2024-01-12
Jesaja 65:22 NLV
Ons leef in ‘n wispelturige samelewing waar ‘n paar plooie jou eiewaarde kan vernietig. Jy kan egter nie ‘n slagoffer van daardie waardesisteem wees nie. ‘My volk sal so oud word soos ‘n boom. Hulle wat Ek uitverkies het, sal die vrug geniet van hulle eie handewerk’ (vers 22 NLV). Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Age is an issue of mind over matter. If you don’t mind, it doesn’t matter!’ Dus:
1) Bou ‘n sterk verhouding met God. Bestee tyd om met Hom te praat en sy Woord te lees. ‘…Hou vas aan my opdragte. Dit sal jou lank laat lewe en jou ‘n vol lewe gee’ (Spreuke 3:1-2 NLV).
2) Aanvaar die realiteit van oud word. Jy het begin verouder van die oomblik toe jy verwek is. Op die dag van jou geboorte, was jy reeds nege maande oud. Daarom is bekommernis oor ouer word net so nutteloos soos om jouself te bekommer oor die son wat elke dag ondergaan. In plaas daarvan om jou oor die lengte van jou lewe te bekommer, maak die meeste van elke dag. Kyk elke oggend in die spieël en verklaar: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Ek gaan daaroor juig en bly wees’ (sien Psalm 118:24).
3) Sorg dat jy altyd ‘n doelwit het. Dit hoef nie iets groots in die oë van die wêreld te wees nie, net iets waarna jy kan uitsien om met jou hande en jou gedagtes te doen. Eleanor Roosevelt het gesê: ‘Ek kon op geen ouderdom tevrede wees om êrens in ‘n hoekie te sit en bloot toe te kyk nie.’ Lees, groei, dra by, bly betrokke, leef tot jou laaste asem!
Sielskos: Lev 18-20; Matt 5:13-26; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2
2024-01-11
1 Johannes 4:17 NLV
Die woorde ‘liefde’ beteken in vandag se kultuur verskillende dinge vir verskillende mense. Jy kan vir jou man of vrou, jou hond, jou land, jou nuwe selfoon of jou kar lief wees. Jy is egter nie op dieselfde manier vir jou man of vrou lief as wat jy vir jou selfoon of kar lief is nie, nie waar nie? Die televisie- en poniekoerantliefde waar jy rondval tussen bedmaats en jou liefde aan elkeen verklaar is nie ware liefde nie, dis selfsug en onvolwassenheid.
Die Bybelse woord ‘agape’ (God se liefde) is ‘n onvoorwaardelike toewyding aan liefde wat in ‘n besluit wat onveranderd bly, gewortel is. Dit verander nie, of die liefde wedersyds is of nie. Dis ‘n besluit van jou hart om die goeie in die ander persoon te soek, maak nie saak hoe hulle reageer nie.
Toe die King James Bybelvertalers op die Griekse woord ‘agape’ afgekom het, het hulle benewens die woord ‘liefde,’ dikwels die woord ‘liefdadigheid’ gekies om dit te vertaal. Dit was bedoel om die idee te versterk dat liefde ‘n onbaatsugtige, onvoorwaardelike liefde is. Dit beteken dus vriendelikheid, respek en lojaliteit teenoor jou geliefde. ‘…God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik… Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hy is’ (verse 16-17 NLV).
Wat ons van die wêreld onderskei is nie ons woorde nie, maar ons liefde vir mekaar. Wanneer ons ons verskille kan oorkom, wanneer ons grense van denominasie, ras en kultuur kan oorsteek en mekaar waarlik lief kan hê, word die wêreld na Christus toe aangetrek en begin dit aandag aan ons woorde gee.
Sielskos: Lev 15-17; Matt 5:1-12; Ps 46; Spr 1:32-33
2024-01-10
Spreuke 24:16 NLV
Wanneer dit daarby kom om verhoudings te hanteer, het ons almal ons sterk- en swakpunte. Om dus in ‘n verhouding te oorleef en te floreer, moet ons leer om te volhard. Selfs wanneer ons ons beste gedoen het om ons potensiaal vir mislukking te verminder, moet ons steeds daarvoor gereed wees. As ons in mislukking, skuldgevoelens en skaamte oor verspeelde kanse en verkeerde keuses in een spesifieke verhouding vasgevang bly, sal ons nooit die vryheid om ons ander verhoudings te onderhou, ontvang nie.
Jy moet jouself beloof dat jy sal oorleef, maak nie saak watter omstandighede plaasvind of watter verhoudings in die hek duik nie. Jy sal weer opstaan, daaruit leer, nader aan God beweeg en Hom vir al die seëninge wat steeds in jou lewe oorbly, dank. Wanneer jy daaraan dink, sal jy oplet dat daar nog baie seëninge in jou lewe is!
As jy aan die lang lys gawes wat in jou lewe agterbly, selfs te midde van probleme, verliese en frustrasies dink, is jy beter in staat om die groter prentjie en nie net die huidige moeilikheid te sien nie. Dankbaarheid is die beste middel teen selfbejammering en wanhoop. Danksegging lig jou terug na ‘n posisie om jou verhoudings en lewe duideliker te kan sien.
Wil jy graag hê dat hierdie verhouding moet werk? Dan moet jy jouself daaraan toewy om vir die ander persoon te bid, hulle onvoorwaardelik lief te hê en in hulle te belê. Wanneer jy dit doen, kan jy God vertrou om die res te doen!
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Matt 4:12-25; Ps 3; Spr 1:29-31
2024-01-09
Efesiërs 5:2 NLV
Geestelike genesing vind plaas wanneer jy jou probleem aan iemand wat volwasse genoeg is om dit te hanteer en toegewyd genoeg is om nie op jou op te gee nie, bely. Wat beteken dit om “‘n lewe van liefde” te leef? a) Om op God se onfeilbare liefde vir jou te vertrou. b) Om sy liefde aan ander mense te betoon. c) Om hulle liefde in ruil daarvoor te kan aanvaar. Eers dan kan jy geestelik heel word.
Jy kan net liefgehê word in die mate waarin jy geken word. Wanneer jy ‘n deel van jou lewe geheim hou, mag ander mense dalk vir jou sê dat hulle vir jou lief is, maar diep binne-in jou dink jy: ‘As jy die hele waarheid oor my geweet het, sou jy nie vir my lief wees nie.’ Dus is jy nie in staat om hulle liefde te ontvang of daardeur versterk te word nie.
Sonde isoleer ons en sonde en isolasie sal ons siel, en selfs ons liggame, siek maak. Belydenis gevolg met gebed en verbinding met mekaar en met God, nooi die Gees binne en bevorder genesing. Om ten volle geken en liefgehê te word is die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee. Die Bybel sê: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
Een Bybelonderwyser sê: ‘Wanneer ons onsself eerlik afvra watter persoon in ons lewens die meeste vir ons beteken, vind ons dikwels dat dit diegene is wat in plaas daarvan om raad, oplossings of genesing te gee, verkies om eerder ons pyn te deel en ons wonde met ‘n warm en teer hand aan te raak.’
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 4:1-11; Ps 42:6-11; Spr 1:24-28
2024-01-08
Psalm 91:11 NLV
Daar is meer as driehonderd verwysings na engele in die Skrif en hulle word met twee woorde beskryf: baie en magtig. Dit het egter net een engel geneem om die leeus se bekke vir Daniël toe te sluit en om Petrus uit die tronk te red die aand voor hy tereggestel sou word. Onthou jy Elisa se dienaar? Toe ‘n groot leër die stad van Dotan omsingel het, het Elisa vir God gevra om sy dienaar se oë oop te maak: ‘…Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was’ (2 Konings 6:17 NLV).
As God jou oë vandag oopmaak, wat sou jy sien? Engele wat jou kinders skool toe begelei? Wat jou van ‘n dronk bestuurder beskerm? Wat die hande van die chirurg rig? Wat jou oppas terwyl jy slaap? Een Bybelonderwyser sê: ‘As jy ‘n gelowige is, moet jy verwag dat magtige engele jou in jou lewenservaring sal begelei.’
Het almal ‘n beskermingsengel? Nee, die Bybel sê: ‘Die engele is… geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word’ (Hebreërs 1:14 NLV). Wanneer jy Jesus verwerp, verbeur jy hierdie sekuriteit, maar wanneer jy Hom as jou Here en Redder aanvaar, kry jy vier-en-twintig uur ‘n dag se beskerming: ‘Want die Engel van die Here hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle’ (Psalm 34:8 NLV).
Jou engel waai nie net vir jou soos hy verbyvlieg nie; hy slaan sy tent op, vertoef en bly waaksaam. Jy kan in die skadu van sy vlerke rus – as dit nie jou angsvlakke verlaag nie, sal niks nie! Die feit is dat sommige van die rykste mense op aarde nie eers hierdie voordeel geniet nie! Ons is geseënd.
Sielskos: Lev 8-10; Matt 3:11-17; Ps 42:1-5; Spr 1:20-23
2024-01-07
Spreuke 21:11 NLV
Kommunikasievaardighede is noodsaaklik om sukses en geluk in ‘n verhouding te vind, hetsy in jou persoonlike lewe of in jou beroep. Behalwe om feite te verkry, moet kommunikasie as ‘n manier dien om insig in die hart en gedagtes van die ander persoon te vind.
Goeie kommunikasie verg vertaling. Jy leer inderwaarheid die ander persoon se taal. Ons almal gebruik dieselfde woorde, maar ons het elkeen ‘n unieke taal as dit by die liefde kom. Wat jy bedoel wanneer jy sê: ‘Ek het iemand nodig om daar te wees vir my,’ mag dalk nie wees wat die ander persoon bedoel wanneer hy of sy sê: ‘Ek sal daar wees vir jou,’ nie. Jy moet hulle taal sonder voorafgaande aannames en verkeerde projeksies wat jou in die steek laat, leer. Sulke interpersoonlike geletterheid sal jou goed in die jare wat kom, te staan kom.
Ons almal het nodig om lief te hê en liefgehê te word, maar ons maak van verskillende maniere van kommunikasie gebruik om ons begeertes uit te druk. Moenie bang wees om uitdrukkings en definisies te vergelyk om seker te maak dat julle op dieselfde bladsy is nie. ‘n Gerespekteerde Bybelonderwyser stel dit as volg: ‘Dikwels sal ek in my eie gesprekke sê: ‘Kom ek vertel jou wat ek gehoor het sodat ek kan sien of dit is wat jy bedoel het.’ Ek is geskok oor hoeveel keer ek iets heeltemal anders hoor as wat bedoel word!’
Blywende geluk vind nie plaas deur dinge te besit nie; dit vind plaas deur goeie verhoudings te hê. Werk dus daaraan om jou kommunikasievaardighede te verbeter. Dis die belegging werd!
Sielskos: Eks 20:1-3; Deut 6:1-9; Mark 12:28-34; Op 2:1-7