2023-11-13
Spreuke 20:6 NLV
Pastoor Rowland Croucher skryf: ‘Die kinders is skool toe, my vrou is werk toe en ek het iets gedoen wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Ek het my foon afgesit, ‘n nota op die deur gesit en weer in die bed gaan klim. Ek was uitgebrand. Binne twee maande het ek uit my bediening bedank. Drie uit vier pastore ondervind woede, depressie, vrees en vervreemding. Die redes daarvoor sluit ‘n verskil tussen idealistiese verwagtinge en die harde werklikheid; ‘n gebrek aan grense; werkverslawing; gevoelens van onbevoegdheid; konflik tussen om ‘n leier en terselfdertyd ‘n dienaar te wees; om te sorg dat magtige gemeentelede nie ontsteld raak nie; en eensaamheid (pastore is minder as amper enigiemand anders geneig om ‘n goeie vriend te hê), in.’
Om deur jou eie krag in die bediening te probeer bly, waarborg feitlik dat jy nog ‘n statistiek sal word. Paulus kon sterk eindig, want hy was van God afhanklik om hom die nodige krag te gee. Een Bybelleraar sê om uitbranding te vermy beteken dat jy:
a) ‘n besliste roeping op jou lewe en ‘n sterk verhouding met Jesus het;
b) sy visie soek en bereid is om te doen wat Hy ook al van jou vra;
c) nooit die mense agter die werk uit die oog verloor nie;
d) nooit jou posisie as vanselfsprekend aanvaar nie;
e) die persoon bo jou respekteer en gewillig is om jouself aan gesag te onderwerp;
f) weet dat jy God se wil vervul en dat jou beloning in die hemel wag;
g) die hart van ‘n dienskneg het;
h) lojaliteit bo persoonlike gevoelens stel; en
i) nooit te groot om klein dingetjies te doen, of te klein om groot dinge te doen nie, is.
Beoefen hierdie beginsels en jy sal nie uitbrand nie.
Sielskos: 1 Kron 6:1-7:19; Joh 8:42-59; Ps 133; Spr 26:1-6
2023-11-12
Romeine 5:5 NLV
Jon Walker sê: ‘Ek sukkel al die meeste van my lewe met my gewig. Ek het gewig verloor en dit weer opgetel. Ek het elke dieet probeer en ‘n paar self opgemaak. Ek het ‘n vriendelike stryd met gewig gehandhaaf totdat ek uiters siek geword het en vir ‘n jaar nie verby die posbus kon stap nie. Nodeloos om te sê, het ek meer gewig as ooit opgetel en myself voor ‘n groot uitdaging bevind. Ek moes meer kilogramme verloor as wat daar dae in ‘n maand is. Met die ouderdom wat aan my hakke byt was dit nie so maklik om die kilogramme te laat afval soos dit voorheen was nie en ek het hopeloos begin voel – die soort hopeloosheid wat jou laat dink: ‘Wat is die nut? Ek kan net sowel nie eens probeer nie.’
Jy kan ongetwyfeld jouself daarmee vereenselwig, nie noodwendig met die gewigskwessie nie, maar met die hopeloosheid. Miskien is jy in ‘n stresvolle huwelik, of het gesondheidskwessies wat jou laat dink: ‘Wat is die nut?’ Of ‘n frustrerende werk, ‘n moeilike gesinsituasie; of jy wonder of jy ooit genoeg goeie punte sal kry om universiteit toe te gaan; of jy moet die dood van die belangrikste persoon in jou lewe hanteer; of jy sukkel om ‘n kind te hê.
Hier is die waarheid: Ons dien ‘n God van hoop en dit is ‘n hoop wat ons nie sal teleurstel nie.’ Dit is nie gebaseer op gevoelens nie; dit is gewortel in ‘n verhouding met die Een wat bo alle ander vertrou kan word. Ons wag saam op hierdie onsigbare hoop, met die wete dat die God van hoop: ‘…ons nie [sal] teleurstel nie… Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees…’
Sielskos: 1 Sam 16:1-23; 2 Kor 4:7-5:1
2023-11-11
Hebreërs 6:18 ABA
Lyk jou situasie onmoontlik? Maak jy gereed om tou op te gooi? Moenie! Emilie Batisse was nege-en-sewentig toe sy in ‘n tref-en-trap ongeluk beseer is en dit amper nie oorleef het nie. Toe Norman Vincent Peale haar gaan besoek het, het hy ‘n ry splinternuwe poësieboeke opgelet wat nog nie oopgemaak is nie. Toe hy haar daaroor uitvra, het sy gesê: ‘Ek is mal oor poësie, maar ek het nog nie daardie boeke gelees nie. Ek hou hulle vir my oudag.’ Mev Batisse het tyd gehad om daardie boeke verskeie kere te lees en toe sy uiteindelik op die ouderdom van een-en-negentig oorlede is, was sy besig om ‘n reis na Europa toe te beplan.
Om te hoop is om te wens vir iets om waar te word; geloof is om te glo dat dit gaan gebeur. Toe Cornell Universiteit ‘n studie oor die uitwerking van hoop gedoen het, het dr Harold G. Wolff berig dat mense met hoop ongelooflike laste kan verduur. Een groep het uit vyf-en-twintigduisend soldate wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die tronk was, bestaan. Onderworpe aan dwangarbeid, slegte kos en haglike omstandighede, het baie gesterf terwyl ander net geringe skade getoon het.
Onderhoude met die oorlewendes het ‘n ver bo-gemiddelde vermoë om te hoop, aan die lig gebring! Hulle het hul hoop lewendig gehou deur prentjies te teken van die meisies waarmee hulle sou trou en hul toekomstige huise te ontwerp. Hoop het hulle nie net aan die gang gehou nie, dit het hulle aan die lewe gehou! Dis maklik om te sien hoekom Paulus hoop as ‘…soos ‘n anker wat keer sodat ‘n skip nie wegdryf nie. Ons hoop en ons is seker dat Jesus ons anker is…’ (vers 19 ABA), beskryf.
Sielskos: 1 Kron 3-5; Joh 8:31-41; Ps 99; Spr 25:26-28
2023-11-10
Efesiërs 5:17 DB
Om God se plan vir jou lewe te vervul, moet jy die volgende doen:
1) Beplan jou dag. Beplan hoe jy jou tyd gaan bestee en hou daarby. Net een uit elke drie mense doen dit. Een leierskapskundige sê: ‘Dis min dat ek in die oggend opstaan en wonder wat ek daardie dag moet doen.’ Dis hoekom hy ‘n leier – en ‘n kundige! – is.
2) Doen die eerste dinge eerste. Goethe het gesê: ‘Dinge wat die meeste saak maak, moet nooit aan die dinge wat die minste saak maak, uitgelewer wees nie.’ Die meeste van ons kom eers in die middag by die belangrikste take uit. Ons maak take wat ‘n lae prioriteit is eerste klaar sodat ons kan voel ons het iets bereik. Dis egter nie wys nie. As jy jou dag beplan en nie daarby hou nie, sal jou resultate dieselfde wees as diegene wat glad nie ‘n plan het nie.
3) Wees gefokus, maar buigbaar. Verwag die onverwagte en leer om aan te pas. Omstandighede verander voortdurend, dus moet jou metodes om dinge klaar te maak ook verander.
4) Leer om te delegeer. Mense val in twee kategorieë: die wat vasklou en die wat afpak. Diegene wat vasklou weier om enigiets wat hulle belangrik ag, te laat gaan, of hulle nou die regte persoon vir die werk is of nie. Diegene wat afpak, is egter vinnig om take uit te deel sonder om te dink hoe goed die werk gedoen word. Hulle doel is om die werk so gou as moontlik van hulle lessenaars af te kry. Behoorlike delegering vereis dat jy wys moet wees, seker moet wees wie jy is en vrygewig teenoor ander moet wees. Dit beteken ook dat die werk reg gedoen word – op die ou einde is dit wat jy wil hê.
Sielskos: 1 Kron 1-2; Joh 8:21-30; Ps 115; Spr 25:23-25
2023-11-09
Psalm 19:8 NLV
Die advertensiebord buite ‘n klein plattelandse kerkie het gelees: ‘Jesus het gesê …’ Dis dit – niks anders nie! Natuurlik is die werknemer onderbreek voordat hy die werk voltooi het, wat die onvolledige boodskap vir verbygaande bestuurders gelaat het om self te voltooi. Ongetwyfeld sal sommige bestuurders min daarvan gedink het. Die meer Bybels-gesinde bestuurders kon dalk deur hulle geheue vir die regte antwoord gesoek het. Sommige mag dalk gedink het dat die werknemer ‘n geleentheid verbeur het om woorde te verkondig wat lewens kon verander. Jesus het gesê: ‘…Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV).
Dawid het die wonderlike voordele van God se Woord verstaan. In Psalm 19:8-12 sê hy vir ons dat God se Woord noodsaaklik vir die volgende is: 1) ‘Dit gee nuwe lewenskrag.’ God se Woord is onuitputlik, maar ons is nie! Ons sloof onsself met tyd en moeite af en het herstel en herlewing nodig.
2) ‘Dit maak die eenvoudige verstandig.’ God se Woord gee jou insigte vir belangrike besluite wat jy elke dag moet neem. Dit verg nie ‘n hoë IK nie; die Bybel is vir gewone mense. Dawid het gesê: ‘Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele’ (Psalm 119:99-100 NLV).
3) ‘Dit bring vreugde vir die hart.’ Geluk hang daarvan af of jy die regte mense en omstandighede in jou lewe het. Vreugde is egter anders; jy verkry dit deur volgens die Skrif se beginsels te lewe.
4) ‘Dit gee insig vir die lewe.’ Wanneer jy ‘n probleem in jou persoonlike lewe, by die huis of by die werk ervaar, bied God se Woord jou ‘insig vir die lewe.’ Dis jou handboek vir die lewe!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 8:12-20; Ps 15; Spr 25:21-22
2023-11-08
Amos 3:3 NLV
As jy wil weet hoe die persoon met wie jy trou oor vyf-en-twintig jaar gaan lyk, kyk net na hulle ouers om ‘n idee te kry. Gereelde oefening en ‘n goeie dieet sal jou net so ver bring, dan begin Moeder Natuur en Vader Tyd hulle tol eis. Die waarheid is dat ‘n mooi voorkoms julle dalk saam gebring het, maar dat slegs toewyding en ‘n gedeelde geloof julle bymekaar sal hou!
Die Bybel sê: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duister? Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?’ (2 Korintiërs 6:14-15 NLV).
Dit beteken nie dat julle twee identiese sienings oor elke saak moet hê of julle geloof op dieselfde manier moet uitoefen nie. Julle het egter dieselfde waardes en sienings rakende die grondbeginsels van julle geloof nodig – hoe julle God, die rol van die kerk en persoonlike praktyke sien.
Geloof is daardie onbeskryflike krag, daardie geheime wapen van die siel wat ons toelaat om selfs wanneer die feite verdoemend en die waarheid ondraaglik lyk, te volhard. Dis wat ons in staat stel om voort te gaan wanneer ons nie seker is ons kan nog ‘n tree gee nie. Dis die lig wat ons uit die donkerte lei en die kaart wat ons pad rig. Sonder geloof sou ons seker langs die pad stilhou, tou opgooi en kyk hoe almal anders ons verbysteek. Wanneer ons egter op die Here vertrou en glo dat Hy ons sal lei, is daar amper niks wat ons nie kan weerstaan of saam kan deurmaak nie.
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 8:1-11; Ps 123; Spr 25:18-20