Wen die stryd teen apatie

2023-12-17
2 Timoteus 1:6 NLV

Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur aan te blaas.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat, selfs as jy talentvol is, jy apaties kan word as jy nie aanhou om die regte dinge te doen nie. ‘Ons moet dus baie styf vashou aan die boodskap wat ons gehoor het sodat ons tog nie dalk wegdryf nie’ (Hebreërs 2:1 NLV). Kom ons kyk na twee dinge wat jou passie, entoesiasme, motivering en fokus by jou kan steel:

1) Gebrek aan doelwitte. ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Wat het jou altyd opgewonde gemaak? Wat het jou belangstelling daarin vernietig? Is dit ‘n begeerte wat jy weer kan laat oplewe? Skryf dit neer. Ignoreer die potensiële koste daaraan verbonde of redes hoekom dit dalk nie mag werk nie. Gee net jou gedagtes die geleentheid om optimisties en opgewonde oor iets te voel.

2) Verkeerde doelwitte. Streef jy ‘n doel na wat deur iemand anders op jou afgedwing is? Of roei jy dalk teen die gety van God se wil vir jou lewe, soos Jona voor hy deur die groot vis ingesluk is? Vra Hom om seker te maak wat die geval is. Het God jou werklik gelei om jouself met daardie buitensporige item te bederf wat nou van jou vereis om twee werke te behartig? Of dalk het die tyd vir ‘n doelwit wat deel was van God se plan vir ‘n spesifieke seisoen van jou lewe, tot ‘n einde gekom. Om aan te beweeg is soms moeilik, maar o, die vreugde en vrede om te weet dat jy in die middel van God se volmaakte wil is!

Sielskos: Jona 2; Luk 11:29-36

Wanneer jy kwaad word (2)

2023-12-16
Psalm 37:8 NLV

Jou woede mag dalk of mag dalk nie die persoon teen wie dit gerig is, seermaak nie, maar dit kan jou definitief seermaak. Langdurige woede stel giftige chemikalieë in jou liggaam vry wat jou bloeddruk verhoog, cholesterol veroorsaak en jou risiko vir beroertes en hartaanvalle verhoog. Elke minuut wat aan woede bestee word, is ‘n minuut wat jou van vreugde ontneem. Almal raak van tyd tot tyd ontsteld. Wanneer jy egter met kwalik bedekte woede rondloop, vermy mense jou. Jy gee ook die persoon wat jou kwaad maak mag oor jou houding en reaksies. God wil hê dat jy in vrede moet leef. Hier is hoe jy jou woede kan laat gaan:

1) Herken die rede vir jou seer en emosie wat die wortel van jou woede is. (Trots?).
2) Wees bedag op hoe jou woede homself openbaar (soos ‘n nors gesig of vloektaal).
3) Beperk die effek van woede op jou liggaam deur diep in en uit te asem en voeg ‘n bevestiging soos: ‘Dankie, Vader,’ of ‘Ek ontvang nou u vrede,’ by. Let op na jou stemtoon, nie net met iemand wat jou kwaad gemaak het nie. Versoek eerder as om te beveel. Jy sal meer in beheer voel en mense sal meer geneig wees om saam met jou te werk.
4) Besluit om te vergewe. Jy sal weet dat jy vergewe het wanneer jy nie meer die begeerte het om te sien hoe jou oortreder gestraf word nie.

Moenie dit verwar met die realiteit dat jy steeds seergemaak voel nie. Gevoelens volg op gedrag. As jy aanhou om die wond weer oop te maak deur voortdurend daaroor te praat, sal dit nooit genees nie. Hou net aan om in liefde te loop en jou emosies sal in lyn met jou besluit kom.

Sielskos: Neh 1-4; Joh 17:13-26; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19

Wanneer jy kwaad word (1)

2023-12-15
Jakobus 1:19 NLV

Die Bybel gee ons drie sleutels om ons woede op die regte manier te hanteer. Kom ons kyk na elkeen en wat ons daaruit kan leer:

1) ‘Wees altyd gou om te luister.’ Moenie reageer nie en moenie haastig wees om te oordeel nie. Probeer eers die feite agtermekaar kry en oorweeg dan, versigtig en met gebed, hoe God wil hê jy moet reageer.

2) ‘Nie te gou om te praat nie.’ As jy onseker is of nie weet nie, sê net so. Daar is ‘n ou Chinese spreuk wat lui: ‘Dis beter om niks te sê en soos ‘n dwaas te lyk, as om jou mond oop te maak en alle twyfel uit die weg te ruim.’ Jy sal nie vir dit wat jy nie sê nie, later hoef te verduidelik of verskoning voor te vra nie.

3) ‘Nie te gou om kwaad te word nie.’ Die Bybel sê nie dat jy nooit moet kwaad word nie. Dit sê dat jy oor die regte dinge, op die regte manier, op die regte tyd moet kwaad word. Salomo sê: ‘…Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV).

Daarom is dit so belangrik om jou seer te hanteer. ‘n Wond wat nie genees nie veroorsaak pyn wat dikwels in woede manifesteer. Die probleem is dat ons ons woede saam met ons dra en dit op ander uithaal. Gevolglik distansieer hulle hulself van ons, of wantrou ons, of ontneem ons die intimiteit en nabyheid wat ons van hulle begeer. Die Bybel sê: “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien” (Spreuke 19:11 NLV). ‘n Christelike karakter groei deur geduld, liefde en selfbeheersing uit te oefen.

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:1-12; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14

Moenie bang wees om te misluk nie

2023-12-14
Josua 1:5 NLV

Omdat ons deeglik van ons beperkings bewus is, is ons geneig om ons doelwitte tot ons gemaksone te beperk. Dit kan tot ‘n lewe van middelmatigheid en onvervulde drome lei. Jou inspanning rus egter nie alleenlik op jou skouers nie, maar op God s’n. Ja, jy het ‘n deel om te doen. Wanneer jy egter jou beste gedoen het, moet jy God vertrou om die res te doen.

God het vir Josua op die drumpel van die Beloofde Land gesê: ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie. Wees sterk en dapper…’ (verse 5-6 NLV). Jou vermoëns is beperk, maar God s’n is onbeperk.

Die vrees vir mislukking is dikwels op die verkeerde oortuiging dat sukses slegs op ons eie vermoë rus, gebaseer. Omdat ons van ons beperkings bewus is, bly ons in ons gemaksone in plaas daarvan om die reuse in die beloofde land aan te pak.

Wanneer jy weet dat dit wat jy wil hê in lyn met God se wil is, moet jy dapper wees en weet dat jy uiteindelik sal slaag. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).

Wanneer jou vertroue in God is, word jou sukses gewaarborg. Wanneer jy weet dat dit wat jy wil hê ook is wat God wil hê, kan jy in krag vorentoe beweeg.

Sielskos: Kol 1-2; John 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9

Mediteer oor die Skrif

2023-12-13
Psalm 119:15 NLV

As jy geestelik wil groei, het jy ‘n gereelde dieet van die Skrif nodig. Daar is geen plaasvervanger nie. Daar is geen aanvullings nie. Die digter T.S. Elliot het gesê: ‘Alles wat ons eet het ‘n effek op ons. Dit affekteer ons tydens die proses van assimilasie en vertering; en ek glo dat presies dieselfde van enigiets wat ons lees, waar is.’ Ons is wat ons lees.

Kom ons neem dit egter ‘n stappie verder. Om sonder meditasie te lees, is soos om te eet sonder om die kos te verteer. As jy die voedingswaarde wil absorbeer kan jy dit nie net lees nie; jy moet dit kou. Meditasie is die manier wat ons die Skrif metaboliseer. Dis hoe dit in ons gees en siel kom. Die Franse skrywer Jacques Réda het ‘n spesifieke gewoonte gehad. Hy sou elke dag deur die strate van Parys stap, met die doel om daagliks een nuwe ding te sien. Dis hoe hy sy liefde vir die stad vernuwe het.

Ons vernuwe ons liefde vir God op ‘n soortgelyke manier. Ons liefde groei soos ons nuwe dimensies van sy persoonlikheid sien en sy persoonlikheid word hoofsaaklik in die bladsye van die Bybel geopenbaar. Wat as ons God se Woord op dieselfde manier as wat Jacques Réda deur Parys se strate gestap het, benader?

Hier is die geheim tot geestelike groei: Jy kan nie net bloot die Bybel lees nie, jy moet daaroor mediteer. Lees verbreed ons begrip, maar meditasie verskaf diepte. As ons slegs die Skrif lees, is ons begrip van God en ons ervaring van Hom eendimensioneel. Die Bybel is ‘n kaleidoskoop. Elke keer as jy dit draai, word nog ‘n pragtige patroon van waarheid geopenbaar.

Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4

Stel gesonde grense

2023-12-12
2 Korintiërs 1:18 NLV

Paulus skryf: ‘Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ‘n besliste ‘ja’ as ek eintlik ‘n besliste ‘nee’ bedoel? God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie ‘ja’ en terselfdertyd ‘nee’ is nie’ (verse 17-18 NLV).

Paulus het geleer om grense in sy verhoudings te stel en jy moet dieselfde doen. ‘n Wyse man het een keer gesê: ‘Moet nooit kla oor dit wat jy toelaat nie.’ Tensy jy grense stel, het jy geen reg om oor mense wat jou misbruik en jou tyd mors, te kla nie. ‘…Christus Jesus… is nie terselfdertyd ‘ja’ en ‘nee’ nie…’ (vers 19 NLV). As sy volgeling, moet jy leer wanneer dit toepaslik is om ja te sê en wanneer dit toepaslik is om nee te sê.

Wanneer mense jou in ‘n hoek druk, moet jy hulle onmiddellik, privaat en persoonlik konfronteer. As hulle nie wil luister nie, neem iemand saam met jou. As hulle nie na altwee van julle wil luister nie, neem dit na die kerk se leierskap toe (sien Matteus 18:15-17). Wees duidelik oor dit wat jy sal en nie sal verdra nie. Raak gemaklik daarmee om jou wense en voorkeure sonder die vrees van verwerping en vervreemding, uit te druk.

Maak die volgende jou gebed vandag: ‘Here, laat my ander vanuit ‘n rein hart, eerder as uit ‘n behoefte aan liefde en aanvaarding, dien. Op die gesag van u Woord beveel ek die gees van vrees wat my verhoed om gesonde grense te stel, om onmiddellik weg te gaan. Ek plaas my vertroue in U. Ek sal nie dit wat mense aan my kan doen, vrees nie (sien Psalm 56:12). In Jesus se Naam. Amen.’

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:1-11; Ps 150; Spr 29:22-27