2023-09-29
Spreuke 18:24 NLV
Daar is geen kortpaaie om jou skaamheid te oorkom nie; jy sal daaraan moet werk om gemaklik tussen mense te wees. Jy kan dit egter doen. Hier is ‘n paar beproefde strategieë wat jou sal help om vriende te maak:
1) Jy kan nie ontken dat jy skaam is nie, maar hoe meer jy daaroor praat, hoe meer word die beheer wat dit oor jou uitoefen, versterk. ‘Deur die regte woorde te gebruik kan ‘n mens sy honger stil. Hy kan genoeg kry om te eet met wat hy sê. Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:20-21 NLV). ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees is ‘n gees en jy moet leer om dit te verwerp! Die feit dat jy jouself as ‘skaam’ beskryf, is geen rede om van kanse om dit te oorkom, weg te skram nie. Vermyding versterk net jou vrees.
2) Neem deel aan ‘n aktiwiteit wat jy regtig geniet, sodat jy iets sal hê om met passie en entoesiasme oor te gesels.
3) Ignoreer jou kloppende hart, wankelende stem, sweet, seer maag of ander tekens van angs; hulle is nie dodelik nie. Glimlag. Dit is aansteeklik en noodsaaklik om toeganklik te lyk.
4) Vra mense om oor hul gunsteling onderwerp – hulself – te praat. Luister dan aandagtig en hou op om jouself te bekommer oor wat jy volgende moet vra.
Onthou, jy kan nie beheer wat mense van jou dink nie – hou dus op om daaroor te tob. Mediteer eerder op Filippense 4:6-9, ‘…Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:9 NLV).
Sielskos: Hoogl 5-8; Mark 15:21-32; Ps 91; Spr 21:28-31
2023-09-28
Psalm 39:8 NLV
Die lewe werk selde uit soos ons hoop of dink dit sal. Toe Job alles verloor het, het hy gesê: ‘Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om na te streef nie… Nee, ek is hulpeloos. Daar is geen kans dat ek kan slaag nie’ (Job 6:11, 13 NLV). Tog het Job op die ou einde twee keer soveel as wat hy verloor het, teruggekry. Die ervarings en teëspoed waardeur hy gegaan het, het egter sy houding teenoor God diep verander: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Wat het Job ontdek? Dat God almagtig is! Ons moet sy Woord gehoorsaam om in sy seëninge te kan wandel – maar die finale uitkoms van alle dinge rus in sy hande.
Baie van ons sukkel met beheer. Ons wil nie net ons eie omstandighede nie, maar ook ons doelwitte, planne, verhoudings en alles wat op ons betrekking het, beheer. Sulke vrese is dikwels die teken van ‘n onbewuste begeerte om onafhanklik van God te wees; om die argitek van ons eie lot te wees. Soms is dit omdat jy in ‘n chaotiese omgewing grootgeword het en besluit het om nooit die ervarings van jou vroeë lewe te herhaal nie. Miskien dink jy dat jy as gevolg van jou opleiding, finansies of ander prestasies in beheer van jou lewe is.
Dis nie waar nie. God het jou in staat gestel om alles wat jy al gedoen het, te doen. Paulus skryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is…’ (1 Korintiërs 15:10 NLV). God is vandag in beheer – vertrou Hom!
Sielskos: Hoogl 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27
2023-09-27
Galasiërs 6:5 NLV
Om verantwoordelikheid vir jouself, jou gedagtes en jou aksies te neem, is ‘n belangrike deel daarvan om ‘n bydraende lid van ‘n verhouding te wees. Soms neem ons dinge egter te ver deur ‘n ongesonde verantwoordelikheid vir ander dinge aan te neem en dit dan as verskoning te gebruik om nie verantwoordelik vir onsself en ons eie omstandighede te neem nie. Ons blameer byvoorbeeld ‘n onbeplande swangerskap waarom ons nie universiteit toe gegaan het nie. Of ons blameer ons ongelukkigheid daarop dat ons ter wille van die kinders getroud gebly het.
Ons fokus so baie op ander mense en neem vir hulle lewens verantwoordelikheid, dat ons nooit die tyd neem om vir oplossings te soek om bo ons eie omstandighede uit te styg nie. Uiteindelik word al die hartseer en moeilike tye ons identiteit. Ons kla nie net nie, ons word kroniese klakouse.
Kom ons wees eerlik: soms is ons hartseer verhale bloot verskonings; opgemaakte weergawes van die waarheid om die feit te verberg dat ons besluit het om almal anders vir ons omstandighede te blameer. Sodoende hoef ons nie verantwoordelikheid vir ons lewens te neem nie. Die feit is dat ons almal keuses in die lewe maak; om te gaan of te bly, om te konfronteer of te ignoreer, om te kla of ‘n oplossing te soek.
Dis nooit ‘n goeie idee om verantwoordelikheid vir ander te neem as jy dit doen om te verhoed dat jy moet besluit wat jy vir jouself moet doen nie. Die Bybel sê: ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk. Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen’ (verse 4-5 NLV).
Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Mark 15:1-11; Ps 54; Spr 21:18-21
2023-09-26
Spreuke 28:13 NLV
Foute is deel van die lewe. Suksesvolle mense erken hul foute, leer daaruit en werk daaraan om hulle te korrigeer. ‘n Studie van 105 bestuurders het algemene kenmerke wat deur suksesvolle mense gedeel word geïdentifiseer, maar een waarneming was veral nuttig. Suksesvolle mense erken hul foute en aanvaar die gevolge, in plaas daarvan om ander te blameer.
Nie een van ons geniet dit om die gevolge van ons dade te dra nie. Wanneer dinge verkeerd loop, het ons ‘n natuurlike neiging om na iemand om te blameer, te soek. Dit is in ons DNA. Toe God in die tuin van Eden vir Adam vra wat hy gedoen het, het Adam vir Eva die skuld gegee. Toe God vir Eva ondervra, het sy die Duiwel geblameer. Iemand het gesê hoe gouer jy misluk, hoe meer tyd het jy om te verbeter.
Vra jouself af: ‘Wat het ek geleer? Hoe kan ek hierdie mislukking in sukses verander? Waar het ek sukses ten spyte van die mislukking behaal?’ Mense wat ander mense vir hulle mislukkings blameer, oorkom hulle nooit; hulle beweeg net van probleem na probleem. Om jou hoogste potensiaal te bereik, moet jy jouself aanhoudend verbeter en jy kan dit nie doen as jy nie verantwoordelikheid neem en uit jou foute leer nie.
In die lewe sal jy altyd probleme hê. Die vraag is: Sal jy bly lê, of weer op jou voete kom en die beste van dinge maak deur te besluit om nog ‘n dag te veg? Henry Ford het gesê: ‘Mislukking is eenvoudig net die geleentheid om weer te begin – hierdie keer met meer intelligensie.’ Leef dus volgens die volgende Bybelse beginsel: ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV).
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Mark 14:66-72; Ps 52; Spr 21:17
2023-09-25
Spreuke 31:28 NLV
Waar leer kinders om hul ma’s te respekteer? Wie bepaal die patroon van hulle jong verstand, wat Ma as ‘n geliefde en gerespekteerde lid van die gesin posisioneer – in plaas daarvan om bloot as ‘hoofkok en skottelgoedwasser’ beskou te word? By die skool leer kinders die vaardighede wat nodig is om suksesvol by die werk te wees. maar by die huis leer hulle die vaardighede wat nodig is om ‘n gesin te bou.
Die beste rasieleier vir Ma – is Pa. Pa, jy het geweldige invloed oor wat jou kinders van hul ma en vroue in die algemeen dink. Wanneer jou kinders met stryende ouers grootword, dink hulle: ‘As Pa met Ma kan stry, dan kan ek ook.’ Jou houding en dade word die houding en dade van jou kinders. In ‘n wêreld wat dikwels die bydrae van vrouens, veral tuisteskeppers, afmaak, is dit jou plig as man en vader om op ‘n dosyn verskillende maniere te sê: ‘Jou ma is ‘n wonderlike vrou! Sy werk hard en sy verdien geweldige krediet vir wat sy ons almal gee. Wat my betref, is sy nommer een!’
Spreuke 31 sê: ‘Haar kinders is trots op haar…’ Waar het hulle dit geleer? Op die televisie? By hulle maats? By die skool? Nee, hulle het dit by die huis geleer. Die manier hoe jy jou vrou hanteer, is heel waarskynlik die manier hoe jou seun sy vrou sal hanteer. Jou kinders mag dalk nie jou raad volg nie, maar hulle sal dikwels jou voorbeeld volg. ‘Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:31 NLV).
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16
2023-09-24
Deuteronomium 32:11 NLV
Arende leer om te vlieg wanneer hulle uit die nes geskop word. As hulle aan hulself oorgelaat word, sou hulle nooit die gemak van die nes verlaat nie. Hulle sou dan egter ook nie hul unieke vermoë om op die wind te sweef, ontdek en vervul nie. Dieselfde beginsel is op jou kinders van toepassing. Dis waar dat die meeste tieners nie kan wag om die huis te verlaat nie, maar daar is ook sommige wat ekstra motivering nodig het.
Hoe kan jy jou volwasse kinders kry om aan te beweeg wanneer die tyd aangebreek het? Soms is die probleem nie dat jy as ouer onafhanklikheid weerhou nie, maar dat jou kinders dit nie wil aanvaar nie. Hulle het geen begeerte om groot te word nie. Die nes is net té gemaklik! Hulle kry drie etes ‘n dag, hulle klere word gewas en die rekeninge word betaal. Hulle voel geen motivering om die harde werklikheid in die gesig te staar nie. Sommige sal selfs nie werk kry nie.
Dit is moeilik om tuisgebonde seuns of dogters uit die huis te kry. Hulle is soos klein hondjies wat by die agterdeur lê en wag vir ‘n bak warm melk. Deur hulle egter te laat bly, veral as hulle dit vermy om ‘n werk te kry, kweek onverantwoordelikheid en afhanklikheid. Dis nie liefde wat jy aan hulle bewys nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy sagkens maar ferm die leisels aan jou kinders moet oorgee en hulle moet dwing om op hul eie voete te staan. In sommige gevalle sal jy dalk selfs hul tasse moet pak. As jy hulle egter liefhet en wil hê dat hulle hul Godgegewe bestemming moet vervul, het jy geen ander keuse nie.
Sielskos: Joh 2:1-11; Job 36:22-37:13