Moenie bang wees om oud te word nie (1)
2024-01-12Jesaja 65:22 NLV
Ons leef in ‘n wispelturige samelewing waar ‘n paar plooie jou eiewaarde kan vernietig. Jy kan egter nie ‘n slagoffer van daardie waardesisteem wees nie. ‘My volk sal so oud word soos ‘n boom. Hulle wat Ek uitverkies het, sal die vrug geniet van hulle eie handewerk’ (vers 22 NLV). Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Age is an issue of mind over matter. If you don’t mind, it doesn’t matter!’ Dus:
1) Bou ‘n sterk verhouding met God. Bestee tyd om met Hom te praat en sy Woord te lees. ‘…Hou vas aan my opdragte. Dit sal jou lank laat lewe en jou ‘n vol lewe gee’ (Spreuke 3:1-2 NLV).
2) Aanvaar die realiteit van oud word. Jy het begin verouder van die oomblik toe jy verwek is. Op die dag van jou geboorte, was jy reeds nege maande oud. Daarom is bekommernis oor ouer word net so nutteloos soos om jouself te bekommer oor die son wat elke dag ondergaan. In plaas daarvan om jou oor die lengte van jou lewe te bekommer, maak die meeste van elke dag. Kyk elke oggend in die spieël en verklaar: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Ek gaan daaroor juig en bly wees’ (sien Psalm 118:24).
3) Sorg dat jy altyd ‘n doelwit het. Dit hoef nie iets groots in die oë van die wêreld te wees nie, net iets waarna jy kan uitsien om met jou hande en jou gedagtes te doen. Eleanor Roosevelt het gesê: ‘Ek kon op geen ouderdom tevrede wees om êrens in ‘n hoekie te sit en bloot toe te kyk nie.’ Lees, groei, dra by, bly betrokke, leef tot jou laaste asem!
Sielskos: Lev 18-20; Matt 5:13-26; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2