2023-11-22
Job 6:14 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Wat maak jou bly, hartseer of kwaad? Wat sit ‘n glimlag op jou gesig? Wat laat jou onbeheersd huil? Wat maak jou so kwaad dat jy jou vuis op die tafel wil slaan? Êrens in die mengsel van daardie blydskap, hartseer of woede is jou Godgegewe passie. Sodra jy dit identifiseer, is dit nie opsioneel om iets daaraan te doen nie. Jy kan nie nie iets daaraan doen nie.’
In 2006 was Blake Mycoskie besig om deur Argentinië te toer toe hy agterkom dat baie kinders nie skoene het nie. Hy kon na Amerika toe teruggekeer het en met sy eie lewe aangegaan het. In plaas daarvan het hy TOMS skoene begin, ‘n besigheid met die missie om skoene aan die voete van die kinders in derde-wêreld lande, te sit. Dit werk as volg: Wanneer jy ‘n paar TOMS skoene koop, gee jy ‘n paar skoene vir ‘n kaalvoet kind. Vir elke paar skoene wat gekoop word, word ‘n paar weggegee. Hulle missie is duidelik: een vir een. Blake het ‘n behoefte geïdentifiseer. Hy het dit verpersoonlik. Toe het hy besluit om iets daaraan te doen. Dit het nie groot begin nie, maar klein.
Dis hoe sulke passies egter begin. ‘n Persoon besluit om iets te doen aan iets wat hom bly, hartseer of kwaad maak. Dit was kaalvoet kinders wat Blake se hart gebreek het. Hy het letterlik skoene vir sy geloof aangetrek. Wanneer jy die ding wat jou bly, hartseer of kwaad maak ontdek, is die enigste vraag wat oorbly: Wat gaan jy daaraan doen?
Sielskos: 2 Kron 1-5; Joh 11:1-16; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9
2023-11-21
Kolossense 3:12 NLV
Die digter Henry Wadsworth Longfellow het geskryf: ‘If we could read the secret history of our enemies, we should find in each man’s life sorrow and suffering enough to disarm all hostility.’ In sy dokumentêre rolprent oor oorloë in die twintigste eeu, verwys Jonathan Glover na dit wat hy ‘deernis-deurbrake,’ noem. Selfs in ‘n oorlogsituasie, oorskrei dade van deernis die konflik. Die meeste deernis-deurbrake, volgens Glover, word deur oog-tot-oog-kontak veroorsaak.
Het jy al ooit ‘n deernis-deurbraak gehad? As jy dit nog nie gehad het nie, bid daarvoor. Dis ‘n oomblik waar jou neiging tot haat deur jou wil om lief te hê, oorkom word. ‘n Oomblik waar proaktiewe deernis negatiewe woede oorheers. ‘n Oomblik waar jy meer besorg oor iemand anders se pyn as jou eie is. ‘n Oomblik waar jy ontdek wat dit waarlik beteken om God met jou hele hart lief te hê.
Dis baie eenvoudiger om as ‘n Christen op te tree, as wat dit is om as een te reageer. Enigiemand kan ‘n front voorhou. Jou reaksies openbaar egter wat waarlik in jou hart omgaan. As jy God met jou hele hart liefhet, sal jy nie hoef voor te gee nie. Die apostel Paulus het dit as volg gestel: ‘Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (verse 12-14 NLV).
Sielskos: 1 Kron 26:20-29:30; Joh 10:34-42; Ps 76; Spr 27:4-6
2023-11-20
Eksodus 33:13 ABA
Luister na meer van Moses se vriendskaplike gesprek met God: ‘Daarom vra ek nou, as U regtig tevrede is met my, sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken, en kan weet U is tevrede met my…’ Moses bevind homself in ‘n nasionale krisis wat Israel se verhouding met God kan beëindig – en waarvoor bid hy? Nie: ‘God, ek is in ‘n moeilike situasie. Los dit asseblief vir my op!’ nie. Nee, hy bid: ‘…sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken…’
Moses wil meer as net van God se wonderbaarlike werke weet. Sy hart roep uit om God se hart en dit wat dit laat klop – die innerlike wese van God – te ken. God het vir hom gegee wat hy gevra het: ‘Hy het sy wil aan Moses openbaar…’ (Psalm 103:7 NLV).
Hier is nog ‘n deel van God en Moses se gesprek: “Hy vra toe vir Moses: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?'” (Eksodus 33:14 NLV). God het belowe om saam met Moses te gaan en vir hom rus te gee. Enigiemand anders sou hierdie aanbod met graagte aanvaar het. Nie Moses nie. Sy gebed was groter as sy eie belange. ‘…As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree van hier af laat beweeg nie’ (vers 15 NLV). Met ander woorde: ‘Here, ek bid nie vir myself nie; ek bid vir ons!’ God het Moses se gebed beantwoord.
Is jou gebede groter as jouself en jou eie behoeftes? Die Bybel sê: ‘God het die mensewêreld só liefgehad…’ (Johannes 3:16 NLV). Bid jy vir jou stad, nasie en die wêreld? Jy is geroep om dit te doen en jy moet dit doen!
Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Joh 10:22-33; Ps 81; Spr 27:1-3
2023-11-19
Eksodus 33:12 NLV
Moses het met God gepraat asof Hy ‘n vriend is, deur te deel wat hy voel en dink. God wou dit graag so gehad het. Hier is hoe hulle gesprek gegaan het: ‘…U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het… U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra.’ Moses herinner God aan wat Hy voorheen vir hom gesê het. Het jy al ooit vir jou eggenoot of beste vriend gesê: ‘Jy was die een wat gesê het…’? Dis wat Moses hier doen: hy herinner God aan sy eie woorde.
God wil hê dat jy sy Woord moet onthou en dit terug vir Hom moet sê (sien Jesaja 43:26). Nie omdat Hy daaraan herinner moet word nie, maar omdat jy daaraan herinner moet word! Ook omdat sy Woord die enigste Woord is waartoe Hy verbind is om dit te vervul (sien Matteus 24:35). Wanneer jy God se Woord gebruik om te bid, bid jy sy wil en is jy gewaarborg om verhoor te word. Leer en memoriseer dus die Skrifgedeeltes wat jou behoeftes en begeertes aanraak. Wanneer jy dan met God praat, onthou hulle en bid hulle terug vir Hom.
Wanneer jy byvoorbeeld bid: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV), sal God dit erken! Hoe meer jy van sy Woord leer, hoe meer sal jou gebede met sy Woord ooreenstem en hoe meer in lyn sal jy met Hom voel. Hou jou Bybel naby wanneer jy met God praat, sodat Hy jou gedagtes na die woorde wat Hy wil hê jy moet bid, kan rig.
Sielskos: Num 9:15-23; Gal 5:13-26
2023-11-18
Sagaria 13:9 NLV
As jy vandag getoets word, is jy in goeie geselskap! Job, die regverdigste man op aarde, is bo dit wat die meeste van ons ooit sal moet verduur, beproef. Toe hy aan die ander kant daarvan uitgekom het, het hy vir God gesê: ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Jy ervaar God naby en persoonlik wanneer jy in die hitte van die vuur is.
Sheila Schuller Coleman sê: ‘Sommige toetse is bedoel om te assesseer wat ons geleer het; ander is bedoel om ons te leer. Wanneer jou geloof getoets word, is die les wat jy daaruit moet leer die laaste ding waaraan jy dink. Jy wil net oorleef. Die les wat ons egter by Job leer is dat wanneer ons ons geloof in die grootste beproewings behou, ons ‘…soos goud in ‘n vuur…’ (Job 23:10 NLV), daaruit sal kom. Dink daaroor: Het jy al ooit ‘n getuienis aangehoor van iemand wat nie ‘n toets deurgemaak het nie? Jakobus sê: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees’ (Jakobus 1:2 NLV).
Wanneer ons swaarkry, wanneer mense haatlike dinge sê, wanneer ons ons huis verloor, wanneer ons skeurings in ons familie teëkom, wanneer die dokter met ‘n aaklige diagnose bel – is die laaste ding wat ons voel, vreugde. As iemand met gesag daaroor kon praat om God tydens beproewings te loof, is dit Paulus. Hy is geslaan, in die tronk gegooi en uit die stad weggejaag. Hoe vergelyk jou week met syne?’
Wanneer jy deur hierdie toets kom, sal jy ‘n getuienis van God se krag en getrouheid hê en in staat wees om te sê: ‘Die Here is my God.’
Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Joh 10:11-21; Ps 50; Spr 26:27-28
2023-11-17
Jeremia 3:15 NLV
Om die gemeente te beïndruk, het ‘n jong proponent die grootste woorde wat hy kon vind in sy Sondagoggend-preek ingewerk. Dit was ‘n ramp! Toe hy van die preekstoel afstap, het hy ‘n ou prediker ontmoet wat sê: ‘Seun, jy het oor hulle koppe gepraat.’ Geïrriteerd en verdedigend het die jong man gesê: ‘Hoekom rek hulle dan nie hul nekke nie?’ Waarop die ou prediker geantwoord het: ‘Jesus het gesê: ‘Laat my skape wei, nie my kameelperde nie!’
Of jy nou op ‘n preekstoel, in ‘n klaskamer of ‘n raadsvergadering is of iemand een-tot-een vir koffie ontmoet, moet jy besluit of jou doelwit is om mense te beïndruk, of om hulle te help. God het gesê: ‘Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.’ Jou doel moenie net wees om kennis te kommunikeer nie, maar om begrip te kommunikeer. Die teken van ‘n goeie onderwyser is nie wat hy of sy weet nie – dis wat die student leer.
Om dinge eenvoudig te maak is ‘n noodsaaklike vaardigheid as jy met mense wil skakel. Soos Albert Einstein gesê het: ‘As jy dit nie eenvoudig kan verduidelik nie, verstaan jy dit nie genoeg nie.’ As jy ernstig daaroor is om mense te bereik, moet jy die volgende vier woorde ferm in jou gedagtes hou:
1) Hart. Om iemand te bereik, moet jy hulle op ‘n emosionele vlak aanraak.
2) Hoop. Deur hulle potensiaal en moontlikhede uit te spel, sal jy hulle inspireer om te probeer.
3) Hulp. Wys hulle hoe om dit wat jy sê op ‘n tasbare wyse aan te wend.
4) Humor. Deur vir jou eie foute te lag, laat jy mense besef dat hulle probleem nie uniek is nie – en vir iemand wat sukkel, kan dit die beste gevoel in die wêreld wees.
Sielskos: 1 Kron 16-18; Joh 10:1-10; Ps 105:1-15; Spr 26:23-26