2024-01-24
Markus 7:14 NLV
Jesus het gesê: ‘…Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.’ Hy het lewensveranderende woorde gespreek, maar tog verstaan dat besige gedagtes nie altyd so goed luister nie. Is jy ‘n goeie luisteraar?
1) As jy ‘n leier is, luister jy na jou volgelinge? Die tipe leiers wat mense wil volg doen meer as net besigheid wanneer hulle met jou praat; hulle neem die tyd om ‘n gevoel te kry van wie jy as persoon is. As jy gewoond is om net na die feite te luister en nie na die persoon nie, moet jy jou fokus verander en regtig luister.
2) As jy besigheid doen, luister jy na jou kliënte? Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Luister na die fluisteringe en jy sal nie die gille hoef te hoor nie.’ Moenie so vasgevang in jou eie idees en produkte raak dat jy nie jou kliënte se bekommernisse, klagtes en voorstelle hoor nie. In sy boek, Business @ the Speed of Thought, sê die voormalige president van Microsoft, Bill Gates, die volgende: ‘Ongelukkige kliënte is altyd ‘n bekommernis. Hulle is egter ook jou grootste geleentheid.’ Dis hoekom jy dit ‘n prioriteit moet maak om in kontak met die mense wie jy dien, te bly.
3) As jy toegewyd daaraan is om te groei, luister jy na jou mentors? Jy sal nooit so vooruitstrewend of ervare wees dat jy dit kan bekostig om sonder mentors te wees nie. As jy nie een het nie, gaan uit en gaan soek hulle. As jy niemand kan kry nie, begin deur die regte boeke te lees, jou Bybel heel eerste. As jy nie in die voetstappe van iemand wyser volg nie, is die kans goed dat jy nie op die regte pad is nie.
Sielskos: Jak 1-2; Matt 8:18-27; Ps 91; Spr 3:3-4
2024-01-23
Psalm 139:14 NLV
Vir jou kind om te kan floreer en selfwaarde te kan hê, moet hulle vier dinge verstaan:
1) Hoe God oor hulle voel. Die Psalmdigter sê: ‘…Aan sy liefde is geen einde nie’ (Psalm 136:1 NLV). Hierdie wete is die fondasie van jou kind se geestelike ontwikkeling en hul verhouding met God.
2) Hoe jy oor hulle voel. Laat hulle verstaan dat alhoewel jy hulle korrigeer, jy hulle nooit sal verwerp nie.
3) Hoe hulle oor hulself voel. Die pynlikste aspek van grootword hou verband met die aanslag op hulle selfbeeld wat amper universeel onder vandag se tieners voorkom. Jong mense voel tipies soos dwase en mislukkings voor hulle nog ‘n kans gehad het om met hulle lewe te begin. Jy moet hulle dus laat verstaan dat hulle nog besig is om te ontwikkel en ongelooflike potensiaal het. ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Help hulle om hulle Godgegewe gawes te ontdek en te ontwikkel – elektronika, die kunste, musiek of selfs om hase vir pret en wins groot te maak. Enigiets! Dit gaan nie soseer daaroor wat jy jou kind leer nie; die sleutel daarin is dat hulle iets leer waarmee hulle kan antwoord wanneer dit vir hulle voel of die wêreld vra: ‘Wie is jy en wat beteken jy vir die wêreld?’ Die tiener wat geen antwoord op hierdie vrae het nie, word op ‘n baie kwesbare tyd in die lewe onbeskerm gelaat. Dus is die ontwikkeling en slyp van vaardighede een van die waardevolste bydraes wat jy as ouer kan maak.
4) Hoe hulle maats oor hulle voel. As hulle hul goedkeuring gee, is dit goed. As hulle dit egter nie gee nie en jy het die eerste drie dinge reggekry, sal jou kind steeds floreer.
Sielskos: Dan 11-12; Matt 8:10-17; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2
2024-01-22
Lukas 12:48 NLV
Een skrywer merk op: “Dit het my die helfte van my lewe geneem om die groot krag van keuses en kanse te ontdek. Goeie verhoudings is God se geskenk aan jou; wat jy met dit doen is jou reaksie op Hom. Te dikwels drapeer ons ons passiwiteit, of gebrek aan moed, of verontagsaming van ons verantwoordelikheid in die verslete tapisserie van die noodlot. Ons weef verskonings en gee alibi’s aan ons skuldige harte, wat nie daarin geslaag het om omstandighede te verander nie. Ons leef in ontkenning dat dinge beter in ons verhoudings kon gewees het as ons net vroeër opgetree het. Die ergste daarvan is dat baie mense God dwaaslik aankla en Hom vir verhoudings wat hulle self kon verander het, aanspreeklik hou.
God se genade gee ons geleenthede, elke verhouding is ‘n geskenk wat uitgepak en geniet moet word. Ons moet elke kosbare oomblik as ‘n avontuur aangryp. As ons van die potensiaal van elke verhouding bewus is, sal ons harte deur die dringendheid om van elke ontmoeting die beste te maak, deurdring word. Jy het die geleentheid gehad om nie met haar te trou nie, of om daardie oproep te maak, of om die eerste te wees om verskoning te vra, of om jou hartsbegeerte te omhels. Die keuses is joune.
Jy moet dus elke dag sê: ‘Ek sal my kanse waag, my keuses maak, deur veranderinge gaan en my besluite neem.’ Wanneer die dag dan verby is, sal jy vir jouself sê: ‘Dit was my lewe en my verhoudings en ek is verantwoordelik vir albei.'” Jesus het gesê: ‘…Baie word verwag van hulle wat aan wie baie gegee is…’ Het jy ‘n verhoudingsprobleem? Neem aksie!
Sielskos: Dan 8-10; Matt 8:1-9; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22
2024-01-21
Psalm 62:11 NLV
Kom ons bevestig dit eens en vir altyd. As God jou met geld kan vertrou, sal Hy jou finansieel seën (sien 2 Korintiërs 9:6-11 NLV). Daar is egter sekere voorwaardes aan sy seëninge gekoppel. Hier is vier van hulle wat jy moet eer.
1) Moenie krediet daarvoor probeer vat nie. God het vir die Israeliete gesê: ‘Hy het dit gedoen sodat jy nie moet dink dit is deur jou eie krag en energie waardeur jy ryk geword het nie. Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word… As jy ooit die Here jou God vergeet… sal jy verseker vernietig word’ (Deuteronomium 8:17-19 NLV).
2) Moenie ander mense vergeet nie. Die Bybel beveel ons: ‘Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld… hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood…’ (1 Timoteus 6:17-18 NLV).
3) Moenie arrogant word nie. Jeremia vermaan ons: ‘…Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie… Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie. Laat hulle wat wil spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp dat Ek die Here is…’ (Jeremia 9:23-24 NLV).
4) Moet niks toelaat om God se plek in te neem nie. ‘…laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat reg is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: ‘Nou wie is die Here?’…’ (Spreuke 30:8-9 NLV). Onthou, jy besit niks nie – jy is net ‘n administrateur van God se boedel en ‘n eksekuteur van sy wil. Dis ‘n wonderlike verantwoordelikheid, maak dus seker dat jy jou goed van jou taak kwyt.
Sielskos: Eks 20:7; Jes 29:22-24; Matt 6:9; Fil 2:5-11
2024-01-20
2 Korintiërs 12:9 NLV
Wie sou jy sê het die beste huwelik in die Bybel gehad? Adam en Eva se huwelik het in die Paradys begin, maar dit was al die pad afdraand van daar af. Abraham het gelieg en gesê dat sy vrou Sara sy suster is en toe haar slavin, Hagar, swanger gemaak. Isak en Rebekka het ‘n groot gedeelte van hulle huwelik gestry omdat Esau sy witbroodjie en Jakob hare was. Jakob het kinders by twee verskillende vrouens en hulle slavinne gehad. Dawid was ‘n ramp as eggenoot en Salomo was nog erger. Toe Job se lewe uitmekaar geval het, het sy vrou vir hom gesê: ‘…Vloek God en sterf!’ (Job 2:9 NLV).
In feëverhale is die lewe ‘n moeilike avontuur totdat jy trou en vir ewig gelukkig saam woon. Nêrens in die Bybel trou ‘n paartjie egter en lewe dan vir ewig gelukkig saam nie. Die huwelik red niemand nie, net Jesus kan dit doen.
Hoe dikwels sit paartjies in stille angs langs mekaar in die kerk? Hulle het ‘n beeld van geestelike sukses om uit te straal, maar hulle geniet nie intimiteit met mekaar nie. Of daar is mishandeling wat plaasvind. Of hulle jong dogter is swanger en hulle weet nie wat om te doen nie. Of een van hulle is agter toe deure ‘n alkoholis. Of hulle staar bankrotskap in die gesig.
Dikwels kry die mense wat hulp nodig het dit die minste, omdat hulle van hul troontjie sal moet afklim om dit te ontvang. Wat as regte mense so waarheidsgetrou oor die huwelik soos die Bybel was? In die Skrif is die huwelik ‘n plek waar ons leer, God se genade ontvang en saam in liefde groei.
Sielskos: Dan 5-7; Matt 7:15-29; Ps 89:1-14; Spr 2:20
2024-01-19
Kolossense 4:2 NLV
Die woord ‘waaksaam’ verwys na die Ou Testamentiese gebruik om op ‘n stadsmuur te sit en wag te hou. Hierdie manne was die eerste mense wat gewapende magte of reisende handelaars sien aankom het. Hulle het die optimale uitkykpunt gehad. Hulle het gesien wat niemand anders kon sien nie. Hulle het alles vroeër as almal anders gesien.
Dit is presies wat gebeur wanneer ons bid. Ons sien wat niemand anders sien nie en ons sien dit vroeër as ander mense. Hoekom? Omdat gebed ons van God se oogpunt voorsien; dit verhoog ons bewustheid en gee ons ‘n sesde sintuig wat ons in staat stel om geestelike realiteite te kan waarneem.
In hulle bekende boek, Geeks and Geezers, maak die besigheidskenners Warren Bennis en Robert Thomas ‘n interessante opmerking oor wat suksesvolle leiers in elke veld in gemeen het. Bennis en Thomas noem hulle eersteklas waarnemers. ‘Wanneer jy ‘n eersteklas waarnemer is, stel dit jou in staat om talent te ontdek, geleenthede te identifiseer en struikelblokke te vermy. Leiers wat oor en oor sukses behaal begryp konteks meesterlik. Dis een van daardie karaktereienskappe, soos smaak, wat moeilik is om te ontleed. Die vermoë om ‘n reeks faktore te oorweeg, sommige so subtiel soos hoe verskillende groepe mense ‘n gebaar sal interpreteer, is een van die kenmerke van ‘n ware leier.’
Gebed verander ons in eersteklas waarnemers. Dit help ons om te sien wat God wil hê ons moet waarneem. Hoe meer jy bid, hoe meer neem jy waar. Hoe minder jy bid, hoe minder neem jy waar. Dis so eenvoudig soos dit. Hier is ‘n Bybelse formule vir sukses in enige area van die lewe: ‘Hou aan om te bid. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.’
Sielskos: Dan 3-4; Matt 7:1-14; Ps 84; Spr 2:16-19