Oorkom versoeking

2023-08-18
1 Korintiërs 10:13 NLV

Die Bybel sê: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (vers 13 NLV).

Ons gedagtes is soos ‘n hotel. Die bestuurder kan nie keer dat iemand die voorportaal binnekom nie, maar hy kan hom keer om ‘n kamer te bespreek. Dis dieselfde met versoeking. Toe God jou verlos het, het jy ‘n wedergebore gees geword wat in ‘n onwedergebore liggaam woon. Die Bybel sê: ‘…In die regte verhouding met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe’ (Efesiërs 4:30 NLV). Satan kan nie jou wedergebore gees oorwin nie, daarom val hy jou deur jou laer natuur aan. Paulus het dit erken: ‘Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek’ (Romeine 7:19 NLV). Jy sal nooit immuun teen versoeking wees nie, maar jy kan dit oorkom.

Let drie dinge in die Skrif op: ‘God is getrou.’ Soos ‘n skaapwagter wat nooit sy skape verlaat nie, sal Hy jou terugbring wanneer jy die pad byster raak. 2) ‘Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word.’ Soos ‘n goeie afrigter wat jou oplei, sal God toelaat dat die gewig van die versoeking jou versterk, maar jou nie breek of vernietig nie. 3) ‘Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou.’ As jy kies om jou eie pad te volg, sal jy misluk. God se ‘uitweg’ is deur gebed, sy Woord, Christelike gemeenskap en Geesgevulde lewe. Dis hoe jy versoeking oorkom.

Sielskos: Rut 1-4; Mark 6:14-29; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5

Bly opgewonde oor jou verhouding

2023-08-17
Spreuke 5:19 ABA

Toe jy jou man of vrou ontmoet het en verlief geraak het, het jy dag en nag aan hom\haar gedink. Julle kon nie wag om bymekaar te wees nie; jy het aan sy/haar lippe gehang. Die verhouding was stimulerend en opwindend omdat julle mekaar se gedagtes aangewakker het, mekaar se emosies opgewonde gemaak het en mekaar se verbeelding oor ‘n wye verskeidenheid van die lewe se onderwerpe, aangevuur het.

Baie huwelike oorleef egter nie omdat dit van verveling sterf. Een maat raak betrokke by ‘n verhouding, of die ander raak verslaaf aan pornografie of ‘n ander afwykende gedrag, omdat hulle verveeld is in die verhouding. Dit is nie ‘n verskoning vir verkeerde optrede nie, maar verveling funksioneer soos laegraadse gif; dit eis ‘n onvermydelike tol van elkeen van julle.

Die geheim tot ‘n goeie huwelik lê daarin om maniere te vind om aan te hou om jouself te verbeter en dit dan na die tafel van jou verhouding te bring. Leer iets nuuts van jou man se beroepsveld. Gee om vir die details van jou vrou se dag. Wanneer jy betrokke is by ‘n ander persoon se lewe, versterk jy hul begeerte om meer oor hul dag en hulself te deel. Nog iets om in gedagte te hou is dat dit belangrik is om ‘n lewe buite die persoon waarin jy belangstel, te hê. Paartjies wat saam wil groei moet besef dat hulle mekaar moet aanmoedig om vriendskappe, stokperdjies en belangstellings onafhanklik van mekaar, te kweek.

Opwindende mense maak mekaar opgewonde! Hulle verstaan hoe om hul eie lewens te ontwikkel sonder om die gedeelde lewe wat hulle saam het, te verontagsaam. Dis wat die Bybel bedoel wanneer dit sê: ‘…jy moet vir haar [of hom] so lief wees dat dit vir jou sal wees soos ‘n droom.’

Sielskos: Obadja; Mark 6:1-13; Ps 119:73-80; Spr 17:27-28

Werk aan jou karakter

2023-08-16
Spreuke 20:7 NLV

Wanneer die Bybel van integriteit praat, beteken dit om ‘n goeie karakter te hê. ‘n Goeie karakter stel grense. Dit mag dalk nie altyd bepaal wat jy sal doen nie, maar dit bepaal altyd wat jy nie sal doen nie. Karakter laat jou besef hoeveel jy gewillig is om te betaal om te kry wat jy wil hê. Die Bybel sê: ‘Hy wat opreg en eerlik leef, se kinders is baie gelukkig.’

Karakter hoef nie in die kollig te wees en oormatig in beheer te wees nie. Dit wend hom ook nie na intimidasie of skande om sy eie sin te kry nie. Die persoon wat dink dat hy of sy deur te jok, te kul of te manipuleer kan kry wat hulle wil hê, is ongelukkig verkeerd. Verstaan die volgende: Maak nie saak waar jy gaan nie, die ware jy sal uiteindelik daar opdaag!

As jy nie aan jou karakter werk nie, sal jy nie in staat wees om gesonde verhoudings te bou nie. Opregte verhoudings verg integriteit; iemand wat konsekwente karakter in alle omstandighede aan die dag lê; iemand wat by die reëls hou en op wie mens kan staat maak; iemand wat krediet gee waar dit verskuldig is; iemand wat volgens geloof leef; iemand wat God vertrou om hom in staat te stel om alles waarvoor hy of sy geskep is en geroep is om te doen, te bereik.

Die Bybel sê vir ons dat die goddeloses vir ‘n seisoen voorspoedig mag wees, maar dat hulle dit nie sal kan volhou nie. Hulle sal ook uiteindelik beslis nie seëvier nie (sien Spreuke 11:21). Die Bybel sê: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang’ (Spreuke 11:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – werk aan jou karakter.

Sielskos: 1 Pet 3-5; Mark 5:31-43; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26

Wanneer jy ‘n geliefde verloor

2023-08-15
1 Tessalonisense 4:13 ABA

Onthou jy die eerste keer wat die dood jou geforseer het om finaal van ‘n geliefde afskeid te neem? By die begrafnis het jy woorde soos vertrek, aanbeweeg, vooruitgegaan, gehoor. ‘Vertrek waarheen? Aanbeweeg waarnatoe? Vooruitgegaan vir hoe lank?’ Wanneer iemand na ‘n vol lewe sterf, kan mens dit aanvaar. Maar wat as hulle as gevolg van geweld sterf? Of na ‘n lang siekbed? Jou drome word saam met die kis wat hulle in die grond laat sak, begrawe.

Paulus skryf: ‘Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie. Ons glo dat Jesus gesterf het en weer begin lewe het. Ons moet ook glo dat God die gelowiges wat gesterf het, na Jesus toe sal bring’ (verse 13-14 ABA).

Hierdie woorde verander ons hopelose verdriet in hoopvolle verdriet. Hoe? Deur ons te verseker dat ons weer ons geliefdes gaan sien. Is dit nie wat ons graag wil glo nie? Ons verlang daarna om te weet dat ons geliefdes veilig in die dood is. Ons smag na die versekering dat die siel oombliklik gaan om by God te wees. Waag ons dit egter om dit te glo? Volgens die Skrif, ja! By hulle afsterwe gaan ‘n Christen onmiddellik in die teenwoordigheid van God in en verlustig hulle in die bewuste gemeenskap met die Vader en met ander wat hulle vooraf gegaan het. Hierdie woorde op ‘n gelowige se grafsteen sê dit alles: ‘Die afskeid is vir ‘n oomblik, maar die ontmoeting sal vir ewig wees.’

Sielskos: 1 Pet 1-2; Mark 5:21-30; Ps 119:57-64; Spr 17:22

Hanteer versoeking (3)

2023-08-14
Matteus 6:13 NLV

Jesus het ons geleer om as volg te bid: ‘Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; en bevry ons van die greep van die Bose.’ Verstaan die volgende: Satan probeer jou altyd in die versoeking lei, terwyl die Heilige Gees wat binne jou leef jou altyd uit die versoeking probeer red. Dis interessant om op te let dat die Duiwel beide die versoeker en die aanklaer genoem word. ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het’ (Openbaring 12:10 NLV).

Daar is nie so iets soos regverdigheid wanneer dit by die Duiwel kom nie. Sodra hy jou sover gekry het om tot die versoeking in te gee, draai hy om en probeer jou oortuig dat omdat jy ingegee het, kan jy nie meer God se genade en verlossing ontvang nie. Dis egter net wanneer jy jou sonde ontken en God se genade verwerp, dat verlossing nie meer vir jou beskore is nie. Die Bybel sê: ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:8-9 NLV).

Sommige mense word dadelik uit versoeking gered; ander stry vir ‘n lang tyd daarteen voor hulle uiteindelik verlossing en oorwinning vind. Dis nooit ‘n geval dat God onwillig is om genade aan ons te bewys nie, maar eerder ons onvermoë om dit te ontvang. Of jy dus die maklike pad of die moeilike pad loop, solank jou begeerte is om nader aan God te kom, sal Hy ‘…keer dat die versoeking te sterk vir julle word…’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).

Sielskos: Deut 32:29-34:12; Mark 5:11-20; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21

Hanteer versoeking (2)

2023-08-13
Nehemia 8:10 NLV

Het jy al ooit agtergekom dat wanneer jy honger is, alles op die spyskaart lekker lyk? Soortgelyk is wanneer jou siel ontevrede is en sonde dan aanloklik lyk. Dis hoekom jy altyd van jou geestelike toestand bewus moet wees en die vlak van jou gees se bevrediging moet monitor. Daar is liggies op jou kar se paneelbord wat aandui hoe warm die enjin is of wanneer jy olie moet ingooi. Die belangrikste liggie op jou hart se paneelbord is die liggie wat jou gees se bevrediging aandui.

Dis hoekom daar so baie Skrifgedeeltes in die Bybel is wat ons roep om vreugdevol te wees: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). ‘Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding!’ (Jesaja 12:3 NLV). ‘…Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).

Hoekom word andersins intelligente mense dan nog steeds in versoeking vasgevang? Omdat wanneer ons ontevrede met ons lewens is, ons kwesbaar vir versoeking is. Hoe dieper die vlak van ons ontevredenheid is, hoe meer vatbaar is ons vir versoeking. As ons nie tevredenheid in ons verhouding met God vind nie, sal ons daarvoor in al die verkeerde plekke soek. Paulus sê: ‘As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk’ (Romeine 14:17 NLV). Die geheim tot vreugde lê daarin om ‘n lewe te lei wat deur die Gees gerig word – dis nog altyd so en sal altyd so wees.

Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-21; Mark 2:18-22