2023-10-05
Psalm 27:4 NLV
Jy mag dalk materieel moet afskaal om geestelik te groei. As die dinge wat jy besit die dinge wat die meeste saak maak, soos vrede, vreugde en vervulling by jou steel, oorweeg dit om jou lewe te vereenvoudig. Skaal af op die dinge wat nie saak maak nie, sodat jy op die dinge wat wel saak maak, kan fokus.
Gedurende haar suksesvolle loopbaan as operasanger, het Jenny Lind, wat ook die ‘Sweedse Nagtegaal’ genoem is, een van die rykste kunstenaars van alle tye geword. Tog het sy haar loopbaan op die punt waar sy op haar beste gesing het, prysgegee. Sy het nooit as operasanger teruggekeer nie. Mense het oor die rede daarvoor gespekuleer en gewonder hoe sy die applous, roem en geld kon prysgee. Jenny het tevrede gelyk om in privaatheid in ‘n huis by die see te woon.
Eendag het ‘n vriend haar gevind waar sy op die sand met haar Bybel op haar knieë sit en na ‘n wonderlike sonsondergang kyk. Soos hulle gesels het, het die vriend gevra: ‘Madame Goldschmidt [Lind se getroude van], hoe het dit gebeur dat jy die verhoog op die kruin van jou sukses verlaat het?’ Sy het stilweg geantwoord: ‘Wanneer elke dag my minder hieroor (met ‘n vinger op haar Bybel), en glad nie daaraan nie (wysend na die sonsondergang) laat dink het, wat anders kon ek doen?’
Koning Dawid het al die dinge waaroor ons droom besit en tog het hy geskryf: ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek; om in die huis van die Here te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink’ (vers 4 NLV). Dít is ‘n man met die regte prioriteite!
Sielskos: 1 Sam 11-13; Joh 1:1-13; Ps 51; Spr 22:12-16
2023-10-04
Psalm 92:2 NLV
Die joernalis Fulton Oursler vertel die verhaal van ‘n bejaarde verpleegster genaamd Anna. Gebore as ‘n slaaf aan die oostelike kus van die staat Maryland, het sy Fulton se geboorte, plus dié van sy ma, bygewoon. Hy vertel dat sy hom die beste les ooit oor dankbetuiging en tevredenheid geleer het: ‘Ek onthou haar soos sy by die kombuistafel in ons huis gesit het; die harde, ou, bruin hande wat oor haar gestyfde voorskoot gevou is, die blink ogies en die skor ou fluisterende stem wat sê: ‘Baie dankie Heer, vir my spys en drank.’ Ek het gevra: ‘Anna, wat is spys en drank?’ ‘Dis wat ek het om te eet en te drink,’ het die ou verpleegster geantwoord. ‘Maar jy sou jou spys en drank gekry het, of jy nou vir die Here dankie gesê het of nie,’ het ek gesê.’ ‘Ja,’ het Anna geantwoord, ‘maar wanneer mens dankbaar is proe alles beter!’
Die opwinding wanneer mens iets nuuts kry, of selfs iets waarvoor mens hard gewerk het, is dikwels kort van aard en word vinnig deur jou begeerte vir die volgende ding, vervang. Salomo het dit as volg gestel: ‘…die oog word nie versadig van wat hy sien nie, die oor word nie vol van wat hy hoor nie’ (Prediker 1:8 NLV).
Wat is dan die oplossing? Om ‘n houding van dankbaarheid in te neem! Deur gereeld God se goedheid te onthou, maak dit vir jou moontlik om elke seëning in jou lewe te geniet en te onthou om te sê: ‘Dankie, Here.’ Die Psalmdigter het ‘n hart van dankbaarheid gehad. Hy het geskryf: ‘Dis goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste; om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid’ (Psalm 92:2-3 NLV). Wees dus altyd dankbaar teenoor God.
Sielskos: 1 Sam 8-10; Mark 16:9-20; Ps 60; Spr 22:7-11
2023-10-03
Jeremia 32:27 NLV
R – Reflekteer op oorwinnings uit die verlede. Let op hoe koning Josafat gebid het: ‘Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie?’ (2 Kronieke 20:7 NLV). As God al ooit vir jou of enigiemand anders ‘n wonderwerk gegee het, kan Hy dit weer doen. Lees dus sy Woord en versterk jou geloof deur sy groot dade te onthou.
E – Eer God as groter as die probleem. ‘…Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie’ (vers 6 NLV). In sy angs het Josafat retoriese vrae gevra wat blootgelê het hoe groot sy God in vergelyking met die probleem was. Soms is dit moeilik om verby die probleem te kyk as die realiteit daarvan so naby is. As jy een oog toemaak en ‘n muntstuk voor die ander oog hou, kan jy jouself vir iets so groot soos die son, blind maak.
Maak op die gebede en ondersteuning van ander staat. ‘Josafat… het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas. Die mense… het toe gekom om die Here se hulp te soek’ (vers 3-4 NLV). Josafat het nie vir die mense vir hul opinies gevra nie, maar vir hulle gebede, omdat dit God se hart roer.
S – Staan op God se beloftes. Wanneer jy dit doen, kan jy soos die Psalmdigter sê: ‘Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde’ (Psalm 119:143 NLV). Dis God se formule vir stres – maak nou gebruik daarvan.
Sielskos: 1 Sam 4-7; Mark 16:1-8; Ps 68:19-35; Spr 22:6
2023-10-02
2 Kronieke 20:17 NLV
T – VerTrou dit wat God vir jou sê. ‘Dit sal nie nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle… Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!’ (vers 17 NLV).
God se manier om ons probleme op te los druis teen ons logiese denke in. Miskien is dit hoekom ons huiwerig is om Hom in sekere situasies te nader. Waarom sou God Josafat se leër, wat duidelik geen bedreiging vir drie leërs was nie, opdrag gee om voorbereid vir ‘n geveg, wat hulle nie veronderstel was om te veg nie, op te daag? Dit maak nie sin nie! God sal ons dikwels sê om onsself vir ‘n veeleisende taak of probleem, wat ons heeltemal onbevoeg voel om te hanteer, te posisioneer. Ons uitdaging is om Hom te gehoorsaam en onsself te posisioneer om te wen. Hoe doen mens dit?
1) Jy ‘posisioneer’ jouself wanneer jy kies om universiteit toe te gaan, selfs al het jy nie op hoërskool presteer nie.
2) Jy ‘posisioneer’ jouself wanneer jy op God se aandrang jou werk bedank en ‘n nuwe besigheid begin, alhoewel daar nie reeds ‘n lang lys kliënte wag nie.
3) Jy ‘posisioneer’ jouself wanneer jy elke dag voor jou rekenaar gaan sit om die boek te skryf wat jy nog altyd wou – sonder ‘n kop vol kennis maar met ‘n hart vol geloof dat God jou daar met sy woorde sal vind.
God se instruksie is om onsself vir oorwinning te posisioneer. Hy wil hê dat ons moet opdaag, sodat Hy ons kan wys dat Hy namens ons sterk is (sien 2 Kronieke 16:9 NLV).
Sielskos: 1 Sam 1-3; Mark 15:33-47; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5
2023-10-01
Lukas 12:25 NLV
Koning Josafat het gehoor dat drie weermagte op pad was om hom aan te val. Praat van stres! Sy reaksie is die voorbeeld wat jy moet volg wanneer die lewe oorweldigend raak. Sy verhaal word in 2 Kronieke 20 weergegee. Deur die woord S.T.R.E.S te gebruik, leer ons die volgende lesse: S – Soek God se leiding. ‘Josafat… het vir die Here raad gevra…’ (vers 3 NLV).
Jare tevore toe sy pa, koning Asa, voor ‘n soortgelyke bedreiging te staan gekom het, het hy al die silwer en goud in die tempel en sy paleis bymekaar gemaak om een van die konings wat hom aangeval het, om te koop om saam met hom te veg. Dit het die onmiddellike probleem opgelos – maar was nie sonder negatiewe gevolge nie. Alhoewel die invalspoging laat vaar is, het God kwaad geword omdat Asa sy vertroue op ‘n ander koning geplaas het (sien 2 Kronieke 16:1-9). Hy het Asa as volg gestraf: ‘…Wat ‘n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê’ (2 Kronieke 16:9 NLV). Hy sou met die konstante stres van oorlogvoering vir die res van sy lewe leef, omdat hy nie eerste God se leiding gesoek het nie.
Sy seun, Josafat, het toe besluit dat hy nie dieselfde roete gaan volg nie. Wat van jou? Stres jy deur self ‘n oplossing te probeer vind, in plaas daarvan om God te vra hoe Hy wil hê jy dit moet hanteer? Dink aan die laaste probleem waarvoor jy te staan gekom het. Het jy op ander mense se raad en jou eie idees staatgemaak, of was jou eerste stap om God se leiding te soek? God belowe die volgende: ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Praat dus met God daaroor!
Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55
2023-09-30
Efesiërs 6:16 NLV
Gee aandag aan dit wat Satan op jou afskiet: ‘brandpyle!’ Hy weet dat indien hy die vure van kommer en angstigheid binne-in jou aan die brand kan steek, kan hy jou immobiliseer en jou oorwin. Let op wat God vir jou gegee het om jouself te beskerm: ‘die skild van die geloof.’ Jy het egter ook ‘n deel om te doen: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.’ ‘n Skild sal nie ‘n soldaat help as dit op die grond, of selfs langs hom lê nie. Hy moet dit oplig en dra om homself teen die aanval te beskerm. Dieselfde geld vir jou.
Wanneer die Duiwel jou met onaangename omstandighede en gedagtes aanval wat veroorsaak dat jy jouself bekommer en bang word, moet jy onmiddellik die skild van die geloof optel. Geloof in wat? Jouself? Nee, geloof in God se getrouheid! Jou geloof in God mag by tye wankel, maar sy liefde en sorg vir jou sal nooit wankel nie. ‘Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!’ (1 Tessalonisense 5:24 NLV). Hoe dra jy die skild van die geloof? Deur te sê: ‘Here, ek vertrou U in hierdie situasie!’
Jesus het die Woord van God gebruik om Satan in die woestyn te oorwin en jy moet dieselfde doen. God se Woord is ‘n beskermende skild wat die Duiwel se pyle nie kan penetreer nie. Wanneer jy dit soos ‘n skild ophou, is dit effektief teen enigiets wat hy in jou lewe probeer doen. Satan se brandpyle kan uit enige rigting kom, van beide jou vriende en jou vyande. Jy moet dus die skild van die geloof dra.
Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16