God se plan met jou geld

2023-10-17
2 Korintiërs 9:11 NLV

‘n Pastoor het vir sy gemeente gesê: ‘Die goeie nuus is dat ons vanoggend genoeg geld hier het om ‘n nuwe kerk te bou.’ Toe het hy bygevoeg: ‘Die slegte nuus is dat dit steeds in julle sakke is!’ Sommige van ons het grootgeword met die idee dat dit verkeerd is om God vir geld te vra, omdat dit ‘n teken van gierigheid en selfsug is. Dit kan wees, maar dit hoef nie so te wees nie.

Wanneer jy bid: ‘Here, seën my finansieel sodat ek kan bydra vir u werk en u planne kan vervul,’ is jy in die regte geestelike lyn met God. Die plofbare groei van die Nuwe Testamentiese kerk was deels te danke aan sommige Christene wat bereid was om hul bates te verkoop om die wil van God te finansier. Barnabas was een van hulle. ‘Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring…’ (Handelinge 4:37 NLV). Barnabas was egter nie die enigste een nie: ‘…gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee…’ (verse 34-35 NLV).

Skriftuurlik gesproke is die volgende ‘n opsomming van wanneer dit by geld kom: As jy God eer, sal Hy jou eer en wanneer jy sy werk eerste stel, sal Hy jou werk seën. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:33-34 NLV). Hier is God se wil vir jou: ‘In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (2 Korintiërs 9:11 NLV).

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 23:22-28

Hanteer die dood op die regte manier

2023-10-16
Psalm 23:4 NLV

Hier is die waarheid oor die dood:

1) Dit is verseker. Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n hipokonderse persoon wat die volgende woorde op sy grafsteen laat sit het: ‘Nou sal julle miskien glo dat ek siek was.’ Op ‘n ernstiger noot, as jy wys is, sal jy nie obsessief oor die dood wees nie, maar jy sal jouself daarop voorberei.

2) Dit is ‘n reis. Elke stap wat jy neem bring jou vertrekdatum een dag nader. Dit is egter net ‘n tydelike deurgang en nie jou finale bestemming nie. Die woord ‘metamorfose’ roep ‘n nederige wurm wat in ‘n pragtige skoenlapper verander, op. Net so beskryf die Bybel jou nuwe liggaam in hierdie woorde: a) ‘Onverganklik,’ wat beteken dat jy nooit weer pyn of siekte sal ervaar nie (sien 1 Korintiërs 15:53). b) ‘Onsterflik,’ wat beteken jy sal ouderdomloos wees en nie kan doodgaan nie (sien vers 53). c) ‘Skaduwee.’ ‘n Skaduwee mag jou dalk bang maak, maar dit kan jou nie seermaak nie. Die enigste manier om ‘n skaduwee te kry is wanneer daar ‘n lig skyn.

Vind jy dit nie ook interessant dat baie mense wat gesterf het en weer teruggekom het ander mense vertel hoe hulle uit ‘n tonnel na ‘n helder, hemelse lig gegaan het nie? G’n wonder dat ons nie bang hoef te wees in die donker vallei nie. Die Here is by ons en Hy het die dood, die hel en die graf oorwin. Jesus het gesê: ‘…Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk’ (Openbaring 1:18 NLV). Verbly jouself; die sleutel tot jou ewige lotsbestemming is nie in jou eie of enigiemand anders se hande nie, maar in die hande van die Een wat jou liefhet.

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21

‘Ons weet’

2023-10-15
Romeine 8:28 NLV

Dit is een van die gerusstellenste Skrifgedeeltes in die Bybel en een van die wat die meeste aangehaal word: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (vers 28 NLV). Hierdie vers is bedoel vir gelowiges; die verloste kinders van God wat die Here liefhet en volgens sy voornemens wandel en volgens Skriftuurlike beginsels werk.

Interessant genoeg vertaal die Bybel die woord ‘weet’ van ‘n Griekse woord wat ‘intuïtief’ beteken. Iets binne-in ons sê: ‘Ek verstaan dit nie en ek kan dit nie verduidelik nie, maar ek weet dat God aan die werk is en dat iets goeds daaruit sal kom.’ Let die woorde: ‘alles ten goede laat saamwerk,’ op. Sal jy dit geniet om bakpoeier te eet? Wat van meel? Nee, maar wanneer jy hulle saamvoeg, ‘n paar ander bestanddele bygooi, hulle meng en in die oond sit, kom daar iets ‘goeds’ daaruit.

Wanneer die Bybel na ‘alles’ verwys, sluit dit dinge wat pynlik, onregverdig en moeilik is, in. Die pad na die troon van Egipte het Josef deur verraad, laster, gevangenisstraf en teleurstelling gelei. Toe hy egter daarop terugkyk, kon hy sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Dit waardeur jy tans gaan, werk ten goede vir jou op maniere wat jy nie nou kan sien of verstaan nie. Het jy God lief? Glo jy dat Hy ‘n plan en ‘n doel vir jou lewe het? Wil jy Hom graag behaag? Vertrou Hom dan om ‘alles’ ten goede vir jou te laat uitwerk.

Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16

Kry die meeste uit jou Bybel (2)

2023-10-14
Psalm 119:130 NLV

President Woodrow Wilson het gesê: ‘Ek voel jammer vir die mense wat nie elke dag die Bybel lees nie; ek wonder hoekom hulle hulleself van die krag en plesier daarvan ontneem. Dit is een van die mees unieke boeke ter wêreld, want elke keer as jy dit oopmaak, straal een of ander teks wat jy al ‘n hele paar keer gelees het skielik met ‘n nuwe betekenis. Daar is geen ander boek waarvan ek weet waarvan dit waar is nie; daar is geen ander boek wat die betekenis daarvan so persoonlik gee, wat lyk asof dit so intiem pas by die einste persoon wat leiding soek nie.’

As jy die meeste uit jou Bybel wil kry, vra jouself die volgende vrae af: 1) Is daar ‘n waarskuwing om op ag te slaan? 2) Is daar ‘n belofte om op te eis? 3) Is daar ‘n sonde om te laat vaar? 4) Is daar ‘n bevel om te gehoorsaam? 5) Is daar ‘n les om te leer? 6) Is daar ‘n beginsel om toe te pas? 7) Is daar ‘n voorbeeld om te volg?

Soos jy jouself hierdie sewe vrae afvra, hou ‘n notaboek byderhand en skryf die antwoorde wat God jou gee neer. Jy sal verbaas wees oor die wysheid wat jy daaruit ontvang. Jou angs sal begin minder word, jou gedagtes sal opklaar en jy sal vrede ervaar. Johannes skryf: ‘Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God’ (Johannes 1:1 NLV). Let die frase: ‘die Woord was self God,’ op. Hoe meer jy jou Bybel lees, hoe meer sal jy God se teenwoordigheid en krag ervaar. Jy mag dalk selfs American Express se ou slagspreuk begin aanneem: ‘Don’t leave home without it.’

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18

Kry die meeste uit jou Bybel (1)

2023-10-13
Spreuke 2:4 NLV

Dink daaroor na, wanneer jy jou Bybel bestudeer, is dit soos om na goud of silwer te soek. Dit behels twee dinge: 1) Jy moet daarna soek. ‘Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ‘n versteekte skat. Jy sal dan… agterkom wat dit beteken om God te ken’ (verse 4-5 NLV). Om eenvoudig by ‘n myn af te loer en rond te kyk sal nie help nie. As jy die goud of silwer wil hê, moet jy aktief daarna soek. Die doel van hierdie dagstukkie is nie om gereelde Bybelstudie te vervang nie, maar om jou aptyt daarvoor aan te wakker. Volgens die Barna navorsingsgroep, lees slegs 9 persent van Christene die Bybel elke dag. Die vraag is, is jy een van hulle?

2) Jy moet daarvoor grawe. Die Gees van God wat binne-in jou is, praat met jou soos jy sy Woord lees. Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat mal daaroor was om sy Bybel te bestudeer. Elke keer wat hy iets teëgekom het wat hy nie verstaan het nie, het sy vriend Charlie in sy gedagtes opgekom. Charlie was ‘n wonderlike student van die Bybel; Bybelse wyshede het sommer by hom uitgevloei. Wanneer die eerste man dus ‘n vraag oor ‘n vers in die Bybel gehad het, het hy na Charlie toe gegaan en gesê: ‘Wat beteken hierdie vers? Wat probeer God hier vir my sê?’ Een dag terwyl hy besig was om die Bybel te lees, het die Heilige Gees met hom gepraat en gesê: ‘Hoekom vra jy My nie net nie? Ek is die een wat Charlie onderrig.’ Verwag dus vandag van God om met jou te praat terwyl jy sy Woord lees, en Hy sal.

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 3:9-21; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14

Wat babas weet

2023-10-12
Jesaja 38:19 NLV

‘n Navorser by die John Hopkins Universiteit sê dat kinders so jonk as agt maande in staat is om woorde, goed of sleg, te hoor en te onthou. ‘Klein oortjies luister,’ sê dr Peter Juscyzk. Babas is in hierdie studie, wat in die gerekende joernaal, Science, verskyn het, vir ongeveer tien dae aan drie stories blootgestel. Twee weke daarna is hulle in ‘n laboratorium getoets en kon duidelik die woorde in die stories identifiseer, terwyl hulle glad nie op woorde wat hulle nie gehoor het nie, gereageer het nie.

Professor Emerita Robin Chapman, ‘n taalkundige wat aan die Universiteit van Wisconsin verbonde was, benadruk die belangrikheid van hierdie studie. Dit demonstreer dat baie jong kinders wel aandag aan die klanke van taal gee en in staat is om die klanke waarmee hulle bekend is, later uit te ken. Nee, hulle mag dit dalk nie ten volle verstaan nie, maar hulle brein is bedraad om die klanke op te neem en dit later weer te gee.

Dus, wanneer jy die tyd neem om met klein kindertjies te praat, leer jy hulle nie net taalvaardighede nie, maar saai saadjies van waarheid wat later in hul lewe kan blom. Woorde is vormend; hulle is kreatief! Die eerste woorde wat jou kind hoor, sal deur jou gespreek word. Die eerste musiek waarna jou kind luister, sal deur jou gekies word. Jou kind is ‘n kosbare stukkie klei en jy is die pottebakker wat God geroep het om hulle te vorm. Ons lees in 2 Timoteus 2:20 van besonderse houers van goud en silwer en van alledaagse houers van hout en klei. Jy help om jou kind te vorm in die tipe houer wat hy gaan word. As jy wys is, sal jy die goddelike vormingsproses so gou as moontlik begin.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Joh 3:1-8; Ps 110; Spr 23:6-9