2023-11-04
Kolossense 2:14 NLV
Jesus ‘…het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.’ Die woord ‘uitvee’ beteken om iets te verwyder, te neutraliseer of te verreken.
Het jy al ooit gevoel jy wil oor begin nadat jy al ver met ‘n projek gevorder het? Veronderstel jy is amper klaar om die sitkamer te verf, maar toe jy terugstaan, lyk die kleur op die mure glad nie soos die kleur op die kleurkaart nie. Jy wens jy kan dit oor doen. Baie van ons voel so oor die lewe. Mislukkings, probleme, slegte besluite – ons almal het al daaronder gely.
Sommige mense kan egter nie die verlede laat gaan nie en gevolglik laat hulle toe dat hulle verlede hulle toekomstige geleenthede beperk. Hulle lewe in ‘n konstante staat van spyt en treur aanhoudend: ‘As ek dit net nie gedoen het nie,’ of ‘As ek maar net hierdie veranderinge gemaak het.’ Hulle word deur pynlike herinneringe geteister. ‘Ek het dit verspil en gaan die res van my lewe daarvoor betaal.’
Jy mag kies om skuldgevoelens saam te dra, maar jy hoef dit nie te doen nie! Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, vee Hy die klagstaat van jou verlede uit. Jy het inderwaarheid nie meer ‘n verlede nie, jy het slegs ‘n toekoms! Jy kan vir eens en vir altyd jou swaar las van skuldgevoelens, seerkry en herinneringe aan foute neerlê. Jesus het ‘…dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.’ God het belowe om jou sondes uit te wis en nie weer daaraan te dink nie (sien Jesaja 43:25). Jy moet ook nie!
Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-32; Ps 96; Spr 25:1-7
2023-11-03
1 Korintiërs 12:11 NLV
Die Skrif beskryf nooit die kerk as ‘n demokrasie nie. Sekerlik verdien elke persoon gelyke behandeling in terme van vriendelikheid, liefde en respek; maar soos ons Godgegewe opdragte verskil, so verskil ons gawes. ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.’
As ‘n ouer, wil jy graag sien dat jou kinders sukses in die lewe behaal. Jy herken egter dat net soos hulle individuele talente verskil, so verskil hulle unieke lotsbestemmings. Dis hoekom dit ‘n fout is om met iemand anders mee te ding of jouself met hulle te vergelyk. Die Bybel sê: ‘God het ook hierdie waarheid verder bevestig… deurdat Hy sy Gees aan mense toebedeel soos Hy dit goedvind’ (Hebreërs 2:4 NLV). Moenie God bevraagteken nie; Hy weet wat Hy doen en maak nooit foute nie.
Selfs tussen sy twaalf dissipels het Jesus ‘n binnekring gehad. Hy het Petrus, Jakobus en Johannes na ‘n hoë berg saamgeneem en die ander dorp toe gestuur om te gaan werk. Hy het nie verplig gevoel om almal teen die berg op te neem sodat niemand seergemaak sou voel nie. Beteken dit dat Hy liewer vir een persoon as ‘n ander was? Nee, die ervaring wat Petrus, Jakobus en Johannes daardie dag op die bergtop gehad het, was deel van hulle opleiding vir die opdrag waartoe Jesus hulle geroep het.
Daar is ‘n les hieruit te leer. Jy moet verby ander mense se opinies beweeg. God het jou vir ‘n spesiale doel gemaak; Hy het ‘n werk vir jou wat niemand anders so goed soos jy kan doen nie. Wanneer jy weet dat iets reg is vir jou, doen dit en vertrou dat God jou in ander mense se oë sal regverdig.
Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 9; Spr 24:30-34
2023-11-02
Markus 9:23 NLV
Een dag het ‘n radelose pa by Jesus gekom en gesê: ‘…Here, kry my seun jammer! Hy kry epileptiese aanvalle en hy ly verskriklik. Baie maal val hy in die vuur of in die water. Ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie’ (Matteus 17:15-16 NLV). Let op dat hy nie een keer gesê het: ‘Miskien het my seun hierdie probleem by my geërf,’ of ‘Miskien moes ek dinge anders gedoen het,’ nie. Nee, hy het die verantwoordelikheid vierkantig op die dissipels, wat self nog in opleiding was, geplaas.
Wanneer ons moeilikheid ervaar, hou ons daarvan om die pastoor, die kerk, ons vriend, ons baas, ons familie, ons voorkoms of ons sosiale status te blameer of ‘n ander verskoning te kry. Ons is nie in staat nie of onwillig om te erken dat ons ons eie hand in die vuur gedruk het of amper verdrink het deur kop eerste in te duik wanneer ons nie kan swem nie.
Nadat Jesus die seun gesondgemaak het, het sy dissipels Hom gevra: ‘Hoekom kan ons nie dieselfde dinge doen wat U doen nie?’ (sien Matteus 17:19). Dis soos om te vra: ‘Hoekom werk my huwelik nie,’ of ‘Hoekom het ek nog steeds skuld,’ of ‘Hoekom verloop my lewe nie soos beplan nie?’ Jesus het geantwoord: ‘Julle geloof was nie sterk genoeg nie…’ (Matteus 17:20 NLV).
Soms het jy die soort geloof nodig wat jou ‘n bietjie vreemd laat lyk; die soort wat nie ander mense se goedkeuring nodig het of omgee of jy inpas of nie. Paulus het geskryf: ‘…Dan… sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Vas staan op wat? Staan op dit wat God vir jou in sy Woord gesê het, want dit is uiteindelik dit wat sal werk.
Sielskos: Sef 1-3; Joh 7:1-13; Ps 104:24-35; Spr 24:28-29
2023-11-01
2 Konings 3:25 NLV
In die Ou Testament was daar mense met slingervelle wat dit geniet het om ander mense se waterputte te blokkeer deur klippe en modder daarin te gooi – waterputte wat noodsaaklik vir hulle oorlewing was. Vandag is moddergooiers mense wat kwaadwillige aanvalle op ander maak. Die kans is goed dat jy al self ‘moddergooiers’ teëgekom het en dalk selfs deur hulle aangeval is. Wat staan jou te doen?
Vermy hulle omdat hulle gevaarlik is. Jy kan nie in die modder met ‘n vark stoei sonder om self vuil te word nie. Nie net sal die vark wen nie – hy sal die gestoei geniet!
As jy self ‘n moddergooier geword het, sal dit goed wees as jy die volgende Skrifgedeelte lees en dit in gedagte hou: ‘Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom. Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn. Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee…’ (Jesaja 58:9-11 DB).
Pas dus jou gedagtes op, want hulle word jou woorde. Pas jou woorde op, want hulle word jou aksies. Pas jou aksies op, want hulle word jou karakter. Pas ook jou karakter op, want dit bepaal die vlak van God se seën in jou lewe. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie ‘n moddergooier wees nie.
Sielskos: 1 Kron 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2023-10-31
2 Korintiërs 5:8 NLV
Soveel soos ons dit probeer vermy en so huiwerig soos ons is om daaroor te praat, moet elkeen van ons die hand van ons geliefde in die hand van die Een wat ons die liefste het, plaas. Wat gebeur egter wanneer mens doodgaan? Wat gebeur met die mens tussen die dood en Christus se wederkoms? Paulus antwoord: ‘…ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ‘n toekomsvooruitsig nie’ (1 Tessalonisense 4:13 NLV).
Die Skrif is verbasend stil oor wat met ons in die tydperk tussen ons dood en die opstanding van ons liggaam gebeur. (Dit gee ons nie genoeg inligting om ons nuuskierigheid te bevredig nie, net genoeg om ons eetlus aan te wakker). Paulus skryf: ‘Want vir my is om te lewe, ‘n lewe vír Christus, en om te sterf selfs nog beter! As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek is in ‘n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste’ (Filippense 1:21-23 NLV).
Die Bybelkenner Anthony Hoekema sê: ‘Wat Paulus hier sê is dat die oomblik as hy vertrek of sterf, hy daardie selfde oomblik by Christus sal wees.’ Op die ou einde is die hemel die grootste genesing van alles! Jou geliefdes het hier pyn gehad, maar het geen pyn daar nie. Hulle het hier gesukkel, maar het geen stryd daar nie. Jy wonder dalk hoekom God hulle huis toe geneem het, maar hulle doen nie. Hulle verstaan nou. Hulle is op hierdie oomblik in vrede in God se teenwoordigheid.
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2023-10-30
Handelinge 26:19 NLV
Wanneer God jou ‘n visie gee: 1) Sal dit jou in die rede val. Soms sal God met jou in ‘n stem praat wat jy nie kan ignoreer nie. Dinge sal nie reg verloop voordat jy vir Hom ja sê nie.
2) Dit sal jou in die kollig stel. Jy hou dalk nie van wat God sê nie. Ananias het nie daarvan gehou om vir Saul van Tarsus, ‘n man met die mag om Christene dood te maak, te gaan bid nie. God het egter gesê: ‘… Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgesoek… Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly’ (Handelinge 9:15-16 NLV). Let die woord ‘ly’ op. Die Duiwel gaan nie vir jou ‘n kaartjie van gelukwensing stuur omdat jy besluit het om God se wil te doen nie, berei jou dus op ‘n aanval voor.
3) Dit sal jou inspireer. Jy sal dinge bereik wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Kyk na Gideon. Toe God hom gevind het, was hy besig om in ‘n parskuip weg te kruip (sien Rigters 6:11). Toe die engel hom ‘n dapper man genoem het (sien vers 12), het hy geantwoord: ‘…Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (vers 15 NLV). Toe die engel vir hom sê: ‘…Die Here is by jou…’, het hy geantwoord: ‘…as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons?..’ (verse 12-13 NLV). Toe hy uiteindelik die werk aanvaar het, het hy gewonder: ‘Hoe kan so min van ons so baie van hulle verslaan?’ Tog het sy vyande op daardie presiese oomblik nagmerries oor hom gehad (sien Rigters 7:13-15). Die geheim tot oorwinning lê in die wete: ‘Dit is God wat in my werk’ (sien Filippense 2:13).
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:60-71; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27