2023-10-26
Filippense 3:13 NLV
Om iemand te vergewe wat jou diep seergemaak het, is een van die moeilikste dinge wat jy ooit sal moet doen. Jy weet jy moet vergewe, want om ‘n wrok te koester is soos om ‘n baba te voed; enigiets wat jy voed en koester, sal aanhou groei. Dit maak dit egter nie maklik om te vergewe nie.
Probeer om die volgende te verstaan: Vergifnis is ‘n besluit, nie ‘n emosie nie. As jy wag totdat jy lus voel om te vergewe, loop jy die risiko om in die marteling van ‘n wrok vasgevang te bly. Toe Petrus vir Jesus gevra het hoe dikwels hy iemand wat teen hom oortree het moet vergewe, het Jesus geantwoord: ‘…tot sewentig maal sewe toe!’ (Matteus 18:22 NLV). Met ander woorde, vergewe en hou aan vergewe tot jy verby dit beweeg.
Let egter vier dinge op:
1) Vergifnis beteken nie dat jy jou verhouding met die oortreder moet hervat nie, veral as hulle sonder berou is en weier om hulle gedrag te verander.
2) Dit beteken nie dat jy dit wat hulle gedoen het goedpraat of met hulle saamstem nie.
3) Dit stel hulle nie vry van gevolge nie, maar stel jou vry en laat jou met jou lewe aangaan.
4) Dit beteken nie dat jy dit nie meer gaan onthou nie, maar dat jy die krag sal hê om anders daaroor te dink; met genade eerder as wrokkigheid.
Moet ook nie toelaat dat Satan jou oortuig dat jy nog nie vergewe het omdat jy dit steeds onthou nie. Die vermoë om te vergewe is ‘n aangeleerde gedrag. Hoe meer jy dit oefen, hoe beter raak jy daarmee. Dit gebeur wanneer jy maniere soek om begrip vir jou oortreder te hê en iets vind om oor medelye te hê.
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18
2023-10-25
Jesaja 41:10 NLV
Die eerste vrou wat ‘n Nobelprys gewen het, was die Franse fisikus madame Marie Curie. Sy het gesê: ‘Niks in die lewe moet gevrees word nie, maar slegs verstaan word.’ Dus:
1) Kry die feite oor dit wat jy vrees om sodoende die geheimsinnigheid en verkeerde informasie daaroor, uit die weg te ruim.Juf Lize Hattingh help hiermee. sy kan password reset
lhattingh@monnies.co.za2) In plaas daarvan om op jou fobie te fokus, fokus op God se beloftes: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (vers 10 NLV). Soos jou geloof in God sterker word, sal die bedreiging van jou vrese swakker word.
3) Ontspan. Verbeel jouself dat jy vredevol en vry van die kettings van vrees is. Stel jou die positiewe uitwerking op jou lewe voor wanneer jy daarvan verlos word.
4) Konfronteer elkeen van die vreesaanjaende omstandighede een vir een. Elke enkele hekkie wat jy oorwin, versterk jou.
Verbind jouself dus om die vrese wat verwoesting oor jou gemoedsrus saai, te oorkom. Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NVL). Moenie toelaat dat vrees jou regeer nie! Word pro-aktief en bewapen jouself met God se beloftes. Hardloop jou vrese trompop soos Dawid na Goliat gehardloop het, met die wete dat jy in die Naam van die Here oorwinning sal behaal.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 6:16-24; Ps 85; Spr 24:11-14
2023-10-24
Jeremia 33:3 NLV
Lees die volgende: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie.’ Wie het dit gesê? Die God van die heelal! Wat dink jy is jou kanse om die president of die eerste minister op die telefoon in die hande te kry? Niks! Tog kan jy ongeag jou opvoeding, gesofistikeerdheid, etniese agtergrond of finansiële status met God praat en Hy sal jou antwoord. Hy beloof ook nie net om jou gebede te beantwoord nie, maar om jou ongelooflike dinge te vertel waarvan jy niks weet nie.
Soms sê ons: ‘Dis die dinge wat ek nie weet nie wat my bang maak.’ Besighede sluit en werkers word afgelê. Roetine mediese ondersoeke openbaar lewensbedreigende uitdagings. Terroriste bedreig ons veiligheid en politici verraai ons vertroue in hulle. Die klein seuntjie het gebid: ‘Here, seën asseblief vir Mamma, Pappa, bababoetie en vir my. Here, kyk ook asseblief mooi na Uself, want as iets met U gebeur, is ons almal in die moeilikheid!’
Jy sê: ‘Maar ek is nie seker of God al ooit met my gepraat het nie.’ Jy moet egter met Hom praat en toelaat dat Hy deur sy Woord en sy inwonende Gees met jou praat. Soms wag God voor Hy jou antwoord omdat Hy op twee plekke gelyk werk. Hy werk aan die probleem waaroor jy gebid het en Hy werk om jou daarvoor gereed te kry. Soms neem die tweede gedeelte langer as die eerste. Soos die bekende gesang lui: ‘O what peace we often forfeit, O what needless pain we bear, All because we do not carry everything to God in prayer!’
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 6:1-15; Ps 126; Spr 24:10
2023-10-23
Galasiërs 5:25 NLV
Het jy ‘n aptyt wat buite beheer is wanneer dit by dinge soos geld, kos, nikotien, alkohol, dwelms, seks, of… (vul die woord self in), kom? Het jou herhaalde pogings om beheer te kry jou met ‘n gevoel van skaamte, mislukking en hopeloosheid gelaat? Het al jou pogings tot selfbeheersing misluk? Probeer Gees-beheersing!
‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie… Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing… Christene is mense wat die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig het. Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal’ (Galasiërs 5:16-17, 22-25 NLV).
Die geheim om in oorwinning te wandel is om hierdie twee dinge te besef: 1) Selfbeheersing is nie iets wat jy vir God doen nie, dis iets wat God vir jou doen. 2) Selfbeheersing is nie ‘n eenmalige taak nie, maar ‘n daaglikse wandel. Elke keer wat jy vir die self nee en vir God ja sê, kom sy Gees jou te hulp en bemagtig jou. Deur te kies om God in plaas van jou impulse te gehoorsaam, aktiveer jy die krag wat oorwinning meebring.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 24:8-9
2023-10-22
Jeremia 29:11 NLV
Lees die volgende Skrifgedeelte: “‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister… Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer…'” (verse 11-12, 14 NLV). Die Israeliete het deur ‘n lang periode van lyding as gevolg van hulle sondes gegaan – sewentig jaar van ballingskap. God het egter gesê: ‘Ek het steeds ‘n plan vir jou.’
Het jy gesondig en deur ‘n seisoen van regstelling gegaan en nou wonder jy of God sy rug op jou gedraai het? God mag jou dalk korrigeer, maar Hy sal jou nooit verwerp nie! Twee hoofstukke later sê God vir dieselfde groep mense: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Jou lewe mag dalk uitmekaar geval het, maar God kan dit herbou.
Koning Dawid het owerspel en moord gepleeg, maar toe hy berou gehad het, het God hom ten volle herstel. Die Bybel sê ook: ‘Dawid het sy mense gedien soos God besluit het, en toe het hy gesterf. Hulle het vir Dawid begrawe by sy voorvaders…’ (Handelinge 13:36 NLV). Sal jy daarvan hou om daardie woorde op jou grafsteen te hê? Jy kan! Die Verlore Seun se broer was kwaad vir hulle pa omdat hy sy jonger broer vergewe en herstel het. Sy pa het hom egter nietemin herstel. Jy kan nie die feit van jou vorige sondes ongedaan maak nie, maar God kan jou van die gevolge daarvan genees. Kom net vandag na Hom toe; neem daardie eerste stap!
Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18
2023-10-21
Markus 11:24 NLV
Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). God se grootste begeerte is geloof. Jy kan gereeld bid en gevolglik selfs nader aan God voel, maar steeds nie verwag dat Hy jou gebede sal beantwoord of dat jou situasie sal verander nie.
Petrus is in die tronk gegooi en tot dood veroordeel en sy teregstelling is vir die volgende dag geskeduleer. Dus het die kerk die hele nag vir sy vrylating gebid. Dit het wonderbaarlik gebeur. God het die wagte aan die slaap laat raak, Petrus se tronkdeur oopgemaak en hom vrygelaat. Toe Petrus egter by die huis waar die gelowiges besig was om te bid, opdaag, het hulle dit nie geglo nie. “…’n diensmeisie… [het] binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan! Maar hulle het vir haar gesê: ‘Jy is skoon van jou wysie af!’ Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: ‘Dan is dit seker Petrus se engel'” (Handelinge 12:13-15 NLV). Selfs die vroeë dissipels het gesukkel om te glo dat God hulle sou hoor. Selfs toe die antwoord aan hulle deur geklop het, het hulle gehuiwer.
Ons doen dit ook, nie waar nie? Ons sukkel met gebed. Ons vergeet om te bid en wanneer ons onthou, jaag ons dit met onopregte woorde af. Hoekom gebeur dit? Jy kan enige plek en enige tyd bid en God beloof om te antwoord. Wat is dan die probleem? Ons moet die ongelooflike krag en potensiaal van een gelowige wat bid, besef: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Moet dus nie net bid nie; glo God vir die antwoord. Praat en tree dan op in geloof!
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 24:7