2024-01-30
Openbaring 2:11 NLV
Jy kan dieselfde Skrifgedeelte op twee verskillende geleenthede lees en dit sal op heeltemal verskillende maniere met jou praat. Die Griekse filosoof Heraclitus het glo gesê: ‘Jy klim nooit twee keer in dieselfde rivier in nie.’ Jy lees ook nie dieselfde Bybelvers twee keer op dieselfde manier nie. Dis ‘n bewys van sy hemelse skrywer. Sy woorde is op sy intieme en onbeperkte kennis van jou omstandighede, begeertes, vrese, verlede, persoonlikheid en lotsbestemming gebaseer. Jy moet egter die tyd maak om te luister en ‘n sensitiwiteit vir wat Hy sê, ontwikkel.
Daar is ‘n verhaal van ‘n musiekafrigter wat aangestel is om met operasangers te werk wat sekere note nie kon sing nie, al het dit binne hul vokale register geval. Dit was ‘n musikale raaisel. Die afrigter het uitgebreide toetse op hul stembande gedoen, maar hy kon geen rede vind hoekom hulle nie daardie note kon sing nie. Toe het hy hulle gehoor getoets. Hy het ontdek dat hierdie operasangers nie ‘n noot kon sing wat hulle nie kon hoor nie. Die probleem was nie hulle sangvermoë nie, maar hulle gehoor. ‘Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees… sê…’
Totdat jy die stem van God hoor, sal jy nie in staat wees om sy lied te sing nie. Hoekom nie? Omdat jy van toon af sal wees. Dis hoe ons in sondige leefstyle, negatiewe siklusse en destruktiewe patrone vasgevang word. Wanneer jy egter jou Bybel oopmaak en waarlik God se stem – sy liefdevolle, bevestigende, genadige, oortuigende, gesaghebbende, kragtige stem – hoor, begin jou lewe met die Heilige Gees harmoniseer.
Sielskos: Num 7; Matt 10:1-10; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18
2024-01-29
Hebreërs 10:23 NLV
Jy sal agterkom dat God tydens die skeppingsproses die dae nadat die nag verby was, getel het. Die Bybel sê nie: ‘Die oggend en aand was die eerste dag,’ nie. Nee, dit sê: ‘God het die lig ‘dag’ genoem en die donkerte ‘nag.’ Dit alles het op die eerste dag gebeur’ (Genesis 1:5 NLV). Dit beteken dat God daarin spesialiseer om lig uit die donkerte voort te bring – jy moet net deur die een kom om by die ander een uit te kom!
God het vir Moses gesê dat die engel van die Here deur die nag sou kom en wanneer hy die bloed van die lam aan deurkosyne sien, sou die inwoners van daardie huis gespaar bly (sien Eksodus 12:12-13). Die Psalmdigter het geskryf: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Die dagbreek is des te meer briljant as gevolg van die duisternis wat dit voorafgegaan het, net soos jou vordering des te meer lonend is as dit teen ‘n agtergrond van pyn, wins en deurbraak plaasgevind het.
Wanneer jy iemand sien wat ‘n wonderlike dag het, is die kans goed dat jy na iemand kyk wat ‘n lang nag gehad het. Wanneer jy hulle in oorwinning hoor uitroep, mag dit dalk wees omdat hulle die nag huilend in gebed voor God deurgebring het. Die Bybel sê: ‘Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:23 NLV). Om God te vertrou is meer as net wensdenkery. Dis die wete dat wanneer Hy dit gesê het, Hy dit sal doen. Dis die besef dat Hy nie net die skepping nie, maar ook jou omstandighede beheer. Hou dus styf vas.
Sielskos: Num 4:34-6:27; Matt 9:27-38; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2024-01-28
Psalm 34:9 NLV
Wat jy oor God glo is noodsaaklik vir jou lewenskwaliteit, veral in moeilike tye. Begin dus vandag om vir jouself te sê: ‘God is goed – altyd!’ en hou aan om dit te sê totdat dit in jou gees posvat. Wat beteken dit om ‘goed’ te wees? Dit is om na die beste en die hoogste in die lewe te strewe. God weet altyd wat die beste en die hoogste is, dus is sy goedheid sonder weerga. God is waarlik, prakties en voortdurend goed, wat beteken dat jou welstand, sekuriteit, vrede, selfvertroue en vreugde oorvloedig moet wees! ‘n Goeie God kan nie sy belofte verbreek, sy kinders verlaat of nie vir hulle lief wees of sorg nie. Jy kan seker wees dat Hy jou in elke beproewing of omstandigheid op die beste moontlike manier sal behandel.
Wanneer dit lyk of dinge uitmekaar val, wanneer jy verward in die donker rondstruikel, is dit moeilik om God se goedheid raak te sien of te voel dat dinge beter sal word. Dis wanneer jy krag uit die geloof wat God in jou geplaas het (sien Romeine 12:3), moet put en deur ‘n daad van jou wil op Hom moet vertrou.
‘n Ontstelde gemeentelid het eenkeer vir sy pastoor gevra: ‘Lyk die wêreld nie vir jou ook soos ‘n wrak nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, soos die wrak van ‘n saad wat bars! Sonder die ‘wrak’ stadium, sal die saad nooit aan die eikeboom geboorte gee nie.’ Omhels dus God se wil in die tye wat jy getoets word, want dit is ‘…werklik goed en aanvaarbaar en volmaak…’ (Romeine 12:2 NLV). Jy sal op die ou einde sien dat ‘…die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’
Sielskos: Eks 20:8-11; Jes 58:13-14; Luk 4:16; Heb 10:19-25
2024-01-27
1 Korintiërs 15:10 NLV
Daar is ‘n verhaal oor ‘n seun wat met ‘n dooie rot in sy hand by die huis kom en nie weet dat die pastoor by sy ma huisbesoek doen nie. Opgewonde begin hy vertel: ‘Ma, Ma sal nooit raai wat gebeur het nie. Daar het ‘n rot in die motorhuis rondgehardloop. Ek het dit gesien en hom toe met ‘n klip gegooi en hom geslaan. Hy het net daar gelê, so toe het ek op hom getrap. Toe tel ek hom op en gooi hom teen die muur.’ Dan eers sien hy die pastoor en die moordende uitdrukking op sy ma gesig raak. Dus hou hy die rot op en voeg in ‘n vroom stem by: ‘En toe het die liewe Here hom huis toe geroep.’
Ons hoef nie vroom praatjies voor God te maak nie. Ons kan ons maskers afhaal en weet dat God ons ten spyte van ons probleme liefhet. As daar ‘n kerk was waarheen mense al hul ware bagasie en gebrokenheid kon bring, waar almal hulself kon wees en geliefd was, sou daar nie genoeg plek vir al die mense in die gebou gewees het nie.
Paulus self het vertel van die tye wanneer hy goed wou doen, maar sy menslike natuur eerder oorgeneem het. Hy het egter geweier om tou op te gooi, omdat hy besef het dat hy nog steeds moes groei. ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie…’ (verse 9-10 NLV).
Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 9:14-26; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2024-01-26
Johannes 12:43 NLV
Die Bybel sê: ‘Nietemin het baie uit die geledere van die leierfigure in Hom begin glo, maar vanweë die Fariseërs het hulle dit nie in die openbaar bely nie sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Hulle het die verering deur mense liewer gehad as die verering deur God’ (verse 42-43 NLV).
Hoe seker is jy van jouself as leier? Wanneer iemand anders ‘n goeie idee het, ondersteun jy dit of probeer jy dit onderdruk? Vier jy ander mense se suksesse of voel jy bedreig daardeur? As jy idees probeer onderdruk of bedreig voel, het jy ‘n probleem met onsekerheid en moet jy dit hanteer sodat jy ten volle sukses in jou Goddelike roeping kan behaal. Let die volgende op:
1) Onsekere leiers veroorsaak onsekerheid in ander. Jy kan nie gee wat jy nie het nie. Sonder selfversekerheid, kan jy nie ander versekerd laat voel nie. Om ‘n effektiewe leier te wees, die tipe wat ander mense wil volg, moet jy die mense rondom jou goed oor hulself laat voel.
2) Onsekere leiers neem meer van mense as wat hulle gee. Hulle is konstant op soek na erkenning, validasie en liefde. Hulle aandag is daarop om sekuriteit te kry en nie om dit aan ander te voorsien nie.
3) Onsekere leiers beperk aanhoudend hulle beste mense. Hulle gaar mag op. Hoe beter hulle volgelinge is, hoe meer bedreig voel hulle en hoe harder werk hulle om hul volgelinge se sukses en erkenning te beperk.
As hierdie dinge jou beskryf, lees die volgende: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (Romeine 12:10 NLV).
Sielskos: Num 1-2; Matt 9:1-13; Ps 100; Spr 3:7-8
2024-01-25
1 Timoteus 4:14 NLV
Die enigste manier om aan te hou verbeter is om aan te hou oefen. Nancy Dorman sê: ‘Die langste afstand tussen twee punte is ‘n kortpad.’ Dis waar. As jy regtig die begeerte het om in ‘n spesifieke area te groei, moet jy uitvind wat dit sal verg en dan besluit om die prys te betaal.
Dawid het nie ewe skielik sy talent as harpspeler ontdek toe hy by koning Saul se paleis aangekom het nie. Hy het dit deur jare se oefening op eensame heuwels terwyl hy na sy pa se skape gekyk het, ontwikkel. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Totdat ek daar opdaag, konsentreer daarop om die Skrif… te lees… Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het… nie. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamheid sodat almal jou vordering kan sien’ (verse 13-15 NLV).
Vooruitgang, sukses en groei vind nie deur osmose plaas nie, dit verg dissipline. Daar is nie ‘n maklike manier om ‘n gedissiplineerde persoon te word nie. Enigiemand wat net doen wat hy of sy moet wanneer hulle in die bui is of wanneer dit gerieflik is, sal agtergelaat word. Verbetering vind deur dissipline plaas.
‘n Gedissiplineerde persoon maak en aanvaar nie verskonings nie, hulle elimineer verskonings. Soos die klassieke Franse skrywer François de La Rochefoucauld gesê het: ‘Byna al ons foute is meer verskoonbaar as die maniere wat ons uitdink om dit weg te steek.’ As jy verskeie redes het hoekom jy nie gedissiplineerd kan wees nie, moet jy besef dat dit net ‘n klomp verskonings is – wat uitgedaag moet word as jy sukses in dit waarvoor God jou geroep het, wil behaal.
Sielskos: Jak 3-5; Matt 8:28-34; Ps 96; Spr 3:5-6