2024-02-05
Spreuke 18:24 NLV
Cicero het gesê: ‘Vriendskap verbeter geluk en verlig ellende deur die verdubbeling van ons vreugde en die verdeling van ons hartseer.’ Die feit is dat dit onmoontlik is om meer as ‘n paar nabye vriende te hê, omdat ware vriendskap tyd, aandag en toewyding verg. ‘Vriende kan mekaar verwoes. Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer’ (vers 24 NLV). Die kenmerke van ware vriendskap sluit die volgende in:
1) Vertroue. Ralph Waldo Emerson het geskryf: ‘Die heerlikheid van vriendskap is nie in die uitgestrekte hand, die vriendelike glimlag of die vreugde van geselskap nie; dit is die geestelike inspirasie wat ‘n mens kry wanneer hy ontdek dat iemand anders in hom glo en bereid is om hom te vertrou.’
2) Gee en ontvang. Soms sal een persoon die primêre gewer wees en soms die ander. Ware vriendskap is egter altyd tweesydig.
3) Gedeelde lewens. Helen Keller het gesê: ‘My vriende het die storie van my lewe gemaak. Op ‘n duisend maniere het hulle my beperkings in pragtige voorregte verander en my in staat gestel om rustig en gelukkig in die skaduwee wat deur my ontbering gegooi word, te loop.’
4) Wedersydse genot. In ‘n ware vriendskap bestee jy tyd saam, net vir die vreugde daarvan. Wat julle doen is nie noodwendig van belang nie. Ongelukkig laat die besige lewe ons vergeet watter vreugde dit kan wees.
5) Respek vir mekaar. Hoe bou mens respek? Deur nie toe te laat dat struikelblokke of omstandighede belangriker as die verhouding word nie. Wanneer julle onder druk verkeer, hou julle aan om mekaar met geduld en vriendelikheid te behandel. Wanneer die verhouding sukkel, werk daaraan om dit te behou.
Sielskos: Num 19-21;Matt 11:10-19; Ps 111; Spr 3:29-30
2024-02-04
Spreuke 8:11 NLV
Om aan te hou leer en groei, moet jy die volgende oplet: 1) Suksesvolle mense leer anders as onsuksesvolle mense. Josua het by Moses geleer. Timoteus het by Paulus geleer. Wie het jy gekies om by te leer? Sidney J. Harris het geskryf: “‘n Wenner weet hoeveel hy nog moet leer, selfs wanneer ander mense hom as ‘n kenner ag. ‘n Verloorder wil as ‘n kenner gesien word voordat hy genoeg geleer het om te weet hoe min hy in werklikheid weet.” Dit is alles ‘n kwessie van gesindheid. Dit is werklik merkwaardig hoeveel ‘n persoon moet leer voordat hy of sy besef hoe min hulle weet.
2) Niks is interessant as jy nie geïnteresseerd is nie. Philip B. Cosby skryf in Quality is Free: ‘Daar is ‘n teorie oor menslike gedrag wat sê dat mense hul eie intellektuele groei onbewustelik vertraag. Hulle maak staat op clichés en gewoontes. Sodra hulle die ouderdom bereik waar hulle gemaklik met die wêreld is, hou hulle op leer en begin hulle gedagtes stilstaan. Hulle mag dalk bevorder word, hulle kan ambisieus en gretig wees en hulle kan selfs dag en nag werk. Maar hulle leer nie meer nie.’
Die Bybel sê: ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem…’ (Lukas 2:52 NLV). Hy het nie net fisies gegroei nie; Hy het geestelik, verstandelik en emosioneel gegroei. Dis ‘n tragedie as jy jouself in ‘n groef laat verval en nooit daaruit kom nie; jy loop die beste wat God het om te bied, mis. Daarenteen is onderrigbare mense heeltemal by die lewe betrokke. Hulle is entoesiasties oor dinge. Hulle stel daarin belang om te ontdek, te bespreek, toe te pas en te vergroot. Moet dus nooit ophou leer en groei nie!
Sielskos: Eks 20:12; Jer 35:1-19; Spr 1:8; Joh 19:25-26
2024-02-03
Prediker 2:13 NLV
Die belangrikste vaardigheid wat jy kan kweek is om aan te hou leer. Talentvolle mense kan soms optree asof hulle alles weet, wat dit vir hulle moeilik maak om aan te hou groei. Onderrigbaarheid gaan nie soseer oor bekwaamheid en verstandelike kapasiteit as oor jou houding nie; dit is ‘n ingebore honger om te groei. Die bekende voetbalafrigter, John Wooden, het gesê: ‘Dis wat jy leer nadat jy alles weet wat saak maak.’ Jy kan slegs deur onderrigbaar te bly aanhou groei en aanhou om ‘n impak op die wêreld rondom jou te maak. Lewenslange onderrig is ‘n voortdurende daaglikse aktiwiteit.
Die Romeinse geleerde Cato het op tagtigjarige ouderdom begin om Grieks te leer. Toe iemand hom vra hoekom hy so ‘n moeilike taak op sy ouderdom aanpak, het hy geantwoord: ‘Dis die vroegste ouderdom wat ek oorhet.’ Anders as Cato, sien baie van ons onderrig as ‘n gebeurtenis, in plaas van ‘n lewenslange proses. Daar word geskat dat slegs een-derde van alle volwassenes ‘n hele boek lees nadat hulle die skool verlaat het. Hoekom? Omdat hulle onderrig as ‘n fase en nie as ‘n manier van lewe sien nie.
Die wetenskap bevestig dat alhoewel jou fisiese liggaam kan wegkwyn, jou verstand baie van sy kapasiteit vir voortgesette groei behou. Elke stadium van die lewe verteenwoordig lesse wat geleer moet word. Jy kan kies om onderrigbaar te wees en aan te hou leer, of jy kan kies om jou gedagtes te sluit en op te hou groei. Probeer hierdie eenvoudige eksperiment vir ‘n week: vra ander vir hul raad en weerhou doelbewus die raad wat jy normaalweg sou gee. Skryf aan die einde van elke dag neer wat jy geleer het deur oplettend te wees. Jy sal verbaas wees!
Sielskos: Num 16-18; Matt 11:1-9; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28
2024-02-02
Spreuke 5:1 NLV
Salomo het vir sy seun gesê: “My seun, slaan ag op my wysheid… Die onsedelike vrou kom met mooi woordjies. Haar tong is so glad soos olie. Die einde daarvan is egter so bitter soos gif. Sy is so gevaarlik soos ‘n swaard wat alkante skerp is… Bly ver weg van hierdie vrou. Kom nie naby haar huis nie. Jy gaan jou eer verloor ter wille van ‘n slegte vrou. Jy gaan jou beste jare op ‘n hartelose mens vermors. Buitelanders sal die voordeel van jou besittings geniet. Jou swaar verdiende inkomste sal in die huis van vreemdes beland… Jy gaan jouself verwyt: ‘Ek wou nie luister na vermaning en my steur aan teregwysing nie… Amper het ek geheel en al in slegtigheid verval, voor die oë van almal'” (verse 1, 3-4, 8-10, 12, 14 NLV).
Dis altyd makliker om goeie raad uit te deel as om dit te volg. Salomo se lewe is ‘n bewys daarvan. Hy vertel ons herhaaldelik en met groot oortuiging dat slegs dwase owerspel pleeg. Hy het egter nie na sy eie raad en God se duidelike waarskuwing: ‘Die koning mag nie baie vroue hê nie, want hulle sal hom tot ontrouheid aan die Here verlei…’ (Deuteronomium 17:17 NLV), geluister nie.
Hier is ‘n interessante vraag: Was die rede waarom Salomo soveel oor hierdie spesifieke onderwerp te sê gehad het, omdat dit ‘n gebied van stryd en kwesbaarheid in sy eie lewe verteenwoordig het? Soms doen leiers dit; hulle vaar uit teen areas van swakheid wat hulle in hul eie lewens sien. Een ding is seker; as Salomo die raad wat hy sy seun gegee het gevolg het, sou sy lewensverhaal baie anders gewees het. Die woord vir jou vandag is dus – slaan ag op jou eie raad.
Sielskos: Num 14-15; Matt 10:32-42; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2024-02-01
Psalm 127:3 NLV
‘n Christelike sielkundige skryf: “‘n Paar maande terug het ek met ‘n man gesels wat een van die pynlikste ervarings van sy lewe beskryf het. Toe hy sewentien was, was hy een van die sterre van sy hoërskool se voetbalspan. Sy pa, ‘n baie suksesvolle sakeman, was egter altyd te besig om sy wedstryde by te woon. Die finale wedstryd van die seisoen, wat ook die staatskampioenskap was, het vinnig nader gekom. Die seun was desperaat om sy pa daar te hê. Die aand van die groot wedstryd was hy op die veld besig om op te warm, toe hy opkyk net om te sien hoe sy pa, saam met twee ander sakemanne, die stadium binnekom. Hulle het vir ‘n oomblik of twee gestaan en gesels en toe weer geloop.
Die man wat hierdie verhaal vir my vertel het, is nou agt-en-vyftig jaar oud en tog het die trane oor sy wange gestroom terwyl hy daardie oomblik van jare gelede herleef het. Dis veertig jaar later en tog is die verwerping en pyn so helder as ooit.
Ek was weer eens diep getref oor die invloed wat ‘n pa in die lewe van sy kinders het. Wanneer hy onbetrokke is, wanneer hy nie liefde of omgee aan hulle wys nie, skep dit ‘n vakuum wat dekades lank weergalm. My vriend se pa het onlangs gesterf. Soos hy by sy pa se liggaam in die lykshuis gestaan het, het hy gesê: ‘Pa, ek het jou nooit regtig geken nie. Ons kon soveel liefde gedeel het – maar jy het nooit vir my tyd gehad nie.'”
Ma, Pa, jou kinders is ‘n ‘gawe’ van God. Koester en geniet hulle.
Sielskos: Num 11-13; Matt 10:21-31; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2024-01-31
Filippense 4:7 NLV
Wanneer jy angstig of bang voel, moet jy die volgende twee dinge doen:
1) Kry ‘n ‘geloofsvriend.’ Wanneer angs jou gedagtes beetpak, is een van die kragtigste maniere om die siklus van bekommernis te breek om dit met ‘n ‘geloofsvriend’ te deel. Toe Israel uitgegaan het om die Beloofde Land in besit te neem, het God vir hulle gesê: ‘…Is iemand bang? As dit so is, gaan huis toe voordat jy ander bangmaak’ (Deuteronomium 20:8 NLV). Pessimisme, angs en ontmoediging is aansteeklik. Dapperheid is egter ook!
2) Neem aksie en staar jou vrees in die gesig. Preke oor hoe God vir jou sal sorg, is op sigself nie voldoende om angs uit jou lewe te verwyder nie. Jy moet sekere dinge ook doen, soos om in vertroue uit te tree. Die manier om God se vrede van jou gedagtes na die res van jou liggaam te versprei is deur Hom te vertrou tot op die punt wat jy jou vrese direk kan konfronteer.
Met dit in gedagte, a) mediteer dus op Skrifgedeeltes soos Psalm 23; verbeel jouself dat die Here jou deur groen valleie en na strome water toe lei, b) praat met jou ‘geloofsvriend’ voordat die bekommernis ‘n houvas in jou gedagtes kry, c) gebruik ‘n ‘asem van gebed’ soos: ‘God, ek gee al my bekommernisse aan U oor,’ d) oefen; fisiese oefening is een van die beste maniere om te keer dat ‘n oormaat adrenalien opbou, e) identifiseer jou vrees en neem selfs net een klein tree om dit te konfronteer, en f) kry genoegsame rus. Dawid het gesê: ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).
Gee vandag jou bekommernisse aan God oor!
Sielskos: Num 8-10; Matt 10:11-20; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20