Nie selfbeheersing nie, maar Gees-beheersing

2023-10-23
Galasiërs 5:25 NLV

Het jy ‘n aptyt wat buite beheer is wanneer dit by dinge soos geld, kos, nikotien, alkohol, dwelms, seks, of… (vul die woord self in), kom? Het jou herhaalde pogings om beheer te kry jou met ‘n gevoel van skaamte, mislukking en hopeloosheid gelaat? Het al jou pogings tot selfbeheersing misluk? Probeer Gees-beheersing!

‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie… Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing… Christene is mense wat die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig het. Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal’ (Galasiërs 5:16-17, 22-25 NLV).

Die geheim om in oorwinning te wandel is om hierdie twee dinge te besef: 1) Selfbeheersing is nie iets wat jy vir God doen nie, dis iets wat God vir jou doen. 2) Selfbeheersing is nie ‘n eenmalige taak nie, maar ‘n daaglikse wandel. Elke keer wat jy vir die self nee en vir God ja sê, kom sy Gees jou te hulp en bemagtig jou. Deur te kies om God in plaas van jou impulse te gehoorsaam, aktiveer jy die krag wat oorwinning meebring.

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 24:8-9

God het ‘n goeie plan vir jou

2023-10-22
Jeremia 29:11 NLV

Lees die volgende Skrifgedeelte: “‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister… Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer…'” (verse 11-12, 14 NLV). Die Israeliete het deur ‘n lang periode van lyding as gevolg van hulle sondes gegaan – sewentig jaar van ballingskap. God het egter gesê: ‘Ek het steeds ‘n plan vir jou.’

Het jy gesondig en deur ‘n seisoen van regstelling gegaan en nou wonder jy of God sy rug op jou gedraai het? God mag jou dalk korrigeer, maar Hy sal jou nooit verwerp nie! Twee hoofstukke later sê God vir dieselfde groep mense: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Jou lewe mag dalk uitmekaar geval het, maar God kan dit herbou.

Koning Dawid het owerspel en moord gepleeg, maar toe hy berou gehad het, het God hom ten volle herstel. Die Bybel sê ook: ‘Dawid het sy mense gedien soos God besluit het, en toe het hy gesterf. Hulle het vir Dawid begrawe by sy voorvaders…’ (Handelinge 13:36 NLV). Sal jy daarvan hou om daardie woorde op jou grafsteen te hê? Jy kan! Die Verlore Seun se broer was kwaad vir hulle pa omdat hy sy jonger broer vergewe en herstel het. Sy pa het hom egter nietemin herstel. Jy kan nie die feit van jou vorige sondes ongedaan maak nie, maar God kan jou van die gevolge daarvan genees. Kom net vandag na Hom toe; neem daardie eerste stap!

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18

Moenie net bid nie, glo!

2023-10-21
Markus 11:24 NLV

Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). God se grootste begeerte is geloof. Jy kan gereeld bid en gevolglik selfs nader aan God voel, maar steeds nie verwag dat Hy jou gebede sal beantwoord of dat jou situasie sal verander nie.

Petrus is in die tronk gegooi en tot dood veroordeel en sy teregstelling is vir die volgende dag geskeduleer. Dus het die kerk die hele nag vir sy vrylating gebid. Dit het wonderbaarlik gebeur. God het die wagte aan die slaap laat raak, Petrus se tronkdeur oopgemaak en hom vrygelaat. Toe Petrus egter by die huis waar die gelowiges besig was om te bid, opdaag, het hulle dit nie geglo nie. “…’n diensmeisie… [het] binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan! Maar hulle het vir haar gesê: ‘Jy is skoon van jou wysie af!’ Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: ‘Dan is dit seker Petrus se engel'” (Handelinge 12:13-15 NLV). Selfs die vroeë dissipels het gesukkel om te glo dat God hulle sou hoor. Selfs toe die antwoord aan hulle deur geklop het, het hulle gehuiwer.

Ons doen dit ook, nie waar nie? Ons sukkel met gebed. Ons vergeet om te bid en wanneer ons onthou, jaag ons dit met onopregte woorde af. Hoekom gebeur dit? Jy kan enige plek en enige tyd bid en God beloof om te antwoord. Wat is dan die probleem? Ons moet die ongelooflike krag en potensiaal van een gelowige wat bid, besef: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Moet dus nie net bid nie; glo God vir die antwoord. Praat en tree dan op in geloof!

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 24:7

Jou gebede kan die situasie verander

2023-10-20
Eksodus 32:13 NLV

As jy nie seker is of jou gebede die situasie waarin jy jou tans bevind kan verander nie, lees die verhaal van Moses wat by God intree om nie die Israeliete weens die goue kalf en afgodery te vernietig nie. ‘Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie… Onthou tog dat U ‘n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob. U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’ Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring’ (verse 11, 13-14 NLV).

Moses was op sy knieë vir sy volk se lewens, hy het sy vinger gewys, sy hande opgelig, trane gehuil, sy mantel geskeur en soos Jakob by die spruit, gestoei. Let op hoe hy gebid het. Hy het God aan sy verbondsbeloftes herinner. Hy het op die Woord gestaan! As daar een ding is wat God se aandag sal trek en Hom aan jou behoeftes sal laat voldoen, is dit om op sy Woord te staan.

God se woord oor die saak is altyd sy wil in die saak. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).

Jy is soos ‘n elektriese draad waardeur God se krag en teenwoordigheid in enige situasie kan vloei en deur gebed skakel jy die skakelaar aan. In plaas daarvan om dus oor die situasie te kla, begin daaroor bid.

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 24:5-6

Moenie aan woede toegee nie; vergewe hulle

2023-10-19
Job 5:2 NLV

Vir redes wat net aan God en Satan bekend is, het Job sy geld, sy kinders en sy gesondheid verloor. As daar ooit ‘n man was wat rede gehad het om kwaad te wees, was dit hy. Elifas het hom egter die volgende raad gegee: ‘Woede maak ‘n dwaas dood…’ Met ander woorde: ‘Die enigste ding wat my seerder kan maak as wat reeds gebeur het, is om toe te laat dat wrewel my gedagtes regeer en my optrede dikteer.’

Jy sê: ‘Maar ek soek geregtigheid!’ Hoeveel geregtigheid? Stel jou voor dat jou vyand aan ‘n sweeppaal vasgemaak is. Die man met ‘n sweep in die hand draai na jou en vra: ‘Hoeveel houe?’ Jy gee ‘n getal. Die sweep kraak, die bloed vloei en die straf word opgelê. Jou vyand sak op die grond neer. Is jy nou gelukkig? Voel jy beter? Het jy vrede in jou gemoed? Dalk vir ‘n rukkie, maar gou sal jy weer iets onthou en dan sal nog ‘n sweepslag nodig wees.

Wanneer sal dit dan ophou? Dit hou op wanneer jy die woorde van Jesus ernstig opneem: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:14-15 NLV).

Wanneer jy bid: ‘Hanteer my soos ek my naastes hanteer’ (sien Matteus 6:12), is jy waarlik bewus van wat jy sê? ‘Gee my wat ek vir hulle gee. Skenk my dieselfde vrede wat ek hulle gun. Laat my dieselfde verdraagsaamheid geniet wat ek hulle bied.’ As jy vrede wil hê, moet jy vrede maak. As jy God se vrygewigheid wil geniet, moet jy vrygewig teenoor ander wees. As jy die versekering van God se vergifnis wil hê, gee vergifnis aan ander.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4

Gees-vervulde lewens

2023-10-18
Efesiërs 5:18 NLV

Tydens die oomblik van bekering, gee ons ons ou lewe aan God en Hy gee vir ons ‘n nuwe lewe in die plek daarvan. Hy doen egter meer; Hy kom leef binne-in ons deur die krag van sy Heilige Gees.

Paulus het die kontras gemaak tussen dronk van wyn word en vervul met die Gees word. Die een is teenproduktief, terwyl die ander produktief is. Die een maak jou magteloos, terwyl die ander jou bemagtig. Die een bring vir jou hartseer, terwyl die ander een vir jou vreugde bring. Hierdie Skrifgedeelte is nie ‘n belofte of selfs ‘n opsie nie, dis ‘n bevel: ‘…Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak’. Paulus gee ons drie bewyse van ‘n Gees-gevulde lewe:

1) ‘…Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here’ (vers 19 NLV). Hierdie lied vind nie as gevolg van omstandighede plaas nie, maar ten spyte daarvan. ‘Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing… Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!’ (Handelinge 16:25-26 NLV). Jy kan deure oopmaak en kettings breek wanneer jy God loof.

2) ‘Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge’ (Efesiërs 5:20 NLV). Gees-vervulde mense het ook probleme. Hulle fokus egter nie op hulle probleme nie; hulle tel hul seëninge en bly positief, vrolik en dankbaar.

3) ‘Omdat julle respek het vir wat Christus vir julle gedoen het, moet julle aan mekaar onderdanig wees’ (vers 21 NLV). Gees-vervulde mense fokus op ander. Hulle weet dat wat jy vir iemand anders laat gebeur, God vir jou sal laat gebeur (sien Efesiërs 6:8).

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 23:29-35