2023-09-20
Markus 11:22-23 AFR83
Jesus het ons geleer dat wanneer ons sy Woord in geloof spreek, ons sal ontvang wat ons sê. Dis ‘n kragtige geloof! Wanneer jy God se lewende Woord oor jou situasie spreek, is dit soos om ‘n skakelaar aan te skakel; sy krag word geaktiveer en sy beloftes word in jou lewe waar. Begin dus elke dag deur die volgende Skrifgedeeltes oor jou lewe te spreek:
1) ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (Psalm 118:24 NLV). Belydenis: ‘Here, dankie vir die gawe van hierdie dag. Ek sal u goedheid vier en elke oomblik daarvan geniet.’
2) ‘…Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV). Belydenis: ‘Here, ek sal U vandag in alles wat ek doen, probeer eer. As ek misluk en te kort skiet, sal ek steeds in u genade en barmhartigheid wandel.’
3) ‘Die oppermagtige Here het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat…’ (Jesaja 50:4 NLV). Belydenis: ‘Here, ek sal weet wat om te sê, omdat U my opdrag gegee het en my geleer het.’
4) ‘…Die Here gaan vandag [jou vyande] aan jou uitlewer. Die Here sal voor jou uit marsjeer…’ (Rigters 4:14 NLV). Belydenis: ‘Here, ongeag wat vandag oor my pad kom, sal U my verdedig, beskerm en regverdig. Vandag sal ek dus in u vreugde, guns, barmhartigheid, leiding, beskerming en seën wandel.’
Sielskos: Eseg 43-45; Mark 14:12-26; Ps 19; Spr 21:3
2023-09-19
Handelinge 2:47 NLV
Die kerk het net twee opsies: evangeliseer of versteen. Wanneer ons nie daarin slaag om ons geloof met diegene buite die kerk te deel nie, versteen ons. Die Nuwe Testamentiese kerk se groei is as volg beskryf: ‘…En die Here het elke dag mense wat gered word, by hulle gevoeg.’ Nie net het hulle elke vlak van die samelewing beïnvloed nie, maar hulle vyande het ook gesê: ‘…Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad’ (Handelinge 17:6 NLV).
As jou kerk sy deure more sou sluit, sou enigiemand anders as jou gemeente die verskil agterkom? Dink aan daardie vroeë gelowiges. Hulle opdrag het geografies onmoontlik gelyk; die meeste mense het op daardie stadium nog geglo dat die aarde plat is. Daar was nie vliegtuie, radio’s, televisie, drukperse, internet of enige moderne maniere wat hulle kon gebruik om die evangelie uit te dra nie. Dit het ook wetlik onmoontlik gelyk; hulle is deur die regeringsowerhede verbied om in Jesus se Naam te praat. Ook het dit sosiaal onmoontlik gelyk; wie sal immers regtig na ‘n klomp Galileërs, sonder kultuur en klas, luister?
Tog was hulle getuies deur die krag van die Heilige Gees en mense het geluister. Hulle het so baie met so min gedoen, terwyl ons so min met so baie gedoen kry. Daar word gereken dat indien slegs 10 persent van die lede van ‘n gemiddelde kerk ernstig oor evangelisasie raak, hulle kerk binne een jaar sal verdubbel. Terloops, die woord waaruit ‘getuie’ vertaal word, is dieselfde woord waaruit ons die woord martelaar kry. Hierdie vroeë gelowiges het die wêreld vir Christus bereik, omdat hulle bereid was om hulle lewens vir sy saak af te lê. Jy moet ook bereid wees.
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Mark 14:1-11; Ps 24; Spr 21:1-2
2023-09-18
Handelinge 1:8 ABA
Vince Lombardi het die Green Bay Packers-voetbalspan tot oorwinning ná oorwinning gelei. Eendag het hulle egter teen ‘n span wat hulle maklik moes gewen het, verloor. Lombardi het sy span bymekaar gemaak. Hy het sy hand in ‘n sak gesteek en ‘n voetbal te voorskyn gebring. Met ‘n glimlag het hy vir hulle gesê: ‘Manne, dit is ‘n voetbal!’ Met ander woorde, dit was tyd om na die basiese beginsels terug te keer.
Jesus is ons Voorganger (sien Hebreërs 2:10). Voor Hy opgevaar het na die hemel, het Hy vir ons sy wedstrydplan gegee: ‘Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld’ (Handelinge 1:8 ABA). Omdat ‘n persoon se laaste woorde van sy belangrikste is, lei dit ons om die volgende te vra: ‘Met wie het Jesus gepraat?’ Met jou! ‘…Dan sal julle my getuies wees…’
Daar is mense vandag wat nooit kerk toe sal gaan nie. Hulle enigste kans om die evangelie aan te hoor is deur jou; deur wat jou lippe verklaar en jou lewe demonstreer. Wat is die ‘krag’ waarvan Jesus gepraat het? Die Griekse woord vir ‘krag’ is dynamos, waaruit ons die woord dinamiet aflei. Dinamiet is ‘n plofbare krag wat, wanneer dit behoorlik ingespan word, enige hindernis wat in die pad van vordering staan kan verwyder.
Jy sê: ‘Ek was nog nooit by ‘n kweekskool nie en ek voel nie bekwaam om die evangelie te deel nie!’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie; Hy kwalifiseer die geroepenes deur hulle met Sy Gees te vul en hulle te gebruik om ‘n seer wêreld te bereik. Vandag word jy geroep om dit te doen.
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Mark 13:24-37; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30
2023-09-17
Spreuke 22:6 DB
Die Bybel sê: ‘Leer ‘n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef’ (vers 6 DB). Let die woord ‘kind’ op. Jy moet vroeg begin, wanneer:
1) Hulle wil buigsaam is. ‘n Stokkie is makliker om te buig as ‘n boomstam. In die vroeë jare is jou kind se wil soos sagte klei; smeebaar en buigsaam. Dit is wanneer hulle jonk is dat jy hulle weë moet bepaal, want wanneer hulle ouer word, is hul weë reeds vasgestel. Die Hebreeuse frase vir ‘oplei’ verwys na die opleiding van ‘n wingerdstok om in ‘n sekere vorm of rigting te groei. As jy wag, sal dit te laat wees!
2) Daar nog steeds hoop is. ‘Voed jou seun streng op, dan is daar ‘n toekoms. Moenie jou te buite gaan en hom skade aandoen nie’ (Spreuke 19:18 NLV). Wanneer ‘n ouer sê: ‘My kinders is hopeloos,’ vind jy dikwels dat daardie ouers nie hulle kinders opgevoed het terwyl daar steeds hoop was nie. Luister na die dringendheid in Salomo se stem: ‘Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer’ (Spreuke 13:24 NLV).
Begin dus vroeg! Miskien het jy ‘n klein patroontjie wat tans in jou huis rondhardloop, wat jy dink ‘n engeltjie is. Eendag gaan daardie bene egter langer word, daardie vlerke gaan korter word en soms kan ‘n klein ‘engeltjie’ selfs horings groei! Terwyl jou kind jonk is en meer geneig en gereed is om na jou raad te luister, moet jy hom of haar leer en oplei om volgens God se wil te lewe. As jy dit doen, sal jy nooit daaroor spyt wees nie.
Sielskos: Rig 16:23-31; Joh 15:1-17
2023-09-16
2 Tessalonisense 3:10 NLV
Barmhartigheid sonder verantwoordbaarheid is net verwenning. Die Bybel leer ons dat ons ‘n verantwoordelikheid het om diegene wat waarlik honger is en nie vir hulself kan voorsien nie, te voed. Kom ons wees egter eerlik, daar is sommige mense wat eerder honger sal ly as gaan werk. Salomo skryf: ‘Luiheid laat jou diep slaap. ‘n Lui mens ly honger’ (Spreuke 19:15 NLV). Eeue later was die apostel Paulus selfs meer uitgesproke: ‘Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’
Luister na wat Salomo oor die luiaard sê: ‘Die luiaard gaan vang nie eens wild om te braai nie…’ (Spreuke 12:27 AFR83). “‘n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te lui om dit na sy mond te bring” (Spreuke 19:24 NLV). Praat van luiheid. Hy wil sy brood gebotter hê, maar hy wil hê dat iemand anders dit vir hom moet botter. As hy ‘n bok skiet terwyl hy jag, sal hy nie die vleis voorberei en dit gaarmaak nie; hy wil hê iemand anders moet dit vir hom gaarmaak en vir hom voorsit.
Waarvan praat die Bybel hier? Dit praat van die persoon wat nooit met ‘n werk begin nie; as jy vir hulle een gee, sal hulle dit of nie klaar maak nie of dit half doen. Salomo som dit as volg op: ‘Die begeertes van ‘n lui mens lei na sy dood. Hy weier om sy hande uit sy moue te steek’ (Spreuke 21:25 NLV). As jy dus God se seën op jou lewe wil hê, moet jy gewillig wees om te werk!
Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58
2023-09-15
Hosea 8:7 NLV
Volgens een Christelike leier, as volg:
‘1) Wanneer jou kind nog ‘n kleuter is, gee hom alles wat hy wil hê. Sodoende sal hy dink dat die wêreld hom ‘n bestaan skuld.
2) Wanneer hy vloek of vuil grappies vertel, lag en moedig hom aan. Soos hy groter word sal hy nog ouliker frases leer wat jou sal dronkslaan.
3) Moenie hom enige geestelike onderrig gee nie. Wag tot hy mondig is en laat hom dan toe om vir homself te besluit.
4) Vermy dit om die woord ‘verkeerd’ te gebruik. Dit sal jou kind ‘n kompleks gee.
5) Tel agter hom op – sy boeke, skoene en klere. Doen alles vir hom sodat hy ervare daarin sal wees om alle verantwoordelikhede op ander mense af te skuif.
6) Laat hom enigiets lees wat hy in die hande kan kry en moenie sy televisie- en internetgebruik monitor nie. Laat sy gedagtes toe om op gemors fees te vier.
7) Stry dikwels in sy teenwoordigheid, sodat hy nie later verras is wanneer sy huis gebroke word nie.
8) Bevredig sy elke drang na kos, drank en gemak. Elke sensuele begeerte moet bevredig word; ontkenning kan tot skadelike frustrasies lei.
9) Gee jou kind al die sakgeld wat hy wil hê. Moenie hom dit laat verdien nie. Hoekom moet dinge vir hom so moeilik wees soos dit vir jou was?
10) Kies sy kant teen bure, onderwysers en die polisie; hulle is almal teen hom.
11) Wanneer hy in regte moeilikheid beland, maak verskonings vir jouself deur te sê: ‘Ek kon nooit enigiets met hom regkry nie, hy was van die begin af ‘n probleemkind.’
12) Berei jouself vir ‘n lewe van hartseer voor.’
Sielskos: Eseg 34-36; Mark 13:12-23; Ps 78:56-64; Spr 20:25