2023-11-10
Efesiërs 5:17 DB
Om God se plan vir jou lewe te vervul, moet jy die volgende doen:
1) Beplan jou dag. Beplan hoe jy jou tyd gaan bestee en hou daarby. Net een uit elke drie mense doen dit. Een leierskapskundige sê: ‘Dis min dat ek in die oggend opstaan en wonder wat ek daardie dag moet doen.’ Dis hoekom hy ‘n leier – en ‘n kundige! – is.
2) Doen die eerste dinge eerste. Goethe het gesê: ‘Dinge wat die meeste saak maak, moet nooit aan die dinge wat die minste saak maak, uitgelewer wees nie.’ Die meeste van ons kom eers in die middag by die belangrikste take uit. Ons maak take wat ‘n lae prioriteit is eerste klaar sodat ons kan voel ons het iets bereik. Dis egter nie wys nie. As jy jou dag beplan en nie daarby hou nie, sal jou resultate dieselfde wees as diegene wat glad nie ‘n plan het nie.
3) Wees gefokus, maar buigbaar. Verwag die onverwagte en leer om aan te pas. Omstandighede verander voortdurend, dus moet jou metodes om dinge klaar te maak ook verander.
4) Leer om te delegeer. Mense val in twee kategorieë: die wat vasklou en die wat afpak. Diegene wat vasklou weier om enigiets wat hulle belangrik ag, te laat gaan, of hulle nou die regte persoon vir die werk is of nie. Diegene wat afpak, is egter vinnig om take uit te deel sonder om te dink hoe goed die werk gedoen word. Hulle doel is om die werk so gou as moontlik van hulle lessenaars af te kry. Behoorlike delegering vereis dat jy wys moet wees, seker moet wees wie jy is en vrygewig teenoor ander moet wees. Dit beteken ook dat die werk reg gedoen word – op die ou einde is dit wat jy wil hê.
Sielskos: 1 Kron 1-2; Joh 8:21-30; Ps 115; Spr 25:23-25
2023-11-09
Psalm 19:8 NLV
Die advertensiebord buite ‘n klein plattelandse kerkie het gelees: ‘Jesus het gesê …’ Dis dit – niks anders nie! Natuurlik is die werknemer onderbreek voordat hy die werk voltooi het, wat die onvolledige boodskap vir verbygaande bestuurders gelaat het om self te voltooi. Ongetwyfeld sal sommige bestuurders min daarvan gedink het. Die meer Bybels-gesinde bestuurders kon dalk deur hulle geheue vir die regte antwoord gesoek het. Sommige mag dalk gedink het dat die werknemer ‘n geleentheid verbeur het om woorde te verkondig wat lewens kon verander. Jesus het gesê: ‘…Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV).
Dawid het die wonderlike voordele van God se Woord verstaan. In Psalm 19:8-12 sê hy vir ons dat God se Woord noodsaaklik vir die volgende is: 1) ‘Dit gee nuwe lewenskrag.’ God se Woord is onuitputlik, maar ons is nie! Ons sloof onsself met tyd en moeite af en het herstel en herlewing nodig.
2) ‘Dit maak die eenvoudige verstandig.’ God se Woord gee jou insigte vir belangrike besluite wat jy elke dag moet neem. Dit verg nie ‘n hoë IK nie; die Bybel is vir gewone mense. Dawid het gesê: ‘Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele’ (Psalm 119:99-100 NLV).
3) ‘Dit bring vreugde vir die hart.’ Geluk hang daarvan af of jy die regte mense en omstandighede in jou lewe het. Vreugde is egter anders; jy verkry dit deur volgens die Skrif se beginsels te lewe.
4) ‘Dit gee insig vir die lewe.’ Wanneer jy ‘n probleem in jou persoonlike lewe, by die huis of by die werk ervaar, bied God se Woord jou ‘insig vir die lewe.’ Dis jou handboek vir die lewe!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 8:12-20; Ps 15; Spr 25:21-22
2023-11-08
Amos 3:3 NLV
As jy wil weet hoe die persoon met wie jy trou oor vyf-en-twintig jaar gaan lyk, kyk net na hulle ouers om ‘n idee te kry. Gereelde oefening en ‘n goeie dieet sal jou net so ver bring, dan begin Moeder Natuur en Vader Tyd hulle tol eis. Die waarheid is dat ‘n mooi voorkoms julle dalk saam gebring het, maar dat slegs toewyding en ‘n gedeelde geloof julle bymekaar sal hou!
Die Bybel sê: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duister? Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?’ (2 Korintiërs 6:14-15 NLV).
Dit beteken nie dat julle twee identiese sienings oor elke saak moet hê of julle geloof op dieselfde manier moet uitoefen nie. Julle het egter dieselfde waardes en sienings rakende die grondbeginsels van julle geloof nodig – hoe julle God, die rol van die kerk en persoonlike praktyke sien.
Geloof is daardie onbeskryflike krag, daardie geheime wapen van die siel wat ons toelaat om selfs wanneer die feite verdoemend en die waarheid ondraaglik lyk, te volhard. Dis wat ons in staat stel om voort te gaan wanneer ons nie seker is ons kan nog ‘n tree gee nie. Dis die lig wat ons uit die donkerte lei en die kaart wat ons pad rig. Sonder geloof sou ons seker langs die pad stilhou, tou opgooi en kyk hoe almal anders ons verbysteek. Wanneer ons egter op die Here vertrou en glo dat Hy ons sal lei, is daar amper niks wat ons nie kan weerstaan of saam kan deurmaak nie.
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 8:1-11; Ps 123; Spr 25:18-20
2023-11-07
Matteus 19:5 NLV
Om kinders te laat gaan, is een van die moeilikste fases van ouerskap. Erma Bombeck vergelyk dit met iemand wat ‘n vlieër vlieg. ‘Ma en Pa hardloop in die pad af in die hoop om ‘n briesie te vang. Uiteindelik en met baie moeite, kry hulle dit reg om die vlieër ‘n paar meter in die lug te hys. Net wanneer hulle dink dit is veilig en aan die gang, dreig groot gevaar. Dit duik na elektriese drade en draai gevaarlik naby die bome. Dit is ‘n skrikwekkende oomblik. Dan, onverwags, vang ‘n rukwind die vlieër en dra dit opwaarts. Ma en Pa begin so vinnig as wat hulle kan die lyn voer. Die vlieër word dan moeilik om vas te hou. Ouers bereik die einde van hul lyn en begin wonder wat om volgende te doen. Die vlieër vra meer vryheid. Dit styg al hoe hoër. Pa staan op sy tone om dit te probeer akkommodeer. Die tou word tussen sy wysvinger en duim vasgegryp en uitgestrek boontoe gehou. Dan kom die oomblik van vrylating. Die tou glip deur sy vingers en die vlieër sweef majestueus in God se pragtige lug in. Die vlieër is nou ‘n blote punt van kleur in die lug. Die ouers is trots op wat hulle gedoen het – maar hartseer om te besef dat hulle werk klaar is. Dit was ‘n liefdesarbeid. Maar waar is die jare heen?’
Ouerskap is ‘n opwindende en vreesaanjaende ervaring, een wat van die begin af so beskik is. Met die uiteindelike vrylating is jou taak as ouer voltooi. Die vlieër is vry en vir die eerste keer in twintig jaar of so, is jy ook. Wat is volgende? Vra God; Hy het ‘n plan vir jou lewe.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:45-53; Ps 30; Spr 25:13-17
2023-11-06
Johannes 19:30 NLV
Een van Christus se laaste verklarings op die kruis was: ‘…Dit is nou afgehandel!..’ Daardie frase bestaan uit net een woord in Grieks, tetelestai, wat ‘ten volle betaal’ beteken. Dit is die woord wat handelaars op ‘n rekening geskryf het as dit gekanselleer is. Jesus het die volle prys vir elke sonde wat jy nog ooit gepleeg het, betaal! ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV).
Die vraag is, as God jou sonde die oomblik wat jy dit bely vergeet, dink jy nie jy moet dit ook vergeet nie? Hoe lank dink jy aan ‘n faktuur nadat jy dit betaal het? Jy vergeet dit minute nadat jy dit betaal het. Soortgelyk, aangesien Christus jou rekening ten volle betaal het, hoef jy dit nie meer te onthou nie. Paulus, wat homself een keer as die ergste sondaar van almal (sien 1 Timoteus 1:15) beskryf het, het geskryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ (Filippense 3:13-14 NLV).
Ons kan God se krag in ons lewens kortwiek deur nie te vertrou dat Hy ons werklik vergewe het of deur te besluit om onsself nie te vergewe nie. Hoekom doen ons dit? Soms gebeur dit oor die manier hoe ons grootgemaak is. Ons ouers het vir ons gesê: ‘Ek vergewe jou,’ maar aanhoudend weer melding daarvan gemaak. Jou hemelse Vader is egter anders as jou aardse ouers. Wanneer Hy jou sondes vergewe, wis Hy jou klagstaat uit, kanselleer jou verlede, vergeet dit, praat nie daaroor nie en sal dit nooit weer noem nie. Aanvaar dus vandag sy vergifnis. Indien nodig, vergewe ook jouself en beweeg aan.
Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:33-44; Ps 86; Spr 25:8-12
2023-11-05
Jeremia 31:34 NLV
Het jy al ooit kinders wat met ‘n swartbord en kryt speel, dopgehou? As hulle ‘n gemors van hulle prentjie maak, hoef hulle dit net uit te vee en oor te begin. Dis hoe God die foute wat jy in die verlede gemaak het, hanteer. Hy vee die lei skoon. ‘…Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.’
Dit moet een van die wonderlikste stellings in die Bybel wees – dat God nooit eers weer aan ons sondes dink nie. Wanneer ons ons sondes erken en God vra om ons te vergewe, kanselleer Hy ons verlede. Hy kies om al ons verkeerde dade, foute en mislukkings te vergeet. Selfs as ons vanaand sou sterf, voor God in die hemel staan en Hom vra oor ‘n sonde wat ons gister gepleeg het, sou Hy sê: ‘Watter sonde?’
Wanneer jy jou sonde ontken, ontneem jy God van die vreugde om jou te vergewe. Wanneer jy jou sonde probeer verskoon, laat God toe dat die nagevolge daarvan so pynlik word dat jy daarvan wil wegdraai. Wanneer jy egter jou sonde bely: ‘…Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
Die Verlore Seun het sy pa se hart gebreek, sy erfgeld uitgemors en in ‘n varkhok opgeëindig. Hy het egter sy lewe omgedraai! Sy lewe het weer met die volgende woorde begin: “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘…Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa'” (Lukas 15:17-18 NLV). Wat sy pa vir hom gedoen het, sal God ook vandag vir jou doen.
Sielskos: Joël 2:12-32; Mark 9:2-27