Bid jy vir jou kinders?

2023-09-05
2 Konings 20:19 NLV

Die Bybel sê: “Toe sê Jesaja vir Hiskia: ‘Luister na die boodskap van die Here. Die tyd sal aanbreek wanneer alles wat jy besit, al die skatte wat jou voorgangers versamel het, na Babel weggevoer sal word. Niks sal daarvan oorbly nie, sê die Here. Sommige van jou nageslag sal in ballingskap weggevoer word. Hulle sal as ontmandes in die paleis van die koning van Babel diens doen.’ Toe sê Hiskia vir Jesaja: ‘Hierdie boodskap wat jy van die Here bring, is goed.’ Maar die koning het gedink: ‘Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees'” (verse 16-19 NLV).

Hiskia het gehoor dat die dinge wat hy by sy voorgeslagte geërf het verlore sou gaan en dat sy kinders in slawerny by sy vyande sou woon. In plaas daarvan om bekommerd te wees en tot God te bid om namens hulle in te tree, het hy gesê: ‘Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees.’ Hoekom het hy dit gesê? Was hy gevoelloos en onverskillig? Was hy selfsugtig, het hy net aan homself en nie aan die welsyn van sy kinders gedink nie? Was hy fatalisties en het hy gedink: ‘Die profeet het dit verklaar en daar is niks wat ek kan doen om dit te verander nie’?

Vroeër in hierdie hoofstuk toe die profeet Jesaja vir hom gesê het: ‘Kry jou sake in order, want jy gaan sterf. Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie,’ het hy tot God gebid om sy lewe te spaar en het hy nog vyftien lewensjare bygekry (sien verse 1-6 NLV). Dit lyk asof hy meer besorg oor sy eie toekoms as sy kinders se toekoms was. Wat van jou? Bid jy vir jou kinders?

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 10:23-34; Ps 142; Spr 19:21-23

Die antwoord op angstigheid (4)

2023-09-04
Jesaja 25:4 NLV

Wanneer jy jouself oor die toekoms begin bekommer, onthou waardeur God jou al gebring het. In situasies waar jy gedink het jy nie gaan oorleef nie, het Hy jou laat floreer, nie waar nie? Niks kan jou van sy liefde skei nie (sien Romeine 8:38-39). Jou angs kan egter die sekuriteit wat sy liefde meebring, by jou steel.

Een skrywer sê: ‘Ek was ‘n persoon wat alles wou verstaan, omdat dit my laat voel het dat ek in beheer is. Ek kon dit nie hanteer om nie te weet nie. My gedagtes het die hele dag gemaal met vrae soos: Hoekom het ek dit gedoen? Ek wonder wat so-en-so dink van my besluit om ‘n nuwe kar te koop? Hoekom het God nog nie my gebed oor bevordering by die werk beantwoord nie? Ek wonder of ek iets verkeerd doen, of dalk nie genoeg geloof het nie? Die ‘hoekoms’ in my gedagtes het nooit opgehou nie en dit het my ellendig laat voel. My gedagtes was die tuiste van allerhande ongenooide gaste (kwellende gedagtes), omdat ek eenvoudig nooit ‘nee’ vir hulle gesê het nie. Ek het gewonder, geredeneer, bekommer, gekwel, verbeel en was so angstig dat dit my heeltemal uitgeput het. God het my uiteindelik gewys dat ek aan redenering verslaaf is en dat ek dit moes prysgee. Dit het nie oornag gebeur nie, maar sodra my gedagtes gimnastiek begin doen het, het ek gesê: ‘Ek sal myself nie daaroor bekommer of dit probeer oplos nie,’ en geleidelik was ek in staat om God met my lewe te vertrou.’

God wil vandag jou voorsiener, jou leier, jou raadgewer, jou beskerming en jou ‘alles van alles’ wees. Staan dus op sy Woord wat sê: ‘…Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek teen die hitte en die reën…’

Sielskos: Eseg 1-4; Mark 10:13-22; Ps 111; Spr 19:18-20

Die antwoord op angstigheid (3)

2023-09-03
Matteus 6:31 NLV

Dis goed om ‘n doelwit vir die toekoms en ‘n plan om dit te bereik, te hê. Dis egter nie goed om aan die toekoms te dink en jouself oor alles wat verkeerd kan gaan, te bekommer nie. Dis angstigheid en dit behoort geen plek in jou gedagtes as verloste kind van God te hê nie.

‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg’ (verse 31-34 NLV).

Hierdie Skrifgedeelte kan in een sin opgesom word: ‘Leef elke dag deur God te vertrou om vir jou te sorg en hou op om jou oor die toekoms te bekommer.’ Elke oggend het God vir die Israeliete genoeg kos vir een dag gegee. As hulle meer probeer opgaar het, het dit vrot geword. God se boodskap was eenvoudig: ‘Ek sal jou daagliks lei en vir jou voorsien.’

Angstigheid kan jou van binne af opvreet. Wanneer jy dus angstig voel, staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV).

Sielskos: Hand 20:7-12; Jer 29:4-14

Die antwoord op angstigheid (2)

2023-09-02
Psalm 55:23 NLV

Hannah Whitall Smith vertel ‘n verhaal wat ongeveer ‘n honderd jaar terug plaasgevind het en tog is dit nog steeds net so relevant soos vanoggend se koerant. ‘n Boer op ‘n perdekar gewaar ‘n man wat met ‘n swaar sak op sy rug loop en daarom bied hy vir hom ‘n rit aan. Die vreemdeling aanvaar die aanbod en klim op die perdekar. Terwyl hulle egter verder reis, sit hy steeds geboë onder die gewig van sy sak. Die boer vra: ‘Hoekom sit jy nie die sak neer nie?’ Die vreemdeling antwoord: ‘Dit sal te veel wees om te vra. Ek is dankbaar dat jy my plek gee op jou perdekar, maar ek sal nooit van jou verwag om my sak ook te dra nie.’

Dis wat ons doen wanneer ons God se aanbod van verlossing aanvaar, maar steeds daarop aandring om ons laste self te dra. God sal nie aan die probleem begin werk totdat jy dit aan Hom oorgee nie. Ons wag tot ons besig is om uitmekaar te val en wonder dan hoekom God ons nie help nie. ‘…En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie’ (Jakobus 4:2 NLV).

Het jy God vir hulp gevra? Het jy die probleem in sy hande geplaas, met die vertroue dat Hy dit ten goede vir jou sal laat uitwerk en wag jy geduldig vir Hom om dit te doen? Dit beteken nie dat jy passief word en rondsit en niks doen nie. Jy moet doen wat jy glo reg is en waaroor jy vrede het. Leer die verskil tussen jou deel en God se deel om te doen en hou op om jouself te frustreer deur te probeer doen wat slegs God kan doen.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 10:1-12; Ps 103:13-22; Spr 19:17

Die antwoord op angstigheid (1)

2023-09-01
1 Petrus 5:7 NLV

Angstigheid is oormatige besorgdheid. As dit nie hanteer word nie, kan dit belangrike dinge soos selfvertroue, vreugde, vrede, humor en perspektief by jou steel. Angs ontstaan wanneer jy obsessief oor iets raak; jy probeer uitpluis wat gebeur het, probeer weet wat mense dink en sukkel om te besluit wat om te doen. ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).

Vertroue verg dat jy met onbeantwoorde vrae vrede maak, deur tevrede te wees daarmee dat God weet wat jy nie weet nie. Jy sal nooit al die antwoorde hê nie. Jy sal nooit ‘n perfekte begrip van dinge hê nie. Selfs die apostel Paulus het erken: ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV).

Die kuur vir angs begin deur drie dinge te aanvaar: Eerstens, dat God alles weet. Tweedens, dat niks God verras nie. Derdens, dat God nooit sonder ‘n oplossing is nie. Hier is dus jou opsies. Dra self die las, of gee dit aan die Here oor. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

Om te leer om op hierdie manier te leef, verg geduld en oefening, moet dus nie oornag ‘n wonderwerk verwag nie. Leer om jouself op heterdaad te betrap wanneer jy jou begin bekommer. Wanneer angs aan die deur klop, sê: ‘Here, hierdie is nie myne nie. Dis U s’n. Dus gee ek dit aan U oor.’ Probeer dit vir die volgende dertig dae en kyk wat gebeur.

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 9:38-50; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16

God se wonderbaarlike liefde vir jou

2023-08-31
Efesiërs 3:18 NLV

Paulus skryf: ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (verse 16-19 NLV).

Ten spyte van ons beste voornemens, sondig ons steeds. Gevolglik voel ons sleg oor onsself. Satan gebruik ons gevoelens van skuld en veroordeling om ons aan God se liefde vir ons te laat twyfel. As God jou egter so liefgehad het dat Hy sy seun gestuur het om namens jou te sterf terwyl jy nog ‘n volskaalse sondaar was, kan jy seker wees dat Hy nie sy plan oor jou sal verander wanneer jy sy verloste, maar sukkelende, kind is nie.

Om sleg oor sonde te voel is inderwaarheid ‘n bewys dat jy waarlik God se kind is. Toe jy wedergebore is, het jy ‘n nuwe gees wat in ‘n wêreldse liggaam leef, geword. Wanneer jy dus toelaat dat sonde jou lewe binnekom, staan jou wedergebore gees op en sê: ‘Kry dit hier weg, dit is onversoenbaar met wie ek is.’ Dis nie dat God nie lief is vir jou wanneer jy sondig nie, maar dat sonde ‘n onwelkome gas is wat jou sleg oor jouself laat voel en jou vrymoedigheid teenoor God van jou steel. As jy dus gesondig het, bely dit, ontvang God se vergifnis en beweeg sterker en wyser vorentoe.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 9:30-37; Ps 84; Spr 19:11