S.T.R.E.S. (2)

2023-10-02
2 Kronieke 20:17 NLV

T – VerTrou dit wat God vir jou sê. ‘Dit sal nie nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle… Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!’ (vers 17 NLV).

God se manier om ons probleme op te los druis teen ons logiese denke in. Miskien is dit hoekom ons huiwerig is om Hom in sekere situasies te nader. Waarom sou God Josafat se leër, wat duidelik geen bedreiging vir drie leërs was nie, opdrag gee om voorbereid vir ‘n geveg, wat hulle nie veronderstel was om te veg nie, op te daag? Dit maak nie sin nie! God sal ons dikwels sê om onsself vir ‘n veeleisende taak of probleem, wat ons heeltemal onbevoeg voel om te hanteer, te posisioneer. Ons uitdaging is om Hom te gehoorsaam en onsself te posisioneer om te wen. Hoe doen mens dit?

1) Jy ‘posisioneer’ jouself wanneer jy kies om universiteit toe te gaan, selfs al het jy nie op hoërskool presteer nie.

2) Jy ‘posisioneer’ jouself wanneer jy op God se aandrang jou werk bedank en ‘n nuwe besigheid begin, alhoewel daar nie reeds ‘n lang lys kliënte wag nie.

3) Jy ‘posisioneer’ jouself wanneer jy elke dag voor jou rekenaar gaan sit om die boek te skryf wat jy nog altyd wou – sonder ‘n kop vol kennis maar met ‘n hart vol geloof dat God jou daar met sy woorde sal vind.

God se instruksie is om onsself vir oorwinning te posisioneer. Hy wil hê dat ons moet opdaag, sodat Hy ons kan wys dat Hy namens ons sterk is (sien 2 Kronieke 16:9 NLV).

Sielskos: 1 Sam 1-3; Mark 15:33-47; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5

S.T.R.E.S. (1)

2023-10-01
Lukas 12:25 NLV

Koning Josafat het gehoor dat drie weermagte op pad was om hom aan te val. Praat van stres! Sy reaksie is die voorbeeld wat jy moet volg wanneer die lewe oorweldigend raak. Sy verhaal word in 2 Kronieke 20 weergegee. Deur die woord S.T.R.E.S te gebruik, leer ons die volgende lesse: S – Soek God se leiding. ‘Josafat… het vir die Here raad gevra…’ (vers 3 NLV).

Jare tevore toe sy pa, koning Asa, voor ‘n soortgelyke bedreiging te staan gekom het, het hy al die silwer en goud in die tempel en sy paleis bymekaar gemaak om een van die konings wat hom aangeval het, om te koop om saam met hom te veg. Dit het die onmiddellike probleem opgelos – maar was nie sonder negatiewe gevolge nie. Alhoewel die invalspoging laat vaar is, het God kwaad geword omdat Asa sy vertroue op ‘n ander koning geplaas het (sien 2 Kronieke 16:1-9). Hy het Asa as volg gestraf: ‘…Wat ‘n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê’ (2 Kronieke 16:9 NLV). Hy sou met die konstante stres van oorlogvoering vir die res van sy lewe leef, omdat hy nie eerste God se leiding gesoek het nie.

Sy seun, Josafat, het toe besluit dat hy nie dieselfde roete gaan volg nie. Wat van jou? Stres jy deur self ‘n oplossing te probeer vind, in plaas daarvan om God te vra hoe Hy wil hê jy dit moet hanteer? Dink aan die laaste probleem waarvoor jy te staan gekom het. Het jy op ander mense se raad en jou eie idees staatgemaak, of was jou eerste stap om God se leiding te soek? God belowe die volgende: ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Praat dus met God daaroor!

Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55

Dra die skild van die geloof

2023-09-30
Efesiërs 6:16 NLV

Gee aandag aan dit wat Satan op jou afskiet: ‘brandpyle!’ Hy weet dat indien hy die vure van kommer en angstigheid binne-in jou aan die brand kan steek, kan hy jou immobiliseer en jou oorwin. Let op wat God vir jou gegee het om jouself te beskerm: ‘die skild van die geloof.’ Jy het egter ook ‘n deel om te doen: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.’ ‘n Skild sal nie ‘n soldaat help as dit op die grond, of selfs langs hom lê nie. Hy moet dit oplig en dra om homself teen die aanval te beskerm. Dieselfde geld vir jou.

Wanneer die Duiwel jou met onaangename omstandighede en gedagtes aanval wat veroorsaak dat jy jouself bekommer en bang word, moet jy onmiddellik die skild van die geloof optel. Geloof in wat? Jouself? Nee, geloof in God se getrouheid! Jou geloof in God mag by tye wankel, maar sy liefde en sorg vir jou sal nooit wankel nie. ‘Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!’ (1 Tessalonisense 5:24 NLV). Hoe dra jy die skild van die geloof? Deur te sê: ‘Here, ek vertrou U in hierdie situasie!’

Jesus het die Woord van God gebruik om Satan in die woestyn te oorwin en jy moet dieselfde doen. God se Woord is ‘n beskermende skild wat die Duiwel se pyle nie kan penetreer nie. Wanneer jy dit soos ‘n skild ophou, is dit effektief teen enigiets wat hy in jou lewe probeer doen. Satan se brandpyle kan uit enige rigting kom, van beide jou vriende en jou vyande. Jy moet dus die skild van die geloof dra.

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16

Oorkom jou skaamheid

2023-09-29
Spreuke 18:24 NLV

Daar is geen kortpaaie om jou skaamheid te oorkom nie; jy sal daaraan moet werk om gemaklik tussen mense te wees. Jy kan dit egter doen. Hier is ‘n paar beproefde strategieë wat jou sal help om vriende te maak:

1) Jy kan nie ontken dat jy skaam is nie, maar hoe meer jy daaroor praat, hoe meer word die beheer wat dit oor jou uitoefen, versterk. ‘Deur die regte woorde te gebruik kan ‘n mens sy honger stil. Hy kan genoeg kry om te eet met wat hy sê. Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:20-21 NLV). ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees is ‘n gees en jy moet leer om dit te verwerp! Die feit dat jy jouself as ‘skaam’ beskryf, is geen rede om van kanse om dit te oorkom, weg te skram nie. Vermyding versterk net jou vrees.

2) Neem deel aan ‘n aktiwiteit wat jy regtig geniet, sodat jy iets sal hê om met passie en entoesiasme oor te gesels.

3) Ignoreer jou kloppende hart, wankelende stem, sweet, seer maag of ander tekens van angs; hulle is nie dodelik nie. Glimlag. Dit is aansteeklik en noodsaaklik om toeganklik te lyk.

4) Vra mense om oor hul gunsteling onderwerp – hulself – te praat. Luister dan aandagtig en hou op om jouself te bekommer oor wat jy volgende moet vra.

Onthou, jy kan nie beheer wat mense van jou dink nie – hou dus op om daaroor te tob. Mediteer eerder op Filippense 4:6-9, ‘…Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:9 NLV).

Sielskos: Hoogl 5-8; Mark 15:21-32; Ps 91; Spr 21:28-31

God is in beheer; vertrou HomGod is in beheer; vertrou Hom

2023-09-28
Psalm 39:8 NLV

Die lewe werk selde uit soos ons hoop of dink dit sal. Toe Job alles verloor het, het hy gesê: ‘Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om na te streef nie… Nee, ek is hulpeloos. Daar is geen kans dat ek kan slaag nie’ (Job 6:11, 13 NLV). Tog het Job op die ou einde twee keer soveel as wat hy verloor het, teruggekry. Die ervarings en teëspoed waardeur hy gegaan het, het egter sy houding teenoor God diep verander: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Wat het Job ontdek? Dat God almagtig is! Ons moet sy Woord gehoorsaam om in sy seëninge te kan wandel – maar die finale uitkoms van alle dinge rus in sy hande.

Baie van ons sukkel met beheer. Ons wil nie net ons eie omstandighede nie, maar ook ons doelwitte, planne, verhoudings en alles wat op ons betrekking het, beheer. Sulke vrese is dikwels die teken van ‘n onbewuste begeerte om onafhanklik van God te wees; om die argitek van ons eie lot te wees. Soms is dit omdat jy in ‘n chaotiese omgewing grootgeword het en besluit het om nooit die ervarings van jou vroeë lewe te herhaal nie. Miskien dink jy dat jy as gevolg van jou opleiding, finansies of ander prestasies in beheer van jou lewe is.

Dis nie waar nie. God het jou in staat gestel om alles wat jy al gedoen het, te doen. Paulus skryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is…’ (1 Korintiërs 15:10 NLV). God is vandag in beheer – vertrou Hom!

Sielskos: Hoogl 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27

Neem verantwoordelikheid vir jou lewe

2023-09-27
Galasiërs 6:5 NLV

Om verantwoordelikheid vir jouself, jou gedagtes en jou aksies te neem, is ‘n belangrike deel daarvan om ‘n bydraende lid van ‘n verhouding te wees. Soms neem ons dinge egter te ver deur ‘n ongesonde verantwoordelikheid vir ander dinge aan te neem en dit dan as verskoning te gebruik om nie verantwoordelik vir onsself en ons eie omstandighede te neem nie. Ons blameer byvoorbeeld ‘n onbeplande swangerskap waarom ons nie universiteit toe gegaan het nie. Of ons blameer ons ongelukkigheid daarop dat ons ter wille van die kinders getroud gebly het.

Ons fokus so baie op ander mense en neem vir hulle lewens verantwoordelikheid, dat ons nooit die tyd neem om vir oplossings te soek om bo ons eie omstandighede uit te styg nie. Uiteindelik word al die hartseer en moeilike tye ons identiteit. Ons kla nie net nie, ons word kroniese klakouse.

Kom ons wees eerlik: soms is ons hartseer verhale bloot verskonings; opgemaakte weergawes van die waarheid om die feit te verberg dat ons besluit het om almal anders vir ons omstandighede te blameer. Sodoende hoef ons nie verantwoordelikheid vir ons lewens te neem nie. Die feit is dat ons almal keuses in die lewe maak; om te gaan of te bly, om te konfronteer of te ignoreer, om te kla of ‘n oplossing te soek.

Dis nooit ‘n goeie idee om verantwoordelikheid vir ander te neem as jy dit doen om te verhoed dat jy moet besluit wat jy vir jouself moet doen nie. Die Bybel sê: ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk. Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen’ (verse 4-5 NLV).

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Mark 15:1-11; Ps 54; Spr 21:18-21