2023-09-26
Spreuke 28:13 NLV
Foute is deel van die lewe. Suksesvolle mense erken hul foute, leer daaruit en werk daaraan om hulle te korrigeer. ‘n Studie van 105 bestuurders het algemene kenmerke wat deur suksesvolle mense gedeel word geïdentifiseer, maar een waarneming was veral nuttig. Suksesvolle mense erken hul foute en aanvaar die gevolge, in plaas daarvan om ander te blameer.
Nie een van ons geniet dit om die gevolge van ons dade te dra nie. Wanneer dinge verkeerd loop, het ons ‘n natuurlike neiging om na iemand om te blameer, te soek. Dit is in ons DNA. Toe God in die tuin van Eden vir Adam vra wat hy gedoen het, het Adam vir Eva die skuld gegee. Toe God vir Eva ondervra, het sy die Duiwel geblameer. Iemand het gesê hoe gouer jy misluk, hoe meer tyd het jy om te verbeter.
Vra jouself af: ‘Wat het ek geleer? Hoe kan ek hierdie mislukking in sukses verander? Waar het ek sukses ten spyte van die mislukking behaal?’ Mense wat ander mense vir hulle mislukkings blameer, oorkom hulle nooit; hulle beweeg net van probleem na probleem. Om jou hoogste potensiaal te bereik, moet jy jouself aanhoudend verbeter en jy kan dit nie doen as jy nie verantwoordelikheid neem en uit jou foute leer nie.
In die lewe sal jy altyd probleme hê. Die vraag is: Sal jy bly lê, of weer op jou voete kom en die beste van dinge maak deur te besluit om nog ‘n dag te veg? Henry Ford het gesê: ‘Mislukking is eenvoudig net die geleentheid om weer te begin – hierdie keer met meer intelligensie.’ Leef dus volgens die volgende Bybelse beginsel: ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV).
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Mark 14:66-72; Ps 52; Spr 21:17
2023-09-25
Spreuke 31:28 NLV
Waar leer kinders om hul ma’s te respekteer? Wie bepaal die patroon van hulle jong verstand, wat Ma as ‘n geliefde en gerespekteerde lid van die gesin posisioneer – in plaas daarvan om bloot as ‘hoofkok en skottelgoedwasser’ beskou te word? By die skool leer kinders die vaardighede wat nodig is om suksesvol by die werk te wees. maar by die huis leer hulle die vaardighede wat nodig is om ‘n gesin te bou.
Die beste rasieleier vir Ma – is Pa. Pa, jy het geweldige invloed oor wat jou kinders van hul ma en vroue in die algemeen dink. Wanneer jou kinders met stryende ouers grootword, dink hulle: ‘As Pa met Ma kan stry, dan kan ek ook.’ Jou houding en dade word die houding en dade van jou kinders. In ‘n wêreld wat dikwels die bydrae van vrouens, veral tuisteskeppers, afmaak, is dit jou plig as man en vader om op ‘n dosyn verskillende maniere te sê: ‘Jou ma is ‘n wonderlike vrou! Sy werk hard en sy verdien geweldige krediet vir wat sy ons almal gee. Wat my betref, is sy nommer een!’
Spreuke 31 sê: ‘Haar kinders is trots op haar…’ Waar het hulle dit geleer? Op die televisie? By hulle maats? By die skool? Nee, hulle het dit by die huis geleer. Die manier hoe jy jou vrou hanteer, is heel waarskynlik die manier hoe jou seun sy vrou sal hanteer. Jou kinders mag dalk nie jou raad volg nie, maar hulle sal dikwels jou voorbeeld volg. ‘Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:31 NLV).
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16
2023-09-24
Deuteronomium 32:11 NLV
Arende leer om te vlieg wanneer hulle uit die nes geskop word. As hulle aan hulself oorgelaat word, sou hulle nooit die gemak van die nes verlaat nie. Hulle sou dan egter ook nie hul unieke vermoë om op die wind te sweef, ontdek en vervul nie. Dieselfde beginsel is op jou kinders van toepassing. Dis waar dat die meeste tieners nie kan wag om die huis te verlaat nie, maar daar is ook sommige wat ekstra motivering nodig het.
Hoe kan jy jou volwasse kinders kry om aan te beweeg wanneer die tyd aangebreek het? Soms is die probleem nie dat jy as ouer onafhanklikheid weerhou nie, maar dat jou kinders dit nie wil aanvaar nie. Hulle het geen begeerte om groot te word nie. Die nes is net té gemaklik! Hulle kry drie etes ‘n dag, hulle klere word gewas en die rekeninge word betaal. Hulle voel geen motivering om die harde werklikheid in die gesig te staar nie. Sommige sal selfs nie werk kry nie.
Dit is moeilik om tuisgebonde seuns of dogters uit die huis te kry. Hulle is soos klein hondjies wat by die agterdeur lê en wag vir ‘n bak warm melk. Deur hulle egter te laat bly, veral as hulle dit vermy om ‘n werk te kry, kweek onverantwoordelikheid en afhanklikheid. Dis nie liefde wat jy aan hulle bewys nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy sagkens maar ferm die leisels aan jou kinders moet oorgee en hulle moet dwing om op hul eie voete te staan. In sommige gevalle sal jy dalk selfs hul tasse moet pak. As jy hulle egter liefhet en wil hê dat hulle hul Godgegewe bestemming moet vervul, het jy geen ander keuse nie.
Sielskos: Joh 2:1-11; Job 36:22-37:13
2023-09-23
Markus 2:17 NLV
Daar is ‘n verskil tussen om ongelowiges lief te hê en om hulle leefstyl lief te hê. Paulus het gesê: ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Doen dus die volgende: 1) Wees hoflik. ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). 2) Wees opreg. ‘Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart uit…’ (Romeine 12:9 NLV).
Jy moet tyd met ongelowiges bestee om hulle aan Christus voor te stel. Toe Levi vir Jesus en sy dissipels uitgenooi het om saam met tollenaars en ander oneerlike sondaars te kom eet, het die Fariseërs gevra: “…’Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?’ Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: ‘…Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds genoeg is nie'” (Markus 2:16-17 NLV).
Die skrywer Mark Roberts merk op: ‘Tafelgemeenskap het diepe intimiteit aangedui. Om saam met iemand te eet, was om in hul lewe te deel en hulle in jou lewe toe te laat. Die Fariseërs, wat aan die hoogste standaarde van rituele reinheid toegewyd was, het verwag dat Jesus sou doen soos hulle doen – deur groot afstand tussen hulself en twyfelagtige tipes wat dalk Jesus se heiligheid in gedrang sou bring, te hou.’
Jesus het egter nie mense as ‘immorele karakters’ gesien nie en was nie daaroor besorg om ‘n godsdienstige front voor te hou nie. Hy het saam met sondaars geëet omdat hulle sy hulp nodig gehad het en daarvoor ontvanklik was. Wat van jou? Is jy gewillig om jou hande vuil te maak? Is jy meer besorg oor wat mense van jou dink as oor diegene wat Christus nodig het?
Sielskos: 2 Kor 5-8; Mark 14:53-65; Ps 34; Spr 21:14-16
2023-09-22
Matteus 9:13 NLV
Die skrywer Nicole Eunice sê die vermoedens wat mense oor Christene het, sluit in: “‘Hulle veroordeel my. Hulle is beter as ek. Hulle sal my nie goedkeur nie. Ek sal nie by hulle godsdiens inpas nie. Hulle is net ernstig en niks pret nie.”
Jesus het genoeg partytjies bygewoon dat die Fariseërs hom daarvan beskuldig het dat Hy ‘n dronkaard is. Hy het met verkeerde vrouens vriende gemaak. Hy het met mense omgegaan sodat Hy hulle aan sy Vader kon voorstel. Hy het deur stereotipes gebreek en God voorgestel soos Hy is – toeganklik en genadig. Die mense wat die meeste ontsteld was, was diegene wat van godsdienstige reëls gehou het.
Die konsep van ‘n vrye en vreugdevolle lewe met Jesus mag dalk vir jou eenvoudig klink. Om saam met mense te kuier wat glo en voel soos ons, voel so gemaklik soos ‘n sweetpakbroek. Gemeenskap onder gelowiges is ‘n wonderlike geskenk. As ons egter werklik Jesus se voorbeeld wil volg, moet ons geleenthede soek om diegene rondom ons te betrek.’ Jesus gaan een stappie verder: ‘…Gesonde mense het die dokter nie nodig nie; die siekes wel. Gaan leer wat dit beteken as die Skrifwoord sê: ‘Deernis is vir My baie belangriker as offerandes.’ Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie’ (Matteus 9:12-13 NLV).
Hoe kan jy die evangelie deel as al jou vriende Christene is? Sommige van ons het so geïsoleer geraak dat ons hoegenaamd geen sinvolle interaksie met ongelowiges het nie. Hoe meer tyd verbygaan, hoe meer geïsoleer en gemaklik raak ons, totdat ons uiteindelik met die einste mense wat Jesus kom red het, kontak verloor. Paulus het gesê: ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Dink buite ‘die godsdienstige boks.’
Sielskos: 2 Kor 1-4; Mark 14:43-52; Ps 39; Spr 21:9-13
2023-09-21
Psalm 68:20 NLV
Wanneer jy woorde van geloof wat op die Skrif gebaseer is oor jou lewe spreek, het Jesus ons geleer dat ons alles wat ons vra, sal ontvang (sien Markus 11:23). Dawid verwys na God se seëninge as voordele. God gee elke dag vir ons sy voordele. God wag, is gewillig en wil al hierdie dinge vir jou doen.
Dis hoekom die Psalmdigter skryf: ‘Ek wil die Here prys en sy goeie dade nie vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ‘n arend s’n. Die Here laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word… Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde… Hy straf ons nie vir al ons sondes, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so verwyder Hy ons oortredings. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is… Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien. Sy trou geld vir geslag na geslag’ (Psalm 103:2-6, 8, 10-14, 17 NLV).
Verstaan die volgende: Jy aktiveer die krag van God se Woord wanneer jy dit oor jou lewe bely.
Sielskos: Eseg 46-48; Mark 14:27-42; Ps 3; Spr 21:4-8