God kan jou verlede uitvee (2)
2023-11-05Jeremia 31:34 NLV
Het jy al ooit kinders wat met ‘n swartbord en kryt speel, dopgehou? As hulle ‘n gemors van hulle prentjie maak, hoef hulle dit net uit te vee en oor te begin. Dis hoe God die foute wat jy in die verlede gemaak het, hanteer. Hy vee die lei skoon. ‘…Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.’
Dit moet een van die wonderlikste stellings in die Bybel wees – dat God nooit eers weer aan ons sondes dink nie. Wanneer ons ons sondes erken en God vra om ons te vergewe, kanselleer Hy ons verlede. Hy kies om al ons verkeerde dade, foute en mislukkings te vergeet. Selfs as ons vanaand sou sterf, voor God in die hemel staan en Hom vra oor ‘n sonde wat ons gister gepleeg het, sou Hy sê: ‘Watter sonde?’
Wanneer jy jou sonde ontken, ontneem jy God van die vreugde om jou te vergewe. Wanneer jy jou sonde probeer verskoon, laat God toe dat die nagevolge daarvan so pynlik word dat jy daarvan wil wegdraai. Wanneer jy egter jou sonde bely: ‘…Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
Die Verlore Seun het sy pa se hart gebreek, sy erfgeld uitgemors en in ‘n varkhok opgeëindig. Hy het egter sy lewe omgedraai! Sy lewe het weer met die volgende woorde begin: “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘…Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa'” (Lukas 15:17-18 NLV). Wat sy pa vir hom gedoen het, sal God ook vandag vir jou doen.
Sielskos: Joël 2:12-32; Mark 9:2-27