Die kuns om ‘n skaap te wees (2)

2023-11-25
Psalm 23:1 NLV

Ons moet twee dinge ken en weet: 1) Ons skaapwagter se karakter. Jesus het goeie skaapwagters van slegtes onderskei (sien Johannes 10:11-16 NLV). Slegte skaapwagters sien na hulle eie belange om en nie na die welsyn van hulle skape nie. Hulle is onbetroubaar; wanneer ‘n bedreiging voorkom, los hulle die skape net daar en vlug. Jesus het egter gesê: ‘Ek is die Goeie Herder…’ (Johannes 10:11). Wat maak Hom goed? ‘…’n Goeie herder offer sy lewe op vir die skape’ (vers 11 NLV). Hulle behoeftes en veiligheid kom voor sy eie en indien nodig, sal Hy vir hulle sterf. ‘Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My’ (vers 14 NLV). Jesus ken elkeen van sy skape en wil graag ‘n intieme verhouding met elkeen van hulle hê. Hy noem elkeen op sy naam; hulle vertrou Hom en volg Hom waar Hy hulle lei (sien Johannes 10:3). Jy kan op jou skaapwagter vertrou om jou te beskerm en te lei!

2) Die skaapwagter is oor die skaap se toestand besorg. Hy kan nie ‘n goeie skaapwagter wees as daar nie aan sy skape se behoeftes voldoen word nie. Skape ken nie die pad na die weiveld, die ligging van die watergat of die strategie vir hulle eie veiligheid nie. Die skaapwagter ken dit egter. Sy skape glo hom, maak op hom staat en volg hom. Om egter op sy beskerming en voorsiening staat te maak en te glo is nie instinktief nie – dit is ‘n daad van jou wil.

Ongeag jou gevoelens of omstandighede, besluit jy om die herder te vertrou om dinge te hanteer en as jou sekuriteit op te tree. Wanneer jy jou bekommernisse aan Hom oorgee en in sy goedheid rus, vervul Hy sy belofte dat jy niks sal ontbreek nie.

Sielskos: 2 Kron 13-17; Joh 11:38-44; Ps 95; Spr 27:17-19

Die kuns om ‘n skaap te wees (1)

2023-11-24
Psalm 23:1 NLV

Miskien het jy Psalm 23 as kind gememoriseer. Die duidelike visuele beelde bly ons lewenslank by. Die skrywer Hannah Whitall Smith het gesê: ‘Wat ons almal nodig het, is om weer terug te gaan kleuterskool toe en ons kinderlike verse te onthou. Terwyl ons dit lees met die kennis wat ons as volwassenes het, moet ons dit met al ons ou kinderlike geloof glo.’ As volwassenes raak ons afgemat en verloor ons die eenvoudige vreugde wat stresgevulde lewens vereis. Ons moet die volgende drie dinge onthou.

1) Wie ons skaapwagter is – die Here. Hy is die bron van alles wat ons ooit sal nodig kry, insluitend ons redding. Jesus het gesê: ‘Ek is die Goeie Herder. ‘n Goeie herder offer sy lewe op vir die skape’ (Johannes 10:11 NLV).

2) Wat die skaapwagter se werk is – beskermer van en voorsiener vir die skape. Hy weet hoe om eiesinnige, kwesbare skape te hanteer en hulle te versorg. Lank voor Jesus as ons skaapwagter gekom het, het die Vader gesê: ‘Nou red Ek my kudde, en hulle sal nie langer geplunder word nie… En Ek stel een herder oor almal aan, my dienaar Dawid. Hy sal hulle versorg en hulle herder wees’ (Esegiël 34:22-23 NLV).

3) Wat die skaap se werk is – om die skaapwagter ten volle te vertrou. Om sy werk te probeer doen, sal ons uitput en oorwin. Ons moet met al ons ou kinderlike geloof glo dat Jesus ‘n betroubare, toegewyde en bekwame herder is – en dan daarvolgens optree. Die wete dat sy goedheid en genade ons al die dae van ons lewe sal volg, verlig ons huidige bekommernisse en verdryf al ons toekomstige bekommernisse.

Sielskos: 2 Kron 9-12; Joh 11:28-37; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16

Jy is ‘n wonder

2023-11-23
Psalm 139:14 NLV

Ten spyte van jou skete en pyne, is jy ‘n lewende, asemhalende, lopende, pratende wonder. Die Psalmdigter het gesê: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (verse 13-14 NLV).

Een skrywer verduidelik: ‘Die meeste van ons aanvaar ons sig as vanselfsprekend, maar selfs die eenvoudigste prosesse is geweldig kompleks. Die retina, byvoorbeeld, voer elke sekonde byna tien biljoen berekeninge uit, en dit is nog voordat ‘n beeld deur die optiese senuwee na die visuele korteks beweeg. Die menslike neus kan een miljoenste van een milligram knoffel wat in die lug sweef, opspoor en tussen tienduisend verskillende reuke onderskei. Die hare wat jou liggaam bedek, vergroot die sensasie van aanraking sodat jy ‘n duisendste van ‘n ons druk op die punt van ‘n haar kan voel. Is dit nie wonderbaarlik nie?’

Triljoene chemiese reaksies vind elke sekonde in elke sel van jou liggaam plaas. Jy asem suurstof in, metaboliseer energie, verteer voedsel, handhaaf jou ewewig, suiwer gifstowwe, vervaardig hormone, blaas koolstofdioksied uit, herstel weefsels en laat bloed sirkuleer. Terwyl jy hierdie dagstukkie lees, skiet miljoene elektriese impulse oor miljarde sinaptiese paaie en jy dink nie eers daaraan nie.

Jy moet egter daaraan dink en God loof vir die gawe van lewe en die seëninge wat jy geniet. Jy moet ook nog een uiters belangrike ding doen: Jou lewensdoel ontdek en jouself daaraan toewy om dit te verwesenlik. Daar word gesê dat die twee belangrikste dae in ‘n mens se lewe is die dag waarop jy gebore word en die dag wat jy ontdek hoekom jy gebore is. Dink daaroor!

Sielskos: 2 Kron 6-8; Joh 11:17-27; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12

Wat maak jou bly, hartseer of kwaad?

2023-11-22
Job 6:14 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Wat maak jou bly, hartseer of kwaad? Wat sit ‘n glimlag op jou gesig? Wat laat jou onbeheersd huil? Wat maak jou so kwaad dat jy jou vuis op die tafel wil slaan? Êrens in die mengsel van daardie blydskap, hartseer of woede is jou Godgegewe passie. Sodra jy dit identifiseer, is dit nie opsioneel om iets daaraan te doen nie. Jy kan nie nie iets daaraan doen nie.’

In 2006 was Blake Mycoskie besig om deur Argentinië te toer toe hy agterkom dat baie kinders nie skoene het nie. Hy kon na Amerika toe teruggekeer het en met sy eie lewe aangegaan het. In plaas daarvan het hy TOMS skoene begin, ‘n besigheid met die missie om skoene aan die voete van die kinders in derde-wêreld lande, te sit. Dit werk as volg: Wanneer jy ‘n paar TOMS skoene koop, gee jy ‘n paar skoene vir ‘n kaalvoet kind. Vir elke paar skoene wat gekoop word, word ‘n paar weggegee. Hulle missie is duidelik: een vir een. Blake het ‘n behoefte geïdentifiseer. Hy het dit verpersoonlik. Toe het hy besluit om iets daaraan te doen. Dit het nie groot begin nie, maar klein.

Dis hoe sulke passies egter begin. ‘n Persoon besluit om iets te doen aan iets wat hom bly, hartseer of kwaad maak. Dit was kaalvoet kinders wat Blake se hart gebreek het. Hy het letterlik skoene vir sy geloof aangetrek. Wanneer jy die ding wat jou bly, hartseer of kwaad maak ontdek, is die enigste vraag wat oorbly: Wat gaan jy daaraan doen?

Sielskos: 2 Kron 1-5; Joh 11:1-16; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9

Bid vir ‘n ‘deernis-deurbraak’

2023-11-21
Kolossense 3:12 NLV

Die digter Henry Wadsworth Longfellow het geskryf: ‘If we could read the secret history of our enemies, we should find in each man’s life sorrow and suffering enough to disarm all hostility.’ In sy dokumentêre rolprent oor oorloë in die twintigste eeu, verwys Jonathan Glover na dit wat hy ‘deernis-deurbrake,’ noem. Selfs in ‘n oorlogsituasie, oorskrei dade van deernis die konflik. Die meeste deernis-deurbrake, volgens Glover, word deur oog-tot-oog-kontak veroorsaak.

Het jy al ooit ‘n deernis-deurbraak gehad? As jy dit nog nie gehad het nie, bid daarvoor. Dis ‘n oomblik waar jou neiging tot haat deur jou wil om lief te hê, oorkom word. ‘n Oomblik waar proaktiewe deernis negatiewe woede oorheers. ‘n Oomblik waar jy meer besorg oor iemand anders se pyn as jou eie is. ‘n Oomblik waar jy ontdek wat dit waarlik beteken om God met jou hele hart lief te hê.

Dis baie eenvoudiger om as ‘n Christen op te tree, as wat dit is om as een te reageer. Enigiemand kan ‘n front voorhou. Jou reaksies openbaar egter wat waarlik in jou hart omgaan. As jy God met jou hele hart liefhet, sal jy nie hoef voor te gee nie. Die apostel Paulus het dit as volg gestel: ‘Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (verse 12-14 NLV).

Sielskos: 1 Kron 26:20-29:30; Joh 10:34-42; Ps 76; Spr 27:4-6

Om vriende met God te wees (1)

2023-11-20
Eksodus 33:13 ABA

Luister na meer van Moses se vriendskaplike gesprek met God: ‘Daarom vra ek nou, as U regtig tevrede is met my, sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken, en kan weet U is tevrede met my…’ Moses bevind homself in ‘n nasionale krisis wat Israel se verhouding met God kan beëindig – en waarvoor bid hy? Nie: ‘God, ek is in ‘n moeilike situasie. Los dit asseblief vir my op!’ nie. Nee, hy bid: ‘…sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken…’

Moses wil meer as net van God se wonderbaarlike werke weet. Sy hart roep uit om God se hart en dit wat dit laat klop – die innerlike wese van God – te ken. God het vir hom gegee wat hy gevra het: ‘Hy het sy wil aan Moses openbaar…’ (Psalm 103:7 NLV).

Hier is nog ‘n deel van God en Moses se gesprek: “Hy vra toe vir Moses: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?'” (Eksodus 33:14 NLV). God het belowe om saam met Moses te gaan en vir hom rus te gee. Enigiemand anders sou hierdie aanbod met graagte aanvaar het. Nie Moses nie. Sy gebed was groter as sy eie belange. ‘…As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree van hier af laat beweeg nie’ (vers 15 NLV). Met ander woorde: ‘Here, ek bid nie vir myself nie; ek bid vir ons!’ God het Moses se gebed beantwoord.

Is jou gebede groter as jouself en jou eie behoeftes? Die Bybel sê: ‘God het die mensewêreld só liefgehad…’ (Johannes 3:16 NLV). Bid jy vir jou stad, nasie en die wêreld? Jy is geroep om dit te doen en jy moet dit doen!

Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Joh 10:22-33; Ps 81; Spr 27:1-3