Probeer gemeenskaplike grond vind (2)
2023-12-031 Korintiërs 9:19 NLV
Of jy nou vir ‘n nuwe werk aansoek doen, iemand vir Christus probeer wen, raad gee of iemand se gedrag korrigeer, moet jy gemeenskaplike grond probeer vind om effektief te kan wees. Kom ons kyk na ‘n paar eienskappe wat daarvoor benodig word.
Beskikbaarheid. Paulus skryf: ‘…ek [het] myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen.’ Om areas van gemeenskaplike belang vas te stel, neem tyd. Dit verg ook inspanning. Daar word berig dat ‘n tipiese sakebestuurder deesdae ‘n aandagspan van net ses minute het. Dis pateties! In ses minute kan ‘n persoon skaars sy of haar voete, wat nog te sê van gemeenskaplike grond, vind. Om areas waarop julle saamstem te identifiseer, moet jy empatie hê en gewillig wees om te luister na wat die ander persoon te sê het.
In haar boek, How to Talk so People Listen, skryf Sonya Hamlin dat die meeste mense dit uitdagend vind om gemeenskaplike grond te vind. Sy sê: ‘Om te luister vereis dat ons ons gunsteling menslike tydverdryf – betrokkenheid by onsself en by ons eiebelang – prysgee. Dit is ons primêre, totaal menslike fokus. Dit is waar ons motivering om enigiets te doen, vandaan kom. Jy kan dus insien dat daar ‘n probleem ontstaan wanneer ons gevra word om na iemand anders te luister.’
Wat is dus die oplossing? Dis eerstens noodsaaklik om twee van die luisteraar se instinktiewe, onuitgesproke vrae te erken en te beantwoord: ‘Hoekom moet ek na jou luister? Watter voordeel hou dit vir my in?’ Elke keer as jy bereid is om na mense te luister en uit te vind hoe jy aan hulle behoeftes kan voldoen, is jy halfpad na jou doelwit om gemeenskaplike grond te vind.
Sielskos: Gen 40:1-41:43; Fil 2:5-13