Meditasie vir beginners

2023-12-01
Psalm 48:10 NLV

Jy is hopelik teen hierdie tyd al oortuig dat die krag wat uit die meditering oor God se Woord spruit, ‘n krag is wat jy in jou lewe nodig het. Miskien is jy egter ‘n beginner en het ‘n beginpunt nodig. Jy dink: ‘Ja, ek weet ek moet meer tyd bestee om oor God se Woord te mediteer, maar hoe doen ek dit?’ Hier is ‘n paar idees om jou aan die gang te kry:

1) Mediteer oor God se seëning. ‘Ek wil die lof van die Here verkondig. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam verheerlik. Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie’ (Psalm 103:1-2 NLV). Meditasie lei tot ‘n dankbare hart.

2) Mediteer oor jou verhouding met God. ‘…Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons liewe Vader. Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is’ (Romeine 8:15-16 NLV).

3) Mediteer oor God se liefde vir jou. ‘U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Ek wil U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande’ (Psalm 63:4-9 NLV).

Jy kan oor God se beloftes om jou te beskerm, of te lei, of te onderrig, of te korrigeer, of te seën, mediteer. Die punt is, jy moet begin!

Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12