2023-09-23
Markus 2:17 NLV
Daar is ‘n verskil tussen om ongelowiges lief te hê en om hulle leefstyl lief te hê. Paulus het gesê: ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Doen dus die volgende: 1) Wees hoflik. ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). 2) Wees opreg. ‘Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart uit…’ (Romeine 12:9 NLV).
Jy moet tyd met ongelowiges bestee om hulle aan Christus voor te stel. Toe Levi vir Jesus en sy dissipels uitgenooi het om saam met tollenaars en ander oneerlike sondaars te kom eet, het die Fariseërs gevra: “…’Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?’ Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: ‘…Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds genoeg is nie'” (Markus 2:16-17 NLV).
Die skrywer Mark Roberts merk op: ‘Tafelgemeenskap het diepe intimiteit aangedui. Om saam met iemand te eet, was om in hul lewe te deel en hulle in jou lewe toe te laat. Die Fariseërs, wat aan die hoogste standaarde van rituele reinheid toegewyd was, het verwag dat Jesus sou doen soos hulle doen – deur groot afstand tussen hulself en twyfelagtige tipes wat dalk Jesus se heiligheid in gedrang sou bring, te hou.’
Jesus het egter nie mense as ‘immorele karakters’ gesien nie en was nie daaroor besorg om ‘n godsdienstige front voor te hou nie. Hy het saam met sondaars geëet omdat hulle sy hulp nodig gehad het en daarvoor ontvanklik was. Wat van jou? Is jy gewillig om jou hande vuil te maak? Is jy meer besorg oor wat mense van jou dink as oor diegene wat Christus nodig het?
Sielskos: 2 Kor 5-8; Mark 14:53-65; Ps 34; Spr 21:14-16
2023-09-22
Matteus 9:13 NLV
Die skrywer Nicole Eunice sê die vermoedens wat mense oor Christene het, sluit in: “‘Hulle veroordeel my. Hulle is beter as ek. Hulle sal my nie goedkeur nie. Ek sal nie by hulle godsdiens inpas nie. Hulle is net ernstig en niks pret nie.”
Jesus het genoeg partytjies bygewoon dat die Fariseërs hom daarvan beskuldig het dat Hy ‘n dronkaard is. Hy het met verkeerde vrouens vriende gemaak. Hy het met mense omgegaan sodat Hy hulle aan sy Vader kon voorstel. Hy het deur stereotipes gebreek en God voorgestel soos Hy is – toeganklik en genadig. Die mense wat die meeste ontsteld was, was diegene wat van godsdienstige reëls gehou het.
Die konsep van ‘n vrye en vreugdevolle lewe met Jesus mag dalk vir jou eenvoudig klink. Om saam met mense te kuier wat glo en voel soos ons, voel so gemaklik soos ‘n sweetpakbroek. Gemeenskap onder gelowiges is ‘n wonderlike geskenk. As ons egter werklik Jesus se voorbeeld wil volg, moet ons geleenthede soek om diegene rondom ons te betrek.’ Jesus gaan een stappie verder: ‘…Gesonde mense het die dokter nie nodig nie; die siekes wel. Gaan leer wat dit beteken as die Skrifwoord sê: ‘Deernis is vir My baie belangriker as offerandes.’ Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie’ (Matteus 9:12-13 NLV).
Hoe kan jy die evangelie deel as al jou vriende Christene is? Sommige van ons het so geïsoleer geraak dat ons hoegenaamd geen sinvolle interaksie met ongelowiges het nie. Hoe meer tyd verbygaan, hoe meer geïsoleer en gemaklik raak ons, totdat ons uiteindelik met die einste mense wat Jesus kom red het, kontak verloor. Paulus het gesê: ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Dink buite ‘die godsdienstige boks.’
Sielskos: 2 Kor 1-4; Mark 14:43-52; Ps 39; Spr 21:9-13
2023-09-21
Psalm 68:20 NLV
Wanneer jy woorde van geloof wat op die Skrif gebaseer is oor jou lewe spreek, het Jesus ons geleer dat ons alles wat ons vra, sal ontvang (sien Markus 11:23). Dawid verwys na God se seëninge as voordele. God gee elke dag vir ons sy voordele. God wag, is gewillig en wil al hierdie dinge vir jou doen.
Dis hoekom die Psalmdigter skryf: ‘Ek wil die Here prys en sy goeie dade nie vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ‘n arend s’n. Die Here laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word… Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde… Hy straf ons nie vir al ons sondes, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so verwyder Hy ons oortredings. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is… Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien. Sy trou geld vir geslag na geslag’ (Psalm 103:2-6, 8, 10-14, 17 NLV).
Verstaan die volgende: Jy aktiveer die krag van God se Woord wanneer jy dit oor jou lewe bely.
Sielskos: Eseg 46-48; Mark 14:27-42; Ps 3; Spr 21:4-8
2023-09-20
Markus 11:22-23 AFR83
Jesus het ons geleer dat wanneer ons sy Woord in geloof spreek, ons sal ontvang wat ons sê. Dis ‘n kragtige geloof! Wanneer jy God se lewende Woord oor jou situasie spreek, is dit soos om ‘n skakelaar aan te skakel; sy krag word geaktiveer en sy beloftes word in jou lewe waar. Begin dus elke dag deur die volgende Skrifgedeeltes oor jou lewe te spreek:
1) ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (Psalm 118:24 NLV). Belydenis: ‘Here, dankie vir die gawe van hierdie dag. Ek sal u goedheid vier en elke oomblik daarvan geniet.’
2) ‘…Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV). Belydenis: ‘Here, ek sal U vandag in alles wat ek doen, probeer eer. As ek misluk en te kort skiet, sal ek steeds in u genade en barmhartigheid wandel.’
3) ‘Die oppermagtige Here het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat…’ (Jesaja 50:4 NLV). Belydenis: ‘Here, ek sal weet wat om te sê, omdat U my opdrag gegee het en my geleer het.’
4) ‘…Die Here gaan vandag [jou vyande] aan jou uitlewer. Die Here sal voor jou uit marsjeer…’ (Rigters 4:14 NLV). Belydenis: ‘Here, ongeag wat vandag oor my pad kom, sal U my verdedig, beskerm en regverdig. Vandag sal ek dus in u vreugde, guns, barmhartigheid, leiding, beskerming en seën wandel.’
Sielskos: Eseg 43-45; Mark 14:12-26; Ps 19; Spr 21:3
2023-09-19
Handelinge 2:47 NLV
Die kerk het net twee opsies: evangeliseer of versteen. Wanneer ons nie daarin slaag om ons geloof met diegene buite die kerk te deel nie, versteen ons. Die Nuwe Testamentiese kerk se groei is as volg beskryf: ‘…En die Here het elke dag mense wat gered word, by hulle gevoeg.’ Nie net het hulle elke vlak van die samelewing beïnvloed nie, maar hulle vyande het ook gesê: ‘…Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad’ (Handelinge 17:6 NLV).
As jou kerk sy deure more sou sluit, sou enigiemand anders as jou gemeente die verskil agterkom? Dink aan daardie vroeë gelowiges. Hulle opdrag het geografies onmoontlik gelyk; die meeste mense het op daardie stadium nog geglo dat die aarde plat is. Daar was nie vliegtuie, radio’s, televisie, drukperse, internet of enige moderne maniere wat hulle kon gebruik om die evangelie uit te dra nie. Dit het ook wetlik onmoontlik gelyk; hulle is deur die regeringsowerhede verbied om in Jesus se Naam te praat. Ook het dit sosiaal onmoontlik gelyk; wie sal immers regtig na ‘n klomp Galileërs, sonder kultuur en klas, luister?
Tog was hulle getuies deur die krag van die Heilige Gees en mense het geluister. Hulle het so baie met so min gedoen, terwyl ons so min met so baie gedoen kry. Daar word gereken dat indien slegs 10 persent van die lede van ‘n gemiddelde kerk ernstig oor evangelisasie raak, hulle kerk binne een jaar sal verdubbel. Terloops, die woord waaruit ‘getuie’ vertaal word, is dieselfde woord waaruit ons die woord martelaar kry. Hierdie vroeë gelowiges het die wêreld vir Christus bereik, omdat hulle bereid was om hulle lewens vir sy saak af te lê. Jy moet ook bereid wees.
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Mark 14:1-11; Ps 24; Spr 21:1-2
2023-09-18
Handelinge 1:8 ABA
Vince Lombardi het die Green Bay Packers-voetbalspan tot oorwinning ná oorwinning gelei. Eendag het hulle egter teen ‘n span wat hulle maklik moes gewen het, verloor. Lombardi het sy span bymekaar gemaak. Hy het sy hand in ‘n sak gesteek en ‘n voetbal te voorskyn gebring. Met ‘n glimlag het hy vir hulle gesê: ‘Manne, dit is ‘n voetbal!’ Met ander woorde, dit was tyd om na die basiese beginsels terug te keer.
Jesus is ons Voorganger (sien Hebreërs 2:10). Voor Hy opgevaar het na die hemel, het Hy vir ons sy wedstrydplan gegee: ‘Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld’ (Handelinge 1:8 ABA). Omdat ‘n persoon se laaste woorde van sy belangrikste is, lei dit ons om die volgende te vra: ‘Met wie het Jesus gepraat?’ Met jou! ‘…Dan sal julle my getuies wees…’
Daar is mense vandag wat nooit kerk toe sal gaan nie. Hulle enigste kans om die evangelie aan te hoor is deur jou; deur wat jou lippe verklaar en jou lewe demonstreer. Wat is die ‘krag’ waarvan Jesus gepraat het? Die Griekse woord vir ‘krag’ is dynamos, waaruit ons die woord dinamiet aflei. Dinamiet is ‘n plofbare krag wat, wanneer dit behoorlik ingespan word, enige hindernis wat in die pad van vordering staan kan verwyder.
Jy sê: ‘Ek was nog nooit by ‘n kweekskool nie en ek voel nie bekwaam om die evangelie te deel nie!’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie; Hy kwalifiseer die geroepenes deur hulle met Sy Gees te vul en hulle te gebruik om ‘n seer wêreld te bereik. Vandag word jy geroep om dit te doen.
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Mark 13:24-37; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30