Kies die regte mense

2023-11-16
1 Kronieke 11:10 NLV

Om sukses in enige projek te behaal, moet jy jouself met die regte mense omring. Dis hoekom jy altyd God se insette in jou verhoudings moet soek. Rehabeam moes na die raad van sy vader Salomo se wyse en ervare binnekring geluister het. In plaas daarvan het hy na diegene wat met sy eie opinie saamgestem het, geluister – wat noodlottige gevolge gehad het. Dawid, aan die ander kant, het mense gekies wat sy uitnemendheid help bevestig het. ‘Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Saam met die hele Israel het hulle Dawid koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het’ (vers 10 NLV).

Let vier belangrike dinge hier op: 1) Dawid het ‘n sterk binnekring gebou nog voordat hy dit nodig gehad het. Hy het sy span lank voor hy gekroon is, byeen gebring.

2) Hy het mense met verskillende gawes gekies. Hy het na hulle toe uitgereik, hulle beloon en hy is nie deur diegene wie se vaardighede van syne verskil het, geïntimideer nie. Met die hulp van hierdie ‘magtigste manne,’ het Dawid vir enigiets gereed gevoel.

3) Hy het lojaliteit ontwikkel. Hy het mense nader getrek, sy lewe met hulle gedeel en op die ou einde was hulle bereid om hulle lewens vir hom neer te lê.

4) Hy het verantwoordelikheid gebaseer op vaardigheid, gedelegeer. Omdat hy seker van sy eie identiteit en roeping was, was Dawid nie bang om gesag en verantwoordelikheid aan diegene rondom hom te delegeer nie. In die begin het sommige van sy magtige manne nie ingepas nie, maar hy het hulle in ‘n wenspan verander (sien 1 Samuel 22:1-2).

Dawid het sy binnekring besonders gemaak en in ruil daarvoor het sy binnekring hom besonders gemaak. Die woord vir jou vandag is dus – kies die regte mense!

Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22

Moenie uitbrand nie (3)

2023-11-15
Jesaja 30:15 NLV

Uitbranding word deur onbetrokkenheid en stres deur oorbetrokkenheid gekenmerk. Met uitbranding word jou emosies afgestomp; stres maak dit ooraktief. Uitbranding veroorsaak emosionele skade; stres veroorsaak hoofsaaklik fisiese skade. Uitbranding affekteer jou motivering en dryfkrag; stres affekteer jou fisiese energie. Depressie as gevolg van uitbranding ontstaan uit die verlies van hoop en ideale; stresverwante depressie ontstaan uit jou liggaam se behoefte om energie te bespaar en homself te beskerm. Uitbranding wakker hulpeloosheid en hopeloosheid aan; stres wakker dringendheid en hiperaktiwiteit aan. Uitbranding veroorsaak onbetrokkendheid; stres produseer paniek, fobies en angstigheid. Uitbranding mag jou dalk nie doodmaak nie, maar dit laat jou voel of die lewe nie die moeite werd is nie. Wat is dus die antwoord? God het gesê: ‘…Deur berou en tot rus te kom, sal julle gered word…’

Bev Murril het geskryf: ‘Diegene van ons in die bediening hardloop op ons eie baie ‘belangrike’ trapmeule. Soos die leier dit doen, so doen die volgelinge dit ook. Dis ‘n enorme verantwoordelikhied. Diegene van ons wie se rol dit is om ander mense te beïnvloed, moet bewus wees van dit wat ons sê of doen, want ons sal strenger as ander beoordeel word (sien Jakobus 3:1 NLV). Ons is almal moeg daarvoor dat invloedryke Christene se verkeerde gedrag diegene wat hulle as leiers vertrou, benadeel. Of dit nou seksuele sonde, woede, eiegeregtigheid of oneerlikheid is; ons moet onsself ondersoek in plaas daarvan om vinger te wys en te beskuldig. Bestee tyd saam met die Een wat die vermoë het om ons tot op die been te stroop. Dit is maklik om jou eie publisiteit en ander mense se opinies van jouself te begin glo. Slegs God se opinie tel egter en jy moet die tyd neem om te stop en te hoor wat Hy vir jou wil sê.’

Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Joh 9:13-23; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16

Moenie uitbrand nie (2)

2023-11-14
1 Timoteus 1:12 NLV

Nog ‘n vorm van uitbranding is ‘deernis moegheid’ en mense wat ander mense help, is die meeste geneig om dit te kry. Simptome sluit in die geloof dat jy nie meer effektief is nie, dat jy jouself en ander met afsydigheid behandel, jouself van jou verantwoordelikhede onttrek, sosiale en interpersoonlike kontak vermy en oorwonne voel. As jy ‘n tipe-A persoonlikheid het, loop jy nog ‘n groter risiko om uit te brand.

Een berader sê: ‘Gedrewe mense ly dikwels aan ‘adrenalienverslawing’ en soek maniere om klein oplewings daarvan te kry, soortgelyk aan die gevoel wat mense uit alkohol, kafeïen en nikotien kry, behalwe dat hulle die gevoel kry deur mense te beheer en komplekse besluite te neem. Geestelike oorsake van stres sluit seksuele versoeking, woede, wanhoop, jaloesie op ander mense se sukses en angs oor finansies, in. Pastore word dikwels op troontjies geplaas en daar kan nie aan die verwagtinge wat daarmee gepaard gaan, voldoen word nie.

In ‘n poging om dus aan hierdie verwagtinge te voldoen, raak hulle te doelgerig vir hul mense, of te akkommoderend in terme van geestelike traagheid, hulle word perfeksioniste, oorontwikkel die een kant van hul bediening of identifiseer so nou met hul roeping dat dit uitmekaar val. Jou liggaam gee vir jou waarskuwingstekens: slapeloosheid, spysverteringsprobleme, hoofpyne, moegheid, spierspanning, tande wat kners en hoë bloeddruk. Ongelukkig veroorsaak dit selde dat die slagoffer afskaal – totdat ‘n maagseer, beroerte of hartaanval plaasvind.

As pastoor moet jy net soveel tyd met die sterkes as met die swakkes bestee; hulle gee jou krag en ondersteuning; kan vir die bediening opgelei word en meer hande verhoog die geestelike en emosionele gesondheid van jou kerk.’

Sielskos: 1 Kron 7:20-9:44; Joh 9:1-12; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12

Moenie uitbrand nie (1)

2023-11-13
Spreuke 20:6 NLV

Pastoor Rowland Croucher skryf: ‘Die kinders is skool toe, my vrou is werk toe en ek het iets gedoen wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Ek het my foon afgesit, ‘n nota op die deur gesit en weer in die bed gaan klim. Ek was uitgebrand. Binne twee maande het ek uit my bediening bedank. Drie uit vier pastore ondervind woede, depressie, vrees en vervreemding. Die redes daarvoor sluit ‘n verskil tussen idealistiese verwagtinge en die harde werklikheid; ‘n gebrek aan grense; werkverslawing; gevoelens van onbevoegdheid; konflik tussen om ‘n leier en terselfdertyd ‘n dienaar te wees; om te sorg dat magtige gemeentelede nie ontsteld raak nie; en eensaamheid (pastore is minder as amper enigiemand anders geneig om ‘n goeie vriend te hê), in.’

Om deur jou eie krag in die bediening te probeer bly, waarborg feitlik dat jy nog ‘n statistiek sal word. Paulus kon sterk eindig, want hy was van God afhanklik om hom die nodige krag te gee. Een Bybelleraar sê om uitbranding te vermy beteken dat jy:

a) ‘n besliste roeping op jou lewe en ‘n sterk verhouding met Jesus het;
b) sy visie soek en bereid is om te doen wat Hy ook al van jou vra;
c) nooit die mense agter die werk uit die oog verloor nie;
d) nooit jou posisie as vanselfsprekend aanvaar nie;
e) die persoon bo jou respekteer en gewillig is om jouself aan gesag te onderwerp;
f) weet dat jy God se wil vervul en dat jou beloning in die hemel wag;
g) die hart van ‘n dienskneg het;
h) lojaliteit bo persoonlike gevoelens stel; en
i) nooit te groot om klein dingetjies te doen, of te klein om groot dinge te doen nie, is.

Beoefen hierdie beginsels en jy sal nie uitbrand nie.

Sielskos: 1 Kron 6:1-7:19; Joh 8:42-59; Ps 133; Spr 26:1-6

Hou jou hoop lewendig (2)

2023-11-12
Romeine 5:5 NLV

Jon Walker sê: ‘Ek sukkel al die meeste van my lewe met my gewig. Ek het gewig verloor en dit weer opgetel. Ek het elke dieet probeer en ‘n paar self opgemaak. Ek het ‘n vriendelike stryd met gewig gehandhaaf totdat ek uiters siek geword het en vir ‘n jaar nie verby die posbus kon stap nie. Nodeloos om te sê, het ek meer gewig as ooit opgetel en myself voor ‘n groot uitdaging bevind. Ek moes meer kilogramme verloor as wat daar dae in ‘n maand is. Met die ouderdom wat aan my hakke byt was dit nie so maklik om die kilogramme te laat afval soos dit voorheen was nie en ek het hopeloos begin voel – die soort hopeloosheid wat jou laat dink: ‘Wat is die nut? Ek kan net sowel nie eens probeer nie.’

Jy kan ongetwyfeld jouself daarmee vereenselwig, nie noodwendig met die gewigskwessie nie, maar met die hopeloosheid. Miskien is jy in ‘n stresvolle huwelik, of het gesondheidskwessies wat jou laat dink: ‘Wat is die nut?’ Of ‘n frustrerende werk, ‘n moeilike gesinsituasie; of jy wonder of jy ooit genoeg goeie punte sal kry om universiteit toe te gaan; of jy moet die dood van die belangrikste persoon in jou lewe hanteer; of jy sukkel om ‘n kind te hê.

Hier is die waarheid: Ons dien ‘n God van hoop en dit is ‘n hoop wat ons nie sal teleurstel nie.’ Dit is nie gebaseer op gevoelens nie; dit is gewortel in ‘n verhouding met die Een wat bo alle ander vertrou kan word. Ons wag saam op hierdie onsigbare hoop, met die wete dat die God van hoop: ‘…ons nie [sal] teleurstel nie… Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees…’

Sielskos: 1 Sam 16:1-23; 2 Kor 4:7-5:1

Hou jou hoop lewendig (1)

2023-11-11
Hebreërs 6:18 ABA

Lyk jou situasie onmoontlik? Maak jy gereed om tou op te gooi? Moenie! Emilie Batisse was nege-en-sewentig toe sy in ‘n tref-en-trap ongeluk beseer is en dit amper nie oorleef het nie. Toe Norman Vincent Peale haar gaan besoek het, het hy ‘n ry splinternuwe poësieboeke opgelet wat nog nie oopgemaak is nie. Toe hy haar daaroor uitvra, het sy gesê: ‘Ek is mal oor poësie, maar ek het nog nie daardie boeke gelees nie. Ek hou hulle vir my oudag.’ Mev Batisse het tyd gehad om daardie boeke verskeie kere te lees en toe sy uiteindelik op die ouderdom van een-en-negentig oorlede is, was sy besig om ‘n reis na Europa toe te beplan.

Om te hoop is om te wens vir iets om waar te word; geloof is om te glo dat dit gaan gebeur. Toe Cornell Universiteit ‘n studie oor die uitwerking van hoop gedoen het, het dr Harold G. Wolff berig dat mense met hoop ongelooflike laste kan verduur. Een groep het uit vyf-en-twintigduisend soldate wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die tronk was, bestaan. Onderworpe aan dwangarbeid, slegte kos en haglike omstandighede, het baie gesterf terwyl ander net geringe skade getoon het.

Onderhoude met die oorlewendes het ‘n ver bo-gemiddelde vermoë om te hoop, aan die lig gebring! Hulle het hul hoop lewendig gehou deur prentjies te teken van die meisies waarmee hulle sou trou en hul toekomstige huise te ontwerp. Hoop het hulle nie net aan die gang gehou nie, dit het hulle aan die lewe gehou! Dis maklik om te sien hoekom Paulus hoop as ‘…soos ‘n anker wat keer sodat ‘n skip nie wegdryf nie. Ons hoop en ons is seker dat Jesus ons anker is…’ (vers 19 ABA), beskryf.

Sielskos: 1 Kron 3-5; Joh 8:31-41; Ps 99; Spr 25:26-28