Hy is dit alles… en meer!

2023-12-25
Jesaja 9:5 NLV

Jack Hayford het geskryf: ‘Wie is hierdie Babatjie van Bethlehem wat vlees geword het, wat liedere van engele opgeroep het, hierdie Christus van Kersfees? Hy is die Verlosser. ‘Deur die Seun het ons verlossing verkry…’ (Kolossense 1:14 NLV). Ons wat in sy Naam glo, ‘…is geskik gemaak om in die erfenis van God se mense te deel…’ (vers 12 NLV), ons is ‘…gered uit die mag van die duisternis en ons [is] oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun’ (vers 13 NLV). ‘n Prys is een keer betaal om ons vryheid, potensiaal en gemeenskap te verseker.

Hy is die Openbarer. ‘Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God…’ (vers 15 NLV). Die sluier van geheimhouding is verwyder. Niemand hoef te wonder hoe God is nie – sy Seun Jesus het gekom om sy hart, sy aard, sy weë en sy wese te openbaar. Hy is die Skepper. ‘omdat God alles deur Hom geskep het…’ (Kolossense 1:16 NLV). Alle dinge – in die hemel en op die aarde – is vir sy gebruik, plesier en heerlikheid gemaak. Hy is die Onderhouer. Hy, die Woord, het alle dinge tot stand gebring (sien Johannes 1:3) en ‘…Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand…’ (Hebreërs 1:3 NLV). Hy is die Leier. ‘Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam…’ (Kolossense 1:18 NLV). Hy het hierdie posisie verkry as gevolg van sy bewese krag en gesag wat in sy opstanding gedemonstreer is. Hy wat alle wesens en magte geskep het (sien v. 16) het Homself binne sy eie skepping ingeperk en vrywillig aan die dood onderwerp (sien Filippense 2:6-9). Tot die hel se ontsteltenis het Hy egter uit die dood opgestaan, aan die Kerk geboorte gegee, en is nou Here oor alles.’

Sielskos: Jes 9:1-7; Luk 2:1-20; Miga 5:2-5a

‘n Hele nuwe benadering

2023-12-24
Johannes 1:14 NLV

Toe die engel vir Maria besoek het, het hy gesê: ‘Moenie bang wees nie, Maria… want God het besluit om jou te seën!’ (Lukas 1:30 NLV). Tog, wanneer dit daarby kom om God direk te nader, word baie godsdienste deur vrees geregeer.

Philip Yancey sê: ‘Die Jode het verseker vrees met aanbidding geassosieer. ‘n Persoon wat met ‘n direkte ontmoeting met God ‘geseën’ is, het verwag om verskroei, gloeiend of dalk half kreupel soos Jakob daaruit te kom. Onder mense wat ‘n aparte heiligdom vir God in die tempel afgebaken het en nie sy naam wou uitspreek of spel nie, het God ‘n verrassende verskyning as baba in ‘n stal gemaak. In Jesus het God ‘n manier gevind om met mense in ‘n verhouding wat nie vrees behels nie, te staan. ‘n Nuwe Verbond wat nie die kloof tussen God en die mensdom sou beklemtoon nie, maar dit eerder sou oorbrug.

Ek het van vleeswording geleer toe ek ‘n soutwater-akwarium aangehou het. Jy sou dink, in die lig van al die energie wat ek op hulle bestee het, dat my visse darem dankbaar sou wees. Dit was egter nie die geval nie. Elke keer as my skaduwee bo die tenk opgedoem het, het hulle vinnig weggeswem om skuiling te soek. Om hul persepsie te verander sou ek ‘n vis moes word en met hulle in ‘n taal wat hulle kon verstaan, moes ‘praat’. ‘n Mens wat ‘n vis word, is niks in vergelyking met God wat ‘n baba geword het nie. Tog is dit wat in Bethlehem gebeur het. God het ‘n storie, deur regte karakters te gebruik, op die bladsye van die regte geskiedenis, geskryf. Die Woord het vlees geword.’

Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 1:39-56

Stille Nag?

2023-12-23
Lukas 1:31 NLV

Ons sing die woorde van hierdie Kerslied al van kindsbeen af. Die woorde van die lied kom egter nie uit die Skrif nie. ‘Stille Nag’ is ‘n gedig wat deur ‘n Oostenrykse priester in 1816 geskryf is. Die woorde roep ‘n rustige prentjie met die gelukkige paartjie wat hul pasgebore baba dophou, op.

Dit is egter onwaarskynlik dat daar stilte was. Na ‘n uitputtende reis op ‘n donkie, het Josef en die hoogswanger Maria nie by die grootste kamer van die Bethlehem Grand Hotel ingeboek nie. Hulle het gesmeek dat hulle die stal, kompleet met die gekletter en geure van staldiere kon gebruik – wat alles behalwe stil was! Vra enige ma uit oor geboorte. Selfs met die hulp van moderne pynstillers en gesteriliseerde omgewings bly die dapperste vrou selde stil terwyl sy geboorte skenk. Dit was kwalik ‘n stille nag vir Maria, Josef en Jesus!

Heilige nag: Van al die nagte in die geskiedenis, was hierdie die heiligste. God het sy ewige plan om aarde toe te kom as die Verlosser van verlore mense in werking gestel. ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie…’ (2 Korintiërs 5:19 NLV). Jesus het gekom om die sondes van die verdoemde mensdom op Homself te neem, sodat ons: ‘…op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (vers 21 NLV).

Op hierdie heiligste nag is ons geestelike en morele donkerte vir ewig deur Jesus, die Lig van die wêreld, verdryf. Ons vrese as verlore sondaars is deur die vrede en vreugdevolle versekering dat ons sy ewige vergewe volk is, vervang.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 19:31-42; Ps 128; Spr 31:10-13

‘Sal die ware Jesus asseblief opstaan?’

2023-12-22
Johannes 13:35 NLV

Het jy die plakkaat gesien wat drie mans, wat elkeen ‘n ander weergawe van Jesus voorstel uitbeeld? Die eerste lyk soos ‘n onbeskofte man, die tweede is bruingebrand en atleties, die derde is ‘n klein, sagmoedige karakter. Die byskrif daaronder sê: ‘Sal die ware Jesus asseblief opstaan?’

Die ware Jesus staan in Johannes 13 op. Hy vertel vir ons wat vir Hom die belangrikste is en wat vir ons die belangrikste moet wees – en dit is liefde! In die bovertrek het Jesus besef dat sy tyd min was. Die kruis het gedreig, Judas was op die punt om Hom te verraai en Hy moes sy dissipels voorberei om sonder Hom voort te gaan. Dis soos om ‘n pastoor te vra: ‘As jy net een laaste preek oorgehad het, wat sou jy sê?’ Of soos om vir ‘n onderwyser te vra: ‘Watter een groot waarheid sal jy die graagste vir jou studente wou leer?’ Of om vir ouers te vra: ‘As jy vir jou kinders net een ding kon sê, wat sou dit wees?’

Jesus spel dit uit: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (verse 34-35 NLV).

Soos ‘n laaste testament, is Jesus se finale boodskap belangrik, nie net vanweë die inhoud daarvan nie, maar vanweë die toon en tydsberekening daarvan. Dit som sy lewe en ons verantwoordelikheid teenoor God en ander mense op – om hulle lief te hê! Aangesien liefde nie is wat jy sê nie, maar wat jy doen – gaan vandag uit en vind praktiese maniere om God se liefde aan diegene wat jy ontmoet uit te druk. Hulle sal goed voel, en jy sal ook.

Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:17-30; Ps 47; Spr 31:6-9

Begin doelbewus lewe

2023-12-21
Spreuke 11:25 DB

Een van die beste maniere om jou lewe in balans te hou en geestelik op die regte pad te bly, is om dit wat jy weet aan ander oor te dra. Die Bybel sê: ‘…Wie die nood van die gemeenskap raak sien, word deur almal geëer.’ Soos jy jou insigte oordra, sal jy meer insigte van God kry. Paulus het Timoteus uitgedaag: ‘…Leer hierdie groot waarhede aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee’ (2 Timoteus 2:2 NLV).

As jy mense ken wat nog nie hulle Godgegewe doel in die lewe ontdek het nie, is dit jou werk om met hulle te deel wat met jou gedeel is. Moet byvoorbeeld nie net hierdie dagstukkie lees en dit vir jouself hou nie, deel dit met jou vriende. Hoe meer jy weet, hoe meer verwag God van jou om daardie kennis te gebruik om ander te help. Dis hoe dinge veronderstel is om in sy koninkryk te werk. Jakobus skryf: ‘Hou in gedagte: As ‘n mens weet wat reg is en dit nie doen nie, is dit sonde’ (Jakobus 4:17 NLV).

Om die doel van die lewe oor te dra is meer as net ‘n verpligting; dis een van ons grootste voorregte. Dink jou in hoe anders die wêreld sou wees as almal hulle roeping geken het. Dis hoekom Paulus skryf: ‘As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ‘n waardige dienaar van Christus Jesus…’ (1 Timoteus 4:6 NLV). Nie net wil God hê dat ons sy doelwitte moet uitleef nie, Hy wil hê dat ons ander moet help om dieselfde te doen. Ongeag jou ouderdom, kan die res van jou lewe die beste van jou lewe wees as jy hierdie een ding doen – doelbewus begin lewe!

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:1-16; Ps 12; Spr 31:1-5

Koester hulle

2023-12-20
Spreuke 4:3 NLV

Vir jou kind om later in die lewe fisies en emosioneel te floreer, moet jy hulle gedurende hulle vroeë en formatiewe jare koester. Gesondheidskundiges sê deesdae dat dit inderwaarheid noodsaaklik vir hulle oorlewing is. Een Christelike leier skryf: “‘n Studie wat aan die Harvard Universiteit gedoen is, toon onmiskenbaar dat die kwaliteit van die band tussen ‘n seun en sy ma verband hou met sy fisiese gesondheid en welstand veertig of vyftig jaar later. Merkwaardig genoeg het 91 persent van mans wat gesê het dat hulle nie ‘n noue verhouding met hul moeders gehad het nie, teen hul middeljare hartsiektes, hipertensie, maagsere of alkoholisme ontwikkel. Slegs 45 persent van die mans wat moederlike warmte en nabyheid onthou het, het soortgelyke siektes gehad.

Dieselfde was waar van mans en hul verhoudings met hulle pa’s. Oorweeg ook die volgende: 100 persent van die deelnemers aan hierdie studie wie se moeders en vaders koud en afgetrokke was, is in hul middeljare met talle siektes gediagnoseer. Kortom, die kwaliteit van vroeë verhoudings tussen seuns en hul ouers is ‘n kragtige voorspeller van lewenslange gesondheid. Jy kan seker wees dat dieselfde vir meisies en vroue geld. Dit kom hierop neer: Waar daar nie aan vroeë behoeftes voorsien word nie, is moeilikheid die voorland.”

Salomo, een van die wysste mans wat ooit gelewe het, het gesê: ‘Ek was self ook ‘n kind van my pa, die enigste oogappel van my ma.’ Dawid en Batseba was Salomo se ouers en die verhaal van hulle verkeerde optrede is vir ons almal om te lees neergeskryf. Toe dit egter by die grootmaak van hulle seun Salomo gekom het, het hulle dinge reg gedoen. Deur God se genade kan jy dieselfde doen.

Sielskos: Neh 11-13; Joh 18:25-40;Ps 4; Spr 30:29-33