2023-12-14
Josua 1:5 NLV
Omdat ons deeglik van ons beperkings bewus is, is ons geneig om ons doelwitte tot ons gemaksone te beperk. Dit kan tot ‘n lewe van middelmatigheid en onvervulde drome lei. Jou inspanning rus egter nie alleenlik op jou skouers nie, maar op God s’n. Ja, jy het ‘n deel om te doen. Wanneer jy egter jou beste gedoen het, moet jy God vertrou om die res te doen.
God het vir Josua op die drumpel van die Beloofde Land gesê: ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie. Wees sterk en dapper…’ (verse 5-6 NLV). Jou vermoëns is beperk, maar God s’n is onbeperk.
Die vrees vir mislukking is dikwels op die verkeerde oortuiging dat sukses slegs op ons eie vermoë rus, gebaseer. Omdat ons van ons beperkings bewus is, bly ons in ons gemaksone in plaas daarvan om die reuse in die beloofde land aan te pak.
Wanneer jy weet dat dit wat jy wil hê in lyn met God se wil is, moet jy dapper wees en weet dat jy uiteindelik sal slaag. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
Wanneer jou vertroue in God is, word jou sukses gewaarborg. Wanneer jy weet dat dit wat jy wil hê ook is wat God wil hê, kan jy in krag vorentoe beweeg.
Sielskos: Kol 1-2; John 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9
2023-12-13
Psalm 119:15 NLV
As jy geestelik wil groei, het jy ‘n gereelde dieet van die Skrif nodig. Daar is geen plaasvervanger nie. Daar is geen aanvullings nie. Die digter T.S. Elliot het gesê: ‘Alles wat ons eet het ‘n effek op ons. Dit affekteer ons tydens die proses van assimilasie en vertering; en ek glo dat presies dieselfde van enigiets wat ons lees, waar is.’ Ons is wat ons lees.
Kom ons neem dit egter ‘n stappie verder. Om sonder meditasie te lees, is soos om te eet sonder om die kos te verteer. As jy die voedingswaarde wil absorbeer kan jy dit nie net lees nie; jy moet dit kou. Meditasie is die manier wat ons die Skrif metaboliseer. Dis hoe dit in ons gees en siel kom. Die Franse skrywer Jacques Réda het ‘n spesifieke gewoonte gehad. Hy sou elke dag deur die strate van Parys stap, met die doel om daagliks een nuwe ding te sien. Dis hoe hy sy liefde vir die stad vernuwe het.
Ons vernuwe ons liefde vir God op ‘n soortgelyke manier. Ons liefde groei soos ons nuwe dimensies van sy persoonlikheid sien en sy persoonlikheid word hoofsaaklik in die bladsye van die Bybel geopenbaar. Wat as ons God se Woord op dieselfde manier as wat Jacques Réda deur Parys se strate gestap het, benader?
Hier is die geheim tot geestelike groei: Jy kan nie net bloot die Bybel lees nie, jy moet daaroor mediteer. Lees verbreed ons begrip, maar meditasie verskaf diepte. As ons slegs die Skrif lees, is ons begrip van God en ons ervaring van Hom eendimensioneel. Die Bybel is ‘n kaleidoskoop. Elke keer as jy dit draai, word nog ‘n pragtige patroon van waarheid geopenbaar.
Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4
2023-12-12
2 Korintiërs 1:18 NLV
Paulus skryf: ‘Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ‘n besliste ‘ja’ as ek eintlik ‘n besliste ‘nee’ bedoel? God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie ‘ja’ en terselfdertyd ‘nee’ is nie’ (verse 17-18 NLV).
Paulus het geleer om grense in sy verhoudings te stel en jy moet dieselfde doen. ‘n Wyse man het een keer gesê: ‘Moet nooit kla oor dit wat jy toelaat nie.’ Tensy jy grense stel, het jy geen reg om oor mense wat jou misbruik en jou tyd mors, te kla nie. ‘…Christus Jesus… is nie terselfdertyd ‘ja’ en ‘nee’ nie…’ (vers 19 NLV). As sy volgeling, moet jy leer wanneer dit toepaslik is om ja te sê en wanneer dit toepaslik is om nee te sê.
Wanneer mense jou in ‘n hoek druk, moet jy hulle onmiddellik, privaat en persoonlik konfronteer. As hulle nie wil luister nie, neem iemand saam met jou. As hulle nie na altwee van julle wil luister nie, neem dit na die kerk se leierskap toe (sien Matteus 18:15-17). Wees duidelik oor dit wat jy sal en nie sal verdra nie. Raak gemaklik daarmee om jou wense en voorkeure sonder die vrees van verwerping en vervreemding, uit te druk.
Maak die volgende jou gebed vandag: ‘Here, laat my ander vanuit ‘n rein hart, eerder as uit ‘n behoefte aan liefde en aanvaarding, dien. Op die gesag van u Woord beveel ek die gees van vrees wat my verhoed om gesonde grense te stel, om onmiddellik weg te gaan. Ek plaas my vertroue in U. Ek sal nie dit wat mense aan my kan doen, vrees nie (sien Psalm 56:12). In Jesus se Naam. Amen.’
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:1-11; Ps 150; Spr 29:22-27
2023-12-11
Psalm 148:8 NLV
Die winde was teen Moses toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het, dit was teen hulle op pad na die Beloofde Land en dit was teen hulle toe hulle daar aankom. Daar is nie so iets soos ‘n reis sonder storms nie: ‘…Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê…’ (Handelinge 14:22 NLV).
Wanneer jy dag na dag moet veg om kop bo water te hou, is dit maklik om moedeloos te raak. Paulus het gesê: ‘Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie… Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word’ (Handelinge 27:20 NLV). Voor jy egter tou opgooi, vra jouself die volgende af: Wat as God die Een is wat die storm gestuur het om jou te kry waarheen jy moet gaan? Wat as Hy die Een is wat: ‘…praat, en die winde steek op, en die golwe word al hoër’ (Psalm 107:25 NLV), sodat jy jou oë op Hom moet hou? Wat as Hy die een is wat: ‘…’n sterk wind oor die see laat opkom…’ (Jona 1:4 NLV), om te kyk of jy jou geloof behou wanneer jy nie land kan sien nie?
In Eksodus 10 het Hy: ‘…die hele dag en ook deur die nag ‘n oostewind laat waai… die wind [het] die sprinkane begin aanbring… Hy het ‘n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het…’ (verse 13, 19 NLV). Een skrywer voeg by: ‘Toe die Here vir Israel geveg het, het stormwinde hulle verlossing teweeggebring. Eendag, deur God se groot genade, sal ons ook op die see van glas staan en sien hoe stormwinde ons verlossing teweegbring.’
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21
2023-12-10
Handelinge 27:10 NLV
Paulus het vir almal aan boord die skip op pad na Rome gesê: ‘Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens’ (vers 10 NLV).
Een skrywer sê: ‘Paulus het nie hier van ‘n klein skermutseling of ‘n bietjie verlies gepraat nie. Hierdie reis sou met rampe geteister word, met baie verlies, selfs aan hulle lewens. Vir Paulus het hierdie reis uiteindelike martelaarskap beteken. Paulus sou egter nie sterf voordat sy sending voltooi is nie, totdat hy ‘n noodlottige slag aan die Romeinse Ryk se hart, politieke genialiteit, militêre oppergesag en trots en praal, sou toedien nie.
Toe Paulus met die evangelie in Rome ingestap het, het die hel gesidder en die hemele hulle verbly. Ons het almal ons lewens aan daardie man te danke wat met ‘n ketting om sy enkel Rome begin bekeer het en vir ons die boeke van Efesiërs, Kolossense, Filippense en Filemon terwyl hy die gevangene vir Jesus Christus was, gegee het. Gelukkig vir ons was die bootrit na Rome nie die einde van die verhaal nie!
‘Maar die Romeinse offisier wou Paulus red… Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal. Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het’ (verse 43-44 NLV).
Wanneer jy jou oë op Jesus hou, sal jy ten spyte van die storm regkom. Dis gewaarborg!
Sielskos: 2 Sam 6:11-23; Luk 18:18-30
2023-12-09
Handelinge 27:4 NLV
Wanneer jy iets vir God begin doen, sal die Vyand seker maak dat jy winde wat teen jou is, teëkom. Trouens, as jy nie teen die winde seil nie, is die kans goed dat jy in die verkeerde rigting op pad is! Die Bybel sê dat Jesus deur die duiwel op die proef gestel is (sien Matteus 4:1). Satan het nooit daarmee opgehou nie, insluitend die aand voordat Jesus gekruisig is: ‘Satan het… in Judas… een van die twaalf, ingevaar’ (Lukas 22:3 NLV).
Reimar Schultz sê: ‘Waar jy ook al vandag gaan, sal Satan jou êrens op ‘n straathoek, in die kantoor of by die huis probeer beetkry. Hy sal jou laat struikel wanneer jy jou geestelike wapenrusting by die huis vergeet – as jy jou gordel van waarheid in die kas of jou borswapen van geregtigheid by die deur los; as jy jou skild van geloof, die swaard van die Gees en die helm van verlossing vergeet.
As jy in die oggend sê: ‘Ek sal bid wanneer ek ‘n kans vandag kry,’ het jy reeds jou oorwinning weggegee. Kort voor lank sal die verkeerde woorde uit jou mond kom, jy sal na verbode vrugte kyk en ‘n onwelvoeglike houding hê. Die dwaasste ding wat jy kan doen, is om die huis ongewapen en geestelik naak te verlaat. ‘n Dwaas sê: ‘Ek het nie tyd om te bid nie,’ maar later bestee hy baie tyd om te probeer om die skade wat sy versuim om te bid opgelewer het, te herstel. Ons het, van Adam af, elke goeie ding in die koninkryk ontvang, as gevolg van mans en vrouens wat aan hulle geloof vasgehou het toe dinge begin moeilik raak het. Die Bybelse geskiedenis van die kerk eindig met hierdie seëvierende woorde: ‘…En só het ons Rome bereik’ (Handelinge 28:14 NLV).’
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:5-17; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15