Probeer gemeenskaplike grond vind (3)

2023-12-04
1 Korintiërs 9:22 NLV

Om gemeenskaplike grond te probeer vind, moet jy aanpasbaar wees. Thomas Aquinas het gesê: ‘Om iemand te bekeer, moet jy hulle aan die hand neem en hulle lei.’ Jy moet gewillig wees om van waar jy is tot waar hulle is te beweeg; om aan te pas en dinge uit hulle perspektief te probeer sien.

Wanneer jy bewus word dat daar ‘n afstand tussen jou en die persoon wat jy probeer bereik is, sal dit goed wees om vir iets in jou eie agtergrond en ervaring te soek wat met hulle s’n verband hou. Moenie die proses begin deur hulle van jouself te vertel nie. Pas by hulle aan – moenie verwag dat hulle by jou moet aanpas nie. In plaas daarvan om vir mense te vertel hoe jy voel, vind uit hoe hulle voel. In plaas daarvan om hulle te vertel wat jy sien, vind uit hoe hulle dinge sien. In plaas daavran om vir hulle te probeer vertel wat jy wil hê, vind uit wat hulle wil hê. Abraham Lincoln het gesê: ‘Wanneer ek gereed maak om met iemand te redeneer, bestee ek een-derde van my tyd om aan myself en wat ek gaan sê en twee-derdes aan hom en wat hy gaan sê, te dink.’

Die waarheid is dat jy nie iemand op ‘n reis kan neem, tensy jy gewillig is om te begin waar hulle hulself bevind nie. Eers dan kan jy waarlik met hom of haar skakel en hulle lei na waar jy hulle wil neem. Jy kan baie van ‘n persoon weet en hulle steeds nie verstaan nie. Meer informasie is nie altyd die antwoord nie. Om mense waarlik te verstaan, moet jy verby dit wat jy weet beweeg en leer om die taal van die hart te praat.

Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:18-30; Ps 65; Spr 28:17-20

Probeer gemeenskaplike grond vind (2)

2023-12-03
1 Korintiërs 9:19 NLV

Of jy nou vir ‘n nuwe werk aansoek doen, iemand vir Christus probeer wen, raad gee of iemand se gedrag korrigeer, moet jy gemeenskaplike grond probeer vind om effektief te kan wees. Kom ons kyk na ‘n paar eienskappe wat daarvoor benodig word.

Beskikbaarheid. Paulus skryf: ‘…ek [het] myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen.’ Om areas van gemeenskaplike belang vas te stel, neem tyd. Dit verg ook inspanning. Daar word berig dat ‘n tipiese sakebestuurder deesdae ‘n aandagspan van net ses minute het. Dis pateties! In ses minute kan ‘n persoon skaars sy of haar voete, wat nog te sê van gemeenskaplike grond, vind. Om areas waarop julle saamstem te identifiseer, moet jy empatie hê en gewillig wees om te luister na wat die ander persoon te sê het.

In haar boek, How to Talk so People Listen, skryf Sonya Hamlin dat die meeste mense dit uitdagend vind om gemeenskaplike grond te vind. Sy sê: ‘Om te luister vereis dat ons ons gunsteling menslike tydverdryf – betrokkenheid by onsself en by ons eiebelang – prysgee. Dit is ons primêre, totaal menslike fokus. Dit is waar ons motivering om enigiets te doen, vandaan kom. Jy kan dus insien dat daar ‘n probleem ontstaan wanneer ons gevra word om na iemand anders te luister.’

Wat is dus die oplossing? Dis eerstens noodsaaklik om twee van die luisteraar se instinktiewe, onuitgesproke vrae te erken en te beantwoord: ‘Hoekom moet ek na jou luister? Watter voordeel hou dit vir my in?’ Elke keer as jy bereid is om na mense te luister en uit te vind hoe jy aan hulle behoeftes kan voldoen, is jy halfpad na jou doelwit om gemeenskaplike grond te vind.

Sielskos: Gen 40:1-41:43; Fil 2:5-13

Probeer gemeenskaplike grond vind (1)

2023-12-02
1 Korintiërs 9:22 NLV

Om iemand te beïnvloed, moet jy eers ‘n konneksie met hulle maak. Om dit te kan doen, moet jy gemeenskaplike grond vind.

Paulus skryf: ‘Alhoewel ek dus teenoor niemand ‘n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. Onder die Jode het ek soos ‘n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie… Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen. Vir die geringes het ek ‘n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry’ (verse 19-23 NLV).

Wanneer Paulus mense vir Christus wou bereik en beïnvloed, het hy probeer om elke blokkade tussen hulle en Christus te verwyder. Jy moet bereid wees om dieselfde te doen. Mense gee nie om hoeveel jy weet, totdat hulle weet hoeveel jy omgee nie. Daarom moet jy hulle hart eerste, nie kop eerste nie, benader. Voordat iemand die waarheid wat jy met hulle moet deel sal ontvang, moet hulle oortuig wees dat jy vir hulle lief is en omgee. Dit beteken dat jy gemeenskaplike grond moet vind.

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16

Meditasie vir beginners

2023-12-01
Psalm 48:10 NLV

Jy is hopelik teen hierdie tyd al oortuig dat die krag wat uit die meditering oor God se Woord spruit, ‘n krag is wat jy in jou lewe nodig het. Miskien is jy egter ‘n beginner en het ‘n beginpunt nodig. Jy dink: ‘Ja, ek weet ek moet meer tyd bestee om oor God se Woord te mediteer, maar hoe doen ek dit?’ Hier is ‘n paar idees om jou aan die gang te kry:

1) Mediteer oor God se seëning. ‘Ek wil die lof van die Here verkondig. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam verheerlik. Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie’ (Psalm 103:1-2 NLV). Meditasie lei tot ‘n dankbare hart.

2) Mediteer oor jou verhouding met God. ‘…Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons liewe Vader. Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is’ (Romeine 8:15-16 NLV).

3) Mediteer oor God se liefde vir jou. ‘U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Ek wil U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande’ (Psalm 63:4-9 NLV).

Jy kan oor God se beloftes om jou te beskerm, of te lei, of te onderrig, of te korrigeer, of te seën, mediteer. Die punt is, jy moet begin!

Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12

Doen wat God sê

2023-11-30
Genesis 15:1 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie vir jou lewe gee, gee Hy nie dadelik al die details vir jou nie. Hy sê eenvoudig: ‘Moenie bang wees nie; doen net wat Ek sê en Ek sal jou lei en jou voorspoedig maak.’ Wat het Abram se visie behels? ‘Die Here het vir Abram gesê: ‘Trek uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys. Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie. Ek sal jou seën…’ (Genesis 12:1-2 NLV). Hoe oud was Abram? ‘…Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran getrek het’ (Genesis 12:4 NLV). Wat het Abram agtergelaat? ‘Abram was baie ryk aan lewende hawe, silwer en goud’ (Genesis 13:2 NLV). Hoe het Abram gereageer? ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV).

Abraham sou nie vir jou kon sê waar sy finale bestemming is of hoe hy daar sou kom nie. Hy het slegs geweet dat God vir hom gesê het om die veilige hawe waar hy was, te verlaat. Verstaan die volgende: Dit waarvan jy gewillig is om weg te stap, bepaal dikwels wat God aan jou kan toevertrou. Met elke tree van geloof wat jy neem, sal God nog ‘n detail openbaar. Hy sal jou inlig soos jy die kennis nodig kry. Is die God wat vir Abram gesê het: ‘…gaan na die land wat Ek jou sal aanwys…’, besig om vandag iets soortgelyk vir jou te sê? Moenie bang wees nie; tree net uit in geloof en wees aan Hom gehoorsaam.

Sielskos: 2 Kron 29-31; Joh 12:20-36; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8

Bid God se beloftes (2)

2023-11-29
Jeremia 33:3 NLV

Wanneer jy gebede begin bid wat op die Skrif gebaseer is, sal jy die antwoorde wat jy nodig het, kry. Die Bybel is God se Woord en Hy hou altyd sy Woord. Jy moet as volg bid:

1) Wanneer jy nie die antwoord het nie. ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel…’ (vers 3 NLV).
2) Wanneer jy bekommerd of gestres is. ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV).
3) Wanneer jy geestelike insig nodig het. ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV).
4) Wanneer jy krag vir diensbaarheid nodig het. ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen omdat Ek na die Vader toe op pad is. Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik sal word. As julle enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen’ (Johannes 14:12-14 NLV).
5) Wanneer jy God se seën op jou lewe nodig het. ‘My volk en hulle huise, wat rondom my woonplek is, sal geseënd wees. Ek stuur reënbuie, buie van seëninge’ (Esegiël 34:26 NLV).

Wanneer jy die resultate sien wanneer jy God se beloftes bid, sal jy nooit weer op ‘n ander manier bid nie.

Sielskos: 2 Kron 25-28; Joh 12:12-19; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4