Kry die meeste uit jou Bybel (2)

2023-10-14
Psalm 119:130 NLV

President Woodrow Wilson het gesê: ‘Ek voel jammer vir die mense wat nie elke dag die Bybel lees nie; ek wonder hoekom hulle hulleself van die krag en plesier daarvan ontneem. Dit is een van die mees unieke boeke ter wêreld, want elke keer as jy dit oopmaak, straal een of ander teks wat jy al ‘n hele paar keer gelees het skielik met ‘n nuwe betekenis. Daar is geen ander boek waarvan ek weet waarvan dit waar is nie; daar is geen ander boek wat die betekenis daarvan so persoonlik gee, wat lyk asof dit so intiem pas by die einste persoon wat leiding soek nie.’

As jy die meeste uit jou Bybel wil kry, vra jouself die volgende vrae af: 1) Is daar ‘n waarskuwing om op ag te slaan? 2) Is daar ‘n belofte om op te eis? 3) Is daar ‘n sonde om te laat vaar? 4) Is daar ‘n bevel om te gehoorsaam? 5) Is daar ‘n les om te leer? 6) Is daar ‘n beginsel om toe te pas? 7) Is daar ‘n voorbeeld om te volg?

Soos jy jouself hierdie sewe vrae afvra, hou ‘n notaboek byderhand en skryf die antwoorde wat God jou gee neer. Jy sal verbaas wees oor die wysheid wat jy daaruit ontvang. Jou angs sal begin minder word, jou gedagtes sal opklaar en jy sal vrede ervaar. Johannes skryf: ‘Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God’ (Johannes 1:1 NLV). Let die frase: ‘die Woord was self God,’ op. Hoe meer jy jou Bybel lees, hoe meer sal jy God se teenwoordigheid en krag ervaar. Jy mag dalk selfs American Express se ou slagspreuk begin aanneem: ‘Don’t leave home without it.’

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18

Kry die meeste uit jou Bybel (1)

2023-10-13
Spreuke 2:4 NLV

Dink daaroor na, wanneer jy jou Bybel bestudeer, is dit soos om na goud of silwer te soek. Dit behels twee dinge: 1) Jy moet daarna soek. ‘Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ‘n versteekte skat. Jy sal dan… agterkom wat dit beteken om God te ken’ (verse 4-5 NLV). Om eenvoudig by ‘n myn af te loer en rond te kyk sal nie help nie. As jy die goud of silwer wil hê, moet jy aktief daarna soek. Die doel van hierdie dagstukkie is nie om gereelde Bybelstudie te vervang nie, maar om jou aptyt daarvoor aan te wakker. Volgens die Barna navorsingsgroep, lees slegs 9 persent van Christene die Bybel elke dag. Die vraag is, is jy een van hulle?

2) Jy moet daarvoor grawe. Die Gees van God wat binne-in jou is, praat met jou soos jy sy Woord lees. Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat mal daaroor was om sy Bybel te bestudeer. Elke keer wat hy iets teëgekom het wat hy nie verstaan het nie, het sy vriend Charlie in sy gedagtes opgekom. Charlie was ‘n wonderlike student van die Bybel; Bybelse wyshede het sommer by hom uitgevloei. Wanneer die eerste man dus ‘n vraag oor ‘n vers in die Bybel gehad het, het hy na Charlie toe gegaan en gesê: ‘Wat beteken hierdie vers? Wat probeer God hier vir my sê?’ Een dag terwyl hy besig was om die Bybel te lees, het die Heilige Gees met hom gepraat en gesê: ‘Hoekom vra jy My nie net nie? Ek is die een wat Charlie onderrig.’ Verwag dus vandag van God om met jou te praat terwyl jy sy Woord lees, en Hy sal.

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 3:9-21; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14

Wat babas weet

2023-10-12
Jesaja 38:19 NLV

‘n Navorser by die John Hopkins Universiteit sê dat kinders so jonk as agt maande in staat is om woorde, goed of sleg, te hoor en te onthou. ‘Klein oortjies luister,’ sê dr Peter Juscyzk. Babas is in hierdie studie, wat in die gerekende joernaal, Science, verskyn het, vir ongeveer tien dae aan drie stories blootgestel. Twee weke daarna is hulle in ‘n laboratorium getoets en kon duidelik die woorde in die stories identifiseer, terwyl hulle glad nie op woorde wat hulle nie gehoor het nie, gereageer het nie.

Professor Emerita Robin Chapman, ‘n taalkundige wat aan die Universiteit van Wisconsin verbonde was, benadruk die belangrikheid van hierdie studie. Dit demonstreer dat baie jong kinders wel aandag aan die klanke van taal gee en in staat is om die klanke waarmee hulle bekend is, later uit te ken. Nee, hulle mag dit dalk nie ten volle verstaan nie, maar hulle brein is bedraad om die klanke op te neem en dit later weer te gee.

Dus, wanneer jy die tyd neem om met klein kindertjies te praat, leer jy hulle nie net taalvaardighede nie, maar saai saadjies van waarheid wat later in hul lewe kan blom. Woorde is vormend; hulle is kreatief! Die eerste woorde wat jou kind hoor, sal deur jou gespreek word. Die eerste musiek waarna jou kind luister, sal deur jou gekies word. Jou kind is ‘n kosbare stukkie klei en jy is die pottebakker wat God geroep het om hulle te vorm. Ons lees in 2 Timoteus 2:20 van besonderse houers van goud en silwer en van alledaagse houers van hout en klei. Jy help om jou kind te vorm in die tipe houer wat hy gaan word. As jy wys is, sal jy die goddelike vormingsproses so gou as moontlik begin.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Joh 3:1-8; Ps 110; Spr 23:6-9

Geestelike groei neem tyd

2023-10-11
Johannes 12:24 NLV

God neem twee dae om ‘n sampioen te laat groei, maar sestig jaar om ‘n eikeboom te laat groei. Wil jy ‘n sampioen of ‘n eikeboom wees? Geestelike groei neem tyd. Wonder jy: ‘Hoekom neem dit my so lank om te verbeter? Ek sukkel steeds met baie van my swakpunte.’ Geestelike groei, net soos natuurlike groei, neem tyd. Die beste vrugte word geleidelik ryp.

Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op’ (vers 24 NLV). Wanneer Jesus sê: ‘Ek verseker julle,’ bedoel Hy: ‘Verstaan mooi! Luister! Hierdie is baie belangrik.’ Die punt wat Jesus hier wil beklemtoon is dat ons net soos die graankorrel aan onsself moet sterf om geestelike groei te ontwikkel. Dit neem ‘n rukkie om aan ons eie selftevredenheid te sterf.

Ons is geneig om elke nou en dan die saad op te grawe om die vordering daarvan te monitor, in plaas daarvan om God te vertrou om sy werk in ons lewens te verrig. Christus sal vrugte in ons lewens produseer wanneer ons in Hom bly. Jesus het gesê: ‘Julle moet aan My verbonde bly…’ (Johannes 15:4 NLV). Dit beteken dat jy in kontak met Christus bly, op Hom staatmaak en Hom vertrou om sy werk in ons lewens op sy perfekte tyd klaar te maak. Wag op God se beloofde oes en verlustig jou intussen in sy teenwoordigheid in jou lewe.

God is gelukkig met jou in elke fase van jou geestelike groei. Hy wag nie totdat jy perfek is om jou lief te hê nie. Hy sal jou nooit een druppel meer liefhê as wat Hy reeds doen nie.

Sielskos: 1 Sam 24-26; Joh 2:12-25; Ps 23; Spr 23:4-5

Is jy heeltemal toegewyd?

2023-10-10
2 Kronieke 31:21 NLV

Verandering, verbetering, groei, sukses en oorwinning vind nie plaas omdat hulle bewonderingswaardige konsepte of wenslike opsies is nie. Nee, dit vind plaas omdat jy heeltemal toegewyd is en gewillig is om die prys te betaal.

Toe koning Hiskia die troon bestyg het, het dit nie goed met Israel gegaan nie. Die deure van God se huis was gesluit, die volk het nie die Here se wet nagekom nie en hulle het dieselfde gode as die heidense nasies rondom hulle aanbid. ‘n Mens kan baie leer deur Hiskia se lewe en strategie te bestudeer. Die Bybel sê: ‘In alles wat hy onderneem het… het Hiskia met sy hele hart sy God gedien. Daarom was hy baie suksesvol’ (vers 21 NLV).

Die koste van toewyding behels die volgende: 1) ‘n Lewenstylverandering. Hiskia het geweier om soos sy pa voor hom te lewe.
2) Eensaamheid. Hiskia was die eerste een om na God toe te draai. Om dit te doen, moes hy alleen staan.
3) Kritiek. Mense hou nie van verandering nie en Hiskia het onder ‘n spervuur van vrae uit die ouer generasie se geledere beland.
4) Harde werk en geld. Hy was gewillig om tyd, energie en geld te spandeer om sy doel te bereik.
5) Daaglikse dissipline. Dit kan moeilik wees om mense se kultuur en denkwyses te verander. Hiskia het elke dag God se beginsels vir die mense geleer en dit in hulle gedagtes ingeprent.
6) Aanhoudende druk. Die mense wat met die veranderinge wat Hiskia gemaak het saamgegaan het, het verwag om resultate te sien en hulle was nie noodwendig geduldig nie. Hiskia het egter ‘…met sy hele hart sy God gedien. Daarom was hy baie suksesvol.’

Die beginsels wat Hiskia gebruik het sal ook vir jou werk, begin dus vandag om hulle toe te pas.

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Joh 2:1-11; Ps 131; Spr 23:1-3

God: die bron van jou selfvertroue

2023-10-09
Psalm 125:1 NLV

Mense is van nature aangetrokke tot leiers wat selfbeheersing en selfversekerdheid oordra; hulle sal nie iemand wat nie selfvertroue het nie, volg. ‘n Uitstekende illustrasie hiervan is ‘n insident wat tydens ‘n staatsgreeppoging in Rusland plaasgevind het. Weermagtenks het die regeringsgebou waarin president Boris Jeltsin en sy prodemokrasie-ondersteuners was, omsingel. Terwyl die weermag in posisie beweeg het, het Jeltsin uit die gebou gestap, op ‘n tenk geklim, die bevelvoerder in die oë gestaar en hom bedank dat hy na die kant van demokrasie gedraai het. Later het die bevelvoerder erken dat hy nie van plan was om na Jeltsin se kant oor te gaan nie, maar die Russiese leier het so selfversekerd voorgekom dat die soldate by hom aangesluit het.

Groot presteerders toon selfvertroue ongeag omstandighede. Ware selfvertroue kom egter nie uit die goedkeuring van mense rondom jou nie. Die Bybel sê: ‘Die Here is jou beskermer…’ (Spreuke 3:26 NLV); dis die wete dat Hy jou geroep het en toegerus het om die werk te doen. Paulus het geskryf: ‘Dít is die vertroue wat ons op God stel… Ons bekwaamheid kom van God’ (2 Korintiërs 3:4-5 NLV).

Alhoewel ander mense dalk nie in jou mag glo nie, sal die wete dat God in jou glo jou in staat stel om in jouself te glo. Dawid het geskryf: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie!’ Maar U, Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op’ (Psalm 3:3-4 NLV). ‘n Selfversekerde leier kan vir diegene wat hom of haar volg sê: ‘Ek vertrou op die God wat my geroep het. Ek het vertroue in jou. Ek glo dat ons saam dit wat God gedoen wil hê, kan bereik.’

Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Joh 1:43-51; Ps 29; Spr 22:26-29