Voel God aan en sien Hom

2024-01-18
1 Korintiërs 2:10 NLV

Die Bybel sê: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet. Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het…’ (verse 9-10 NLV). Die Heilige Gees vergoed vir ons sintuiglike beperkings deur ons in staat te stel om dinge wat ons nie met ons vyf sintuie kan waarneem nie, bewus van kan word. Dink aan Hom as ‘n sesde sintuig. Hierdie sintuig moet ontwikkel en fyn ingestel word. Die enigste manier om dit te doen is deur tyd te bestee om op die Skrif te mediteer en met God in gebed deur te bring.

Totdat ons deur die Heilige Gees wakker gemaak word, is ons onbewus van ons behoefte aan God, van die geestelike oorlog wat rondom ons plaasvind en dit wat God rondom ons doen. Een nag het Jakob ‘n droom gehad waarin God verskyn en vir hom gesê het: ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan…’ (Genesis 28:15 NLV). Toe hy die volgende oggend wakker word, het Jakob gesê: ‘…Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!.. Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!’ (verse 16-17 NLV).

Jakob het aan die slaap geraak en op dieselfde plek wakker geword, maar hy het as ‘n ander mens wakker geword. Jakob het daarna vir God in alles gesien. Vra vandag vir God vir ‘n geestelike openbaring. Bid die volgende: ‘Here, wys my wat U wil hê ek moet sien, leer my wat U wil hê ek moet weet, lei my stap-vir-stap op die pad van u perfekte wil.’ Dis ‘n gebed wat God sal antwoord!

Sielskos: Dan 1-2; Matt 6:19-34; Ps 81; Spr 2:11-15

Lees die tekens van jou kinders

2024-01-17
Psalm 34:12 NLV

Die Smithsonian tydskrif het eenkeer oor ‘n meester-klipkapper uit Engeland, genaamd Simon Verity, berig. Hy het dertiende-eeuse katedrale in Groot Brittanje gerestoureer. Terwyl die skrywers gekyk het hoe hy werk, het hulle iets fassinerend opgemerk. ‘Verity het fyn geluister om die lied van die klip onder sy versigtige houe te hoor. ‘n Stewige hou en alles is wel. ‘n Hoër geluid kan moeilikheid beteken. ‘n Stuk rots kan afbreek. Hy pas gedurig die hoek van die beitel en die krag van die hamer by die toonhoogte aan, terwyl hy gereeld stilstaan om sy hand oor die vars gebeitelde oppervlak te vee.’ Verity het die belangrikheid van sy taak verstaan. Hy het geweet dat een verkeerde beweging verwoestend kon wees en onherstelbare skade aan sy kunswerk kon veroorsaak. Sy sukses was gewortel in sy vermoë om die tekens wat die klip stuur, te lees.

Ouer, jy moet jou vermoë om na jou kinders te luister opskerp, veral gedurende tye van dissipline en leiding. Dit verg ‘n groot hoeveelheid geduld en sensitiwiteit om jou kind se reaksie te interpreteer. As jy egter versigtig luister, sal hulle vir jou sê wat hulle dink en wat hulle voel. God sal jou help om dit te doen: ‘Die oppermagtige Here het my geleer… Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ‘n leerling betaam’ (Jesaja 50:4 NLV).

Elke seisoen in jou kind se ontwikkeling bring nuwe vrae wat nuwe antwoorde verg, mee. Om die regte antwoord te kan gee moet jy by die vraag wat hulle op daardie oomblik vra, ingeskakel wees. Nie net sal jy vir hulle die wysheid gee wat hulle op daardie oomblik nodig het nie, jy sal hulle ook leer hoe om dit met hulle eie kinders te doen.

Sielskos: Fil 1-4; Matt 6:9-18; Ps 79; Spr 2:9-10

Stop en vra vir aanwysings

2024-01-16
Johannes 16:13 NLV

Om besluite te neem sonder om God se leiding te soek is soos om sonder ‘n radar of kompas te vlieg. Jy kan doen wat volgens jou kennis en ervaring vir jou sin maak, maar dit wat ‘reg lyk’ kan op die ou einde dit wat die belangrikste vir jou is, vernietig. Die Bybel sê dat selfs die mees diepgaande menslike denke vir God dwaas is (sien 1 Korintiërs 1:18-20). Hy alleen ken die pad en Hy wil vooruit loop.

Dis ‘n fout om te aanvaar dat elke geleentheid wat oor jou pad kom, van God af kom. Paulus sê: ‘…Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is’ (2 Korintiërs 11:14 NLV). Sy uitnodigings word so verpak dat dit lyk asof hy jou beste belange op die hart dra, maar sy pad lei onvermydelik altyd tot ondergang (sien Johannes 8:44).

God se Woord is ontwerp as ‘…’n lamp vir [jou] voete en ‘n lig op [jou] pad’ (Psalm 119:105 NLV), om jou op regverdige paaie te lei. Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV).

Die waarheid is dat die meeste van ons nie vanself God se wil soek nie. Dis eers wanneer sy Gees in ons harte begin praat dat ons sy wil begin begeer. Neem tyd om die Heilige Gees se leiding te soek. Vertrou Hom. Hy verstaan die nagevolge van jou keuses. Hy sal vir jou die ‘groter prentjie’ wys en jou help om op die regte pad te bly.

Sielskos: Lev 26-27; Matt 6:1-8; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8

Waak teen afguns en jaloesie

2024-01-15
Galasiërs 5:26 NLV

Paulus het die vroeë kerk teen afguns gewaarsku en dis steeds vandag ‘n probleem. Jou kollega kry ‘n salarisverhoging, ‘n vriend se kind wen ‘n beurs, ‘n buurman gaan op ‘n droomvakansie. Is jy saam met hulle bly, of forseer jy ‘n stywe glimlag? Ons is menslik; ‘n sprankie jaloesie elke nou en dan is normaal. Waak egter daarteen om altyd onvergenoegd te wees. Tacitus het gesê: ‘Wanneer mense vol afguns is, verag hulle alles… goed of sleg.’

Wanneer iemand anders voorspoedig is, voordat jy vra: ‘Hoekom nie ek nie?’ vra jouself af of jy op dieselfde manier sou reageer as hulle een of ander tragedie oorgekom het. Een skrywer herinner ons: ‘Wanneer ons onsself in die vallei bevind, is dit menslik om jaloers op diegene bo-op die berg te wees. Dit is maklik om te vergeet dat hulle nie daar geval het nie – hulle het soontoe geklim. Agter elke suksesstorie is daar altyd ‘n moeilike besluit en ‘n dapper daad. As ons hulle wil bereik, moet ons begin klim. Inspirasie mag ons dalk aan die gang kry, maar die sukses lê in die klim.’

Dink aan ‘n naelloper; hy is vinnig, gefokus en voor die res van die groep. Dan begin hy na sy kompetisie kyk. Kort voor lank struikel hy, verloor sy momentum en val uit die resies uit. Dis wat gebeur wanneer jy toelaat dat jaloesie jou aandag aflei van die koers wat God vir jou beplan het. Paulus skryf: ‘Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam?’ (Galasiërs 5:7 NLV). Hou jou oë op die prys en moenie jou aandag laat aflei deur wat ander mense het en nie het nie. Dis nie jou saak nie.

Sielskos: Lev 23:26-25:55; Matt 5:38-48; Ps 74:1-11; Spr 2:6

Groei deur kritiek

2024-01-14
Spreuke 13:18 NLV

Salomo het gesê: ‘…Hy wat ‘n teregwysing ter harte neem, ontvang eer.’ Charlie Shedd gee ons tien maniere om deur kritiek te groei:

1) Kritiek is dikwels ‘n kompliment. Jesus het gesê: ‘Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees… want daar wag ‘n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld’ (Lukas 6:22 DB).
2) Aanvaar dat jy foute het wat kritiek kan ontlok. Bly nederig, dan sal kritiek jou nie van stryk bring nie.
3) ‘…Opregte mense se woorde red ander mense’ (Spreuke 12:6 NLV). Vra jou vriende in watter areas jy kan verbeter; dan wanneer jou vyande jou kritiseer, werk jy reeds daaraan.
4) Laat kritiek jou verbeter. ‘…as julle geduldig is wanneer julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, dan sal God goed wees vir julle’ (1 Petrus 2:20 ABA).
5) Jy moet sommige kritiek ignoreer, veral as dit in vals beweegredes gewortel is. Moet nooit ongelukkige mense die sleutel tot jou geluk gee nie.
6) Hou dit in perspektief. Almal het dit nie gehoor nie. Die meeste mense gee nie om nie. Een slegte woord kanselleer nie die goeie in jou nie.
7) Laat kritiek toe om jou meer barmhartig te maak. Herinner jouself daaraan dat jy al ander mense ook gekritiseer het.
8) Bid vir jou kritici. Dit sal hulle verbeter en jou bitterheid neutraliseer. Haat vernietig jou gesondheid en steel jou geluk.
9) Vind uit wat God daaroor sê. Hoe lyk dinge diep binne-in jou siel?
10) Wanneer jy seker gemaak het dat jy reg is, beweeg aan. Maak met stille vertroue klaar wat jy begin het, want God se beloftes is vir diegene wat volhard (sien Hebreërs 6:12).

Sielskos: Eks 20:4-6; Deut 7:17-8:2; Jes 40:18-31; Kol 3:5-10

Moenie bang wees om oud te word nie (2)

2024-01-13
Psalm 92:15 NLV

Laat die gedagte aan ouer word jou depressief voel, maak dit jou angstig of fatalisties in jou lewensuitkyk? Indien dit die geval is, lees die volgende: ‘Geplant in die Here se woning groei hulle weelderig, daar in die tempel van ons God. Al is hulle oud, is hulle ‘n aanwins; hulle is vars en lewenskragtig’ (vers 14-15 NLV). Hier is hoe om ‘vars en lewenskragtig’ soos jy ouer word, te bly:

1) Pas jou gesondheid op. Navorsing wys dat goeie gesondheid die belangrikste faktor is om geluk in jou latere jare te bepaal. Eet gesond en oefen dikwels. Drink baie water, neem jou daaglikse vitamiene en gaan vir gereelde doktersondersoeke. Dit sal jou nie meer tyd waarborg nie, maar dit sal die kwaliteit van jou tyd hier op aarde bepaal.

2) Lyk op jou beste. Trek stylvol, soos jou begroting dit toelaat, op elke ouderdom aan. Wanneer jy goed lyk, voel jy goed – en geïnspireerd. Hou egter jou pogings om aantreklik te lyk, in balans. Dink twee keer en doen jou huiswerk voor jy voor kosmetiese chirurgie swyg. Sommige kan baie gevaarlik wees. ‘Skoonheid is soms misleidend. ‘n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ‘n Vrou wat ontsag het vir die Here verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:30-31 NLV).

3) Help waar hulp benodig word. Moeder Teresa het gesê: ‘Ons kan nie groot dinge doen nie. Ons kan net klein dinge met groot liefde doen.’ Jy sal verbaas wees oor die gevoel van krag, eiewaarde en bevrediging wat jy voel wanneer jy aan die behoeftes van ander voldoen. ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘It’s loving and giving that makes life worth living!’

Sielskos: Lev 21:1-23:25; Matt 5:27-37; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5