2023-09-17
Spreuke 22:6 DB
Die Bybel sê: ‘Leer ‘n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef’ (vers 6 DB). Let die woord ‘kind’ op. Jy moet vroeg begin, wanneer:
1) Hulle wil buigsaam is. ‘n Stokkie is makliker om te buig as ‘n boomstam. In die vroeë jare is jou kind se wil soos sagte klei; smeebaar en buigsaam. Dit is wanneer hulle jonk is dat jy hulle weë moet bepaal, want wanneer hulle ouer word, is hul weë reeds vasgestel. Die Hebreeuse frase vir ‘oplei’ verwys na die opleiding van ‘n wingerdstok om in ‘n sekere vorm of rigting te groei. As jy wag, sal dit te laat wees!
2) Daar nog steeds hoop is. ‘Voed jou seun streng op, dan is daar ‘n toekoms. Moenie jou te buite gaan en hom skade aandoen nie’ (Spreuke 19:18 NLV). Wanneer ‘n ouer sê: ‘My kinders is hopeloos,’ vind jy dikwels dat daardie ouers nie hulle kinders opgevoed het terwyl daar steeds hoop was nie. Luister na die dringendheid in Salomo se stem: ‘Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer’ (Spreuke 13:24 NLV).
Begin dus vroeg! Miskien het jy ‘n klein patroontjie wat tans in jou huis rondhardloop, wat jy dink ‘n engeltjie is. Eendag gaan daardie bene egter langer word, daardie vlerke gaan korter word en soms kan ‘n klein ‘engeltjie’ selfs horings groei! Terwyl jou kind jonk is en meer geneig en gereed is om na jou raad te luister, moet jy hom of haar leer en oplei om volgens God se wil te lewe. As jy dit doen, sal jy nooit daaroor spyt wees nie.
Sielskos: Rig 16:23-31; Joh 15:1-17
2023-09-16
2 Tessalonisense 3:10 NLV
Barmhartigheid sonder verantwoordbaarheid is net verwenning. Die Bybel leer ons dat ons ‘n verantwoordelikheid het om diegene wat waarlik honger is en nie vir hulself kan voorsien nie, te voed. Kom ons wees egter eerlik, daar is sommige mense wat eerder honger sal ly as gaan werk. Salomo skryf: ‘Luiheid laat jou diep slaap. ‘n Lui mens ly honger’ (Spreuke 19:15 NLV). Eeue later was die apostel Paulus selfs meer uitgesproke: ‘Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’
Luister na wat Salomo oor die luiaard sê: ‘Die luiaard gaan vang nie eens wild om te braai nie…’ (Spreuke 12:27 AFR83). “‘n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te lui om dit na sy mond te bring” (Spreuke 19:24 NLV). Praat van luiheid. Hy wil sy brood gebotter hê, maar hy wil hê dat iemand anders dit vir hom moet botter. As hy ‘n bok skiet terwyl hy jag, sal hy nie die vleis voorberei en dit gaarmaak nie; hy wil hê iemand anders moet dit vir hom gaarmaak en vir hom voorsit.
Waarvan praat die Bybel hier? Dit praat van die persoon wat nooit met ‘n werk begin nie; as jy vir hulle een gee, sal hulle dit of nie klaar maak nie of dit half doen. Salomo som dit as volg op: ‘Die begeertes van ‘n lui mens lei na sy dood. Hy weier om sy hande uit sy moue te steek’ (Spreuke 21:25 NLV). As jy dus God se seën op jou lewe wil hê, moet jy gewillig wees om te werk!
Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58
2023-09-15
Hosea 8:7 NLV
Volgens een Christelike leier, as volg:
‘1) Wanneer jou kind nog ‘n kleuter is, gee hom alles wat hy wil hê. Sodoende sal hy dink dat die wêreld hom ‘n bestaan skuld.
2) Wanneer hy vloek of vuil grappies vertel, lag en moedig hom aan. Soos hy groter word sal hy nog ouliker frases leer wat jou sal dronkslaan.
3) Moenie hom enige geestelike onderrig gee nie. Wag tot hy mondig is en laat hom dan toe om vir homself te besluit.
4) Vermy dit om die woord ‘verkeerd’ te gebruik. Dit sal jou kind ‘n kompleks gee.
5) Tel agter hom op – sy boeke, skoene en klere. Doen alles vir hom sodat hy ervare daarin sal wees om alle verantwoordelikhede op ander mense af te skuif.
6) Laat hom enigiets lees wat hy in die hande kan kry en moenie sy televisie- en internetgebruik monitor nie. Laat sy gedagtes toe om op gemors fees te vier.
7) Stry dikwels in sy teenwoordigheid, sodat hy nie later verras is wanneer sy huis gebroke word nie.
8) Bevredig sy elke drang na kos, drank en gemak. Elke sensuele begeerte moet bevredig word; ontkenning kan tot skadelike frustrasies lei.
9) Gee jou kind al die sakgeld wat hy wil hê. Moenie hom dit laat verdien nie. Hoekom moet dinge vir hom so moeilik wees soos dit vir jou was?
10) Kies sy kant teen bure, onderwysers en die polisie; hulle is almal teen hom.
11) Wanneer hy in regte moeilikheid beland, maak verskonings vir jouself deur te sê: ‘Ek kon nooit enigiets met hom regkry nie, hy was van die begin af ‘n probleemkind.’
12) Berei jouself vir ‘n lewe van hartseer voor.’
Sielskos: Eseg 34-36; Mark 13:12-23; Ps 78:56-64; Spr 20:25
2023-09-14
Spreuke 13:3 DB
Hier is ‘n Bybelvers wat ons almal in gedagte moet hou: ‘Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ‘n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid’ (vers 3 DB). Jou gewoonte om te praat voordat jy dink sal aanhou om jou in die moeilikheid te laat beland.
Daar is ‘n verhaal van ‘n stofsuierverkoper wat by ‘n afgeleë landelike gebied aangekom het. Hy het op sy eerste dag by die werk van plaashuis tot plaashuis gegaan en probeer om stofsuiers te verkoop. Toe hy by een plaashuis aankom, het hy aan die deur geklop. Die boervrou het die deur oopgemaak en hom gevra wat hy wil hê. Sonder om toestemming te vra, het hy reg verby haar deur die deur gedruk en gesê: ‘Ek verkoop stofsuiers.’ Geskok het sy geantwoord: ‘Wag ‘n bietjie!’ Maar hy het gesê: ‘Mevrou, voor jy iets sê, wil ek jou iets wys.’ Hy het ‘n houer grond uit sy sak uitgehaal en dit op die kombuisvloer uitgegooi. ‘As hierdie stofsuier nie al daardie grond kan opsuig nie,’ het hy gespog, ‘dan eet ek dit!’ Sy het na hom gekyk en gesê: ‘Dan moet jy maar begin, want ons het nie elektrisiteit nie!’
Hoe dikwels moet ons nie ons woorde wat ons so onverskillig op die vloer van die alledaagse lewe gooi, eet nie! Wees versigtig. Jesus het gesê dat ons eendag rekenskap vir elke onverskillige woord wat ons spreek, sal moet gee (sien Matteus 12:36). ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Be careful of the words you say and keep them soft and sweet. You never know from day to day which ones you’ll have to eat.’ As jy dus nie jou woorde wil eet nie, moet jy versigtig dink voor jy praat.
Sielskos: Eseg 31-33; Mark 13:1-11; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24
2023-09-13
Deuteronomium 31:7-8 NLV
Wanneer God vir jou sê om te ‘gaan,’ herinner jouself daaraan dat elke detail van jou toekoms reeds aan Hom bekend is.
Eeue gelede, wanneer ‘n kaartmaker nie geweet het hoe die wêreld verder lyk nie, het hy gereeld ‘n draak aan die rand van die boekrol geteken. Dit was bedoel as ‘n teken aan ontdekkingsreisigers dat hulle ‘n onbekende gebied op eie risiko binnegaan. Baie het die draak egter nie as ‘n kaartmaker se waarskuwingsteken nie, maar eerder as ‘n profesie beskou. Hulle het rampspoed buite die bekende wêrelde wat hulle deurkruis het voorsien en hul vrees het hulle daarvan weerhou om voort te gaan om nuwe lande en volke te ontdek. Ander meer avontuurlike reisigers het die draak egter as ‘n teken van geleentheid en ‘n deur na nuwe wêrelde wat die moeite werd is om te verken, gesien.
Elkeen van ons het ‘n verstandelike kaart wat die inligting bevat wat ons elke dag as leiding gebruik. Soos die kaarte van lank gelede, word ons geestelike kaarte se rande ook deur drake of vrese gemerk. Ons vrees dit om te misluk, of om verwerp te word, of gespot te word, of dat ons nie genoeg sal hê nie, of dat ons dit wat ons het sal verloor.
As dit is hoe jy vandag voel, lees hierdie woorde wat God vir sy mense gesê het toe hulle op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het, sonder om te weet wat op hulle sou wag wanneer hulle die land sou binnegaan: ‘…die Here is die Een wat voor jou uitgaan…’ Skryf dus jou doelwit neer, stel ‘n strategie op en bepaal ‘n sperdatum daarvoor. Wy dit dan aan God toe, met die geloof dat Hy voor jou uitgaan om die pad voor te berei.
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 12:28-44; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21
2023-09-12
Genesis 2:16 NLV
Adam het die perfekte werk, huis, huwelik en omgewing gehad; al die dinge wat ons nastreef. Hoe het hy dit reggekry? Deur sy verhouding met God! God het hom basies twee reëls gegee om volgens te lewe: ‘…Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, behalwe van die boom van alle kennis. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf’ (verse 16-17 NLV). Die twee reëls is dus:
1) By God is dit wat jy terugkry altyd groter as wat jy prysgee. ‘…Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet’. Wat ons egter so dikwels doen – en wat wettiese godsdiens doen – is om na daardie en soortgelyke Skrifgedeeltes te kyk en te fokus op dit wat ons nie mag doen nie. Die waarheid is dat wanneer ons lys ‘moenies’ ons lys van wat ons vry is om te doen oorskry, het ons veel verder gegaan as wat die Skrif bedoel het. Die Christelike lewe moet aan wat jy vry is om te geniet, nie aan wat jy verbied word nie, gemeet word.
2) Wanneer jy volgens God se Woord in plaas van jou eie begeertes lewe, word jy geseën. ‘Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle My sal vrees en al my gebooie sal gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees’ (Deuteronomium 5:29 NLV). Die enigste ding wat God ons verbied, is die reg om self te bepaal wat ‘goed of kwaad’ is, want Hy weet ons is nie bevoeg om dit te doen nie. Ons moet volgens goddelike openbaring, eerder as menslike geneigdheid lewe. God het in sy liefde en wysheid hierdie beperking in plek gestel om ons te beskerm en te seën.
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 12:13-27; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19