2023-10-08
1 Konings 19:21 NLV
Om die werk reg te doen, moet jy jouself met die regte mense omring. Dis hoekom goeie leiers voortdurend op die uitkyk vir bekwame mense is. Die mense wat jy aantrek word egter nie altyd deur jou behoeftes bepaal nie, maar deur wie jy is. In die meeste gevalle trek jy mense wat baie van dieselfde eienskappe wat jy besit, aan. Nie net was Elisa soos Elia nie, hy wou ‘n dubbele deel van die Gees wat op Elia was, hê. Wie jy is, is wie jy sal aantrek.
Dis moontlik om uit te gaan en mense wat anders as jy is te werf, maar dis noodsaaklik om te besef dat mense wat anders as jy is nie noodwendig tot jou aangetrokke sal voel nie. As jy verder ook nie heeltemal gelukkig is met die tipe mense wat jy aantrek nie, mag dit dalk tyd wees om jouself te verbeter. Jy moet van die volgende vyf neigings in jouself bewus wees en wanneer jy dit sien, moet jy dit hanteer:
1) Trots. Niemand wil iemand volg wat dink hulle is beter as almal anders nie.
2) Onsekerheid. As jy ongemaklik is met wie jy is, sal ander mense ook wees.
3) Buierigheid. As mense nooit weet wat om van jou te verwag nie, hou hulle op om enigiets te verwag.
4) Perfeksionisme. Mense respekteer die strewe na uitnemendheid, maar hulle hou nie van onrealistiese verwagtinge nie.
5) Sinisme. Ander mense hou nie van ‘n swart wolk wat gedurig op hulle parade reën nie.
Hierdie vyf kwessies is so skadelik dat indien jy wys is, jy jouself met mense sal omring wat dit sal uitwys en jou sal help om ‘n effektiewer leier te word.
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2023-10-07
Kolossense 3:12 NLV
John Gray het die topverkoper Men Are from Mars, Women Are from Venus, geskryf. Sy onderliggende teorie was as volg: Om met iemand oor die weg te kom, moet jy probeer om die lewe vanuit hulle perspektief te sien. Paulus skryf: ‘…Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die belangrikste wat julle moet aantrek is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (verse 12-15 NLV).
Diegene wat wil hê dat ander mense presies soos hulle moet dink en optree, steek dikwels onsekerhede weg. Hulle het ‘n diep gesetelde behoefte dat hulle sienings en aksies in die gedrag en gedagtes van ander mense bevestig moet word. Dis egter nie hoe die lewe werk nie. Meningsverskille gebeur in enige verhouding waar meer as een mens betrokke is. Ons is almal uniek en sal waarskynlik nie oor alles saamstem nie.
Die manier waarop ons egter ons meningsverskille benader kan bepaal of ons verhouding die wenstreep sal oorsteek. Om op ‘n regverdige manier van mekaar te verskil en jouself vir die idees van ander en vir nuwe maniere om dinge te doen oop te stel, is hoe jy groei. Die belangrikste ding is om die ander persoon se idees te respekteer en ‘n omgewing te skep waar julle twee vry kan voel om uiting aan julle gevoelens te gee; waar julle kan wees wie julle werklik is sonder om bang te wees dat jy geoordeel gaan word.
Sielskos: 1 Sam 16-17; Joh 1:29-42; Ps 92; Spr 22:24-25
2023-10-06
Romeine 12:10 NLV
Ralph Waldo Emerson het gesê: ‘Daar is geen beperking op dit wat bereik kan word as dit nie saak maak wie die krediet daarvoor kry nie.’ Die meeste mense weet van Isaac Newton se befaamde ontmoeting met ‘n vallende appel en hoe hy die wet van gravitasie ingestel het. Min mense weet egter dat as dit nie vir ‘n man genaamd Edmond Halley was nie, die wêreld dalk nooit van Newton sou gehoor het nie.
Halley was die een wat Newton aangespoor het om oor sy oorspronklike teorieë na te dink, sy wiskundige foute reg te stel en geometriese figure te formuleer om sy ontdekkings te ondersteun. Dit was Halley wat ‘n huiwerige Newton oortuig het om sy boek The Mathematical Principles of Natural Philosophy te skryf. Dit was Halley wat die boek geredigeer het, die publikasie daarvan waargeneem het en die druk daarvan gefinansier het, alhoewel Newton ryker was en dit kon bekostig het.
Newton het byna dadelik begin om die vrugte van prominensie te pluk, maar Halley het min krediet gekry. Hy het wel die beginsels wat Newton vasgestel het gebruik om die wentelbaan en terugkeer van ‘n komeet wat later sy naam sou dra, te voorspel. Aangesien Halley se komeet egter net elke ses-en-sewentig jaar terugkeer, hoor relatief min mense steeds sy naam.
Halley het egter nie omgegee wie die krediet gekry het nie, solank die saak van die wetenskap bevorder word. Hy het verpersoonlik wat dit beteken om volgens hierdie Skriftuurlike beginsel te lewe: ‘…julle [moet] mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ Wanneer God jou die geleentheid gee om ander mense eerste en jouself tweede te stel, gryp dit aan en hardloop daarmee.
Sielskos: 1 Sam 14-15; Joh 1:14-28; Ps 63; Spr 22:17-23
2023-10-05
Psalm 27:4 NLV
Jy mag dalk materieel moet afskaal om geestelik te groei. As die dinge wat jy besit die dinge wat die meeste saak maak, soos vrede, vreugde en vervulling by jou steel, oorweeg dit om jou lewe te vereenvoudig. Skaal af op die dinge wat nie saak maak nie, sodat jy op die dinge wat wel saak maak, kan fokus.
Gedurende haar suksesvolle loopbaan as operasanger, het Jenny Lind, wat ook die ‘Sweedse Nagtegaal’ genoem is, een van die rykste kunstenaars van alle tye geword. Tog het sy haar loopbaan op die punt waar sy op haar beste gesing het, prysgegee. Sy het nooit as operasanger teruggekeer nie. Mense het oor die rede daarvoor gespekuleer en gewonder hoe sy die applous, roem en geld kon prysgee. Jenny het tevrede gelyk om in privaatheid in ‘n huis by die see te woon.
Eendag het ‘n vriend haar gevind waar sy op die sand met haar Bybel op haar knieë sit en na ‘n wonderlike sonsondergang kyk. Soos hulle gesels het, het die vriend gevra: ‘Madame Goldschmidt [Lind se getroude van], hoe het dit gebeur dat jy die verhoog op die kruin van jou sukses verlaat het?’ Sy het stilweg geantwoord: ‘Wanneer elke dag my minder hieroor (met ‘n vinger op haar Bybel), en glad nie daaraan nie (wysend na die sonsondergang) laat dink het, wat anders kon ek doen?’
Koning Dawid het al die dinge waaroor ons droom besit en tog het hy geskryf: ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek; om in die huis van die Here te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink’ (vers 4 NLV). Dít is ‘n man met die regte prioriteite!
Sielskos: 1 Sam 11-13; Joh 1:1-13; Ps 51; Spr 22:12-16
2023-10-04
Psalm 92:2 NLV
Die joernalis Fulton Oursler vertel die verhaal van ‘n bejaarde verpleegster genaamd Anna. Gebore as ‘n slaaf aan die oostelike kus van die staat Maryland, het sy Fulton se geboorte, plus dié van sy ma, bygewoon. Hy vertel dat sy hom die beste les ooit oor dankbetuiging en tevredenheid geleer het: ‘Ek onthou haar soos sy by die kombuistafel in ons huis gesit het; die harde, ou, bruin hande wat oor haar gestyfde voorskoot gevou is, die blink ogies en die skor ou fluisterende stem wat sê: ‘Baie dankie Heer, vir my spys en drank.’ Ek het gevra: ‘Anna, wat is spys en drank?’ ‘Dis wat ek het om te eet en te drink,’ het die ou verpleegster geantwoord. ‘Maar jy sou jou spys en drank gekry het, of jy nou vir die Here dankie gesê het of nie,’ het ek gesê.’ ‘Ja,’ het Anna geantwoord, ‘maar wanneer mens dankbaar is proe alles beter!’
Die opwinding wanneer mens iets nuuts kry, of selfs iets waarvoor mens hard gewerk het, is dikwels kort van aard en word vinnig deur jou begeerte vir die volgende ding, vervang. Salomo het dit as volg gestel: ‘…die oog word nie versadig van wat hy sien nie, die oor word nie vol van wat hy hoor nie’ (Prediker 1:8 NLV).
Wat is dan die oplossing? Om ‘n houding van dankbaarheid in te neem! Deur gereeld God se goedheid te onthou, maak dit vir jou moontlik om elke seëning in jou lewe te geniet en te onthou om te sê: ‘Dankie, Here.’ Die Psalmdigter het ‘n hart van dankbaarheid gehad. Hy het geskryf: ‘Dis goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste; om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid’ (Psalm 92:2-3 NLV). Wees dus altyd dankbaar teenoor God.
Sielskos: 1 Sam 8-10; Mark 16:9-20; Ps 60; Spr 22:7-11
2023-10-03
Jeremia 32:27 NLV
R – Reflekteer op oorwinnings uit die verlede. Let op hoe koning Josafat gebid het: ‘Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie?’ (2 Kronieke 20:7 NLV). As God al ooit vir jou of enigiemand anders ‘n wonderwerk gegee het, kan Hy dit weer doen. Lees dus sy Woord en versterk jou geloof deur sy groot dade te onthou.
E – Eer God as groter as die probleem. ‘…Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie’ (vers 6 NLV). In sy angs het Josafat retoriese vrae gevra wat blootgelê het hoe groot sy God in vergelyking met die probleem was. Soms is dit moeilik om verby die probleem te kyk as die realiteit daarvan so naby is. As jy een oog toemaak en ‘n muntstuk voor die ander oog hou, kan jy jouself vir iets so groot soos die son, blind maak.
Maak op die gebede en ondersteuning van ander staat. ‘Josafat… het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas. Die mense… het toe gekom om die Here se hulp te soek’ (vers 3-4 NLV). Josafat het nie vir die mense vir hul opinies gevra nie, maar vir hulle gebede, omdat dit God se hart roer.
S – Staan op God se beloftes. Wanneer jy dit doen, kan jy soos die Psalmdigter sê: ‘Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde’ (Psalm 119:143 NLV). Dis God se formule vir stres – maak nou gebruik daarvan.
Sielskos: 1 Sam 4-7; Mark 16:1-8; Ps 68:19-35; Spr 22:6