2023-10-20
Eksodus 32:13 NLV
As jy nie seker is of jou gebede die situasie waarin jy jou tans bevind kan verander nie, lees die verhaal van Moses wat by God intree om nie die Israeliete weens die goue kalf en afgodery te vernietig nie. ‘Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie… Onthou tog dat U ‘n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob. U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’ Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring’ (verse 11, 13-14 NLV).
Moses was op sy knieë vir sy volk se lewens, hy het sy vinger gewys, sy hande opgelig, trane gehuil, sy mantel geskeur en soos Jakob by die spruit, gestoei. Let op hoe hy gebid het. Hy het God aan sy verbondsbeloftes herinner. Hy het op die Woord gestaan! As daar een ding is wat God se aandag sal trek en Hom aan jou behoeftes sal laat voldoen, is dit om op sy Woord te staan.
God se woord oor die saak is altyd sy wil in die saak. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
Jy is soos ‘n elektriese draad waardeur God se krag en teenwoordigheid in enige situasie kan vloei en deur gebed skakel jy die skakelaar aan. In plaas daarvan om dus oor die situasie te kla, begin daaroor bid.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 24:5-6
2023-10-19
Job 5:2 NLV
Vir redes wat net aan God en Satan bekend is, het Job sy geld, sy kinders en sy gesondheid verloor. As daar ooit ‘n man was wat rede gehad het om kwaad te wees, was dit hy. Elifas het hom egter die volgende raad gegee: ‘Woede maak ‘n dwaas dood…’ Met ander woorde: ‘Die enigste ding wat my seerder kan maak as wat reeds gebeur het, is om toe te laat dat wrewel my gedagtes regeer en my optrede dikteer.’
Jy sê: ‘Maar ek soek geregtigheid!’ Hoeveel geregtigheid? Stel jou voor dat jou vyand aan ‘n sweeppaal vasgemaak is. Die man met ‘n sweep in die hand draai na jou en vra: ‘Hoeveel houe?’ Jy gee ‘n getal. Die sweep kraak, die bloed vloei en die straf word opgelê. Jou vyand sak op die grond neer. Is jy nou gelukkig? Voel jy beter? Het jy vrede in jou gemoed? Dalk vir ‘n rukkie, maar gou sal jy weer iets onthou en dan sal nog ‘n sweepslag nodig wees.
Wanneer sal dit dan ophou? Dit hou op wanneer jy die woorde van Jesus ernstig opneem: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:14-15 NLV).
Wanneer jy bid: ‘Hanteer my soos ek my naastes hanteer’ (sien Matteus 6:12), is jy waarlik bewus van wat jy sê? ‘Gee my wat ek vir hulle gee. Skenk my dieselfde vrede wat ek hulle gun. Laat my dieselfde verdraagsaamheid geniet wat ek hulle bied.’ As jy vrede wil hê, moet jy vrede maak. As jy God se vrygewigheid wil geniet, moet jy vrygewig teenoor ander wees. As jy die versekering van God se vergifnis wil hê, gee vergifnis aan ander.
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4
2023-10-18
Efesiërs 5:18 NLV
Tydens die oomblik van bekering, gee ons ons ou lewe aan God en Hy gee vir ons ‘n nuwe lewe in die plek daarvan. Hy doen egter meer; Hy kom leef binne-in ons deur die krag van sy Heilige Gees.
Paulus het die kontras gemaak tussen dronk van wyn word en vervul met die Gees word. Die een is teenproduktief, terwyl die ander produktief is. Die een maak jou magteloos, terwyl die ander jou bemagtig. Die een bring vir jou hartseer, terwyl die ander een vir jou vreugde bring. Hierdie Skrifgedeelte is nie ‘n belofte of selfs ‘n opsie nie, dis ‘n bevel: ‘…Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak’. Paulus gee ons drie bewyse van ‘n Gees-gevulde lewe:
1) ‘…Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here’ (vers 19 NLV). Hierdie lied vind nie as gevolg van omstandighede plaas nie, maar ten spyte daarvan. ‘Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing… Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!’ (Handelinge 16:25-26 NLV). Jy kan deure oopmaak en kettings breek wanneer jy God loof.
2) ‘Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge’ (Efesiërs 5:20 NLV). Gees-vervulde mense het ook probleme. Hulle fokus egter nie op hulle probleme nie; hulle tel hul seëninge en bly positief, vrolik en dankbaar.
3) ‘Omdat julle respek het vir wat Christus vir julle gedoen het, moet julle aan mekaar onderdanig wees’ (vers 21 NLV). Gees-vervulde mense fokus op ander. Hulle weet dat wat jy vir iemand anders laat gebeur, God vir jou sal laat gebeur (sien Efesiërs 6:8).
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 23:29-35
2023-10-17
2 Korintiërs 9:11 NLV
‘n Pastoor het vir sy gemeente gesê: ‘Die goeie nuus is dat ons vanoggend genoeg geld hier het om ‘n nuwe kerk te bou.’ Toe het hy bygevoeg: ‘Die slegte nuus is dat dit steeds in julle sakke is!’ Sommige van ons het grootgeword met die idee dat dit verkeerd is om God vir geld te vra, omdat dit ‘n teken van gierigheid en selfsug is. Dit kan wees, maar dit hoef nie so te wees nie.
Wanneer jy bid: ‘Here, seën my finansieel sodat ek kan bydra vir u werk en u planne kan vervul,’ is jy in die regte geestelike lyn met God. Die plofbare groei van die Nuwe Testamentiese kerk was deels te danke aan sommige Christene wat bereid was om hul bates te verkoop om die wil van God te finansier. Barnabas was een van hulle. ‘Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring…’ (Handelinge 4:37 NLV). Barnabas was egter nie die enigste een nie: ‘…gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee…’ (verse 34-35 NLV).
Skriftuurlik gesproke is die volgende ‘n opsomming van wanneer dit by geld kom: As jy God eer, sal Hy jou eer en wanneer jy sy werk eerste stel, sal Hy jou werk seën. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:33-34 NLV). Hier is God se wil vir jou: ‘In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (2 Korintiërs 9:11 NLV).
Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 23:22-28
2023-10-16
Psalm 23:4 NLV
Hier is die waarheid oor die dood:
1) Dit is verseker. Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n hipokonderse persoon wat die volgende woorde op sy grafsteen laat sit het: ‘Nou sal julle miskien glo dat ek siek was.’ Op ‘n ernstiger noot, as jy wys is, sal jy nie obsessief oor die dood wees nie, maar jy sal jouself daarop voorberei.
2) Dit is ‘n reis. Elke stap wat jy neem bring jou vertrekdatum een dag nader. Dit is egter net ‘n tydelike deurgang en nie jou finale bestemming nie. Die woord ‘metamorfose’ roep ‘n nederige wurm wat in ‘n pragtige skoenlapper verander, op. Net so beskryf die Bybel jou nuwe liggaam in hierdie woorde: a) ‘Onverganklik,’ wat beteken dat jy nooit weer pyn of siekte sal ervaar nie (sien 1 Korintiërs 15:53). b) ‘Onsterflik,’ wat beteken jy sal ouderdomloos wees en nie kan doodgaan nie (sien vers 53). c) ‘Skaduwee.’ ‘n Skaduwee mag jou dalk bang maak, maar dit kan jou nie seermaak nie. Die enigste manier om ‘n skaduwee te kry is wanneer daar ‘n lig skyn.
Vind jy dit nie ook interessant dat baie mense wat gesterf het en weer teruggekom het ander mense vertel hoe hulle uit ‘n tonnel na ‘n helder, hemelse lig gegaan het nie? G’n wonder dat ons nie bang hoef te wees in die donker vallei nie. Die Here is by ons en Hy het die dood, die hel en die graf oorwin. Jesus het gesê: ‘…Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk’ (Openbaring 1:18 NLV). Verbly jouself; die sleutel tot jou ewige lotsbestemming is nie in jou eie of enigiemand anders se hande nie, maar in die hande van die Een wat jou liefhet.
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21
2023-10-15
Romeine 8:28 NLV
Dit is een van die gerusstellenste Skrifgedeeltes in die Bybel en een van die wat die meeste aangehaal word: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (vers 28 NLV). Hierdie vers is bedoel vir gelowiges; die verloste kinders van God wat die Here liefhet en volgens sy voornemens wandel en volgens Skriftuurlike beginsels werk.
Interessant genoeg vertaal die Bybel die woord ‘weet’ van ‘n Griekse woord wat ‘intuïtief’ beteken. Iets binne-in ons sê: ‘Ek verstaan dit nie en ek kan dit nie verduidelik nie, maar ek weet dat God aan die werk is en dat iets goeds daaruit sal kom.’ Let die woorde: ‘alles ten goede laat saamwerk,’ op. Sal jy dit geniet om bakpoeier te eet? Wat van meel? Nee, maar wanneer jy hulle saamvoeg, ‘n paar ander bestanddele bygooi, hulle meng en in die oond sit, kom daar iets ‘goeds’ daaruit.
Wanneer die Bybel na ‘alles’ verwys, sluit dit dinge wat pynlik, onregverdig en moeilik is, in. Die pad na die troon van Egipte het Josef deur verraad, laster, gevangenisstraf en teleurstelling gelei. Toe hy egter daarop terugkyk, kon hy sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Dit waardeur jy tans gaan, werk ten goede vir jou op maniere wat jy nie nou kan sien of verstaan nie. Het jy God lief? Glo jy dat Hy ‘n plan en ‘n doel vir jou lewe het? Wil jy Hom graag behaag? Vertrou Hom dan om ‘alles’ ten goede vir jou te laat uitwerk.
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16