Hoe om jou gesin te beskerm

2023-08-24
Eksodus 12:7 NLV

Op die nag van die Pasga het God vir Moses gesê dat die doodsengel sou kom om al die manlike eersgeborenes in Egipte uit te wis. Toe het Hy ‘n spesifieke plan van beskerming aan die kinders van Israel gegee. Hy het gesê dat elke huisgesin ‘n lam moet neem en sy bloed moet ‘…smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis…’ Dink jouself dit in! Toe die doodsengel op die oordeelsnag na hulle huise gekyk het, is hulle gered omdat hulle ‘onder’ die bloed, ‘omring’ deur die bloed en ‘gesien’ deur die bloed, was.

Soms wanneer ons bid, sê ons: ‘Vader, ek kom na U in die naam van Jesus en op grond van sy gestorte bloed, en ek vra U om…’ Hoekom bid ons op hierdie manier? Omdat die Bybel vir ons sê dat God: a) op die naam van Jesus, wie se opoffering namens ons Hy ten volle aanvaar het, en b) die bloed van Jesus, wat aan al God se aansprake teen ons – in die verlede, hede en toekoms – voldoen, reageer.

Onder die baie dinge wat jy vir jou gesin kan doen, is niks belangriker as om elke dag vir hulle te bid nie. Wanneer jy sê: ‘Vader, deur ‘n daad van geloof, bedek ek hierdie lid van my gesin met die kosbare bloed van Jesus,’ beskerm jy hulle teen geestelik vernietigende invloede wat, as hulle aan hul eie lot oorgelaat word, jou gesin uitmekaar kan skeur. Jy sê: ‘Ek verstaan dit alles nie heeltemal nie!’ Jy hoef nie. Doen dit net – en God sal jou eer en jou gesin seën!

Sielskos: Rig 12-15; Mark 7:24-37; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20

Al wat jy moet weet

2023-08-23
Psalm 46:11 NLV

Job se swakpunt was dat hy oormatig baie gepraat het. Mens kan hom nie daarvoor blameer nie. Nadat hy deur rampspoed getref is, het daar nie ‘n muur in sy huis staande of ‘n geliefde oorgebly nie. Sy vrou, empatiese siel wat sy was, het vir hom gesê: ‘…Vloek God en sterf!’ (Job 2:9 NLV). Toe sê sy vier vriende vir hom dat hy waarskynlik al hierdie moeilikheid oor homself gebring het.

God praat eers in hoofstuk 38 vir die eerste keer: ‘Toe het die Here Job uit die stormwind geantwoord’ (vers 1 NLV). Nadat die Here gepraat het, sê Job: ‘Ek het dwase dinge gesê. Hoe kan ek U antwoord? Ek sit my hand op my mond’ (Job 39:37 NLV). Voordat hy van God gehoor het, kon jy Job nie sover kry om stil te bly nie. Nadat hy egter van Hom gehoor het, kon hy glad nie meer praat nie. Die enigste regte ding wat Job gesê het, was: ‘Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom…’ (Job 13:15 AFR53).

Soms is die beste manier om jou probleem te hanteer om te vertrou, jouself te onderwerp en nie te praat nie. Job het dit nie op daardie stadium geweet nie, maar God se plan was om hom op die ou einde twee keer soveel te gee as wat hy verloor het. Dit het gebeur toe hy opgehou het om op sy eie probleme te fokus en vir sy vriende begin bid het (sien Job 42:10).

Wees dus stil. Wees ontvanklik en gewillig. God is steeds op die troon. Hy is in beheer van elke detail in jou lewe. Selfs in die ergste omstandighede het Hy jou beste belange op die hart. ‘…U steek u hand uit en red my deur u krag’ (Psalm 138:7 NLV). Dis al wat jy moet weet!

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 7:14-23; Ps 119:113-120; Spr 20:25

Bid vir wysheid (4)

2023-08-22
Jakobus 1:5 NLV

Hier is ‘n beproefde en bewese formule om wysheid te bekom:

1) Erken dat jy dit nodig het. Benjamin Franklin het tereg gesê: ‘Die drumpel na die tempel van wysheid is die kennis van jou eie onkunde.’
2) Gaan na die regte bron toe. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee…’ (Spreuke 2:6 NLV). Hy alleen kan ware wysheid gee, want Hy alleen het ware wysheid. Sy wysheid laat ons s’n na dwaasheid lyk. Paulus sê: ‘Hierdie Goddelike ‘dwaasheid’ is oneindig wyser as enige menslike wysheid…’ (1 Korintiërs 1:25 NLV).
3) Vra daarvoor. God gaar nie sy wysheid op nie; Hy is gereed om dit weg te gee. Salomo sê: ‘Roep na insig. Roep hardop vir begrip. Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ‘n versteekte skat. Jy sal dan weet wat dit beteken om respek te hê vir die Here. Jy sal agterkom wat dit beteken om God te ken. Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:3-6 NLV).

Jakobus skryf: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:5-8 NLV). Bid vandag vir wysheid.

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 7:1-13; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12

Bid vir wysheid (3)

2023-08-21
Spreuke 4:7 NLV

Hoekom verwys die Bybel so baie na Salomo se wysheid? Omdat dit nie menslike wysheid is wat tot ‘n bonatuurlike hoogte verhef is nie; dis bonatuurlike wysheid wat tot menslike begrip verlaag is. Luister na wat Salomo, die wysste man in die wêreld, gesê het: ‘Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy die wysheid liefhet, sal dit jou beveilig. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om onderskeidingsvermoë te verkry. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee’ (verse 6-8 NLV).

In dié lyn merk Haddon Robinson op: ‘Sedert 1955 het kennis elke vyf jaar verdubbel. Hoërskoolgegradueerdes is vandag aan meer inligting as Plato, Aristoteles, Spinoza of Benjamin Franklin blootgestel. Wat feite alleen betref, sal Moses of Paulus nie vandag ‘n universiteit-toelatingseksamen slaag nie. Tog, selfs met al ons kennis, word die samelewing vandag met ‘n groot oes van briljante mislukkings bevolk. Mans en vroue wat opgevoed is om ‘n bestaan te verdien, weet dikwels niks van die hantering van die lewe self nie. Alumni van bekende universiteite het inligting oor ‘n nou stukkie lewe bemeester – maar kan nie graad een slaag wanneer dit by ‘n suksesvolle lewe saam met familie en vriende kom nie. Kennis is nie genoeg om die lewe se probleme te hanteer nie. Ons het wysheid nodig, die vermoë om die lewe met vaardigheid te hanteer.’

Spurgeon het een maal gesê: ‘Daar is geen dwaas so groot soos ‘n wetende dwaas nie; maar om te weet hoe om kennis te gebruik, is om wysheid te hê.’ Hoe meer inligting jy dus aan blootgestel word, hoe meer moet jy vir wysheid bid.

Sielskos: Rig 4-6; Mark 6:45-56; Ps 119:97-104; Spr 18:9

Bid vir wysheid (2)

2023-08-20
Spreuke 8:11 NLV

Toe koning Salomo vir God vir wysheid, in plaas van mag, roem, of rykdom gevra het, het God vir hom gesê: ‘…Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ‘n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer; sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor of na jou ooit sal hê nie’ (2 Kronieke 1:11-12 NLV).

Het God sy belofte gehou? Wel, Salomo het die wêreld se grootste ryk regeer. Sy handelskepe het die see bevaar en hom die skatte van die aarde teruggebring. Hy het van die wêreld se belangrikste geboue, insluitend die tempel, ontwerp en gebou. Hy het reservoirs, parke, tuine en wingerde gebou. Hy het besigheid, wetenskap en letterkunde bemeester. Hy het ‘n digter wat pryse wen, ‘n vooraanstaande skrywer en ‘n begaafde musikant geword. Hy het die ongelooflike waarde van wysheid geleer, al die voordele daarvan geniet en die volgende geskryf: ‘Kies eerder wat ek julle leer. Dit is meer werd as silwer. My kennis is meer werd as goud. Wysheid is baie meer werd as edelstene. Daar is niks waaraan jy kan dink wat teen wysheid kan opweeg nie’ (Spreuke 8:10-11 NLV).

Daar is een-en-dertig hoofstukke in die boek Spreuke – een vir elke dag van die maand. Hier is dus ‘n voorstel: Hoekom lees jy nie ‘n hoofstuk ‘n dag vir die volgende twaalf maande en word wys nie?

Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5

Bid vir wysheid (1)

2023-08-19
2 Kronieke 1:10 NLV

Toe koning Salomo die troon bestyg het, het God vir hom gesê: ‘…Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!’ (vers 7 NLV). Verbeel jouself: Salomo is carte blanche deur die Een in wie se woordeboek die woord onmoontlik nie verskyn nie, gegee. Daar was egter ‘n vangplek! God was besig om Salomo te toets om uit te vind wat in sy hart is. ‘n Arrogante persoon sou vir roem gevra het. ‘n Wêreldse persoon sou vir rykdom gevra het. ‘n Selfsugtige persoon sou vir mag gevra het. Wat het Salomo van God gevra? ‘Gee my tog wysheid…’ God het aan Salomo se versoek voldoen en hom iets meer bevredigend as roem, meer buitensporig as rykdom en meer opwindend as mag, gegee. Al die materiële seëninge wat Salomo geniet het, was byprodukte van die gawe van wysheid.

‘n Anonieme denker het geskryf: ‘Sê vir my jou drome en ek sal vir jou die raaisels van jou lewe vertel. Sê vir my jou gebede en ek sal vir jou die geskiedenis van jou siel vertel. Sê vir my wat jy vra en ek sal jou vertel wat jy kry. Sê vir my wat jy soek en ek sal jou vertel wat jy is. Ek wil nie jou besittings ken nie, net jou behoeftes. Ek wil nie weet wat jy het nie, net wat jy nie het nie en begeer om te hê; nie jou prestasies nie, maar wat jy nog nie bereik het nie en nastreef. Dit wat na jou toe in jou oorwinnings bedags en jou drome snags kom, die ideaal wat jy voor jou stel, die dinge wat jy as voortreflik goedkeur, dit waarna jy soek en jou hart op gesit het. Dit is die maatstaf van ‘n man.’

Bid dus vir wysheid.

Sielskos: Rig 1-3; Mark 6:30-44; Ps 119:89-96; Spr 18:6-8