2023-10-11
Johannes 12:24 NLV
God neem twee dae om ‘n sampioen te laat groei, maar sestig jaar om ‘n eikeboom te laat groei. Wil jy ‘n sampioen of ‘n eikeboom wees? Geestelike groei neem tyd. Wonder jy: ‘Hoekom neem dit my so lank om te verbeter? Ek sukkel steeds met baie van my swakpunte.’ Geestelike groei, net soos natuurlike groei, neem tyd. Die beste vrugte word geleidelik ryp.
Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op’ (vers 24 NLV). Wanneer Jesus sê: ‘Ek verseker julle,’ bedoel Hy: ‘Verstaan mooi! Luister! Hierdie is baie belangrik.’ Die punt wat Jesus hier wil beklemtoon is dat ons net soos die graankorrel aan onsself moet sterf om geestelike groei te ontwikkel. Dit neem ‘n rukkie om aan ons eie selftevredenheid te sterf.
Ons is geneig om elke nou en dan die saad op te grawe om die vordering daarvan te monitor, in plaas daarvan om God te vertrou om sy werk in ons lewens te verrig. Christus sal vrugte in ons lewens produseer wanneer ons in Hom bly. Jesus het gesê: ‘Julle moet aan My verbonde bly…’ (Johannes 15:4 NLV). Dit beteken dat jy in kontak met Christus bly, op Hom staatmaak en Hom vertrou om sy werk in ons lewens op sy perfekte tyd klaar te maak. Wag op God se beloofde oes en verlustig jou intussen in sy teenwoordigheid in jou lewe.
God is gelukkig met jou in elke fase van jou geestelike groei. Hy wag nie totdat jy perfek is om jou lief te hê nie. Hy sal jou nooit een druppel meer liefhê as wat Hy reeds doen nie.
Sielskos: 1 Sam 24-26; Joh 2:12-25; Ps 23; Spr 23:4-5
2023-10-10
2 Kronieke 31:21 NLV
Verandering, verbetering, groei, sukses en oorwinning vind nie plaas omdat hulle bewonderingswaardige konsepte of wenslike opsies is nie. Nee, dit vind plaas omdat jy heeltemal toegewyd is en gewillig is om die prys te betaal.
Toe koning Hiskia die troon bestyg het, het dit nie goed met Israel gegaan nie. Die deure van God se huis was gesluit, die volk het nie die Here se wet nagekom nie en hulle het dieselfde gode as die heidense nasies rondom hulle aanbid. ‘n Mens kan baie leer deur Hiskia se lewe en strategie te bestudeer. Die Bybel sê: ‘In alles wat hy onderneem het… het Hiskia met sy hele hart sy God gedien. Daarom was hy baie suksesvol’ (vers 21 NLV).
Die koste van toewyding behels die volgende: 1) ‘n Lewenstylverandering. Hiskia het geweier om soos sy pa voor hom te lewe.
2) Eensaamheid. Hiskia was die eerste een om na God toe te draai. Om dit te doen, moes hy alleen staan.
3) Kritiek. Mense hou nie van verandering nie en Hiskia het onder ‘n spervuur van vrae uit die ouer generasie se geledere beland.
4) Harde werk en geld. Hy was gewillig om tyd, energie en geld te spandeer om sy doel te bereik.
5) Daaglikse dissipline. Dit kan moeilik wees om mense se kultuur en denkwyses te verander. Hiskia het elke dag God se beginsels vir die mense geleer en dit in hulle gedagtes ingeprent.
6) Aanhoudende druk. Die mense wat met die veranderinge wat Hiskia gemaak het saamgegaan het, het verwag om resultate te sien en hulle was nie noodwendig geduldig nie. Hiskia het egter ‘…met sy hele hart sy God gedien. Daarom was hy baie suksesvol.’
Die beginsels wat Hiskia gebruik het sal ook vir jou werk, begin dus vandag om hulle toe te pas.
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Joh 2:1-11; Ps 131; Spr 23:1-3
2023-10-09
Psalm 125:1 NLV
Mense is van nature aangetrokke tot leiers wat selfbeheersing en selfversekerdheid oordra; hulle sal nie iemand wat nie selfvertroue het nie, volg. ‘n Uitstekende illustrasie hiervan is ‘n insident wat tydens ‘n staatsgreeppoging in Rusland plaasgevind het. Weermagtenks het die regeringsgebou waarin president Boris Jeltsin en sy prodemokrasie-ondersteuners was, omsingel. Terwyl die weermag in posisie beweeg het, het Jeltsin uit die gebou gestap, op ‘n tenk geklim, die bevelvoerder in die oë gestaar en hom bedank dat hy na die kant van demokrasie gedraai het. Later het die bevelvoerder erken dat hy nie van plan was om na Jeltsin se kant oor te gaan nie, maar die Russiese leier het so selfversekerd voorgekom dat die soldate by hom aangesluit het.
Groot presteerders toon selfvertroue ongeag omstandighede. Ware selfvertroue kom egter nie uit die goedkeuring van mense rondom jou nie. Die Bybel sê: ‘Die Here is jou beskermer…’ (Spreuke 3:26 NLV); dis die wete dat Hy jou geroep het en toegerus het om die werk te doen. Paulus het geskryf: ‘Dít is die vertroue wat ons op God stel… Ons bekwaamheid kom van God’ (2 Korintiërs 3:4-5 NLV).
Alhoewel ander mense dalk nie in jou mag glo nie, sal die wete dat God in jou glo jou in staat stel om in jouself te glo. Dawid het geskryf: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie!’ Maar U, Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op’ (Psalm 3:3-4 NLV). ‘n Selfversekerde leier kan vir diegene wat hom of haar volg sê: ‘Ek vertrou op die God wat my geroep het. Ek het vertroue in jou. Ek glo dat ons saam dit wat God gedoen wil hê, kan bereik.’
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Joh 1:43-51; Ps 29; Spr 22:26-29
2023-10-08
1 Konings 19:21 NLV
Om die werk reg te doen, moet jy jouself met die regte mense omring. Dis hoekom goeie leiers voortdurend op die uitkyk vir bekwame mense is. Die mense wat jy aantrek word egter nie altyd deur jou behoeftes bepaal nie, maar deur wie jy is. In die meeste gevalle trek jy mense wat baie van dieselfde eienskappe wat jy besit, aan. Nie net was Elisa soos Elia nie, hy wou ‘n dubbele deel van die Gees wat op Elia was, hê. Wie jy is, is wie jy sal aantrek.
Dis moontlik om uit te gaan en mense wat anders as jy is te werf, maar dis noodsaaklik om te besef dat mense wat anders as jy is nie noodwendig tot jou aangetrokke sal voel nie. As jy verder ook nie heeltemal gelukkig is met die tipe mense wat jy aantrek nie, mag dit dalk tyd wees om jouself te verbeter. Jy moet van die volgende vyf neigings in jouself bewus wees en wanneer jy dit sien, moet jy dit hanteer:
1) Trots. Niemand wil iemand volg wat dink hulle is beter as almal anders nie.
2) Onsekerheid. As jy ongemaklik is met wie jy is, sal ander mense ook wees.
3) Buierigheid. As mense nooit weet wat om van jou te verwag nie, hou hulle op om enigiets te verwag.
4) Perfeksionisme. Mense respekteer die strewe na uitnemendheid, maar hulle hou nie van onrealistiese verwagtinge nie.
5) Sinisme. Ander mense hou nie van ‘n swart wolk wat gedurig op hulle parade reën nie.
Hierdie vyf kwessies is so skadelik dat indien jy wys is, jy jouself met mense sal omring wat dit sal uitwys en jou sal help om ‘n effektiewer leier te word.
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2023-10-07
Kolossense 3:12 NLV
John Gray het die topverkoper Men Are from Mars, Women Are from Venus, geskryf. Sy onderliggende teorie was as volg: Om met iemand oor die weg te kom, moet jy probeer om die lewe vanuit hulle perspektief te sien. Paulus skryf: ‘…Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die belangrikste wat julle moet aantrek is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (verse 12-15 NLV).
Diegene wat wil hê dat ander mense presies soos hulle moet dink en optree, steek dikwels onsekerhede weg. Hulle het ‘n diep gesetelde behoefte dat hulle sienings en aksies in die gedrag en gedagtes van ander mense bevestig moet word. Dis egter nie hoe die lewe werk nie. Meningsverskille gebeur in enige verhouding waar meer as een mens betrokke is. Ons is almal uniek en sal waarskynlik nie oor alles saamstem nie.
Die manier waarop ons egter ons meningsverskille benader kan bepaal of ons verhouding die wenstreep sal oorsteek. Om op ‘n regverdige manier van mekaar te verskil en jouself vir die idees van ander en vir nuwe maniere om dinge te doen oop te stel, is hoe jy groei. Die belangrikste ding is om die ander persoon se idees te respekteer en ‘n omgewing te skep waar julle twee vry kan voel om uiting aan julle gevoelens te gee; waar julle kan wees wie julle werklik is sonder om bang te wees dat jy geoordeel gaan word.
Sielskos: 1 Sam 16-17; Joh 1:29-42; Ps 92; Spr 22:24-25
2023-10-06
Romeine 12:10 NLV
Ralph Waldo Emerson het gesê: ‘Daar is geen beperking op dit wat bereik kan word as dit nie saak maak wie die krediet daarvoor kry nie.’ Die meeste mense weet van Isaac Newton se befaamde ontmoeting met ‘n vallende appel en hoe hy die wet van gravitasie ingestel het. Min mense weet egter dat as dit nie vir ‘n man genaamd Edmond Halley was nie, die wêreld dalk nooit van Newton sou gehoor het nie.
Halley was die een wat Newton aangespoor het om oor sy oorspronklike teorieë na te dink, sy wiskundige foute reg te stel en geometriese figure te formuleer om sy ontdekkings te ondersteun. Dit was Halley wat ‘n huiwerige Newton oortuig het om sy boek The Mathematical Principles of Natural Philosophy te skryf. Dit was Halley wat die boek geredigeer het, die publikasie daarvan waargeneem het en die druk daarvan gefinansier het, alhoewel Newton ryker was en dit kon bekostig het.
Newton het byna dadelik begin om die vrugte van prominensie te pluk, maar Halley het min krediet gekry. Hy het wel die beginsels wat Newton vasgestel het gebruik om die wentelbaan en terugkeer van ‘n komeet wat later sy naam sou dra, te voorspel. Aangesien Halley se komeet egter net elke ses-en-sewentig jaar terugkeer, hoor relatief min mense steeds sy naam.
Halley het egter nie omgegee wie die krediet gekry het nie, solank die saak van die wetenskap bevorder word. Hy het verpersoonlik wat dit beteken om volgens hierdie Skriftuurlike beginsel te lewe: ‘…julle [moet] mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ Wanneer God jou die geleentheid gee om ander mense eerste en jouself tweede te stel, gryp dit aan en hardloop daarmee.
Sielskos: 1 Sam 14-15; Joh 1:14-28; Ps 63; Spr 22:17-23