Blinde toeval teenoor God se opdrag (2)

2024-01-06
Hebreërs 11:3 NLV

Gepraat van ons wonderlike liggame – wat van DNA? Elke menslike sel (tot 100 triljoen) bevat ‘n databasis wat groter as die Encyclopedia Britannica is! Kon dit alles toevallig ontstaan het? Die Engelse fisikus, Paul Davies, maak die volgende vergelyking: ‘Dit is soos om ‘n stok dinamiet onder ‘n hoop bakstene te laat ontplof en te verwag dat dit ‘n huis sal bou. Jy kan genoeg energie vrystel om die stene te beweeg, maar sonder om die energie op ‘n beheerde manier aan die stene te koppel, is daar min hoop om enigiets anders as ‘n chaotiese gemors te produseer.’

Dit verg duidelik meer as ‘n hoop stene om ‘n huis te bou. Die argitek se intellek en die bouer se vaardighede is sleutelkomponente. Dis dieselfde as dit by die kompleksiteite van ‘n menslike wese kom. Die kans is nul dat al die nodige elemente wat nodig is om menselewe te begin, eenvoudig terselfdertyd op dieselfde plek op aarde bymekaar gekom het. Selfs al kon dit so plaasgevind het, kon blinde toeval nie daardie 100 triljoen selle in die volgorde wat nodig is om lewe te produseer, saamgevoeg het nie.

Die vooraanstaande wetenskaplike, Francis Crick, is nie bekend vir sy geloof nie, maar selfs hy het gesê: ‘Die oorsprong van lewe blyk amper ‘n wonderwerk te wees, so baie is die voorwaardes wat bevredig moet word om dit aan die gang te kry.’ Wat is die wonderwerk? Die Psalmdigter het gesê: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Dis die wonderwerk!

Sielskos: Lev 5-7; Matt 3:1-10; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19

Blinde toeval teenoor God se opdrag (1)

2024-01-05
Psalm 139:14 NLV

Kon die lewe soos ons dit ken – plant, dier en menslike lewe – spontaan deur toeval ontstaan het? Kon ons wonderlike sonnestelsel die gevolg van ‘n ongeluk gewees het? Hoe meer gevorderd die wetenskap raak, hoe meer bewyse is daar van ‘n Meesterontwerper. Navorsers ontdek aanhoudend die goddelike ontwerp in elke klein menslike sel.

Die Amerikaanse biochemikus Bruce Alberts, die voormalige president van die Nasionale Akademie van Wetenskap, skryf: ‘Ons het nog altyd selle onderskat; ons doen dit ongetwyfeld nog steeds. Selle is die basiese boublokke van lewe. Die hele sel kan inderdaad as ‘n fabriek wat ‘n uitgebreide netwerk van verskillende proteïenmasjiene in vaste posisies het, beskou word.’

Die Psalmdigter Dawid was nie ‘n wetenskaplike nie, maar tog het hy besef dat elkeen van ons die komplekse produk van God se wonderbaarlike hande is! ‘U het self my diepste wese gemaak… My beendere was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is… Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!.. As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees’ (verse 13, 15-18 NLV).

Die gemiddelde menslike hart klop 115,000 keer per dag. Ons bloed beweeg ongeveer 19,300 kilometer elke dag. Volwassenes neem gemiddeld 18,000 tot 30,000 asemteue elke dag en al hierdie funksies neem meestal plaas sonder dat ons daarvan bewus is. Dis fantasties! Neem vandag ‘n paar minute om jou Skepper te erken en te dank vir hoe wonderbaarlik Hy jou gemaak het.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 2:19-23; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16

Moet nooit ophou leer nie (2)

2024-01-04
Markus 12:30 NLV

Om God met jou hele verstand lief te hê, beteken om jou gedagtes te bestuur en die meeste daarvan te maak. Dit beteken dat jy God logies, kreatief, intuïtief en nadenkend liefhet. Albert Einstein, een van die geskiedenis se grootste denkers, het gesê: ‘Die belangrikste ding is om nooit op te hou bevraagteken nie. Nuuskierigheid het sy eie rede vir bestaan. ‘n Mens kan nie anders as om in verwondering te wees wanneer jy die geheimenisse van die ewigheid, van die lewe, van die wonderlike struktuur van die werklikheid oordink nie. Dit is genoeg as ‘n mens net probeer om elke dag ‘n bietjie van hierdie misterie te begryp. Moet nooit ‘n heilige nuuskierigheid verloor nie.’ Einstein het sy genialiteit afgemaak en gesê: ‘Ek het geen spesiale gawe nie, ek is net passievol nuuskierig.’

Die Bybel sê: ‘Die aarde behoort aan die Here, met alles wat daarop is, die wêreld en alles wat daarop lewe’ (Psalm 24:1 NLV). Jou nuuskierigheid moet geen perke hê nie. Die Latynse woord vir ‘opvoeding’ beteken ‘om uit te trek’ eerder as ‘om in te prop.’ Die meeste akademiese programme fokus op die dwangvoeding van kennis eerder as om nuuskierigheid vrye teuels te gee.

Wat is die resultaat? Ons weet sommige dinge, maar ons verloor die belangrikste: die liefde vir leer. In een studie by ‘n top-universiteit het die gegradueerdes met die hoogste punte een maand na hul gradeplegtigheid dieselfde eindeksamen afgelê. Almal van hulle het gedruip. Wanneer jy probeer om die waarheid in jou gedagtes in te prop, beweeg dit selde verby die korttermyngeheue. Dit bereik vir seker nie die siel in nie. Ongelukkig is dit soms wat in die kerk gebeur. Wat is die antwoord? Leef daagliks volgens God se Woord.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 2:13-18; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9

Moet nooit ophou leer nie (1)

2024-01-03
Markus 12:30 NLV

God het ons geskape met die kapasiteit om tot die dag wat ons sterf aan te hou leer, iets wat ons nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Die gemiddelde brein weeg ongeveer 1.3 kilogram, maar neuroloë skat dat ons die vermoë het om iets nuuts elke sekonde van elke minuut van elke uur van elke dag vir die volgende driehonderd miljoen jaar te kan leer. Dis wonderbaarlik!

Dis egter meer as dit. Dis ‘n wonderlike verpligting. Jesus het gesê: ‘Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse gemoed, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Dis onmoontlik om die persentasie wat ons brein gebruik te bepaal, maar almal van ons het onbenutte potensiaal. Jou verbeelding is in staat tot baie meer as wat jy ooit kan droom.

Tog hou die meeste van ons êrens langs die pad op om uit ons verbeelding te leef en begin uit ons herinneringe leef. Ons hou op om die toekoms te ontwerp en begin die verlede namaak. Dit is die dag wat ons ophou leef en begin sterf. Hoekom? Omdat ons ophou om ons kennis te verbreed. Om God met jou hele verstand lief te hê, verg dat jy jou verstand ten volle benut deur soveel as moontlik van soveel as moontlik te leer.

Die ware toets van geestelike volwassenheid is nie hoeveel jy weet nie, maar die hoeveelheid van dit wat jy nie weet nie. Dit is om jouself met die realiteit dat ons God nie soseer kan begryp nie, maar eerder net in verwondering voor Hom kan staan, te versoen. Daardie heilige gevoel van verwondering steek ‘n heilige nuuskierigheid aan die brand om meer oor die Skepper en sy skepping te bly leer.

Sielskos: 1 Tess 4-5; Matt 2:1-12; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4

Stel hierdie jaar die eerste dinge eerste

2024-01-02
Psalm 90:12 NLV

Ons almal kry dieselfde vier-en-twintig uur in ‘n dag. Ons sal aan God rekenskap moet gee oor hoe ons ons dae gebruik (sien Prediker 11:9). ‘n Goeie plek om te begin is om jouself af te vra: ‘Hoe sal ek die volgende vier-en-twintig uur bestee as ek more voor God moes staan?’ Jou antwoord sal jou help om jou lewe te prioritiseer.

Dink daaroor: As iemand jou kar steel, kan jy ‘n ander een koop. As iemand jou beursie steel, sal jy moontlik ‘n paar kaarte moet kanselleer om die situasie op te los. Wat kan jy egter doen wanneer jy jou tyd verloor? Hoe jy jou tyd bestee is hoe jy jou lewe bestee! Efesiërs 5:16 sê: ‘Benut elke geleentheid…’ (NLV), leer dus om die volgende dinge te doen:

1) Hou op om vir almal ja te sê. Wanneer jou geestelike instink nee sê, maar mense van jou verwag om ja te sê, luister eerder na jou geestelike instink. Dis wat Jesus gedoen het. Dis wat Hom in staat gestel het om vir sy Vader te sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen (Johannes 17:4 NLV). Moenie dat die goeie die beste by jou steel nie; verminder sommige aktiwiteite sodat jy in ander kan uitblink.

2) Word deur die Gees, nie deur die vlees nie, gelei. Paulus sê: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie’ (Galasiërs 5:16 NLV).

3) Stel die eerste dinge eerste. ‘n Kenmerk van ware volwassenheid is om dit waarvoor jy nie lus is nie, te doen wanneer jy nie daarvoor lus is nie. Stel dus hierdie jaar die eerste dinge eerste – en hou hulle daar!

Sielskos: 1 Tess 1-3; Matt 1:18-25; Ps 116; Pred 12:13-14

‘n Nuwe jaar, ‘n nuwe begin

2024-01-01
Romeine 6:4 NLV

Weier dat jou verlede jou toekoms by jou steel. Hierdie jaar wil God vir jou ‘n nuwe begin gee. Ons almal het verhoudings wat nie herstel kan word en kwessies wat nooit na wense opgelos sal word nie. Deur God se genade kan ons egter vergewe, vergeet en aanbeweeg. Jy hoef nie in die aande wakker te lê en ou koeie uit die sloot te grawe, rowe af te krap en pynlike herinneringe te vernuwe nie.

Jy sê: ‘Maar ek sukkel in so baie areas.’ Ons almal doen. Selfs die groot apostel Paulus het erken dat hy nie al die antwoorde het nie. Paulus het erken: ‘Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie… Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek…’ (Romeine 7:18-19 NLV). Almal van ons wat verkeerdelik gedink het dat sodra ons Christene word, daar geen stryd meer sou wees nie, kan Paulus vir sy eerlikheid bedank!

Paulus hou egter nie daar op nie, maar voeg hierdie twee belangrike Skrifgedeeltes by: 1) ‘…En nou kan ons, net soos Christus… opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef’ (Romeine 6:4 NLV). 2) ‘Julle moet dus ook verseker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle één is met Christus’ (vers 11 NLV).

Jy vra: ‘Hoe moet ek dan my ou kwessies hanteer?’ Erken hulle, hou daarmee op en vergeet daarvan! In plaas daarvan om gevegte te veg wat jy nie kan wen nie, laat Christus se opstandingskrag deur jou lewe beweeg en die bande tussen jou en die pyn van jou verlede, verbreek.

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Matt 1:1-17; Jes 43:18-19