2023-12-31
Jeremia 9:24 NLV
God sê: ‘…Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie. Sterk mense moenie grootpraat oor hulle krag nie. Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie. Laat hulle wat wil spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp…’ (verse 23-24 NLV). Die waarheid is dat as jy God nie ken nie, maak dit nie saak hoeveel geld in jou rekening is, watter diplomas op jou muur hang of watter posisie jy in die maatskappy beklee nie. Totdat jy ‘n verhouding met God het, het jy nog nie waarlik begin lewe nie!
‘n Deel daarvan om Hom te leer ken, is om die waarheid oor jouself te leer. Nadat hy gesien het hoe Christus ‘n wonderwerk doen, het Petrus erken: ‘…ek is ‘n te groot sondaar…’ (Lukas 5:8 NLV). Toe die profeet Jesaja die Here op sy troon gesien het, het hy uitgeroep: ‘…Ellende het my getref!…’ (Jesaja 6:5 NLV).
God vertel jou egter nie die waarheid oor jouself en los jou dan net so nie. Nee, soos ‘n goeie dokter sê Hy vir jou jy is siek, sodat jy die regte behandeling kan ontvang. Die regte behandeling vir sonde is verlossing deur die bloed van Jesus. Jy sal nooit God ken totdat jy met Hom deur Jesus Christus verbind is nie.
As jy Hom dus nog nooit as jou Redder aanvaar het nie, begin die nuwe jaar deur te bid: ‘Here, ek bely en draai weg van my sonde af. Ek plaas my lewe in u hande en vertrou U as my Here en Redder. Deur geloof ontvang ek die gawe van ewige lewe. Ek vra U om my van vandag af te lei en te rig en u wil deur my te vervul. In Jesus se Naam bid ek dit: Amen’ Voorspoed vir die nuwe jaar!
Sielskos: Fil 3:8-14; 2 Kor 5:14-21; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12
2023-12-30
Eksodus 31:2 NLV
Die eerste persoon wat in die Bybel genoem word wat met die Gees van God vervul was, is Besaleël. As sy naam nie ‘n klokkie lui nie, is dit omdat hy nie ‘n profeet, priester, koning of apostel was nie. Hy was ‘n ambagsman wat vaardig in ontwerp was. Hy het ‘n oog vir kleur en ‘n aanvoeling vir bestuur gehad en toe dit tyd was om die tabernakel te bou, het hy die projek bestuur.
Hier is wat God oor hom gesê het: ‘Ek het Besaleël… gekies. My gees gee vir hom kennis en begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan doen. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene sny en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak’ (Eksodus 31:2-5 NLV).
Dink jouself in dat jy Besaleël is. Van kleins af is jy lief daarvoor om met jou hande te werk. Jy weet nie dat God daarby betrokke is nie – maar Hy is! Hy het inderwaarheid daardie begeertes binne-in jou geplaas. Wanneer jy werk, is die vreugde wat jy voel eintlik die teenwoordigheid van God. Jy het sekere sterkpunte waarmee jy gebore is. Hulle sal altyd jou sterkpunte wees en jy put plesier daaruit. Wonderlike dinge gebeur wanneer jy daardie sterkpunte ontdek, hulle begin gebruik en daarop fokus om hulle te verbeter.
Wanneer jy in jou Godgegewe plek is en met jou Godgegewe sterkpunte werk, is jy op jou beste. Wanneer dit gebeur, word jy en almal rondom jou geseën. Die punt is: in God se plan, was Besaleël net so belangrik soos Moses. Hou dus moed; dit wat jy doen, maak saak!
Sielskos: Mal 3-4; Joh 21:15-25; Ps 139:13-24; Spr 31:28-31
2023-12-29
1 Korintiërs 4:2 NLV
Die meeste volwassenes bestee omtrent die helfte van die dag by die werk. Jou werk is ‘n groot deel van God se plan vir jou lewe. Hy het ‘n spesifieke roeping net vir jou ontwerp waaruit jy persoonlike vervulling sal kry, in die behoeftes van jou familie kan voorsien en wat sal help om sy doelwitte op aarde te vervul.
Die vierde gebod sluit al sewe dae van die week, nie net die Sabbat nie, in. ‘Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan… Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak…’ (Eksodus 20:9,11 NLV). Soms hoor jy ‘n preek wat jou laat skuldig voel omdat jy nie die Sabbat onderhou nie, maar het jy al ooit ‘n preek gehoor wat jou laat skuldig voel omdat jy nie die ses-dag werkweek onderhou nie?
Die punt is dat net soos God die Sabbat gemaak het en lief is daarvoor, so het Hy ook werk gemaak en is Hy lief daarvoor. Die Bybel sê: ‘…die koningsheerskappy van God is hier by julle’ (Lukas 17:21 NLV). Of jy nou ‘n slagter, ‘n bakker of ‘n kersmaker is, daar word van jou vereis om integriteit in die werkplek te demonstreer.
Dis vernederend wanneer nie-gelowiges sê: ‘Ek sal nooit weer besigheid met ‘n Christen doen nie.’ Jy moet strewe om uitnemend in jou werk te wees. Dinge soos laat kom, die horlosie dophou, rondsit en niksdoen, skinder, flankeer en slegpraat van jou baas moet geen plek in jou lewe hê nie. Die Bybel sê: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.’ Jy moet die volgende bid wanneer jy werk toe gaan: ‘Here, vandag wil ek goeie werk doen en sodoende u Naam verheerlik.’
Sielskos: Mal 1-2; Joh 21:1-14; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27
2023-12-28
Prediker 9:10 NLV
Jy sal oplet dat almal in die Bybel werk! Die meeste van die helde in die Bybel het sekulêre beroepe gehad. Isak het eiendom ontwikkel. Jakob was ‘n boer, Josef het God die beste gedien deur in sy goedbetaalde staatspos te bly eerder as om ‘n nie-winsgewende, geloofsgebaseerde organisasie te begin om liefdadigheidswerk te doen. Daniël was ‘n immigrant wat Babel se weergawe van Oxford Universiteit bygewoon het en tot eerste minister bevorder is. Lydia was ‘n winsgewende sakevrou wat in tekstiele handel gedryf het. Jesus, die timmerman, is moontlik die grootste uitdrukking van hoeveel God werk waardeer. Vir meer as driekwart van sy lewe het Jesus in die boubedryf gewerk, tafels en bankies gemaak en was heel waarskynlik by konstruksiewerk betrokke. Die woord waaruit ons ‘timmerman’ vertaal, kom van die Griekse woord tektón af, waaruit ons ook die woord tegnologie kry en bevat die vermoë om klip- of messelwerk te doen.
Die Bybel is deur werkers, oor werkers en vir werkers, neergeskryf. Werk was God se idee. ‘Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg’ (Genesis 2:15 NLV). Die eerste man, Adam, was ‘n tuinargitek. Deur te identifiseer waarvoor jy in die lewe geroep is en jouself ten volle daaraan oor te gee, is jy net so ‘geroepe’ soos enige dominee wat op ‘n preekstoel staan.
Dis jammer dat ons die woord ‘sekulêr; gebruik om enige werk wat nie vir die kerk gedoen word nie te beskryf, want God sien dit nie so nie. Alle eerlike werk kry sy glimlag van goedkeuring. Wanneer dit by werk kom, is dit wat Hy van jou vereis, in hierdie woorde vervat: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’
Sielskos: Sag 10-14; Joh 20:19-31; Ps 97; Spr 31:22-24
2023-12-27
Genesis 1:28 NLV
Die eerste opdrag wat God vir Adam en Eva gegee het, was om die aarde te vul en daaroor te heers. Adam en Eva is uit die Tuin van Eden verban, maar hulle was nie tot die Tuin van Eden beperk nie. God het vir hulle gesê: ‘…vul die aarde… en heers… [daar]oor…’
Dink daaroor. God het Adam en Eva uitgenooi om die aarde te verken. Alles buite die Tuin van Eden was onbekende gebied. Hulle kon 24,759 myl in enige rigting reis en nooit dieselfde landskap twee keer sien nie. Daar was 196,949,970 vierkante myl wat hulle kon verken. Een manier hoe ons God verheerlik, is om te verken en onsself oor alles wat Hy geskep het, op te voed.
Een skrywer verduidelik: ‘Die sterrekundige wat die sterre karteer, die genetikus wat die menslike genoom ondersoek, die navorser wat ‘n kuur vir Parkinson se siekte soek, die oseanograaf wat die rif verken, die ornitoloog wat skaars voëlspesies bestudeer en bewaar, die chemikus wat molekulêre strukture opskryf en die teoloog wat God bestudeer, het almal een ding in gemeen. Almal van hulle is verkenners. Hulle vervul die opdrag in Genesis. Hulle verkenning eer God as dit vir die regte redes gedoen word en die regte reaksie tot gevolg het: om Hom te ken en Hom te prys.’
Daar sal altyd sommige wetenskaplikes wees wat tot ateïstiese gevolgtrekkings kom. Eerder as om die wetenskap te laat vaar, is ons egter geroep om dit terug te eis. As God alles geskep het, dan dra alles sy heilige vingerafdruk. Alle waarheid is God se waarheid. Abraham Kuyper het gesê: ‘Daar is nie een vierkante duim van die hele skepping waaroor Jesus Christus nie uitroep: ‘Dit is Myne! Dit behoort aan My!’ nie.
Sielskos: Sag 6-9; Joh 20:10-18; Ps 117; Spr 31:18-21
2023-12-26
Lukas 2:20 NLV
‘n Vroeë pionier wat oor die Groot Vlaktes gereis het, het by die rand van die Grand Canyon gestop. Verbaas om ‘n groot kloof van een myl diep en agtien myl breed wat buite sig strek te ontdek, het hy uitgeroep: ‘Iets moes hier gebeur het!’
Soos Haddon Robinson opmerk: ‘Met Kersfees sal enigiemand wat stilhou om te kyk en luister vra waaroor die gewoel gaan. ‘n Nadenkende man of vrou wat die ligte, versierings, feestelikhede en godsdienstige dienste sien kan ook tot die gevolgtrekking kom: ‘Iets moes hier gebeur het!’ Iets het natuurlik gebeur. Ons moet die wêreld vertel dat God ons planeet kom besoek het. Sy Seun het gekom om God aan ons te openbaar en vir ons sondes te sterf (sien Johannes 1:1-14). Hy het tussen ons geleef sodat ons vir ewig saam met Hom kan leef.’
Toe die skaapwagters die Messias in die krip gevind het, was hulle verwonderd, want dis was ‘…net soos die engel gesê het’ (Lukas 2:20 NLV). Gevolglik het hulle ‘…teruggegaan… terwyl hulle God loof… oor wat vir hulle vertel [is], en omdat hulle die Kind gesien het…’ Hulle het na hulle weivelde en kuddes met nuwe energie teruggekeer. Hulle moes egter steeds teruggaan.
Jon Walker skryf: ‘Nadat ons die geboorte van Jesus gevier het, keer ons na die dinge wat ons gewoonlik doen, terug. God neem ons na die bergtoppe toe en wys vir ons groot wonderwerke en wonders, maar Hy los ons nie daar nie. Dis in die veld en tussen die kuddes wat ons geloof groei. Die konflikte oor wie die gemors skoonmaak, wie vroeg huis toe kan gaan, of wie die grootste stukkie tert kry, toets of dit werklik Christus is wat in ons woon.’
Sielskos: Sag 1-5; Joh 20:1-9; Ps 113; Spr 31:14-17