Koester hulle

2023-12-20
Spreuke 4:3 NLV

Vir jou kind om later in die lewe fisies en emosioneel te floreer, moet jy hulle gedurende hulle vroeë en formatiewe jare koester. Gesondheidskundiges sê deesdae dat dit inderwaarheid noodsaaklik vir hulle oorlewing is. Een Christelike leier skryf: “‘n Studie wat aan die Harvard Universiteit gedoen is, toon onmiskenbaar dat die kwaliteit van die band tussen ‘n seun en sy ma verband hou met sy fisiese gesondheid en welstand veertig of vyftig jaar later. Merkwaardig genoeg het 91 persent van mans wat gesê het dat hulle nie ‘n noue verhouding met hul moeders gehad het nie, teen hul middeljare hartsiektes, hipertensie, maagsere of alkoholisme ontwikkel. Slegs 45 persent van die mans wat moederlike warmte en nabyheid onthou het, het soortgelyke siektes gehad.

Dieselfde was waar van mans en hul verhoudings met hulle pa’s. Oorweeg ook die volgende: 100 persent van die deelnemers aan hierdie studie wie se moeders en vaders koud en afgetrokke was, is in hul middeljare met talle siektes gediagnoseer. Kortom, die kwaliteit van vroeë verhoudings tussen seuns en hul ouers is ‘n kragtige voorspeller van lewenslange gesondheid. Jy kan seker wees dat dieselfde vir meisies en vroue geld. Dit kom hierop neer: Waar daar nie aan vroeë behoeftes voorsien word nie, is moeilikheid die voorland.”

Salomo, een van die wysste mans wat ooit gelewe het, het gesê: ‘Ek was self ook ‘n kind van my pa, die enigste oogappel van my ma.’ Dawid en Batseba was Salomo se ouers en die verhaal van hulle verkeerde optrede is vir ons almal om te lees neergeskryf. Toe dit egter by die grootmaak van hulle seun Salomo gekom het, het hulle dinge reg gedoen. Deur God se genade kan jy dieselfde doen.

Sielskos: Neh 11-13; Joh 18:25-40;Ps 4; Spr 30:29-33

Karakter (2)

2023-12-19
Jakobus 1:12 NLV

Omdat hy aantreklik was, het Josef ongewensde aandag by sy baas se vrou gekry. Dag na dag het sy hom probeer verlei. As Josef daardie tipe verleiding, toe hy net ‘n huisslaaf was, teëgekom het, kan jy dink aan die vlak van verleiding waaraan hy blootgestel is toe hy Egipte se eerste minister geword het?

Wanneer jy met integriteit in die klein dinge optree, rus dit jou toe om met integriteit in die groot dinge op te tree. Jy sal in die uur van verleiding gedwing word om tussen twee paaie te kies: karakter of kompromie. Elke keer wat jy karakter kies, word jy sterker, selfs wanneer jy ‘n prys vir jou keuse betaal. Let die volgende op:

1) Karakter is meer as net woorde. Onthou jy die ou wys-en-vertel-metode van onderrig op skool? As jy alles vertel en niks wys nie, verloor jy geloofwaardigheid.

2) Talent is ‘n gawe, maar karakter is ‘n keuse. Oor die algemeen is talent iets waarmee jy gebore word; jy het nie veel sê in die saak nie. Karakter is egter ‘n keuse wat jy elke dag maak en dis gewoonlik net jy en God wat daarvan weet.

3) Karakter bring blywende sukses mee. Daar word gesê dat vroeë Stradivarius-viole uit hout van bome wat die swaarste storms beleef het, gemaak is. Hoekom? Want weergeteisterde hout produseer die soetste musiek. Kry jy die idee?

4) Jy mag dalk tydelik bo die beperkings van jou karakter uitstyg, maar dis nie volhoubaar nie. Uiteindelik sal jy vir dit wat jy waarlik is, gesien word.

Die woord vir jou vandag is dus – moenie net werk om jou loopbaan te bou nie, werk daaraan om jou karakter te bou.

Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:12-24; Ps 57; Spr 30:24-28

Karakter (1)

2023-12-18
Spreuke 11:4 NLV

Abraham Lincoln het gesê: ‘Amper alle mense kan teëspoed hanteer, maar as jy regtig iemand se karakter wil toets, gee vir hom mag.’ Dis makliker om op ons talente te fokus, want oor die algemeen produseer dit resultate wat beloon en deur ander gevier word. Daar is met ander woorde ‘n element van ego wat aan ons gawes gekoppel is.

Karakter word in privaatheid gebou. Jou reputasie is wat mense dink jy is, maar karakter is wat God (en jy) weet jy is. Jy moet dus meer op jou karakter as jou talente fokus. Die Bybel sê: ‘Iemand wat reg optree, is soos ‘n vrugbare boom. ‘n Mens wat wys is, red ander se lewens’ (Spreuke 11:30 NLV). As jy vir groter resultate bid, moet jou karakter jou dade vooruitgaan. Om groter doelwitte te bereik, moet jy effektiewer as leier word. Om mense meer aan te trek, moet jy ‘n persoon van goeie karakter word.

Wanneer jy deurlopend karakter, bekwaamheid en doelwitte ten toon stel, maak jy ‘n kragtige stelling teenoor die mense rondom jou en trek hulle na jou toe aan. Groot dinge word selde alleen bereik, so as jy dus goeie mense wil aantrek, moet jy self ‘n beter persoon word.

Dis veral waar as jy ‘n persoon met groot talente is. Jou talente mag jou dalk voor ander mense ophef, maar jou tekort aan karakter sal jou afbring. Die Bybel sê: ‘Baie geld help maar min wanneer probleme jou oorval. Wie die Here ken, word van die dood gered’ (Spreuke 11:4 DB). ‘n Wyse leier is gewillig om die volgende te erken: ‘Ek is nie perfek nie, maar ek weet wie is. Ek doen my bes om meer en meer soos Hy in my professionele en persoonlike lewe te word.’

Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:1-11; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23

Wen die stryd teen apatie

2023-12-17
2 Timoteus 1:6 NLV

Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur aan te blaas.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat, selfs as jy talentvol is, jy apaties kan word as jy nie aanhou om die regte dinge te doen nie. ‘Ons moet dus baie styf vashou aan die boodskap wat ons gehoor het sodat ons tog nie dalk wegdryf nie’ (Hebreërs 2:1 NLV). Kom ons kyk na twee dinge wat jou passie, entoesiasme, motivering en fokus by jou kan steel:

1) Gebrek aan doelwitte. ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Wat het jou altyd opgewonde gemaak? Wat het jou belangstelling daarin vernietig? Is dit ‘n begeerte wat jy weer kan laat oplewe? Skryf dit neer. Ignoreer die potensiële koste daaraan verbonde of redes hoekom dit dalk nie mag werk nie. Gee net jou gedagtes die geleentheid om optimisties en opgewonde oor iets te voel.

2) Verkeerde doelwitte. Streef jy ‘n doel na wat deur iemand anders op jou afgedwing is? Of roei jy dalk teen die gety van God se wil vir jou lewe, soos Jona voor hy deur die groot vis ingesluk is? Vra Hom om seker te maak wat die geval is. Het God jou werklik gelei om jouself met daardie buitensporige item te bederf wat nou van jou vereis om twee werke te behartig? Of dalk het die tyd vir ‘n doelwit wat deel was van God se plan vir ‘n spesifieke seisoen van jou lewe, tot ‘n einde gekom. Om aan te beweeg is soms moeilik, maar o, die vreugde en vrede om te weet dat jy in die middel van God se volmaakte wil is!

Sielskos: Jona 2; Luk 11:29-36

Wanneer jy kwaad word (2)

2023-12-16
Psalm 37:8 NLV

Jou woede mag dalk of mag dalk nie die persoon teen wie dit gerig is, seermaak nie, maar dit kan jou definitief seermaak. Langdurige woede stel giftige chemikalieë in jou liggaam vry wat jou bloeddruk verhoog, cholesterol veroorsaak en jou risiko vir beroertes en hartaanvalle verhoog. Elke minuut wat aan woede bestee word, is ‘n minuut wat jou van vreugde ontneem. Almal raak van tyd tot tyd ontsteld. Wanneer jy egter met kwalik bedekte woede rondloop, vermy mense jou. Jy gee ook die persoon wat jou kwaad maak mag oor jou houding en reaksies. God wil hê dat jy in vrede moet leef. Hier is hoe jy jou woede kan laat gaan:

1) Herken die rede vir jou seer en emosie wat die wortel van jou woede is. (Trots?).
2) Wees bedag op hoe jou woede homself openbaar (soos ‘n nors gesig of vloektaal).
3) Beperk die effek van woede op jou liggaam deur diep in en uit te asem en voeg ‘n bevestiging soos: ‘Dankie, Vader,’ of ‘Ek ontvang nou u vrede,’ by. Let op na jou stemtoon, nie net met iemand wat jou kwaad gemaak het nie. Versoek eerder as om te beveel. Jy sal meer in beheer voel en mense sal meer geneig wees om saam met jou te werk.
4) Besluit om te vergewe. Jy sal weet dat jy vergewe het wanneer jy nie meer die begeerte het om te sien hoe jou oortreder gestraf word nie.

Moenie dit verwar met die realiteit dat jy steeds seergemaak voel nie. Gevoelens volg op gedrag. As jy aanhou om die wond weer oop te maak deur voortdurend daaroor te praat, sal dit nooit genees nie. Hou net aan om in liefde te loop en jou emosies sal in lyn met jou besluit kom.

Sielskos: Neh 1-4; Joh 17:13-26; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19

Wanneer jy kwaad word (1)

2023-12-15
Jakobus 1:19 NLV

Die Bybel gee ons drie sleutels om ons woede op die regte manier te hanteer. Kom ons kyk na elkeen en wat ons daaruit kan leer:

1) ‘Wees altyd gou om te luister.’ Moenie reageer nie en moenie haastig wees om te oordeel nie. Probeer eers die feite agtermekaar kry en oorweeg dan, versigtig en met gebed, hoe God wil hê jy moet reageer.

2) ‘Nie te gou om te praat nie.’ As jy onseker is of nie weet nie, sê net so. Daar is ‘n ou Chinese spreuk wat lui: ‘Dis beter om niks te sê en soos ‘n dwaas te lyk, as om jou mond oop te maak en alle twyfel uit die weg te ruim.’ Jy sal nie vir dit wat jy nie sê nie, later hoef te verduidelik of verskoning voor te vra nie.

3) ‘Nie te gou om kwaad te word nie.’ Die Bybel sê nie dat jy nooit moet kwaad word nie. Dit sê dat jy oor die regte dinge, op die regte manier, op die regte tyd moet kwaad word. Salomo sê: ‘…Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV).

Daarom is dit so belangrik om jou seer te hanteer. ‘n Wond wat nie genees nie veroorsaak pyn wat dikwels in woede manifesteer. Die probleem is dat ons ons woede saam met ons dra en dit op ander uithaal. Gevolglik distansieer hulle hulself van ons, of wantrou ons, of ontneem ons die intimiteit en nabyheid wat ons van hulle begeer. Die Bybel sê: “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien” (Spreuke 19:11 NLV). ‘n Christelike karakter groei deur geduld, liefde en selfbeheersing uit te oefen.

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:1-12; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14