Meditasie vir beginners

2023-12-01
Psalm 48:10 NLV

Jy is hopelik teen hierdie tyd al oortuig dat die krag wat uit die meditering oor God se Woord spruit, ‘n krag is wat jy in jou lewe nodig het. Miskien is jy egter ‘n beginner en het ‘n beginpunt nodig. Jy dink: ‘Ja, ek weet ek moet meer tyd bestee om oor God se Woord te mediteer, maar hoe doen ek dit?’ Hier is ‘n paar idees om jou aan die gang te kry:

1) Mediteer oor God se seëning. ‘Ek wil die lof van die Here verkondig. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam verheerlik. Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie’ (Psalm 103:1-2 NLV). Meditasie lei tot ‘n dankbare hart.

2) Mediteer oor jou verhouding met God. ‘…Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons liewe Vader. Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is’ (Romeine 8:15-16 NLV).

3) Mediteer oor God se liefde vir jou. ‘U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Ek wil U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande’ (Psalm 63:4-9 NLV).

Jy kan oor God se beloftes om jou te beskerm, of te lei, of te onderrig, of te korrigeer, of te seën, mediteer. Die punt is, jy moet begin!

Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12

Doen wat God sê

2023-11-30
Genesis 15:1 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie vir jou lewe gee, gee Hy nie dadelik al die details vir jou nie. Hy sê eenvoudig: ‘Moenie bang wees nie; doen net wat Ek sê en Ek sal jou lei en jou voorspoedig maak.’ Wat het Abram se visie behels? ‘Die Here het vir Abram gesê: ‘Trek uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys. Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie. Ek sal jou seën…’ (Genesis 12:1-2 NLV). Hoe oud was Abram? ‘…Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran getrek het’ (Genesis 12:4 NLV). Wat het Abram agtergelaat? ‘Abram was baie ryk aan lewende hawe, silwer en goud’ (Genesis 13:2 NLV). Hoe het Abram gereageer? ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV).

Abraham sou nie vir jou kon sê waar sy finale bestemming is of hoe hy daar sou kom nie. Hy het slegs geweet dat God vir hom gesê het om die veilige hawe waar hy was, te verlaat. Verstaan die volgende: Dit waarvan jy gewillig is om weg te stap, bepaal dikwels wat God aan jou kan toevertrou. Met elke tree van geloof wat jy neem, sal God nog ‘n detail openbaar. Hy sal jou inlig soos jy die kennis nodig kry. Is die God wat vir Abram gesê het: ‘…gaan na die land wat Ek jou sal aanwys…’, besig om vandag iets soortgelyk vir jou te sê? Moenie bang wees nie; tree net uit in geloof en wees aan Hom gehoorsaam.

Sielskos: 2 Kron 29-31; Joh 12:20-36; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8

Bid God se beloftes (2)

2023-11-29
Jeremia 33:3 NLV

Wanneer jy gebede begin bid wat op die Skrif gebaseer is, sal jy die antwoorde wat jy nodig het, kry. Die Bybel is God se Woord en Hy hou altyd sy Woord. Jy moet as volg bid:

1) Wanneer jy nie die antwoord het nie. ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel…’ (vers 3 NLV).
2) Wanneer jy bekommerd of gestres is. ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV).
3) Wanneer jy geestelike insig nodig het. ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV).
4) Wanneer jy krag vir diensbaarheid nodig het. ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen omdat Ek na die Vader toe op pad is. Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik sal word. As julle enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen’ (Johannes 14:12-14 NLV).
5) Wanneer jy God se seën op jou lewe nodig het. ‘My volk en hulle huise, wat rondom my woonplek is, sal geseënd wees. Ek stuur reënbuie, buie van seëninge’ (Esegiël 34:26 NLV).

Wanneer jy die resultate sien wanneer jy God se beloftes bid, sal jy nooit weer op ‘n ander manier bid nie.

Sielskos: 2 Kron 25-28; Joh 12:12-19; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4

Bid God se beloftes (1)

2023-11-28
Johannes 15:7 NLV

Volgens een telling is daar 3,573 beloftes in die Bybel. Dis amper tien beloftes vir elke dag van die jaar. Wanneer jy weet watter van daardie beloftes op jou van toepassing is en dat jy die voorwaardes wat met daardie beloftes gepaardgaan kan vervul, kan jy letterlik God se beloftes in jou lewe tot stand bring deur dit te bid (sien Johannes 15:7 NLV). ‘…julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het’ (Hebreërs 6:12 NLV).

Die kragtigste gebed wat jy kan bid is: ‘Here, U het in u Woord beloof dat U… en vandag bid en glo ek U daarvoor.’ Hier is hoe om te bid:

1) Wanneer jy leiding en rigting nodig het. ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV).
2) Wanneer jy uit ‘n situasie gered moet word of van ‘n gewoonte ontslae moet raak. ‘Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer’ (Psalm 50:15 NLV).
3) Wanneer jy krag nodig het om op te staan. ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV).
4) Wanneer jy nie genoeg het om aan jou behoeftes te voldoen nie. ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV).

As jy elke dag op God se Woord mediteer, sal jy weet watter van sy beloftes om in gebed op te eis wanneer die behoefte voorkom (sien 2 Petrus 1:4).

Sielskos: 2 Kron 21-24; Joh 12:1-11; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27

Mediteer oor God se Woord

2023-11-27
Psalm 1:2-3 NLV

Thomas à Kempis het geskryf: ‘As jy graag in jou geestelike lewe wil groei, moet jy jouself nie toelaat om in die wêreld se werkinge vasgevang te word nie. Jy moet tyd weg van die geraas en verwarring, van die aanloklikheid van mag en rykdom, neem.’ Jy sê: ‘Beteken dit God wil nie hê dat ek doelwitte moet stel en dinge in die lewe moet bereik nie?’ Nee, juis die teenoorgestelde! Die Bybel sê: ‘Gelukkig is die mense wat… sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (Psalm 1:1-3 NLV).

Wat is die geheim van die boom wat vrugte dra? Diep wortels wat aan lewensgewende waterstrome gekoppel is. Soos die eise op jou tyd en energie groter word, moet jy jouself dissiplineer om nog meer tyd, nie minder nie, met die Skrif te bestee. Wanneer jou innerlike lewe nie in orde is nie, word jou uiterlike lewe disfunksioneel en begin uitmekaar val.

Om harder te werk sal dit net vinniger laat gebeur. Jy sal soos die vlieënier wees wat vir die passasiers aankondig: ‘Daar is goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat ons instrumente gebreek het en ons geen idee het waarheen ons op pad is nie. Die goeie nuus is dat ons vinnig daar gaan kom!’ Wat is die antwoord? Dawid sê: ‘In u voorwaardes het ek my verlustig, soos ‘n mens bly is oor rykdom. Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë. Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie’ (Psalm 119:14-16 NLV).

Sielskos: 2 Kron 18-20; Joh 11:45-57; Ps 114; Spr 27:20-22

God sal jou red

2023-11-26
2 Korintiërs 1:9 NLV

Voel jy hopeloos oor die situasie waarin jy jouself bevind en weet nie watter kant toe om te draai nie? Miskien sukkel jy om ‘n rede te vind om aan te gaan, jy is so moeg en oorweldig dat jy net wil tou opgooi. As dit die geval is, is jy op ‘n weerlose plek. Pasop – Satan sal jou probeer oortuig dat daar sonde in jou lewe moet wees, of dat jy buite God se wil is, of dat Hy ongelukkig met jou is omdat jy Hom onbewustelik nie gehoorsaam het nie. Moenie dit glo nie! Jy kan in die middel van God se wil wees en alles op die regte manier doen, en steeds teëspoed ervaar.

Die apostel Paulus skryf: ‘Ons wil nie hê dat julle… oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red. Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ‘n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank’ (2 Korintiërs 1:8-11 NLV).

Twee aspekte is vandag in jou lewe aan die werk. Eerstens leer God jou om op Hom, in plaas van jouself, te steun. Tweedens word die mense rondom jou versterk en bemoedig, soos hulle die genade van God in jou lewe aan die werk sien.

Sielskos: Eks 19:16-20:22; 2 Tim 3:14-4:8