God het jou nie verlaat nie

2023-08-04
Lukas 22:61 NLV

Die Bybel sê: ‘…Petrus het die Here se woorde onthou… ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 61-62 NLV).

Wat red ons? Ons goeie werke? Nee, ons geloof in Christus red ons. ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie’ (Efesiërs 2:8-9 NLV). Nou verstaan jy Christus se woorde aan Petrus: ‘maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:32 NLV).

Wanneer jy geloof in Christus het, kan jy herstel word. Daar is geen vervaldatum as dit by God se genade kom nie. Petrus het Jesus nie net een keer verloën nie, maar herhaaldelik. Miskien is dit ook jou verhaal! Dit was nie ‘n oomblik waarop Petrus trots sou wees nie, maar ‘n ervaring waaruit hy sterker sou stap. Ons dien ‘n God van herstel wat vreugde in die plek van droefheid gee (sien Jesaja 61:3).

Sou jy Petrus as jou pastoor gekies het nadat jy gesien het hoe hy volgehou het dat hy nie die Here ken nie? God het. Hy het hom die hoof van die kerk in die Nuwe Testament gemaak. Ons sê vir mense: ‘Moenie ‘n gemors maak nie’ en ‘Moenie sondig nie.’ Dis goeie raad – God wil nie hê dat ons moet sondig nie. Wat ons egter moet sê is: ‘Moenie kop eerste in sonde inloop wanneer jy van beter weet nie. Wanneer jy egter misluk, soos jy sekerlik sal, draai na God toe en Hy sal jou herstel en jou mislukking gebruik om jou te versterk.’

Sielskos: Deut 8-10; Mark 2:13-22; Ps 78:56-64; Spr 16:33