2023-12-11
Psalm 148:8 NLV
Die winde was teen Moses toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het, dit was teen hulle op pad na die Beloofde Land en dit was teen hulle toe hulle daar aankom. Daar is nie so iets soos ‘n reis sonder storms nie: ‘…Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê…’ (Handelinge 14:22 NLV).
Wanneer jy dag na dag moet veg om kop bo water te hou, is dit maklik om moedeloos te raak. Paulus het gesê: ‘Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie… Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word’ (Handelinge 27:20 NLV). Voor jy egter tou opgooi, vra jouself die volgende af: Wat as God die Een is wat die storm gestuur het om jou te kry waarheen jy moet gaan? Wat as Hy die Een is wat: ‘…praat, en die winde steek op, en die golwe word al hoër’ (Psalm 107:25 NLV), sodat jy jou oë op Hom moet hou? Wat as Hy die een is wat: ‘…’n sterk wind oor die see laat opkom…’ (Jona 1:4 NLV), om te kyk of jy jou geloof behou wanneer jy nie land kan sien nie?
In Eksodus 10 het Hy: ‘…die hele dag en ook deur die nag ‘n oostewind laat waai… die wind [het] die sprinkane begin aanbring… Hy het ‘n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het…’ (verse 13, 19 NLV). Een skrywer voeg by: ‘Toe die Here vir Israel geveg het, het stormwinde hulle verlossing teweeggebring. Eendag, deur God se groot genade, sal ons ook op die see van glas staan en sien hoe stormwinde ons verlossing teweegbring.’
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21
2023-12-10
Handelinge 27:10 NLV
Paulus het vir almal aan boord die skip op pad na Rome gesê: ‘Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens’ (vers 10 NLV).
Een skrywer sê: ‘Paulus het nie hier van ‘n klein skermutseling of ‘n bietjie verlies gepraat nie. Hierdie reis sou met rampe geteister word, met baie verlies, selfs aan hulle lewens. Vir Paulus het hierdie reis uiteindelike martelaarskap beteken. Paulus sou egter nie sterf voordat sy sending voltooi is nie, totdat hy ‘n noodlottige slag aan die Romeinse Ryk se hart, politieke genialiteit, militêre oppergesag en trots en praal, sou toedien nie.
Toe Paulus met die evangelie in Rome ingestap het, het die hel gesidder en die hemele hulle verbly. Ons het almal ons lewens aan daardie man te danke wat met ‘n ketting om sy enkel Rome begin bekeer het en vir ons die boeke van Efesiërs, Kolossense, Filippense en Filemon terwyl hy die gevangene vir Jesus Christus was, gegee het. Gelukkig vir ons was die bootrit na Rome nie die einde van die verhaal nie!
‘Maar die Romeinse offisier wou Paulus red… Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal. Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het’ (verse 43-44 NLV).
Wanneer jy jou oë op Jesus hou, sal jy ten spyte van die storm regkom. Dis gewaarborg!
Sielskos: 2 Sam 6:11-23; Luk 18:18-30
2023-12-09
Handelinge 27:4 NLV
Wanneer jy iets vir God begin doen, sal die Vyand seker maak dat jy winde wat teen jou is, teëkom. Trouens, as jy nie teen die winde seil nie, is die kans goed dat jy in die verkeerde rigting op pad is! Die Bybel sê dat Jesus deur die duiwel op die proef gestel is (sien Matteus 4:1). Satan het nooit daarmee opgehou nie, insluitend die aand voordat Jesus gekruisig is: ‘Satan het… in Judas… een van die twaalf, ingevaar’ (Lukas 22:3 NLV).
Reimar Schultz sê: ‘Waar jy ook al vandag gaan, sal Satan jou êrens op ‘n straathoek, in die kantoor of by die huis probeer beetkry. Hy sal jou laat struikel wanneer jy jou geestelike wapenrusting by die huis vergeet – as jy jou gordel van waarheid in die kas of jou borswapen van geregtigheid by die deur los; as jy jou skild van geloof, die swaard van die Gees en die helm van verlossing vergeet.
As jy in die oggend sê: ‘Ek sal bid wanneer ek ‘n kans vandag kry,’ het jy reeds jou oorwinning weggegee. Kort voor lank sal die verkeerde woorde uit jou mond kom, jy sal na verbode vrugte kyk en ‘n onwelvoeglike houding hê. Die dwaasste ding wat jy kan doen, is om die huis ongewapen en geestelik naak te verlaat. ‘n Dwaas sê: ‘Ek het nie tyd om te bid nie,’ maar later bestee hy baie tyd om te probeer om die skade wat sy versuim om te bid opgelewer het, te herstel. Ons het, van Adam af, elke goeie ding in die koninkryk ontvang, as gevolg van mans en vrouens wat aan hulle geloof vasgehou het toe dinge begin moeilik raak het. Die Bybelse geskiedenis van die kerk eindig met hierdie seëvierende woorde: ‘…En só het ons Rome bereik’ (Handelinge 28:14 NLV).’
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:5-17; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15
2023-12-08
Lukas 18:14 NLV
Jesus het gesê: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as ‘n sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word’ (verse 10-14 NLV).
Jy kan soos die vroomste mens in die kerk lyk en steeds ‘n hart vol hooghartigheid hê. Die ergste is dat jy dit nie weet nie. As jy byvoorbeeld die krediet neem vir al die goed wat God jou in staat gestel het om te bereik en te verkry, is jy hooghartig. Wanneer jy jouself met ander mense vergelyk, is dit hooghartigheid. Wanneer jy dink dat jy die wil van God sonder die krag van God kan doen, is jy hooghartig. Wanneer jy mense wat nie by jou portuurgroep of sosiale sirkel inpas nie uitsluit, is jy hooghartig.
Jy sal ‘n prys daarvoor betaal, want: ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). As jy dus in sy guns vandag wil wandel, moet jy jouself nederig voor Hom ag.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10
2023-12-07
Jakobus 5:14 NLV
Die Bybel sê: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (verse 14-15 NLV). Laat daar dus geen twyfel wees nie: wanneer ons siek is, word ons aangesê om die ouderlinge te roep om ons met olyfolie te salf en vir ons te bid, met die geloof dat ons gesond sal word.
Ons moet ook in tye van siekte vir mekaar bid. Jesus het gesê: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… in my Naam…. sal [hulle] siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV).
As jy vandag siek is, bid die volgende: “Here, selfs al is die dokter se verslag negatief, het U die laaste sê oor my lewe. U Woord sê: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken…’ (Psalm 139:16 NLV). Vergewe my vir enige deur wat ek vir hierdie siekte oopgemaak het deur nie goed na my gesondheid te kyk nie. Hef my as getuienis van u helende krag op. U is die God wat wonderwerke doen en wat dieselfde gister, vandag en vir altyd is (sien Hebreërs 13:8). Ek neem gesag oor elke gebrekkige deel van my liggaam en beveel elkeen om in die Naam van Jesus gesond te word. Ek beveel dat ek nie voor my vasgestelde tyd sal sterf nie, maar sal lewe om te getuig wat U gedoen het (sien Psalm 118:17). Deur geloof staan ek op U Woord en verklaar: ‘Deur u wonde is ek genees'” (sien Jesaja 53:5).
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5
2023-12-05
Genesis 27:27 NLV
Elke kind wil graag sy pa se seën hê en elke pa is geroepe om sy kinders te seën. Toe Isak sy seuns geseën het, het hy namens God opgetree en sy gedelegeerde goddelike mag gebruik om seën oor te dra. ‘n Vader se seën was ‘n gekoesterde instelling, maar die doeltreffendheid daarvan het op die feit dat Isak sy seuns geseën het as ‘n daad van geloof en nie uit blote sentiment of begunstiging nie, berus. Volgens Hebreeuse gebruik het ‘n vader se seën uit twee elemente bestaan.
1) ‘n Betekenisvolle aanraking. “Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom… Toe sê Isak: ‘Kom nader en soen my, my seun'” (Genesis 27:22, 26 NLV). ‘n Patriarg se seën het die oplegging van hande, ‘n soen en omhelsing van aanvaarding en liefde ingesluit. Jesus het presies geweet wat kinders nodig het, daarom het Hy: ‘…sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën’ (Markus 10:16 NLV). Sulke uitdrukkings van liefde, seën steeds ons kinders wat daarna smag om dit van ons te ontvang.
2) ‘n Gesproke woord van liefde. Voordat hy Jakob geseën het, het Isak gesê: ‘…Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het’ (Genesis 27:27 NLV). Vir ‘n stadsjapie mag hierdie woorde dalk nie baie beteken nie, maar vir Isak se seuns wel. Hierdie ou buitelug-patriarg wat van die natuur gehou het, het in wese gesê: ‘Dis my seun – ‘n jagter, ‘n man se man, net soos sy pa!’ Hy kon nie meer bevestigende woorde tot sy seun gespreek het nie.
Pa, laat jou woorde nie krities, neerhalend of onsensitief wees nie, maar woorde wat sê: ‘Ek kan nie trotser wees as om jou my kind te noem nie!’
Sielskos: Jos 1-4; Joh 13:31-38; Ps 130; Spr 28:21-24