2023-08-12
1 Korintiërs 10:13 NLV
Jesus het gesê: ‘…’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is…’ (Lukas 10:30 NLV). Jerusalem het die plek van God se guns verteenwoordig, terwyl Jerigo deur Josua vervloek is toe God sy mure gelyk gemaak het (sien Josua 6:26). Die pad wat die twee stede met mekaar verbind het, het gewemel van rowers. Was dit dus dalk hierdie man se bedoeling om ‘n ent op hierdie pad te reis en dan af te draai? Die Bybel sê nie, maar een ding wat ons weet is dat God tot groot uiterstes gaan om ons te keer om die pad van versoeking te volg en seer te kry.
Selfs met al sy voorsorgmaatreëls in plek, kry ons dit steeds reg om in die moeilikheid te beland. Eerstens hou ons op om na die aansporings van sy Gees te luister. Tweedens is ons nie bereid om oor sekere begeertes met ‘n onderdanige hart te bid nie. Derdens is ons nie daarin geïnteresseerd om met ‘n vertroude vriend te praat wat ons verantwoordbaar sal hou nie. Vierdens wil ons nie weet wat die Bybel oor die saak sê nie. Jy het eensydig besluit om die Gees te blus sodat jy aan jou vleeslike impulse kan toegee.
Ware vryheid gaan nie daaroor om die vryheid te hê om jou elke begeerte te bevredig nie; dit gaan daaroor om te weier om ‘n slaaf van ongesonde begeertes te word. Die stryd teen versoeking is edel, maar as jy slegs stoei om jou begeertes te onderdruk, sal jy uiteindelik die stryd verloor. Jy moet ‘n duidelike geestelike beeld van die soort persoon wat God wil hê jy moet wees handhaaf en met sy Gees saamwerk om daardie persoon te word.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 5:1-10; Ps 119:41-48; Spr 17:17
2023-08-11
Genesis 22:5 NLV
Verbeel jouself dat jy jou kind op ‘n altaar aan God moet opoffer, sonder dat God vir jou sê hoekom jy dit moet doen! Hier is wat Abraham vir die twee jong mans wat hom op die moeilikste reis van sy lewe vergesel het, gesê het: ‘Bly ‘n bietjie hier… Ek en die seun sal ‘n entjie verder gaan. Ons sal daar aanbid en dan [sal beide van ons!] terugkom.’ Abraham se toewyding aan God was onwrikbaar.
Bekommernis en aanbidding is heeltemal teenoorgesteldes van mekaar. Ons sal baie gelukkiger wees as ons leer om bidders eerder as kommerkouse te wees. Bekommernis maak ‘n gaping vir die Vyand om ons te treiter, maar aanbidding lei ons in God se teenwoordigheid in waar ons onfeilbare vrede, vreugde en hoop vind. Ons is geskep om God te aanbid (sien Openbaring 4:11). God is goed, selfs wanneer ons omstandighede nie is nie. Hou dus op om jou te bekommer, gee jou besorgdhede aan God oor en lewe in sy genade. Genade is nie net goddelike guns nie; dis krag en goddelike bevoegdheid!
Moenie nog ‘n dag van jou lewe mors deur jouself te bekommer nie. Bepaal wat jou rol is en wat dit nie is nie. Moenie probeer om God se verantwoordelikheid op jouself te neem nie. Wanneer jy doen wat jy kan doen, tree God in en doen wat jy nie kan doen nie. Gee jouself en jou bekommernisse aan God oor, aanbid Hom en begin om die oorvloedige lewe wat Hy vir jou voorsien, te geniet. Die oomblik wat jy agterkom dat jy besig is om jouself te bekommer, ontwrig jou verkeerde gedagtepatrone deur te sê: ‘Ek sal myself nie bekommer nie. Ek sal U aanbid, Here. U is goed en ek vertrou volkome op U.’
Sielskos: Deut 28-29; Mark 4:26-41; Ps 119:33-40; Spr 17:16
2023-08-10
Filippense 4:8 NLV
Paulus skryf: ‘Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ‘n goeie lig stel’ (vers 8 DB).
As jy ernstig daaroor is om ‘n beter lewe te verkry, moet jy die manier wat jy dink verander. Die beste manier om op te hou dink aan iets is om eenvoudig aan iets anders te dink. Wanneer jy nie ‘n sekere televisieprogram geniet nie, wat doen jy? Jy verander van kanaal! Bestaan die program waarvan jy nie hou nie, nie meer nie? Nee, dis nog steeds daar indien jy sou besluit om dit weer te probeer kyk.
Net so, wanneer jy jouself vind waar jy in ‘n gedagtepatroon vasgevang wat nadelig vir jou is, neem aksie. Weier om jou gedagtes aan die Duiwel vir sy planne uit te leen. Die enigste mag wat ‘n gedagte oor jou het, is die mag wat jy daaraan gee. God het gesê: ‘Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek… Mag jy tog die lewe kies…’ (Deuteronomium 30:19 NLV). Om die regte gedagte te kies is soos om ‘n lig aan te skakel; dit verdryf die donkerte en verlig die kamer. Jou mees dominante gedagtes sal jou lewe beheer, maak dus seker dat hulle in lyn met God se Woord is. Verander vandag jou gedagtes en verander jou lewe.
Sielskos: Deut 25-27; Mark 4:13-25; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15
2023-08-09
Kolossense 3:2 NLV
Om ‘n gedissiplineerde lewe te lei, moet jy gedissiplineerde gedagtes hê. Jesus het gesê dat Satan se drievoudige doel is ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Op jou eie staan jy nie ‘n kans teen Satan nie, maar God sal jou die krag gee om sy strategieë te oorkom en selfbeheersing uit te oefen.
Die Bybel sê vir ons hoe om dit te doen: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur die dinge op hierdie aarde nie.’ Let op die woorde: ‘Laat julle gedagtes beheer word.’ Baie motors kom met ‘n funksie om die spoed te beheer. Wanneer jy die spoedperk bereik, stel jy die motor se rekenaar deur ‘n knoppie te druk en die motor behou dan daardie spoed. Dit sal nie die spoedperk oorskry of stadiger ry nie. Op ‘n soortgelyke wyse, wanneer jou gedagtes met God se Woord geprogrammeer word, beheer jy jou gedagtes en begeertes deur dit op die dinge wat God behaag, eerder as op die dinge wat jou aardse natuur bevredig, in te stel.
Selfdissipline is die prys wat jy vir vryheid betaal. Wanneer jy deur jou impulse beheer word, is jy nie vry nie, jy is ‘n slaaf. Jy kan selfs ‘n slaaf van goeie dinge word. Soos die ou gesegde lui – te veel van ‘n goeie ding is ‘n slegte ding! Paulus skryf: “Jy kan dalk sê: ‘Ek mag nou enigiets doen.’ Maar ek sal daarop antwoord: ‘Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie'” (1 Korintiërs 6:12 NLV). Die geheim tot selfbeheersing is dus om jou gedagtes met God se Woord te programmeer.
Sielskos: Deut 22-24; Mark 4:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10
2023-08-08
Amos 3:3 NLV
Benjamin Franklin se formule vir ‘n gelukkige huwelik was as volg: ‘Hou jou oë wyd oop voor die huwelik en half toe daarna.’ Een van die redes hoekom huwelike in die skeihof opeindig, is omdat ons net sien wat ons wil sien. As ons ooglopende foute sien wat die verhouding kan vernietig, laat ons ons hart toe om ons kop te oorheers en dink: ‘Hy of sy sal verander nadat ons getroud is.’ Dit wat jy vandag oorsien, verbeur jy die reg om môre oor te kla. As jy dus wys is, sal jy hierdie twee dinge doen voordat jy die besluit neem om met iemand te trou:
1) Bespreek openlik wat jy sal en nie sal aanvaar in die huwelik nie. Dinge soos mishandeling, ontrouheid, alkohol- en dwelmmisbruik, woede en buierigheid, en die koop van goed wat jy nie kan bekostig nie. As jy dink dat dit pynlik is om nou met iemand uit te maak, wag totdat jy getroud is en kinders en huisverbande en families wat betrokke is, het! Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’
2) As daar nie ernstige besorgdhede is nie, maar jy basies vir die onbekende bang is, gebruik jou geloof in God om die gaping tussen jou vertwyfeling en die vrede wat jy graag wil hê, te oorbrug. Moenie redes uitdink om jouself nie te verbind nie. Die Bybel sê: ‘…Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors’ (Jesaja 9:5 NLV). Bid saam met mekaar en gee die ‘Wonderbare Raadsman’ ‘n geleentheid om julle in jul verhoudingskeuse te lei. God het die huwelik ingestel; wanneer jy dit op sy manier doen, kan jy die hoogste vlak van menslike vreugde bereik.
Sielskos: Deut 18-21; Mark 3:20-35; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6
2023-08-07
1 Samuel 20:17 NLV
Vir ‘n verhouding om te werk, moet beide partye heeltemal daartoe verbind wees. Kom ons kyk vandag na nog ‘n paar redes hoekom ons bang mag wees om onsself te verbind.
1) Bedink of jy werklik gevoelens vir jou maat het en of jy net jou tyd afwag totdat iemand beter opdaag. Met ander woorde, wees eerlik met jouself, want jou geluk hang daarvan af.
2) Praat met jou maat oor jou spesifieke vrese. Een skrywer stel die volgende stellings voor: ‘Ek is bang dat jy my sal probeer verander,’ of ‘Ek sal soos minder van ‘n man voel as jy jouself nie aan my onderwerp nie,’ of ‘As die huwelik misluk, mag jy dalk my geld vat en my arm agterlaat,’ of ‘Jy mag dalk my tyd saam met my vriende te veel beperk,’ of ‘Jy mag dalk te veel van my aandag verg.’ Jy moet jou gevoelens eerlik deel en terugvoer oor jou vrese vra.
3) Probeer om vir 30 dae nie kontak met jou potensiële maat te hê nie en vind uit hoe die lewe sonder hom of haar sou voel. Sommige nie-toegewyde verhoudings is bloot vir gerief, so evalueer jou gevoelens afgesien van die ongerief wat jy sal verduur. Gerief is ‘n swak fondament vir ‘n huwelik.
4) Ondersoek jou verwagtinge. Moenie van jou maat verwag om elke aspek van jou lewe te vervul nie. As jy ‘n behoefte het aan avontuur wat in rekspring gemanifesteer word, vind vriende om dit saam mee te geniet en wees bly dat jou maat getrou en liefdevol is en baie lag. Nog ‘n gedagte: Daar is ‘n leegheid binne elkeen van ons wat slegs God kan vul. Wanneer Hy dit doen, vereis ons minder van ons maat en leer ons hoe om ‘n beter maat te word.
Sielskos: Deut 14-17; Mark 3:7-19; Ps 119:1-8; Spr 17:3