Ag jouself nederig

2023-12-08
Lukas 18:14 NLV

Jesus het gesê: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as ‘n sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word’ (verse 10-14 NLV).

Jy kan soos die vroomste mens in die kerk lyk en steeds ‘n hart vol hooghartigheid hê. Die ergste is dat jy dit nie weet nie. As jy byvoorbeeld die krediet neem vir al die goed wat God jou in staat gestel het om te bereik en te verkry, is jy hooghartig. Wanneer jy jouself met ander mense vergelyk, is dit hooghartigheid. Wanneer jy dink dat jy die wil van God sonder die krag van God kan doen, is jy hooghartig. Wanneer jy mense wat nie by jou portuurgroep of sosiale sirkel inpas nie uitsluit, is jy hooghartig.

Jy sal ‘n prys daarvoor betaal, want: ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). As jy dus in sy guns vandag wil wandel, moet jy jouself nederig voor Hom ag.

Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10

Hoe om te bid wanneer jy siek is

2023-12-07
Jakobus 5:14 NLV

Die Bybel sê: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (verse 14-15 NLV). Laat daar dus geen twyfel wees nie: wanneer ons siek is, word ons aangesê om die ouderlinge te roep om ons met olyfolie te salf en vir ons te bid, met die geloof dat ons gesond sal word.

Ons moet ook in tye van siekte vir mekaar bid. Jesus het gesê: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… in my Naam…. sal [hulle] siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV).

As jy vandag siek is, bid die volgende: “Here, selfs al is die dokter se verslag negatief, het U die laaste sê oor my lewe. U Woord sê: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken…’ (Psalm 139:16 NLV). Vergewe my vir enige deur wat ek vir hierdie siekte oopgemaak het deur nie goed na my gesondheid te kyk nie. Hef my as getuienis van u helende krag op. U is die God wat wonderwerke doen en wat dieselfde gister, vandag en vir altyd is (sien Hebreërs 13:8). Ek neem gesag oor elke gebrekkige deel van my liggaam en beveel elkeen om in die Naam van Jesus gesond te word. Ek beveel dat ek nie voor my vasgestelde tyd sal sterf nie, maar sal lewe om te getuig wat U gedoen het (sien Psalm 118:17). Deur geloof staan ek op U Woord en verklaar: ‘Deur u wonde is ek genees'” (sien Jesaja 53:5).

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

‘n Vader se seën

2023-12-05
Genesis 27:27 NLV

Elke kind wil graag sy pa se seën hê en elke pa is geroepe om sy kinders te seën. Toe Isak sy seuns geseën het, het hy namens God opgetree en sy gedelegeerde goddelike mag gebruik om seën oor te dra. ‘n Vader se seën was ‘n gekoesterde instelling, maar die doeltreffendheid daarvan het op die feit dat Isak sy seuns geseën het as ‘n daad van geloof en nie uit blote sentiment of begunstiging nie, berus. Volgens Hebreeuse gebruik het ‘n vader se seën uit twee elemente bestaan.

1) ‘n Betekenisvolle aanraking. “Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom… Toe sê Isak: ‘Kom nader en soen my, my seun'” (Genesis 27:22, 26 NLV). ‘n Patriarg se seën het die oplegging van hande, ‘n soen en omhelsing van aanvaarding en liefde ingesluit. Jesus het presies geweet wat kinders nodig het, daarom het Hy: ‘…sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën’ (Markus 10:16 NLV). Sulke uitdrukkings van liefde, seën steeds ons kinders wat daarna smag om dit van ons te ontvang.

2) ‘n Gesproke woord van liefde. Voordat hy Jakob geseën het, het Isak gesê: ‘…Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het’ (Genesis 27:27 NLV). Vir ‘n stadsjapie mag hierdie woorde dalk nie baie beteken nie, maar vir Isak se seuns wel. Hierdie ou buitelug-patriarg wat van die natuur gehou het, het in wese gesê: ‘Dis my seun – ‘n jagter, ‘n man se man, net soos sy pa!’ Hy kon nie meer bevestigende woorde tot sy seun gespreek het nie.

Pa, laat jou woorde nie krities, neerhalend of onsensitief wees nie, maar woorde wat sê: ‘Ek kan nie trotser wees as om jou my kind te noem nie!’

Sielskos: Jos 1-4; Joh 13:31-38; Ps 130; Spr 28:21-24

Probeer gemeenskaplike grond vind (3)

2023-12-04
1 Korintiërs 9:22 NLV

Om gemeenskaplike grond te probeer vind, moet jy aanpasbaar wees. Thomas Aquinas het gesê: ‘Om iemand te bekeer, moet jy hulle aan die hand neem en hulle lei.’ Jy moet gewillig wees om van waar jy is tot waar hulle is te beweeg; om aan te pas en dinge uit hulle perspektief te probeer sien.

Wanneer jy bewus word dat daar ‘n afstand tussen jou en die persoon wat jy probeer bereik is, sal dit goed wees om vir iets in jou eie agtergrond en ervaring te soek wat met hulle s’n verband hou. Moenie die proses begin deur hulle van jouself te vertel nie. Pas by hulle aan – moenie verwag dat hulle by jou moet aanpas nie. In plaas daarvan om vir mense te vertel hoe jy voel, vind uit hoe hulle voel. In plaas daarvan om hulle te vertel wat jy sien, vind uit hoe hulle dinge sien. In plaas daavran om vir hulle te probeer vertel wat jy wil hê, vind uit wat hulle wil hê. Abraham Lincoln het gesê: ‘Wanneer ek gereed maak om met iemand te redeneer, bestee ek een-derde van my tyd om aan myself en wat ek gaan sê en twee-derdes aan hom en wat hy gaan sê, te dink.’

Die waarheid is dat jy nie iemand op ‘n reis kan neem, tensy jy gewillig is om te begin waar hulle hulself bevind nie. Eers dan kan jy waarlik met hom of haar skakel en hulle lei na waar jy hulle wil neem. Jy kan baie van ‘n persoon weet en hulle steeds nie verstaan nie. Meer informasie is nie altyd die antwoord nie. Om mense waarlik te verstaan, moet jy verby dit wat jy weet beweeg en leer om die taal van die hart te praat.

Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:18-30; Ps 65; Spr 28:17-20

Probeer gemeenskaplike grond vind (2)

2023-12-03
1 Korintiërs 9:19 NLV

Of jy nou vir ‘n nuwe werk aansoek doen, iemand vir Christus probeer wen, raad gee of iemand se gedrag korrigeer, moet jy gemeenskaplike grond probeer vind om effektief te kan wees. Kom ons kyk na ‘n paar eienskappe wat daarvoor benodig word.

Beskikbaarheid. Paulus skryf: ‘…ek [het] myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen.’ Om areas van gemeenskaplike belang vas te stel, neem tyd. Dit verg ook inspanning. Daar word berig dat ‘n tipiese sakebestuurder deesdae ‘n aandagspan van net ses minute het. Dis pateties! In ses minute kan ‘n persoon skaars sy of haar voete, wat nog te sê van gemeenskaplike grond, vind. Om areas waarop julle saamstem te identifiseer, moet jy empatie hê en gewillig wees om te luister na wat die ander persoon te sê het.

In haar boek, How to Talk so People Listen, skryf Sonya Hamlin dat die meeste mense dit uitdagend vind om gemeenskaplike grond te vind. Sy sê: ‘Om te luister vereis dat ons ons gunsteling menslike tydverdryf – betrokkenheid by onsself en by ons eiebelang – prysgee. Dit is ons primêre, totaal menslike fokus. Dit is waar ons motivering om enigiets te doen, vandaan kom. Jy kan dus insien dat daar ‘n probleem ontstaan wanneer ons gevra word om na iemand anders te luister.’

Wat is dus die oplossing? Dis eerstens noodsaaklik om twee van die luisteraar se instinktiewe, onuitgesproke vrae te erken en te beantwoord: ‘Hoekom moet ek na jou luister? Watter voordeel hou dit vir my in?’ Elke keer as jy bereid is om na mense te luister en uit te vind hoe jy aan hulle behoeftes kan voldoen, is jy halfpad na jou doelwit om gemeenskaplike grond te vind.

Sielskos: Gen 40:1-41:43; Fil 2:5-13

Probeer gemeenskaplike grond vind (1)

2023-12-02
1 Korintiërs 9:22 NLV

Om iemand te beïnvloed, moet jy eers ‘n konneksie met hulle maak. Om dit te kan doen, moet jy gemeenskaplike grond vind.

Paulus skryf: ‘Alhoewel ek dus teenoor niemand ‘n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. Onder die Jode het ek soos ‘n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie… Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen. Vir die geringes het ek ‘n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry’ (verse 19-23 NLV).

Wanneer Paulus mense vir Christus wou bereik en beïnvloed, het hy probeer om elke blokkade tussen hulle en Christus te verwyder. Jy moet bereid wees om dieselfde te doen. Mense gee nie om hoeveel jy weet, totdat hulle weet hoeveel jy omgee nie. Daarom moet jy hulle hart eerste, nie kop eerste nie, benader. Voordat iemand die waarheid wat jy met hulle moet deel sal ontvang, moet hulle oortuig wees dat jy vir hulle lief is en omgee. Dit beteken dat jy gemeenskaplike grond moet vind.

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16