besit hulle baie’ (vers 7 NLV). Dis ‘n seën om die goed te hê wat geld kan koop, solank as wat jy dit wat geld nie kan koop nie, nie uit die oog verloor nie. Geld kan enigiets koop wat te kope is. Die grootste dinge in die lewe, soos jou gesondheid en jou verhoudings, kan egter nie met geld gekoop word nie.
Jy kan dit wat die Bybel oor geld sê met die volgende drie stellings opsom:
1) Wie jy is, is belangriker as wat jy besit. ‘Dit is beter om arm te wees en eerbaar te lewe as om oneerlik te lewe en ryk te wees’ (Spreuke 28:6 NLV).
2) Wat God in jou sien, is belangriker as wat jy besit. ‘Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die Here, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam’ (Spreuke 15:16 NLV).
3) Wat ander van jou dink, is belangriker as wat jy besit. ‘Soek eerder na ‘n goeie naam as na groot rykdom. Hoë aansien is beter as silwer of goud’ (Spreuke 22:1 NLV).
Moenie probeer om tred te hou met die bure nie. Die bure mag dalk een stappie weg van bankrotskap of die skeihof wees. Die waarheid is dat jy nooit gelukkig sal wees met wat jy het, totdat jy leer om gelukkig te wees met dit wat ander mense het en jy nie het nie. Die Bybel sê vir ons dat hebsug ‘n sonde is. En hebsug is eenvoudig om nie te geniet wat God vir jou gegee het nie!
Sielskos: 2 Kon 20:1-11; Heb 8:7-13
2023-07-22
1 Tessalonisense 2:7 AFR83
Stootskrapers is goed daarmee om goed af te breek, maar hulle is nutteloos om goed te bou. Met hierdie prentjie in jou gedagtes, vra jouself: ‘Gebruik ek die krag van my persoonlikheid en die mag van my posisie om my wil op mense af te dwing en hulle sover te kry om dinge op my manier te doen?’ As die antwoord ja is, moet jy die volgende verstaan: Diegene wat die meeste in beheer probeer wees, is dikwels die bangste om beheer te word!
Wat is jy bang sal gebeur as jy ander mense met respek hanteer en hulle insette, idees en keuses oorweeg? Is vrees en intimidasie die enigste manier waaraan jy kan dink om aan verhoudings vas te klou? Sal jy nie eerder die liefde van ander mense wil verdien deur bedagsaam eerder as wreed te wees nie, of is jy bereid om met vreesbevange onderwerping tevrede te wees?
Probeer vir die volgende week om niemand te kritiseer of hulle reg om te kies by hulle te steel nie. Hou aan om jouself hiermee uit te daag vir solank as wat dit neem om jou oorheersende houding onder beheer te kry. Paulus was produktief genoeg om die sendingbriewe te skryf en kragtig genoeg om die dooies op te wek, maar hy het gesê: ‘…Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel’ (vers 7 NLV).
Wanneer mense foute maak, het Paulus gesê: ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – probeer om meer liefdevol en sag te wees.
Sielskos: Hand 12-13; Matt 27:27-32; Ps 14; Spr 16:6-7
2023-07-21
Psalm 119:97 NLV
Andrew Murray het geskryf: ‘Daar is ‘n direkte verband tussen hoeveel sukses jy in die lewe behaal en hoeveel tyd jy bestee om op God se Woord te mediteer.’ God het vir Josua gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV).
Ons lewe in ‘n wêreld met ‘n vinnige pas. Ons het altyd geglo dat wanneer ons meer materiële dinge besit, ons gelukkiger sal voel. Dit werk egter nie. Hoe meer besittings ons bekom, hoe meer het ons om te beskerm, te verseker, in stand te hou en oor te stres. Jesus het gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).
Wat is dus die antwoord? ‘…Deur berou en tot rus te kom, sal julle gered word. Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word…’ (Jesaja 30:15 NLV). Merrill F. Unger skryf in Pathways to Power: ‘Hierdie heilige oefening om die Woord te oordink, dit te kou soos ‘n dier sy kos herkou om die soetheid en voedsaamheid daaruit te kry, neem tyd, wat sleg by die spoed van ons moderne tyd inpas. Vandag is die meeste Christene se Bybelstudie te haastig, hulle lewens te gejaag.’
Die Psalmdigter Dawid het gesê: ‘As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande’ (Psalm 63:7-9 NLV). Beweeg stadiger. Neem tyd om oor God se Woord te mediteer. Jou oorlewing, krag en sukses hang daarvan af.
Sielskos: Hand 10-11; Matt 27:11-26; Ps 146; Spr 16:4-5
2023-07-20
Eksodus 18:17-18 NLV
Voel jy of daar nie genoeg van jou is om alles te doen nie? Asof jy op die rand van die krans staan en op die punt is om oor die afgrond te gaan? Miskien is die rede daarvoor dat jy baie meer doen as wat God bedoel het jy moet doen. Jy sien, wanneer God sy doel vir jou lewe openbaar, gee Hy ook vir jou sy krag om dit uit te voer.
Gewoonlik is dit eenvoudig. Een van die sekerste maniere om te weet dat jy in God se wil wandel is dat jy gelei en nie aangedryf sal voel nie. Rus jy minder en werk jy meer? Lees jy jou Bybel en bid jy minder en bekommer jou meer? Miskien hardloop jy soos Moses van een afspraak na die volgende: jy eet in die verbygaan, haal spertye en probeer om almal se probleme op te los terwyl jou eie ophoop.
Ander mense mag dalk daarmee beïndruk wees, maar Moses se skoonpa, Jetro, was nie. ‘…Hoekom doen jy alles self?..’ (vers 14 NLV). Moses het probeer om sy skedule te regverdig, maar Jetro het nie daarvoor geval nie. Hy het vir Moses gesê: ‘…Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy… sal die pas nie kan volhou nie…’ Wat het hy vir Moses gesê om te doen? Om die las met ander mense te deel! ‘…Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra… [dan] sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees’ (verse 22-23 NLV).
Wanneer het ‘n bloeiende maagseer ‘n teken van geestelikheid, of ‘n sewentig-uur werksweek die teken van doeltreffendheid geword? Wees eerlik: Is jy te hardkoppig om stadiger te beweeg, te onseker om nee te sê, of te trots om vir hulp te vra? Indien dit die geval is, praat met God daaroor.
Sielskos: Hand 8-9; Matt 27:1-10; Ps 140; Spr 16:3