2023-11-07
Matteus 19:5 NLV
Om kinders te laat gaan, is een van die moeilikste fases van ouerskap. Erma Bombeck vergelyk dit met iemand wat ‘n vlieër vlieg. ‘Ma en Pa hardloop in die pad af in die hoop om ‘n briesie te vang. Uiteindelik en met baie moeite, kry hulle dit reg om die vlieër ‘n paar meter in die lug te hys. Net wanneer hulle dink dit is veilig en aan die gang, dreig groot gevaar. Dit duik na elektriese drade en draai gevaarlik naby die bome. Dit is ‘n skrikwekkende oomblik. Dan, onverwags, vang ‘n rukwind die vlieër en dra dit opwaarts. Ma en Pa begin so vinnig as wat hulle kan die lyn voer. Die vlieër word dan moeilik om vas te hou. Ouers bereik die einde van hul lyn en begin wonder wat om volgende te doen. Die vlieër vra meer vryheid. Dit styg al hoe hoër. Pa staan op sy tone om dit te probeer akkommodeer. Die tou word tussen sy wysvinger en duim vasgegryp en uitgestrek boontoe gehou. Dan kom die oomblik van vrylating. Die tou glip deur sy vingers en die vlieër sweef majestueus in God se pragtige lug in. Die vlieër is nou ‘n blote punt van kleur in die lug. Die ouers is trots op wat hulle gedoen het – maar hartseer om te besef dat hulle werk klaar is. Dit was ‘n liefdesarbeid. Maar waar is die jare heen?’
Ouerskap is ‘n opwindende en vreesaanjaende ervaring, een wat van die begin af so beskik is. Met die uiteindelike vrylating is jou taak as ouer voltooi. Die vlieër is vry en vir die eerste keer in twintig jaar of so, is jy ook. Wat is volgende? Vra God; Hy het ‘n plan vir jou lewe.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:45-53; Ps 30; Spr 25:13-17
2023-11-06
Johannes 19:30 NLV
Een van Christus se laaste verklarings op die kruis was: ‘…Dit is nou afgehandel!..’ Daardie frase bestaan uit net een woord in Grieks, tetelestai, wat ‘ten volle betaal’ beteken. Dit is die woord wat handelaars op ‘n rekening geskryf het as dit gekanselleer is. Jesus het die volle prys vir elke sonde wat jy nog ooit gepleeg het, betaal! ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV).
Die vraag is, as God jou sonde die oomblik wat jy dit bely vergeet, dink jy nie jy moet dit ook vergeet nie? Hoe lank dink jy aan ‘n faktuur nadat jy dit betaal het? Jy vergeet dit minute nadat jy dit betaal het. Soortgelyk, aangesien Christus jou rekening ten volle betaal het, hoef jy dit nie meer te onthou nie. Paulus, wat homself een keer as die ergste sondaar van almal (sien 1 Timoteus 1:15) beskryf het, het geskryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ (Filippense 3:13-14 NLV).
Ons kan God se krag in ons lewens kortwiek deur nie te vertrou dat Hy ons werklik vergewe het of deur te besluit om onsself nie te vergewe nie. Hoekom doen ons dit? Soms gebeur dit oor die manier hoe ons grootgemaak is. Ons ouers het vir ons gesê: ‘Ek vergewe jou,’ maar aanhoudend weer melding daarvan gemaak. Jou hemelse Vader is egter anders as jou aardse ouers. Wanneer Hy jou sondes vergewe, wis Hy jou klagstaat uit, kanselleer jou verlede, vergeet dit, praat nie daaroor nie en sal dit nooit weer noem nie. Aanvaar dus vandag sy vergifnis. Indien nodig, vergewe ook jouself en beweeg aan.
Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:33-44; Ps 86; Spr 25:8-12
2023-11-05
Jeremia 31:34 NLV
Het jy al ooit kinders wat met ‘n swartbord en kryt speel, dopgehou? As hulle ‘n gemors van hulle prentjie maak, hoef hulle dit net uit te vee en oor te begin. Dis hoe God die foute wat jy in die verlede gemaak het, hanteer. Hy vee die lei skoon. ‘…Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.’
Dit moet een van die wonderlikste stellings in die Bybel wees – dat God nooit eers weer aan ons sondes dink nie. Wanneer ons ons sondes erken en God vra om ons te vergewe, kanselleer Hy ons verlede. Hy kies om al ons verkeerde dade, foute en mislukkings te vergeet. Selfs as ons vanaand sou sterf, voor God in die hemel staan en Hom vra oor ‘n sonde wat ons gister gepleeg het, sou Hy sê: ‘Watter sonde?’
Wanneer jy jou sonde ontken, ontneem jy God van die vreugde om jou te vergewe. Wanneer jy jou sonde probeer verskoon, laat God toe dat die nagevolge daarvan so pynlik word dat jy daarvan wil wegdraai. Wanneer jy egter jou sonde bely: ‘…Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
Die Verlore Seun het sy pa se hart gebreek, sy erfgeld uitgemors en in ‘n varkhok opgeëindig. Hy het egter sy lewe omgedraai! Sy lewe het weer met die volgende woorde begin: “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘…Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa'” (Lukas 15:17-18 NLV). Wat sy pa vir hom gedoen het, sal God ook vandag vir jou doen.
Sielskos: Joël 2:12-32; Mark 9:2-27
2023-11-04
Kolossense 2:14 NLV
Jesus ‘…het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.’ Die woord ‘uitvee’ beteken om iets te verwyder, te neutraliseer of te verreken.
Het jy al ooit gevoel jy wil oor begin nadat jy al ver met ‘n projek gevorder het? Veronderstel jy is amper klaar om die sitkamer te verf, maar toe jy terugstaan, lyk die kleur op die mure glad nie soos die kleur op die kleurkaart nie. Jy wens jy kan dit oor doen. Baie van ons voel so oor die lewe. Mislukkings, probleme, slegte besluite – ons almal het al daaronder gely.
Sommige mense kan egter nie die verlede laat gaan nie en gevolglik laat hulle toe dat hulle verlede hulle toekomstige geleenthede beperk. Hulle lewe in ‘n konstante staat van spyt en treur aanhoudend: ‘As ek dit net nie gedoen het nie,’ of ‘As ek maar net hierdie veranderinge gemaak het.’ Hulle word deur pynlike herinneringe geteister. ‘Ek het dit verspil en gaan die res van my lewe daarvoor betaal.’
Jy mag kies om skuldgevoelens saam te dra, maar jy hoef dit nie te doen nie! Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, vee Hy die klagstaat van jou verlede uit. Jy het inderwaarheid nie meer ‘n verlede nie, jy het slegs ‘n toekoms! Jy kan vir eens en vir altyd jou swaar las van skuldgevoelens, seerkry en herinneringe aan foute neerlê. Jesus het ‘…dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.’ God het belowe om jou sondes uit te wis en nie weer daaraan te dink nie (sien Jesaja 43:25). Jy moet ook nie!
Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-32; Ps 96; Spr 25:1-7
2023-11-03
1 Korintiërs 12:11 NLV
Die Skrif beskryf nooit die kerk as ‘n demokrasie nie. Sekerlik verdien elke persoon gelyke behandeling in terme van vriendelikheid, liefde en respek; maar soos ons Godgegewe opdragte verskil, so verskil ons gawes. ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.’
As ‘n ouer, wil jy graag sien dat jou kinders sukses in die lewe behaal. Jy herken egter dat net soos hulle individuele talente verskil, so verskil hulle unieke lotsbestemmings. Dis hoekom dit ‘n fout is om met iemand anders mee te ding of jouself met hulle te vergelyk. Die Bybel sê: ‘God het ook hierdie waarheid verder bevestig… deurdat Hy sy Gees aan mense toebedeel soos Hy dit goedvind’ (Hebreërs 2:4 NLV). Moenie God bevraagteken nie; Hy weet wat Hy doen en maak nooit foute nie.
Selfs tussen sy twaalf dissipels het Jesus ‘n binnekring gehad. Hy het Petrus, Jakobus en Johannes na ‘n hoë berg saamgeneem en die ander dorp toe gestuur om te gaan werk. Hy het nie verplig gevoel om almal teen die berg op te neem sodat niemand seergemaak sou voel nie. Beteken dit dat Hy liewer vir een persoon as ‘n ander was? Nee, die ervaring wat Petrus, Jakobus en Johannes daardie dag op die bergtop gehad het, was deel van hulle opleiding vir die opdrag waartoe Jesus hulle geroep het.
Daar is ‘n les hieruit te leer. Jy moet verby ander mense se opinies beweeg. God het jou vir ‘n spesiale doel gemaak; Hy het ‘n werk vir jou wat niemand anders so goed soos jy kan doen nie. Wanneer jy weet dat iets reg is vir jou, doen dit en vertrou dat God jou in ander mense se oë sal regverdig.
Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 9; Spr 24:30-34
2023-11-02
Markus 9:23 NLV
Een dag het ‘n radelose pa by Jesus gekom en gesê: ‘…Here, kry my seun jammer! Hy kry epileptiese aanvalle en hy ly verskriklik. Baie maal val hy in die vuur of in die water. Ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie’ (Matteus 17:15-16 NLV). Let op dat hy nie een keer gesê het: ‘Miskien het my seun hierdie probleem by my geërf,’ of ‘Miskien moes ek dinge anders gedoen het,’ nie. Nee, hy het die verantwoordelikheid vierkantig op die dissipels, wat self nog in opleiding was, geplaas.
Wanneer ons moeilikheid ervaar, hou ons daarvan om die pastoor, die kerk, ons vriend, ons baas, ons familie, ons voorkoms of ons sosiale status te blameer of ‘n ander verskoning te kry. Ons is nie in staat nie of onwillig om te erken dat ons ons eie hand in die vuur gedruk het of amper verdrink het deur kop eerste in te duik wanneer ons nie kan swem nie.
Nadat Jesus die seun gesondgemaak het, het sy dissipels Hom gevra: ‘Hoekom kan ons nie dieselfde dinge doen wat U doen nie?’ (sien Matteus 17:19). Dis soos om te vra: ‘Hoekom werk my huwelik nie,’ of ‘Hoekom het ek nog steeds skuld,’ of ‘Hoekom verloop my lewe nie soos beplan nie?’ Jesus het geantwoord: ‘Julle geloof was nie sterk genoeg nie…’ (Matteus 17:20 NLV).
Soms het jy die soort geloof nodig wat jou ‘n bietjie vreemd laat lyk; die soort wat nie ander mense se goedkeuring nodig het of omgee of jy inpas of nie. Paulus het geskryf: ‘…Dan… sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Vas staan op wat? Staan op dit wat God vir jou in sy Woord gesê het, want dit is uiteindelik dit wat sal werk.
Sielskos: Sef 1-3; Joh 7:1-13; Ps 104:24-35; Spr 24:28-29