2023-11-19
Eksodus 33:12 NLV
Moses het met God gepraat asof Hy ‘n vriend is, deur te deel wat hy voel en dink. God wou dit graag so gehad het. Hier is hoe hulle gesprek gegaan het: ‘…U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het… U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra.’ Moses herinner God aan wat Hy voorheen vir hom gesê het. Het jy al ooit vir jou eggenoot of beste vriend gesê: ‘Jy was die een wat gesê het…’? Dis wat Moses hier doen: hy herinner God aan sy eie woorde.
God wil hê dat jy sy Woord moet onthou en dit terug vir Hom moet sê (sien Jesaja 43:26). Nie omdat Hy daaraan herinner moet word nie, maar omdat jy daaraan herinner moet word! Ook omdat sy Woord die enigste Woord is waartoe Hy verbind is om dit te vervul (sien Matteus 24:35). Wanneer jy God se Woord gebruik om te bid, bid jy sy wil en is jy gewaarborg om verhoor te word. Leer en memoriseer dus die Skrifgedeeltes wat jou behoeftes en begeertes aanraak. Wanneer jy dan met God praat, onthou hulle en bid hulle terug vir Hom.
Wanneer jy byvoorbeeld bid: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV), sal God dit erken! Hoe meer jy van sy Woord leer, hoe meer sal jou gebede met sy Woord ooreenstem en hoe meer in lyn sal jy met Hom voel. Hou jou Bybel naby wanneer jy met God praat, sodat Hy jou gedagtes na die woorde wat Hy wil hê jy moet bid, kan rig.
Sielskos: Num 9:15-23; Gal 5:13-26
2023-11-18
Sagaria 13:9 NLV
As jy vandag getoets word, is jy in goeie geselskap! Job, die regverdigste man op aarde, is bo dit wat die meeste van ons ooit sal moet verduur, beproef. Toe hy aan die ander kant daarvan uitgekom het, het hy vir God gesê: ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Jy ervaar God naby en persoonlik wanneer jy in die hitte van die vuur is.
Sheila Schuller Coleman sê: ‘Sommige toetse is bedoel om te assesseer wat ons geleer het; ander is bedoel om ons te leer. Wanneer jou geloof getoets word, is die les wat jy daaruit moet leer die laaste ding waaraan jy dink. Jy wil net oorleef. Die les wat ons egter by Job leer is dat wanneer ons ons geloof in die grootste beproewings behou, ons ‘…soos goud in ‘n vuur…’ (Job 23:10 NLV), daaruit sal kom. Dink daaroor: Het jy al ooit ‘n getuienis aangehoor van iemand wat nie ‘n toets deurgemaak het nie? Jakobus sê: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees’ (Jakobus 1:2 NLV).
Wanneer ons swaarkry, wanneer mense haatlike dinge sê, wanneer ons ons huis verloor, wanneer ons skeurings in ons familie teëkom, wanneer die dokter met ‘n aaklige diagnose bel – is die laaste ding wat ons voel, vreugde. As iemand met gesag daaroor kon praat om God tydens beproewings te loof, is dit Paulus. Hy is geslaan, in die tronk gegooi en uit die stad weggejaag. Hoe vergelyk jou week met syne?’
Wanneer jy deur hierdie toets kom, sal jy ‘n getuienis van God se krag en getrouheid hê en in staat wees om te sê: ‘Die Here is my God.’
Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Joh 10:11-21; Ps 50; Spr 26:27-28
2023-11-17
Jeremia 3:15 NLV
Om die gemeente te beïndruk, het ‘n jong proponent die grootste woorde wat hy kon vind in sy Sondagoggend-preek ingewerk. Dit was ‘n ramp! Toe hy van die preekstoel afstap, het hy ‘n ou prediker ontmoet wat sê: ‘Seun, jy het oor hulle koppe gepraat.’ Geïrriteerd en verdedigend het die jong man gesê: ‘Hoekom rek hulle dan nie hul nekke nie?’ Waarop die ou prediker geantwoord het: ‘Jesus het gesê: ‘Laat my skape wei, nie my kameelperde nie!’
Of jy nou op ‘n preekstoel, in ‘n klaskamer of ‘n raadsvergadering is of iemand een-tot-een vir koffie ontmoet, moet jy besluit of jou doelwit is om mense te beïndruk, of om hulle te help. God het gesê: ‘Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.’ Jou doel moenie net wees om kennis te kommunikeer nie, maar om begrip te kommunikeer. Die teken van ‘n goeie onderwyser is nie wat hy of sy weet nie – dis wat die student leer.
Om dinge eenvoudig te maak is ‘n noodsaaklike vaardigheid as jy met mense wil skakel. Soos Albert Einstein gesê het: ‘As jy dit nie eenvoudig kan verduidelik nie, verstaan jy dit nie genoeg nie.’ As jy ernstig daaroor is om mense te bereik, moet jy die volgende vier woorde ferm in jou gedagtes hou:
1) Hart. Om iemand te bereik, moet jy hulle op ‘n emosionele vlak aanraak.
2) Hoop. Deur hulle potensiaal en moontlikhede uit te spel, sal jy hulle inspireer om te probeer.
3) Hulp. Wys hulle hoe om dit wat jy sê op ‘n tasbare wyse aan te wend.
4) Humor. Deur vir jou eie foute te lag, laat jy mense besef dat hulle probleem nie uniek is nie – en vir iemand wat sukkel, kan dit die beste gevoel in die wêreld wees.
Sielskos: 1 Kron 16-18; Joh 10:1-10; Ps 105:1-15; Spr 26:23-26
2023-11-16
1 Kronieke 11:10 NLV
Om sukses in enige projek te behaal, moet jy jouself met die regte mense omring. Dis hoekom jy altyd God se insette in jou verhoudings moet soek. Rehabeam moes na die raad van sy vader Salomo se wyse en ervare binnekring geluister het. In plaas daarvan het hy na diegene wat met sy eie opinie saamgestem het, geluister – wat noodlottige gevolge gehad het. Dawid, aan die ander kant, het mense gekies wat sy uitnemendheid help bevestig het. ‘Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Saam met die hele Israel het hulle Dawid koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het’ (vers 10 NLV).
Let vier belangrike dinge hier op: 1) Dawid het ‘n sterk binnekring gebou nog voordat hy dit nodig gehad het. Hy het sy span lank voor hy gekroon is, byeen gebring.
2) Hy het mense met verskillende gawes gekies. Hy het na hulle toe uitgereik, hulle beloon en hy is nie deur diegene wie se vaardighede van syne verskil het, geïntimideer nie. Met die hulp van hierdie ‘magtigste manne,’ het Dawid vir enigiets gereed gevoel.
3) Hy het lojaliteit ontwikkel. Hy het mense nader getrek, sy lewe met hulle gedeel en op die ou einde was hulle bereid om hulle lewens vir hom neer te lê.
4) Hy het verantwoordelikheid gebaseer op vaardigheid, gedelegeer. Omdat hy seker van sy eie identiteit en roeping was, was Dawid nie bang om gesag en verantwoordelikheid aan diegene rondom hom te delegeer nie. In die begin het sommige van sy magtige manne nie ingepas nie, maar hy het hulle in ‘n wenspan verander (sien 1 Samuel 22:1-2).
Dawid het sy binnekring besonders gemaak en in ruil daarvoor het sy binnekring hom besonders gemaak. Die woord vir jou vandag is dus – kies die regte mense!
Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22
2023-11-15
Jesaja 30:15 NLV
Uitbranding word deur onbetrokkenheid en stres deur oorbetrokkenheid gekenmerk. Met uitbranding word jou emosies afgestomp; stres maak dit ooraktief. Uitbranding veroorsaak emosionele skade; stres veroorsaak hoofsaaklik fisiese skade. Uitbranding affekteer jou motivering en dryfkrag; stres affekteer jou fisiese energie. Depressie as gevolg van uitbranding ontstaan uit die verlies van hoop en ideale; stresverwante depressie ontstaan uit jou liggaam se behoefte om energie te bespaar en homself te beskerm. Uitbranding wakker hulpeloosheid en hopeloosheid aan; stres wakker dringendheid en hiperaktiwiteit aan. Uitbranding veroorsaak onbetrokkendheid; stres produseer paniek, fobies en angstigheid. Uitbranding mag jou dalk nie doodmaak nie, maar dit laat jou voel of die lewe nie die moeite werd is nie. Wat is dus die antwoord? God het gesê: ‘…Deur berou en tot rus te kom, sal julle gered word…’
Bev Murril het geskryf: ‘Diegene van ons in die bediening hardloop op ons eie baie ‘belangrike’ trapmeule. Soos die leier dit doen, so doen die volgelinge dit ook. Dis ‘n enorme verantwoordelikhied. Diegene van ons wie se rol dit is om ander mense te beïnvloed, moet bewus wees van dit wat ons sê of doen, want ons sal strenger as ander beoordeel word (sien Jakobus 3:1 NLV). Ons is almal moeg daarvoor dat invloedryke Christene se verkeerde gedrag diegene wat hulle as leiers vertrou, benadeel. Of dit nou seksuele sonde, woede, eiegeregtigheid of oneerlikheid is; ons moet onsself ondersoek in plaas daarvan om vinger te wys en te beskuldig. Bestee tyd saam met die Een wat die vermoë het om ons tot op die been te stroop. Dit is maklik om jou eie publisiteit en ander mense se opinies van jouself te begin glo. Slegs God se opinie tel egter en jy moet die tyd neem om te stop en te hoor wat Hy vir jou wil sê.’
Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Joh 9:13-23; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16
2023-11-14
1 Timoteus 1:12 NLV
Nog ‘n vorm van uitbranding is ‘deernis moegheid’ en mense wat ander mense help, is die meeste geneig om dit te kry. Simptome sluit in die geloof dat jy nie meer effektief is nie, dat jy jouself en ander met afsydigheid behandel, jouself van jou verantwoordelikhede onttrek, sosiale en interpersoonlike kontak vermy en oorwonne voel. As jy ‘n tipe-A persoonlikheid het, loop jy nog ‘n groter risiko om uit te brand.
Een berader sê: ‘Gedrewe mense ly dikwels aan ‘adrenalienverslawing’ en soek maniere om klein oplewings daarvan te kry, soortgelyk aan die gevoel wat mense uit alkohol, kafeïen en nikotien kry, behalwe dat hulle die gevoel kry deur mense te beheer en komplekse besluite te neem. Geestelike oorsake van stres sluit seksuele versoeking, woede, wanhoop, jaloesie op ander mense se sukses en angs oor finansies, in. Pastore word dikwels op troontjies geplaas en daar kan nie aan die verwagtinge wat daarmee gepaard gaan, voldoen word nie.
In ‘n poging om dus aan hierdie verwagtinge te voldoen, raak hulle te doelgerig vir hul mense, of te akkommoderend in terme van geestelike traagheid, hulle word perfeksioniste, oorontwikkel die een kant van hul bediening of identifiseer so nou met hul roeping dat dit uitmekaar val. Jou liggaam gee vir jou waarskuwingstekens: slapeloosheid, spysverteringsprobleme, hoofpyne, moegheid, spierspanning, tande wat kners en hoë bloeddruk. Ongelukkig veroorsaak dit selde dat die slagoffer afskaal – totdat ‘n maagseer, beroerte of hartaanval plaasvind.
As pastoor moet jy net soveel tyd met die sterkes as met die swakkes bestee; hulle gee jou krag en ondersteuning; kan vir die bediening opgelei word en meer hande verhoog die geestelike en emosionele gesondheid van jou kerk.’
Sielskos: 1 Kron 7:20-9:44; Joh 9:1-12; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12