2023-11-01
2 Konings 3:25 NLV
In die Ou Testament was daar mense met slingervelle wat dit geniet het om ander mense se waterputte te blokkeer deur klippe en modder daarin te gooi – waterputte wat noodsaaklik vir hulle oorlewing was. Vandag is moddergooiers mense wat kwaadwillige aanvalle op ander maak. Die kans is goed dat jy al self ‘moddergooiers’ teëgekom het en dalk selfs deur hulle aangeval is. Wat staan jou te doen?
Vermy hulle omdat hulle gevaarlik is. Jy kan nie in die modder met ‘n vark stoei sonder om self vuil te word nie. Nie net sal die vark wen nie – hy sal die gestoei geniet!
As jy self ‘n moddergooier geword het, sal dit goed wees as jy die volgende Skrifgedeelte lees en dit in gedagte hou: ‘Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom. Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn. Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee…’ (Jesaja 58:9-11 DB).
Pas dus jou gedagtes op, want hulle word jou woorde. Pas jou woorde op, want hulle word jou aksies. Pas jou aksies op, want hulle word jou karakter. Pas ook jou karakter op, want dit bepaal die vlak van God se seën in jou lewe. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie ‘n moddergooier wees nie.
Sielskos: 1 Kron 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2023-10-31
2 Korintiërs 5:8 NLV
Soveel soos ons dit probeer vermy en so huiwerig soos ons is om daaroor te praat, moet elkeen van ons die hand van ons geliefde in die hand van die Een wat ons die liefste het, plaas. Wat gebeur egter wanneer mens doodgaan? Wat gebeur met die mens tussen die dood en Christus se wederkoms? Paulus antwoord: ‘…ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ‘n toekomsvooruitsig nie’ (1 Tessalonisense 4:13 NLV).
Die Skrif is verbasend stil oor wat met ons in die tydperk tussen ons dood en die opstanding van ons liggaam gebeur. (Dit gee ons nie genoeg inligting om ons nuuskierigheid te bevredig nie, net genoeg om ons eetlus aan te wakker). Paulus skryf: ‘Want vir my is om te lewe, ‘n lewe vír Christus, en om te sterf selfs nog beter! As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek is in ‘n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste’ (Filippense 1:21-23 NLV).
Die Bybelkenner Anthony Hoekema sê: ‘Wat Paulus hier sê is dat die oomblik as hy vertrek of sterf, hy daardie selfde oomblik by Christus sal wees.’ Op die ou einde is die hemel die grootste genesing van alles! Jou geliefdes het hier pyn gehad, maar het geen pyn daar nie. Hulle het hier gesukkel, maar het geen stryd daar nie. Jy wonder dalk hoekom God hulle huis toe geneem het, maar hulle doen nie. Hulle verstaan nou. Hulle is op hierdie oomblik in vrede in God se teenwoordigheid.
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2023-10-30
Handelinge 26:19 NLV
Wanneer God jou ‘n visie gee: 1) Sal dit jou in die rede val. Soms sal God met jou in ‘n stem praat wat jy nie kan ignoreer nie. Dinge sal nie reg verloop voordat jy vir Hom ja sê nie.
2) Dit sal jou in die kollig stel. Jy hou dalk nie van wat God sê nie. Ananias het nie daarvan gehou om vir Saul van Tarsus, ‘n man met die mag om Christene dood te maak, te gaan bid nie. God het egter gesê: ‘… Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgesoek… Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly’ (Handelinge 9:15-16 NLV). Let die woord ‘ly’ op. Die Duiwel gaan nie vir jou ‘n kaartjie van gelukwensing stuur omdat jy besluit het om God se wil te doen nie, berei jou dus op ‘n aanval voor.
3) Dit sal jou inspireer. Jy sal dinge bereik wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Kyk na Gideon. Toe God hom gevind het, was hy besig om in ‘n parskuip weg te kruip (sien Rigters 6:11). Toe die engel hom ‘n dapper man genoem het (sien vers 12), het hy geantwoord: ‘…Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (vers 15 NLV). Toe die engel vir hom sê: ‘…Die Here is by jou…’, het hy geantwoord: ‘…as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons?..’ (verse 12-13 NLV). Toe hy uiteindelik die werk aanvaar het, het hy gewonder: ‘Hoe kan so min van ons so baie van hulle verslaan?’ Tog het sy vyande op daardie presiese oomblik nagmerries oor hom gehad (sien Rigters 7:13-15). Die geheim tot oorwinning lê in die wete: ‘Dit is God wat in my werk’ (sien Filippense 2:13).
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:60-71; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27
2023-10-29
Handelinge 26:19 NLV
Paulus het ‘n hemelse visie gehad. ‘…Moenie luister na hierdie profete nie… Die visioene wat hulle oordra, kom nie van die Here af nie. Dit kom van hulleself af!’ (Jeremia 23:16 NLV). Jy moet dus seker maak dat jy volgens God se plan, nie jou eie of iemand anders s’n nie, optree.
Die verhaal van die Toring van Babel leer ons twee dinge: 1) Wanneer mense besluit dat hulle iets gaan doen, slaag hulle dikwels daarin. 2) Om sukses te behaal beteken nie noodwendig dat jy in die wil van God is nie. Die woord babel (verwarring), beteken dat ander mense kan dink jy is reg, terwyl jy egter verkeerd is. Jy vra: ‘Is dit dan nie goed om planne te maak en doelwitte te stel nie?’ Ja, maar jou planne en doelwitte moet uit ‘n visie wat God jou gegee het, spruit.
Toe Paulus gesê het: ‘Dis hoekom… ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam was nie,’ het hy bedoel dat daar net een aanvaarbare reaksie op God se plan is – gehoorsaamheid! Gedeeltelike gehoorsaamheid, selektiewe gehoorsaamheid of vertraagde gehoorsaamheid is steeds ongehoorsaamheid.
William Care, wat as die vader van moderne sendingsreise gesien word, het gemak en rykdom prysgegee om na Indië te gaan en die evangelie daar te gaan verkondig. Een van sy onvergeetlike aanhalings is: ‘Probeer groot dinge vir God, verwag groot dinge van God!’ Jy kan dit egter slegs met selfvertroue sê wanneer jy weet waarvoor God jou geroep het. Wanneer jy weet dat God jou ‘n visie vir jou lewe gegee het, kan jy Hom vertrou, selfs wanneer jy geen manier kan sien hoe om dit te verwesenlik nie.
Sielskos: Ps 103; Mark 5:24-34
2023-10-28
2 Timoteus 1:7 NLV
Om gelukkig in die lewe te wees, moet jy die regte dinge begin doen en ophou om die verkeerde dinge te doen. Een van die eerste dinge wat jy moet doen, is om op te hou om te sê: ‘Ek het net nie enige selfbeheersing nie.’ Selfbeheersing is ‘n keuse en hoe meer jy dit kies, hoe sterker word dit. Die beste deel is dat die krag van selfbeheersing van God af kom, nie van jouself af nie. ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.’
Dit gebeur outomaties wanneer jy tyd in gebed met God en sy Woord bestee. ‘My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê… Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam van die een wat hulle betekenis ken. Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen’ (Spreuke 4:20-23 NLV). God sal jou die krag gee om dit te doen, maar jy moet elke dag daardie krag uitoefen.
Daar is geen kortpaaie as dit by selfbeheersing kom nie. Onthou jy hoe baie jy op skool jou maaltafels moes herhaal voor dit deel van jou denke geword het? Nou doen jy dit outomaties. Soortgelyk, wanneer jy begin dink soos God wil hê jy moet dink, sal jy in staat wees om die Duiwel te oorwin en in oorwinning te wandel. Die eerste stap is om op te hou sê: ‘Ek het nie enige selfbeheersing nie.’ Solank as wat jy glo dat jy nie ‘n gedissiplineerde persoon is nie, sal jy nie wees nie. Kom dus vandag in ooreenstemming met God se Woord en begin sê: ‘Ek is gedissiplineerd en het selfbeheersing.’
Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 6:52-59; Ps 114; Spr 24:23-25
2023-10-27
Openbaring 22:20 NLV
Die laaste groot profesie oor Jesus se wederkoms is in 1948 vervul toe die nasie van Israel weergebore is (sien Amos 9:14). Sedertdien tik die horlosie van Bybelse profesieë en die aftelling het begin. Sinici en kritici sê soms: ‘Christene sê al vir honderde jare dat Jesus gaan terugkeer, maar dit gebeur nie.’ Dis bykomende bewyse van Jesus se terugkeer. ‘…dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak… ‘Jesus het belowe dat Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was’…
Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief. Dan sal die hemele met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby Hom lewe! Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom… ons sien uit na die nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe’ (2 Petrus 3:3-4, 8-13 NLV).
Jesus kom weer – maak seker dat jy gereed is daarvoor.
Sielskos: Hab 1-3; Joh 6:35-51; Ps 127; Spr 24:19-22