Verbind jouself tot die verhouding (2)

2023-08-06
Matteus 19:5 NLV

Die woord ‘verbind’ beteken om te bind, te verplig of te beloof. Vir sommige van ons roep dit beelde van diensbaarheid, beperkings en die verlies van ons vryheid op. Met ander woorde, dit maak ons bang. Deesdae, soos vrouens meer ekonomies bemagtig word, mag sommige van hulle onwilliger word om hulself aan ‘n verhouding te verbind waarvan die Bybel sê dat die man geroep is om die leier in die huis te wees (sien Efesiërs 5:22-24). Dit is egter baie keer die man wat die verhouding vloeibaar en buigsaam wil hou sodat hy sy bly-of-gly opsie kan gebruik wanneer hy wil. Die maat wat die verbintenis wil hê, vind so ‘n verhouding frustrerend en onbevredigend. Wat moet jy dus doen as jy huiwerig is om jou tot die verhouding te verbind?

Twee dinge: 1) Wees eerlik met jouself oor jou vrese, gevoelens en beweegredes. Dawid het gesê: ‘Maar U verwag waarheid uit die hart. Diep in my binneste maak U u wysheid bekend’ (Psalm 51:8 NLV). Wysheid kom deur eerlik te wees oor dit wat in jou binneste aan die gang is. Wat is jou herinneringe van jou ouers se huwelik en hoe het dit jou geaffekteer? Het jy soortgelyke gedragspatrone in jouself of jou potensiële maat opgemerk wanneer dit by die hantering van verhoudings kom?

2) Erken die rol wat jy self gespeel het in die beëindiging van ‘n vorige verhouding. Het jy verander? Is jy gewillig om te verander? Indien wel, is hier God se belofte aan jou vir ‘n beter toekoms: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV).

Sielskos: 2 Kon 5:1-17; Luk 4:16-30

Verbind jouself tot die verhouding (1)

2023-08-05
Rut 1:16 NLV

Een van die bekendste Skrifgedeeltes oor verbintenis is Rut se woorde aan Naomi: ‘…Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie. Waar Ma ook al gaan, sal ek gaan, en waar Ma ook al woon, sal ek woon. Ma se mense sal my mense wees en Ma se God sal my God wees.’ Hoekom is ons bang om onsself aan ‘n verhouding te verbind?

1) Die vrees om beheer te verloor: ‘Hoekom moet ek my onafhanklikheid prysgee?’
2) Die vrees van te min hê: ‘Wat as hy of sy my finansies ruïneer?’
3) Die vrees van ontoereikenheid: ‘Wat as ek nie aan sy of haar verwagtinge voldoen nie?’
4) Die vrees vir eensaamheid. ‘Wat as hy of sy my verlaat?’
5) Die vrees vir pyn. ‘Ek is voorheen seergemaak en ek wil nie weer seerkry nie.’

Wat staan jou dus te doen? Deesdae is die antwoord ‘n ‘proefhuwelik,’ maar dit werk nie. Om voor die huwelik saam te woon is soos om ‘n kamer te huur eerder as om ‘n huis te koop. As dit nodig word om die gehuurde kamer te herstel, is die huurders eerder geneig om die kamer vir ‘n ander een te verruil. As dit egter nodig is om hulle huis reg te maak, verbind die eienaars hulle daartoe om sodoende hulle belegging te beskerm.

Psychology Today het die gevolgtrekkings van Neil Bennett, ‘n sosioloog verbonde aan die Yale-universiteit gepubliseer, dat vroue wat eers saamgebly het voor hulle getrou het, 80 persent meer geneig was om te skei as vroue wat voor die huwelik apart van hul gades gewoon het. Anders as wat jy dalk mag dink, ervaar diegene wat rondspeel en van verhouding tot verhouding beweeg, nie blywende geluk nie. Diegene wat hulself aan God en aan mekaar verbind, ervaar egter ware en blywende geluk.

Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2

God het jou nie verlaat nie

2023-08-04
Lukas 22:61 NLV

Die Bybel sê: ‘…Petrus het die Here se woorde onthou… ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 61-62 NLV).

Wat red ons? Ons goeie werke? Nee, ons geloof in Christus red ons. ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie’ (Efesiërs 2:8-9 NLV). Nou verstaan jy Christus se woorde aan Petrus: ‘maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:32 NLV).

Wanneer jy geloof in Christus het, kan jy herstel word. Daar is geen vervaldatum as dit by God se genade kom nie. Petrus het Jesus nie net een keer verloën nie, maar herhaaldelik. Miskien is dit ook jou verhaal! Dit was nie ‘n oomblik waarop Petrus trots sou wees nie, maar ‘n ervaring waaruit hy sterker sou stap. Ons dien ‘n God van herstel wat vreugde in die plek van droefheid gee (sien Jesaja 61:3).

Sou jy Petrus as jou pastoor gekies het nadat jy gesien het hoe hy volgehou het dat hy nie die Here ken nie? God het. Hy het hom die hoof van die kerk in die Nuwe Testament gemaak. Ons sê vir mense: ‘Moenie ‘n gemors maak nie’ en ‘Moenie sondig nie.’ Dis goeie raad – God wil nie hê dat ons moet sondig nie. Wat ons egter moet sê is: ‘Moenie kop eerste in sonde inloop wanneer jy van beter weet nie. Wanneer jy egter misluk, soos jy sekerlik sal, draai na God toe en Hy sal jou herstel en jou mislukking gebruik om jou te versterk.’

Sielskos: Deut 8-10; Mark 2:13-22; Ps 78:56-64; Spr 16:33

Word jy gesif?

2023-08-03
Lukas 22:31 NLV

Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, tog het Hy hom steeds geroep om sy dissipel te wees en gesê: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (verse 31-32 NLV).

Die foute wat jy maak en die gemors waarin jy jou bevind gebeur gewoonlik nie per ongeluk nie, maar deur keuses wat jy maak. Tog plaas dit jou nie buite bereik van God se genade nie. Die geheim tot oorwinning is om God toe te laat om jou foute te gebruik om jou te ontwikkel, eerder as om Satan toe te laat om dit te gebruik om jou te vernietig.

Let op die woorde: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif’. Satan wil dit wat hy verloor het, terughê – vir jou. Wanneer jy twyfel, het hy die mag om jou te laat val; jy stel jouself oop om te misluk. Die vraag is dus: as Petrus, een van Christus se dissipels wat Hy self uitgekies het, kon faal, hoeveel te meer gaan dit waarskynlik met jou gebeur? Wanneer dit gebeur, wat veronderstel jy wil die Here daardeur bereik?

Jou lewe mag dalk vandag ‘n gemors wees, maar as jy na God toe draai, kan Hy iets moois daaruit maak. Jesus het vir Petrus gesê: ‘…Ek het vir jou gebid…’ Jesus bid vandag vir jou. ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige’ (1 Johannes 2:1 NLV). As jy dus geval het, sal Jesus jou optel en jou weer herstel.

Sielskos: Deut 5-7; Mark 2:1-12; Ps 78:40-55; Spr 16:32

Word ouer met grasie (2)

2023-08-02
Spreuke 3:2 NLV

Teen die jaar 2030, sal een uit vyf van ons sewentig jaar of ouer wees. Dis ongeveer 20 persent van die wêreld se bevolking. Miljoene van ons sal honderd jaar of ouer word. Toe president Dwight D. Eisenhower by ‘n verjaarsdagpartytjie gevra is hoe hy daaroor voel om tagtig te word, het hy geantwoord: ‘Dis vir seker beter as die alternatief!’

Anita Bogan is in 2007 op die rype ouderdom van 106 oorlede. Haar doodsberig in die Los Angeles Times het gelees: ‘Geseën met goeie gesondheid en ‘n gesonde verstand, het Bogan die grootste deel van haar oudag deurgebring deur te doen net wat sy wil, met ‘n vurige, wat-het-ouderdom-met-enigiets-te-doen-houding. In die dekades na haar 80ste jaar het sy ‘n nie-winsgewende organisasie geskep om senior behuising te bou, ‘n blommewinkel oopgemaak, daagliks gholf gespeel, bootvaarte geneem om haar verjaarsdae te vier en mense geïnspireer. Op Bogan se 100ste verjaardag het die Kern County Raad van Toesighouers ‘n ‘Anita Bogan Dag’ verklaar.’ As gevolg van haar houding teenoor die lewe, het Anita die manier hoe mense rondom haar die verouderingsproses sien, verander.

Die Bybel beloof nie net ‘n lang lewe nie, dit beloof ‘n kwaliteit lewe. ‘My seun, moenie vergeet wat ek jou geleer het nie. Hou vas aan my opdragte. Dit sal jou lank laat lewe en jou ‘n vol lewe gee’ (verse 1-2 NLV). ‘Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is. Hy wat die heilige God ken, het werklik insig. Wysheid verleng jou lewe, gee jou meer lewensjare’ (Spreuke 9:10-11 NLV). Die geheim om die verouderingsproses te geniet is om ‘n nabye verhouding met God te bou en volgens sy beginsels te leef.

Sielskos: Deut 3-4; Mark 1:35-45; Ps 78:32-39; Spr 16:31

Word ouer met grasie (1)

2023-08-01
Spreuke 10:27 NLV

Maak die idee om ouer te word jou angstig? Indien dit die geval is, is dit tyd om jou waardestelsel te ondersoek. By God is die inhoud belangriker as die pakkie. Om vrede met jou plooie te maak, moet jy in ooreenstemming met Hom kom. Op die ou einde is dit nie die aantal dae in jou lewe wat tel nie, maar die lewenskwaliteit van jou dae.

Jesus se eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Let op wat die seremoniemeester van die huweliksonthaal gesê het: ‘Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor… jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou’ (Johannes 2:10 NLV). Dit kan ook jou lewensverhaal wees. Jy hoef nie bang te wees om ouer te word nie. Hou aan veg, hou aan groei, hou aan vorentoe beweeg.

Luister na die woorde van Kaleb: “‘…Ek het volledig by die Here my God gestaan. Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort…’ Die Here het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ‘n man van 85. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het nog steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terug te kom. Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het…’ Josua het hom geseën. Hy het vir Kaleb… Hebron gegee” (Josua 14:8-13 NLV).

Dis wat dit beteken om met grasie ouer te word.

Sielskos: Deut 1-2; Mark 1:21-34; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30